Die Pad na die Troon

David Wilkerson

Volgens Paulus, is ons wat in Jesus glo, uit geestelike dood uitgebring en sit ons saam met Hom in die hemelse koninkryk. “Ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus...en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus” (Efésiërs 2:5-6).

So, waar is hierdie hemelse plek waar ons saam met Jesus sit? Dit is nêrens anders as God se eie troonkamer nie — die troon van genade, die woonplek van die Almagtige. Twee verse later, lees ons hoe ons na hierdie wonderlike plek gebring is: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (Efésiërs 2:8).

Hierdie troonkamer is die setel van alle mag en heerskappy. Dit is die plek waar God oor al die owerhede en magte heers en oor die sake van die mens regeer. Hier in die troonkamer, monitor Hy elke beweging van Satan en ondersoek Hy elke gedagte van die mens.

En Christus sit aan die Vader se regterhand. Die Skrif vertel vir ons, “Alle dinge het deur hom onstaan” (Johannes 1:3), en “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kolossense 2:9). In Jesus woon al die wysheid en vrede, alle mag en sterkte, alles wat nodig is om ‘n oorwinnende, vrugbare lewe te hê. En aan ons is gegee die toegang tot al die rykdom wat in Christus is.

Paulus vertel vir ons in wese, “So seker as wat Christus uit die dood uit opgewek is, so seker is ons saam met Hom opgewek deur die Vader. En so seker as wat Jesus na die troon van heerlikheid geneem is, so seker is ons saam met Hom na dieselfde heerlike plek geneem. Omdat ons in Hom is, is ons ook daar waar Hy is. Dit is die voorreg van alle gelowiges. Dit beteken ons sit saam met Hom in hemelse plekke waar Hy woon.”

Natuurlik het die wêreld die volste reg om hierdie konsep te bevraagteken. Hoe kan ‘n Christen in ‘n hemelse koninkryk leef, sowel as op die aarde? Selfs gelowiges erken hulle verstaan nie hierdie lering van Paulus nie. En hulle bely dat hulle nie hierdie waarheid in hulle daaglikse lewens beleef nie.

Ons hoef nie na die voorbeeld van die bekommerde, wanhopige kerk te kyk om dit te besef nie. Al wat ons moet doen, is om ons eie wandel met Christus te ondersoek. Talle  Christene is neerslagtig en vreesbevange. Hulle gaan kerk toe, sing lofsange aan God en getuig van sy oorwinnende krag in hulle lewens. Maar vir baie van hierdie Christene, is die lewe ‘n aanhoudende reeks van oppe en affe. Hulle word oorweldig deur wêreldse sorge en bekommernisse. En wanneer hulle beproewings beleef, word hulle heeltemal omver gegooi en hulle geloof stort ineen.

Ek vra jou: weerspieël dit die hemelse lewe wat Paulus beskryf? Stem dit enigsins min of meer ooreen met wat jy jou voorstel die troonlewe is? Ons word vertel dat Christus self ons in ‘n hemelse posisie met Hom gebring het. As dit egter so is, dan lewe talle Christene ver benede die beloftes wat God voorsien het. Dink daaraan: as ons werklik in Christus lewe en saam met Hom in die troonkamer van die hemele sit, hoe kan ‘n gelowige steeds ‘n slaaf van sy vlees wees? Ons is ‘n posisie in Hom gegee vir ‘n rede. Maar talle in Christus se liggaam het dit nog nie opgeëis of toegeëien nie.

Lees noukeurig Paulus se woorde: “Wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee” (Efésiërs 1:20-22).

Die meeste Christene het geen probleem om te glo dat Christus daar is nie. Ons preek, “Jesus is nou op die troon. Hy is bo alle owerhede en magte, ver buite Satan se bereik.” Ons vind dit egter moeilik om die volgende waarheid te aanvaar: ons is “saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus” (Efésiërs 2:6). Ons kan glo dat Christus reeds in daardie hemelse posisie is en by die Vader sit. Maar ons kan nie aanvaar dat ons ook daar by Hom in dieselfde troonkamer sit nie. Jesus het egter self reeds vir ons vertel, “Ek gaan om vir julle plek te berei” (Johannes 14:2), nie net in heerlikheid nie, maar selfs vir nou.

Vir talle klink dit soos ‘n fantasie, een of ander teologiese illusie: “Jy bedoel, ek het nie nodig om my lewe te leef, terwyl ek warm en koud, en op en af is nie? Wanneer ek geskud word deur verdrukkinge, kan ek standvastig wees? Kan ek my intimiteit met Christus intakt hou?”

Ja, absoluut. Paulus verklaar, “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, wat ons geseën het met alle geestelike seëning in Christus Jesus” (Efésiërs 1:3). Let op waar Paulus sê dat alle geestelike seëninge geskenk word: in die troonkamer. Al die rykdom van Christus is daar vir ons beskikbaar: volharding, sterkte, rus en toenemende vrede.

So, waarom is daar so baie goed bedoelde Christene wat hierdie dinge kort? Is dit nie omdat ons nie ons hemelse plek saam met Christus inneem nie? Is dit waarom daar so baie gepraat word oor die behoefte vir herlewing in hierdie dae? Is dit waarom talle gelowiges eenvoudig nie die opstandingslewe leef nie?

Paulus maak dit kristalhelder: om die seëninge in Christus deur ons te laat vloei, moet ons saam met die Here in die troonkamer van die hemel sit.

Satan saai verwoesting in God se huis en hy word nie teëgestaan nie. In plaas daarvan, gaan hy vrylik rond en mislei talle in Christus se liggaam en veroorsaak wanhoop en verwarring en ruïneer lewenslange dienaars van God.

‘n Sosioloog wat ‘n agnostikus is, het ‘n boek geskryf oor die toestand van die kerk. Hy kom tot die volgende gevolgtrekking oor Christene:  “Ver van lewe in die ‘ander wêreld’ [die hemele], is die getroues merkbaar net soos die sekulêre wêreld...In doen en late, is hulle nie soos hulle veronderstel is om te wees volgens hulle teologie nie...Die kultuur het oor hulle gestoomroller...Praat van hel, oordeel en sonde is vervang met nie-veroordelende taal van begrip en empatie.” Dekades gelede het C.S. Lewis het iets soortgelyks gesê: “Die grootste vyand van die kerk, is ‘tevrede wêreldsgesindheid.’”

Dit lyk of die kerk ineengestort het en geswig het voor die probleme rondom ons. Eenvoudig gestel, ons is nie meer gefokus op Christus se oorwinning of op ‘n oorvloedige lewe nie. Ek sien een simptoom hiervan in die toename van beraders. Baie van die kerk het die troonkamer vir die beradingskamer verruil. Hoekom? Min Christene glo dit is moontlik om in die hemele te leef tydens sulke ontstellende tye. In plaas daarvan, hardloop hulle na hul berader en kla, “Ek het ‘n aaklige dag gehad. Gee vir my asseblief iets wat my kan deurdra tot môre.”

Ons vind dieselfde fokus in baie van die hedendaagse prediking. Die meeste preke fokus daarop om mense se behoeftes aan te spreek, eerder as op die oorvloedige lewe wat ons in Christus het. Predikers bied drie stappe om nog ‘n dag te oorleef, ‘n hoe-om plan om net te oorleef. Hierdie boodskappe verwaarloos die troonkamer en die hemelse posisie wat ons in Christus gegee is heeltemal.

Dit is ‘n werklikheid dat hierdie wêreld nog altyd probleme gehad het. Dit was nog altyd bedreig deur rampe en op die rand van ineenstorting. Dit was die ingesteldheid van goddelike predikers vir eeue. My biblioteek tuis bevat baie kragtige boodskappe wat gepreek is deur Puriteinse bedienaars van die 17de eeu. Hierdie leraars waarsku oor wydverspreide dronkenskap, jeugmisdaad, hoerery, bestialiteit, politieke onrus en disfunksionele families. Kortliks, hulle het honderde jare gelede gepraat van al die dinge wat ons vandag sien gebeur. En sommige van hulle het gedink God kan onmoontlik sulke goddeloosheid vir nog vyftig jaar verduur.

In 1860, het ‘n kratige prediker in Newark, New Jersey, gewaarsku oor die “wildernis van duisternis” wat Amerika omvou het. Hy het vurige preke gepreek en uitgeroep teen die kerk se apatie en wêreldsgesindheid. Hierdie man het ook ‘n boek geskryf genaamd “The Millenial Experience,” waar hy valse leerstellinge en kultusse beskryf het wat orals ontstaan het. Hy het ook gepreek oor dieselfde dinge wat ons vandag sien gebeur.

God se mense het nog altyd ‘n vyand, wat van alle kante af aanval, getrotseer. Dinge mag miskien erger wees nou as wat dit in Puriteinse tye was, maar ons trotseer dieselfde duiwel. En daardie predikers het geleer dat elke seëning wat vir die toekoms geprofeteer was, nou vir God se mense beskikbaar is. Dit maak nie saak of ons goddeloosheid rondom ons sien toeneem nie. Volgens Paulus, is God se genade vir ons net soveel meer.

So, waarom kan ons God nie glo vir dieselfde geestelike seëninge vandag nie? Waarom glo ons nie meer dat Hy ons antwoord nog voor ons bid nie? As ons in Christus is — as Hy beide in ons is en aan die regterhand van God — waarom weerspieël ons lewens dit nie?

Wat beteken ‘n groot ontwaking? Ek praat oor wat Paulus beskryf as ‘n openbaring en verligting: “Dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte” (Efésiërs 1:17-19).

Paulus het die Efésiërs in wese vertel, “Ek bid dat God julle ‘n vars openbaring sal gee, dat Hy julle oë sal oopmaak vir die roeping wat Hy vir julle gegee het. Ek vra Hom om aan julle ‘n nuwe begrip te gee van julle erfenis, die rykdom in Christus wat aan julle behoort. Daar is ‘n magtige krag wat God in julle wil vrystel. Dit is dieselfde krag wat in Jesus was. Ja, dieselfde krag wat in die Christus op die troon in die hemel is, is nou op hierdie oomblik, in julle.”

Volgens Paulus, “Die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele,” is dieselfde, “uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo” (Efésiërs 1:20, 19). Om hierdie rede, vermaan Paulus, “Ondersoek julself of julle in die geloof is” (2 Korinthiërs 13:5).

Hoe moet ons onsself ondersoek? Ons doen dit deur onsself teen die ontsaglike beloftes van God te meet. Ons moet onsself afvra: “Vertrou ek op Christus se bronne om die duiwel te weerstaan? Gebruik ek sy krag om sonde te oorwin? Leef ek voortdurend in die blydskap, vrede en rus, wat Jesus sonder uitsondering aan elke gelowige belowe het?”

Geliefde, die troonlewe is geen fantasie nie. Dit is nie een of ander illusie nie. Dit is ‘n voorsiening wat moontlik gemaak is deur die kruis van Christus. Daarom, as ‘n gelowige nie hierdie troonlewe het nie, kan hy net tot een gevolgtrekking kom: “Ek het nog nie die hemelse posisie wat aan my in Christus gegee is, toegeëien nie. As ek nie sy magtige krag in my sien werk nie, dan het ek nie my plek in Hom ingeneem nie.”

Jou persoonlike “groot ontwaking” kom die dag as jy na jou lewe kyk en uitroep, “Daar moet meer in die lewe in Christus wees as wat ek nou beleef. Al my planne het misluk en al my drome het in stukke gespat. Ek leef asof ek ‘n slaaf van my vrese en vleeslike wellus is. Maar ek kan dit nie meer doen nie.

“Ek weet die Here het my geroep tot meer as hierdie verslane lewe. En ek sal nie skynheilig wees nie. O, God, is daar werklik ‘n plek waar U my met krag sal voorsien om werklik oorwinnend te lewe? Is U regtig gereed om my meer as ‘n oorwinnaar in my beproewings te maak? Is dit waar dat U vir my ‘n plek van volmaakte vrede voorsien het te midde van my stryd?

“Is dit regtig vir my moontlik om voortdurende intimiteit met U te hê? Is dit waar dat ek nie meer in apatie hoef te verval, of om te sukkel om U te behaag nie? Is daar werklik ‘n plek van rus in U waar ek nooit weer herlewing nodig sal hê nie, omdat my geloof standvastig bly?”

Jy is op die rand van ontwaking as jy erken, “Ek is lief vir Jesus, maar ek ervaar nie die troonlewe waarvan Paulus praat nie.” Dit is die oomblik wanneer jy gereed is om tot die openbaring en verligting te kom. God self het jou gekies — nie om ‘n wanhopige lewe sonder blydskap onder die vyand se voete te leef nie, maar om ‘n hemelse posisie te beklee. En die tyd het gekom vir jou om op te kyk en aanspraak te maak op daardie plek in Christus.

Jy kan nie jou weg in hierdie hemelse plek in huil nie. Jy kan nie jou weg daarin studeer of werk nie. Nee, die enigste weg na die troonlewe is deur die pad van opoffering: “Dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevalle offer” (Romeine 12:1).

Paulus praat van ondervinding. Hier was ‘n man wat verwerp, versoek, vervolg, geslaan, gevange geneem is, skipbreuk gely het en gestenig is. Paulus het ook nog al die bekommernisse gehad wat die kerk op hom gelê het. Tog het hy getuig, “In elke toestand, was ek tevrede.”

Nou sê hy vir ons, “So, jy wil weet hoe ek tot kennis van hierdie hemelse wandel gekom het? Wil jy weet hoe dit gekom het dat ek tevrede is met wat ook al die toestand was waarin ek geplaas is, hoe ek ware rus in Christus gevind het? Hier is die pad, die geheim om jou hemelse posisie toe te eien: Gee jou liggaam as ‘n lewende offer aan die Here. Ek het tot tevredenheid gekom net deur my eie wil op te offer.”

Die Griekse woord vir “lewende” hier suggereer “lewenslange.” Paulus praat van ‘n bindende verbintenis, ‘n offer wat een keer vir ‘n leeftyd gemaak is. Moet egter nie verkeerd verstaan nie: dit is nie ‘n offer wat te doen het met die versoening vir sonde nie. Christus se offer aan die kruis is die enigste waardige versoening: “Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer, weg te doen” (Hebreërs 9:26).

Nee, Paulus praat van ‘n ander soort offer. Moet egter nie ‘n fout maak nie: God het geen behae in die mensgemaakte offers van die Ou Testament nie. Hebreërs vertel vir ons, “Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie” (Hebreërs 10:6). Waarom het hierdie offers God nie behaag nie? Eenvoudig gestel, hulle het nie die hart nodig gehad nie.

Maar die offer wat Paulus beskryf, is een waarin God groot behae in het, omdat dit die hart behels. Wat is hierdie offer? Dit is een van sterf aan ons eie wil, die aflegging van ons selfgenoegsaamheid en die afstand doen van ons ambisies.

Toe Paulus vermaan het, “Stel julle liggame,” het hy in wese gesê, “Kom nader na die Here.” Wat presies beteken dit egter? Dit beteken om tot God te nader met die doel om ons hele self aan Hom te offer. Dit beteken om na Hom te kom, nie in ons eie selfgenoegsaamheid nie, maar as ‘n opgestane kind, as heilig in Jesus se geregtigheid, as deur die Vader aanvaar deur ons posisie in Christus.

Jesus self het sy lewe as lewende offer gebied. Ek praat nie van die offer wat Hy aan die kruis vir ons sondes gemaak het nie. Nee, daar was twee aspekte van Christus se offer. Eerstens was daar sy versoening vir sonde. Dan was daar die oorgawe van sy wil aan die Vader. Kortliks, Jesus het homself nie net as ‘n offer vir ons sondes gegee nie, maar as ‘n lewende offer om deur die Vader as ‘n instrument gebruik te word. Beskou hierdie getuienis:

“Kyk, Ek kom...om u wil te doen, o God” (Hebreërs 10:7). “Tog het Ek nie uit Myself gekom nie; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig” (Johannes 7:28). “En uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is” (Johannes 8:28-29). “Ek spreek van wat Ek by my Vader gesien het” (Johannes 8:38).

Elke gelowige is geroep om te deel in hierdie aspekte van Christus se offer. Ons moet onsself aan God gee, ons wil aan Hom onderwerp en ‘n lewe van volkome afhanklikheid van Hom binnegaan. Ons moet na Hom kom en sê, “Here, ek gee my wil aan U oor. Ek verruil dit vir u wil. Ek verbind myself daartoe om nie meer enigiets te sê of te doen tensy U my lei nie.”

Natuurlik is Jesus ons voorbeeld hierin. Hy het nie uit sy eie wil opgetree nie, maar het net gespreek en gedoen soos die Vader Hom gelei het. En Hy het dit alles om een rede gedoen: om “baie kinders na die heerlikheid...[te] bring” (Hebreërs 2:10). Kortliks, Christus wys vir ons die pad na die troon. Hy het gesê, “Volg my, deur jou eie wil, jou planne en jou drome af te lê. Verbind jouself tot ‘n lewe wat totaal afhanklik is van die Vader. Dan sal jou lewe eer en heerlikheid aan Hom bring.”

Hier is die heerlikheid wat elke Christen uitverkies is om te vervul. Jy sien, baie is geroep om kinders van die Vader te wees, met al die voordele van kindskap. Maar nie almal wandel in sy heerlikheid nie, hoewel ons veronderstel is om dit vir onsself toe te eien. ‘n Ontsaglike heerlikheid gaan gemanifesteer word wanneer Christus terugkeer om sy dienaars huistoe te neem. Maar daar is ook ‘n heerlikheid wat in God se kerk op aarde gemanifesteer moet word. Ek praat van die heerlikheid van om in Christus te wees waar Hy nou is: “Ek en die kinders wat God My gegee het” (Hebreërs 2:13).

Hierdie heerlikheid wag vir die dienaar wat na die altaar kom om sy liggaam as ‘n lewende offer te stel. Hy het al sy planne en ambisies neergelê, omdat hy die aaklige gevolge beleef het van om volgens sy eie wil te wandel. Hy is moeg daarvoor om te sukkel om sy eie probleme op te los. En hy is siek en sat om sy planne en drome te sien misluk. Daarom kom hy na die altaar om die saak vir eens en vir altyd uit te maak: om homself volkome aan God se wil oor te gee.

Dit is die offer wat elke gelowige moet neem as hy die gedagtes van God wil hê. Die Here deel nooit sy planne met diegene wat aan hulle eie planne vashou nie. Waarom moet Hy iemand lei as hy van plan is om sy eie pad te loop? Ek weet van altwee kante van hierdie pad. Op baie geleenthede het ek my eie wil gevolg. Ek het egter ook die vryheid geken wat vir eens en vir altyd kom met die verklaring: “Ek hoef nie iets te doen behalwe Christus se wil nie. Ek het nie nodig om een of ander groot werk te verrig nie. En ek hoef nie betrokke te raak in enige goeie werk nie, behalwe waar Hy my lei. Ek het niks om aan enigiemand te bewys nie. Al wat ek wil doen is om Jesus te vertrou en volkome afhanklik van Hom te wees.”

Ek kan uit ondervinding praat: hierdie plek van gebrokenheid en vertroue is waar jy die ontwaking en verligting waarvan Paulus praat, vind: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Romeine 8:28). Jy het opgehou om die lewe se beproewings in jou eie krag te probeer verdra. Jy het genoeg gehad van wyfelende geloof, van talmende vrees, van nooit seker wees wat om te doen nie. Daarom het jy alles op die altaar geplaas — jou ego, jou trots, jou planne — en jy het na Jesus gekom met ‘n gebroke gees en verslae hart. Jy is in ‘n plek waar jy Hom alleen vertrou om alles ten goede mee te werk.

Die oomblik wanneer jy jou wil aan syne oorgee, is die offer gemaak. Dit gebeur wanneer jy eenvoudig die stryd om God op jou eie te probeer behaag, gewonne gee. Jy kan nie sy behae verdien deur opreg te lewe of goeie werke te doen nie. Nee, jy is daartoe verbind om Hom eenvoudig te vertrou. En wanneer jy jou lewende offer aan Jesus bied, is sy reaksie as volg: Kom nou en laat ons die saak uitmaak. As jy jou wil opoffer, is dit nie vir jou redelik om te kom en in geloof jou plek saam met My in te neem nie?”

Inderdaad, hierdie daad van geloof is die “redelike godsdiens” waarna Paulus verwys: “Dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelik godsdiens” (Romeine 12:1). Dit gaan alles daaroor om Hom met ons wil te vertrou, om te glo dat Hy al die seëninge wat ons nodig het, sal voorsien.

Dink daaraan: dit is nie langer redelik om jou wil oor te gee en tog nie te glo jy kan in Christus se volheid leef nie. Hy het jou geroep om deur geloof sy wil op te neem: “As jy My wil soek — as jy ‘n lewe wil leef waar jy te alle tye op my vrede, rus en wysheid staatmaak — kom dan na die troonkamer deur geloof. Hier is jy in My. Wanneer jy bid, sal dit wees asof Ek deur jou bid. Jy sal wees waar Ek is.

As jy moeg is vir die stryd, is dit tyd om vir jouself te vra: is jy gereed om jouself by die altaar as ‘n lewende offer aan te bied? Is jy gereed om te sê, “Nie my wil nie, Jesus, maar U wil geskied. Ek is moeg om my eie lewe te lei. Ek het dit heeltemal opgemors. Nou is ek gereed om U met dit alles te vertrou. U alleen het die krag, die gesag en die leiding wat ek nodig het. So, ek kom na U in geloof. En ek vertrou U om getrou met my te spreek en te sê, ‘Hier is die weg, wandel daarin.’”

As dit jou beskryf, dan is jy gereed om jou hemelse plek met Christus in te neem. Maar wees gewaarsku: Satan sal alles moontlik doen om jou uit jou regmatige posisie uit te skud. Jou probleme en beproewings sal nie eindig bloot omdat jy saam met Christus sit nie. In werklikheid, dit mag toeneem in intensiteit. Maar jy sal al die innerlike bronne tot jou beskikking hê om dit te trotseer, omdat die krag van God in jou werk. En jy kan die duiwel kennis gee:

“O, veragtelike slang, neem kennis: Ek is nie meer by my ou adres nie. Ek leef nie meer op Wanhoopstraat nie. Ek het ‘n nuwe posisie in die troonkamer van God ingeneem. En ek woon in ‘n nuwe plek, in die hemele met Christus. So, as jy my wil bereik, moet jy dit doen onder toesig van die Almagtige God. O, ek het ook ‘n nuwe naam. Jy kan my noem ‘oorwinnende prins by God.’”

Geliefde, nou is die troonkamer vir jou oop. Aanvaar wat Christus gedoen het en neem met vrymoedigheid jou posisie deur geloof by Hom in. Hy aanvaar jou oorgegewe wil. Vra nou vir Hom om die oë van jou verstand oop te maak. En bely, “Ek glo wat die Here oor my sê: dat ek ‘n oorwinnende prins is. Ek glo ook dat ek is waar Hy sê ek is: in die troonkamer van die hemel. Ek sit met Hom in ‘n plek van gesag oor al die Satan se werke. Halleluja, Hy het my die pad na sy troon gewys. En nou is my daaglikse woning in Hom.”