Die Moeder van Alle Sondes!

David Wilkerson

Ek kon vir jou ‘n hele katalogus lys van sondes wat gelowige Christene pleeg. Maar nie een van hierdie sondes sou naby die sonde kom waaroor ek wil praat nie. Hierdie sonde is die moeder van alles sondes – die een wat geboorte gee aan alle ander. Dit is die sonde van ongeloof!

Ek praat nie van die ongeloof van ‘n verharde sondaar nie. Die ongeloof van deugniete, agnostici en ateïste ontstel God glad nie. Nee, wat God die kwaadste maak, meer as enigiets anders, is die ongeloof en knellende twyfel van diegene wat hulleself verbind met Sy naam! Diegene wat Sy kinders is – wat sê, “Ek is van Jesus” – en steeds twyfel, vrees en ongeloof in hulle harte het, bedroef Hom meer as al die ander!

Hoe ernstig neem God hierdie sonde van ongeloof op? Judas waarsku die kerk met hierdie woorde, “Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het” (Judas 5).

Judas herinner hulle aan God se gesindheid teenoor ongeloof! Hy sê in wese, “Ek gaan julle herinner aan God se uiterste haat vir ongeloof onder Sy geredde mense. Nadat hy die mense gered het, het Hy dié wat nie geglo het nie vernietig!”

Geliefde, ek glo God het my vandag geroep om Sy kerk in herinnering te bring aan dieselfde ding! “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). God sal hulle dalk nie meer fisies vernietig soos Hy in die Ou Testament gedoen het nie. Maar Sy oordele oor ons ongeloof is geestelik vandag – en dit is net so erg!

In plaas van neergewerp te wees, sterf ons geestelik. Kyk net rond vandag na die menigtes van twyfelende, sukkelende Christene wat geestelik dood is. Hulle struikel, aarsel, twyfel, is heeltyd vreesbevange, en gaan nooit die blydskap en vrede van die Here in nie. Hulle is nie langer gewortel en gegrond nie – maar in plaas daarvan, is hulle vol ongeloof en hardheid van hart!

Ongeloof is net so destruktief vandag as wat dit ooit was. Ons mag nie in ‘n soutpilaar verander nie – maar ons word stywe-nek en bitter! Die grond maak nie oop en sluk ons in nie – maar ons word ingesluk deur swaarkry, spanning en familieprobleme. Vuur daal nie neer en verteer ons nie – maar ons geestelike lewe word vernietig!

Nee, ons sterf nie fisies nie – maar iets sterf binne-in ons. Oortuiging van sonde sterf. Gewete sterf. Vrede sterf. Hoop sterf. Al die dinge wat ons wandel met Jesus heerlik maak, sterf weens die sonde van ongeloof!

Weens ons ongeloof, vrees ons alle soorte sondes. Die Puriteine het dit “boesemsondes”genoem, dit wat diep binne-in ons is. Ons is bang ons sal terugval in gewoontes wat ons eens beheer het – wellus, hoerery, alkoholisme, dobbelary, owerspel.

Baie van ons is egter skuldig aan die moeder van alle sondes – en ons vrees dit glad nie. Ons neem nie ons ongeloof ernstig op nie. Ons leef asof God dit oorsien. En tog is die een sonde wat ons liggaam en gees oopmaak vir allerhande ander sondes bekend aan die mensdom!

Laat my vir jou redes gee waarom hierdie sonde van ongeloof so gevaarlik is – en waarom God dit so verag in Sy mense:

1. Ons ongeloof maak van God ‘n leuenaar!

“Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in Homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie” (1 Johannes 5:10).

Beskou al die lelike sondes gelys teen Israel in die wildernis; murmurering, klaery, afgodery, ondankbaarheid, wederstrewigheid, sensualiteit. Nie een van hierdie sondes het egter God se toorn uitgelok nie. Dit was hulle ongeloof wat God kwaad gemaak het!
“Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?” (Númeri 14:11).

God het vir Moses gesê, “Hierdie mense maak ‘n leuen van alles wat Ek vir hulle gedoen het! Ek het wonderwerk op wonderwerk verrig – Ek het hulle keer op keer verlos. Wanneer sal hulle ooit op My vertrou en in My rus?

Stop vir ‘n oomblik en dink oor al die dinge wat God vir jou gedoen het: Hy het jou bewaar. Hy het hierdie en daardie gebed verhoor. Hy het jou tegemoet gekom in ‘n krisis hier en ‘n krisis daar. Hy het jou deur beproewings gedra, jou gevoed met manna uit die hemel, dinge vir jou gedoen wat niks minder as wonderbaar was nie.

Nou, terwyl jy egter nóg ‘n krisis beleef, vertrou jy Hom steeds nie om jou deur te dra nie? Miskien dink jy, “Maar hierdie keer is dit erger. Ek was nog nooit in enigiets soos hierdie nie!” O ja, jy was! Elke krisis waarin jy was, het Sy wonderbaarlike voorsiening geverg – en Hy het jou keer op keer verlos!

Elke keer wat Hy jou verlos het, het Hy gehoop dat jy tydens die volgende krisis gerus en gereed sal wees en sal bid, “Vader, ek gee dit oor aan U. Ek gaan nie angstig of bekommerd wees nie, omdat U my elke keer verlos het. En ek weet U sal my nou ook verlos!”

Vir agt-en-dertig lang jare het Israel God se Woord vergeet en Sy wonderwerke afgemaak. En omdat hulle so dikwels teruggeval het in murmurering en ongeloof, het God gesê, “Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei” (Numeri 14:12). Hy het in wese vir Moses gesê, “Ek verloor moed met My volk – omdat hulle nooit sal kom by die plek waar hulle My vertrou nie!”

Toe Israel op die oorwinningskant van die Jordaan was, het Moses ‘n plegtige verklaring gemaak. Hy het gesê, “Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee: trek op, neem dit in besit...wees nie bevrees en wees nie verskrik nie...Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie...Die HERE julle God wat voor julle uit trek, Hy sal vir julle stry...

“Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die HERE julle God nie...En toe die HERE die stem van julle woorde hoor, het Hy toornig geword en gesweer en gesê: Waarlik, geeneen van hierdie manne, hierdie verkeerde geslag, sal die goeie land sien wat Ek met ‘n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie...” (Deuteronómium 1:21,29-30,32,34-35).

Geliefde, God het Sy Woord en Sy naam bo alles gestel. Hy bedoel elke woord wat Hy sê. En al hierdie dinge wat God vir Israel gesê het, is dieselfde dinge wat Hy vir ons gesê het. Ek vra jou – sal ons nie ook Sy toorn op die hals haal as ons in ongeloof optree nie?

Paulus het geskryf: “...God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid al beloof het” (Titus 1:2). En die outeur van Hebreërs het geskryf: “waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, sodat ons kragtige bemoediging kan hê...” (Hebreërs 6:18).

Vandag sê God vir ons baie duidelik, “Ek kan en Ek sal.” Hoe reageer ons egter op Sy Woord? Ons bevraagteken Hom onmiddellik! “Kan God dit doen? Sal Hy dit doen?”

Ons lees Sy Woord en hoor al Sy beloftes van die kansel af. Maar dan gaan ons na ons hoekie en bekommer ons as ons Hom nie onmiddellik sien doen wat ons dink Hy vir ons moet doen nie. Ons is oorlaai met twyfel en ongeloof!

Wanneer ons nie toelaat dat Sy Woord ons siele anker nie – wanneer ons groot en kosbare beloftes hoor en dan optree asof ons verlaat is – maak ons God uit om ‘n leuenaar te wees!

2. Ons ongeloof vandag is erger – omdat dit in die aanskyn van selfs groter beloftes is!

“...Hy [Christus] is ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is” (Hebreërs 8:6).

Onder die Ou Verbond, is al wat die Israeliete gehad het die belofte dat God hulle sou seën as hulle gehoorsaam was. Vandag, onder die Nuwe Verbond, het ons ‘n “beter belofte”: Hy het ons krag gegee om te gehoorsaam!

Hierdie “beter belofte” beteken ons almal sal Hom ken. Ons het nie net ‘n hoëpriester wat in God se teenwoordigheid ingaan vir ons nie. Nee – ‘n voorhangsel was in twee geskeur sodat ons almal in die teenwoordigheid van God kon inkom!

Beskou alles wat die Here ons belowe het:

  • Sy wette word in ons harte geskryf. Sy Heilige Gees woon in ons. Christus self is altyd met ons.
  • Versoening met God. Genesing, barmhartigheid en vergifnis deur eenvoudige bekering en geloof.
  • Die krag en gesag om enigiets in Jesus se naam te vra. Krag oor sonde. Krag oor Satan. Geen wapen is in staat om iets teen ons uit te rig nie.
  • Toegang tot die Vader. ‘n Troon om na te vlug in die tyd van nood. Verlossing van oorweldigende versoekings. Voortdurende openbarings van die teenwoordigheid van Jesus.
  • Rus deur eenvoudig te vra en te vertrou. Vrede bo alle menslike begrip. Vryheid van alle vrees al die dae van ons lewens. Oorvloedige lewe.

Hy het dit alles aan ons beloof!

Tog is daar so baie Christene wat in vrees, twyfel en verwarring leef – altyd bekommerd is. Hulle glo Hom nie en eien Sy kosbare Woord nie toe nie. Hulle tree op asof Hy nooit sulke beloftes gemaak het nie!

Ons het in werklikheid baie minder rede om te twyfel en te vrees as wat ons voorvaders gehad het. Ons vyande vandag is nie die Hetiete en Jebusiete nie – dit is spanning, vurige versoekings van die vlees, moegheid van liggaam en siel, ‘n gewelddadige en komplekse samelewing, nuwe en subtiele booshede wat geen ander geslag beleef het nie. God het ons egter beloof dat waar sonde toeneem – maak nie saak hoe subtiel of kragtig dit is nie –het ons meer genade om die stryd daarteen te stry as enige ander geslag in die geskiedenis!

Paulus het van die Jode gesê: “...Deur ongeloof is hulle afgebreek, maar jy staan deur die geloof...” (Romeine 11:20). Hy waarsku ons vandag:

“Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie. Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal hy ook afgekap word” (Romeine 11:20-22)

Hebreërs waarsku ons ook: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Hebreërs 3:12).

Dit maak nie saak hoe heilig of regverdig jy dink jy is nie. As jy nie geloof in die lewende Woord het nie – daarin bly, dit inneem, dit deel van jou lewe maak nie – dan is jy in gevaar om God te verlaat!

Deursoek die Bybel en sien – daar is nie een voorbeeld waar God ongeloof spaar nie! Hy oordeel dit in al Sy kinders, in alle geslagte.

Begin by Eva, wat die waarheid van God se gebod in die Tuin in twyfel getrek het. Gaan dan na die koninklike beampte wat doodgetrap was omdat hy nie God se woord geglo het dat uitgehongerde Samaria oorstroom sou word met kos die volgende dag nie. Gaan na Sagaria, Johannes die Doper se vader, wat stom was omdat hy nie God se woord aan hom geglo het nie. Gaan dan na hierdie uitspraak in Jesus se tyd: “En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie” (Matthéüs13:58).

Daar was nooit ‘n keer waartydens God ongeloof verskoon het nie – en Hy sal dit nie oorsien in hierdie laaste dae nie!

3. Ons verloor baie van wat aan ons verkondig word deur ongeloof!

“...maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met geloof verenig was nie” (Hebreërs 4:2).

Het jy ooit gewonder waarom die dissipels so onkundig was oor die weë van Christus en die ewige planne van God? Waarom het hulle, na drie jaar onder die prediking van die Verlosser van die wêreld, blind gebly, onvoorbereid op die dinge wat sou kom? Ek is voortdurend hieroor in die war. Waarom was hulle begrip van die Kruis en die Opstanding so beperk?

Dit was omdat hulle nie gehoor het met geloof nie! Op verskeie geleenthede moes Jesus hulle bestraf: “o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het” (Lukas 24:25).

“Waarom is julle bang, kleingelowiges?” (Matthéüs 8:26). Hulle het min geloof gehad – harte wat stadig was om Sy Woord te glo! En hulle was leeg, onvoorbereid, verward – deur ongeloof verblind agtergelaat!

As Jesus “verwonder” was oor die ongeloof tydens sy tyd op die aarde, wat moet Hy dink van ons s’n? Ninevé het hulle bekeer na slegs een preek en het elke woord geglo wat Jona verkondig het. Amerika het egter duisende sulke waarskuwings van talle ware profete gehoor – maar menigtes van sogenaamde Gees-vervulde gelowiges het nie na hulle geluister nie! Hulle het gesê, “Ek wil niks meer hoor nie.” Hulle het dit alles uit hulle gedagtes uitgewis!

Times Square Kerk bestaan nou al ses jaar en ons gemeente is vol welgevoede gelowiges. As mense oor daardie tydperk net na een van ons dienste gekom het wat elke week gehou is, beteken dit dat hulle meer as 300 boodskappe gehoor het. Soms wonder ek egter: hoeveel van wat hulle gehoor het, is onthou en in hulle geestelike karakter ingewerk?

As God se Woord nie ingeneem word deur geloof nie – as ons Hom nie in geloof vra om ons te help om dit te ontvang en te gebruik nie – sal ons op die ou end net kies en keur waarvan ons hou. En gewoonlik kies ons die seëninge, barmhartighede en vertroostinge – en skud die eise, tugtigings en waarskuwings af.

Dit is vertroue wat maak dat God se Woord in ons gees werk. Geloof stamp dit in ons persoonlikheid en gedagtes in, sodat dit nooit vergeet word nie!

4. Ongeloof skakel alle intimiteit met God uit!

Ons preek baie by ons kerk oor intimiteit in gebed en kwaliteit tyd deurbring met die Here. Maar jy kan twaalf ure ‘n dag bid, ween en huil, kreun in diepe smekinge; jy kan voorbidding doen vir behoeftes oral om die wêreld; jy kan oral in die huis rondloop, en vir Jesus vertel hoe lief jy Hom het – dit kan egter nutteloos, sinloos of ‘n totale mors van tyd wees!

Jy mag dink, “Enigeen wat so lank bid moet vrede en blydskap hê. Mense sal weet sy was by Jesus. Daar is sekerlik iets van God wat in haar plaasvind.”

Nee! Al die gebede in die wêreld sal niks beteken nie, tensy jy dit met geloof verenig!

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6).

Jy kan vas en bid vir drie dae of drie weke, maar sonder geloof, sal jy God nie behaag nie! Al jou ure in gebed, al jou smekinge, al jou “kom na Hom” sal jou niks baat nie tensy jou hart geanker is in geloof!

“...Maar hy moet in geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voorgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jakobus 1:6-7).

As jy twee ure met God deurbring en Hom nooit glo om jou te antwoord nie – bring jy Hom in die verleentheid vir twee ure lank! Dit mag jou laat goed of heilig voel – maar in werklikheid mors jy jou tyd! Jy gee God twee ure van niks behalwe ongeloof en twyfel nie. Jy kan net sowel gaan inkopies doen of visvang!

Ek ken Christene wat sê hulle bid daagliks, terwyl hulle dikwels voor die Here huil, maar niks gebeur nie. Hulle bly swaarmoedig en depressief. Hulle lewens is altyd onrustig. Dit is omdat hulle die Here in die verleentheid bring deurdat jy in Sy teenwoordigheid inkom, nie ten volle oortuig dat Hy sal doen wat Hy beloof het nie!

“Daarom sê ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry” (Markus 11:24). “En alles wat julle in gebed vra, sal julle ontvang as julle glo” (Matthéüs 21:22).

Die kinders van Israel het meer as agt-en-dertig jaar alleen met God deurgebring. Kan jy jou dit indink? Dit moet gewees het soos kerk elke dag! Hulle het die ark in hulle midde gehad, daaglikse offers, die vuurkolom en ‘n prediker wat van aangesig tot aangesig met God gespreek het.

En tog was God kwaad vir hulle – Hy het hulle almal doodgemaak! Hulle het almal in die wildernis omgekom met Sy toorn op hulle. Waarom? Omdat hulle vol ongeloof en twyfel was!

Die Skrif sê van hulle: “En almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:3-4). Ten spyte van al hierdie seëning en voorsiening, het hulle egter geen geloof gehad nie! Hulle het ‘n leeftyd in ‘n selfgemaakte hel van vrees, wanhoop en twyfel deurgebring!

Ek glo vandag leef die grootste deel van God se volk as geestelike behoeftiges. Talle is nie langer gewillig om hulle geloof te beoefen nie, omdat iets gebeur het wat veroorsaak het dat hulle God se liefde in twyfel trek. Miskien het ‘n geliefde afgesterf. Of ‘n ongeluk het die lewe geneem het van ‘n wonderlike Christen wat hulle geken het. Of ‘n sagte, tenger kind het terminale siekte, ten spyte daarvan dat sy ouers hulle alles vir God gee.

Baie sê, “Ek verstaan dit nie. Hoe kan ek God vertrou as ek nie verstaan waarom Hy so ‘n ding sou toelaat nie?” Daar is geen menslike antwoord op hulle verwarring nie. En net soos Sion, sê hulle, “Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet” (Jesaja 49:14).

Maar God ken die einde van die begin. En slegs wanneer ons in die hemel is, sal ons verstaan waarom sommige van hierdie winde en golwe ons rondgegooi het – en waarom God dit alles toegelaat het:

Jesaja het ‘n antwoord gegee – en ek glo dit is al wat ons nou nodig het om te weet:

“Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ek jou nie vergeet nie! Kyk, Ek het jou in handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My. Jou seuns kom gou, maar jou verwoesters en jou vernielers sal van jou af wegtrek” (Jesaja 49:15-17).

Ek sou nie enige van die baie lydings en beproefings in die liggaam van Christus kon probeer verduidelik nie. Maar God het vir ons Sy Woord gegee: “Jy is My kind – jy is geskryf in die palm van My hand. Vertrou My!"

Laat my met jou praat oor die genesing vir ongeloof!

Ek het my verwysingsboeke deurgesoek en hele lyste gevind van maniere om ongeloof te “genees.” Maar nie een van hierdie duisende dinge het my aangeraak nie. Daarom het ek God vir iets baie eenvoudigs gevra – en Hy het vir my twee gedagtes gegee oor hoe ek van ongeloof in my hart ontslae kan raak:

  1. Neem elke bekommernis, vrees en las. Neem dit alles na Jesus toe – en laai dit op Sy skouers! “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7). Geliefde, dit is God se persoonlike Woord aan jou. Dit is Sy uitnodiging, Sy versoek: “Plaas dit alles op My! Moenie dit een uur langer dra nie. Ek gee om oor alles wat met jou gebeur. En Ek is groot genoeg om dit alles namens jou te neem!” Nie lank gelede nie, het iemand wat in ware spanning verkeer het en ‘n woord van bemoediging gehad het, my geskakel. Maar daardie dag was ek self te oorweldig om te kon help. Ek was gespanne oor so baie probleme, dat ek nie nóg een kon hanteer nie. Daarom het ek geantwoord, “Ek is jammer – jy moet my ‘n ander tyd bel. Ek is te oorlaai.” Dank God, Hy is nooit oorspanne nie! Hy is nooit oorbelaai nie! Sy skouers kan die las van al Sy kinders dra! En Hy dring by ons aan, “Laai dit alles op My!” “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou: Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie” (Psalm 55:22). Gaan nou met jou lysie af: “God, ek gee vir U dit, en dit, en dat. Ek gee vir U hierdie las, hierdie bekommernis, daardie verhouding, daardie probleem...” En wees ten volle oortuig – Hy gee om!
  2. Spring uit in volle geloof op die Woord van God. Neem die Here se uitdaging aan om te leef deur Sy Woord! “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4). Jy moet in staat wees om te sê, “Ek gaan leef en sterf deur God se Woord aan my!” Ek vra jou – hoe is dit dat ons Sy Woord vir ons ewige saligheid kan vertrou, maar nie vir ons daaglikse behoeftes en probleme nie? Ons kan Hom vir die moeilikste deel vertrou. Waarom is dit vir ons moeilik om te glo vir hulp, leiding en mag oor sonde? “Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 24). God belowe dit aan jou – so laat Hom die las neem om jou te bewaar! Moenie probeer uitwerk hoe om dit te doen nie. Neem Hom by Sy Woord. Bid eenvoudig: “Here, U het belowe om my van struikeling te bewaar – en ek plaas my ewige toekoms op daardie belofte. Dit is nou nie my werk nie, maar U s’n."

Gaan na die Here en daag Sy Woord uit. Sê vir Hom jy gaan jou lewe op die spel plaas! “Here, ek gaan leef en sterf deur dit wat U vir my gesê het. Dit maak nie saak hoe ek voel of wat ek deurgaan nie, ek gaan myself verbind aan U beloftes aan my!”

Jy sal nie langer onder skuld of veroordeling leef nie. Jy sal nie langer geïrriteerd of bekommerd hoef te wees of wakker te lê in die nag nie. In plaas daarvan, sal jy rus, omdat jy vertrou op dit wat Hy jou belowe het.

Wys vir Hom jy vertrou elke woord van Hom – en wees geseënd! Amen!