Die Milddadige Dienaar

David Wilkerson

Onlangs het ek baie swaarmoedig, belas met baie sorge, in gebed na die Here gegaan. Ek het my saak voor Hom bepleit:

“O Here, ek was nog nooit in my lewe so moeg nie. Ek kan skaars voortgaan! My verstand is so moeg, ek dink nie ek kan nóg ‘n boodskap kry nie. U moet kom en my help met hierdie swaar laste wat U op my geplaas het, in my bediening en in my lewe. Ek moet krag van U kry. Here, asseblief – help my!”

Toe het ek begin huil. Ek was so moeg dat ek letterlik in trane uitgebars het. Terwyl ek gelê en ween het, het ek gedink, “My trane sal sekerlik die Here se hart aanraak!”

Die Heilige Gees het gekom en my bedien – maar nie op die manier waarop ek gedink het Hy sou nie! Ek wou simpatie, bemoediging en begrip hê. En Hy het dit alles vir my gegee – maar op ‘n ander manier as wat ek verwag het.

Die Here het my sagkens beveel om te blaai na 2 Korinthiërs 9:6-11. Hy het gesê dat hierdie gedeelte van die Skrif alles bevat het wat ek nodig gehad het:

“Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, al ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of met dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.

“En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. Soos geskrywe is: Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid.

“En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van hulle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk” (2 Korinthiërs 9:6-11).

Ek het hierdie gedeelte gelees en weer gelees – maar ek het niks daaruit gekry nie. Uiteindelik het ek my Bybel toegemaak en gebid, “Here, ek is verward. Ek sien niks hier om my te help of te bemoedig nie.”

In hierdie verse het Paulus gepraat met die Korinthiese kerk om ‘n offerande op te neem vir die lydende heiliges in hongersnoodgeteisterde Jerusalem. Hy het by hulle aangedring om nie spaarsaamlik te gee nie, maar milddadig, net soos die Macedoniërs wat ‘n offfergawe uit hulle armoede gegee het.

Ek het gevra, “Here, wat het dit alles met my te doen? Ek ly – is neerslagtig, uitgeput, bankrot aan hulpbronne. Ek het hulp nodig! Buitendien, ek is ‘n vrygewige gewer. Wat sê U vir my hierdeur?”

Uiteindelik het die Gees kragtig, maar liefdevol met my innerlike mens gespreek: “David, dit het alles te doen met dit wat jy deurgaan. Die afgelope tyd het jy My gedien sonder ‘n milddadige, opgewekte gees! Waar is jou blydskap en vreugde in jou diens aan My? My Woord gaan nie net daaroor om geld vir die armes te gee nie. Dit spreek van bediening aan My en aan My liggaam!

“Ek het jou geroep na New York Stad om ‘n heilige oorblyfsel op te rig in hierdie laaste dae. En ek het jou nie hierheen gestuur sonder hulp of oorvloedige hulpbronne nie! Alles wat jy nodig het, is tot jou beskikking – sterkte, rus, krag, vermoë, blydskap en opgeruimdheid. Daar is geen rede vir jou om te arbei met droefheid, om oorbelas te wees nie. Jy het toegang tot alle sterkte en blydskap!”

Ek wil met jou ‘n paar baie belangrike lesse deel wat die Gees aan my geopenbaar het hieruit:

1. Wanneer God ons roep tot ‘n spesifieke taak, het hy reeds voorsiening gemaak vir alles wat ons nodig het om dit uit te voer – met nuwe krag en opgeruimdheid!

“En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk” (2 Korinthiërs 9:8).

Hierdie vers is nie net ‘n hoop nie – dit is ‘n belofte! Dit begin met die woorde, “God het mag!”

God is nie net geïnteresseer om jou behoefte aan te spreek nie. Hy wil altyd vir jou meer gee as wat jy nodig het. Dit is wat “oovloedig” beteken – ‘n altyd toenemende, oorvloedige voorsiening!

“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk...” (Efésiërs 3:20).

Dink aan wat hier belowe word: Wanneer jy neerslagtig en moeg is en dink jy kan nie verder nie, is God in staat om jou so te versterk dat jy alles wat jy nodig het, sal hê – te alle tye, in elke moontlike situasie!

Hierdie belofte sluit in die krag om jou van struikeling te bewaar. Ek ken talle Christene wat uiters bang is om te misluk en nie die paal te haal nie. Hulle is bang die duiwel gaan hulle op een of ander manier verstrik – en dat hulle God gaan bedroef!

Dit maak nie saak hoe kragtig jou versoeking is of hoe mismoedig jy oor jou gebrek aan weerstand is nie, God sê die volgende oor Sy mag om jou ontwil:

“Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig...” (Judas 24).

Dit is asof die Here sê, “Luister al julle herders! Luister almal van julle wat getrou My huis besoek en arbei in gebed, lofprysing en smekinge! Ek wil vir jou ‘n oorvloed van krag, hoop, blydskap, vrede, rus, finansies, bemoediging en wysheid gee. Ek wil in werklikheid hê dat jy ‘n oorvloed sal hê van alles wat jy nodig het – te alle tye!”

God het nooit bedoel dat ons geestelike behoeftiges, arm in die dinge van die Here moet wees nie. In teendeel, die milddadige dienaar is die een wat ‘n openbaring geniet van die oorvloedige voorsiening wat God vir hom voorberei het! En hy het hierdie openbaring nagejaag deur geloof!

“Maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Korinthiërs 2:9-10).

Paulus sê in wese, “Ons voorvaders kon nie eens begin begryp wat die oorvloedige voorsiening was wat God voorberei het nie! Dit het nooit hulle visie, gehoor, of verbeelding binnegekom nie. Maar daar is geen rede vir ons om blind te wees vir hierdie dinge nie, om aan te gaan sonder om te weet wat ons s’n is nie. Ons oë moet sien, ons ore moet hoor, dit moet ons hart en siel binnegaan – omdat óns die mense is vir wie God dit alles voorberei het! Die Heilige Gees het dit aan ons geopenbaar!”

Die Bybel sê inderdaad ons moet Hom soek vir hierdie openbaring. Paulus het geskryf, “Ons het...ontvang....die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het...woorde...wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk” (1 Korinthiërs 2:12-14).

Ek glo die meeste Christene het eerlikwaar nog nie die krag van hierdie beloftes van God beleef nie! Ons lees dit baie kere, maar dit bly soos dooie letters vir ons. Ons het dit nie toegeëien en gesê, “Here, openbaar aan my wat U vir my voorberei het! Open my verstand en my gees vir U hulpbronne. U Woord sê ek moet al hierdie dinge ken wat vrylik aan my gegee is, sodat ek dit tot U eer kan opeis!”

Waarom word so baie Christene moedeloos, moeg en uitgeput om goed te doen?

Waarom beleef so baie gelowiges swakheid, gevoelens van wanhoop en leegheid, asof hulle nie kan voortgaan nie? Dit is omdat hulle nie die openbaring het wat die Gees vir Paulus en die Nuwe Testament heiliges gegee het nie – ‘n openbaring van  al die voorsiening wat God moontlik gemaak het vir diegene wat dit deur geloof opeis!

Voldoen jy aan Paulus se beskrywing van ‘n milddadige dienaar – een wat alles het wat hy nodig het en meer, te alle tye, in elke krisis? Het jy dit bewys deur dit die bank van die hemel te trek? *Nie baie sal dit opeis nie!*

Vir verskeie jare het ek saam met Kathryn Kuhlman gewerk. Ek het uit my hart uit gepreek in haar byeenkomste in die oggende, middae en aande, en gewoonlik was ek gedaan teen die einde van die dag. Een aand het Kathryn vir my en Gwen gesê, “Laat ons uitgaan en iets te ete kry.” Ek het vir haar gesê, “Ek is jammer – ek is te moeg. Ek moet na die motel gaan en slaap inkry.”

Sy het my snaaks aangekyk en gevra, “David, het jy onder die Gees se salwing gepreek vanaand?” Ek het geantwoord, “Jy weet ek was gesalf. Die altare was vol!”

Kathryn het stilweg gesê, “Dan mis jy iets. As jy onder die krag van die Heilige Gees bedien, behoort jy sterker aan die einde van die diens te wees as toe jy begin het – omdat Hy ‘n lewendmakende Gees is! Jy kan bokant jou vlees uitstyg, omdat jy deur die Gees kan aanspraak maak op daardie vryheid.”

“...sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk” (2 Korinthiërs 9:8). Om “oovloedig” te wees beteken letterlik, “toenemend; om meer aan die einde te hê as aan die begin.” Met ander woorde, soos die stryd feller word, neem God se genade toe! As swakheid oor jou kom, word Sy krag selfs groter! En wanneer jou laste swaarder word, neem Sy krag en sterkte toe in verhouding met jou laste!

God gee egter hierdie krag slegs aan diegene wat dit wil hê, dit nodig het en dit toeëien! Dikwels het ek gebid, “O God, U het ‘n vreeslike swaar las op my gelê. Dit kom voor asof dit meer is as wat ek kan hanteer!” Hy het my egter elke keer geantwoord, “Ek het groter krag vir jou voorsien as waarvan jy weet! Ek plaas nooit ‘n las op enigeen van My kinders sonder om ook voorsiening te maak vir meer as genoeg vir hulle om dit te dra nie. Jy het My belofte van blydskap en rus in jou ergste krisis!”

Geliefde, dit beteken ons behoort nooit gebrek te ly nie! Ons behoort oorvloedig te wees in ons bediening, arbeid en lewe. Hoe erger ons situasie, hoe moeiliker ons pad, hoe swaarder ons laste – hoe meer blymoedigheid, rus en hoop kan ons hê! God sê in wese, “Daar is meer as ‘n oorvloed van hulpbronne aan jou belowe! Jy behoort nie uitgeput, getap en neerslagtig te wees nie. Jy behoort jou pogings te verhoog eerder as om terug te trek!”

Vir jare in my bediening het ek baie tyd en moeite gespandeer om geld op te neem om verskeie uitreike te ondersteun, en met verloop van tyd het ek moeg geword daarvoor. Ons het ‘n Bybelskool gehad om te ondersteun. Ons het veldtogte oral om die wêreld gehou. Ons het sending ondersteun. Al hierdie werke het baie geld gekos om aan die gang te bly. Ons moes honderde duisende dollars bymekaarmaak en uiteindelik het dit my swaar belas.

Jare later, toe God my teruggeroep het na New York Stad, het ek gesê, “Here, ek sal gaan – maar ek het sekere voorwaardes. Ek gaan nie enige geld opneem nie! Ek sal nie skuld maak nie. Ek wil nie briewe skryf waarin ek smeek vir geld nie. En ek wil nie al my tyd deurbring om te bid en te ween oor geld nie. U het ‘n bank in die hemel met meer geld as wat ek ooit sou kon nodig hê. Ek wil hê U moet die vensters van die hemel vir ons oopmaak en dit uitgiet! Ek het ‘n stroom van finansies nodig.”

Die Here het my belowe: “As jy teruggaan na New York, sal jy nooit weer ‘n enkele dollar kortkom om My werk te doen nie. Ek sal alles stuur wat jy nodig het. Jy hoef niemand te dwing nie – jy hoef nie eens oor geld te praat nie. Ek sal dit alles voorsien!” En Hy het Sy woord gestand gehou!

Ek het ‘n ooreenkoms gemaak: “Ek sal glo wat U gesê het! Ek wil nie ‘n dollar meer hê as wat ons nodig het nie – net U genoegsaamheid. Sy antwoord was: “Jy sal dit oorvloedige genoegsaamheid hê – in alle dinge, te alle tye!”

2. Omdat God oorvloedige voorsiening beloof het, verwag Hy van ons om vir Hom alles te gee wat ons het – met ons hart daarin!

God aanvaar van niemand teësinnige diens nie. “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kolossense 3:23). “Van harte” beteken, “Met jou hele hart – al jou krag, alles wat binne-in jou is.”

Paulus, “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie...” (2 Korinthiërs 9:7). Die apostel maak ‘n dubbele toepassing van hierdie kwessie van gee: Dit het te doen met ons finansiële offergawes – en die gee van ons hele lewens vir God se werk!

Paulus skryf dat die kerk in Macedonië hom letterlik gesmeek het om hulle toe te laat om ‘n kollekte vir die arm, lydende heiliges in Jerusalem op te neem. Hierdie Macedoniërs was so heeltemal oorgegee aan die Here, dat hulle uit hulle armoede gegee het! Op daardie stadium, het hulle erger gely as Jerusalem, weens oorlog. Hulle ekonomie was verpletter, ‘n depressie het hulle getref en alles was buite beheer. Uit dat daardie anargie en chaos, het hulle alles gegee wat hulle gehad het – bokant hulle vermoë – milddadig!

Paulus sê die Macedoniërs het meer as geld gegee. Hulle het vir hom gesê, “Hier is ons offergawe. Wat wil jy hê moet ons nou doen? Ons bied ons dienste vrywillig aan vir die werk van God!” “...maar het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan ons deur die wil van God” (2 Korinthiërs 8:5). Hulle het niks gespaar in hulle diens aan die Here en hulle broers nie! “...Want hulle was na vermoë....ja, bo vermoë gewillig” (2 Korinthiërs 8:3). Hulle het bokant hulle menslike vermoë gegee – met baie gebed!

Paulus het nie nodig gehad om hierdie mense aan te spreek om te gee nie; hy het hulle nie by die wet gehou nie, of hulle gesmeek om 10 persent te gee nie. Hulle was so opgewonde oor Jesus, het so op Sy getrouheid vertrou, dat hulle gewillig, gretig en milddadig gegee het!

Ek moet jou waarsku: As jy fokus op persentasies met God, kan jy maar net sowel jou geld hou. God eer nie enige gawe wat nie gegee is met blydskap – gewillig, uit ‘n hart wat oorstroom met liefde, nie!

As jy net gee omdat jy glo dit word beveel – of as jy altyd wonder, “Is tiendes gee ‘n Nuwe Testament konsep, of net Ou Testament?” –  dan is jou hartsgesindheid heeltemal verkeerd! As jy 10 persent gee omdat die pastoor dit van jou vra, is dit ook verkeerd. Niks hiervan kom by die kern van die saak uit nie – by die hart van wat dit beteken om te gee nie!

Een man het vir my gesê, “Nadat ek my 10 persent gegee het, kan ek doen wat ek wil met die res. En ek verwag God om my te seën soos Hy belowe het – omdat ek my tiende gegee het!”

Nee! Talle is in staat om meer as ‘n tiende te gee. En God wil hê ons moet gee volgens ons vermoë – met milddadigheid! Daar is geen plek vir suinigheid onder God se mense nie. Wys vir my ‘n Christen wat net gee wat hy dink van hom verwag word, en ek sal vir jou ‘n Christen wys wat suinig is met sy tyd, energie en werk vir God. (Hy is waarskynlik ook suinig met sy familie en draai al sy sente om!”)

As jy suinig is met God, sal God suinig wees met jou. As jy teësinnig kerk toe gaan – een keer per week, uit verpligting – sal God met jou handel op dieselfde manier en jou skaars seën!

Wanneer jy jou hart en lewe ten volle aan die Here gee, kom al jou gawes uit jou liefde vir Hom!

As jy jouself heelhartig aan die Here gee, behoort jou eerste gedagte nie te wees, “Hoe naby aan 10 persent kan ek gee?” nie, maar “Hoeveel van myself – my geld, tyd en energie – kan ek gee?” Ons blydskap behoort te wees in hoeveel ons kan gee – en hoeveel van ons hart daarin is! Enigiets anders is afdreiging!

As jy jou offergawe in die mandjie laat val en dink, “Dit kon my brandstofrekening betaal het – maar ek moet dit gee” – dan moes jy dit gehou het! God erken dit nie! “...nie met droefheid of met dwang nie...” (2 Korinthiërs 9:7).

“Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek” (Spreuke 11:24). Hierdie vers sê, “Een mens gee vrylik, maar ontvang selfs meer – en ‘n ander hou meer as wat nodig is terug, maar word armoedig!”

Hoe meer krag en energie jy in werklikheid spandeer vir God, hoe meer sal Hy terug stort in jou. Hoe meer jy jouself inspan vir Sy belange – hoe meer jy van jou tyd, hulpbronne en krag opoffer – hoe meer belowe Hy om jou te ondersteun. Die eindresultaat is ‘n oorvloed vir jou!

Jy mag sê, “Broer Dave, ek het die Here werklik lief, en ek doen my heel beste om vir Hom my alles te gee. Ek verslap nie – ek is nie lui nie. My hart is regtig in die werk wat ek vir Hom doen. Maar my vlees is swak, afgemat, uitgeput! Ek is moeg – my gees is neerslagtig. Ek kan dit net nie help nie!”

Daar is nie ‘n enkele emosie, ‘n enkele soort wanhoop of moegheid wat Paulus nie self ervaar het nie. Luister na sy getuienis:

“In alles...verdruk...verleë...vervolg... neergewerp...van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge...in arbeid en moeite...in honger en dors...in koue en naaktheid” (2 Korinthiërs 4:8-10; 7:5: 11:24-27).

Deur al hierdie dinge, het Paulus egter ‘n openbaring gehad van die hulpbronne wat tot sy beskikking was. En toe hy oorweldig is, het sy geloof alles in besit geneem wat hy nodig gehad het om hom deur elke beproewing te dra – met oorwinning en seëvierende krag! Paulus het altyd dadelik weer teruggespring in die stryd in, omdat hy getrek het uit die hulpbronne van sy hemelse Vader! Ons sien hom weer en weer terugspring, met nuwe geloof en nuwe krag om voort te gaan:

“...gee ons nie moed op nie...is nie terneergedruk nie...nie radeloos nie...nie verlate nie...nie vernietig nie...getugtig en tog nie gedood nie...altyd opgeruimd...” (2 Korinthiërs 4:1, 8-10, 6:9-10).

Hy sê, “Ek is deur dit alles – vurige beproewings, slae, laste, hartseer, pyn en lyding...” “Maar Hy wat die nederiges troos, naamlik God, het ons getroos...” (2 Korinthiërs 7:6). Elke keer wat Paulus neerslagtig was, het hy Hom na die Here gewend. Hy het die God van vertroosting geken – en het begin trek by die hemelse bank!

As jy daaraan dink om op te gee – as jy dinge net ‘n bietjie rustiger wil vat, of selfs heeltemal opgee – sal jy die grootste fout van jou lewe maak. Bly in die stryd – want dit is in die hitte van die stryd waar God jou sterker maak! Dit is wanneer Hy milddadig na jou toe kom en Sy hulpbronne en innerlike krag oor jou uitstort. Slegs diegene wat betrokke is in die stryd ontvang Sy groot voorsiening!

3. Laastens, God verwag slegs bymoedige diens – sonder murmurering en gekerm!

As jy jouself heeltemal aan die Here en Sy diens gaan oorgee, moet jy dit blymoedig doen!

“...want God het ‘n blymoedige gewer lief” (2 Korinthiërs 9:7).

Ek word ten seerste aangekla deur hierdie vers – omdat ek dikwels deur my lewe en bediening gaan sonder die blydskap van die Here. Ek hoor so baie Christene sê, “Ek is so moeg, ek weet nie hoe ek dit gaan maak nie. O God, U moet kom en my krag gee!” Dit is murmurering – ‘n gekerm!

Die woord vir “blymoedig” in Grieks beteken hier “uitgelate, vrolik, bly” – om ‘n opgewekte hart te hê, gewilligheid, blydskap; om vol uitgelatenheid te wees. God sê in wese, “Wat jy doen in jou arbeid vir My – of dit voorbidding, aanbidding van My in My huis is, of My soek in jou binnekamer – doen dit met blydskap! Wees bly en milddadig met alles – jou geld, jou diens, jou tyd, jou lewe!”

Ek vra jou: Het om die Here te dien vir jou vervelig of sleurwerk geword? Is dit net ‘n las wat jou meestal hartseer en moeg laat?

Deuteronómium 28 beskryf ‘n verskriklike vloek wat God uitgespreek het oor diegene wat nie na Sy Woord luister nie, maar in plaas daarvan, wankel in vrees en hulle wend na afgodery. Hierdie vloek sluit verdrukking, onvervuldheid, verlies aan alle blydskap, verwarring en gebrek aan alle dinge in. Waarom kom so ‘n verskriklike vloek oor God se volk?

“Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie” (Deuteronómium 28:47).

God het vir Israel gesê, “Ek het alle voorsiening vir jou gemaak – Ek het vir jou so ‘n oorvloed gegee – maar jy weier om dit toe te eien! Jy verwaarloos My, en jy gaan rond hartseer, met geen blydskap nie, geen opgeruimdheid nie. Nou gaan jy vervloek word met verwarring en die verlies van al jou blydskap – omdat jy My nooit met blydskap in jou hart gedien het nie!”

God het al hierdie voorsiening ook belowe – alles wat ons nodig het te alle tye, vir alle goddelikheid, om meer as oorwinnaars te wees. En tog gaan ons rond en kla oor swaar laste, swaarkry en gebrek aan krag! Ons murmureer en kla – en ons hardloop na God soos arm, terneergedrukte, verlate armoediges!

Dit is ‘n ernstige saak om by die Here te kla oor hoe swaar jou las is. Jesus sê, “Want my juk is sag en my las is lig” (Matthéüs 11:30). As jou las swaar is, dra jy nie Syne nie, maar jou eie – en jy maak Hom ‘n leuenaar!

In net een dag is 23,000 kinders van Israel met die dood getref in die wildernis – omdat hulle gemurmureer het! Paulus het hulle sonde “Christus versoek” genoem. Hy het gewaarsku, “En laat ons nie Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom” (1 Korinthiërs 10:9-10).

God wil nie hê jy moet kla oor jou las nie – Hy wil hê jy moet daardie dinge uit jou lewe jaag deur Sy Woord vas te gryp!

Jou tjekboek na Sy hulpbronne is geloof! Hy sê in wese, “Ek het reeds vir jou voorsiening gemaak. Watter nood in jou lewe is so groot dat Ek nie meer as genoeg kan voorsien nie? Watter soort moegheid of las is so swaar dat Ek nie vir jou bonatuurlike krag kan gee om dit te verdra nie? Al wat jy kortkom, is geloof!”

Is jy aan die einde van jouself? Moeg, neerslagtig, op die punt om op te gee? Ek daag jou uit om die volgende vraag met ‘n eenvoudige ja of nee te antwoord:

  • Belowe die Woord van God om in al jou behoeftes te voorsien?
  • Het Jesus gesê Hy sal jou nooit verlaat nie, maar dat Hy met jou sal wees tot die einde toe?
  • Het Hy gesê Sy ore is oop vir jou gebede, en dat Hy vir jou die begeertes van jou hart sal gee?
  • Het Hy gesê jy sal meer as ‘n oorwinnaar wees? Ja of nee?
  • Het jy gesê Hy sou jou bewaar van struikeling en jou vlekkeloos voor die Vader se troon stel?
  • Het Hy gesê Hy sal vir jou alles wat jy nodig het voorsien te alle tye?
  • Het Hy beloof om vir jou al die saad te gee wat jy nodig het om die evangelie uit te dra?
  • Is Hy meer as gewillig om te gee as wat jy gewillig is om te ontvang?
  • Is Hy groter in jou as hy wat in die wêreld is?
  • Sal Hy alles uitermate oorvloedig doen, bo alles wat jy mag bid of dink?
  • Is Sy gedagtes teenoor jou goeie gedagtes?
  • Is Hy ‘n beloner van diegene wat na Hom soek?
  • Is Hy bekend met al jou weë?
  • Is Sy oog dag en nag op jou?
  • Doen Hy tans vir jou voorbidding?
  • Berei vir jou ‘n plek voor in die ewigheid?
  • Kom Hy in die wolke om Sy volk huistoe te neem? Gaan jy saam met Hom wanneer Hy kom?”

Jou antwoord op al bogenoemde behoort te wees, “Absoluut, ja!”

Laastens, kan iemand of iets in hemel of op aarde jou skei van die liefde van God wat daar vir jou is in Christus Jesus?

Nee! Nooit!

Ek noem dit ‘n milddadige Verlosser! Ons het geestelik ryk geword deur al sy hulpbronne vir ons!
“Sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk” (2 Korinthiërs 9:11).

Dierbare heilige, bely enige murmurering en gekla waaraan jy skuldig kon wees, of enige hartsgesindheid van wanhoop. Versaak dit alles nou dadelik voor die Here! En bid saam met my:

“Here, U het my vandag ryk gemaak. Ek is ryk in sterkte omdat U vir my gesê het U het alles wat ek nodig het te alle tye. Van nou af, wanneer ek moeg is, sal ek in plaas daarvan om teenoor U daaroor te kla, ‘n tjek trek! Stort U sterkte in my hart uit – maak my sterker vandag in U as wat ek nog ooit was. Halleluja!”