Die Menslike Gesig van God

David Wilkerson

As jy ernstig is met jou wandel met God, dan wil jy jou hemelse Vader leer ken. En daarom sal jy moontlik sy majesteit, sy krag en sy heerlikheid bestudeer. Maar ken jy jou Here se menslike gesig?

Jy mag moontlik wonder wat ek hiermee bedoel. Ons weet immers God is gees en Hy is vir ons onsigbaar. Die Skrif stel dit eenvoudig, “Niemand het God ooit gesien nie...” (Johannes 1:18). So, hoe kan God ‘n menslike gesig hê?

Ek glo deel van Jesus se sending hier op aarde was om die hemelse Vader se hemelse gesig aan ons te openbaar. Ons sien dit in die gedeelte waar Christus vir sy dissipels gesê het dat Hy op die punt was om na die Vader terug te keer. Hy het gesê, “En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle” (Johannes 14:4).

Toe die dissipels dit gehoor het, was hulle stomgeslaan. Thomas het geantwoord, “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” (Johannes 14:5). Met ander woorde: Hoe kan ons weet waarheen U gaan? En as U ons verlaat, hoe sal ons ooit by die Vader uitkom? U het self vir ons gesê dat U die enigste weg na Hom is.”

Jesus het hom geantwoord, “As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien” (Johannes 14:7). Filippus was beneweld hieroor. Hy moes gedink het, “Wat bedoel Jesus dat ons die Vader gesien het? Hoe kan ons ‘n gees sien? En hoe kan Jesus God wees as ons Hom kan sien? Dit is een of ander onverstaanbare raaisel.” Uiteindelik het hy dit uigeblaker, “...Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg” (Johannes 14:8).

Jesus het geweet Filippus se versoek was opreg en daarom het Hy hom geduldig geantwoord: “...Ek is so lankal by julle, en jy het My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?” (Johannes 14:9).

Jesus het toe omgedraai en al die dissipels aangespreek: “Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?...” (Johannes 14:10). Nadat Hy dit gesê het, het Hy vir hulle ‘n heerlike belofte gegee: “In dié dag [nadat Ek opgevaar het] sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle” (Johannes 14:20).

Wat ‘n wonderlike gesprek! Christus het in wese vir hierdie mans vertel, “Kyk na My! Sien julle nie dat Ek God geklee in menslike vlees is nie? Ek is die wese van die Vader. Alles wat Hy is – in natuur, wese en karakter – is in My. Alles wat Ek sê en doen openbaar hoe Hy is. So, wanneer Ek doen en spreek, sien julle Hom aan die werk. Ek het na die aarde toe gekom om vir julle die menslike gesig van God te wys!

“Ek besef julle kan dit nie nou alles begryp nie. Maar wanneer Ek opgewek is uit die dood, sal Ek vir julle oortuigend wys wie die Vader is. Ek sal Hom aan julle manifesteer, want Hy en Ek is een.”

Vandag weet ons Christus se hele bediening was ‘n manifestasie van wie die Vader is. Jesus het net gedoen wat Hy die Vader gesien doen het, of wat die Vader vir Hom gesê het om te doen en niks anders nie. Trouens, Jesus het dit prontuit gestel, “Ek kan uit Myself niks doen nie...” (Johannes 5:30). Hy herhaal hierdie stelling dwarsdeur die evangelie van Johannes:

“Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ‘n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek – net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek” (Johannes 12:49-50). “En wie My aanskou, aanskou Hom wat My gestuur het” (Johannes 12:45). “Ek en die Vader is een” (Johannes 10:30). “...Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur” (Johannes 8:42).

Die apostel Paulus bevestig dit wanneer hy van Christus sê, “...God is geopenbaar in die vlees...” (1 Timótheüs 3:16). Op ‘n ander plek, noem Paulus Jesus “...die Beeld van die onsienlike God...” (Kolossense 1:15).

‘n Duidelike beeld kom te voorskyn: God stuur sy Seun om vir ons te wys presies hoe Hy, die Vader, is. So, om God te ken en te sien, moet ons eers vir Christus ken en sien!

Vir eeue lank het kunstenaars probeer om vir God ‘n menslike gesig te gee. In skilderye en op gekleurde glasvensters in talle katedrale, word God uitgebeeld as ‘n fronsende, witbaard tiran in die hemel, met weerligstrale wat uit sy vingerpunte kom. In een prominente Suid Amerikaanse katedraal, word Hy selfs uitgebeeld waar Hy oor ‘n knielende massa mense staan en 'n groot knuppel swaai. Dit is jammer dat dit ‘n beeld is wat gedeel word deur menigtes wêreldwyd.

Natuurlik moet ons erken dat God wel ‘n streng kant het. Die Here is regverdig en heilig en Hy sal nie sy toorn terughou van verharde, bose sondaars wat sy evangelie aanhoudend verwerp nie. Paulus herinner ons aan hierdie streng kant van God, wat hand-aan-hand gaan met sy goedheid: “Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierendheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word” (Romeine 11:22).

Die Griekse woord vir “gestrengheid” in hierdie vers beteken “beslissend, kortaf, gebiedend.” Op sy beurt, beteken die die woord “gebiedend,” “diktatories, laat geen twyfel nie, aanvaar geen verskonings nie.” Met ander woorde, God sal doen wat Hy sê Hy sal doen – en Hy sal dit beslissend doen!

Jesus openbaar hierdie streng aspek van God se karakter in sy wandel op aarde. Byvoorbeeld, Hy het geen geduld gehad met skynheiliges en Fariseërs wat gespot het met die Heilige Gees wat in Hom gewerk het nie. En toe die godsdienstige leiers toegelaat het dat geldwisselaars besigheid in die tempel doen, het Christus hulle uitgedryf met ‘n sweep en hulle rowers genoem. Geliefde, dit is strengheid!

Beskou ook Jesus se streng woorde van oordeel: “Wee jou, Górasin, wee jou Betsaida!...dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle” (Matthéüs 11:21-22). En Hy het vir die skrifgeleerdes en Fariseërs gesê, “Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?” (Matthéüs 23:33).

Uiteindelik het Jesus met strengheid geprofeteer teen Israel se geliefde hoofstad: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerk bymekaarmaak, en hulle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat” (Matthéüs 23:37-38).

Paulus bevestig hierdie streng kant van God en maak die stelling, “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk” (Romeine 1:18). Die apostel voeg by dat God die goddelose vir hulle dade sal straf: “Maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid ongehoorsaam is – grimmigheid en toorn; verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen...” (Romeine 2:8-9).

Dit is egter tragies dat talle predikers vandag weggedoen het met die strengheid van God. Hulle praat slegs van sy goedheid en liefde en meld nooit enige straf vir sonde nie. In wese verwyder hulle die vrees van God uit die gelowiges se harte en neem een van die sterkte motiverings van heiligheid weg.

God se woord sê egter in baie duidelike terme: “Vrees die HERE, en wyk af van die kwaad” (Spreuke 3:7). “...deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad” (Spreuke 16:6). Paulus het hierdie vrees in gedagte gehad toe hy Timótheüs beveel het, “Verkondig die woord...weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Timótheüs 4:2). Paulus sê hierdie soort prediking was “gesonde leer” – wat beteken, “’n gesonde, lewegewende evangelie.”

God se strengheid is slegs een kant van sy menslike gesig. Die ander kant is goedheid en onvoorwaardelike liefde. Ons sien dit ook in Jesus se bediening geopenbaar. Alles wat Christus gesê en gedoen het, het die wonderlike goedertierenheid van die Vader geopenbaar.

Ek moet vir jou vra: Besit jy hierdie konsep van jou hemelse Vader – dat Hy liefdevol en genadig is teenoor jou, sy kind? En glo jy dat jy vir Hom blydskap en plesier bring? Of, sien jy God slegs as ‘n wraaksugtige, veroordelende Vader wat bo jou staan en wag om jou aan te val wanneer jy ‘n fout maak?

God is in werklikheid baie begaan oor jou konsep van Hom. En dit is waarom Jesus so vasbeslote was om die Vader se goedheid teenoor sy kinders te openbaar in drie besonderse openbarings. Johannes se evangelie vermeld dat elkeen van hierdie manifestasies plaasgevind het na Christus se opstanding. En elkeen openbaar vir ons iets belangriks oor ons hemelse Vader:

Die eerste keer wat Jesus Homself gemanifesteer het, was net nadat Hy gekruising was en sy oorblywende dissipels verstrooi is. Maar gou het die dissipels weer saam vergader en hulself in ‘n kamer toegesluit “...uit vrees vir die Jode...” (Johannes 20:19).

Die Griekse woord vir “vrees” in hierdie vers beteken “angsbevange, verskrik, doodbang.” Hierdie mans was verlam, vasgevang in die vrees vir mense. ‘n Blote klop aan die deur sou hulle harte vinnig laat bons het; dit kon Romeinse soldate wees wat gekom het om hulle in hegtenis geneem.

Jesus het egter voordat Hy gekruisig is aan hulle belowe: “...daar kon ‘n uur wanneer Ek nie meer deur gelykenisse tot julle sal spreek nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel” (Johannes 16:25). Die woord “openlik” beteken hier “sekerlik, sonder twyfel, sigbaar.”

Min het hierdie mans geweet dat Jesus gepraat het van hulle huidige oomblik waar hulle bewend in daardie kamer gesit het. Hy het in wese gesê, “Wanneer julle My weer sien, hou My fyn dop en luister aandagtig na my woorde. Julle sal jul hemelse Vader in My sien en hoor!”

Skielik was daar ‘n klop aan die deur. Dit was Maria Magdalena – en sy het uitgeroep, “Ek het die Here gesien! Hy het met my gepraat! Hy het gesê om vir julle te sê Hy sou opvaar na die Vader. En Hy het Hom ‘my Vader en julle Vader genoem, my God en julle God’” (sien Johannes 20:17-18).

Die dissipels het met belangstelling geluister – maar hulle het dit nie verstaan nie. Hulle het geweet Jesus was lewend – maar hulle kon nie sy opstanding verstaan nie. So, in plaas van om uit te gaan en te verkondig, “Hy leef!”, het hulle saamgebondel die hele dag lank.

Dieselfde nag, het Jesus tussen hulle verskyn in daardie geslote kamer: “...Jesus [het]...in hulle midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle! En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy...” (Johannes 20:19-20).

Wat ‘n wonderlike ding om te aanskou! Jesus het skielik tussen sy dissipels verskyn – en toe Hy het, het Hy nie ‘n enkele woord van teregwysing of veroordeling gespreek nie. In plaas daarvan, het Hy vir hulle gesê, “Vrede vir julle.” Daarmee het Hy bedoel, “Julle leef in vrees omdat julle nie in die lig wandel nie. Maar Ek sê vir julle, daar is geen rede om te vrees nie. Vrede vir julle!”

Dit is belangrik om hier te onthou van Jesus se vorige belofte aan sy dissipels: “Na my opstanding, sal Ek kom en die Vader aan julle openbaar.” Nou, op hierdie presiese oomblik, het iets in daardie kamer gebeur wat te doen gehad het met ‘n openbaring van wie God is. En die eerste ding wat ons oplet, is Jesus se aanbieding van vrede. Hy het die natuur van ons hemelse Vader geopenbaar: God se eerste woord aan ons is nooit woorde van veroordeling nie, maar van vrede!

Lukas gee vir ons ‘n groter prentjie van wat gebeur het. Hy sê toe Jesus verskyn het, het die dissipels “verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien” (Lukas 24:37). Maar Jesus het hulle aangemoedig, “...Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie” (Lukas 24:39).

Jesus wou hê hulle moes weet dat Hy nie net God was nie, maar dat Hy ook vlees en been was. Selfs toe Hy later opgevaar het in die hemel, het Hy nooit sy menslikheid prysgegee nie. Hy was gees, ja – maar Hy het ‘n menslike wese gebly, net soos ons. En net so kan ons vandag weet dat selfs in die hemel, word die Here aangeraak deur ons gevoel van swakheid.

Volgende verduidelik Jesus uit die Skrif sy sending – waarom Hy gekruisig en uit die dood opgewek moes word. Toe het Hy vir die dissipels die merke van die spykers in sy hande en sy wond in sy sy gewys en vir hulle gesê, “Ek wil iets aan julle openbaar oor die Vader. Al hierdie dinge – my dood, begrafnis en opstanding – wys na een ding.” Dat “bekering en vergewing van sondes in (my) Naam verkondig word aan al die nasies” (Lukas 24:47).

Jesus het gesê dit het alles gehandel oor versoening! Ek vra vir jou – wat openbaar dit oor ons hemelse Vader se natuur? Dit sê Hy is soos ‘n Vader wat sy kinders verloor het – en so vasbeslote is om met hulle versoen te word, dat Hy sy eie lewe vir hulle gegee het, in sy Seun.

Paulus skryf: “...dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het...” (2 Korinthiërs 5:19). “En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het...” (2 Korinthiërs 5:18). “...Laat julle met God versoen” (2 Korinthiërs 5:20). Die woord “versoen” beteken hier “om te herstel tot goddelike guns; om alle vyandskap te verwyder.” Paulus sê in wese, “Wees met God versoen deur terug te kom na sy genade en barmhartigheid!”

Wil jy God se hart teenoor jou ken? Luister dan na Jesus se woorde in daardie geslote kamer: “Kyk na my wonde, my spykermerke, my gewonde sy. Ek het dit alles gedoen deur die wil van my Vader – julle Vader – om sy hart teenoor julle te openbaar. Hy wil julle herstel, om alle mure en hindernisse te verwyder – om julle met Homself te versoen. Vergifnis is nou beskikbaar, omdat my bloed die prys betaal het. Wees nou versoen met God!”

As jy dink dat God elke keer wanneer jy misluk, kwaad van jou af onttrek – as jy dink sy liefde verander in misnoeë elke keer wanneer jy sondig – dan ken jy glad nie die Vader se hart nie. Jy kan Hom eenvoudig nie ken nie totdat jy weet Hy wil jou met Homself versoen. Hy wil hê jy moet een met Hom wees – en sy seën en guns geniet!

Jesus se tweede manifestasie het plaasgevind ter wille van een dissipel – Thomas. Thomas was nie teenwoordig in daardie geslote kamer toe Jesus die eerste keer verskyn het nie. Maar hy het later by die dissipels aangesluit en hulle het vir hom probeer verduidelik wat gebeur het:

“Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy [Thomas] het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie” (Johannes 20:25).

Die Griekse woord vir “steek” beteken hier “met geweld en krag indruk.” Thomas het in wese gesê, “Ek sal nie glo dat Hy leef nie totdat ek my vuis in sy sy kan druk nie.” Hy het hier natuurlik tong-in-die-kies gepraat as ‘n uitdrukking van totale ongeloof.

As ek Thomas se woorde in hierdie gedeelte lees, ontstaan daar ‘n woede in my. Ek wil vir hom sê, “Jou ondankbare, onoplettende man! Hoe kan jy die woord van die opgestane Here in twyfel trek na al die wonderwerke wat jy gesien het? Jesus self het vir jou gesê Hy sou op die derde dag opstaan!”

Die oomblik wat die woede in my egter opgestaan het, het ek besef, “Oeps – ek beskryf myself!’ Dikwels in my lewe wanneer ‘n krisis ontstaan en ek geen bewyse sien dat God my gebede verhoor nie, kom twyfel ingestroom. Ek word versoek om te dink, “Ek kan nie net in die donker wandel nie. As die Here van my verwag om aan te hou om Hom te vertrou, moet Hy vir my een of ander teken wys.”

Dit moes Thomas se denkwyse gewees het. Maar nou het Jesus weereens verskyn om vir sy volgelinge – en vir ons vandag – die menslike gesig van God te wys:

“En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle!” (Johannes 20:26). Weer het Jesus vrede aangebied. Toe het Hy vir Thomas gesê: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig” (Johannes 20:27).

Toe Thomas Christus sien, het hy uitgeroep, “...My Here en my God” (Johannes 20:28). Jesus het hom geantwoord, “...Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het” (Johannes 20:29).

Wat is die les hier? Wat wil Jesus hê ons moet leer oor ons hemelse Vader? Dit is dit: God neem groot behae daarin wanneer ons Hom vertrou sonder dat ons bewyse vir geloof nodig het!

Jesus het vir Thomas gesê, “Wanneer sal jy ophou om tekens nodig te hê om in My te glo? Jy het my lewe gesien. Jy het gesien hoe Ek na die berge gaan om te bid. Jy weet dat Ek nooit iets gedoen het sonder om die Vader te raadpleeg nie. Wel, Hy is jou Vader ook, Thomas. En sonder geloof, is dit onmoontlik om Hom te behaag!

“Jy het My pas jou Here en jou God genoem. Maar as ek waarlik God is vir jou, laat my God vir jou wees. Lewe heeltemal afhanklik van My! Ek kan nie God vir jou wees totdat jy alle dinge met volle vertroue en geloof in my hande oorgegee het nie.”

As ons weer die vraag vra – wie is God en hoe is Hy? – sien ons Hy is ‘n Vader wat ons nie net met Hom versoen wil hê nie, maar Hy wil ook oor ons lewens heers met sy liefde, wysheid en krag.

So ver, het Jesus vir ons twee lesse geleer deur sy manifestasies, lesse oor sy versoening en sy heerskappy. Nou is daar die les van sy derde manifestasie:

Die Skrif sê, “Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode” (Johannes 21:14).

Hier is die agtergrond: Petrus en die ander dissipels was saam – steeds verward, steeds sonder rigting, steeds aan die bepeins oor al die gebeure wat hulle gesien het. Petrus het gevoel dit was so moeilik om te verstaan dat hy die stelling gemaak het, “Ek gaan visvang!” (sien Johannes 21:3). Gou het al die ander dissipels opgespring en gesê, “Ons gaan saam met jou!”

Hierdie mans sou nie gaan visvang het net vir die aand nie. Nee – hulle het bedoel, “Hierdie dinge is bokant ons vuurmaakplek. Al hierdie gebeure, al hierdie leringe waarvan Jesus praat – dit is te veel vir ons. Ons gaan terug na ons ou beroep toe.”

Die Skrif sê, “En hulle het uitgegaan en dadelik in die skuit geklim, en in daardie nag het hulle niks gevang nie” (Johannes 21:3). “En toe dit al dag geword het, staan Jesus op die strand; maar die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie” (Johannes 21:4).

Weereens het Jesus homself gemanifesteer aan sy dissipels om ‘n rede. Hy sou vir hulle een laaste, belangrike waarheid oor hulle hemelse Vader wys. Die storie is bekend:

Die dissipels het die hele nag gesukkel, maar niks gevang nie. En nou was hulle moeg, honger en gefrustreerd. Toe, skielik, het hulle ‘n stem gehoor roep van die strand af, omtrent driehonderd meter weg en sê, “Het julle enigiets gevang?”

Hulle het geantwoord, “Nee, ons het nie eers ‘n byt gehad die hele nag nie.” Toe het die stem teruggeantwoord: “Gooi julle nette aan die ander kant uit.” Hulle het dit gedoen – en hulle het ‘n vangs ingetrek wat so groot was, dat dit amper hulle nette geskeur het!

Terwyl Johannes afgekyk het na al die vis wat in die water gewriemel het, het hy vir Petrus gesê, “Dit is die Here. Net Hy kan so ‘n wonderwerk doen!” Petrus het geweet dit was waar – en dadelik het hy in die water gespring en na die strand geswem terwyl die ander in die skuit gevolg het. Toe hulle daar aangekom het, het hulle Jesus gekry waar Hy brood en vis vir hulle gaargemaak het om te eet.

Wat ‘n wonderlike toneel! Nie lank gelede nie, het ek gehoor hoe ‘n jong prediker van die suide hierdie gedeelte so beskryf: “Ons dien ‘n God wat so begaan is oor sy kinders, dat hy vir hulle beskuitjies bak!” Toe ek dit hoor, het ek vir myself gefluister, “Ja, Here! U is ‘n God wat ontbyt vir U kinders maak. U is begaan oor ons welstand, ons beroepe, ons families – oor alles van ons!”

Nadat die dissipels geëet het, het Jesus voortgegaan met sy laaste manifestasie van die menslike gesig van God. Weereens het Hy nooit ‘n enkele woord geuiter oor die dissipels wat sy roeping verlaat het en na hulle ou beroep teruggekeer het nie. In plaas daarvan, het hy na Petrus gekyk en vir Hom gevra, “Petrus, het jy my lief?”

Talle preke is al hieroor gepreek om te probeer agterkom waarom Jesus vir Petrus hierdie deurdringende vraag drie keer gevra het. Ek glo Christus wou bloot net weereens vir ons meer wys aangaande die Vader. En die les is hier die volgende: Vir ons hemelse Vader gaan alles oor verhouding – oor om ons lief te hê en oor ons wat Hom liefhet!

Petrus het geantwoord, “Ja, Here – U weet dat ek U liefhet.” Maar hy moes diep wanhopig gewees het en gedink het, “Ek mag dapper aan die buitekant lyk, maar van binne is ek ‘n jellievis. Ek het werklik die God van heerlikheid verloën en gevloek. Ek kan nie teruggaan om ‘n visser van mense te wees vir Jesus se koninkryk nie. Ek is nie waardig nie.”

Jesus het sy gedagtes onderbreek deur dieselfde vraag te herhaal: “Petrus, het jy My lief?” Hy het met ander woorde gesê, “Petrus, dit is wat God regtig van jou verlang. Dit gaan nie oor jou wysheid, jou wilskrag of jou werke nie. Al wat Hy wil hê is vir jou om Hom meer lief te hê as enigiets anders in die wêreld!”

Petrus het geantwoord, “Here, U weet dat ek U liefhet.” Maar hy moes steeds gedink het. “Daar is te veel om te verstaan. Al hierdie leerstellinge is te diep, te moeilik om te begryp. Ander mag dit snap, maar dit is te moeilik vir my. Ek het sekerlik ywer, maar dit is sonder kennis. Ek is net ‘n ongeskoolde visserman. Ek verstaan nie eens die leiding van die Here nie. Hoe kan ek ooit heeltemal afhanklik van Hom lewe?”

Uiteindelik het Jesus die dissipel ‘n derde keer gevra, “Petrus, het jy My lief?” En ek glo hierdie keer, het Petrus die boodskap gekry. Skielik het hy gesien dat om die Vader te ken oor meer gegaan het as versoening en heerskappy. Dit was ook om ‘n verhouding met Hom te hê.

Daarom keer ons ‘n laaste keer terug na ons vraag: Wie is God en hoe is Hy? Hy is ‘n God wat wil hê jy moet sy liefde ontvang – en op sy beurt wil Hy deur jou liefgehê word!

Ek het eenkeer vir Nicky Cruz, die voormalige bendeleier, wat Christus nou al vir ongeveer dertig jaar verkondig, gevra: “Nicky, hoe het jy dit gemaak deur al hierdie jare?” Hy het dadelik geantwoord, “Een eenvoudige geheim – Ek het Jesus lief! Ek was hel toe en terug, maar ek is verlief op Christus.”

Aan die ander kant, hoe weet ek God het Nicky lief? Ek weet dit omdat Jesus gesê het, “...en hy wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê...” (Johannes 14:21).

God se natuur is liefde. Johannes skryf in sy sendbrief: “...God is liefde. Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe...En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God en God in hom...Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:8-9,16,19).

Geliefde, ek bid dat God se Gees jou sal lei om hierdie lesse van Jesus se manifestasies toe te pas. Onthou hierdie drie woorde: versoening, heerskappy en verhouding. En weet dat dit vir jou die menslike gesig van jou hemelse Vader wys!

Hy wil jou met Hom versoen. En Hy wil oor jou heers met liefde. Laastens wil Hy jou liefhê. So, sal jy sy liefde aanvaar – en sal jy Hom terug liefhê?

Dit is om die menslike gesig van die Vader te ken!