Die Maak van ‘n Man van God

David Wilkerson

Ek wil graag vir jou vertel van drie mans wat God magtiglik gebruik het – en hoe Hy mislukkings gebruik het om goddelikheid in hulle te bewerkstellig.

Vandag hoor ons so baie van hoe om suksesvol te wees. Dit is tyd dat die liggaam van Christus leer om die Skriftuurlike patroon te herken wat God gebruik om Sy uitverkore dienaars te vorm. En die harde waarheid is die volgende: Pyn, foltering, hartseer en mislukking het die mans en vroue van God wat hulle geslagte bearbei het, gevorm.

Dink aan Job, wat in sy motiewe misluk het. Job het gesê, “Ek het nog nooit iemand seergemaak nie –  Ek weet ek leef regverdig.” Hoewel Job ‘n goddelike man was wat die rug gekeer het op boosheid, was hy duidelik oortuig van sy eie geregtigheid. Nadat ons deur hierdie boek gelees het, wonder ons hoe God ‘n man wat so trots op sy eie goedheid was, so hoog kon geag het. God het egter geweet wat Hy besig was om te doen toe Hy toegelaat het dat Satan Job vir ‘n tydperk beproef en getoets het.

Dink ook aan Dawid, die man wat in sy morele waardes misluk het. Kan jy jou voorstel dat so ‘n standvastige man van moed en durf in so ‘n blatante sonde kon verval? Hoe kon Dawid so laag daal en aan owerspel toegee – en toe moord pleeg om dit te probeer toesmeer? Kan jy begryp dat selfs na al hierdie dinge, Dawid steeds “’n man na God se hart” genoem was?

Dink aan Petrus, die man wat in sy sending misluk het. Hy het ‘n innige verhouding met Jesus Christus en ‘n persoonlike roeping op sy lewe gehad. Die sleutels van die koninkryk was aan hom toevertrou. Tog het hierdie man hartseer op ‘n heuwel beland omdat hy die einste Christus wat hy so liefgehad het, gevloek en verloën het. Maar ten spyte van sy mislukking, het Petrus ‘n man geword wat wonderbaarlik verander was – en wat God gedien het as God se woordvoerder by Pinkster.

Laastens, dink aan Jesus – die Seun van God, wat met al hierdie mans se swakhede en beproewinge medelye gehad het en ook met ons s’n.

Wat is die prosesse wat gebruik word in die maak van ‘n man of vrou van God? Watter kragte en drukte gebruik God om geregtigheid te vorm in diegene wat Hom liefhet? Watter diep, harde, koue oorloë moet ‘n persoon beleef wat die aanraking van God wil hê? As jy regtig die antwoord wil weet, wees gewaarsku: Moenie bid, “Jesus, plaas U hand op my en gebruik my” nie, tensy jy gewillig is om die beproewings wat moet kom te trotseer.

Byvoorbeeld, wanneer jy die biografie lees van ‘n sendeling wat magtig deur God aangewend is, moenie ‘n storie verwag van voortdurende romanse, avontuur, skoonheid, liefde, eerlikheid, geluk en oorwinning nie – glad nie!

Soms sal jy die bedrieglike karakter van Jakob vind wat van die bladsye af uitspring. Ander tye, sal jy lees van hartseer en moedeloosheid – van mense wat dikwels uitroep, “Ek is so wispelturig, geneig tot sonde. Hoe kan God my ooit gebruik?” Jy sal stories vind, nie van avontuur nie, maar van trane en hartseer, van mense wat hulleself aan die slaap gehuil het. Die bladsye van sulke boeke is gevul met trane, vrese, lyding en mislukking.

As jy begeer om ‘n man of vrou van God te word, moet ek vir jou vra: Het jy tyd op jou knieë in gebed deurgebring om God te smeek dat Christus in jou gevorm moet word? Het jy in jou siel verlang om ‘n ware volgeling van God te word wat in die Gees wandel? As jy nog nie obsessief was oor jou begeerte om ‘n man of vrou van God te wees nie, dan het jy die doel heeltemal misgeloop. Omdat jou hart en jou lippe moet uitroep, “Jesus, verander my na U beeld! Laat my U slaaf word!”

Ek het nog nooit een keer geglo dat ek dit al bereik het nie. Maar daar is een ding wat ek meer as enigiets in die wêreld wil hê: om ‘n ware man van God te word. Ek wil hê my lewe en sterwe moet Jesus verheerlik.

As jy regtig wil uitvind oor die proses wat goddelikheid in ons produseer, bestudeer dan wat in die Tuin van Getsémané plaasgevind het. Kyk na Jesus, die Seun van God, want Hy is ons voorbeeld. Al die magte wat teen Job opgestel was, was ook daar in Getsémané, opgestel teen Christus. Die versoeker wat Dawid op die dak versoek het, het Jesus ook in die woestyn versoek. Al die folterende magte wat Petrus se siel geteister het, was ook by Getsémané teenwoordig, waar hulle teen ons Verlosser ‘n aanslag opgestel het. Daar is geen beproewing wat ons beleef wat Jesus nie self beleef het nie. Hy het medelye met ons gevoel van swakhede en beproewings – elkeen van hulle. En om soos Christus te wees, moet ons gewillig te wees om te beleef wat Hy beleef het.

Daar is drie beproewings wat elke ware man en vrou van God uiteindelik sal konfronteer:

1. 'n Lydingsbeker

Om ‘n dienaar van God te wees, moet ons op een of ander stadium ‘n lydingsbeker bedien word. Luister na Jesus se woorde in die Tuin: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matthéüs 26:39).

Jesus het Sy hele bediening deurgebring om die wil van sy Vader te volbring. Vir drie jaar lank het Sy lewe en sending reguit gelei na hierdie lydingsbeker: Die Kruis op Gólgota. Jy kan egter die aandoenlikheid in Sy woorde hoor toe Hy na Sy dissipels gedraai en gesê het, “So was julle nie in staat om een uur saam met My te waak nie?” (Matthéüs 26:40). Wat ook al in daarde beker was, het Jesus gedwing om bloeddruppels te sweet en uit te roep, “O God, as dit moontlik is, verlos My. Ek sal liewer dat hierdie beker verbygaan – dit is ‘n te swaar las vir My!”

Toe Job sy beker van lyding bedien is, het hy uitgeroep, “Hy het my in die modder gewerp...uit my oog drup trane tot God” (Job 30:19, 16:20). Met ander woorde “Ek het soveel pyn dat ek nie my weg oop kan sien nie!” Toe Dawid sy lydingsbeker gedrink het, het hy sy bed ‘n bed van trane gemaak: “Ek deurweek my bed met my trane. My oog het dof geword van verdriet” (Psalm 6:6-7).

Dierbare heilige, ek weet nie wat jou lydingsbeker mag wees nie. Maar baie van God se kosbares bid jarelank vir hulle verlossing – en wag steeds daarvoor. Ek glo in genesing; en ek glo ons sal verdrukkinge hê. Maar ek glo ook in genesingsverdrukkinge. Dawid het getuig, “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord” (Psalm 119:67).

Moenie dink net omdat jy pyn het, die duiwel jou aanval nie – dat jy nie volgens die Skrif leef nie, dat jy sonde in jou lewe het en dat jy deur God geoordeel word nie. Dawid het ‘n baie eenvoudige waarheid oor homself (en ons) verwoord toe hy gesê het as hy nie verdruk was nie, sou hy nie die Here gesoek het nie. Om te sê die duiwel het Dawid se pyn veroorsaak, stel voor dat die duiwel hom na die Vader gedryf het.

Met tye moes ek fisieke pyn jarelank verduur. Elke keer het ek tot God gebid om my te genees. Deur die pyn heen kon ek egter voel dat God besig was om in my lewe te werk, deur my na die Kruis te dryf en my op my knieë te hou. En nadat elke pynlike episode verby was, kon ek sê dat dit goed was vir my.

Wil jy ‘n man of vrou van God wees? Wil jy die hand van die Here op jou hê? Dan sal jy ‘n lydingsbeker drink en jou bed met trane deurweek. Jy sal nie so erg huil oor fisieke pyn nie, maar van pyn wat baie erger is. Ek praat van die pyn van verwond verwerp te word deur vriende – dit is die pyn wat ouers ervaar wanneer hulle voel hulle tieners vertrap hulle harte en word vreemdelinge vir hulle. Dit is die pyn tussen ‘n man en vrou wanneer ‘n muur van stilte tussen hulle gebou word en die eerste liefde verdwyn.

O, hoe tragies lyk dit: die onrus van binne, moeilikheid by die huis, slapelose nagte – wetend dat God werklik is, dat jy in sy Gees wandel, dat jy Jesus liefhet met alles wat binne-in jou diepste wese is, en tog word jy geforseer om ‘n lydingsbeker te drink. Die Bybel sê, “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige” (Psalm 34:20). Selfs al het God belowe om ons uit dit alles te lei, maak dit steeds seer om daardeur te gaan.

Toe Jesus in Sy uur van lyding was, het Petrus Hom met ‘n swaard in sy hand genader. Petrus het in wese vir Jesus gesê, “Meester, U hoef nie hierdeur te gaan nie! Ek sal hulle weghou. U moet weghardloop – ontsnap terwyl U nog kan!”

Baie goedbedoelde Christene is soos Petrus. Hulle hardloop rond met swaarde, gereed om die oor van die duiwel af te kap. Hulle sê vir diegene wat ly, “Hardloop terwyl jy kan! Jy hoef nie hierdeur te gaan nie. God is ‘n goeie God – jy hoef glad nie hierdie beker te drink nie! Eis jou verlossing op en laat dit afgehandel wees!”

Geliefde, moenie probeer om weg te vlug van die lydingsbeker wat Hy vir jou gee nie. Jesus het vir Petrus gesê, “Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?” (Johannes 18:11). Jy sien, Jesus kon dit nou drink, omdat Hy gesien het Wie die lydingsbeker bedien het: dit was Sy hemelse Vader.

Selfs wanneer jy nie die doel agter jou lyding verstaan nie, kan jy die lydingsbeker drink as jy hand van die Vader sien wat dit bedien. Dit mag jou brand, skroei en skend; dit mag jou laat bewe. Maar jy hoef nie bang te wees nie, omdat die Meester die beker vashou. Jy drink nie dood nie, maar lewe!

2. 'n Nag van verwarring

Om ‘n man of vrou van God te wees, moet jy ook ‘n nag van verwarring beleef. Jesus het gesê, “My siel is diep bedroef tot die dood toe” (Matthéüs 26:38). Kan jy jou voorstel dat die Seun van God so iets sou sê? Het Hy nie geweet dat Hy op die punt was om die hel, die dood en die graf te oorwin nie? Het Hy nie ‘n aangebore gevoel van leiding en bestemming gehad met die wete dat die Vader met Hom was nie? Hy het immers vir Sy dissipels gesê, “’n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie...omdat ek na die Vader gaan” (Johannes 16:16). Hy het in Sy profetiese visie gesien Hy sou hierdie uur beleef.

Die moeilikste deel van geloof is daardie laaste halfuur. Die nag van verwarring kom altyd net voor die oorwinning, net voor die lig deurbreek. Wees verseker, dierbare heilige: Voor die mag van die Satan verbreek word, sal jy jou nag van verwarring beleef.

Dit sal vir jou lyk asof of jou sin van leiding en rigting weg is. Toe Dawid se nag van verwarring gekom het, het hy gesê, “En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste” (Psalm 143:4). In Petrus se donker nag van verwarring het hy beangs geword en sy Meester gevloek.

Toe Job sy donker nag beleef het, het hy gesê, “Gaan Hy by my langs, dan sien ek Hom nie, en Hy skuif verby sonder dat ek Hom bemerk” (Job 9:11). ‘n Skuif het in die hemel plaasgevind – ‘n dambordstuk het op die bord van Job se lewe geskuif – en hy het gereageer deur te sê, “Here, ek vertrou nie op my rykdom nie. Ek het steek my sondes nie weg nie. Ek is eerlik; my integriteit verlaat my nie. Waarom moet ek ly? Waarom moet ek hierdie verwarring beleef, iets wat ek nie eers verstaan nie?”

Soos Job, kan talle Christene nie verstaan waarom hulle moet ly nie. Hulle wonder, “Here, ek het niemand verkul nie. Ek het nie ‘n verhouding met ‘n ander man se vrou nie. Ek het geen oneerlikheid binne-in my nie. Waarom sou ek ‘n nag van verwarring beleef? Waarom kan ek nie duidelike leiding kry nie?”

Stel jou voor die angs van Dawid, die vreeslose kryger-koning in beheer van ‘n magtige volk, toe die profeet Natan sy sonde geopenbaar het. Dawid het drie pragtige Psalms oor hierdie nag van verwarring geskryf, waarin hy nie kon verstaan waarom hy gesondig het nie. Hy het geskryf, “Dit is te moeilik vir my om te begryp. My sondes het my oorweldig en my dwaasheid het my hart my mislei.” Na al die jare van uitreik na God, kon Dawid nie verstaan hoe hy so dwaas kon wees nie. “Waarom?” moes hy gewonder het.

Soos Dawid, beleef talle goddelike mense ‘n sedelike kwessie in hulle lewens – en in hulle nag van verwarring sê hulle, “God, waarom ek? My hart het na U gesoek, en skielik het sonde my oorweldig. Dit het my siel geteister.”

Moenie dink dat ‘n persoon wat deur God gebruik word al die antwoorde op hierdie vrae het nie. Selfs die nederigste dienaar van God hoor nie heeltyd duidelik van die Vader nie. Ek weet wat dit is om daardie goddelike stilte te beleef, om God se stem vir ‘n tydperk nie te hoor nie.

Ek het deur tydperke beleef van totale verwarring, met geen duidelike leiding nie, die stil, rustige stem agter my, het heeltemal stil geword. Ek het moeilike tye gehad toe daar geen vriend naby was om my hart gerus te stel met ‘n woord van advies nie. Al my patrone van leiding van voorheen het skeefgeloop, en ek was in algehele duisternis gehul. Ek kon nie my weg uit sien nie, en ek het fout op fout gemaak. Ek wou sê, “O God, wat het gebeur? Ek weet nie waarheen om te gaan nie!”

Dit is ‘n nogal positiewe belydenis om te maak, sê jy. Maar jy sal ook daardie soort verwarring beleef wanneer God jou oorgawe aan Hom begin toets! Dank God, dit is slegs ‘n donker nag, en dit sal verbygaan – omdat die Here begeer om ons pad duidelik te maak.

3. 'n Uur van isolasie

Laastens, as ‘n man of vrou van God sal jy ‘n uur van isolasie moet verduur. Hierdie woorde het gekom uit die lippe van Jesus, God se eie Seun: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matthéü 27:46).  Job het van God gesê, “God het wreed geword teenoor my. Ek huil in die dag en ek staan op in die nag, maar Hy hoor my nie.” Dawid het gesê, “Ek is vergeet uit die hart, soos ‘n dooie” (Psalm 31:13). Hy het ook uitgeroep, “My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?” (Psalm 22:2).

Die uur van isolasie kom waneer dit lyk of God Sy gesig verberg, en nie een van jou vriende werklik verstaan waardeur jy gaan nie. Maar, jy vra, verberg God werklik Sy gesig vir diegene wat Hy liefhet? Is dit moontlik dat Hy Sy hand vir ‘n kort rukkie wegneem om ons te vertroue en afhanklikheid te leer? Die Bybel antwoord duidelik, “God [het] hom net verlaat om hom op die proef te stel, om te weet alles wat in sy hart was” (2 Kronieke 32:31).

Ek kan eerlik sê dat Jesus nog nooit voorheen vir my meer werklik was as vandag nie. Maar ek kan ook sê, wanneer jy op jou knieë gaan en ontdek dat die hemel toegesluit is vir jou gebede, is daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Jy kan nie bid om deur te breek nie. Jy voel niks behalwe leegheid en nederlaag nie. En jou hart roep uit, “O God, waar is U?”

Klink dit vir jou vreemd? Het jy dit nog nooit beleef nie? Dan was jy nog nooit werklik by die Kruis of Getsémané nie. God het gesê, “In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg” (Jesaja 54:8). Maar Hy sê ook, dit is Hy “wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede” (Psalm 103:4). Hy belowe Hy sal Sy liefdevolle genade op ons uitstort in ons tye van isolasie. Job het in sy uur gesê, “Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom” (Job 23:10). Dawid het te midde van sy uur gesê, “Die goedertierenheid van die HERE wil ek vir ewig besing” (Psalm 89:2). Sy geloof het intakt gebly; niks kon dit aanraak nie. En Petrus het, op die dag van Pinkster, uitgestyg bokant sy ellendige mislukking deur met vertroue te staan toe hy verkondig het, “Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is” (Handelinge 2:16).

Ons weet hulle was almal manne van God. Die Bybel sê God het die regverdigheid van Job erken. En Hy het Dawid persoonlik uitgekies, en vir die profeet Samuel gesê, “Dit is die een – salf hom!” Ons weet God se hand was ook op Petrus. Elkeen van hierdie mans het egter groot beproewinge beleef.

Maar wat het dit alles te doen met jou en my? Hier is een praktiese toepassing:

Na een van my evangeliebyeenkomste in San Francisco, het ‘n sekere jongman in die gebedskamer ingeloop. Ek het hom jare tevore ontmoet toe hy een van my veldtogte bygewoon het, waar hy gehuil en gebid en uit die gebedskamer uitgeloop het met ware blydskap in sy hart. Maar nou het hy heeltemal verlore gelyk; Ek het nog nooit so ‘n hartseer gesig in my hele lewe gesien nie.

Die jongman het gesê, “Mnr. Wilkerson, ek weet nie waarheen om te gaan nie. Ek het geen blydskap nie en God lyk ver weg. Ek word versoek en ek is bang ek gaan afvallig word en my aanraking van God verloor. Ek loop in die strate met vrees en bewing!”

Ek het my hand op die jongman se skouer gesit en gesê, “Seun, dit is jou uur van beproewing. God toets jou om te sien wat in jou hart is. Sal jy dit bely, Sy vergifnis aanvaar en aanhou kom na die Lig? God het jou nie verlaat nie.”

Skielik het trane van sy wange afgestroom. Hy het gesê, “Jy bedoel, God is nie regtig kwaad vir my nie?” Nee, het ek geantwoord. Toe het hy vir my gevra, “Is my rusteloosheid en wanhoop die gevolg van een of ander verskriklike gewoonte in my lewe?” het ek gesê, “Jy moet dit beantwoord.” Hy het geantwoord, “Nee, ek dink nie so nie.”

Toe skielik het hy die lig gesien. Dit was nie God se skuld nie – dit was sy eie verwaarlosing van gebed en honger na die Woord! Op daardie oomblik, het die Gees van die Here begin om hoop aan hom te bedien, en hy het sy hande opgelig en die Here geprys: “Dra my deur, Here. Herstel my geloof!” Toe ek hom verlaat het, het hy God gedank omdat Hy hom teruggebring het na ‘n vaste toegewydheid. Die Heilige Gees het begin om weer deur hom te skyn.

Daar is ‘n evangelie lied wat sê, “Êrens in die skadu’s sal jy Jesus vind...” Daardie lied moes geskryf gewees het deur ‘n beproefde man van God.

Jy sien, die stryd wat ek beleef in my bediening, is nie in my huis nie; ek het ‘n liefdevolle vrou en wonderlike kinders. Ek het duisende vriende dwarsdeur die land wat my bediening waardeer; my stryd is nie daar nie. Ek het die Here nog nooit so liefgehad soos nou nie. Ek het God nog nooit meer begeer in my hele lewe nie.

Maar hoe meer ek bid, “God, gebruik my – open my oë dat ek U heerlikheid kan sien,” hoe meer kan ek beleef hoe die vyand se magte teen my opgestel word. Ek voel asof ek verpletter word soos Jesus was, en ek roep uit, “O God, ek kan dit nie verduur nie. Neem hierdie lydingsbeker weg!” Soos Dawid, wil ek sê, “Ag, had ek maar die vlerke soos ‘n duif, dan sou ek wegvlieg en wegbly” (Psalm 55:7).

Ek weet in wie ek glo.

Ek weet wat dit is om te bid vir die duisende dollars wat nodig is om hierdie bediening te onderhou – en dan te ontvang. Ek weet wat dit beteken om vir ‘n hele jaar te leef met Jesus wat my elke tree van die pad lei, Sy stem agter my wat sê, “David, dit is die weg.” Ek weet wat die beteken om ‘n potlood en papier uit te haal en vir God vrae te vra en Hy my antwoord.

Ek het al voor mense in die regering en stadsbeamptes gestaan en geprofeteer wat God vir my gegee het. Dan het ek onmiddellik omgedraai om nagte van diepe, donker verwarring te beleef toe ek nie geweet het watter kant toe om my te wend nie. Ek het vele foute gemaak wat my neergeslaan het in wanhoop en ek het uitgeroep, “O God, waar is U?”

Ek het na my gebedskamer gegaan vir drie of vier weke op ‘n slag en gesê, “God, ek moet U aanraak. Ek moet gebroke wees.” En ek het niks anders as my eie droefheid, koudheid van hart en die swaar stilte uit die hemel gevoel nie. Deur dit alles heen, het ek egter ervaar dat God aan die werk was. “Hou net vas,” het ek die Gees vir my hoor sê. “Gaan deur jou storm! ‘Wanneer teëstander aanstorm soos ‘n rivier, jaag die Gees van die Here hom op loop’” (Jesaja 59:19 NV).

Sommige van julle gaan deur die storm op hierdie oomblik. Jy weet waarvan ek praat as ek sê die hemel is soos koper. Jy is goed daarmee bekend om jou bed met trane te deurweek. Jy is jou lydingsbeker bedien, en het ‘n nag van verwarring en ‘n uur van isolasie verduur – afgesny deur almal wat jy ken en liefhet. Niemand kan daardie behoefte in jou hart aanraak nie!

‘n Vrou het eenkeer, nadat ek hierdie preek gelewer het na my gekom. Sy het gesê, “Mnr. Wilkerson, toe ek vanoggend kerk toe gekom het, was ek gelukkig en onbesorg. Maar toe jy begin praat van die beker van lyding en die uur van isolasie, het ek begin huil. Ek het besef dat ek net ‘n front voorgehou het. My man het my verlaat en my huis is onrustig. Ek moes dit alles wegsteek. Ek het dit as ‘n verskoning gebruik om weg te kruip. Maar ek weet nou – ek word oorstroom!”

Daardie vrou was gebroke voor die Here. Ek het vir haar gebid dat God haar geloof sterk sou hou, en sy het met ware blydskap van die Here in haar hart weggegaan.

Dierbare heilige, ek glo dat wanneer ‘n man of vrou van God gemaak word, sal vyandige magte teen hom kom met groot woede. Maar hy kan opstaan en sê, “Om hierdie rede ly ek ook hierdie dinge; maar ek skaam my nie, want ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot dié dag toe” (2 Timótheüs 1:12). Dit is die tyd om jou stand in te neem! Jy hoef nie te lag of te juig nie, omdat jy op die oomblik moontlik geen blydskap het nie. Jy mag dalk niks anders as onrus in jou siel hê nie.

Jare gelede het ek in die agterplaas gesit toe ek ‘n Sondag af gehad het. Ek was besig om my Bybel te lees en ‘n boodskap van die Here te kry. Ek het Sy Gees op ‘n magtige manier gevoel, en ek het Hom geprys. Omtrent op daardie oomblik, het ek oor die straat gekyk en gesien Gwen praat met ‘n buurvrou wat sy al vir ‘n geruime tyd probeer wen het vir die Here.

‘n Ander vrou was daar, en hulle wou hê Gwen moes saam met hulle om die blok ry om te kyk na ‘n sekere huis wat pas geverf is. Ek het gesien Gwen klim in die kar saam met hierdie onbekeerde vroue en skielik, in een oomblik, het ‘n gees oor my gekom – en dit was nie God se Gees nie!

“Sy moenie dit doen nie!” het ek gedink. “Die Bybel sê om weg te kom van die verlorerenes en afgesonderd te wees. Hoekom gaan sy saam met hulle?” Ek het in die huis ingestorm, ‘n stoel geskop en vir myself gesê, “Sy behoort van beter te weet!”

Gwen was ‘n halfuur weg, en hoe langer sy weg was, hoe kwater het ek geword. Toe sy uiteindelik by die deur inkom, was ek reg vir haar. “Gwendolyn Wilkerson, ek is ‘n man van God, en ek sal nie toelaat dat jy rondrits saam met goddelose vriendinne in hierdie buurt nie.”

Gwen was stomgeslaan. My stem het harder en harder geword soos ek gepraat het. Sy het begin huil, en skielik het ek gehoor wat uit my mond gekom het. Ek het gestop en gesê, “Liefling, jy weet dit is nie hoe ek is nie. Die stroom het gekom – die duiwel probeer my oorstroom! Gee my net asseblief ‘n halfuur. Ek moet nou dadelik by die Here uitkom!”

Ek het my studeerkamer binnegegaan en op my knieë gaan staan. Toe het ek berouvol gehuil, “O Here, ek was net besig om U te aanbid ‘n paar oomblikke gelede. Ek weet nie wat gebeur het nie, maar ek is oorstroom. Vergewe my!” Ek leef nie in sonde nie. Ek het in der waarheid in die salwing gebaai en die Here geprys. Ek kon dit nie verstaan nie!

Terwyl ek gebid het, het ek gevoel dat die vyand weer ingestroom en probeer het om my gees te verpletter. Daarom het ek gesê, “Ek pleit die reinigende bloed van Jesus,” en ek het die Here begin prys: “Halleluja, die Here God almagtig heers. Halleluja, die bose het gekom en kon my nie aanraak nie….’Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’” (2 Timótheüs 1:7). Hoe meer ek geprys het, hoe kwater het die duiwel geword.

Het die duiwel toe gewyk? Nee! Ek het glad nie ‘n heerlike oorwinning gesmaak nie. Ek kon steeds daardie neerdrukkende gees voel – maar ek het geweet God was steeds met my, omdat die Skrif sê, “Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid” (Psalm 29:10). Dit was asof die Here met my gepraat het, “Moenie ontsteld raak nie, moenie paniekerig raak nie. Jy hoef niks te doen nie. Gaan net deur die storm. Werp alle dinge aan My op.”

Ek het teruggegaan na Gwen toe en gesê, “Liefling, my gees het steeds nie bedaar nie, en dit sal waarskynlik nog ‘n rukkie wees. Maar vergewe my asseblief. Ek is jammer!” Ek het buitentoe gegaan en bietjie gaan stap. Die duiwel het geweet hy kon my nie ontstel nie – daarom het hy uiteindelik gewyk! Die vloed het verbygegaan en ek het die lof van God begin besing.

Dierbare heilige, weet jy waaroor hierdie vloedstroom gaan?

Miskien is daar iemand wat hier lees en tans deur ‘n vloedstroom gaan. Ek sal nie bid dat God jou verlos van jou lydingsbeker nie – maar ek sal bid dat jou geloof nie sal ophou nie, omdat Jesus dit vir Petrus gebid het (sien Lukas 22:32). Hy het geweet dat Petrus se beproewing God se manier was om sy geloof te versterk!

Gaan jy deur ‘n groot beproewing in jou lewe? Indien wel, bly in die Woord. Gaan na die Here en bring tyd in afsondering met Hom deur. Hou op om jou pad daardeur te probeer dink, en rus in Hom. Diegene wat na die Kruis gaan, moet deur Gétsemané gaan. Maar ná die geween en hartseer, kom blydskap in die môre.

Geliefde Christene vertel vir my hulle hartseer stories van verlore liefde, uitgerekte smarte en siektes. Dit klink dikwels asof hulle beproewinge nooit sal ophou nie. Dit lyk of hulle opgesluit is in hopelose situasies. Hulle beleef pyn, verwerping en baie min geluk. Of die gelukkige tye is so min, dat hulle die Here begin betwyfel: “Sal dit ooit ophou? Is ek bestem vir ‘n leeftyd van probleme?”

O, kosbare, geteisterde gelowige – God het jou nie vergeet nie. Hy vang al die trane wat jy al ooit gestort het in ‘n kruik op. Jy moet Hóm die blydskap en hoop van jou lewe maak. Jy moet toelaat dat Sy Gees jou verander, sodat omstandighede jou nie meer kan pla nie.

God doen Sy beste werk wanneer Hy ons verander. Op daardie manier, ongeag wat ook al kom, sal jy leer om te rus – saam met Hom in hemelse plekke. Onthou: jy is die voorwerp van Sy ontsaglike liefde!