Die Liggaam van Christus

Die apostel Paulus beveel ons, "Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik” (1 Korinthiërs 12:27). Dan sê hy iets meer spesifieks, “Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus” (1 Korinthiërs 12:12).

Paulus vertel vir ons in wese, “Kyk na jou eie liggaam. Jy het hande, voete, oë en ore. Jy is nie net ‘n geïsoleerde brein, wat los is van die ander lede nie. Wel, dit is dieselfde met Christus. Hy is nie net ‘n hoof nie. Hy het ‘n liggaam en ons is sy lede.”

Die apostel wys dit dan uit, “So is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar” (Romeine 12:5). Met ander woorde, ons is nie net aan ons hoof, Jesus, gekoppel nie. Ons is ook aan mekaar verbind. In werklikheid kan ons nie aan Hom verbind wees sonder om ook aan ons broers en susters in Christus verbind te wees nie.

Paulus slaan die spyker op sy kop as hy sê, “Die brood wat ons breek, is dit nie gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood” (1 Korinthiërs 10:16-17). Eenvoudig gestel, ons word almal deur dieselfde brood gevoed: Christus, die manna uit die hemel. “Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee” (Johannes 6:33).

Jesus het verklaar, “Ek is die brood van die lewe...Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het...So sal hy wat My eet, ook deur My lewe” (Johannes 6:35,51,57). Die beeld van brood is hier belangrik. Ons Here vertel vir ons, “As jy na My toe kom, sal jy gevoed word. Jy sal aan my verbind wees as ‘n lid van my liggaam. Daarom sal jy krag ontvang van die lewensvloei wat in My is.” Inderdaad, elke lid van sy liggaam ontvang krag van ‘n enkele bron: Christus, die hoof. Alles wat ons nodig het om ‘n oorwinnende lewe te lei, vloei na ons toe van Hom af.

Hierdie brood is wat ons onderskei as lede van sy liggaam. Ons word van die res van die mensdom afgeskei omdat ons eet van ‘n enkele brood: Jesus Christus. “Want ons het almal deel aan die een brood” (1 Korinthiërs 10:17).

Sommige Christene, wil egter nie verbind wees aan ander lede van die liggaam nie. Hulle het gemeenskap met Jesus, maar hulle skei hulleself doelbewus af van ander gelowiges. Hulle wil niks met die liggaam te doen hê nie, slegs met die hoof.

Maar ‘n liggaam kan nie net uit een lid bestaan nie. Kan jy jouself voorstel ‘n hoof met net ‘n arm wat daaruit groei? Christus se liggaam kan nie net uit ‘n hoof bestaan sonder enige ledemate of organe nie. Sy liggaam bestaan uit baie lede. Ons kan eenvoudig nie een wees met Christus sonder om ook een met sy liggaam te wees nie.

Jy sien, ons behoefte is nie net vir die hoof nie. Dit is vir die hele liggaam. Ons word saamgesnoer, nie net deur ons behoefte vir Jesus nie, maar ook deur ons behoefte vir mekaar. Paulus verklaar, “En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie” (1 Korinthiërs 12:21).

Let op die tweede helfte van hierdie vers. Selfs die hoof kan nie vir ‘n ander lid sê, “Ek het jou nie nodig nie.” Wat ‘n ongelooflike stelling. Paulus vertel in wese vir ons, “Christus sal nooit vir enige lid van sy liggaam sê, “Ek het jou nie nodig nie.” Ons hoof verbind Homself gewillig aan elkeen van ons. Hy sê immers ons almal is belangrik, selfs noodsaaklik, vir die funksionering van sy liggaam.

Dit is veral waar van lede wat dalk gebroke en hartseer is. Paulus beklemtoon, “Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk” (1 Korinthiërs 12:22). Die apostel voeg dan by, “En dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid” (1 Korinthiërs 12:23). Hy praat van diegene in Christus se liggaam wat ongesien, weggesteek en onbekend is. In God se oë, het hierdie lede groot eer. En hulle is absoluut noodsaaklik vir die werk van sy liggaam.

Hierdie gedeelte hou diepsinnige betekenis vir ons almal in. Paulus vertel vir ons, “Dit maak nie saak hoe swak jou selfbeeld mag wees nie. Jy mag dink dat jy nie opgewasse is om ‘n Christen te wees nie. Maar die Here self sê, “Ek het jou nodig. Jy is nie net ‘n belangrike lid van my liggaam nie. Jy is essensieël en noodsaaklik daarvoor om te kan funksioneer.”

Elkeen van Christus se gelykenisse bevat ‘n verborge waarheid van God. Hierdie verborgenheid is deur die Vader, Seun en Heilige Gees gedeel van voor die skepping af: “Ek sal my mond open deur gelykenisse: Ek sal uitspreek dinge wat verborge is was van die grondlegging van die wêreld af” (Matthéüs 13:35). Jesus getuig dat hierdie verborge waarhede net geopenbaar word aan diegene wat tyd neem om Hom te soek.

In Matthéüs 22 lees ons ‘n gelykenis wat ek glo baie van Christus se liggaam openbaar. Daarin skets God sy ewige doel met die oprigting van sy liggaam van gelowiges. Kortliks, Hy wil ‘n bruid vir sy Seun hê. Hierdie bruid moet aan Jesus verbind word, met Hom verenig word as een vlees, een liggaam. Christus sal haar lewe word, sowel as haar bron. Hy sal met haar verbind word en sy aan Hom.

Jesus begin die gelykenis deur te verklaar, “Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep” (Matthéüs 22:2-3). Die koning in hierdie gelykenis is duidelik God die Vader. En die Seun hier is Christus.

Hier sien ons die Vader wat die Heilige Gees uitstuur om ‘n bruid vir sy Seun te soek. Die bruid is natuurlik die kerk van Jesus Christus. En hierdie bruid word saamgestel uit baie lede. In werklikheid bestaan sy uit elke persoon wat die koning se uitnodiging aanvaar om na die bruilofsmaal te kom.

Jesus verklaar egter in die volgende vers, “En hulle wou nie kom nie” (Matthéüs 22:3). Hy praat hier van sy eie prediking aan die Jode. Christus het Israel gedring om Hom te ontvang, maar hulle het geweier. Die Skrif sê, “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Johannes 1:11).

So, die koning het weer ‘n keer probeer: “Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ‘n ander na sy handelsaak. En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak” (Matthéüs 22:4-6).

Nie net het die Jode Jesus doodgemaak nie, maar hulle het sy apostels wat Hom gevolg het, doodgemaak. Verder vertel Christus vir ons, “Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek” (Matthéüs 22:7). Jesus het hier profeties gespreek. Slegs dekades na sy dood, het Romeinse leërs in Jerusalem ingemarsjeer en die heilige stad vernietig. Vroeër in Israel se geskiedenis, het God die Assiriërs gebruik om sy mense te tugtig. Nou het Hy die Romeinse generaals Vespasianus en Titus gestuur om Jerusalem tot op die grond af te brand. So was Jesus se profesie vervul tot op die letter: “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat” (Matthéüs 23:38).

Die volgende gedeelte in die gelykenis bevat die hart van my boodskap oor Christus se liggaam. Jesus vertel vir ons, “Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword” (Matthéüs 22:8-10).

Sedert Gólgota, het die evangelie uitgegaan na die hele mensdom: Jood en heiden, slaaf en vry man, ryk en arm, goed en sleg eweseer. Dit is hoe “die bruilofsaal ...vol gaste geword” het (Matthéüs 22:10). Verstaan asseblief, hierdie toneel handel nie oor die bruilofsmaal van die Lam nie. Daardie feesmaal sal na die oordeel plaasvind. Nee, hierdie maal is ‘n verlowingsfees. En die gaste is diegene wat gehoor gegee het aan die oproep om Christus as Here te ontvang.

Dink daaraan. Volgens Jesus, bestaan hierdie bruid uit, “almal...wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies” (Matthéüs 22:10). So ‘n groep sluit in voorheen slegte mense: verslaafdes, alkoholiste, prostitute, moordenaars, dobbelaars en dwelmsmouse in. Dit sluit egter ook voorheen goeie mense in, diegene wat eens vertrou het op die geregtigheid van die vlees.

Nou het hulle almal verander. Hulle het hulle sondes bely en is skoon gewas deur Christus se bloed. Net soos menigtes elke week sing, getuig hulle, “Hy het my in die wyhuis ingebring, en sy vaandel oor my was die liefde (He brought me to his banqueting house, and his banner over me was love)” (Hooglied 2:4).

As Jesus sê die fees was “vol” gaste, is die Griekse woord wat Hy gebruik pletho. Dit beteken om te besiel, te vul, te beïnvloed. Met ander woorde, hierdie gaste verteenwoordig die gereinigde, verloste liggaam van Christus. Hulle is beïnvloed, besiel en gevul met God se Heilige Gees. En Hy het elkeen van hulle geklee in ‘n wit bruilofskleed.

Tipies, dink ons aan bruilofssfeeste, wat ‘n paar uur duur. In die Joodse kultuur van Jesus se tyd, kon sulke feeste tot sewe dae duur. Vir God is ‘n duisend jaar egter soos een dag. En in hierdie gelykenis, duur die fees wat ons hier sien sedert Gólgota. Dit duur al vir eeue voort. En dit sal nie eindig totdat die Bruidegom terugkeer nie.

Geliefde, besef jy wat dit beteken? Elke dag is jou troudag. As ‘n lid van Christus se liggaam, is jy deel van sy bruid. Dit beteken dat wanneer jy elke oggend opstaan, jy jou wit bruilofskleed moet aantrek. As dit gevlek of vuil word, moet jy dit na sy Woord bring om gewas te word. En jy moet jou trouring te alle tye dra. Dit dui op jou huwelikstatus, verseël deur die Heilige Gees. Laastens moet jy die brood van die hemel nuttig: Christus, die hemelse manna.

HIERDIE HUWELIKSFEES VIND ELKE DAG IN CHRISTUS SE LIGGAAM PLAAS. ‘N INDRINGER IS EGTER IN DIE BANKETSAAL ONTDEK.  Jesus vertel die gelykenis verder:

“En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matthéüs 22:11-13).

Wie is die man in die gelykenis? Duidelik is sy identiteit ‘n ernstige saak weens die aaklige lot wat hy ly. Sommige kommentators stel voor hierdie man verteenwoordig diegene wat na Christus toe kom in die vodde van hulle eie geregtigheid. Die beeld is van ‘n arm, misleide, verflenterde siel, wat deur sy selfvertroue veroordeel word.

Ek aanvaar nie hierdie interpretasie nie. Jy mag geskok wees as ek vir jou sê wie ek glo hierdie man is. Ek het ‘n leidraad gevind toe die koning hom as “Vriend” aangespreek het. Jesus het dieselfde woord gebruik toe Hy Judas aangespreek het voor Hy verloën is. Ek glo die koning in hierdie gelykenis gebruik die woord met groot veragting. Hy was immers op die punt om hierdie man na die hel te stuur.

In my opinie, is dit die man van sonde: Satan. Voor my geestesoog sien ek hom terwyl hy by die fees inparadeer en ‘n pragtige pers kleed van sy eie maak dra en nie die kleed wat voorgeskryf is nie. Hy is die toonbeeld van hoogmoed en trots.

Waarom was die man van sonde nie by die deur gekeer nie? Ek glo Sagaría gee vir ons die antwoord. Die profeet sê, “Daarna het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die HERE staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae. Toe sê die HERE aan die Satan: Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf” (Sagaría 3:1-2).

Josua, dui natuurlik op die hoëpriesterskap, diegene wat deur Jehova gered is. Vir gelowiges vandag, verteenwoordig die liggaam van Christus God se koninklike priesterskap. In Sagaría se visioen, het Satan langs Josua gestaan om “hom aan te klae.” Die woorde vir aan te klae hier, beteken om aan te val en te beskuldig.

Ek moet bely, ek weet nie waarom Satan toegelaat word om God se mense aan te val en aan te beskuldig nie. Maar ek weet wat van ons vyand gaan word: “Want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag” (Openbaring 12:10). Eendag, gaan die Here die duiwel bind en hom in ‘n ewige tronk werp.

Maar dit het nog nie gebeur nie. In die tussentyd weet Satan sy tyd is kort. Daarom kom hy teen die liggaam van Christus met groter woede. Inderdaad, sy aanvalle word geken deur ‘n onversaagdheid en astrantheid soos nog nooit tevore nie. Waarom? Hy weet die grootste bedreiging vir hom is ‘n liggaam van bloed-gereinigde gelowiges wat in eenheid wandel. En in hierdie laaste dae, het die Heilige Gees ‘n wonderlike werk gedoen om heiliges reg deur die wêreld op te rig en saam te snoer.

Hierdie toegewyde dienaars staan saam as een liggaam. Hulle het mekaar lief, bid vir mekaar en bedien die gewondes en moedeloses onder hulle. En hulle staan ook saam in oorlogvoering. Hulle stry met die vyand, bind sy koningkryk, dryf owerhede uit en neem gesag oor die magte van die hel.

Ons sien hierdie laaste dag leër in Jesus se gelykenis beliggaam by die bruilofsfees. Hierdie bloed-gereinigde krygsmanne kom byeen aan Christus se bankettafel, waar hulle sterk word deur sy brood te eet. En hulle het een doel: om ten volle voorbereid te wees om die Bruidegom tegemoet te gaan wanneer hy kom.

Ons sou glad nie verbaas wees as Satan God se huis ongenooid binnegaan nie. Dit is sy laaste kans om Christus se groeiende, volwasse-wordende liggaam, te probeer opbreek. So, hy kom die bruilofsfees verwoed binne en probeer almal, wat hy kan, te vernietig. En hy is oortuig die beste manier om dit te doen, is om God se uitverkorenes te probeer mislei.

Hoe doen die duiwel dit? Hy doen dit wat hy nog altyd gedoen het sedert Gólgota: hy lieg vir jou. Hy beskuldig jou. Hy besmet jou met twyfel en vrese in jou gedagtes. Ek stel my voor hoe hierdie pers getooide figuur van tafel tot tafel gaan en elke gas probeer mislei. Hy plant twyfel en vrees in hulle binneste, beskuldig hulle subtiel en probeer hulle wit klede steel.

Ek glo ons vind die sleutel tot Satan se strategie in Génesis 3. Die duiwel het pas daarin geslaag om Eva te versoek. Nou het God vir hom vertel, “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal Hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15).

Die vrou se saad waarna hier verwys word, is Jesus. Met ander woorde, die Messias sou uit die mensdom voortkom. En God het van sy seëvierende werk aan die kruis geprofeteer. By Gólgota, sou Christus sy voet op Satan se kop sit en hom vermorsel.

Tog het die Here ook geprofeteer dat Satan Christus in die hakskeen sou byt. Wat beteken dit presies? As lede van Jesus se liggaam, is ons sy saad. Dit is duidelik dat sommige van sy saad die hakskeen van Christus se liggaam uitmaak. Na wie word hier verwys?

Daar word ‘n paar leidrade aan ons gegee. Eerstens, die hakskeen is deel van die voet. Ons weet die hoofrol van die voet is om te staan of te loop. Daarom glo ek die voet in Christus se liggaam bestaan uit diegene wat hulle stand vir Jesus inneem. Hierdie lede is ook verantwoordelik om agter die Heilige Gees se leiding aan te loop. Let op dat hierdie werke ondersteunende rolle is. Hulle is meestal verborge en ongesien, terwyl ander dele van die liggaam sigbaar is. In hierdie verband, is die voete ‘n voorbeeld vir die ander lede van Christus se liggaam.

Die voet is egter ook een van die mees sensitiewe dele van die liggaam. Dit word meeste van die tyd bedek vir beskerming. In hierdie verband, word die betekenis van “byt” treffend. Dit beteken om te kul, of lê en wag om te pootjie. Eenvoudig gestel, ek glo Satan teiken daardie lede van Christus se liggaam wat sensitief is en maklik verwond word.

Jy ken waarskynlik sulke Christene. Hulle het Jesus lief met hulle hele hart. Maar dikwels dink hulle hulle voldoen nie aan wat van hulle verwag word nie. Hulle is desperaat om God te behaag, maar hulle is oortuig dat hulle dit nooit doen nie. Hulle twyfel nie in Hom nie, maar in hulleself. En hulle beland dikwels onder veroordeling, voel onwaardig, ongeliefd en ongebruik.

Die duiwel weet dit van hulle, omdat sy owerhede hulle lewens dopgehou het. So nou, terwyl Satan die Koning se banketsaal betree, is hy slaggereed om aan te val. Hy maak sy rondtes, fluister beskuldigings in hulle ore. Sy doel? Om hierdie tenger heiliges te oortuig om op te gee. Hy wil sien dat hulle hul wit klere afgooi en die banketsaal in die uiterste wanhoop verlaat.

Ek moet vir jou vra: was Satan al by jou tafel? Het jy ‘n stem gehoor fluister:

  • “Jy lyk rein en heilig. Maar jou hart is swart van sonde. Jy gaan God faal. Jy is ‘n hopelose skynheilige.”
  • “Ander Christene respekteer jou nie, want jy is nie begaafd nie. Jy word as vanselfsprekend aanvaar. Niemand het jou lief nie.”
  • "Daardie ou sonde van jou gaan jou inhaal. Jy gaan God en sy mense in die skande bring. En jou goeie naam gaan in verwoesting eindig."
  • “Jy kan vergeet van al daardie beloftes waaroor jy dink God met jou gepraat het. Ek het jou geflous. Dit was my stem wat jy in jou oor gehoor het.”
  • “God is kwaad vir jou. Dit is waarom jou gebede nie beantwoord word nie. Jy het te gereeld gesondig.”
  • "Jy is op die punt om jou werk te verloor. Jy gaan op die ou end in algehele armoede beland.”
  • "Jy gaan dit nie maak nie. Voor alles verby is, sal jy val.”

Nag en dag hoor jy hierdie beskuldigings. Ek sê vir jou, Satan wil jou net van die bankettafel af wegkry. Dan kan hy jou ontneem van Christus se voedsel en jou van die honger laat sterf. Hy wil jou isoleer, sodat hy jou gees kan vergiftig. Hy probeer jou oortuig, “Jy is net nie goed genoeg nie. Wat is die nut daarvan om voort te gaan? Jy sal nooit ‘n lid van Christus se heilige liggaam wees nie.” Satan weet in der waarheid sy grootste vyand is ‘n verenigde liggaam van gelowiges. Hy is bewus van Jesus se belofte dat wanneer daar ook al twee of drie in sy Naam saam is, die Vader met blydskap hulle versoeke sal toestaan. Dit is waarom hy vasbeslote is om ons een vir een uit die weg te ruim.

Uiteindelik konfronteer die koning die man en vra, “Hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed?” Hy sê in wese, “Wat dink jy doen jy hier om my mense te teister? Het jy gedink Ek sal jou nie sien nie? Het jy geglo Ek sou nie met jou afreken nie?”

Van die heel eerste leuen, wat Satan vir jou gefluister het, het God elke aksie van hom raakgesien. En Hy het werk daarvan gemaak om die duiwel se leuens stil te maak. Die Skrif sê die koning het die onwelkome man sprakeloos gelaat (sien Matthéüs 22:12). God het in wese gesê, “Geen verdere beskuldigings word in my banketsaal toegelaat nie, Satan. Geen verdere leuens aan my mense nie.” Toe het die koning sy dienaars beveel, “Bind hom vas en werp hom uit in die duisternis.”

Uiteindelik het die gelykenis geëindig met die woorde van die koning: “Want baie is geroep, maar min uitverkies” (Matthéüs 22:14). Ek stel myself voor dat God oor daardie banketsaal kyk en verklaar, “Vir baie jare het ek uitgeroep na Israel deur my apostels. Maar hulle het geweier om te luister. Nou het hierdie gaste hier in my huis op my oproep gereageer. Ek sê vir julle, hulle is uitverkies. En Ek sal nie toelaat dat Satan enigeen van hulle van my liggaam afsny nie.”

Ons weet dat die duiwel nie nog nie in sy ewige tronk gewerp is nie. Terwyl ons egter by die bankettafel sit en wag vir die Bruidegom om te kom, word ‘n opdrag aan ons gegee. Die Koning het ons vertel om die duiwel te bind en hom uit die banketsaal uit te werp. Kortliks, ons moet opstaan en ernstige aksie neem teen Satan se aanvalle op Christus se liggaam.

Dit is verstommend dat hierdie beeld deur baie Christene geïgnoreer word. Wanneer ons ook al ‘n tenger gelowige in pyn sien, dink ons, “Ek sal vir hom vertroosting bied. Ek wil ‘n oor wees wat luister.” Of, “Ek kan een of ander ondersteuning bied. Ek sal vir hom ‘n ete bring of finansiële hulp aanbied.” Dit is inderdaad dade van goddelike liefde. Maar dikwels is dit nie genoeg nie.

As ons weet Satan spreek leuens in iemand se lewe in, word van ons verwag om meer te doen as om bloot te luister of raad aan te bied. Ons moet ander gelowiges saamroep en outoriteit oor die vyand neem. Jesus vertel vir ons dat sommige soorte van demoniese verdrukking “gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie” (Matthéüs 17:21). Daarom moet ons met vas en gebed die duiwel bind. En ons moet hom uitwerp uit ons mede gelowiges se gedagtes, siel en omstandighede.

Ek het al vir baie ure probeer om terneergedrukte gelowiges raad te gee om uit hulle probleme te kom. Meer en meer het ek egter besef die duiwel staan oor hulle en oortuig hulle van sy leuens. Nou, wanneer ek die duiwel sien werk met nog ‘n sensitiewe heilige, rys daar ‘n heilige woede in my op. En ek besef ek moet doen wat elke ware bedienaar van die ligaam geroep is om te doen: bind Satan hand en voet in Jesus se naam en werp hom uit in die duisternis.

Leef jy onder ‘n wolk van wanhoop? Ken jy ‘n broer of ‘n suster wat terneergedruk is en luister na Satan se beskuldigings? Ek dring by jou aan, soek biddende gelowiges in Christus se liggaam uit. En laat hulle die vyand se leuens uitwys vir wat dit is.

Die Skrif sê, dat as een van ons ly, ly ons almal. Dit is waarom dit absoluut noodsaaklik is dat ons ter wille van mekaar in Jesus se naam bymekaarkom. Ons moet ons beroep op Verlosser se gesag, die vyand bind en hom uit mekaar se lewens uitwerp. Dan sal ons in staat wees om elke gedagte gevange te neem tot gehoorsaamheid aan Christus. Dit is waarlik die werk van Christus se liggaam.