Die Laaste Herlewing

David Wilkerson

Die Nuwe Testament kerk was gebore in ‘n gloed van glorie. Die Heilige Gees het daarop neergedaal met vuur, en die eerste Christene het in tale gepraat en geprofeteer. Hulle het die deurdringende oortuiging van sonde beleef, en menigtes het hulle bekeer. Hulle het links en regs uitgebreek en het grootliks vermeerder. Die vrees van God het op hulle geval en ook op almal wat hulle gesien het. Daar was tekens, wonders en wonderwerke. Die dooies was opgewek. Vreeslose evangeliste het oral heen gegaan en die Woord verkondig. Tronke kon hulle nie binne hou nie. Storms kon hulle nie verdrink nie. Toe hulle besittings op beslag gelê is, het hulle aangehou juig. Toe hulle gestenig, gehang, verbrand of gekruisig was, het hulle singende gesterf en God geprys. Dit was ‘n triomfantlike kerk, vreesloos teenoor Satan, oneerbiedig teenoor afgode, onwrikbaar deur plae of vervolging. Dit was ‘n bloedgewaste kerk, wat in oorwinning geleef en gesterf het.

Hoe gaan die laaste-uur kerk wees? Hoe sal die kerk sy laaste uur uitgaan? Sal dit uitgaan as ‘n vet, voorspoedige, selfdienende kerk, terwyl lede getel word en almal se goedkeuring nagejaag word? Sal dit slegs ‘n handjievol ware gelowiges wees wat volhard, en kyk hoe dood en afvalligheid vreet soos ‘n kanker? Sal die laaste dag kerk in angs en vrees lewe soos VIGS en ander plae die massas doodmaak? Sal minder en minder die wêreld oorwin? Sal koudheid en afvalligheid dit swak, bespotlik en kragteloos laat? Sal die kerk hierdie eeu uitgaan vol skynheiligheid, met groot lofprysing, aanbidding en gebedsbyeenkomste waar onrein hande en onrein harte vreemde vuur offer?

Daar sal sekerlik ‘n groot afvalligheid of geloofsversaking wees. Daar sal oral geestelike hoerery wees. Omdat sonde toeneem, sal die liefde van baie verkoel. Daar sal verleiers kom en leerstellings van duiwels verkondig. Mense sal in die gehoor gestreel wil wees en sal saamdrom om sagte preke te hoor. Verleidings sal so erg word dat selfs die uitverkorenes ernstig getoets sal word.

Maar die kerk van Jesus Christus sal nie kreupel of met ‘n gekreun uitgaan nie. Dit sal seëvierend, met onuitspreeklike blydskap, op die rivier van vrede uitgaan. Dit sal uitgaan in vryheid van alle slawerny, met sy voet op Satan se nek. En elke lid van hierdie ware kerk sal leef en sterf sonder vrees. Die verleier se mag sal gebreek wees. Christene sal heilig wees en sal afgode afbreek. Hulle sal net so sterk in die Here wees as die eerste Christene.

Sal daar ‘n groot insameling wees voor Jesus kom? Kan ons verwag om een laaste magtige uitstorting van die Gees, groter as enige in die geskiedenis, te sien? Word daar nie gesê slegs ‘n oorblyfsel sal saam met Christus gaan nie? Het Joël nie geprofeteer “onder die vrygeraaktes [oorblyfsel] die wat die HERE sal roep” nie? Is dit nie waar dat huidiglik slegs ‘n klein oorblyfsel van heiligheid wil hoor nie? Ons moet verstaan wat bedoel word met “’n oorblyfsel.” Dit is waar dat dit slegs ‘n klein persentasie sal wees in vergelyking met die biljoene mense op aarde. Maar selfs 10% van New York Stad sou meer as een miljoen oorwinnaars wees. Die oorblyfsel beteken ook “dit wat oorbly van die oorspronklike.” Diegene wat naaldwerk doen, verstaan dat ‘n oorblyfsel ‘n stuk van die oorspronklike kleed is. ‘n Oorblyfsel kerk is een wat dieselfde karakter het as die oorspronklike Nuwe Testament kerk.

‘n Groot herlewing van geregtigheid kom

Ek wil ‘n stelling maak met die grooste geestelike gesag moontlik; ek maak dit gebaseer op ‘n verbond so seker as die een wat met Noag gemaak is. Daar sal ‘n laaste, middernaguur herlewing wees, een wat oral sal uitbreek. Sion sal in barensnood wees en baie, baie kinders sal aan haar gegee word. Daar sal groot gesing en gejubel wees, en Sion sal sê, “Waarvandaan het almal gekom?” Dit sal ‘n herlewing van geregtigheid wees.

Vir jare al hoor ek ou predikers praat van ‘n laaste herlewing. Een dierbare vriend verkondig dit nou al meer as 60 jaar lank. Nou bid die jong predikers vir herlewing; hulle wil God sien werk in hierdie dag, nie net daarvan in boeke lees nie. Dit is nie genoeg om bloot te preek oor vorige herlewings nie. Waarom bid, waarom herlewing soek, as dit nie in die Bybel belowe word nie? As die Bybel sê daar is nie meer hoop vir ons nie, laat ons dan slegs evangeliseer en preek, en nie té begaan wees oor resultate nie. Maar, as herlewing wel belowe word, moet Christene dit beleef, dit in besit neem, bid met geloof en die wete dat God belowe het om dit te doen. Is dit in die Woord? Die belofte word gevind in Jesaja 54. Dit is een van die belangrikste hoofstukke in God se Woord vir hierdie geslag. Ons word duidelik hier vertel wat God beplan om te doen met Sy kerk, Sy kinders, in die laaste dae. Hierdie hoofstuk profeteer wat gaan gebeur in Times Square Kerk, sowel as oral waar daar honger harte is. Dit sal gebeur in Rusland, in China, in elke land, elke eiland in die see, van die Noordpool tot die Suide.

Die kerk gaan ‘n onverdiende uitstorting van liefde, barmhartigheid en goedertierenheid beleef. Dit gaan kom in ‘n tyd van groot verdrukking, met ‘n storm wat woed, met angs oral, wanneer die samelewing rongeslinger word. God sweer Hy gaan Homself openbaar in groot goedertierenheid: “Maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser...my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer” (Jesaja 54:8-10). Wat God vir die kerk sê, sê Hy ook vir individuele gelowiges. God praat met die “...ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste” (Jesajaj 54:11). Is dit jy? Beleef jy ‘n ernstige, geweldige versteuring? Ja, dit sluit in die ekonomie. Dit sluit ook die ontstellende wêreldsituasie in.

God sal ‘n seëvierende volk hê

Maar God se grootste besorgheid is vir diegene wat te enige tyd op ‘n stadium Sy geliefde was, selfs afvalliges en diegene oorwin deur ‘n skielike geweldige storm van versoeking. Sy belofte is vir diegene wat tans deur groot verdrukking gaan, deur ‘n storm gejaag, troosteloos, hopeloos, hulpeloos en verlore is. God gaan ‘n afvallige, verlate volk weer bearbei om terug te kom na Hom toe. “Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser, Hy sal die God van die Hele aarde genoem word. Want soos ‘n verlate vrou en ‘n bedroefde van gees het die HERE jou geroep, en soos ‘n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God. Vir ‘n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader. In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser” (Jesaja 54:5-8).

Sommige sou redeneer dat dit verwys na die Jode, na Israel in die vlees. Maar die Woord sê anders, want Paulus noem hierdie hoofstuk ‘n allegorie of simboliese verteenwoordiging (Galásiërs 4:2-31). Dit gaan oor Jerusalem wat daarbo is. As hierdie beloftes vir die Jode was, was dit nooit vervul nie. Ongeveer 42,000 Israeliete het uit Babiloniese ballingskap gekom en hulle het vermeerder tot omtrent drie miljoen teen Christus se tyd. Hulle het nie soos belowe is in Jesaja 54:3 “regs en links uit[ge]breek” nie. Dit is ‘n profesie oor die laaste dag kerk – ‘n kerk wat Hy vir ‘n oomblik verlaat het.

Wie is dit wat Hy hier Hy versmaad en vir ‘n oomblik verlaat het? Van wie het Hy Sy aangesig verberg in toorn? Jy kan seker wees God sou nie sonder rede Homself verberg nie. Wat sou Hom Sy aangesig laat bedek? “Maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jesaja 59:2). God het die hedendaagse gekompromitteerde kerk verlaat, maar Hy moes Sy aangesig verberg. Sy het Hom, haar geliefde, verlaat. “So sê die Here: Waar is tog die skeibrief...waarmee Ek haar verstoot het? Of wie is daar van my skuldeisers aan wie Ek julle verkoop het? Kyk, weens jul ongeregtighede is julle verkoop, en weens jul oortredinge is julle moeder verstoot” (Jesaja 50:1).

God het in wese gesê, “Jy het My verlaat. Jy het ander minnaars gehad. Jy het owerspel bedryf. Ek het jou nie verlaat nie – jy het My verlaat! Ek moes jou versmaad omdat jy jouself aan hoerery verkoop het.” Die kerk het na Babilon weggeloop, maar sy is nog nie geskei nie. Want God sê, “Wys vir My die skeibrief! Wys vir My die koopkontrak waar Ek jou aan die duiwel verkoop het!” God sê in wese, “Ons woon nie saam nie, maar die egskeiding is nie finaal nie. Die huwelik is nie hopeloos nie. Ek het jou steeds lief! Jy het My verlaat, maar tog het Ek jou herhaaldelik geroep, maar jy het geweier om te luister.” “Waarom het Ek gekom en daar was niemand nie, het Ek geroep en niemand geantwoord nie?” (Jesaja 50:2).

Teenoor hierdie hoer, sonde-besoedelde, afvallige, rondlopende vrou, het God gesweer, “Ek gaan jou terugroep.” “Want so sê die HERE: Vir niks is julle verkoop, julle sal ook sonder geld gelos word” (Jesaja 52:3). En weer, “Want soos ‘n verlate vrou en ‘n bedroefde van gees het die HERE jou geroep...” (Jesaja 54:6). Daar is nou reeds die geklank van sy laaste terugroep: “...met groot ontferminge sal Ek jou vergader” (Jesaja 54:7).

Talle sondaars sal gered word

Eerstens, sal Hy die goddeloses roep wat Hom nooit geken het nie. “Kyk, Ek het Hom tot ‘n getuie van die volke gemaak, tot ‘n vors en ‘n gebieder van die nasies. Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou hardloop, ter wille van die HERE jou God en van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het. Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldig” (Jesaja 55:4-7).

Dit het in die Nuwe Tesament kerk gebeur toe die heidene na Christus gekom het. Die heidene het die lig gesien en gereageer. Maar weereens, in die laaste herlewing van barmhartigheid en goedertierenheid, sal die goddeloses hoor. Menigtes sal hulle tot Hom bekeer. Hulle sal hulle goddelose weë verlaat en die Here aanroep. Diegene wat Hom weier, sal laster en gewelddadig word.

Tweedens, gaan Hy vertroosting, genesing en herstel bied aan almal wat Hom verlaat het. “Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges” (Jesaja 57:18). Hoe verheug moes Jesaja gewees het om hierdie boodskap te bring. Onthou, sy sending was om “Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hulle ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie” (Jesaja 6:10). God sê in wese, “Om My eie Naam onthalwe, sal Ek hierdie verdorwe bruid vergewe en haar terugroep.”

“Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie” (Jesaja 43:25). Dink aan die miljoene afvallige Christene wêreldwyd. In ons straatbyeenkomste is helfte van die bekeerlinge afvalliges, diegene wat God verlaat het. So is dit in Times Square Kerk. Wat ‘n herlewing sal dit wees as menigtes van afvallige Christene terugkom! Afvallige predikers sal terugbearbei word en hulle sal die heiliges van Sion word. Kinders, verslaaf aan dwelms, alkohol, seks, twyfel, en vrees, sal Sy oproep hoor en menigtes sal hulle bekeer. Verslaafdes, alkoholiste, prostitute, homoseksuele, VIGS slagoffers, en die afvallige behoeftiges sal deur Hom geroep word.

Sal sy uitstorting van barmhartigheid sonde oorsien? Nooit. Diegene wat God verlaat het, is diegene wat eens die Heilige Gees gesmaak het. Hulle het Hom eens geken. Die Here sal die Heilige Gees, Sy boodskapper, met ‘n woord van liefde stuur, en hulle tot herinnering roep. Hy sal die Heilige Gees stuur om al Sy liefdevolle woorde en hoe lieflik hulle verhouding eens was tot hulle gedagtes te bring, om hulle daaraan te herinner hoe Hy hulle eens beskerm, liefgehad, en geseën het. “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind...” (Sagaria 12:10-11).

Die Kerk is die huis van Dawid, en Christene is die Jerusalem van daarbo. Dink daaraan! God het belowe om die Gees van genade en gebed oor ons uit te stort. Talle sal oor Hom rouklaag (insluitende Jode) as hulle sien hoe hulle sondes Hom openlik tot skande gemaak het, en Hom weer gekruisig het. Hulle sal bitterheid en geween beleef. Dit verwys na die bediening van die komende Christus oor wie Sagaria geprofeteer het, maar ook na die Gees van God wat in die laaste uur na Sy kerk gestuur sal word om ‘n groot rouklaag van sonde en herlewing van bekering teweeg te bring. Ons kan sterk, kragtige boodskappe oor sonde verkondig; ons kan die basuin blaas en die mense waarsku, maar slegs ‘n soewereine werk van die Heilige Gees kan ‘n geween en rouklaag oor sonde veroorsaak. En Hy het belowe om presies dit te doen.

‘n Kinderlose kerk sal ween en baie kinders voortbring

“Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die HERE. Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in. Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem en vewoeste stede bevolk” (Jesaja 54:1-3). Sommige sou redeneer dat hierdie laaste dag kerk nie kinderloos is nie. Hulle sou wys na al die superkerke, al die bedienings, en die baie menigtes wat godsdienstige seminare, konferensies, en die konserte bywoon en wat geestelike boeke, bandopnames en video’s verslind. Maar wat God geestelike kinders noem en wat die kerk kinders noem, is twee heeltemal verskillende dinge. Terwyl die kerk gefokus is op groei in getalle en invloed en sukses, roep Paulus uit, “My kinders vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry” (Galásiërs 4:19). Paulus sou sê, “Moenie vir my sê hoeveel jou kerk bywoon nie. Moenie vir my sê hoeveel jou funksies bywoon nie, hoeveel literatuur jy versprei nie, hoeveel Bybels jy uitstuur nie, hoeveel keer jy op straat getuig nie – vertel vir my hoeveel word gevorm in die gelykenis van Christus! Hoeveel gaan verder tot by reinheid?”

Amos het geprofeteer teenoor ‘n volk van God wat Hom aanbid het met sonde in hulle harte, “Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie. Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie. Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos  ‘n standhoudende stroom” (Amos 5:21-24). En Jesaja, wat God se Woord gespreek het, het gesê, “...gruwelike reukwerk is dit vir My... die uitroep van samekomste – Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie...julle feestye haat my siel; hulle is vir My ‘n oorlas. Ek is moeg om dit te dra. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie...Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen” (Jesaja 1:13-16).

Sommige roem daarin dat ons in herlewing is, dat die voorspoedsboodskap wat ouditoriums volmaak, God se Woord is, dat talle geestelike kinders gebore word. Ek glo God sal ná die afgelope 20 jaar kyk as ‘n hongersnood van die Woord, as jare wat die sprinkaan opgeëet het, jare van selfsug, jare waarin vreemdelinge verhef word in God se huis, jare van duiwelse musiek, trotse predikers, geldmalheid, eie koninkryk bouery, jare van lighartigheid. “Hulle het troueloos gehandel teen die Here, want hulle het onegte kinders verwek...” (Hoséa 5:7). “Nogtans het ek jou geplant as ‘n edele wingerdstok, as ‘n heeltemal egte saad; maar hoe is jy vir my verander in wilde lote van ‘n vreemde wingerdstok?” (Jeremia 2:21).

Talle Christene het kinderloos geword van in ‘n kinderlose kerk te sit en luister na ‘n kinderlose herder met geen salwing van God nie. In die proses het hulle geestelik verhonger, met geen geestelike gesag nie. Families het gely; kinders het afvallig geword; huwelike het opgebreek. Of anders, het hulle na ‘n kerk gegaan waar baie Ismaels gebore was. Ismael staan vir die vlees. Hoewel Abraham gebid het, “Ag mag Ismael lewe voor u aangesig” het God gesê, “...Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie” (Galásiërs 4:30). Daar word baie Ismaels gebore in kerke vandag – Christene gebonde deur die vlees, wat daarop aanspraak maak dat hulle erfgename van geregtigheid is.

God gaan Sy vrou reinig, genees en omhels en die kerk ware Isakke, kinders na Sy hart, gee. “Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die Here” (Jesaja 54:1). God praat nie bloot van skares verander, die huise van Ismael leegmaak, en die skares aan die regverdiges gee nie. Dit gaan baie dieper as skares, getalle, en sukses. God gaan tel, nie die mens nie. “Sal Ek rein kan wees by ‘n valse weegskaal en by ‘n sak vol bedrieglike gewigte?” (Miga 6:11). “Die HERE sal tel as Hy die volke opskrywe: Hierdie een is daar gebore” (Psalm 87:6). Jy kan kyk na enige groot byeenkoms van Christene – daar mag duisende wees, en hulle kan almal God prys met opgehefte hande en hardop Sy lof besing, maar God doen die telwerk. Hy weet wie Heilig is. Hy weet wie treur oor sonde. Hy mag dalk slegs ‘n paar, gebore in Sion, daar hê. God word nie beïndruk deur skares nie, want rock-musikante trek die meeste.

Maar God belowe dat heilige Sion geboorte gaan gee aan meer kinders as die huis van Ismael. Dit is Sy waterdigte belofte van ’n groot insameling. “Maak...wyd...Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in. Want jy sal regs en links uitbreek...” (Jesaja 54:2-3). God gaan die skande en smaad van Sy kerk wegneem. “Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; en vrees geen skande nie, want jy sal nie nodig hê om te bloos nie; maar jy sal die skande van jou jonkheid vergeet en aan die smaad van jou weduweeskap nie meer dink nie” (Jesaja 54:4). Wat is hierdie skande en smaad? Dit is die gebrek aan geestelike gesag oor die magte van Satan. Toe hy omring was deur die goddelose Assiriërs, het Hiskia gesê, “...Vandag is ‘n dag van benoudheid en straf en lastering: want die kinders het tot by die geboorte gekom, maar daar is geen krag om te baar nie” (Jesaja 37:3). Daar het die vyand gestaan en smaad op die Israeliete uitgestort, hulle swakhede bespot en hulle God gelaster. Dit is ‘n tipe van wat ons sien in ons Christelike werk – geboortepyne, maar geen geboorte nie. Dit lyk asof die duiwel elke poging bespot. Die kerk word getart en uitgelag oor sy swakheid. Hoeveel Christene weet wat dit beteken om amper seëvierend te wees, amper altyd ‘n oorwinnaar? En Satan lag. Maar God belowe, “Ek sal daardie smaad verwyder. Jy sal baar. ‘n Leër sal uit jou baarmoeder voortkom. ‘n Seëvierende leër.”

Die smaad van die kerk is die magteloosheid voor vyandige reuse. Dawid het gevra, “...Wat sal met die man gebeur wat hierdie Filistyn verslaan en die smaad van Israel wegneem? Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?” (1 Samuel 17:26). Dit was ‘n skande om vasgekeer en bang gemaak te word deur die vyand. Dit was ‘n skande en ‘n bestraffing om te sien hoe God se volk in vrees bewe. Maar God het belowe om kinders voort te bring sonder hierdie skande en smaad oor hulle. Hulle sal hulle Goliats verslaan. Hulle sal Sy Naam eer en verheerlik. Geen skande van wegkruip of vlug nie.

Hierdie kinders word slegs gebore uit die geheiligde baarmoeder van ‘n getroue, liefdevolle, intieme vrou. Hierdie vrou het teruggekom omdat sy bedroef was in gees, verlate, eensaam, smagtend om terug te wees by haar Here. Nou is sy bevestig in geregtigheid (Jesaja 54:13-14). Daar is geen valse leerstelling in hierdie kerk nie, ook nie vrees nie. Maar daar is ‘n groot vrede en vertroue in die aangesig van verskrikking oral rond.

Hierdie laaste herlewing het gekom omdat God besorgd is oor Sy eie Naam. Hy sal Sy Naam voor die hele wêreld heilig. Laat my met jou ‘n groot profesie van Esegiël deel. “Toe het dit My ter harte gegaan om my heilige Naam ontwil wat die huis van Israel ontheilig het onder die nasies waar hulle gekom het. Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het. En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat ek die HERE is, spreek die Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken” (Eségiël 36:21-25).

Ek glo God het steeds ‘n verbondstoekoms vir die Jode. Maar die profete het ons dag gesien en al hierdie profesië het ‘n dubbele toepassing. ‘n Onverdiende herlewing van heiligheid – een laaste insameling van ‘n rein oorblyfsel – vind reeds plaas. Dit is omdat God besluit het om die eeue af te sluit met ‘n magtige verheffing van Sy Naam. Wat ‘n tentoonstelling van mag sal dit wees!