Die Laaste Herlewing

Wat lê voor vir die kerk van Jesus Christus? Hierdie vraag is van groot belang vir gelowiges wêreldwyd. Soos rampspoedige gebeurtenisse regoor die aarde plaasvind, mag baie mense wonder, “Gaan die Heilige Gees die kerk opwek voor Jesus terugkom? Sal Christus se liggaam hierdie wêreld verlaat met ‘n kreun of met ‘n roepstem?”

Die Nuwe Testament is vol voorspellings van laaste-dag afvalligheid. Valse profete sal opstaan en baie mislei. Wolwe sal in skaapsklere kom en kragtige misleiding bring om “indien moontlik, selfs die uitverkorenes van God mislei.” Goddeloosheid sal hoogty vier en veroorsaak dat eens warm gelowiges hulle eerste liefde sal verloor. Met die vloedgolf van ongeregtigheid wat kom, sal die liefde van baie verkoel.

Jesus het van hierdie dinge geprofeteer. En sy waarskuwings was bedoel om ons geloof uit te daag. Soos oorweldigende ongeregtigheid die aarde bedek, vra Hy: “Maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind” (Lukas 18:8).

Dink daaraan: Christus het alles geweet wat ons vandag sien gebeur, van verskriklike skietery in die skole, die opstaan van militante homoseksualiteit, tot terroriste dade wat regdeur die wêreld plaasvind. Te midde van al hierdie dinge, vra Hy vir ons, “Sal julle aanhou glo, al word dinge erger? Sal jou vertroue verflou wanneer dinge nie gebeur soos wat jy gedink het dit sal nie? Of sal jy aanhou om op My te vertrou?”

Jy sien, ten spyte van die toename in ongeregtigheid en groot verdrukking, het Jesus geweet dat daar ‘n groot laaste-dag herlewing sal wees. Die Heilige Gees het Jesaja se profesieë geïnspireer en Hy was ten volle bewus van die voorspelling van ‘n herlewing soos die einde nader kom.

Hierdie profesie word gevind in Jesaja 54 en word opgesom in hierdie verse: “Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk” (Jesaja 54:3).

Ek glo saam met ‘n aantal van Bybelskoliere dat Jesaja se profesie ‘n dubbele toepassing het. Dit praat nie net van natuurlike Israel na hulle ballingskap in Babel nie, maar ook van die geestelike Israel wat sou kom: die liggaam van Jesus Christus, die kerk van die Nuwe Jerusalem. Paulus kwoteer uit Jesaja 54 wanneer hy verwys na die “Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal” (Galasiërs 4:26). Paulus het Jesaja se profesie gesien as gerig aan “die kinders van belofte,” diegene in Christus deur geloof.

As Jesaja hierdie profesie net aan Israel gerig het, sou dit beteken dat sy beloftes nog nie vervul is nie. Kortliks, dit het nog nie gebeur dat “jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk” (Jesaja 54:3). Tog was daardie woord duidelik vervul in Christus by die kruis en by Pinkster. Dink daaraan: toe Jesaja hierdie boodskap gelewer het, het ongeveer 42,000 Israeliete uit Babiloniese ballingskap gekom. Teen Jesus se tyd, het hulle getal vermeerder tot omtrent 3 miljoen.

Jesaja verwys na hierdie profesie as ‘n belofte van God, ‘n beëdigde woord uit die hemel. Ons sien die Here sweer by die berge en Hy verwys selfs terug na die verbond wat Hy met Noag gesluit het. Hy sê in wese, “So seker as wat ek nie nog ‘n Vloed op die aarde sal toelaat nie, vertel Ek vir julle dat daar ‘n ontwaking van my kerk sal wees in die laaste dae.”

God is nie gefokus op die ekonomie nie, nie op die opstaan van wêreldgodsdienste nie en nie op die gebrul van die heidene nie. Volgens Jesaja, is die nasies vir God “soos ‘n druppel aan die emmer” (Jesaja 40:15). Hulle is almal onder sy soewereine heerskappy en regering.

Hy weet alles van terroriste dreigemente, oorloë en gerugte van oorloë. Sy Woord waarsku dat die heidene woedend sal wees, sekulêre magte sal Christenskap probeer verbied en vinnig-groeiende, anti-Christen bewegings sal roem dat hulle die wêreld regeer en Jesus volgelinge vernietig. Die Bybel sê die volgende oor alles:

“Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp” (Psalm 2:2–3). Kortliks, “Laat ons elke morele hindernis afgooi, elke morele baken van die verlede.”

Hier is God se reaksie oor hierdie aardse magte en demoon-beïnvloede mense: “Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle” (Psalm 2:4). Dit maak nie saak hoe desperaat dinge lyk nie, alles bly ten volle onder God se beheer.

Ek is dankbaar vir hierdie woord van die Psalms. Meer en meer hoor ons van verslae van sekularisme wat die evangeliese kerk in Europa uitwis, van Islam wat die vinnigste groeiende godsdiens in die wêreld is, van homoseksuele wat hele denominasies oorneem, van Christus se kerk wat so swak word dat dit nie meer ‘n impak op die samelewing het nie. Tog verklaar God se Woord, “Op Christus die Rots sal God sy kerk bou.”

“En die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Mattheus 16:18). Niks uit die hel kan hoop om Christus se kerk te vernietig nie. Sy oog is altyd op sy mense, en deur alles waarsku hy Satan en sy hordes, “Moenie die appel van my oog aanraak nie.” “As hulle ook die aanval begin – dit is nie uit My nie; wie jou aanval, sal oor jou val” (Jesaja 54:15). Sien jy wat God hier sê? “Die duiwel gaan jou aanval. Vyande uit die hel sal teen jou vergader. Maar Satan sal nie slaag nie.”

Laat die duiwel doen wat hy wil. Laat die hel sy ingewande oopmaak en elke veragtelike ding voortbring. Dit sal geen impak hoegenaamd op God se laaste-dag plan vir sy mense hê nie. Eer aan die Here, sy kerk kan nie vernietig word nie.

Christus se kerk sal verder strek as alle vorige beperkinge om die goeie nuus uit te dra: “Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in. Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk” (Jesaja 54:2–3). Eenvoudig gestel, die kerk se sterkte sal toeneem en menigtes in Christus opwek.

As ons Jesaja se profesie van naderby beskou, sien ons dit is nie net vir die kerkliggaam nie, maar ook vir individuele lede. Ek ken goddelike dienaars, vriende van my, wat hierdie profesie in besit geneem net as ‘n persoonlike woord van die Heilige Gees. En hulle het hulle geloof opgebou deur die belofte: “Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; en vrees geen skande nie, want jy sal nie nodig hê om te bloos nie; maar jy sal die skande van jou jonkheid vergeet en aan die smaad van jou weduweeskap nie meer dink nie” (Jesaja 54:4). Jesaja maak dit duidelik in hierdie vers: God se kerk sal nie onder smaad uitgaan nie.

Net ‘n paar verse verder, lees ons egter hierdie waarskuwing aan die laaste-dag kerk: “Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere” (Jesaja 54:11). Ons word vertel dat ons verdruk en deur storms geteister sal word. Tog, word ons ook ‘n fondament wat uit saffiere bestaan, belowe. Wat beteken dit presies?

As gelowiges, kan ons onder verbond met God wees en sy kosbare beloftes van geen vrees, geen skaamte, geen verwarring en geen skande nie in ons harte dra. Tog is dit vir ons moontlik om deur persoonlike storms rondgegooi te word, om eensaamheid te beleef en om niemand te hê om ons te vertroos nie. Kortliks, dit word toegelaat dat ons deur die Satan gekasty word.

In vers 16, gee Jesaja ons ‘n beeld van ons vyand aan die werk. God sê, “Kyk, Ék het die smid gekape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel” (Jesaja 54:16). Dit is die beeld van ‘n ystersmid, wat die blaasbalk op sy vuur pomp om witwarm hitte te maak. Hy gebruik dan daardie hitte om wapens vir oorlogvoering te slaan en te smee op sy aambeeld. Die smid verteenwoordig Satan, wat voortdurend nuwe wapens teen die kerk en individuele gelowiges prakseer.

Wat ‘n ongelooflike beeld. Dit is asof God sê: “Kyk, die duiwel stook sy vuur en maak wapens wat hy gebruik om my mense te vernietig. Ek het hierdie smid gemaak en hom geskep as ‘n engel. Hy het eens mag en gesag gehad, maar hy is neergewerp as gevolg van rebellie. Ek het hom geskep en daarom kan Ek hom vasketting. Hy kan net so ver gaan as wat Ek toelaat.”

Let op God se wonderlike belofte in die volgende vers: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE” (Jesaja 54:17). Met ander woorde: “Laat die vyand al sy wapens maak. Laat hom sy legioene van demone bewapen. Nie ‘n enkele wapen wat hy teen jou oplig, sal jou neerslaan nie.” Wat ‘n heerlike belofte!

Satan gebruik sy wapens van hopeloosheid teen God se mense, storms te woes om te verduur sonder die vertroosting van die Heilige Gees. Tog verklaar God, “Ek grondves jou in saffiere” (Jesaja 54:11). Die boodskap hier is, “Wanneer alles in die wêreld geskud word, sal jy nie beweeg word nie. Die fondament wat Ek onder jou lê is so stewig soos hierdie stene. Wat Ek in jou doen, kan nie geskud word nie.”

Hierdie saffiere verteenwoordig geestelike kennis en wysheid, insig in God se hart. Ons weet dat diegene wat lyding verduur, kom daaruit bewapen met groter insig van God se barmhartigheid. Jy mag versoek word, heen en weer geruk word, verdruk word en alleen wees, maar deur dit alles, vorm Hy onder jou ‘n rotsvaste fondament. Dit gaan alles daaroor dat jy ander in hulle beproewings kan vertroos.

Baie mense is bekend met die gedeelte waar Paulus die huwelik vergelyk met God se verhoudig met die kerk: “Daarom moet die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Efésiërs 5:31–32).

Kyk nou wat Jesaja sê: “Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser, Hy sal die God van die Hele aarde genoem word” (Jesaja 54:5). Wie is die Maker hier? Dit is Christus, Skepper van hemel en aarde. En Jesaja vertel vir ons Hy is ons man. Die vrou het haar egter van haar man afgeskei: “Maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jesaja 59:2).

Waar sien ons hierdie skeiding vandag tussen die kerk en God? Ek sien dit die duidelikste in gekompromitteerde hoofstroom kerke. Tog sien ek dit ook in die suutjiestrap evangelie van post-moderne kerke. Dit is duidelik dat daar ‘n skeiding van God se gemanifesteerde teenwoordigheid plaasgevind het. Inderdaad, dit het gebeur net soos Jesus en Paulus geprofeteer het: baie het liefhebbers van genot geword meer as liefhebbers van God...het ’n gedaante van godsaligheid, maar het die krag daarvan verloën...verag die evangelie van hulle vaders...het ou morele bakens afgebreek...en het God se onfeilbare Woord verander om by die tye aan te pas.

Ek daag jou uit om na enige stad, van kerk tot kerk van elke evangelie oortuiging, te gaan. Probeer een vind waar jy die wonderlike, gemanifesteerde teenwoordigheid van Jesus herken en waar jy sy hartversagtende oortuiging beleef. Wanneer die Here waarlik teenwoordig is, sal jy dit herken, of in die sang, of in die prediking of in die gemeenskap. Iets sal jou siel aanraak en ‘n verwondering en ‘n eerbied in jou veroorsaak. Volgens my ervaring, word dit selde gevind.

Ek veroordeel nie die moderne kerk nie; Dit is nie my doel nie. Maar mag die Here ons help as ons nie sy gemanifesteerde teenwoordigheid in hierdie laaste dae het nie. En weens die kompromieë van sulke kerke, moet Hy sy teenwoordigheid van hulle vir ‘n tydperk verberg. Tog het God nie die gekompromitteerde kerk geskei nie. Jesaja sê sy keer na Hom toe terug:

“So sê die Here: Waar is tog die skeibrief...waarmee Ek haar verstoot het? Of wie is daar van my skuldeisers aan wie Ek julle verkoop het?” (Jesaja 50:1). God sê, in wese, “Jy het van my af weggeloop. Jy het die wêreld en die dinge van die wêreld liefgehad en jy het My vir hulle verlaat. Ek het jou nie verlaat nie; jy het My verlaat. Wys my die skeibrief! Wys my waar Ek jou aan iemand anders verkoop het.”

“Want so sê die HERE: Vir niks is julle verkoop, julle sal ook sonder geld gelos word” (Jesaja 52:3). Hy vervolg: “Ek vertel vir jou, hierdie huwelik is nie verby nie. Dit is nie hopeloos nie. Ek het jou steeds lief, al het jy jouself as prostituut uitgegee. Jy het moeg geword vir My, maar ten spyte daarvan, het Ek jou lief. Ek wil jou terughê.”

“Want soos ‘n verlate vrou en ‘n bedroefde van gees het die HERE jou geroep, en soos ‘n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God. Vir ‘n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader. In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser” (Jesaja 54:6–8).

Hier is ‘n beëdigde belofte van God om ‘n hoervrou na Homself toe terug te bring. Kortliks, die laaste herlewing sal slegs een van barmhartigheid wees. Die Here vertel sy kerk, “Wanneer jy na My terugkeer, sal Ek jou nie veroordeel of bestraf nie. In plaas daarvan, sal Ek jou salf met my Gees. Ek sal jou krag gee, waar jy nooit tevore krag gehad het nie.

Ek bied onweerlegbare bewyse dat die belofte van Jesaja 54 bedoel is vir God se kerk vandag. Jesaja praat duidelik van Christus in Jesaja 53:10: “Sal Hy ‘n nakroos sien” (kursief myne). Eenvoudig gestel, Christus se barensnood en offer sal baie kinders voortbring: “Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra” (Jesaja 53:11). TDit moet alles vervul word na die kruis.

Die spykers wat Jesus se hande en voete deurdring het, was op die duiwel se aambeeld gemaak. Die swaard wat in sy sy gesteek is, was gesmee in daardie smid se winkel van die hel. Maar die bloed wat uit sy liggaam voortgekom het, het nooit sy krag verloor nie. Jesaja vertel vir ons: “God het gesweer dat sy Seun se bloed gesprinkel sou word op oortreders in elke nasie op die aarde. Dit het krag in elke Arabiese nasie, in Israel, in Afrika en in Europa. Hy sal sien dat sy saad versprei na veelvuldige menigtes, van alle stamme en tale.” ‘n Groot ontwaking sal in die eindtye voortgaan.

Dit mag ontmoedigend wees om vals godsdienste te sien groei in getalle, terwyl Christus se kerk skynbaar so min in getal is. Maar Jesaja sê, “Dit is tyd om te sing, o onvrugbare vrou. Vergroot die plekke van aanbidding, verleng en versterk jou visie. Jy gaan deurbrake sien regs en links.” “Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die HERE” (Jesaja 54:1).

Hoe gaan die laaste herlewing gebeur? Dit benodig iets kragtigs, iets wêreldskuddend om daartoe aanleiding te gee. Jesaja vertel vir ons dat hierdie skudding in een dag sal gebeur. In hoofstuk 47, hy sê dat daar eers gedeel moet word met die gees van Babel. Regdeur die Skrif, verteenwoordig Babel altyd ‘n gees van voorspoed, gemak en plesier. En die Babelse gees is dieselfde in elke eeu.

Kortliks, Jesaja sê dat daar geen wydverspreide, laaste herlewing wees totdat die gees van gierigheid en valse sekuriteit gebreek word nie. Ons kan bid vir herlewing, ons kan tot God uitroep om sy Gees uit te stort, maar dit is onmoontlik tensy die Here eers alle dinge skud: “Hoor dan nou dit, wellustige wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie...Daarom oorval ‘n onheil jou wat jy nie sal weet om te besweer nie en ‘n onheil val op jou wat jy nie kan versoen nie, en skielik oorval jou ‘n verwoesting, sonder dat jy dit weet” (Jesaja 47:8, 11, kursief myne).

God gaan sonde nie oorsien nie, maar Hy sal die duiwel se vestings verbreek. Hy gaan die wekroep tot sy kerk rig met ‘n “skielike verwoesting.” Inderdaad, dit sal ‘n groot daad van liefde van die Here se kant af wees. Hy het sy kerk so lief dat Hy weier dat gemak, plesier en afvalligheid die voorwerp van sy liefde sal verblind of bederf.

“Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy dit in ‘n land van reg, en hy sien die hoogheid van die HERE nie” (Jesaja 26:10). Dit is die bewys dat herlewing onmoontlik is in ‘n tyd van gemak en voorspoed. Jesaja sê in eenvoudige terme, “In ‘n tyd van seën, sal mense nie tot bekering kom nie.” Niks gaan gebeur totdat die agtersak aangeraak word nie. Net “as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid” (Jesaja 26:9).

Jesaja bied een laaste bewys dat ‘n laaste herlewing na ‘n skudding sal kom:

“Volgens die dade, daarmee ooreenkomstig sal Hy vergelde: grimmigheid aan sy teëstanders, vergelding aan sy vyande; aan die eilande sal Hy die loon vergelde. En hulle sal die Naam van die Here vrees van die westekant af, en sy heerlikheid van die opgang van die son af; want Hy sal kom soos ‘n saamgeperste stroom wat die asem van die HERE aandrywe. Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die HERE.

“Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE; My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie” (Jesaja 59:18–21).

Die gees van Babel is op die punt om deur verwoesting verbreek te word. Tog, moenie Jesaja se profesie verkeerd interpreteer as ‘n boodskap van somberheid en onheil nie. In teenstelling, Jesus sê, “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28).

“En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom” (Handelinge 2:17). In al my jare van bediening, was ek nooit in staat om hierdie profesie in ons dag sien gebeur nie. Nou glo ek dit word vervul.

Oral in nasies openbaar Christus Homself aan menigtes in drome en visioene. In China, Indië en Arabiese nasies, berig mense van hulle ervarings met Jesus in drome. Selfs hier in Time Square Church gebeur dit.

Een van ons kerke se sekuriteitsbeamptes was eens New York se derde hoogste priester in Santeria duiwelaanbidding. Sy gebied was die Bronx en sy woonstel was vol menslike bene. Hy het sy liggaam en siel aan Satan verkoop. Maar hierdie man se hart was aangeraak deur die Heilige Gees. Hy het rusteloos geword en een nag het hy Jesus uitgedaag, “As U sterker is as die duiwel, wat ek dien, wys my vannag in ‘n droom.”

Daardie nag in ‘n droom, het die man homself op trein oppad na die hel gesien. Toe dit deur ‘n tonnel gaan, het die Satan aan die ander kant gestaan. Die duiwel het vir die man gesê, “Jy was getrou aan my. Nou neem ek jou na jou ewige rusplek.” Toe het daar skielik ‘n kruis te voorskyn gekom. Op daardie oomblik het die man wakker geword.

Hy het uit daardie ervaring gekom aan die brand vir Jesus, hy het sy woonstel van elke spoor van goddeloosheid skoongemaak en sy lewe vir die Here gegee. Vandag is hy ‘n vriendelike, toegewyde man van God en is aktief in ons kerk. Ek het hom onlangs gestop en vir hom gesê, “Ek sien Jesus in jou.” Hy het geantwoord, “Broer Dave, jy weet nie wat daardie woorde beteken na vyf-en-twintig jaar waarin ek die duiwel gedien het nie.” Sy wonderbaarlike nuwe lewe het alles uit daardie Godgegewe droom gekom.

Liewe heilige, die dag kom wanneer die hele wêreld Jesus sal sien. Die apostel Johannes het gesien, “’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam” (Openbaring 7:9–10).

Dit is nie ‘n klein oorblyfsel nie, maar ‘n ontelbare menigte, net soos Jesaja geprofeteer het. En hulle het almal die Here aanbid. Prys God vir daardie beloofde dag!