Die Laaste Dae van Amerika

David Wilkerson

Amerika is sterwend! Die land se wonde is ongeneeslik. Dit is nou in die laaste stuiptrekkings van ‘n terminale siekte. Die groot ryk is besig om te verkrummel!

Die land is op pad van alle gevalle ryke. Die tyd waaroor God ons in Sy Woord gewaarsku het, het aangebreek – die “angsvrystelling,” wanneer selfs die gebede van goddelike heiliges nie langer iets uitrig nie. God het gesê, “Mensekind, as ‘n land teen My sondig deur troubreuk te begaan, en Ek my hand daarteen uitstrek...en Ek daaruit mens en dier uitroei – al was hierdie drie manne, Noag, Daniël en Job, daarin, dan sou hulle deur hul geregtigheid net hulle eie siel red, spreek die Here HERE” (Ezekiel 14:13-14).

God het nog nooit ‘n samelewing vernietig sonder oorvloedige waarskuwing nie. “Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7). God het Abraham gewaarsku oor die skielike verwoesting wat Sodom sou tref: “Daarop sê die HERE: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen” (Génesis 18:17). Hy het Noag ook gewaarsku dat Hy die mensdom binnekort deur ‘n vloed sou vernietig: “Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak” (Hebreërs 11:7).

God het Samuel gewaarsku oor die val van Eli se bediening en van die verwoesting van Silo. “Toe het die HERE aan Samuel gesê: Kyk Ek gaan ‘n ding doen in Israel waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit” (1 Samuel 3:11).

Jeremia het oordeel oor Israel geprofeteer, “En die HERE het my dit te kenne gegee, sodat ek dit weet. Toe het U my hulle handelinge laat sien” (Jeremia 11:18). God het ook aan Daniël geopenbaar wat sou gebeur: “Daarop is in ‘n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar” (Daniël 2:19).

In elke eeu het God Sy waarskuwings aan die mense op verskillende maniere deurgegee. Hy het van aangesig tot aangesig met Moses gespreek, met Josua deur ‘n engel en aan die Ou Testament profete in visioene en drome. En vandag praat God weer – hard en duidelik.

Ja, daar is valse profete: gekke, onsedelike, half-mal, selfverklaardie sieners wat oor oordeel verkondig. Maar hierdie mense word deur Satan gestuur om die ware woord van God-gestuurde wagte te diskrediteer.

Talle Amerikaanse herders – of bedienaars – het so blind, lui en sondig geword dat God sekulêre skrywers moes oprig om te waarsku dat hierdie land besig is om te sterf! Het jy onlangs die profetiese strokiesprente in ons koerante gesien? Een beeld die Statue of Liberty uit waar sy met haar hoof in haar hande staan en in skaamte ween! ‘n Ander wys ‘n bloederige vinger wat op die muur skryf: “Anargie.”

Anders as die blinde herders, sien hierdie sekulariste die stroewe werklikheid wat nou op ons is. In New York Stad en ander voorstedelike buurtes, beeld strokiesprente skares uit wat oor lyke loop! Stootskrapers word oorval deur berge wit kokaïene – en is nie in staat om ‘n duik daarin te maak nie!

In boek na boek waarsku finansiële kenners oor die naderende ekonomiese ineenstorting. Hulle het die skrif aan die muur gesien en hulle is bang. Een welbekende finansiële raadgewer het al sy kontant onttrek ter voorbereiding van wat verwag word as die wêreld se ergste depressie.

Die Ou Testament profesië van verwoesting was gebaseer op duidelike Bybelse afleidings. Die profete was studente van die geopenbaarde Woord van God. Hulle het geskiedenis bestudeer. Hulle het patrone in samelewings gesien. Hulle het goed bekend geraal met God se barmhartigheid en Sy lankmoedige geduld. En hulle was in staat om die snellers van God se oordeel te onderskei – dit is, wanneer Hy genoeg gehad het!

Daniël was ‘n student van die Woord. Hy het die ballingskap van Israel in Babel geleer verstaan deur die skrifte van die vorige profete te lees. Uit hulle profesieë, het hy die einde van die ballingskap bereken, die tyd waarop die Messias sou sterf. “Ek, Daniël [het] in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het” (Daniël 9:2).

Daniël het al die verskriklike dinge wat met God se volk gebeur het in sy tyd, gelys. Hy het dit alles vergelyk met Deuteronómium 28 en tot die gevolgtrekking gekom, “Daarom is die vloed en die eed oor ons uitgestort wat geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, want ons het teen Hom gesondig...soos in die wet van Moses geskrywe is – al hierdie onheil het oor ons gekom...maar ons het nie na sy stem geluister nie” (Daniël 9:11,13-14).

Enige Godvresende, biddende Christen kan doen net soos Daniël gedoen het. Geliefde, vergelyk die Skrif met wat ons reg voor ons oë sien gebeur, en jy sal bo alle twyfel weet dat Amerika reeds deurloop onder die toorn van God se vloek vir ongehoorsaamheid.

Twaalf tekens van die vloek.

Moses het in Deuteronómium 28 al die tekens van die vloek gelys. Ons moet herinner word aan hierdie verskriklike tekens: “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal” (Deuteronómium 28:15).

Ek sal net 12 van hierdie skrikwekkende vloeke hier opnoem:

1. ‘n Vloek op ons stede: “Vervloek sal jy wees in die stad, en vervloek sal jy wees in die veld” (Deuteronómium 28:16). Amerikaanse stede is verdoem. Ons eie tydskrifte het dit verklaar as Westerse “Beiroete” of oorlogsones. Crack skeur hulle uitmekaar. New York Stad word onleefbaar. ‘n Moord vind elke vyf uur plaas en ‘n misdaad elke 20 sekondes. Ons stede is op pad na anargie, en daar is geen keer nie. Nou versprei dit selfs na ons kleinste dorpies.

2.’ n Vloek op ons ekonomie: “Vervloek sal wees jou mandjie en jou bakskottel” (Deuteronómium 28:17). Dit verwys na bruto nasionale produk, banke en reserwes. ‘n Vloek sal daarop kom, en dit sal verwarring, vrees en onsekerheid bring. “As Ek vir julle die staf van die brood verbreek” (sien Levitikus 26:26) – wat wydverspreide werkloosheid beteken.

3. ’n Vloek op ons toekomstige mark: “Vervloek sal wees die vrug van jou liggaam en die vugte van jou land, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee” (Deuteronómium 28:18). Hierdie vloek sal op ons gewasse en beeste neerkom.

4. ’n Vloek op ons buitelandse onderhandelinge: Hierdie vloek sal skande en verleentheid bring. “Vervloek sal jy wees by jou ingang, en vervloek sal jy wees by jou uitgang. Die HERE sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan...vanweë die boosheid van jou handelinge” (Deuteronómium 28:19-20). Verenigde State beleid vandag is in algehele wanorde! Ons onderhandelaars kom terug huistoe verward – verneder deur Rusland, verneder deur Sjina. Dit lyk of ons benewel is voor die hele wêreld.

5. Plae van ongeneeslike siektes: “Die Here sal maak dat die pes jou aankleef...met tering en koors en vurige koors en ontsteking” (Deuteronómium 28:21,22). “Die HERE sal jou swaar tref met swere van Egipte...en skurfte...waarvan jy nie kan gesond word nie. Die HERE sal jou slaan met kranksinnigheid en blindheid en sinswervarring” (Deuteronómium 28:27,28). “Die HERE sal jou tref met bose swere...waarvan jy nie gesond kan word nie – van jou voetsool tot jou skedel” (Deuteronómium 28:35). Die merk van VIGS is die pers vlek – die ongeneeslike sweer!

6. Stofstorms en droogte geteisterde gebiede: “Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is” (Deuteronómium 28:24). Dit is wat God doen. Dit alles word uit die hemel gestuur!

7. Nietige vyande sal jou leërs op die vlug laat slaan: “Die HERE sal maak dat jy voor jou vyande verslaan word; op een pad sal jy teen hom uittrek en op sewe paaie sal jy voor hom uit vlug...En jou lyke sal as voedsel dien vir al die voëls van die hemel” (Deuteronómium 28:25,26). Dink aan die skaakmat in Korea. Of ons troepe wat uit Viëtnam vlug en uit Lebanon gejaag word. Of klein Palestina wat ‘n geweer teen ons koppe hou.

8. ’n Epidemie van Egskeiding: ‘n Epidemie van gebroke huise het uitgebars. “Jy sal jou met jou vrou verloof, maar ‘n ander man sal haar skend; ‘n huis sal jy bou, maar daarin nie woon nie’ ‘n wingerd plant, maar dit nie in gebruik neem nie” (Deuteronómium 28:30).

9. ’n Golf van bankrotskappe: “Jou bees word voor jou oë geslag...jou esel word voor jou wegggeroof en sal na jou nie terugkom nie; jou kleinvee word aan jou vyande gegee sonder dat daar vir jou ‘n helper is” (Deuteronómium 28:31). Dit beskryf die antieke oorsterse gewoonte van die krediteur wat alles van die skuldeiser neem vir restitusie. Dit waarsku oor die golf van bankrotskappe wat oor hierdie nasie sal kom.

10. Die verlies van ‘n hele geslag jeug: “Jou seuns en jou dogters word aan ‘n ander volk gegee, terwyl jou oë dit sien” (Deuteronómium 28:32). Vandag kan ‘n volk van volwassenes, voorsien met alle geld en mag, bloot staan en met afsku kyk hoe dwelms en geweld ‘n hele bevolking jeug insluk. Hierdie Skrif is ‘n profetiese waarskuwing oor die wanhoop wat oor ouers kom in ‘n land onder die vloek. “Seuns en dogters sal jy verwek, maar hulle sal vir jou nie wees nie; want hulle sal in gevangenskap gaan” (Deuteronómium 28:41).

11. Die voorspoed van ander lande ten koste van ons: “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak” (Deuteronómium 28:43). Hoséa beskryf die blindheid van mense onder hierdie vloek: “Vreemdes verteer sy krag, en hy bemerk dit nie; ook is grysheid oor hom uitgesprei, en hy weet dit nie” (Hoséa 7:9). Wat ook al die gewasse, wat ook al die vrugte, “vreemdelinge [sou] dit verslind” (Hoséa 8:7).

12. Jy sal ‘n Skuldenaarland word eerder as ‘n lener: “Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees” (Deuteronómium 28:44). In die laaste vyf jaar het ons die wêreld se grootste skuldenaarland geword. Op hierdie oomblik is ons nou die stert – en Japan is die hoof. Ons kan nie eens borg staan vir ons eie bankrot spaar- en leningsorganisasies nie. Beskou die $150 biljoen wat nodig is om ons bankstelsel te red – en sê dan vir my Amerika is nie onder die vloek nie! Ons beleef jou die volle toorn daarvan!

Ninevé was die New York Stad van sy tyd.

Ninevé was die hoofstad van ‘n magtige ryk. Op die hoogtepunt van sy mag en voorspoed, het God profete opgerig om oor dreigende oordele te waarsku. God self het Ninevé beskryf as “die groot stad...hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig” (Jona 1:2). Nahum het dit “die bloedstad...louter bedrog, vol geweld, terwyl rowery nie ophou nie” genoem (Nahum 3:1).

Ninevé, soos New York Stad, het bestaan uit vier kleiner stede of woonbuurte. Dit was ongeveer 30 myl in omtrek en was beskerm deur ‘n 100 voet hoë muur. Hierdie muur was wyd genoeg vir drie waens om langs mekaar op sy ryvlak te loop en het 1,500 torings daarop – elkeen was 250 voet hoog.

In Jona se tyd, het Ninevé 120,000 kinders onder sewe jaar oud gehad, so die totale bevolking moes meer as 600,000 gewees het. In Nahum se tyd, het dit ‘n groot staande mag gehad, magtig en onoorwonne. Oorlogsperde het in die strate geparadeer. Strydwaens het op die kringweë gedreun. Ninevé was ‘n groot handelstad, ‘n wêreld handelsentrum. Driekwart van die bekende wêreld was onder die septer van sy mag en handel.

Onder Jona se prediking het Ninevé het ‘n vorm van bekering getoon – maar hierdie bekering was vlak en kortstondig. Ninevé het gou weer teruggekeer na sy goddelose weë en God was vinnig vergete. Die stad se goddeloosheid en onsedelikheid was versprei oor die hele wêreld, en Ninevé en die Assiriese Ryk het begin om met hulle bloedvergieting te spog. Daarom het God kwaad geword.

Die Gees van God het op die profeet Nahum gekom, en hy het die volgende verkondig: “’n Jaloerse God...en vol grimmigheid; ‘n wreker is die HERE vir sy teëstanders” (Nahum 1:2). Nahum het daardie goddelose samelewing gesien – dronk van plesier, sukses en voorspoed, vol hoogmoed, gierigheid en geweld, ‘n volk op sy gemak terwyl hulle plunder en bloed vergiet – en hy het uitgeroep, “Weë Ninevé! God gaan weer oordeel bring!”

Nahum se profesie het na vore gekom jare nadat Jona gestuur is om oordeel oor die stad te verklaar. God was “stadig om toornig te word” en was geduldig ten spyte van hulle goddeloosheid, bloedvergieting en goddeloosheid. Hy het die kortstondige bekering van hulle vaders onder Jona se prediking onthou.

Nahum het sy profesie van die naderende verwoesting aan die geopenbaarde Woord van God geanker

Nahum se profesie was meer as ‘n droom of visioen. Soos Daniël en die ander profete, was Nahum ‘n student van die Woord. Hy het die geskiedenis van God se handelinge met samelewings in die verlede bestudeer, veral die groot stad No-Amon (Tebes van Egipte).

No-Amon was die hoofstad van die Egiptiese ryk tydens die 18de tot die 20ste vorstehuise. Skatte het in No-Amon se skatkiste ingestroom van oral oor die wêreld. Dit was die stad van die Farao’s. Tempels van vals gode het langs sy kringweë gestaan. Jeremia het teen die stad se afgodery geprofeteer: “Kyk, Ek doen besoeking oor Amon van No en oor Faro en Egipte en sy gode” (Jeremia 46:25). Esegiël het ook geprofeteer dat God Sy “...grimmigheid [sal] uitgiet...en Ek sal die menigte van No uitroei” (Esegiël 30:14,15).

No-Amon was ‘n ondeurdringbare stad, beskerm aan alle kante, “met waters rondom hom; wie se voorskans die groot water was, waters sy muur” (Nahum 3:8). Die stad was baie voorspoedig en het ekstra krag gehad vanaf satelliet nasies. “Kus (Ethiopië) was sy krag en Egiptenaars sonder getal, Putteërs en Libiërs was jou tot hulp” (Nahum 3:9). No-Amon het amper die grootte en bevolking van Ninevé oortref voor daardie stad uitgewis was in goddelike oordeel. Met sy paleise, duur kunswerke, eksotiese meubels, pottebakkery en deftige klere, was No-Amon die afguns van die nasies. Dit het geroem in ‘n groot leër en ‘n groot voorraad wapens.

Die wêreld het gedink No was ‘n onaantasbare stad in sy tyd. Hulle het geglo dit sou vir ewig lewe. “Nogtans het dit as gevangene in ballingskap gegaan; nogtans is sy kinders by al die straathoeke verpletter, en oor sy edeles is die lot gewerp, en al sy groot manne is met kettings geboei” (Nahum 3:10). Nahum het dit geprofeteer gebaseer op God se geskiedkundige handelinge met goddelose samelewings in die verlede. “Is jy beter as No-Amon?” (Nahum 3:8). Met ander woorde, “Wat maak jou glo dat God alle ander sal oordeel vir die dinge wat jy nou doen, maar jou laat wegkom?”

God het alle reg om Amerika dieselfde vraag te vra vandag. Wat is anders aan Amerika as goddelose Sodom? Is ons beter as Noag se geslag? Of Lot se geslag? Is ons beter as die goddelose mense van No-Amon? Is ons meer verdienstelik as Ninevé, wat God uitgewis het? As ons alle voormalige bewyse van God se woede beskou, waarom sou Hy ons spaar, omdat ons dade pleeg, sewe keer erger as enige ander van hierdie goddelose mense?

Nahum se waarskuwing aan Ninevé is ook ‘n waarskuwing vir ons: “Ook jý sal dronk word, beneweld wees, ook jý sal ‘n toevlug soek teen die vyand” (Nahum 3:11). Amerika is dronk van begeertes, dwelms, geweld, bose seks – en dronk van sukses en voorspoed. “Jy sal ‘n toevlug soek” beteken hierdie land sal magteloos word, gereduseer word tot niks, nie in staat om aksie te neem om probleme op te los nie. Ons aardsvyande sal ons plunder. Die samelewing sal verkrummel onder die gewig van onoplosbare probleme.

Tot nou toe het Amerika voortgestrompel, en uitgehou maar nooit sy probleme opgelos nie. Tog het ons oorleef. Maar nou, sal al ons probleme vinniger toeneem. Die hospitaalstelsel in ons stede het onhanteerbaar geword: Verslaafdes glip uit hulle kamers, hardloop om crack te kry, en klim dan terug in die bed. Talle snuif dampe van warmgemaakte kokaïen in hospitaalkamers – selfs in die ongevallesale. Dokters en verpleegsters word geslaan en vermoor. Daar is geen kuur nie, geen moontlike oplossing nie!

Ons tronke loop oor, wat lei tot die vrylaat van talle misdadigers. Ons bou nou tronkskepe in ‘n poging om die oorbevolking te hanteer. Ons gevangenis-instellings is verskriklike huise van verkragting, geweld en hopeloosheid. Ook hier, is daar geen oplossings, geen kure in sig nie.

Ons howe kan nie meer die saakladings dra nie. Regter na regter het waarskuwings uitgereik: “Ons is op die rand van anargie. Ons kan nie eens die menigtes misdadigers prosesseer nie.”

Ons skole is die skande van die hele wêreld. Middestadskoolgeboue val uitmekaar; onderwysers leef in vrees. Die skole het ‘n miniatuur hel geword waar kinders gekonfronteer word met gewere, messe, dwelms, geweld en verdraaide seks. Die skole ontbreek sedelikheid.

Ons welsynstelsels is in totale wanorde. New York Staat het hierdie stad ‘n “Welsynsaak” genoem. Kostes spin reeds buite beheer.

Niemand in die V.S. Regering, in Kongress of Wall Street of by die Federal Reserwe kan vir ons sê wat met ons ekonomie gebeur nie. Dit is bokant ons begrip. Niemand weet wat die stelsel bymekaar hou nie.

Daar is ‘n sneller wat hierdie ontsagwekkende oordeel afgevuur het.

“Van jou, o stad, het een uitgegaan wat kwaad teen die HERE beraam het, wat verderflike planne gemaak het” (Nahum 1:11). God moet Sy heilige toorn uitgiet wanneer die land bloot van God af wegdraai tot doelbewus teen Hom konkel.

Hierdie goddelose een wat teen God konkel – wat wette maak, bose raad gee en ontwerp is om God toornig te maak – is die konsensus, die nasionale denkwyse, uitgedruk deur sy regters, howe en regering. Hierdie een wat in ons midde opgestaan het, word beliggaam in ons Hoofgeregshof, ons federale howe, ons regters op alle vlakke. Hierdie mense het goddelose raadgewers geword, en voer oorlog teen God. En hulle het bloed op hulle hande!

Hulle is bose Godhaters wat baba-moordenaars en ateïste se regte beskerm. Hulle het hulle vuiste teen God geswaai en daag Hom uit om te reageer op hulle pronkerige rebellie. Hierdie klein handjievol goddelose raadgewers het hulle harte teen God opgestel. Hulle het oorlog verklaar en God kan nie langer Sy toorn terughou nie.

Ek gee egter nie ‘n bietjie om wat die Hoofgeregshof doen nie. Jy sien, God gaan dit verander in ‘n kangaroo-hof van dwase. “Maar nou sal Ek sy juk van jou af verbreek en jou stroppe stukkend ruk” (Nahum 1:13). Hierdie goddelose raadgewers sal in oordeel val. God het beloof om hulle in die war te bring en om hulle gesigte swart van vrees te maak.

Nahum vra, “Wie sal standhou voor sy grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn?” (Nahum 1:6). Wanneer God se toorn oor die land is, wanneer die felheid van God se toorn tref, watter regter sal dan staande bly in rebellie? Watter hof sal bly staan? God sal hulle almal met vrees tref en hulle harte met verwarring. Hullle sal hulpeloos wees teen die stroom en roep, “Wat het gebeur? Dit alles stort in duie!”

Vier spesifieke oordele waarmee God besoeking doen oor ‘n nasie wat ondergaan.

Soos Ninevé, het Amerika ‘n ongeneeslike wond. Anders as ‘n wonderwerk van barmhartigheid, is daar geen genesing meer vir ons nie, slegs oordeel (sien Nahum 3:19). Hierdie oordele verskyn en neem vinnig toe totdat elkeen soos ‘n sneeustorting en ‘n oorweldigende vloed word (sien Nahum 1:8).

I. DAAR SAL GEEN EINDE AAN DIE LYKE WEES NIE

Die eerste oordeel is dat daar “geen einde aan die lyke” sal wees nie. Nahum 3:3 sê, “En ‘n menigte wat verslaan is, en hope dooies en geen einde aan die lyke nie – ‘n mens struikel oor hulle.”

Nahum het op daardie tydstip iets gesien wat skynbaar ongelooflik was. Ninevé het gemaklik in sy voorspoed rondgeslenter. Sy strate het gewoel met kopers en handelaars – besigheid soos gewoonlik. Maar die profeet het ‘n swaard sien kom na daardie besige strate. Hy het lyke oral gesien rondlê, ‘n menigte van die gesneuweldes en vermoordes met mense wat oor die lyke val. Wanneer die oordeel kom, verwag dan om kiste en lyke in toenemde getalle te sien.

‘n Verskriklike toneel is in my gedagtes ingeëts: dié van voormalige President Reagan en sy vrou wat huil oor die 250 kiste soldate wat in Lebanon opgeblaas is. En weer sien ek hulle staan voor leë kiste – van die vyf ruimtereisigers wat in die lup opgeblaas is. Ek sien ook President Bush, wat voor ongeveer 35 kiste staan – daardie soldate wat dood is ‘n ontploffing. Dit is kistyd in Amerika! In die dae wat voorlê, sal daar so baie lyke wees dat Amerika immuun daarteen sal word – en net bo-oor lyke sal trap. Eendag sal ons lyke van hongersnood sien op Amerika se strate. VIGS slagoffers kwyn reeds op die strate met geen plek om te sterf nie!

Hierdie storie het onlangs in die nuus verskyn: ‘n Veertienjarige moeder het haar pasgebore baba uit ‘n vierde-vloer venster gegooi. Die klein kindjie se lyk was drie dae later in die steeg gevind. Mense het gedink dit was ‘n weggegooide babapop.

‘n Ander net so grusame storie, is dié van ‘n drie-dag-oue baba wat gevind is in ‘n vullisblik in Negende Straat, gerol in ‘n plastiese sak – net een van honderde van klein verlate lykies wat in die stad gevind word.

Maar miskien is die mees ontstellende storie wat onlangs verskyn het, dié van die lykie van ‘n klein dogtertjie wat in ‘n tas gesit is en doodgebrand het. Die storie lees, “Sy was mishandel en verlaat in die lewe, maar aangeneem en geliefd in die dood. Sy was ‘n kleuter, ongeveer drie jaar oud, gevind doodgebrand in ‘n tas tussen hope vullis in die portaal van ‘n woonstelgebou.

“Die lyk sou in Potter’s Field begrawe word, maar die brandweermanne wat haar gevind het, was so gebroke oor wat hulle gesien het, dat hulle gereël het om haar te begrawe – “om hierdie baba een of ander soort waardigheid in die dood te gee – sy het waarskynlik nie veel waardigheid in die lewe gehad nie’...Trokke van die wa- en leermaatskappye het buite die kerk gestaan terwyl hulle die klein wit kissie inhulle arms gehou het en dit in die kerk ingedra het.”

Jy kan amper die skrikwekkende oproep hoor: “Kom al julle grafgrawers! Kom, al julle kismakers, werk sonder ophou. Kom julle kisdraers, die kiste hou aan inkom! Kom julle begrafnisondernemers en lykbesorgers, julle werk het pas begin!” Daar is geen einde aan die lyke nie!

Watter soort geestelike blindheid het oor ons gekom wanneer ons hierdie oordeel oral rondom ons sien en predikers steeds roep, “Vrede! Voorspoed!” Gee hulle nie om nie? Beteken dit vir hulle niks nie?

II. VERLIES VAN NASIONALE PLAN

Ek sal...nasies jou naaktheid laat sien en koninkryk jou skande” (Nahum 3:5). Die tweede oordeel wat ons sal sien, is die lande wat ons eens gevrees het, ons beny het en in ontsag gestaan het oor ons, sal ontdek ons het swak geword. “Kyk, jou volk binne-in jou is soos vroue” (Nahum 3:13). Met ander woorde, “Jy het swak geword en verwyfd geword deur jou weelde. Jy sal geen wil, geen voornemens hê nie.”

Alle sterwende ryke word sag en verwyfd, onwillig om op die ou end ‘n stand in te neem vir enigiets. Van Sodom tot Babel, het sterwende ryke dronk, lui, bedwelmd en immuun teen alle waarskuwings geword. Soos Bélsasar, die koning van Babel wat die handskrif teen die muur gesien het, het hulle op die ou end die profete hulle dag in die hof gegee – en vir hulle gesê, ja, hulle is reg, dit wat hulle sê is alles waar. Maar dan gaan hulle reguit terug na die partytjie toe (Sien Daniël 5).

“Kyk, jou volk binne-in jou is soos vroue, die poorte van jou land is wyd oopgemaak vir jou vyande” (Nahum 3:13). Dwelmbase van Kambodja, Columbië, Mexico en Pakistan lag vir ons slap grenspatrollies. God het ons mure afgebreek. Castro het honderde gevangenes en spioene in ons land gestort.

Dank God vir die talle goeie – selfs goddelike – buitelanders wat ek ontmoet het. Maar vir elke goeie een, stroom tien goddeloses in, insluitend moordenaars en verkragters. In talle lande is dwelmhandelaars die enigtes wat in staat is om geld bymekaar te maak om Amerika toe te kom. Die profeet het gesê hulle het gekom met die swaard om te moor en te vernietig.

III. ’N DOOP VAN VUILGOED

“En Ek sal vuilgoed op jou gooi en jou aan minagting prysgee en van jou ‘n skouspel maak” (Nahum 3:6). Ons derde oordeel, soos Ninevé, is dit dat ons die skande en smaad van die wêreld geword het. Die res van die wêreld bloos oor ons goddeloosheid. Ek het eenkeer besoekers van Poland en ander Sowjetbloklande op ‘n toer deur New York se strate geneem. Terwyl ons op 42nd Straat geloop het, het ek trane in hulle oë gesien. Uiteindelik het een Poolse besigheidsman na my gedraai en gesê, “Ek loop deur die hel self! Neem my asseblief hier uit!”

“Dit is die uitgelate stad wat so veilig gewoon het, wat in sy hart gesê het: Dit is ek, en niemand anders nie! Hoe het dit ‘n verwoesting geword, ‘n lêplek vir wilde diere! Almal wat daar verbytrek, spot, skud met die hand” (Sefanja 2:15). Israel het op ‘n stadium so goddeloos geword, dat selfs die heidense “dogters van die Filistyne...hulle geskaam het oor jou ontugtige wandel” (Esegiël 16:27). Israel se verdorwenheid was erger as Sodom s’n. “En jy het verderfliker gehandel as hulle in al jou weë” (Esegiël 16:47).

Moses het Israel gewaarsku dat sonde enige land verwoes, “Ek self sal die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan” (Levitikus 26:32).

Amerika beleef nou hierdie bonatuurlike doop van vuilgoed. Die profeet skets die beeld van ‘n God so toornig, so vol wraak dat Hy modder of stof gooi op hierdie goddelose nasie. Ons verdrink letterlik in pornografie: Dit is nou ‘n multidolllar besigheid. Tien jaar gelede was baie daarvan ingevoer. Maar vandag is die V.S. die grootste uitvoerder van vuilgoed in die wêreld.

Met sy televisie programme en VCR films, het ons land ‘n aptyt ontwikkel vir perversie en sadomasogisme. Selfs gedurende die dag, is sepies vol vuil taal, hoerery en homoseksualiteit. TV het die oop sluise geword van hierdie see van vuilheid.

God gaan aan Amerika doen wat Hy aan Israel gedoen het nadat hulle vleis in die woestyn begeer het. “Julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae ...totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan walg” (Númeri 11:19-20).

Die Verenigde State van Amerika is nou bekend as die “land waar enigiets geld!” Daar is werklik geen beperkinge meer nie. Jong 11- en 12-jaar-oue seuns word verkragters. Meisies word verwagtend op 12-jarige ouderdom – en kry dan aborsies! Ons land speel hoer terwyl ons afkyk in die dodelike loop van ‘n geweer van VIGS en dan lag ons, “Wie is bang vir VIGS?” Verlede week het ‘n filmster bely dat 12 van sy beste vriende aan VIGS gesterf het. Maar hy is nie van plan om sy weë te verander nie!

IV. ’N MASSIEWE DEPRESSIE WAARVAN DAAR GEEN UITKOMKANS IS NIE.

Talle wil nie hoor van die naderende ineenstorting nie. Die woord “depressie” maak Amerikaners bang. Maar glo dit of nie, ons beleef nie net nog ‘n resessie wat ‘n kort rukkie sal duur voor die ekonomie terugspring nie. Liewer, ons beleef die laaste groot depressie!

Dit het met elke vorige samelewing en ryk gebeur in die barensweë van oordeel. Moenie glo dit sal nie met ons gebeur nie. Weens Israel se ontrouheid, het die Here vir daardie volk gesê: “Al het jy jou koopmans meer gemaak as die sterre aan die hemel – die voetgangers vervel en vlieg weg” (Nahum 3:16).

In hierdie profesie, het die profeet Nahum die stad gewaarsku van ‘n listige vyand wat sou kom om sy ekonomie te vernietig. Ninevé het glaswerke, tekstiele, matte, ivoorbeelde, kunswerke van allerhande soorte, edelgesteentes, sliwer, goud en speserye uitgevoer. Sy handelaars het dwarsdeur die wêreld gereis. Maar kort voor lank het ‘n aanvallende sprinkaan gekom, vyande het afgevlieg, hulleself oor die weelderige voordeel uitgesprei en met die buit gevlug.

Wees verseker, die dag is nie ver weg wanneer Japan, Taiwan, Korea en Duitsland hulle geld uit die Verenigde State sal neem en sal vlug nie! “Sodat elkeen wat jou sal sien, van jou af sal wegvlug en sê: Verwoes is Ninevé! Wie sal met haar medelye hê? Waar sal ek troosters vir jou gaan soek?” (Nahum 3:7). “Almal wat die tyding omtrent jou verneem, slaan hulle hande saam oor jou; want oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie?” (Nahum 3:19).

Een dag binnekort, sal Japan ophou om ons regeringsobligasies te koop – ander nasies sal volg. Ons sal nie in staat wees om ons massiewe skuld te finansier nie. Dit sal alles tuimel en val. “Hy het...die vyand oor jou bly gemaak” (Klaagliedere 2:17).

Die eiendomsmark sal ook in duie stort. Sefanja het Ninevé gewaarsku: “Verwoesting sit op die drumpel” (Sefanja 2:14). Die drumpels verteenwoordig woonplekke. Hy het geprofeteer van leë geboue met voëls wat in en uit die versplinterde vensters vlieg. “Daar word gesing in die venster” (Sefanja 2:14). Die Nuwe Amerkaanse Standaard Bybel lees, “Voëls sal sing in die venster.”

Selfs nou in Dallas, Houston en Denver sien ons die weersinswekkende gesig van leë toringgeboue: “’n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen die hoë hoekvestings” (Sefanja 1:16). Hoë geboue, soos die Trump en Zeckendorf Torings in New York Stad, verteenwoordig die trots, kompetisie en gierigheid van Amerikaanse samelewing. Die dag kom wanneer baie van hierdie torings leeg sal staan soos reuse, verrottende grafstene, vol hawelose mense.

Wanneer sal al hierdie dinge oor ons kom?

Nahum het van Ninevé gesê, “Maar die HERE sal dit oor jóu verorden...Ek sal...uitroei...want jy is te lig bevind” (Nahum 1:14). Ek glo God het reeds die gebod gegee om al hierdie geprofeteerde oordele te bring. Die woord wat ek aanhou in my gees hoor is “versnelling.” Die vuur is aangesteek – en binnekort sal dit warmer en meer intens word en uiteindelik sal dit ons hele samelewing verswelg.

Wat van God se kinders? Wat sal ons beleef? Weer word ons gedryf na die Woord om uit te vind wat die Here geproklameer en uitgevoer het in die verlede.

Het God nie nog altyd Sy volk verlos in vorige verwoestings nie? Laat ons die Skrifte deursoek: Noag en sy familie het die vloed ontvlug. Was hulle bewaar? Ja! Het Daniël en die Hebreeuse jongmanne oorleef in die vuuroond en die leeukuil? Ja! Het Lot en diegene wat ag gegee het op God se waarskuwings in Sodom gesterf? Nee!

Het Jesus nie die Jode gewaarsku om uit Jerusalem te vlug wanneer invallende leërs nader sou kom nie? Hy het gesê, “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingel sien...Dan moet julle...na die berge vlug...uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie” (Lukas 21:20-21). En Jerusalem was verwoes terwyl die gehoorsames ontvlug het – omdat hulle die Here se waarskuwing onthou het.

Selfs vir die goddelose Ninevé, het God ter wille van een regverdige man, hierdie heerlike boodskap gegee: “Die HERE is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil” (Nahum 1:7). Diegene wat luister en gehoorsaam, was nog altyd gered!

Sy vesting is ‘n versterkte huis van rots: “By U, o HERE, skuil ek..wees vir my ‘n rots om in te vlug, ‘n baie vaste huis om my te verlos. Want U is my rots en my bergvesting” (Psalm 31:2-4).

En hier is hoe ons veilig gehou sal word: “In U hand gee ek my gees oor; U het my verlos, HERE, God van trou...omdat U...my siel in die benoudhede geken het en my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan” (Psalm 31:6,8,9).

Berei nou voor vir God se naderende oordele – deur jou hart te rig op die Rots wat skuiling vir Sy eie kinders voorsien. Gee die bewaring van jou liggaam siel oor aan ons genadige en barmhartige Here.

Hoe beplan God om Sy kinders in hierdie moeilike tye te red, weet ek nie – maar by Hom is niks onmoontlik nie. Hy is ons ark van veiligheid, ons hoef nie te vrees, te vlug of weg te kruip nie. Selfs as ons hierdie wêreld verlaat deur ‘n waterstofineenstorting sal dit oombliklike verlossing wees van ‘n wêreld wat gek geword het.

Noem my ‘n doemprofeet – noem my onpatrioties – noem my nes jy wil. Maar ek is reeds ‘n burger van ‘n ander land – die Nuwe Jerusalem, wat daarbo is. Ons is veronderstel om uit te sien na ‘n stad wie se bouer en maker God is.

Laastens, Jesus het ons vooruit gewaarsku van ‘n naderende dag – so skrikwekkend dat mense se harte sou beswyk van vrees as hulle die verskrikkings sien wat oor die aarde kom. Dan sê Hy, “Kyk op en juig, want jou verlossing is naby.”