Die Krag van Vergifnis

David Wilkerson

Vergifnis is nie ‘n eenmalige daad nie, maar ‘n manier van lewe met die doel om ons in elke seëning van Christus in te bring. “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê; seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is” (Matthéüs 5:44–45).

Volgens Jesus is vergifnis nie ‘n saak waarin ons kan kies wie ons wil vergewe nie. Ons kan nie sê, “Jy het my te seer gemaak en daarom vergewe ek jou nie.” Christus vertel vir ons, “Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie?” (Matthéüs 5:46).

Dit maak nie saak teen wie ons ‘n wrok koester nie. As ons daaraan vashou, sal dit lei tot bitterheid wat elke aspek van ons lewens sal vergiftig. Onvergewensgesindheid bring ‘n geestelike droogte, ‘n swakheid en ‘n verlies aan geloof wat nie net ons nie, maar elkeen in ons kring beïnvloed.

Oor die laaste vyftig jaar van bediening, het ek verskriklike verwoesting gesien in die lewens van diegene wat vergifnis weerhou. Eenkeer het ek ‘n man gesien wat dood neergeslaan het in ‘n vlaag van bitterheid, wat veroorsaak is deur sy weiering om te vergewe. Iemand het hom berispe en hy het nooit van daardie seerkry ontslae geraak nie. Die een oomblik was hy woedend daaroor, het sy vuiste gebal en oorweldig deur dit alles, het sy lewelose liggaam oor sy lessenaar ineengestort.

Ek het egter ook die heerlike krag van ‘n vergewende gees gesien. Vergifnis verander lewens en veroorsaak dat die vensters van die hemel oopgaan. Dit vul ons beker van geestelike seëninge tot oorlopens toe vol met oorvloedige vrede, blydskap en rus in die Heilige Gees. Jesus se lering insake hierdie onderwerp is baie spesifiek en as jy in hierdie wonderlike gebied van seën wil lewe, dan is dit nodig om na sy woorde te luister en dit ten volle te aanvaar.

Jesus vertel vir ons, “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie” (Matthéüs 6:14–15). Moenie ‘n fout maak nie: God onderhandel nie hier met ons nie. Hy sê nie, “Omdat jy ander vergewe, sal Ek jou vergewe” nie. Ons kan nooit God se vergifnis verdien nie. Net die gestorte bloed van Christus kan vergifnis van sonde verdien.

Christus sê in wese, “Volle belydenis van sonde vereis dat jy ander vergewe. As jy aan enige onvergewensgesindheid vashou, dan het jy nie al jou sondes bely nie. Ware bekering beteken om elke wrok te bely en te laat staan en elke sweempie van bitterheid teenoor ander te kruisig. Enigiets minder is nie ware berou en bekering nie.”

Dit gaan hand aan hand met sy Saligsprekinge in dieselfde preek: “Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Matthéüs 5:7). Sy bedoeling: Vergewe ander, sodat jy in die seëninge en blydskap van kindskap kan ingaan. God kan dan op jou die kentekens van sy liefde giet. Inderdaad, as Jesus sê, “Wees lief en seën hulle wat jou vervloek, sodat julle kinders van julle hemelse Vader kan wees” (sien Matthéüs 5:44–45), vertel Hy eintlik vir ons, “Vergifnis weerspieël die ware natuur van God se kinders. Wanneer julle vergewe, openbaar julle die Vader se natuur aan die wêreld.”

“Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen...sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy is goedertieren oor die ondankbares en slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is...Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. Gee, en aan julle sal gegee word...want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word” (Lukas 6:35–38).

Volgens Jesus, is ‘n vyand iemand wat jou vervloek, jou haat, jou gebruik of jou vervolg (sien Matthéüs 5:44). Volgens sy definisie, het ons nie net in die wêreld vyande nie, maar somtyds in die kerk en miskien selfs in die graf.

Ek het met ‘n Christen vrou, wat vir jare onvergewensgesindheid teenoor haar pa gehad het, gepraat. Hy was lank reeds dood, maar sy was nooit in staat om hom te vergewe na jare van misbruik nie. Dit het wortels van bitterheid in haar laat opspring en dit het haar hele lewe beïnvloed. Haar blydskap in Christus het afgeneem en wanneer sy ookal gebid het, was die hemele soos koper. Onlangs het sy beswaard begin voel en ervaar hoe ‘n diepe onrus in haar groei.

As gevolg hiervan het sy ywerig God se Woord begin lees en Jesus se woorde in hierdie gedeeltes het haar onder sondebesef gebring. Stadig het sy haar bitterheid begin aflê. Vandag wandel hierdie vrou in die realm van seëninge, omdat sy krag in Christus gevind het om haar pa te vergewe. Sy het my vertel, “Ek het daardie onvergewensgesinde gees aan die Here gegee en ek kan jou nie vertel hoe groot die blydskap is wat in my lewe vrygestel is nie. Ek dank God, ek het die krag van vergifnis beleef.”

Ek dink aan die verskriklike pyn wat deur egskeiding veroorsaak word en die bitterheid wat daarop volg. Baie mense wat deur ‘n egskeiding gegaan het, sê dit is erger as die dood, want dit verander vorige geliefdes en vriende in bitter vyande. Ons bediening ontvang tragiese briewe van Christen mans en vroue wie se maat uit die huwelik uitgestap het, haatdraend geword het en probeer het om te vernietig dit wat van die familie oorgebly het.

Dit is aaklige, pynlike tragedies. Maar God maak geen voorsiening daarvoor om onvergewensgesindheid te herberg nie. Hoe dikwels het jy nie die kille woorde gehoor van iemand wat ‘n tragedie van egskeiding beleef het nie? “Ek kan hom nie vergewe nie.” “Jy weet net nie wat sy gedoen het nie.” “Ek het my redes.” Tog, nie een van hierdie dinge sal aanvaar word op die Oordeelsdag nie. En sodanige onvergifnis sluit die hemel vir ‘n persoon se lewe vandag.

Volgens God se Woord, is daar vier vereistes vir volkome vergifnis:

Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Kolossense 3:13, kursief myne). Verdra en vergewe is twee verskillende kwessies. Verdra beteken om op te hou met alle aksies en gedagtes van wraak en dit te laat staan. Dit sê met ander woorde, “Moenie sake in julle eie hande neem nie. In plaas daarvan, verdra die seerkry. Laat die saak gaan en los dit daar.”

Verdra is egter nie net ‘n Nuwe Testamentiese konsep nie. Spreuke vertel vir ons, “Moenie sê nie: Soos hy aan my gedoen het, so sal ek aan hom doen — ek sal die man vergelde na sy werk” (Spreuke 24:29). Ons word ‘n kragtige voorbeeld van teregwysing in Dawid se lewe gegee.

In 1 Samuel 25, vind ons Dawid in ‘n wraakgierige woede teenoor ‘n goddelose man genaamd Nabal. Dawid en sy manne het Nabal se groot troppe skape vir verskeie maande opgepas en in daardie tyd het hulle nooit ‘n enkele skaap geneem nie. Nou was Dawid op vlug vir Saul en hy, sy manskappe en hulle families het weggekruip in ‘n grot en was honger. Daarom het Dawid sommige van sy manne gestuur om Nabal te vra of hy vir hulle ‘n paar skape sou gee.

Maar Nabal het gelag en gesê, “Wie is Dawid? Hy is niks meer as ‘n vlugtende dienskneg nie.” Toe Dawid dit gehoor het, het hy woedend geword en gesweer, “Gee my krag, ek sal hom met hom afreken.” Toe het hy 200 manskappe bymekaargemaak en na Nabal se kamp gemarsjeer om hom dood te maak.

Maar Nabal se vrou, Abígail, het daarvan te hore gekom en sy het vinnig tussen beide getree. Sy het haar donkie vol kos gelaai en weggery om Dawid te onderskep. Sy het die krygsman met hierdie woorde gekeer: “Moenie jouself wreek deur jou eie hand nie, Dawid. Laat die Here jou stryd voer. Hy sal met jou vyande afreken. Laat dit nou staan en jy sal voortgaan om saamgebind te wees in die bondeltjie van die lewendes by jou Here. Jy is bedoel om koning van Israel te wees. Maar as jy probeer om wraak te neem hieroor, sal jy dit berou en daaroor spyt wees.”

Dawid het geweet dat hierdie raad van die Here was. Daarom het hy Abígail bedank en teruggedraai, terwyl hy vir haar gesê het, “Jy het my daarvan gered om wraak te neem deur my eie hand.” Toe Nabal kort daarna gesterf het, het Dawid God geprys omdat hy tussen beide getree het: “Here, U het my regsaak verdedig. U het my teruggehou van die kwaad om wraak te neem.”

Dawid het egter nog ‘n geleentheid gehad vir maklike wraak toe hy sy agtervolger, Saul, in ‘n grot, waarin Dawid self weggekruip het, gevind het. Saul was heeltemal onbewus van Dawid en sy manne het hom aangepor, “Dit is God wat dit gedoen het. Hy het Saul in jou hande oorgegee. Maak hom nou dood en wreek jouself.” Maar Dawid het verdra, die wraak laat staan en het eerder ‘n stuk van Saul se kleed afgesny, sodat hy later kon bewys dat hy hom kon doodgemaak het. Sodanige wyse dade is God se manier om ons vyande te beskaam en dit was juis die geval toe Dawid vir Saul die stuk kleed gewys het. Saul het gereageer, “Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het” (1 Samuel 24:18). Saul se bitter hart teenoor Dawid het versag.

Dit is die krag van vergifnis: dit beskaam haatdraende vyande, omdat die menslike hart nie ‘n suiwer liefdevolle reaksie kan verstaan nie.

Nou kom ons by vergifnis, wat twee ander gebooie behels: 1. Wees lief vir jou vyande, en 2. bid vir hulle. “Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Matthéüs 5:44).

Een wyse ou prediker het gesê, “As jy vir jou vyande kan bid, kan jy die res ook doen.” Ek het dit as ‘n waarheid in my eie lewe gevind. As ek bid vir diegene wat my seergemaak het, begin Christus om my pyn te verwyder, my behoefte om myself te verdedig en my vleeslike drang om my te wreek. En terwyl Hy dit doen, word ek gedring om te vra, “Here, wat wil U hê moet ek doen om hierdie verhouding te herstel?” Soms is sy leiding om ‘n foonoproep te maak, ‘n brief te skryf of die persoon van aangesig tot aangesig te ontmoet. Wanneer ek doen soos Hy lei, word my siel gevul met sy vrede.

Natuurlik het Jesus nooit gesê dat dit maklik sal wees om te vergewe nie. As Hy beveel, “Wees lief vir jou vyande,” beteken die Griekse woord vir “lief” nie eenvoudig “geneentheid” nie, maar “morele begrip.” Eenvoudig gestel, om iemand te vergewe beteken nie om menslik geneentheid op te wek nie, maar om ‘n morele besluit te neem om haat uit ons harte te verwyder.

Stel jou voor die diep, diep seerkry van ‘n jongman wat die verhaal van sy lewe geskryf het toe hy aansoek gedoen het vir ons Bybelskool. Sy ouers het geskei toe hy baie jonk was en sy ma het toesig gekry oor hom en sy broer. Toe hy vier was, het sy ma twee tassies gepak, hulle buite die deur van hulle huis gesit en vir die seuns gesê, “Moet nooit weer terugkom nie.” Die broers het verward en seergemaak op die sypaadjie gesit. Uiteindelik het die pa gekom en hulle opgetel en vir jare het hierdie seun sy ma gehaat omdat sy hom nie wou gehad het nie. Hy het jare van bitterheid verduur en was nie in staat om haar te vergewe nie.

Toe hy dertien was, het hy na ‘n kerkkamp gegaan waar hy hom tot Christus bekeer het. God het met hom gepraat en gesê, “As jy jou ma sal vergewe en vir haar sal begin bid, sal Ek haar verander.” Hy het begin bid en die Here het stadig sy hart teenoor sy ma verander. Hy het haar begin liefhê en binne ses maande het sy ma tot Christus gekom.

Ek is so bly dat hierdie man nou ingeskryf is in ons skool, omdat hy ‘n jeug evangelis wil word. Hy ken eerstehands die ongelooflike krag van vergifnis.

Vir my is dit die moeilikste deel van vergifnis. As Christene is ons gou om die genade van ons Here aan die wêreld te bied, maar dikwels is ons suinig om dit aan onsself uit te deel.

Beskou Koning Dawid wat owerspel gepleeg het en toe die man vermoor het om sy oortreding toe te smeer. Toe sy sonde geopenbaar is, het Dawid berou gehad en die Here het die profeet Natan na hom gestuur om hom te sê, “Jou sonde is vergewe.” Tog, selfs al het Dawid geweet dat hy vergewe was, het hy sy blydskap verloor. Hy het gebid, “Laat my vreugde en blydskap hoor: laat die gebeente juig wat U verbrysel het...Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees” (Psalm 51:10, 14).

Waarom was Dawid so ontsteld? Hierdie man was vrygespreek voor die Here en hy het vrede gehad deur God se belofte van vergifnis. Tog, dit is moontlik om jou sondes uit God se Boek uitgewis te hê, maar nie uit jou gewete nie. Dawid het hierdie Psalm geskryf, omdat hy wou hê sy gewete moes ophou om hom vir sy sonde te veroordeel. En Dawid kon homself eenvouding nie vergewe nie. Nou het hy die straf verduur omdat hy aan onvergifnis vasgehou het — ‘n on-vergifnis teenoor homself — en dit is ‘n verlies aan blydskap. Jy sien, die blydskap van die Here kom na ons slegs as die vrug van die aanvaarding van sy vergifnis.

Jare gelede het die biografie van Hudson Taylor, die stigter van China Inland Mission, ‘n groot impak op my gehad. Taylor was een van die mees effektiewe sendelinge in die geskiedenis, ‘n goddelike man van gebed, wat kerke regdeur China se uitgestrekte binneland gevestig het. Tog het hy vir jare sonder blydskap bedien. Hy was terneergedruk oor sy stryd en het gewroeg oor geheime verlange en gedagtes van ongeloof. In sy korrespondensie aan sy suster in London, het hy bely, “Ek word geteister met gedagtes dat ek nie die Here behaag nie. Ek stry so baie gevegte in my verstand en gees. Ek haat myself, my sonde en my swakheid.”

Toe, in 1869, het Hudson Taylor ‘n rewolusionêre verandering beleef. Hy het besef dat Christus alles het wat hy nodig gehad het, maar tog kon nie een van sy eie trane of berou daardie seëninge in hom vrystel nie. Hy het vir sy suster vertel, “Ek weet nie hoe om alles wat Christus belowe het binne-in my erdekruik te kry nie.” Taylor het erken dat daar net een weg was na Christus se volheid: deur geloof. Elke verbond wat God met die mens gemaak het, vereis geloof. Daarom het Taylor besluit om sy geloof op te wek, maar selfs daardie poging was tevergeefs. Ten slotte, in sy donkerste uur, het die Heilige Gees hom ‘n openbaring gegee: geloof kom nie deur strewe nie, maar deur te rus in God se beloftes. Dit is die geheim om al Christus se seëninge te verkry.

Toe het Taylor Jesus se beloftes oor en oor begin opsê: “Bly in My en jy sal vrug dra.” “Ek sal jou nooit verlaat en begewe nie.” “As jy nie glo nie, Ek bly getrou.” Taylor het opgehou probeer om Christus na te volg en in plaas daarvan, het hy begin rus in Jesus se belofte van voortdurende eenheid met Hom. Hy het aan sy suster geskryf, “God sien my as dood en begrawe by die Kruis, waar Christus vir my gesterf het. En nou vra Hy my om myself te sien soos Hy my sien. Daarom rus ek in die oorwinning wat sy bloed vir my behaal het en ek ag [reken] dit so. Ek het dieselfde vermoë om te sondig as tevore, maar nou sien ek Christus met my soos nooit tevore nie. Wanneer ek my sondes gou bely, glo ek hulle word onmiddellik vergewe.”

Taylor het homself vergewe vir die sondes wat Christus gesê het reeds in die see gewerp is. En omdat hy gerus het in God se beloftes, was hy in staat om ‘n vreugdevolle dienaar te word, terwyl hy voortdurend sy bekommernisse op die Here gewerp het. Dit is wanneer almal van ons in daardie verbond met God intree: so gou as wat ons rus in sy Woord vir ons en op sy beloftes vertrou.

Jy glo jou sondes van die afgelope jare en maande is vergewe. Jy het dit bely en het God se belofte van vergifnis aanvaar. Maar glo jy dieselfde oor gister se sondes? Soos Hudson Taylor, het jy dit vinnig bely en geglo dat hulle onmiddellik vergewe is?

God plaas nooit ‘n tydsbeperking op die oomblik van ons belydenis en sy vergifnis nie. “Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel” (Psalm 138:3). “Reken on die ongeregtighede van die voorvaders nie toe nie: laat u barmhartighede ons gou tegemoetkom” (Psalm 79:8). Die Hebreeuse woord vir “gou” hier beteken, “Stuur u barmhartigheid gou na ons toe, selfs nou.”

Sê vir my, hoe is jou oggende? Word jy wakker met ‘n donker wolk oor jou kop? Het jy skuldgevoelens en begin jy dadelik aan jou mislukkings dink? Is jou eerste gedagtes, “Ek is so swak en sondig”? Hier is wat God se Woord sê oor hoe jou oggende moet wees: “Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag” (Psalm 96:2). God se barmhartighede is nuut elke more. So, dit maak nie saak wat jy gister gedoen het nie, of selfs in hierdie uur nie, wanneer jy dit waarlik bely het, is dit alles onder die reinigende bloed van Christus.

As jy glo in oomblik tot oomblik barmhartighede — as jy vertrou dat Hy meer gewillig is om te vergewe as wat jy is om te bely — staan dan in die oggende op en sê aan die duiwel, “Dit is die eerste dag van die res van my lewe. Ek laat al daardie dinge agter wat in die verlede gebeur het — al my vorige mislukkings en sondes — en ek reik uit na vandag met ‘n nuwe begin. Vandag is die dag van die Here se verlossing!”