Die Krag van die Binnekamer

David Wilkerson

“Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde" (Matthéüs 6:6).

As Jesus daarvan praat om in jou binnekamer in te gaan om die Vader te soek, praat Hy van iets baie groter as ‘n fisiese binnekamer. Die Ou Testament sê vir ons God verdeel Sy volk in twee kategorieë: “Hulle wat My soek – en hulle wat My nie soek nie!” En God het vandag ook twee soorte kinders – hulle wat hom gereëld soek in hulle binnekamer van gebed, en diegene wat dit nie doen nie.

Toe God kwaad geword het vir Israel oor hulle afgodery, het Moses sy gebedstent buite die laer opgeslaan. Die Skrif sê “elkeen wat die HERE wou raadpleeg, het uitgegaan na die tent van samekoms wat buitekant die laer was” (Exodus 33:7).

Te midde van al die afgodery wat plaasgevind het in Israel, was daar steeds ‘n volk van God wat tyd gemaak en moeite gedoen het om die Here te soek met hulle hele hart! Hierdie soekende oorblyfsel het uit die afgodiese miljoene in Israel gekom. Hulle het geweet hulle moes buite die laer gaan, anders sou hulle ook in afvalligheid verval het wat onder die mense versprei het.

Eeue later, het die mense onder Koning Asa verstaan waarom God hulle geseën en voorspoedig gemaak en hulle in vrede laat bly het tussen al hulle vyande: “Want ons het die HERE onse God gesoek – ons het gesoek, en Hy het ons rus verskaf rondom. Hulle het toe gebou en was voorspoedig” (2 Kronieke 14:7).

Op een stadium tydens Asa se heerskappy, het ‘n leër van een miljoen Kusiete teen Israel opgetrek. “En Asa het die HERE sy God aangeroep en gesê...HERE, U is onse God; laat geen sterfling naas U magtig wees nie. En die HERE het die Kusiete voor Asa...verslaan, en die Kusiete het gevlug...want hulle was verbreek voor die aangesig van die HERE” (2 Kronieke 14:11-13). Toe Asa aangeval is, het hy op sy aangesig geval en Hom tot God gewend in gebed – en God het hom verhoor met oorwinning!

Kort na daardie triomf het Asárja, die profeet, na Asa gekom en gesê: “Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat” (2 Kronieke 15:2). Met ander woorde, “As jy ophou om God te soek – as jy ophou smag na Hom en Sy naam aanroep in alles wat jy doen – sal Hy jou verlaat!”

Asárja het geweet, weens God se groot verlossings sou die koning versoek word om hoogmoedig te word en hom te wend na die vlees. Elke keer wat Israel hierná die Here gesoek het, het God hulle geseën:

“Maar as hulle in die nood hul tot die HERE, die God van Israel, bekeer het en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind” (2 Kronieke 15:4).

Die volk het geweet waar hulle krag en oorwinning te vinde was – om God te soek met hulle hele hart! “En hulle het die verbond aangegaan om die HERE, die God van hulle vaders, met hul hele hart en met hul hele siel te soek...Én die hele Juda was verheug oor die eed, want hulle het met hul hele hart gesweer en met hul hele wil Hom gesoek; en Hy het Hom deur hulle laat vind, en die HERE het hulle rus verskaf rondom” (2 Kronieke 15:12,15).

Israel het rus geniet toe hulle God in gebed gesoek het! Dit beteken nie dat hulle geen probleme gehad het nie. Maar omdat hulle op hulle aangesigte geval het en uitgeroep het tot God, hulle na Hom gewend het in algehele afhanklikheid, het Hy hulle altyd verlos en hulle orde en krag gegee.

Dit is geskryf van Koning Ussia, “En in die dae dat hy die HERE gesoek het, het God hom voorspoedig gemaak...en sy roem is verbrei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy sterk geword het” (2 Kronieke 26:5,15). Omdat Ussia God gesoek het, het die Here hom versterk en orde na sy koninkryk gebring. Maar in sy voorspoed, het hierdie koning opgehou om God te soek. Hoogmoed het ingesluip en sy hart was opgehef. Ussia het hom gewend na die arm van die vlees – en hy het op die ou end ‘n melaatse geword en in skande gesterf!

Jeremia het geprofeteer dat alle herders wat weier om God in gebed te soek, net so sou misluk: “Want die herders het dom geword en die HERE nie gesoek nie; daarom was hulle nie voorspoedig nie, en hulle hele kudde is verstrooi” (Jeremia 10:21).

Slegs ‘n handvol herders soek God werklik in gebed vandag!

Die toneel wat Jeremia beskryf, is inderdaad presies wat ons in die kerk van Jesus Christus sien vandag. Talle herders het lui en agterlosig geword. Hulle sien hulle roeping slegs as ‘n werk – ‘n besoldiging! Hulle leun op die arm van die vlees en wend hulle na boeke en kommentare vir hulle preke in plaas daarvan om deur gebed te soek om God se hart te ken. Hulle het al hulle krag verloor om die skape te voed en in orde te hou – en die skape word uitmekaargejaag.

Die eenheid wat kerke eens sterk gehou het, word nou verbreek. Christene is uitgehonger vir die evangelie en hardloop van van een plek na ‘n ander net om ‘n krummeltjie te kry om hulle harte se verlange te versadig.

Jeremia het van sy tyd gesê: “My tent is verwoes, en al my lyne is afgeruk” (Jeremia 10:20a). Die lyne waarvan hy praat – die bindende krag van God wat eenheid onder die mense bewaar het – is verwoes. “My kinders het van my af weggegaan” (Jeremia 10:20b). Die kudde was weg – uitmekaargejaag! “Daar is niemand meer wat my tent uitspan en my tentdoeke opsit nie” (Jeremia 10:20c). Daar was soveel onreinheid onder die priesterskap, dat niemand dit gewaag het om naby die heilige dinge van God te gaan nie. Geen priester was waardig om die heilige voorhangsel aan te raak nie!

Miskien sit jy onder die soort herder wat Jeremia beskryf. Miskien het jou herder moedig begin, was hy toegwyd aan gebed, en God het hom geseën en voorspoedig gemaak. Daar was eenheid in die kerk, omdat gebed eenheid skep. Maar nou is alles verwoes – God moes Sy gesig wegdraai – omdat Hy van alle lui herders en Christene moes sê, “Hulle soek My nie meer nie!” Die Here maak ‘n duidelike onderskeid tussen hierdie soort gelowiges en diegene wat Hom in gebed soek. Nou wil ek praat met diegene wat God wel soek:

Die krag van die binnekamer kom eerstens deur ‘n binnekamer te hê!

Het jy ‘n binnekamer? Ek bedoel nie ‘n klerekas nie (hoewel dit ook kan werk) maar, eerder – het jy ‘n gewoonte om jouself met God af te sonder?

Om ‘n “binnekamer” te hê, beteken bloot om jouself met God af te sonder enige plek, enige tyd – en vir Hom kwaliteit, gekose tyd te gee om na Hom te smag, Hom te soek en Sy Naam aan te roep.

“Gebedsbinnekamer” beteken “gebedsgewoonte.” Het jy ‘n daaglikse gewoonte om alleen by God uit te kom? Dit is waaroor die gebedsbinnekamer gaan – gewoonte. Dit gaan daaroor om jouself te dissiplineer om voor God te kom – om te antwoord wanneer die Gees se bearbeiding jou roep. Dit beteken om ‘n hart te hê wat sê, “Ek moet alleen by God uitkom – ek móét met my Vader praat vandag!”

Soms is my binnekamer my motor, wanneer ek alleen is. Dit is dikwels my studeerkamer by die huis. Dit is ook ‘n plattelandse paadjie in Pennsylvanië, waar ek my soms afsonder om alleen saam met die Here te wees. Dit is ‘n wandeling in die strate van New York Stad. ‘n Paar weke gelede was dit ‘n strand in Florida, waar ek vir ure geloop het, afgesonder met God.

Die soort gebed waarvan ek praat, het te doen met intimiteit met God – alleenheid saam met Hom! Jesus het gewaarsku oor skynheiligheid in gebed. Hy het ‘n dramatiese onderskeid getrek tussen hulle wat God soek in die binnekamer, en hulle wat só bid dat hulle deur ander as heilig gesien kan word!

Skynheiliges is akteurs – mense wat heilig optree om die lof van ander te ontvang. Jesus het gesê daar is talle sulke akteurs in Sy kerk: “En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word. Voorwaar Ek sê vir julle dat hulle hul loon weg het" (Matthéüs 6:5).

Ons vlees is lief daaroor om applous te ontvang en gekomplimenteer te word. Maar God kan nie ons vlees – dit is, ons sondige natuur gebruik nie – omdat ons vlees nie hervorm of heilig gemaak kan word nie. Wanneer ons weergebore word, raak God ontslae van ons vlees; Hy maak ons nuwe skepsels deur Sy Gees. Ons vlees moet heeltemal afgewerp word en oorgelaat word om te sterf!

Die vlees kan egter in ons aan die werk gesien word, wanneer ons dinge vir God doen, maar nie kan verstaan waarom ander dit nie kan waardeer nie. Ons vlees wil sy eie beuel geblaas hê!

“Die geveinsdes...hou daarvan...om...te staan en bid”- of so wil hulle hê jy moet glo! Hulle bid in die kerk, hulle gaan na gebedsbyeenkomste toe – maar hulle het geen gebedsgewoonte nie! Hulle sonder hulself nie alleen saam met hulle Vader in gebed af nie.

Ek onthou dat ek gehoor het van een herder se reputasie as ‘n man van gebed. Mense het vir my vertel, “Hy bid agt uur per dag.” Ek het gedink, “Sjoe! Hy moet ‘n goeie prediker wees. Ek wil hom graag ontmoet!”

Ek het hierdie man ontmoet – en ek het hoegenaamd niks anders aan hom beleef nie. Toe het dit my getref: As hy agt ure per dag in gebed deurgebring het, sou mense dit geweet het bloot deur die veranderinge in sy karakter. Maar daar was geen verandering nie! Duidelik het hulle geweet van sy lang nagwake slegs omdat hy dit vir hulle vertel het – hy het sy eie beuel geblaas!

Geliefde, God hoor nie eens een woord van die gebede van skynheiliges nie – omdat daardie gebede nooit bedoel was vir Sy ore nie! En Jesus sê hulle het geen beloning van die Vader nie!

In hierdie boodskap egter, praat ek nie net van skynheiliges nie – maar van goeie, eerlike, gelowige Christene. Ek is werklik geskok oor hoe min gelowiges nie ‘n wonderlike, daaglikse gemeenskap met die Here geniet nie. Die oorgrote meerderheid bid slegs in die kerk en by maaltye, met miskien ‘n paar vinnige woorde aan God voor bedtyd. Hulle het geen gewoonte van gebed nie – dit is, tot ‘n krisis opduik, en dan is hulle vinnig om hulle hoofde te buig!

Ek kan dit nie help nie, maar ek voel ‘n heilige woede in my opstaan wanneer iemand sê, “Broer Dave, jy moet bid, want dit is jou werk. Dit is jou roeping as ‘n prediker. Maar ek is nie in die bediening nie – ek is nie daartoe geroep nie.”

Nee! Die gewoonte van daagliks tot God nader, is bedoel vir elkeen van ons! Die rede waarom so baie Christene nie krag in hulle lewens het nie, is omdat hulle nie ‘n gebedslewe het nie. Hulle mag miskien een keer per week bid, of wanneer hulle daarna voel.

Geliefde, daar is absoluut geen krag in lukrake aan-en-af gebed nie! “Jou Vader wat in die verborgene sien” (Matthéüs 6:6). God sien in die verborgene – in die dieptes van jou hart! Hy sien jou gebrek aan belangstelling. Hy sien al die tyd wat jy spandeer aan dinge wat jy dink nodig is – aan vriende, die ure wat jy mors voor ‘n TV. En Hy sien jou na Hom kom as ‘n nagedagte – of slegs uit oortuiging van sonde of selfveroordeling!

Die binnekamer is enige plek waar ‘n kind van God die wêreld uitsluit – en homself alleen met God afsonder, om Hom te soek en te bid!

Jesus het duidelik gesê, “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid” (Matthéüs 6:6). Met ander woorde, wanneer jy jou binnekamer binnegaan, moenie begin bid totdat jy die deur gesluit het nie!

Dit beteken, moenie met jou Vader praat met ‘n verstand wat in ‘n warboel is nie. Sluit al die gedagtes uit wat jou laat aanhou wegdrywe van Hom af. Wees waaksaam, gefokus, sonder om woorde te mors of aan iemand anders te dink. Jy kan jou gedagtes laat dwaal wanneer jy met vriende praat, of wanneer jy by die werk of in die skool is. Maar wanneer jy in die teenwoordigheid van die Koning kom, sê die Bybel, “Hy sien in die verborgene!”

Talle mense bid vir lang ure, maar hulle is kragteloos in hulle daaglikse wandel. Hulle wonder waarom antwoorde nie kom nie, waarom hulle nie oorwinning behaal nie. Dit is omdat hulle bid met hulle binnekamer se deur wawyd oop! Hulle laat die deur oop vir afleidings – en God verhoor nie halfhartige, onopregte gebede nie!

Gaan jy in die binnekamer in en bid lukraak vir ure lank, haelgeweerstyl – en bereik nooit die teiken van God se oor nie, omdat jy nie weet wat jy wil hê of nodig het nie?

Moenie mislei wees nie – dit verg ernstige konsentrasie om te bid! Wanneer jy jou binnekamer binnegaan, sluit die deur en haal die telefoon van die mikkie af! Enige kind van God wat sy hart daarop instel om die Vader te soek, sal wat ek noem “sataniese onderbrekings” beleef. Die duiwel sal kom om jou te onderbreek – om jou gedagtes te plaas op enige ding behalwe jou hemelse Vader.

Geliefde, hierdie dissipline is absoluut noodsaaklik. As ons God wil ontmoet en deur Hom gehoor wil word, dan moet ons wees waar Hy is – in die verborgene! “Jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde" (Matthéüs 6:6). God het jou uitgenooi om met vrymoedigheid na Sy troon van genade te kom – en dit is agter geslote deure!

God se troonkamer is nie soos die federale hofsaal in Manhattan se middestad nie. Ek het eenkeer na daardie hof gegaan, en ek het gewonder hoe die regter sy gedagtes op die sake voor hom kon hou. Hofstenograwe het gekom en gegaan, prokureurs het rondgeloop en gepraat – soms was dit ‘n lawaaiboel. Elke nou en dan moes die regter sy hamer slaan en skree, “Stilte!”

Maar daar is glad nie sulke ellende in God se teenwoordigheid nie. Daar is geen eindelose rye van mense wat wag om te verskyn nie, geen siele wat rondloop en die aandag aflei nie. Wanneer jy God se troonkamer binneloop en die deur agter jou toesluit, is dit net jy en die Vader. Jy is alleen in Sy teenwoordigheid – en jy is Sy enigste belang!

Ek moet jou vra: Tree jy op in jou hemelse Vader se teenwoordigheid op maniere wat jy nooit sou waag om voor jou burgemeester of goewerneur of president op te tree nie? Laat ons sê jy wil die president vra vir ‘n uur van sy tyd. Dan, wanneer jy sy kantoor binnegaan, sit jy daar met jou gedagtes wat dwaal, miskien kyk jy na iemand wat buite tennis speel. Hoe lank dink jy sal jy geduld word in sy teenwoordigheid?

Wanneer jy ingaan om jou Vader in gebed te soek, sluit die deur sodat niks en niemand kan binnekom nie – nie hoogmoed of afleidings nie! Sluit dit letterlik, sluit dit geestelik – en neem elke gedagte gevange tot gehoorsaamheid aan Christus!

‘n Binnekamer beteken ook kwaliteit tyd!

In die Ou Testament, kon mense nie die altaar nader met ‘n lam met ‘n smet of wat blind of kreupel was nie. Hulle moet hulle heel beste na die Here bring.

Ek vra jou – watter soort tyd bring jy na jou binnekamer? Is dit jou beste tyd, jou wawyd wakker tyd? Of, liewer:

*Kom jy na God moeg en gedaan na ‘n besige dag, terwyl jy jouself in Sy teenwoordigheid insleep met swaar ooglede? As jou gedagtes begin dwaal omdat jy moeg is, wees eerlik daaroor. Sê, “Jesus, ek is te moeg om te bid vanaand. Ek gaan nou bed toe en wanneer ek opstaan, sal ek vir U ‘n beter uur gee.”

*Kom jy na Hom in die oggende om oor heilige dinge te bid – maar jou gedagtes is op die motor wat gewas moet word daardie dag? Geliefde, jou gedagtes en hart moet wees waar jou lippe is! Jesaja het gesê hierdie soort “brandoffers en...slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ‘n huis van gebed genoem word vir al die volke” (Jesaja 56:7). Diegene wat aanvaarbare offers bring, sê God, is diegene wat “by die Here aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê” (Jesaja 56:6).

Dierbare heilige, dit is die enigste aanvaarbare offer om by God se altaar te bring! Dit is nie ‘n slap, halfhartige, slaap-oë offer nie – ‘n ter elfder ure verpligte offer nie. Nee – dit kom uit ‘n hart wat verteer is met ‘n liefde vir Jesus, een wat voortdurend uitroep, “God, ek kom na U toe vandag om U te ken. Ek wil gelei, tereggewys en instruksies gegee word deur U. Ek wil gehoorsaamheid leer, om U weë te verstaan. Ek wil meer van U hê!”

Hulle wat sulke offers bring, sê die Here, “hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed” (Jesaja 56:7). Hy sal ons gebede verhoor – en Hy sal ons by ‘n plek van heiligheid, blydskap en krag bring!

Die binnekamer is ‘n plek waarheen ons kom met ons hele hart!

“Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek!” (Psalm 119:2).

Wanneer jy eers ‘n gewoonte gevestig het (‘n binnekamer) en alle afleidings uitgesluit het, begeer God vir jou om Hom te soek met jou hele hart: “Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek” (Deuteronómium 4:29).

Dit was Moses se woorde aan Israel op sy sterfbed. Hy het geweet dat groot beproewings en verdrukkings vir Sy mense voorgelê het – en Hy het hulle die sleutel tot oorwinning gegee:

“As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie” (Deuteronómium 4:30-31).

Moses het gewaarsku, “Dit maak nie saak waardeur jy gaan nie, moenie murmureer of kla nie. Moenie jou wend tot die mens of na die vlees nie. Wend jou tot die Here, en soek Hom in gebed! Hy beloof dat as jy Hom net sal soek met jou hele hart, sal Hy jou deurdra.”

Om in die binnekamer te wees, beteken om voor God te kom vir een doel: om jouself uit te stort! Dit beteken dat alles binne-in jou uitreik na God – jou hele hart, siel, verstand en krag. Soms kan jy dit doen sonder ‘n woord. Al wat saak maak vir jou hemelse Vader is dat jy na Hom toe kom met alles wat binne-in jou is!

Jesus het ‘n beloning beloof: Orde in jou lewe!

Jesus het gesê dat wanneer ons na ons binnekamers gaan – onsself afsluit van alle afleidings en onsself heeltemal oopmaak vir God – sal ons Vader ons openlik beloon. “Jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde" (Matthéüs 6:6).

Daar is baie belonings wat na ons toe kom deur die krag van die binnekamer. Maar daar is een spesifieke beloning wat die Heilige Gees aan my geopenbaar het – en ek wil hê jy moet dit weet!

Die Bybel sê Jósafat het “die HERE met sy hele hart gesoek” (2 Kronieke 22:9) – en omdat hy God gesoek het, het hy vyf-en-dertig jaar van orde in sy koninkryk geniet. Hy het krag by God gehad en krag oor al Israel se vyande. Selfs as aanvalle van alle kante af gekom het, het God dit vinnig gefnuik – omdat die volk die Here onmiddellik gesoek het. Daar was altyd orde, nooit chaos of verwarring nie. Waarom? Omdat hulle die Here gesoek het!

Maar toe het Jósafat se seun, Ahásia, aan bewind gekom – en hy het nie die Here gesoek nie. Ahásia was gedood deur Jehu, en “En daar was niemand in die huis van Ahásia wat in staat was om te regeer nie” (2 Kronieke 22:9). Ahásia het geen krag gehad om orde te handhaaf soos sy vader het nie – omdat hy biddeloos was!

Dierbare heilige, jou koninkryk is jou huis. En as jy nie ‘n binnekamer – ‘n daaglikse gewoonte het om God te soek nie – dan het jy geen krag om orde in jou huishouding te bring nie. Die duiwel kan chaos daarheen bring – jou werk, jou familie, jou verhoudings! Jy sien, die krag van die binnekamer is krag oor alle verwarring en wanorde – in jou lewe, jou familie, jou werk, jou kerk!

Daar is ‘n goeie woord vir almal wat vasbeslote is om die Here te soek!

God belowe dat as jy Hom voortdurend sal soek met jou hele hart, sal jy altyd ‘n oorvloed van geestelike voedsel hê:

“En Saron sal ‘n weiveld vir kleinvee word, en die dal Agor ‘n lêplek vir beeste, vir my volk wat My gesoek het” (Jesaja 65:10).

Diegene wat God egter nie gesoek het nie, sal leeg, uitgehonger en droog wees – terwyl hulle ronddwaal en soek na ‘n herder, honger en nooit versadig nie. Die Bybel sê hulle “sal honger bly...dors wees...beskaamd staan” (Jesaja 65:13). “(Maar) my knegte sal eet...drink...bly wees...jubel...vrolik” (Jesaja 65:1-14) wees. Diegene wat afgesonder is met God – hulle siel uitstort voor Hom, Hom in alles soek – sal mag, gesag, geestelike krag, voedsel vir siel en verstand hê. Hulle sal gelei word deur God na ‘n plek van geestelike rus en volheid!

Ja, daar is krag wat verkry word deur God te soek – krag om te verstaan wat in jou lewe gebeur: “Die wat die HERE soek, verstaan alles” (Spreuke 28:5). Hou aan soek, bid – en God sal vir jou ‘n begrip gee van wat jy beleef! “Julle wat na God soek, laat julle hart lewe!” (Psalm 69:33).

 Psalm 91 is baie gelowiges se gunsteling gedeelte in die Skrif. Watter groot beloftes word hier gevind! Die hele psalm is ‘n openbaring van die verlossende, bewarende krag wat kom van in ‘n gesindheid leef van God soek. Die mens wat in hierdie omgewing van gebed leef, sal krag hê oor alle demoniese strikke, alle vrees, alle siektes en pes – krag om te oorwin en resultate in gebed voort te bring!

Maar daar is ‘n voorwaarde hiervoor. Dit word gevind in vers 1: “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.” “Sit” beteken “om te leef.” Leef jy in jou binnekamer – in die skuilplek van die Allerhoogste? Is dit jou tuiste enige tyd van die dag?

Jy mag wonder, “Beteken dit ek moet afgesonder wees met God die hele tyd?” By wyse van spreuk, ja! Paulus sê ons moet bid sonder ophou. En Dawid sê, “Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur” (1 Kronieke 16:11).

Dierbare heilige, in al jou ure wat jy nie slaap nie, laat jou gedagtes op God gerig wees. Hou gemeenskap met Hom. Smag na Hom te alle tye. Dwarsdeur die dag, in alles, roep Hom aan in jou gees – en jy sal Sy krag en orde in al jou treë ken! Amen!