Die Koningin in Goud!

Die Bruid van Christus
David Wilkerson

Die 45ste Psalm verskaf vir ons ‘n pragtige beeld van Christus en Sy bruid. ‘n Groot bruilof is op die punt om plaas te vind en die skrywer word “bewoë” van ekstase en opwinding: “My hart word bewoë deur goeie woorde...  (Psalm 45:1).

Die psalmis kan homself skaars inhou. Hy probeer om iets te beskryf wat hy in sy geestesoog sien – ‘n ontsaglike seremonie, met ‘n deftige en glorieryke Bruidegom en ‘n pragtige bruid geklee in goud!

Verskeie jare gelede, was die hele wêreld gemesmeriseer deur die koninklike bruilof in Engeland. Miljoene dwarsdeur die wêreld vas vasgenael voor hulle TV-stelle toe Prinses Diana en Prins Charles getrou het. Dit was een van die mees glansende en gevierde bruilofte in die hedendaagse geskiedenis.

TV netwerke het “kleurvolle kommentators” gehad wat elke besonderheid van die verrigtinge beskryf het. Nuusbrokkies het die vorstelike, koninklike lewe van Charles uitgesaai – sy polowedstryde, sy pligte as prins en sy erfenis as die volgende koning van Engeland – sy troon, sy rykdom, sy paleis.

Die kommentators het ook in voortreflike besonderheid alles oor Prinses Diana beskryf. En die beeld was ongelooflik: haar haarstyl, haar koninklike rok, haar gevolg, haar skoene, haar ornamente, haar ring, haar blomme, haar koninklike koets. Selfs tydens die huwelikseremonie, terwyl die paartjie saam by die altaar gestaan het, het ‘n kommentator in die mikrofoon gefluister: “Is dit nie pragtig nie? Kyk na haar skoene, haar blomme...”

Dit was romanties, asemrowend – ‘n prins en ‘n prinses verening in ‘n heilige huwelik “tot die dood ons skei.” Mense dwarsdeur die wêreld het gehuil oor die toneel. Maar vandag belewe ons hoe hierdie huwelik disintegreer tot een van die smerigste, lelikste huwelikverbrokkelings op die hele aarde!

Die bruilof beskryf in Psalm 45, aan die ander kant, is ‘n vereniging ver meer glorieryk en voortreflik. Dit is ook vol romanse, prag en majesteit – maar dit is ‘n huwelik wat nooit sal eindig nie. Dit is bedoel vir ewige heerlikheid!

Hierdie bruilof handel oor Koning Jesus wat ‘n bruid neem!

Op hierdie oomblik, sit ek en jy in hemelse plekke saam met Koning Jesus. Tog, baie beter as dit, ons is verloof aan Hom! En binnekort gaan ‘n groot en glorieryke bruilof plaasvind – ‘n majesteuse koninklike huwelik bokant enigiets wat hierdie wêreld nog ooit gesien het. Die kommentator vir hierdie bruilof is die Heilige Gees, wat ‘n glorieryke toneel voor ons openbaar:

  • Koning Jesus wat voor Sy troon staan – Sy koninklike septer in Sy hand, Sy klere vol van die wonderlike aroma van mirre en aalwyne. Hy het gekom uit die ivoorpaleis van Sy Vader, waar Hy gesalf is met die olie van blydskap.
  • Hy is geklee in Sy volle millitêre kroonsierade. Sy glinsterende swaard is vasgegord aan Sy dy. Hy het al Sy vyande oorwin, en Sy koninkryk is veilig. Hy heers in vrede en mag, Oorwinnaar oor alles. En, die Skrif sê, Hy is “... veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op U lippe...” (Psalm 45:3).
  • Elke oorlog wat hierdie Koning gevoer het – elke vyand wat Hy verslaan het, elke daad van genade en barmhartigheid wat Hy bewys het – was vir Sy bruid. Dit is alles bedoel vir hierdie oomblik. En nou is Hy in ekstase, skitterend van blydskap, vol opwinding – omdat Hy uitsien om verenig te word met Sy pragtige bruid. Hy staar met die lang gang van die paleis af, wag vir haar om nader te kom met haar hele gevolg!

Die psalmis sê vir ons dat die Bruidegom ‘n bruid uit talle eerbare dogters in die koninkryk kon gekies het. “Dogters van konings is onder u staatsdogters...” (Psalm 45:10). Maar Hy het slegs een gekies: “...die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir” (dieselfde vers).

Ofir was die suiwerste, mees gelouterde goud wat in daardie dae gemaak is. En hierdie bruid is daarin getooi. Wat ‘n prentjie was sy, terwyl sy “...na die Koning gelei...” word (Psalm 45:14). Sy gloei absoluut, omdat haar hart rein is.

Haar goue rok glinster met ontsaglike naaldwerk. Dit is nie een of ander bruidskleed wat uit eindelose meters gekies is nie; dit is ingewikkeld ingeweef met draadjies van die suiwerste goud. En die goue ornamente skitter skouspelagtig.

Die koningin in goud stap na die Koning met groot gejuig. En wat ‘n heerlike geluid – tamboeryne, basuine, snaarinstrumente! Agter haar, so ver as die oog kan sien, is haar gevolg – ‘n leër van maagde, almal in wit getooi, singend, dansend, jubelend met groot blydskap. Die bruid lei die hele prosessie – en hulle kom om die Koning van die Konings en Here van die Here te ontmoet.

Uiteindelik neem die koning haar plek in aan die Koning se regterhand. En almal juig – omdat dit die koninklike bruilof van die ewigheid is! “...jonkvroue agter haar, haar vriendinne, word na U gebring. Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in” (Psalm 45:15-16).

Praat van ‘n Heilige Gees herlewingsbyeenkoms! Kan jy jou die toneel indink? Hierdie bruilof is die doel, die hoogtepunt van die hele Skepping. Daar staan Koning Jesus, Sy hart vol blydskap. En hier kom Sy bruid – die verlostes van die mensdom – geklee in suiwer goud, die geregtigheid van Christus!

Ek wil egter vir ‘n oomblik hier stop. So ver, lyk dit soos nóg ‘n romantiese, koninklike bruilof. My vraag is: Wie is hierdie bruid in goud?

Sommige kommentators sê hierdie psalm beskryf bloot ‘n historiese bruilof tussen Koning Joram en Atalia. Kenners wys dat daar ‘n groot, koninklike bruilof op daardie tydstip was. Maar om te sê hierdie psalm gaan oor daardie bruilof, is blote gissing.

Ek stem saam met die meeste geestelik-denkende kenners dat hierdie psalm messianies is. En ek glo sy boodskap is baie duidelik: Dit gaan oor Jesus en Sy bruid! Die Bruidegom is ons Koning en Here, Jesus Christus. En die bruid is Sy kerk – gelowiges wat hulleself voorberei het vir Sy koms – wat smag na Hom met groot verwagting, en wie se harte sonder vlek of rimpel is.

“En ek, Johannes het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is...En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam.

“En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal, en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen” (Openbaring 21:2,9-11).

Hierdie beeld in Openbaring 21 is ‘n pragtige beeld van die laaste-dag kerk van Jesus Christus! Die groot, heilige stad wat uit die hemel neerdaal is Sy vlekkelose bruid – die seëvierende kerk wat huidiglik saam met Hom in hemelse plekke sit. Hierdie kerk is gebou op die fondament van evangelie waarhede van die twaalf apostels. En dit is omring deur mure en poorte wat alles wat onrein en ongenooid is, buite hou.

Die Skrif praat ook van suiwer, kristalhelder water, wat ‘n rein gewete verteenwoordig. En dit is nog ‘n komponent van hierdie laaste-dag kerk: dit is deursigtig, suiwer en wandel in die lig – met geen ander tempel as Christus nie!

Terwyl die Koningin voor haar Bruidegom staan, die bruilof op die punt om te begin, word die stem van ‘n derde party gehoor!

Die koningin in goud is gerespekteerd, begunstig en deftig versier. En nou staan sy aan haar Geliefde se regterhand, die bruilof op die punt om plaas te vind. Maar voor die seremonie begin, fluister ‘n stem ‘n waarskuwing aan haar: “Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor...” (Psalm 45:10).

Ek glo hierdie stem is die Heilige Gees, wat almal waarsku wat met Sy Naam genoem word. Hy spreek ‘n woord aan die oorwinnaars – aan dié wat Jesus die liefste het – en sê, “Luister, dink daaroor na, gee ag!” Hierdie stem kom na die bruid in die laaste oomblikke, net voor die huwelik volvoer word.

Nou moet jy verstaan – die koningin is reeds gekies. Haar hart is reeds gewen deur haar Bruidegom. Sy het haar huis, familie en land verlaat en het haarself aan Hom verbind. En sy is vol blydskap omdat sy die Koning passievol liefhet.

So, laat my vir jou vra: Dink jy aan jouself as deur die Here uitverkies? Is jy die bloedbedekte, verloste appel van Sy oog? Het jy Hom lief met jou hele hart? Het jy die hele wêreld verlaat, jou hele verlede, vir Hom? Kan jy sê, “Hy is myne, en ek is aan Hom verbind. Here, ek het U lief met my hele hart!”

My punt is dit: As jy deel wil wees van die bruid van Christus, moet jy begaan wees oor meer as net om van ‘n hel sonder God te ontsnap. Jy moet liewer begeer om nie afwesig te wees op daardie groot bruilofsdag nie! Jy moet sidder aan die blote gedagte van nie Sy bruid wees nie – om nie in Sy omhelsing te wees nie, om nie die ewigheid met Hom deur te bring nie.

Die Heilige Gees se boodskap aan die bruid was: “...vergeet u volk en die huis van u vader” (Psalm 45:11). Die kalm, sagte stem het gefluister, “Dit is nie net genoeg om jou verlede agter jou te laat nie. Jy moet ook dit alles vergeet – haal dit uit jou gedagtes uit – alle vorige liefdes en aandagafleiers!”

Jesus het gesê, “...So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie” (Lukas 14:33). En die boodskapper hier sê vir die bruid, “Bereken jy die koste terwyl jy jou voorberei om met Hom verenig te word? Of gaan jy vir Hom net lippediens gee ná die bruilof? Het jy ‘n verbintenis begin wat jy gewillig is om te volbring? Of gaan jou gedagtes terug na dinge in jou verlede – ou vriende, ou gewoontes, ou liefdes? As jy jouself verbind aan hierdie huwelik, dan moet jy nie net jou verlede agterlaat nie – jy moet dit heeltemal vergeet!”

Is die Heilige Gees se woorde ‘n oproep vir ons om fisies familie, werk of loopbaan te verlaat? Nee – nooit! Sy waarskuwing is nie ‘n verskoning om die verpligtinge van die huwelik of familie te ontvlug nie. Die Bybel is in werklikheid vol bevele en waarskuwings oor om vir ons huishouding te sorg. Ons moet ons maat aanhang, vir ons familielede sorg en ons kinders opvoed in die vrees van God.

Nee, dit is nie slegs ‘n fisiese oproep nie. Wanneer Jesus praat van sommige “wat nie alles verlaat nie,” praat Hy van hulle wat van Hom afvallig word en aan afgode vasklou. ‘n Afgod is enigiets wat die enkele fokus word van ons toewyding – enigiets wat ons tyd, aandag, geld, liefde en belangstelling in besit neem.

“En die HERE, die God van hulle vaders, verlaat...en hulle het agter ander gode aan geloop...” (Rigters 2:12).

Ek wil spesifiek praat met mans en vroue!

Ek sal eerste mans aanspreek. Talle mans kan met reg sê dat hulle goeie broodwinners is. Hulle werk lank en hard, mors nie hulle geld nie, klee hulle kinders genoegsaam en bring kwaliteit tyd deur saam met hulle families. Maar hoeveel tyd wy hulle aan Jesus toe? Het hulle wat ek noem ‘n “laat-los-en-vergeet-tyd” – ‘n tyd wanneer hulle in hulle gedagtes alles verlaat en alles vergeet, terwyl hulle kwaliteit tyd vir Jesus alleen opsy sit?

‘n Man kan dit by die werk doen, terwyl hy werk toe ry, enige tyd. Dit is ‘n tyd om alle gedagtes aangaande werk, familie, kinders eenkant te skuif en te sê, “Dit is U tyd, Jesus. Ek is nou U s’n. Niemand is vir my meer belangrik nie!”

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: Die probleem is nie besigheid of familie of loopbaan nie. Liewer, dit is “rondhangery” – lui, doellose, rondlêery en tyd mors. Menigtes van God se mense bring hulle tyd deur in eindelose rondhangery – doellose tydverdryf met vriende of rondsit voor ‘n TV. Ons mors so baie kosbare ure – en ons verwaarloos ons Here en Verlosser!

Nou wil ek met vroue praat: Jy het vir jou man en kinders die beste jare van jou lewe gegee. Jy is hardwerkend en getrou. Jy sorg goed vir jou familie. Tog vra ek vir jou: Hoeveel “laat-los-en-vergeet-tyd” gee jy vir Jesus? Hoeveel ure per week sluit jy jou van die wêreld af en nader tot Hom?

Oupa’s, ouma’s, enkellopendes, almal – eendag gaan jy voor die oordeelstroon staan om rekenskap te gee van jou tyd. En God hou baie akkuraat boek! Hy weet presies hoeveel ure jy op “goeie” dinge gespandeer het – jou kinders, jou gade, jou belangstellings. Maar Hy gaan dit op Sy skaal plaas – en dit dan meet teen die paar ure wat jy vir Hom gegee het! Dink jy daardie skale gaan selfs net ‘n bietjie beweeg?

Hoe jaloers moet die Here nie wees oor al jou ander liefdes nie – al die dinge wat jou tyd en aandag in beslag neem. Die ou spreekwoord is waar: Dit is nie die “sleg” wat die vyand van die Christen is nie, maar die “goeie”: Dit is familie, loopbaan, werk, kinders. Hierdie dinge opsigself staan nie tussen ons en die Here nie. Nee – dit is ons rondhangery! Ons sou maklik ons tyd in besit kon neem vir Jesus se onthalwe – maar ons doen dit nie!

Nou staan die Here voor ons en vra: “...het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? (Johannes 21:15).

Wat jy ook al die meeste liefhet, sal die meeste van jou tyd en aandag in beslag neem!

God is ‘n jaloerse minnaar! “...want die HERE se Naam is Jaloers – ‘n jaloerse God is Hy” (Exodus 34:14).

Dit is inderdaad vir ons moontlik om Hom uit te lok tot jaloesie: “Of wil ons die ywer [jaloesie] van die Here opwek?...” (1 Korinthiërs 10:22). Paulus vra: “Jy het getuig van jou liefde vir Hom. Jy het selfs Sy Naam aangeneem. Het iemand of iets anders egter jou hart gesteel?”

As ‘n getroue herder, word ek deur die Gees van God geroep om jou te waarsku: Wanneer die oordeelsdag kom, sal jy moontlik nie deel wees van die Bruid van Christus nie! En wanneer jy voor die Bruidegom staan, sal Hy nie die volgende sê nie, “Hier is My geliefde, wat soveel tyd saam met My deurgebring het.

“Jy kon nie wat om wakker te word om My tegemoet te gaan nie, en jy kon nie bed toe gaan sonder om met My te praat nie. Jy het met verwagting vir My gewag – en nou is ons een. Niks sal ons skei nie!”

Nee! In plaas daarvan, sal Jesus Sy gesig van jou af wegdraai. Hy sal sê, “Jy het My met woorde liefgehad – maar jou hart was ver van My af. Jy het kerk toe gegaan en dit ‘kwaliteit tyd’ met My genoem. Maar daar was geen intimiteit nie, geen privaat tyd nie. Jy was selde by My, selde in My teenwoordigheid. Ek ken jou nie. Gaan weg van My af!”

“Kan ‘n vrou haar versiersel vergeet, ‘n bruid haar pronkgordel? Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal” (Jeremia 2:32).

“Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam...” (Hebreërs 2:3).

Jy kan sê dat jy Jesus liefhet; jy kan kerk toe gaan elke keer wat die deure oop is. Maar soek jy Hom wanneer jou tyd jou eie is?

Hoeveel boeke verslind jy – hoeveel tydskrifte en koerante, hoeveel TV en radio – en tog dink jy nooit daaraan om tyd met Christus deur te bring nie? Geliefde, die tyd hardloop uit! Binnekort sal jy voor Jesus staan. En hoe sal jy Sy oordeel dan ontvlug, wanneer jy elke geleentheid gegee is om Hom nóú te ken?

Dink aan hele nasies wat smeek vir Bybels – bejaarde Russiese moeders wat uitroep vir net ‘n Nuwe Testament! Dink aan die duisende Oos Europesiese pastore en gelowiges wat nóú sit en die Woord verslind en ween oor die heerlike waarheid daarvan. Dink dan aan jou eie Bybel (as jy ooit weet waar dit is) – en hoe jy dit verwaarloos!

Predikers soek hulle Bybels vir preke. Sondagskoolonderwysers bestudeer dit vir lesse. Maar waarom lees ons dit nie vir ontspanning of tydverdryf om verkwik te word deur die Here nie? Waarom maak ons dit nie oop om van Hom te leer, om Hom lief te hê nie?

Die Bybel is Jesus – God se eie Woord! Dit is die volle openbaring van Sy hart. Alles oor Hom word hier ontmasker. En ek sou dink dat as jy Hom waarlik liefhet – as jy verwag om die ewigheid deur te bring as Sy bruid – dan sal jy alles wat jy kan van Hom wil leer!

Op hierdie oomblik, word talle Christene in hulle siele gebrandmerk. Miskien is jy een van hulle. Wil jy na die oordeel gaan met hierdie woorde: Christus Verwaarloser? Het jy Hom verwerp, geen tyd gemaak vir gebed of Sy Woord nie? Indien wel, hoe sal jy ontvlug?

Talle se harte is deur die Here gewen – maar was nog nooit deur Hom tevrede gestel nie!

Dit is genoeg vir Jesus om jou hart te wen. Hy moet die behae van jou hart wees! Daar is egter talle gelowiges wat nog nooit tevrede was met Jesus nie. Hulle is altyd op of af volgens hulle omstandighede.

Dit is nie ‘n gepaste bruid vir hierdie Bruidegom nie. Nee, ‘n sekere skoonheid moet Sy bruid versier om Hom te lok: “En as die Koning u skoonheid begeer...” (Psalm 45:12). Maar wat is hierdie skoonheid?

Jy het waarskynlik al die gesang gesing van die lieflikheid van sy heiligheid: “...aanbid die HERE in heilige sieraad” (Psalm 29:2). Hierdie lieflikheid word gesien in God se oë; dit is wat Jesus in ons sien wat Hom aantrek. Dit is wat lieflik is van ons in Sy oë!

En die Heilige Gees sê vir die bruid in goud, “As jy jou alles eenkant sal skuif, alle ander sal vergeet en jouself vir Hom alleen versier – dan sal Hy jou skoonheid begeer!” Dit beteken geen werk, geen mens, geen verhouding kan tussen julle kom nie!

Ek hoor ‘n goddelike vrou sê, “Hoe meer goddelik my man word, hoe meer aantreklik is hy vir my.” Dit is inderdaad waaroor ‘n goddelike huwelik gaan. En, net so, hoe meer jy van jouself gee in algehele toewyding aan die Here, hoe meer aantreklik en liefliker word jy vir Hom.

“En as die Koning jou skoonheid begeer...” (Psalm 45:12). Wat ‘n ontsaglike gedagte: Jesus sal nie in staat wees om van jou af weg te bly nie! Die Hebreeuse betekenis van skoonheid hier sluit inderdaad wellus (met regverdige konnetasie) in. Dit dui op ‘n sterk smagting en vurige begeerte. Met ander woorde, Jesus sal tot jou nader – oorstroom met begeerte na jou!

Ek het talle huwelike bevestig in my lewe. En daar was nog nooit ‘n bruidegom wat nie met blydskap geglimlag het oor sy bruid terwyl hy dink, “Sy is net myne!” nie. Geliefde, dit is die skoonheid waarvan ek praat. Ons Bruidegom verbly Hom en sê van Sy bruid, “Ek is die appel van haar oog. Sy sal liewer tyd saam met My deurbring as met iemand anders. En dit maak haar vir My pragtig!”

Ek wil lieflik wees in Jesus se oë. Ek wil Hom aanbid in die lieflikheid van heiligheid. Hy is nie net “eerste” in my lewe nie; Hy is alles. En die Bybel sê Hy word deur my aangetrek as gevolg daarvan!

Die bruid in goud het inderdaad ‘n innerlike lieflikheid wat haar uiterlike mooi maak. Sy is “...louter heerlikheid...daarbinne” (Psalm 45:13) omdat sy toegewyd is aan haar Bruidegom. Hy weet bokant enige twyfel, “Sy is net Myne – toegewyd net aan My! Sy aanbid My en is onderdanig aan My. Ek is die enigste Een in haar lewe, die een enkele fokus van al haar aandag. Sy maak vir My tyd, verbly haar in My teenwoordigheid en begeer om voortdurend by My te wees. Watter pragtige toewyding!”

Ten slotte, Ek wil vir jou ‘n belangrike vraag vra:

As Jesus vannag sou kom, sou jy in die groot bruilofsprosessie wees en die troon nader? Of sou jy jouself voor ‘n jaloerse, verwerpte Minnaar bevind?

Ons Here smag na ons en wil ons tyd en aandag hê – en tog sien Hy ons bring al ons tyd deur met ander mense, ander dinge. En dit laat Hom brand van jaloesie! Die dag kom wanneer Sy jaloesie sal “rook” teenoor diegene wat hulle wend na nietige afgode (Deuteronómium 29:20). Dit sal in vlamme van oordeel uitbars!

Geliefde, wanneer daardie dag kom, sal Jesus behaaglik jou hand neem en fluister, “Uiteindelik – ons is saam! Jy het My so begeer. Jy het vir My die beste van jou lewe, jou tyd, jou aandag gegee. Kom nou – laat ons een wees!”

Of, Hy sal vir jou sê: “Ek is jammer – Ek ken jou nie. Jy het gesê dat jy My liefhet, maar jou dade het nooit ooreengekom met jou woorde nie. Jy het tyd gehad vir baie dinge – familie, kinders, kleinkinders, geliefdes, loopbaan. Maar jy het My verwaarloos. Ons was nooit intiem nie; Ek het nooit jou hart gehad nie. En nou is dit te laat!”

Hoe sal jy voor Hom staan op daardie dag? Alles van hierdie wêreld gaan brand. Maar wat van jou intimiteit met Hom? Sal jy in staat wees om voor Hom te staan, omdat jy die wêreld uitgesluit het en uitgeroep het, “Jesus, ek wil U ken!”

Die Heilige Gees fluister op hierdie oomblik nou vir jou: “Hoor – en luister! Vergeet van alles en begin nuut vandag. As jy Hom heeltemal misgekyk het, bely dit voor jou hemelse Vader. Bekeer jou – en wy jouself heeltemal toe aan jou Bruidegom!”

Bid nou saam met my

“O geseënde Lam van God, ek wil lieflik in U oë wees! Vergewe my dat ek U Woord verwaarloos het, dat ek U geopenbaarde hart verwerp het. Vergewe my dat ek soveel tyd op alle ander dinge deurgebring het, behalwe op U. En gee vir my ‘n nuwe hart om U te ken. Ek wil groei in intimiteit met U!”

Gee die Here al jou toewyding – jou tyd, jou aandag, jou gedagtes, jou finansies – en Hy sal sorg vir al daardie dinge. Jy sal nie daarna hoef te soek soos die heidene nie; in plaas daarvan, sal Hy dit oorvloedig by jou lewe voeg.

Die Here het beloof om vir jou te sorg. En as jy jou met jou hele hart na Hom terugkom, sal Hy in verbond met jou en jou familie wandel. So gee Hom jou heelhartige aandag. Tree op soos Sy bruid – en jy sal lieflik in Sy oë word!

Amen!