Die Koms van die Godslasteraars

David Wilkerson

"En ek het op die sand van die see gaan staan. En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering....

“En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslastering uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen. En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Openbaring 12:18, 13:1,5-6).

Die apostel Johannes het van ‘n laaste-dae inval van die wêreld gepraat – deur ‘n dier met  monsteragtige koppe wat uit die see opkom. Dit is ‘n demoniese inval van ‘n magtige gees van godslastering met groot invloed wat opkom tydens die heel laaste dae.

Ek glo die “see” waarvan Johannes praat, verteenwoordig die massas van die mensdom. En die frase “uit die see sien opkom” dui op iets wat dormant gelê het – maar dit het nou skielik homself geopenbaar en is op die aanval.

Ek glo hy sê dat iets in die samelewing opgebou het met verloop van tyd – en nou verskyn dit as ‘n veelkoppige monster! Sy naam is met ‘n opskrif versier op al sewe koppe: “...en op sy koppe ‘n naam van godslastering” (Openbaring 13:1).

Aanvalle van godslastering is nie nuut nie. God en Sy dienaars is nog altyd belaster. Dawid het gesê, “Hoe lank, o God, sal die teëstander smaad aandoen, sal die vyand u Naam vir altyd verag?” (Psalm 74:10). Selfs Paulus het bely hy was eens “’n lasteraar en ‘n vervolger en ‘n geweldenaar” (1 Timótheüs 1:13).

Maar daar is iets baie meer onheilspellend. Ek glo Johannes beskryf ‘n ontsaglike loslating van ‘n laaste-dae, veelkoppige gees van godslastering en dat Johannes op die sand van ons tyd staan en profeties al die verskillende soorte godslasteringe sien wat opgang maak in mag, invloed en respek in die wêreld tydens hierdie uur!

In Openbaring 12:3, word die duiwel beskryf as ‘n “groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone.” Hierdie sewe-koppige dier wat opkom in mag, is ‘n weerspieëling van Satan – dit het al die kenmerke van die vuurrooi draak!

Ek herinner jou dat die kerk van Jesus Christus onder magtige, bonatuurlike aanvalle gely het die afgelope jare – bokant enigiets anders opgeteken in die kerkgeskiedenis. Jy moet blind wees om dit nie te sien nie. En dit is nie slegs dat God verkeerde dinge in die liggaam van Christus openbaar nie; die oordeel moet sekerlik by die huis van God begin. Maar hierdie dinge is iets heeltemal anders!

Geen ander Christelike geslag was aangeval met al die populêre middele wat hedendaagse godslastering gebruik om homself te vertoon nie. Televisie, films en video’s was nie bekend in Johannes se tyd nie. Al hierdie dinge het in ons eeu ontstaan, suiwer uit die see van die mensdom!

Slegs in ons tyd word Christus beswadder en bespot en gelaster in sulke bose films soos The Last Temptation of Christ – waar Hy skandelik uitgebeeld word as ‘n geperverteerde man, wat by Maria Magdalena gebly het! Christus se goddelikheid was bespot, Sy manlikheid bevraagteken. Duisende het na teaters gestroom om sulke godslastering toe te juig.

Slegs in ons tyd word ‘n homoseksuele kunstenaar – Mapplethorpe – vereer met ‘n nasionaal vertoonde fotografiese tentoonstelling wat die Kruis van Christus belaster. Hy het die kruis gefotografeer waar dit uit ‘n vaatjie uriene uitkom. Die grootste deel van die res van sy reisende tentoonstelling was so vieslik en goddeloos dat dit nie hier herhaal kan word nie.

Net vyftig jaar gelede sou hierdie man tronk toe gegaan het! Dit was ‘n ernstige godslastering – maar hy was beskerm deur die wet en verdedig deur sommige van die magtigste mense in ons howe en regering. (Mapplethorpe het aan VIGS gesterf – ‘n slagoffer van die perversies wat hy bevorder het in sy foto’s!)

Ek probeer nie soek na sewe hoof soorte van godslasteringe om die koppe wat Johannes beskryf te verteenwoordig nie. Dit is genoeg om te sê dat hierdie monster veelkoppig is – en hy is vinnig besig om opgang te maak in mag, terwyl die invloed en aanvaarding daarvan toeneem!

Byvoorbeeld, uit die as van Irak en Koeweit, het daar ‘n diktator opgestaan wie se kop beskryf is met nog ‘n godslastering: Islam! Islam is nou ‘n godsdienstig-politiese godslastering wat een derde van die wêreld se bevolking onder sy misleidende invloed hou. En dit is besig om vinnig meer erkenning en mag te kry.

Minder as twintig jaar gelede het ons gehoor dat ‘n paar sportfigure hulle name verander het om Islamitiese name aan te neem – Muhammad Ali, Kareem Abuduljabbar. Ons het dit ligtelik opgeneem en toegeskryf aan die invloed van swart Moslems. Vandag het hulle radikale leier, Louis Farrakan – wat eens net beskou is as ‘n fanatikus – beheer geneem oor talle duisende hier in die Verenigde State. Sy invloed het soos ‘n veldbrand versprei! 

Die godslastering van Islam is groot mag gegee deur Satan. Islam pas goed by Johannes se beskrywing: “...soos ‘n luiperd...sy pote soos dié van ‘n beer...die bek van ‘n leeu...en die draak het hom sy krag gegee” (Openbaring 13:2). Dit beskryf die wreedheid, die wildheid, die gebrek aan respek vir menslike lewens wat Islam kenmerk. Dit kom alles van Satan af! Dit is sy laaste  hoop om Israel uit te wis!

En wat van die groot beer, Kommunisme? The New York Times het Kommunisme onlangs vergelyk met “’n lyk...wat nou monsteragtig uit sy graf klouter.” Vir maande het die Times se skrywers met gepoetste woorde geskryf oor die dood van Kommunisme en gesê die duiwel se ryk is noodlotting in die kop gewond. Nou sê dieselfde mense dat Kommunisme weer opgewek is! ‘n Lyk herrys nou uit die dode!

En stop en dink vir ‘n oomblik aan die groeiende mag en invloed van ander hedendaagse godslasteringe. Wat van die New Age filosofie wat dwarsdeur die wêreld versprei? Humanisme? Mistiese kultusse? “Koninkryksheerskappy” leerstellinge?

Tien jaar gelede was Shirley MacLaine en haar “Ek-is-God” brabbeltaal die grap van Hollywood. Vandag help sy die denke vorm van miljoene wat saamdrom om die New Age evangelie te hoor!

Nog ‘n verskriklike godslastering wat in die laaste vyf-en-twintig jaar plaasgevind het, is so lelik, so boos, dat dit honderde duisende Amerikaners die strate laat bestook. Hulle saak? Om minke en ander knaagdiere te beskerm – terwyl hulle daarop aanspraak maak dat hulle ‘n reg het om baba’s dood te maak! Hulle skreeu vir die reg om onskuldige kinders dood te maak, maar huil egter oor dolfyne wat in tuna nette vasgevang word!

Hulle dra waterpistole gelaai met rooi verf en bespuit duur pelsjasse – later vly hulle hulleself dat hulle ‘n regverdige daad gedoen het. As jy egter probeer om die lewe van ‘n enkele baba van aborsie te probeer red, dan spuug hulle ‘n wrede stroom van vloeke in jou gesig!

Geliefde, dit was nog nooit voorheen so nie! Hierdie gees het nog altyd onder die oppervlak geskuil – maar vandag verrys die dier van godslastering om voort te gaan om die nasies te mislei!

Die duiwel self het hierdie veelkoppige godslateringe met krag uit die hel toegerus!

“Die draak het hom sy krag gegee...en aan hom is mag gegee” (Openbaring 13:2,5). Paulus het gewaarsku oor die “gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efésiërs 2:2). Dit verduidelik die toewyding en geweld van hierdie groeiende bewegings van godslastering. Dit is ‘n bonatuurlike toewyding – reguit uit die hel!

Het jy ooit gewonder hoe homoseksuele gewillig is om te betoog en optogte te hou vir hulle saak deur ys, ysreën en ysige weer? Of hoe hulle soveel mag en invloed kan wen dat hulle nou wetgewing op elke vlak eis om hulle lewenstyl te bevorder en te beskerm?

Hoe is dit moontlik, dat in net een dag se kennisgewing, sulke groepe vele duisende kan bymekaarmaak om hulle werk en families te verlaat – gewillig om in die strate te lê, hulle liggame op te offer vir ‘n saak? Waar kom hulle ywer, hulle geesdrif vandaan?

Luister, Christene: Moenie eens probeer om hulle getalle te ewenaar nie! Ons sal nooit nie! Daar is iets bontuurliks aan hulle geesdrif. Dit word gedryf en gemanipuleer deur hoofkantoor – hel!

In die komende dae gaan ons verstom wees oor die ongelooflike trots, arrogansie en geweld van hierdie veelkoppige dier van godslastering. Dit is ‘n stryd van woorde – trotse, gewelddadige, dreigende woorde teen die regverdiges! Vervolgende, bespottende, lasterende woorde!

Die strydkreet van die godslasteraars in die laaste dae is: “Niemand kan ons keer nie! Ons sal die denke van die hele wêreld beheer! ‘n Nuwe wêreld orde sal opstaan met soveel mag dat niemand dit kan weerstaan nie!” (Hierdie “nuwe wêreld orde” word ook deur President Bush genoem!) Hulle sal sê, “Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Openbaring 13:4).

Islam streef na wêreld oorheersing. Sy doelwit is om almal na Mekka te bring en hulle aan die voete van hulle god te plaas! Hulle wil Israel in die see injaag, dit uitwis, die land ‘n Palestynse staat maak – en Mekka aanwys as die middel van die wêreld!

Hierdie godslasteringe loop saam soos ‘n vloeistof in ‘n tregter – en kom almal uit dieselfde gat. En die opperleier wat hierdie godslasteraars almal aanbid en hunker na, is die Antichris! Wanneer hy geopenbaar word, sal hulle buig voor sy voete.

Die Aquariërs, die New Agers, die Oosterse kultusse – is almal op die uitkyk na die oppermeester om te kom: die Lord Maitreya – die Christus een! Die laaste verligte een!

Maitreya se groep verwag dat hy enige oomblik sal verskyn. ‘n Aantal jare gelede, het hulle advertensies op TV, in koerante en ander media dwarsdeur die Verenigde State geplaas en aangekondig dat Maitreya reeds op die aarde verskyn het. Hulle het daarop aanspraak gemaak dat hy nou ‘n volwassene was en besig was om opgelei te word vir heerskappy. Almal het gelag!

Toe ek dit die eerste keer gehoor het, het ek gedink, “Dit is slegs ‘n klein groepie. Geen regdenkende persoon, geen geleerde besigheidsman of -vrou sou vir hierdie dwaasheid val nie!” Nou, nie meer as 10 jaar later nie, het magtige besigheidsbestuurders – geleerde mans van invloed – kristalballe wat vertoon word in hulle kantore. Hulle buig voor hulle neer en sê, “Gee my krag, gee my bonatuurlike energiestrome!”

Hierdie soort godslastering is nie beperk tot New Agers nie. Laat my vir jou ‘n spesifieke voorbeeld gee van wat ons kan verwag in sommige van ons hoofstroom denominasies:

Episkopale Biskop John. S. Spong, wat 125 Episkopale kerke in noord New Jersey lei, het pas ‘n boek getiteld Rescuing the Bible from Fundamentalism uitgegee. Daarin noem hy die apostel Paulus “’n selfveragtende en onderdrukte homoseksuele man” – omdat Paulus bely het, “Ek, ellendige mens.” Spong sê dat Paulus sy vyandigheid teenoor vroue geopenbaar het toe hy gesê het, “Vroue, onderwerp julleself aan julle mans.”

Biskop Spong het later vir ‘n verslaggewer gesê hy het die idee gekry by ‘n ateïs skrywer in 1937. Toe het hy die Nuwe Testament gelees met dit in gedagte: “St. Paul was homoseksueel...niks anders kan Paulus se selfveroordelende retoriek, sy negatiewe gevoel teenoor sy eie liggaam en sy gevoel dat hy beheer word deur iets waaroor hy geen mag het om te verander nie, verklaar nie.”

Sommige van Spong se eie bedienaars het gesê hy het te ver gegaan – dat hy ‘n kerk met geen sedes geskep het. Maar sal Spong sy pos verloor? Nee! Gee hom ‘n maand of twee en hy sal op spys en drank onthaal word en voorgestel word as ‘n groot teoloog – omdat Amerika só afvallig is!

Dit is ‘n eersteklas voorbeeld van die groeiende mag en gesag van godslasteraars! ‘n Geslag gelede sou die kerk geen tyd gehad het vir Spong nie. Die oomblik toe sy boek uitgekom het, sou hy voor ‘n komitee van ouderlinge ingeroep word en uit die bediening verban word. Maar vandag is hy ‘n held!

Vir die natuurlike oog, sal God se kinders oorwin word deur hierdie inval van godslastering!

“Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer ten die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Openbaring 13:7).

Daniël het dieselfde ding gesê: “Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin” (Daniël 7:21). Die woord wat hier gebruik word – oorwin – beteken nie verwoesting of nederlaag nie. Dit is nie ‘n uiteindelike oorwinning vir die duiwel nie! Die beste definisie is effektiwiteit of sukses daarin om die heiliges moeg te maak.

Ons kan nie dit wat die Skrif duidelik sê, versag in hierdie oorlog van godslastering nie – dat die dier die heiliges sal oorwin! Vir die tydelike, natuurlike oog, is die godslasteraars besig om te wen! Maar hulle kan nie ons gees en ons geloof oorwin nie – slegs ons natuurlike mens. Dit sal vir ons oë lyk asof die kerk magteloos is teen hierdie godslasteringe – en dat die godslasteraars onbetwis sal voortgaan.

Byvoorbeeld, die hele kerkstruktuur van Amerika kon nie die vertoning van The Last Temptation of Christ keer nie. Christene het protesteer, kansels het gedreun – maar die vertoning het voortgegaan! Dit het voorgekom asof die godslasteraars gewen het.

Geen liggaam van gelowiges kon Mapplethorpe se bose padvertonings keer nie! Die pogings deur ordentlike mense om dit te keer, was alles opgehef deur gunstig hofuitsprake. ACLU prokureus het trots hofsale verlaat terwyl hulle van oor tot oor gestraal het, soos oorwinnaars! Vir die natuurlike oog het hulle die gelowiges oorwin.

Dwelmbase sê nou, “Wie kan in ons pad staan?” ‘n Nuwe “ontwerpersdwelm” gemeng met pentatol, is huidiglik op die strate. Wie gaan hierdie nuwe doodsdwelm keer? Ons het ‘n magtige leër in Irak op hierdie oomblik – maar ons kan niks in ons eie land doen in die oorlog teen dwelms nie. Ons is magteloos!

In vyf-en-twintig jaar, het ons aborsie gekeer? Nee – dit is erger as ooit! Dit het die ondersteuning van die wet in al die state behalwe twee.

Ons het vir drie jaar gebid tot God om die 68ste Straat aborsiekamer net een vloer bokant ons kerkkantore toe te maak. Ons het gevas, geween, gepleit. Vir die natuurlike oog het hierdie mense ons oorwin. Hull het in die publiek vir ons gesê dat ons hulle nie kan aanraak nie!

Vir ‘n seisoen sal dit lyk asof God se mense oorwin is, asof ons absoluut hopeloos is. Dierbare heilige, die dag kom wanneer jy heeltemal gestroop sal voel!

Daar is egter tans Christene wat daarop aanspraak maak dat hulle die wêreld vir Jesus wen. Maar ek weet nie van een land wat hulle “gewen” het nie – of waar in Amerika hulle in staat was om aborsie stop te sit.

Hoor my asseblief: Die duiwel gaan nie geaffekteer word deur rasieleier-heiliges wat iets doen, gebaseer op emosies en nie op die Skrif nie – iets wat geen geestelike insig het nie!

Ek stem saam dat ons moet betoog, dat ons moet bid – maar God waarsku ons uit Sy Woord: “Moenie verbaas wees as jy dinge in Amerika sien gebeur wat jy nooit gedink het kon gebeur nie!”

Ja, ek glo daarin om sataniese vestings neer te werp! Ja, ek glo in die krag van gebed! Ja, ek glo in die oorwinning van die Kruis oor die hel en die duiwel! Maar in die heel laaste van hierdie dae, moet hierdie veelkoppige dier opstaan. Daniël en Johannes het dit gesê dat ons vir ‘n seisoen die trotse, arrogante oorhand van die godslasteraars sal sien!

Onthou: Dit is ‘n tydelike vertoning van mag – ‘n heerskappy van bedrog! Dit is ‘n koalisie van die antichrisgeeste wat eendag hulle ewige verdoemenis tegemoet sal gaan!

Wees bly! Die dier se dae is getel – Koning Jesus is op pad om alle vyande te vernietig!

As jy deur die boek Openbaring lees, laat die duidelike beeldspaak jou kop amper draai: Misterieuse Babilon, die groot hoer, die vrou wat op ‘n skarlaken dier sit, die vuurrooi draak, die sewekoppige dier met tien horings en tien krone, padda’s wat uit die mond van die draak kom, bose magte wat losgelaat word vanaf die Eufraatrivier, sprinkane wat uit die bodemlose put stroom....

Ons hoef nie die realiteit van die simboliek van dit alles te weet nie – daar is letterlik honderde interpretasies. Ons weet dat die boek alles oor Jesus gaan en Sy laaste oorwinning oor die duiwel, boosheid en dood. En ek juig oor een ding in Openbaring wat baie duidelik is:

Oral waar jy kyk na hierdie profesieë oor die Antichris, valse profete en demoniese magte, sien jy dat God beperkinge en spertye op hulle vermoëns plaas. Die Dier is mag gegee – maar slegs vir “twee-en-veertig maande” (Openbaring 13:5).

Die getal twee-en-veertig verskyn vier keer in Openbaring. En wanneer die Here sien dat Misterieuse Babilon se beker vol is van ongeregtigheid, verbrand dit tot as in net “een uur.” In Openbaring 17 word a tien-horing mag gegee “mag soos konings een uur lank saam met die dier” (Openbaring 17:12).

Die beduidenis van hierdie boodskap is nie die “twee-en-veertig maande” of die “een uur” nie. Nee – ons het bloot geestelike oë nodig om te sien soos Elisa gesien het! Toe hy omring was deur ‘n leër wat gestuur was om hom dood te maak, het hy nie eens geroer om na die venster toe te gaan nie. Hy het geglimlag, omdat sy geestelike oë gekyk het na ‘n almagtige hemelse leër in die wolke! Hy het ‘n ander venster gehad – in die wolke bokant hom!

Vir die natuurlike oog, was Elisa oorwin. Die vyand het geseëvier – maar die storie was nie verby nie. Die Koning van Heerlikheid was op Sy wit perd! En Elisa het geestelike oë gehad om Hom te sien!

Diebare heiliges, as jy al hierdie godslasteringe en magte rondom jou begin raaksien, en jy het nie geestelike oë nie – sal jy ontsteld en bekommerd en angstig word. As jy hulle sien toeneem in mag, sal jou gees ontsteld word.

Maar een ding het my hart geseën – en dit gaan my by my sinne hou, maak nie saak wat kom nie. Dit sal dieselfde vir jou doen.

Geliefde, ek het ‘n wit wolk gesien! En ek wil vir jou hemelwaarts wys daarna! Hierdie wit wolk hou die sleutel tot ons oorwinning:

“En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit wolk en een soos ‘n Menseseun wat op die wolk sit, met ‘n goue kroon op sy hoof en in sy hand ‘n skerp sekel” (Openbaring 14:14).

Al julle blik gode en godslasteraars hieronder – God gaan eendag neerdaal en julle almal afsny! Hy sal sê, “Waar is al julle mag nou, al julle invloed?” En die dier en die draak sal by die afgrond afgegooi word!

So, die ateïstiese prokureurs, die liberale howe, het God uit die skole uitgehaal – en in plaas daarvan, deel hulle kondome uit! So, hulle druk Hom uit die Amerikaanse samelewing en huise uit. My antwoord is bloot dit: “Daar sit Hy, kroon op Sy kop, sekel in Sy hand!”

Hulle dae is getel – maaityd het aangebreek!

Jesus het ons beveel, “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28). Wel, waarna is ons veronderstel om uit te kyk en ons in te verbly? Na die wit wolk –

So, New Agers, Aquariërs, mistici en okkultiste neem toe in mag, invloed en getal. So, hulle roem trots dat hulle die aarde sal verlos van almal wat weier om by hulle aan te sluit. So, hulle sê ‘n nuwe wêreld orde is aan die kom. (Ek kan die engele hoor fluister, “As hulle net geweet hoe waar dit is!”)

So, hulle roem daarin dat hulle die wêreld sal oorneem en hulle lord Maitreya sal kroon. So, Islam sê dit sal Israel van die kaart afvee en die geestelike oorwinning van hierdie laaste-dae opeis. Terwyl hulle egter hierdie woorde uitspu – daar sit Hy, kroon op Sy hoof, sekel in Sy hand!

So, die radikale homoseksuele groep Act Up hou aan optree. So, hulle stel hulle sondes ten toon en verkry mag, bal en skud hulle vuis teen God. So, 300,000 van hulle het betoog en gedreunsing en ons uitgedaag om op hulle te trap.

So, die sadiste, die God en Christus-haters laai hulle teaters met films en video’s en bespot alles wat heilig is! So, die pornograwe en dwelmsmouse gaan voort om ryk en magtig te word. Ek sê: Daar sit Hy, kroon op Sy hoof, sekel in Sy hand!

So, die Kommunistiese beer herrys van sy dodelike wond en word ‘n diktatorskap erger as Stalin s’n. So, Rusland veg teen die hele wêreld – en stel ‘n multi-miljoen-lid leër teen Israel op en rig ‘n kernarsenaal teen die Verenigde State. My antwoord is: Daar sit Hy, kroon op Sy hoof, sekel in Sy hand!

Die Verenigde State roem oor sy satelliet moniteringstelsel. Ons maak daarop aanspraak dat ons kan neerkyk op Irak, selfs op ‘n bewolkte dag, en die paadjie in ‘n man se hare sien. Geliefde, daar is ‘n selfs groter moniteringstelsel! Daar is ‘n Man op ‘n wit wolk wat neerkyk en die aantal hare op jou hoof en die gedagtes in jou verstand sien.

So, ‘n man sit in die tempel en noem homself god. So, hy verklaar oorlog teen God – teen die hemel self! Die Man wat op die wolk sit is  egter glad nie beïndruk nie! Hy staan op, lig Sy sekel op en druk dit in die oes in – dit is tyd om die aarde af te oes! (Openbaring 14:15).

Nou sit Hy nie meer nie – Hy sny af – Maai!

Geliefde, ek het daardie wit wolk gesien – en die Een wat daarop sit! Hy dra ‘n kroon van gesag oor al die konings van die wêreld, en al die nasies dien as Sy voetbank.

Nou weet ek hoe kan ek juig wanneer ek al hierdie dinge in vervulling sien kom, net soos Jesus ons beveel het. Omdat Hy daar sit, kroon op Sy hoof, sekel in Sy hand! Al wat ek hoef te doen is om op te kyk!

Die maaityd het aangebreek! En luister afvalliges, kompromie-makers – as Hy hele leërs gaan neervel, sal Hy jou spaar? As Hy Sy oog het op die verborge Antichris, het Hy jou misgekyk? Nee, alles wat ons doen word gesien deur daardie groot Monitor in die hemel – Jesus, wat op die wolk sit!

Kan jy jou voorstel hoe dit gaan wees wanneer Hy begin maai! O, die oordele, die pyn! Hy gaan die godslasteraars, die antichrisgeeste, die diergeeste boei – en hulle in ‘n bodemlose put gooi, toegesluit tot in ewigheid.

Dan sê Hy, Hy gaan in die wolke opgaan en ons saam met Hom neem! Hy sê Hy kom op ‘n wolk van heerlikheid!

Gelowige, het jy self ook daardie wit wolk gesien? Kyk op – jou verlossing is naby!