Die Kerk se Grootste Uur Lê Nog Voor

David Wilkerson

Toe Israel opgekom het uit die Rooi See, het hulle God se lof besing vir die magtige verlossing wat Hy beskik het. Hulle moes seker vir mekaar gesê het, “Daar sal nooit weer so ‘n groot wonderwerk soos hierdie wees nie! Geen ander geslag sal ooit so ‘n magtige demonstrasie van God se krag sien – en op só ‘n sigbare manier nie.

“Nooit sal sy volk weer so ‘n ernstige krisis beleef soos die een waardeur ons pas gekom het nie. Geslag na geslag sal hierdie dag onthou. En hulle sal hierna terugverwys as die grootste bewys van God se magtige werk onder die mense op die Aarde!”

Vir baie jare was dit inderdaad die geval. Dawid het teruggekyk na Israel se wonderbaarlike verlossing by die Rooi See en gesê, “Kom en aanskou die dade van God, Hy wat gedug is in werking oor die mensekinders. Hy het die see verander in droë land; hulle het te voet deur die rivier gegaan. Daar was ons bly in Hom” (Psalm 66:5-6).

Israel was in werklikheid beveel om alle geslagte daarna te vertel van God se groot wonderwerkende krag om hulle onthalwe. Hulle moes hulle verlossing by die Rooi See as voorbeeld gebruik het, om “aan die volgende geslag [te] vertel die roemryke dade van die Here en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het” (Psalm 78:4).

Daarom het Dawid gesê, “Ek wil my mond open met ‘n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom. Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel...sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders” (Psalm 78:2-4,6). “Voor hulle vaders het Hy wonders gedoen...Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos ‘n wal” (Psalm 78:12-13).

As kind moes Dawid bekoor gewees het terwyl hy die storie oor en oor gehoor het: hoe God hulle voorvaders uit Egipte verlos het, hoe Hy die see laat terugrol het en hoe die Farao se leër verdrink het. Nou het Dawid aan sy eie kinders dieselfde storie vertel van verlossings uit die verlede. Hy het getuig, “Julle weet God lewe – omdat Hy ons voorvaders deur die Rooi See op droë grond laat trek het. Gaan en vertel nou die storie aan julle kinders en júlle kleinkinders.” En hulle het.

Maar ‘n tyd het aangebreek waarin Dawid nie langer bloot die storie kon oorvertel sonder om God te vra om dit weer te doen nie! Skielik was dit nie meer vir Dawid genoeg om te praat oor wat God in die verre verlede gedoen het nie. Dawid wou sien dat die Here sy volk nou verlos: “O God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel: ‘n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd. U self het met u hand nasies verdrywe... omdat U ‘n welbehae in hulle gehad het” (Psalm 44:2-4).

Dawid het in wese gesê, “Here, my hele lewe lank het ek gehoor wat U in die verlede gedoen het – hoe hierdie ontsaglike stories van U heerlikheid sigbaar geopenbaar is aan my vaders. My kinders het daarvan gehoor, en nou sal my kleinkinders daarvan hoor.”

Maar toe het Dawid uitgeroep: “U self is my Koning, o God! Gebied die oorwinninge van Jakob” (Psalm 44:5). Met ander woorde: “Maar God, U is mý Koning ook. Doen weer hierdie dinge vir u volk wat tans lewe! Ek wil nie langer net van u wonderwerke van die verlede hoor nie. Maak my ‘n deel van U groot wonderwerk van verlossing vandag!”

Terwyl Dawid hierdie woorde gespreek het, was hy in ‘n tyd van groot beproewing, en Israel daarmee saam. God se volk het ‘n groot krisis beleef, en hulle het ‘n huidige-dag wonderwerk nodig gehad. Daarom het Dawid na die Here gekom met goeie rede en uitgeroep na die Here:

“O, Here, by die Rooi See het U kinders gedink dat daar nooit weer so ‘n groot krisis sal wees nie. Maar sover dit my aangaan, is die krisis wat ons vandag het net so kritiek. Waardeur ek nou gaan is net so erg as om die Rooi te moet trotseer, met Farao wat op my afkom. Ons moet eenvoudig net ‘n verlossing nóú hê! Ons het ‘n magtige openbaring van u kragtige, uitgestrekte arm nodig. Here, doen dit weer, vandag!”

Ek dieselfde smeking by my prediker-seuns gehoor. Hulle het vir my gesê, “Pa, ons weet van al die wonderwerke wat God vir Pa gedoen het toe Pa jare gelede in geloof na New York Stad gekom het om met tienderjarige bendes en verslaafdes te werk. Ons het gehoor hoe God Pa bonatuurlik gelei het, fondse voorsien het, deure oopgemaak en mense soos Nicky Cruz gered het.

“Dit is goed en wel, Pa, en ons loof God vir al daardie dinge. Maar nou wil ons dit in óns tyd en óns bedienings ook sien! Ons hele lewe lank het ons gehoor wat God in daardie vroeë jare gedoen het. Maar nou moet ons sy werke self beleef. Dit is ‘n ander geslag en Amerika en die kerk beleef ‘n groot krisis. Ons moet eenvoudig sien hoe God vandag werk!”

Jong bedienaars van oraloor vors herlewings na. Mense skryf boeke oor hoe God in die verlede gewerk het. Daar is ‘n desperate uitroep wat opgaan onder jongmense en sê, “Doen dit weer, Here! Doen dit vir ons vandag!”

God se wonderwerke mag nie saam jou geslag uitsterf nie!

Is dit ook jou hartsgeroep? “O Here, ek glo alles wat U in die verlede vir Israel en ons gelowige vaders gedoen het. Maar die krisis waarin ek nou is, is vir my net so ernstig as wat die Rooi See vir Israel was. My omstandighede het my in so ‘n posisie geplaas dat ek ‘n wonderwerk van verlossing nodig het. Here, ek wil hê U moet vir mý ‘n werk doen!”

Laat my jou vra: As ek met die Israeliete by die Rooi See kon praat en hulle kon vertel van die krisis wat ons vandag in Amerika en in die afvallige kerk beleef – hoe dink jy sal hulle reageer? Wat sou hulle sê oor die baie Christene wat eens die vuur van die Here besit het, maar was nou klipharde harte het?

Ek glo daardie Israeliete sou ween en uitroep, “Broers, dit is erger as tienduisend Sodoms! Julle het ‘n groter werk van verlossing nodig as ons. Farao se leër is niks in vergelyking met wat julle beleef nie!”

Ek is seker daardie Israeliete het in hulle dag gedink, “Daar sal nooit weer nóg ‘n krisis soos ons s’n wees nie.” Hoe verkeerd was hulle nie!

Die afgelope paar jaar het ons gelees en gehoor van die val van evangeliste en herders van oraloor. Net onlangs het ek gelees van die val van ‘n man wat ‘n groot Pinksterkerk lei. Sy ontblote sondes was so walglik en afskuwelik, dit is erger as enigiets wat ek al ooit van gehoor het – selfs sondes gepleeg deur die ergste sondaars wat ek teëgekom het in drie-en-dertig jaar van straatbediening. Dit was só ondenkbaar! Ons sedes het so laag gedaal, ons het ‘n wonderwerk van reiniging nodig.

Hierdie afgelope week het ‘n radelose vrou vir my en Gwen geskakel oor wat in die groot charismatiese kerk gebeur wat sy en haar man bywoon. Hierdie dierbare vrou sit in die koor en raak bedroef as sy kyk hoe mense aan die slaap raak tydens vervelige, lewelose boodskappe. Mense verlaat die kerk links en regs.

Toe hierdie vrou sommige van die paartjies vra waarom hulle aanhou om te kom, het hulle geantwoord, “Ons is te oud om te verander, en al ons vriende is hier. Buitendien, waarheen kan jy gaan om enigiets beter te kry?” Sy het aan my erken, “Ek moet self stry teen aan die slaap raak. Ons kerk is letterlik besig om dood te gaan. Dit is so leweloos, so leeg. So baie van ons is honger vir God – wat kan ons doen?”

Ons het ook onlangs ‘n brief ontvang van ‘n jong getroude vrou wat gesê het, “Ek het met ‘n prediker se seun getrou en sy pa het ons kerk gelei. My man het twee susters en ‘n baie goddelike moeder, ‘n gebedskryger. Sy was die gom wat die familie bymekaargehou het. Maar verlede jaar het my man se pa weggeloop met ‘n jong vrou in die gemeente. Hy het verdwyn, en ons het vir ‘n hele jaar nie ‘n woord van hom gehoor nie.”

Die moeder het gevas en gebid vir die grootste deel van daardie jaar, met die hoop God sou haar man terugbring en hulle huwelik herstel. Sy was ook hartseer oor al die skape wat van die kerk afvallig geword het. Maar met verloop van tyd, het die susters verbitterd geword. En eendag het die moeder ‘n ryk sondaar ontmoet – en sy het met hom getrou en afvallig geword.

‘n Mens kan die aandoening in hierdie jong vrou se brief hoor: Die skape word uitmekaargejaag, die familie breek op, sonde bars uit aan alle kante – omdat die man in die kansel God gefaal het!

As jy vir die Israeliete kon vertel wat ek alles hier geskryf het oor die liggaam van Christus, sou hulle sê, “Bedoel jy dít is die kerk? Die kinders van God?” Ek sou vir hulle moes sê, “Ja, dit is Christene waaroor ek praat. Ek het nog nie eens by die wêreld uitgekom nie!”

Ten spyte van al die ongeregtigheid wat plaasvind in God se huis, kan ek met groot vertroue sê: Die grootste uur vir die kerk van Jesus Christus is voor die deur! Ten spyte van al die onreinheid en skande, is ons op pad na oorwinning.

Laat my probeer om dit te bewys uit God se Woord:

1. Aan ons is laaste-dag verlossing belowe, baie groter as die opening van die Rooi See!

Wat God vir ons wil doen in hierdie laaste dae, is baie kragtiger as enigiets wat in die verlede beleef is – selfs groter as die oopmaak van die Rooi See en die vernietiging van Farao se leër. Dis is so groot dat God se kinders nie meer sal terugkyk na die wonderwerke van ons geestelike vaders nie – omdat ons so opgewonde sal wees oor die wonderwerke wat ons self sien gebeur!

Dit is nie ‘n profetiese woord uit my eie verstand nie. Dit kom reguit uit God se Woord: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here...[dat] hulle nie meer sal sê: So waar as die Here leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie” (Jeremia 23:5,7).

So wonderlik as wat al daardie vorige wonderwerke was, sal dit nie meer die bewys vir die wêreld wees dat God lewend is en aan die werk is op die aarde nie. Nee, God belowe om ‘n nuwe ding te doen.

Die dae kom, sê Jeremia, dat God se kinders nie meer sal sê, “God het in die verlede gewerk” nie. In plaas daarvan, sal ons sê, “Ons beleef sulke groot verlossings van sonde, sulke groot reiniging van harte – dat die hele wêreld moet sê, ‘Verseker leef God, omdat Hy wonderwerke voor ons oë doen!’”

Hier is hierdie “nuwe” getuienis – tot op die uur:

“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek... hulle nie meer sal sê: So waar as die Here leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie; maar: So waar as die Here leef wat die geslag van die huis van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het(Jeremia 23:5-8).

Dit is duidelik Jeremia praat hier nie net van sy tyd nie, maar ook van ons s’n. En die “dae wat kom” verwys na ‘n tyd nadat Jesus se bediening voltooi was. Jesus is die Saad van Dawid – die Spruit van geregtigheid, wat in die lewens van God se mense heers.

Die dag wat Jeremia beskryf sou kom nadat ‘n geestelike Israel veilig was in die oorwinning van die Kruis. Op daardie dag, sou God se kinders onder die heerskappy van Christus leef, as dienaars van Sy heiligheid. En daardie dag sou ook ‘n dag wees waarin Christus Sy huis sou reinig, “en reg en geregtigheid doen.”

Geliefde, daardie tyd het aangebreek. En vandag sien ons duideliker as ooit dat oordeel– wat by die huis van God begin – neerdaal!

Die eerste ding wat God in Sy kerk gaan doen, is om Sy skape te verlos uit die hande van goddelose herders. “Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, spreek die HERE. Daarom, so sê die HERE, die God van Israel, aangaande die herders wat my volk oppas: Júlle het my skape verstrooi en hulle verdrywe...Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van hulle handelinge... Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas: en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie” (Jeremia 23:1-4).

Jeremia het gesê die bediening in Israel het onrein en vol owerspel geword. Net so, vandag, het ‘n teruggevalle, owerspelige bediening groot wanhoop in die kerk veroorsaak en die skape verstrooi. “Want die land is vol owerspelers... die weivelde...verdor, waar hulle na strewe, is sleg, en waar hulle hul krag in soek, onreg. Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind” (Jeremia 23:10-11).

Hierdie herders gee vertroosting aan diegene wat in sonde leef. Hulle het geen aanraking van God nie, geen salwing nie. Hulle bid nie, en hulle het geen woord van God nie. In plaas daarvan, spreek hulle uit hulle eie harte. Hulle het self vet geword, en hulle het geen las vir die skape nie. God noem hulle, “dromers, leuenaars – alles in Jeremia 23!

Esegiël praat ook teen sulke herders: “So het hulle (die skape) dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld en het verstrooid geraak” (Esegiël 3:5). “Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie...Ek sal my skape uit hulle mond uitruk...Ek sal na my skape vra en vir hulle sorg...Ek self sal hulle laat lê en rus” (Esegiël 34:10-11,15).

God kom om ‘n magtige velossing vir Sy kerk te bring! Hy gaan vleeslike herders van hulle skape stroop – en Hy gaan al die verlore, verstrooide skape bymekaarmaak wat verwoes is deur herders wat nie getrou is nie. Hy sê, “Ek gaan My skape onder hulle hande uithaal en hulle onder ‘n Ware Herder plaas – Jesus Christus – wat hulle sal lei na groen weivelde en hulle sal voed.”

Huidiglik is die Here besig om ware herders op te rig wat slegs aan Christus vashou. Waarom dink jy het God die geboorte van Jesus eerste aan herders geopenbaar? Dit is omdat hulle “in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het” (Lukas 2:8).

Hulle het oor die troppe skape wag gehou gedurende die nag! En die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn” omdat hulle nie aan die slaap was nie!

God sê iets vir Sy kerk hierdeur. Hierdie manne het ‘n tipe ware herder verteenwoordig – manne van God wat waak in die middernag-uur. En die Bybel sê die heerlikheid van Jesus het eerste na sulke mense gekom – mense wat nie geslaap het nie! Hulle was heeltemal wakker terwyl hulle oor hulle skape gewaak het.

Tans is God besig om Sy huis skoon te maak – deur owerspel te openbaar en die bediening te oordeel – omdat Hy Sy kerk voorberei vir ‘n openbaring van Christus se heiligheid. Hy wil ‘n volk hê wat goed gevoed en versadig is met Christus, sodat Hy Sy Gees kan uitstort en die skape wat kom, kan byvoeg!

2. God het belowe om Sy kerk te seën en te vermeerder “meer as in die vroeër dae” (Esegiël 39:9-11).

“Ek sal... aan julle weldoen meer as in julle vroeër dae” (Esegiël 36:11). Hierdie vers beskryf nie ‘n kerk wat swakker en sondiger word nie. Dit is ‘n belofte van ‘n groot werk van God – groter as Pinkster – wat in hierdie laaste dae sal plaasvind!

Dink terug aan ons eie geestelike “begin,” toe jy jou saligheid ontvang het. Jy was so bly en opgewonde oor Jesus. Nou sê God vir jou, “Ek gaan vir jou beter as dit doen.” Hy gaan beter dinge in die kerk doen as ooit tevore!

“Beter as die Rooi See?” vra jy. “Beter as Elia wat vuur uit die hemel laat kom het en die reën gekeer het?” Ja – God het iets beter! Beter as die apostels wat duiwels uitgedryf en verlamdes sien opstaan en dans het? Of God wat die Bovertrek met Sy krag geskud het? God se Woord maak dit duidelik: Hy het iets beter!

“Wat op aarde kan beter wees?” vra jy. “Ons geloof is op hierdie wonderlike voorbeelde gebou.”  Geliefde, ons gaan die volste openbaring van Jesus Christus in die geskiedenis van die mensdom beleef. En hier is die grootsheid van so ‘n wonderwerk: God gaan die onreinste, mees verdraaide geslag van alle tyd neem – ‘n geslag met die kliphardste harte in die geskiedenis – en Hy gaan hulle reinig, vir hulle liefdevolle harte gee en hulle verander in heilige skape!

“Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape...soos die geheiligde skape” (Esegiël 36:7-38). God gaan “skape” – ‘n groot menigte – van mans en vroue, verlos. ‘n Menigte van sluimerende, verstrooide skape kom inderdaad terug na Hom toe, omdat hulle aangeraak word deur die Heilige Gees!

Ons sien sondaars van elke vlak van die samelewing gered word: Jode, Moslems, rykes, armes, moordenaars, mense van allerhande agtergronde. Die mees berugte sondaars van alle tye sal gered word!

Jy sê, “Dit is nie ‘n nuwe ding nie. Goddelose sondaars was nog altyd gereinig deur Christus. God doen dit sedert die kruis.” Dit is waar – maar onthou, sonde word meer; goddeloosheid word erger en erger. En waar sonde meer word, word God se genade nóg meer oorvloedig!

By die Rooi See was die duiwel op die aanval en het gedreig om God se volk te bespring. Die verskil vandag is, hy het reeds die afvallige kerk oorwin, en miljoene gevang en verslaaf: “Omdat hulle julle van alle kante verwoes en vertrap het, sodat julle vir die oorblyfsel van die nasies ‘n besitting kan wees, en julle in opspraak gekom het en deur die mense beskinder is” (Esegiël 36:3).

Maar nou gaan God inbeweeg. En hier is die rede vir Sy skuif: “Omdat die vyand ha, ha! oor julle roep; en; Die ewige hoogtes het vir ons ‘n besitting geword” (Esegiël 36:2). Satan en sy volgelinge spot en lag en sê, “Ons het die werk van Christus op die aarde vernietig!” Maar God sê, “Ter wille van my Naam, gaan Ek ‘n magtige verlossing bewerkstellig.”

Dit is die wonderwerk waarvoor jy geloof nodig sal hê om dit te verstaan – omdat dit op die mees behoeftige, mees kritieke tyd in die geskiedenis van die kerk sal kom. God sal sorg dat sy kinders in geregtigheid wandel. Hy sal soveel oortuiging van sonde laat neerdaal, dat gelowiges letterlik hulle vorige sondes sal verag:

“Ek sal mense...op julle vermenigvuldig, en hulle sal vermenigvuldig en vrugbaar wees...en Ek sal...aan julle weldoen meer as in julle vroeër dae” (Esegiël 36:11). “En ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee...En Ek sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig, sodat julle die smaad van hongersnood nie meer hoef te verdra onder die nasies nie. Dan sal julle dink aan julle verkeerde weë...en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor jul gruwels” (Esegiël 36:25-31).

Hierdie groot beloftes word aan ons gegee, sodat ons dit in vervulling sal bid (Esegiël 36:37).

God sê nóú vir Sy kerk, “Ek wil dit vir julle doen – Ek wil julle vermenigvuldig met heilige mense.” Hy sê ook vir ons om vir hierdie vermenigvuldiging te bid: “Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen: Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape” (Esegiël 36:37). Hy het vir ons hierdie beloftes gegee, sodat ons dit in vervulling kan bid!

Op hierdie oomblik is my gebed, “God, U moet dit doen. Ek kan dit nie sien nie – maar U het geen ander keuse as om dit te doen nie, omdat U dit belowe het.” Ek glo God wil hê dat ons so moet bid. Hy smag daarna om vir ons Sy krag en sterkte te wys in ons dag. En gebed is God se beloftes wat in smekinge verander word! Met ander woorde, Bid wat God aan jou belowe het. Maak aanspraak op hierdie beloftes op elke gebied van jou lewe. Neem dit in besit – todat God besit van jou neem!

Ons moet bid vir ‘n instroming van ‘n menigte mense wat heilige volgelinge van Jesus word. En God sê Hy wil dit doen, omdat die redding van so baie eens-goddelose mense sal veroorsaak dat die wêreld God se mag oor sonde en die duiwel sal leer ken. Alle vlees sal dan sien hoe dit werk!

So bonatuurlik en wonderlik as wat hierdie beloftes is, sal nie een daarvan in werklikheid vervul word sonder dat God se mense dit in vervulling bid nie. Waarom het die Here sy beloftes op die voorwaarde van gebed gebaseer? Dit is omdat gebed wys dat ons wil hê wat God wil hê – dat ons Sy begeertes hoog genoeg ag om onsself aan te spoor om van Hom besit te neem! En as dit die Here se voorwaardes is, kan ons weet dat iets met ons in die proses van gebed sal gebeur wat bokant ons begrip sal wees. Ons sal verander word terwyl ons bid!

Mense gaan na Christus toe stroom – sonder die hulp van bekende persone, bekpratery, jammerlike gesmeek vir geld, advertensies, praalvertoon of glans. En wanneer mense vra, “Hoe het dit gebeur? Wat trek al hierdie skares?” sal ons antwoord, “Gebed – gebed – en meer gebed!”

‘n Herlewing kan nie opgewerk word nie; jy kan nie ‘n ontwaking koop nie. Jy kan nie spesiale sprekers inbring om dit te laat gebeur nie. Nee, dit gebeur weens gebed – omdat “die hele huis vra.”

Geliefde, dit is nou tyd om op te hou kyk na die “goeie ou dae.” In plaas daarvan, is ons op pad na die goeie laaste dae! Dank God vir alles wat Hy in die verlede gedoen het; Hy is inderdaad al die lof en danksegging waardig. Hy het egter die beste wyn vir laaste gelos!

Maak gereed om die heiligste, goddelikste geslag van alle tye te sien. Geregtigheid gaan oor ons seuns en dogters uitgestort word. Ons nuwe geslag sal die grootste werke ooit doen. Die grootse bedienaars van God sal nie TV-evangeliste of megakerk-herders wees nie. Hulle sal goddelike heiliges wees, so vol van Jesus, dat die wêreld die ware karakter van God sal sien deur net na hulle lewens te kyk.

As ons ernstig en onophoudelik sal bid, sal God die volgende doen:

“Ek kom en wend My na julle toe... Ek sal mense op julle vermenigvuldig... hulle sal vermenigvuldig en vrugbaar wees... die smaad van die volke sal jy nie meer dra nie...En die nasies sal weet dat Ek die Here is...van al jul onreinhede sal ek jou reining...Ek sal julle ’n nuwe hart gee...Ek...sal maak dat julle my insettinge wandel en my verordening onderhou en doen... Ek sal roep na die koring en dit vermenigvuldig, en Ek sal geen hongersnood op julle lê nie...Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge nie goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees...Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat Ek, die Here, opgebou het wat afgebreek was...so sal die stede wat in puin lê, vol wees van kuddes van mense; en hulle sal weet dat Ek die Here is” (Esegiël 36:9-38).

Dit is ‘n ontsaglike lys van beloftes wat in een hoofstuk van Esegiël gevind word. Hoe sal ons hierdie beloftes egter vervul sien?

Ons moet dit in vervulling bid!

Jy mag wens jy was by Pinkster – maar God het gesê dat Hy sy beste wyn vir die laaste dae gebêre het. Dit beteken meer van die Gees groter heerlikheid! Vergeet daarom die goeie ou dae. Die beste dae van die kerk van Jesus Christus lê nog voor!