Die Kerk Is Nie Gereed vir Herlewing Nie!

David Wilkerson

Vandag is daar twee soorte kerke in die wêreld. Eerstens is daar die dooie, formele kerk, wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar geen krag nie. Sy bedienaars is huurlinge, die meeste daarvan ongered. God noem sulke herders “...twee maal gestorwe...” (Judas 12). En Hy beloof om sulke kerke aan die wortels uit te ruk en te verbrand!

Ek het in verskeie van hierdie lewelose lykshuise gepreek oor die jare. Die herders sou my uitnooi omdat hulle “The Cross and the Swtchblade” gelees het. Wanneer ek egter in so ‘n kerk gepreek het en die Heilige Gees op my neergedaal het, het die herder senuweeagtig geword en dieper in sy stoel ingesak. Mense sou huil onder Heilige Gees oortuiging van sonde. Maar sodra ek ‘n uitnodiging gegee het, het die herder vinnig tussenbeide getree en die byeenkoms verdaag.

O, hoe het dit my gepla! Daardie pastore het die blote gedagte gevrees dat iemand ‘n emosionele reaksie op my prediking kan hê. Al wat hulle wou hê, was dat die mense van hulle knieë af opstaan en by die deur uitgaan vóór die Heilige Gees iets “buite beheer” kon doen.

Ons weet God kan nie sulke kerke seën met herlewing nie, omdat Hy nie Sy Gees uitstort waar Hy nie welkom is nie. En die dooie, formele kerk het die Heilige Gees openlik verwerp. Dit wil eenvoudig nie opgewek word uit die dood nie.

Maar daar is ‘n ander soort kerk in die wêreld vandag. En dit is ‘n heilige, oorblyfsel kerk – ‘n biddende, Godvresende, ongekompromitteerde, regverdige liggaam van gelowiges. Dit bestaan uit mense wat heeltemal oorgegee is aan Christus – mense wat bid, vas en die aangesig van God gereeld soek.

My boodskap handel primêr oor hierdie regverdige, Heilige Gees kerk. Waarom? Dit is die enigste kerk in ‘n posisie om ‘n groot uitstorting van die Heilige Gees te ontvang! Jy sien, God stort Sy Heilige uit slegs op diegene wat Hom vra om te kom, en wat hulle voorberei om Hom te ontvang.

Ek glo egter nie die ware kerk is gereed vir herlewing nie – vir God se laaste, groot, beloofde uitstorting van Sy Gees. Jy sien, ‘n kerk kan vir maand verdiep wees in gebed, vas, ween, soebat, smeek en die Heilige Gees vra om neer te daal – en tog steeds nie gereed wees vir herlewing nie!

(Laat my die terme verduidelik wat ek hier gebruik: Die woord herlewing beteken letterlik “die opstanding van dit wat dreig om ‘n lyk te word.” So, as jy iemand opwek, beteken dit hy het reeds beswyk. Ek glo egter nie God se heilige, oorblyfsel kerk het beswyk nie. En wanneer ek die woord herlewing gebruik, praat ek eintlik van ‘n uitstorting van God se Gees.)

Dit is noodsaaklik om God se Woord te ondersoek om uit te vind hoe Sy mense hulleself voorberei het. Jy sien, God het vir ons talle Bybelse beginsels gegee wat “oproepbaar is” – dit is, gereed om vervul te word. En ek glo Hy wag bloot op ‘n volk wat hulleself sal voorberei om hierdie beloftes in besit te neem.

Natuurlik, God is soewerein en kan Sy Gees uitstort op enigeen wat Hy kies. Daar is berigte van die uitstorting van die Heilige Gees op verskeie volke dwarsdeur die wêreld waar dit opstandingslewe bring aan diegene wat dit nie verwag of gereed is daarvoor nie. God gee egter ook vir ons ‘n Bybelse patroon wat vir ons Sy standaard en manier wys. En Sy manier is dit: Hy werk deur ‘n voorbereide volk! Hy ploeg braakland om voor Hy dinge in goddelike orde stel.

Ek wil vir jou drie redes gee waarom ek glo die kerk is nie gereed vir herlewing nie. Ek bid dat terwyl ons hierna kyk, ons onsself in lyn sal kry met God se Woord ter voorbereiding om te ontvang wat Hy beloof het:

1. Ons is nie gereed vir herlewing nie, as ons oortuig is dat hierdie samelewing sy dag van genade weggesondig het!

Amerika het God so bedroef – die intensiteit van sonde is so verskriklik – dat talle oortuig is dat daar geen hoop oor is nie!

In die afgelope jare het ek inderdaad oortuig geword deur Amerika se verskriklike morele grondverskuiwing, dat God geen ander keuse het as oordeel nie. Daarom het ek intensief Sy dreigende oordele verkondig, veral oor die laaste tien jaar. En ek glo steeds daardie boodskap met my hele hart – en sal aanhou om dit te verkondig met alle gesag!

Jy sien, God mag geduldig wag vir bekering en baie profete stuur om te waarsku oor oordeel. Maar ‘n dag breek uiteindelik aan wanneer Hy sê, “Genoeg!” – en gebed is nutteloos op daardie punt. Ek noem dit “die angsvrystelling” – wanneer God destruktiewe oordele loslaat op ‘n samelewing. Ons sien verskeie voorbeelde hiervan in die kerkgeskiedenis:

  • Dit het in Noag se geslag gebeur. God het met goddelose mensdom geworstel vir 120 jaar, met barmhartigheid, waarskuwings en sigbare tekens soos die ark. Maar uiteindelik het Hy gesê, “Genoeg!” – en Hy het die hele mensdom uitgewis, behalwe vir dié wat die ark binnegegaan het.
  • Dit het ook met Lot se geslag gebeur in Sodom en Gomorra. God het die dae van boosheid in daardie samelewing so versadig geag met homoseksualiteit, wellus en geweld. Uiteindelik kon Hy niks meer verdra nie en het gesê, “Julle beker van ongeregtigheid is vol. Julle sondes het aan die hemel gereik!” – en Hy het daardie stede en al die omliggende dorpe uitgeroei. Hulle was oorgegee aan “die angsvrystelling”!
  • Dit het ook in Jerusalem gebeur. Christus het in die strate van daardie stad geloop en gehuil, gewaarsku oor die komende oordeel. Sewentig jaar later, het God gesê, “Dit is genoeg!” – en Jerusalem het geval en was tot op die grond afgebreek. Duisende was vermoor in ‘n verskriklike slagting.

God het dieselfde boodskap in die hart van Jeremia geplaas. Hy het die profeet na die poorte van die tempel gestuur met hierdie droewige uitroep:

“Want gaan tog na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel...daarom sal Ek aan die huis waaroor my Naam uitgeroep is, waar julle op vertrou, en aan die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, doen soos Ek aan Silo gedoen het...En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nie luister nie (Jeremia 7:12-16).

God het vir die regverdige gesê, “Jy kan nou ophou bid! My geduld is op, en Ek het oordeel bepaal. Ek gaan My Gees van die oostelike poort af wegneem en dit heeltemal van My huis af oplig. Dit gaan net soos Silo wees!”

Silo staan as ‘n getuienis vir alle geslagte dat die oordeel by die huis van God begin. God se volk het so afvallig en goddeloos geword dat die Here inbeweeg het met skielike en verskriklike oordele. Silo was waar die Gees van God weggegaan het en “Íkabod” bokant die deur geskryf is. Die Here het al Sy heerlikheid weggeneem, die deure gesluit en weggegaan – en dit bouvallig agtergelaat!

Die Woord van die Here het tot Esegiël gekom met dieselfde waarskuwing:

“Mensekind, as ‘n land teen My sondig deur troubreuk te begaan, en Ek my hand daarteen uitstrek en die staf van die brood daarvan verbreek en ‘n hongersnood daarin stuur, en Ek daaruit mens en dier uitroei – al was hierdie drie manne, Noag, Daniël en Job, daarin, dan sou hulle deur hul geregtigheid net hulle eie siel red, spreek die Here HERE...hulle sou geen seun of dogter red nie; hulle sou net hulle eie siel deur hul geregtigheid red” (Esegiël 14:13-14, 20).

God het in wese gesê, “Selfs hierdie drie manne – Noag, Daniël en Job – kon nie ‘n herlewing afbid nie. Selfs hulle regverdige gebede kon nie meer tyd koop nie. Jy sien, Ek stel oordeel vas – en al die biddende mense in die wêreld kan My nie van plan laat verander nie!”

As ek sien wat God aan Noag se geslag, Sodom en Jerusalem gedoen het, kan ek nie help om af te lei dat Amerika ryp is vir verwoesting nie!

Dink vir ‘n oomblik na: Nie een van daardie samelewings het 25 miljoene baba’s soos ons doodgemaak deur aborsie nie. Hulle inwoners het nie willekeurige dade van moord in hulle strate gepleeg in soveel getalle as ons vandag nie. En Sodom se hele bevolking was nie naastenby gelyk aan die aantal homoseksuele wat in een parade marsjeer in New York Stad nie. Geliefde, ons is ‘n miljoen keer slegter as daardie generasies – en God het hulle almal veroordeel en vernietig!

Ek bid dikwels, “O, God – as U hulle vernietig, hoe kan U ons spaar? Waarom word U vurige oordele teruggehou van Amerika af?

Kenners sê die ekonomie is besig om ‘n oplewing te beleef in hierdie jaar van 1995. Ons bruto binnelandse produk neem toe. Outomobielfabrieke produseer motors teen ‘n rekordbrekende tempo. Inflasie staan stil. Alles lyk inderdaad goed vorentoe. Waarom bring al hierdie goeie nuus egter nie enige gevoel van sekuriteit vir mense nie? Dwarsdeur die hele land, voel mense dat iets in die lug hang, dat iets gereed is om te gebeur. Selfs die slegste sondaar voel nie veilig nie. Waarom? Dit is omdat, diep binne-in, weet hierdie land dat dit oordeel verdien! Ons almal weet ons leef op geleende tyd.

Hoe kan ons gereed wees vir herlewing as ons glo dat alle hoop verlore is – dat ons ons dag van genade weggesondig het en dat daar niks oor is behalwe oordeel nie? Geliefde, ons kan nie geloof vir herlewing hê totdat ons oortuig is dat God steeds sy Gees op ons wil uitstort nie!

Waarom word Amerika nie geoordeel nie? Waarom het Jesus nog nie gekom nie? Dit is omdat daar ‘n groot oes voorlê! En God “...wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9).

Ons sien hierdie groot barmhartigheid van die Here in ‘n gedeelte in Jesaja. God het die profeet opdrag gegee om vir Juda te sê:

“So sê die HERE: Waar is tog die skeibrief van julle moeder waarmee Ek haar verstoot het? Of wie is daar van my skuldeisers aan wie Ek julle verkoop het? Kyk, weens jul ongeregtighede is julle verkoop, en weens jul oortredinge is julle moeder verstoot. Waarom het Ek gekom en daar was niemand nie, het Ek geroep en niemand het geantwoord nie? Is my hand werklik te kort om te verlos, of is daar in my geen krag om uit te red nie?” (Jesaja 50:1-2).

God het reeds van Israel geskei, en hulle ‘n “...skeibrief gegee” (Jeremia 3:8). Maar nou was sy aandag gevestig op Juda, ‘n volk wat Hom verneuk het en van Hom af weggeloop het. God het steeds ‘n hart vir Juda gehad, en Hy het wenend na hulle gekom, “Waar is tog die skeibrief...” (Jesaja 50:1). Hy het in wese gesê, “Wys vir My jou egskeidingsdokumente! Bewys aan My dat Ek jou weggestuur het. Dit was jý wat van Mý af weggeloop het! Ek het niks gedoen wat jou bedroef het of jou skade aangedoen het nie. Ek het jou die hele tyd liefgehad. Ek het gekom en Ek het jou geroep!”

Probeer jou dit voorstel: Daar was die Here, op pad na die einste lêplekke van Juda se hoerery om na haar te soek, terwyl Hy roep, “Ek kom soek jou! Jy het vir almal vertel daar is geen hoop nie, dat daar nooit ‘n liefde tussen ons kan wees nie. Maar Ek kom jou haal!”

Geliefde, dit is presies wat ek sien God nou met Amerika doen. Hy sê, “Wys vir my jou skeibriewe! Wys vir My dat Ek jou verlaat het! Ek het nog nie My Heilige Gees weggeneem nie. Liewer, Ek is steeds aan die werk dwarsdeur hierdie land – bearbei steeds, roep en kom na jou toe!”

Die Here spreek dit deur Time Square Kerk en talle ander kansels dwarsdeur hierdie nasie. En Hy spreek dit deur goddelike mans en vroue wat kosbare tyd deurbring om Hom te soek. Hy roep Amerika terug tot bekering – terug na Sy eie hart! Wanneer Hy egter kom, vra Hy, “Waar is diegene wat my op My roeping sal antwoord gee? Waar is diegene wat hulle tot My sal bekeer?”

Dit is waaroor ons onlangse weke van gebed by Time Square gegaan het. Dit het alles te doen met Sy laaste oproep!

Talle mense wat in ons kerk sit, is bewys van die Here se bearbeiding. Eens op ‘n tyd, het Hy hulle harte aangeroer en hulle uit afvalligheid en kompromittering uitgeskud. Hy het uitgeroep, “Ek het jou lief!” – en hulle het gereageer. En nou wil dieselfde Gees wat hulle opgewek het, ‘n hele menigte versamel. Ons aandeel is om te bid met geloof dat, soos die Gees afvalliges bearbei, ‘n menigte sal antwoord gee en hulle bekeer.

Ons moet ten volle oortuig wees dat daar steeds tyd (hoewel kort) en steeds hoop is – en dat terwyl ons bid, die Gees aan die werk is op alle vlakke van die samelewing, waar Hy mense roep en bearbei vir Homself!

2.Ons is nie gereed vir herlewing nie, wanneer ons oorweldig word deur duisternis wat die nasie bedek en deur die woede van die vyand!

Ek sien ‘n woede en ‘n intensiteit in sondaars vandag soos in geen ander geslag nie. Toe ek ‘n seun was, het die kerk na Afrika verwys as die “donker vasteland” weens hulle geestelike duisternis. Maar vandag is daar ‘n geestelike duisternis wat oor Amerika hang en amper tasbaar is. Amerika is nou die “donker vasteland”!

“Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en [groot] donkerheid die volke...” (Jesaja 60:2).

“[Groot] donkerkheid” dui op ‘n donkerheid wat jy kan aanvoel. En die donkerheid tans oor Amerika is intens, algemeen en word elke oomblik dikker.

Wanneer jy New York binnevlieg word jy verbyster deur die stad se helder ligte. Wanneer jy egter eers van die vliegtuig af is, ‘n taxi tot in Manhattan neem en by Broadway uitkom, voel jy onmiddelik die duisternis. Dit is swaar, demonies, verblind mense se harte en verstand – en dit raak erger!

Die Bybel sê egter dat God ‘n aandeel het aan daardie duisternis:

“Gee eer aan die HERE julle God voordat Hy dit donker laat word en voordat julle voete stamp teen die berge in die skemering; terwyl julle wag op lig, maar Hy dit doodskaduwee maak, in donkerheid verander” (Jeremia 13:16).

God het die groot duisternis gemaak! Wanneer mense so ingesteld is daarop om te sondig dat hulle die Here verwerp, word hulle tot duisternis gedryf. Dawid sê van die goddeloses, “Laat hulle oë duister word, sodat hulle nie sien nie...” (Psalm 69:24). Die Gees laat toe dat ‘n duisternis oor hulle hart en verstand neerdaal.

Dan sal hulle “...ook die aarde aanskou, en kyk, daar sal benoudheid en duisternis wees! In jammernag en donkerheid is hulle gedrywe” (Jesaja 8:22).

Sondaars word werklik gedryf tot hulle duister dade. Satan het op die aarde gekom met ‘n leër van demoniese magte wat goddelose mense aanjaag tot in ‘n waansin van boosheid!

Die drif en intensiteit van hierdie huidige slegtheid is ‘n duisend keer sterker as toe ek die eerste keer na New York gekom het meer as ‘n geslag gelede. Vandag kyk ek na mense se oë terwyl hulle op pad is om ‘n dwelm konneksie te maak, uit ‘n kroeg uit strompel, heen en weer hardloop om plesier te soek – en daar is geen twyfel nie dat hulle gedrewe is!

Toe ek aanvanklik hierdie bediening begin het vyf-en-dertig jaar gelede, het ek in kerke dwarsdeur Amerika gepraat en gewaarsku oor die morele grondverskuiwing wat sou kom. Ek het vir mense in Iowa, Oklahoma en al die Suidelike state vertel dat dwelms selfs die kleinste dorpie sou tref. Dwelmsmouse sou in skole en op die speelgronde hul opwagting maak. Ek het gewaarsku oor blatante homoseksualiteit, met naakte parades wat plaasvind in ons stede. En ek het geprofeteer dat naaktheid en seksuele dade uitgesaai sou word op die vernaamste TV tye.

Die meeste van die mense wat my gehoor het, het gedink ek kom van Mars af. Herders het my uitskel. En opregte Christene het na die tyd na my gekom en gesê, “Dit is nie moontlik nie! God sal nooit dat dit met Amerika gebeur nie.” Vandag, is sommige van daardie mense wat my bespot het, oupa’s en ouma’s. Hulle sit voor hulle TV’s en kyk na R-gegradeerde, perverse films waaroor ek geprofeteer het. En hulle kinders en kleinkinders is verslaaf aan dwelms en alkohol. Die duisternis waarteen ek gewaarsku het, het nou in hulle siele ingekom.

Kan jy jouself voorstel hoe donker dit gaan wees tien jaar van nou af, sou die Here vertoef?

Ek vra egter vir jou: As jy die duisternis sien dikker word en groei aan alle kante, glo jy dat dit die lig van die evangelie sal oortref? Is jy bang die duisternis gaan dit verbrysel, oorweldig of dooddruk?

Nee – nooit! God se mense moet nooit geïntimideer word deur die duisternis en woede van die vyand in hierdie laaste dae nie. Dit maak nie saak hoe donker die wêreld word nie. Die Bybel sê Jesus gaan opstaan en in die donker skyn!

  • “Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? – dat jy vergeet van die HERE wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker?” (Jesaja 51:12-13).
  • “Dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig” (Psalm 139:12).
  • “...Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge: Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom” (Daniël 2:22).
  • “Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn” (Jesaja 9:1).

Ons leef in ‘n tyd van wydverspreide dood en duisternis. Maar God sê dat Hy in sulke tye Sy lig die helderste sal skyn:

“En Ek sal blindes lei op ‘n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie” (Jesaja 42:16).

Dit maak nie saak hoe wild dit in die strate word nie, of hoeveel homoseksuele Christus in gay parades vloek nie. Ons moenie deur die duisternis oorweldig word nie! Wanneer groot donkerheid die aarde bedek, moet ons verwag dat die Here in al Sy heerlikheid sal skyn en menigtes verlos:

“Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóu sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang” (Jesaja 60:1-3).

Geen duisternis sal ooit God se lig keer nie! So, haal jou oë af van die duisternis, af van die sonde, af van die woede van gewelddadige mense. En glo die Here vir die uitbarsting van Sy skitterende, stralende lig!

3.Die Kerk is nie gereed vir herlewing nie, weens sy swak geloof in die gewilligheid en mag van God om goddelose, verharde sondaars te red.

“Maar hulle sê: Dit is tevergeefs; want ons sal na ons gedagtes wandel, en ons sal elkeen volgens die verhardheid van sy bose hart wandel” (Jeremia 18:12).

Juda het hoop verloor en gedink, “Ons het te ver gegaan – en nou is daar geen omkeer nie. Ons het die Here verlaat, Hom bespot, Hom  misbruik, Hom opsy geskuif. Ons is so diep in ons sondes, dit is hopeloos. Nie eens God kan ons bekeer nie!”

Geliefde, na al my jare in die bediening, moet ek steeds stry teen hierdie soort denkwyse. Jy mag dalk dieselfde voel. Jou man is moontlik ‘n ateïs, gemeen en goddeloos. En jy het jouself oortuig, “Oral rondom my, word mense gered. Maar my man is anders. Hy is so hard!”

Die Here het vir Juda gesê,

“...Is my hand werklik te kort om te verlos?...” (Jesaja 50:2).

Om te kort te wees, beteken om “afgekap te wees.” God het in wese gesê, “Sê vir my – het die vyand My magtige arm afgekap? Het Ek My krag verloor om te red? Nee! My magtige arm het die Rooi See laat opdroog. Dit het die hemele met swartheid beklee. Dit het blinde oë oopgemaak. Jy het gesien dat Ek tot die uiterste red. Waarom dink jy het Ek My krag verloor om te verlos?”

Liewe heilige, wanneer het God Sy mag verloor om die slegste sondaar op die aarde te red? Wanneer het Hy Sy gewilligheid verloor om dwelmverslaafdes, dronkaards en prostiture te verlos?

Sou God dan op een of ander manier besluit om nie jou familielede te red vir wie jy gevas en getrou gebid het nie? Glad nie! Ons moet uitroep tot Hom in geloof, “O Here, U kan Wall Street red. U kan die slegste homoseksueel in New York red. U kan enige Moslem in enige vreemde land red. En U kan enige lid van my familie red. U arm is nie te kort nie. U kan enigeen tot saligheid bring!”

Ons sal nooit gereed wees vir herlewing totdat ons ophou om God te beperk nie. Moenie glo Sy hande is afgekap nie; in plaas daarvan, glo Hom vir die onmoontlike! Kry ‘n visie van Sy barmhartigheid en liefde – van Sy magtige, uitgestrekte arm, almagtig om te red!

As Jesus ‘n groot oes geprofeteer het, dan sal ons bonatuurlike uitstortings van God se Gees op menigte miljoene sien. Toe die Gees die eerste keer uitgestort was in Jerusalem, was duisende gered op een slag. En, net so, vandag, behoort ons te bid met geloof vir die Gees om op hele nasies neer te daal – selfs dié met ontsaglike vestings.

Die afgelope jare, het die Heilige Gees in China gewerk en groot menigtes daar het gered geraak. Jesaja profeteer van talle mense wat versamel word uit Sinim, wat Sjina verteenwoordig:

“Kyk, hulle hier kom van ver, en kyk, hulle dáár kom van die noorde en van die weste, en hulle dáár kom uit die land van die Siniete” (Jesaja 49:12).

Dieselfde Heilige Gees vuur daal ook neer in Rusland en in dele van Indië. God se Gees is aan die beweeg, bearbei en roep mense dwarsdeur die wêreld!

God vra egter Sy oorblyfsel kerk om te begin by ons eie families, een persoon op ‘n slag:

“Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit ‘n stad en twee uit ‘n geslag en sal julle in Sion bring” (Jeremia 3:14).

Ons moet bid en geduldig wees – en Hy sal ons geliefdes versamel, een op ‘n slag!

Hier by Times Square Kerk, bid ons dat God talle in Sy koninkryk sal inbring deur uitstortings van Sy Gees. Maar die Here wil ook hê ons moet op ons families fokus. Ons moet ‘n dringendheid hê om te bid, “Here, stuur oortuiging van sonde oor my familie! Red my seun, my dogter, my vrou...”

Verskeie jare gelede was daar ‘n gewilde lied, “Raindrops Keep Fallin’ on my Head.” Ek glo daardie lied vertel vir ons hoe ons veronderstel is om te bid – vir God om letterlik Sy Heilige Gees te laat neer reën! Die Skrif belowe dat in die laaste dae, die Heilige Gees soos reën sal neerdaal. En jy kan bid dat Heilige-Gees reëndruppels op die hoofde van jou geliefde neerstort:

“Bid tot die HERE om reën in die tyd van die laat reëns; die HERE maak die weerligte, en Hy sal aan hulle ‘n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen” (Sagaria 10:1).

God wag en is angstig om Sy Heilige Gees uit te stort. Is jy gereed om Sy reën af te bid? Ons moet nie net vir die vuur van oordeel bid nie, maar vir reën!

Ja, God se oordeel is aan die kom; dit is voor die deur, selfs nou al. Maar terwyl ons steeds tyd het, moet ons God glo om Sy Gees uit te stort. So neem besit van Sy goddelike, “oproepbare” beloftes – en jy sal sien dat ‘n Heilige-Gees herlewing oral rondom jou uitgestort word.

Halleluja!