Die Josefgeselskap

David Wilkerson

Ek weet van een Bybelkenner wat meer as ‘n honderd maniere ontdek het waarop Josef ‘n tipe Jesus Christus was. Soveel as wat ek egter glo Josef was ‘n tipe van Christus, glo ek ook Hy was ‘n tipe van die laaste-dag oorblyfsel – ‘n volk wat God tans oprig om vir Sy kerk te wys toe om uit sy geestelike hongersnood te kom!

Laat my vir jou die Josefgeselskap wys – ‘n klein liggaam van laaste-dag gelowiges wat volkome aan die Here oorgegee is. Hulle het daagliks gemeenskap met God. Hulle word gelei deur die Gees in elke besonderheid van hulle lewens. En op hierdie oomblik kom hulle uit groot beproewings en toetse om ‘n plek te betree van openbaring, wysheid en vrugbaarheid. God werk in hulle en gee vir hulle Sy waarheid en kennis. En die tyd kom gou wanneer Hy hulle gaan roep soos Hy vir Josef geroep het!

Tans is die kerk van Jesus Christus besig om toenemend meer wêrelds, losbandig, goddeloos en koud te word. Ons bediening ontvang letterlik duisende briewe van herders en gemeentelede wat swaar belas is met die toestand van hulle kerk. Mense kla dat hulle nie oortuigende, lewensveranderende preke hoor nie. Herders kla dat min die waarheid wíl hoor.

Ja, daar is sommige kragtige “kandelaarkerke” in Amerika – vol lig en heerlikheid en die heiligheid van God. Die herders is aan die brand, verkondig geregtigheid, en God werk magtig onder die mense.

Maar die grootste deel van die kerk vandag beleef wydverspreide geestelike hongersnood: oppervlakkige preke, dooie hoorders, “lewendige” aanbidding wat nie ondersteun word deur ‘n regverdige lewe nie. ‘n Laodicensiese blindheid het soos ‘n sluier geval oor die oë van menigtes wat eens aan die brand was vir God. Talle ware bedienaars van God word moedeloos. Een herder het onlangs geskryf:

“’n Groot aantal goddelike herders word afgedank of deur hulle kerke uitgedwing. Ek het by my kerk bedank verlede Desember die 31ste. ‘n Kollega net tien myl van hier af, het ook sy kerk onder verdenking verlaat. ‘n Derde pastoor sestig myl ver, het sy bedanking noodgedwonge ingedien. ‘n Vierde was afgedank deur sy kerk in Oktober...

“In my gebied, groei kerke nie deur nuwe bekeerlinge te maak nie, maar deur Christene wat rondbeweeg, met ‘n verbruikersmentaliteit. Dit is ‘n draaiende deur... Vind asseblief self uit hoeveel manne van God is bedroef, verslaan en moedeloos – maar sê ook, ‘Ja, kom, Here Jesus’!”

Wat is God se oplossing vir sulke afvalligheid en hongersnood?

God was nog altyd ver vooruit aan die werk in Sy kerk. In elke geslag het Hy vooruit gewerk om ‘n uitweg vir Sy volk voor te berei!

Die vyf-en-sewentig lede van Jakob se stam kon gesterf het in die wêreldwye hongersnood (en die belofte van Israel sou vernietig gewees het) as God nie alles vooruit beplan het nie. Ongeveer twintig jaar voor die hongersnood toegeslaan het, was God inderdaad besig om ‘n plan in werking te stel om Sy volk van verwoesting te red.

Hy het Josef vooruit na Egipte gestuur! Vir twintig jaar lank het God aan hierdie man gewerk – hom afgesonder, hom getoets en hom voorberei vir ‘n posisie van gesag – omdat Josef die lewensredder van God se uitverkorenes sou word, het Hy Josef uit die kalklig uitgehaal – om opgelei te word vir ‘n naderende dag van chaos en dood!

Geliefde, net so seker as wat God Josef afgesonder het, het Hy ook ‘n Josefgeselskap wat weggesteek en uit die oog gehou word vandag. Hulle is in die vuuroond van verdrukking, tronke van toetsing, strydvelde van beproewings en versoekings. Hulle is besig om te sterf vir hierdie wêreld, en wil niks hê van sy roem, eer, geld of plesier nie. En hulle word honger om intiemer met Christus te wees – om Sy hart en Sy stem te hoor.

Jy mag moontlik nie al die geheimsinnige toetse, beproewings en swaarkry in jou lewe verstaan nie. Maar as jou hart ten volle ingestel is om Christus te volg, kan jy seker wees God het ‘n doel met alles; Hy wil jou in Sy Josefgeselskap inbring!

Daar is drie dinge wat nodig was om van Josef ‘n beproefde en getoetse dienaar te maak. En jy sal ook hierdie dinge beleef as jy ‘n deel is van hierdie laaste-dag geselskap:

1. Josef het gereageer op die Gees se oproep tot ‘n heilige, afgesonderde lewe.

God se Gees het nog altyd die mensdom tot Homself geroep – tot heiligheid, reinheid van hart en ‘n afgesonderde lewe. Dit is tragies dat min ooit daarop reageer – maar in elke geslag het God ‘n klein oorblyfsel wat wel sy oproep gehoorsaam. Hulle sonder hulleself af, reinig hulle lewens en gee hulself ten volle aan Hom oor.

Josef het aan God se oproep gehoor gegee op ‘n baie vroeë ouderdom. En hy het tien ouer broers gehad wat dieselfde oproep tot oorgawe, regverdige lewe en hulleself af te sonder, ontvang het. Maar hulle het verkies om in die wêreld te bly – en hulle wandel met God was halfhartig.

Daar was ten minste twee geleenthede toe al Jakob se seuns die Gees se oproep baie duidelik ontvang het. Die eerste was by Salem, in Sigem, waar Jakob ‘n altaar aan DIE GOD VAN ISRAEL gebou het. Jakob het sy seuns geroep na die altaar om saam met hom aanbidders te word – om te kniel voor die Here en Hom heelhartig te volg.

Maar Josef se broers het in plaas daarvan, hulle gewend tot wraak en bloedvergieting. Toe ‘n Sigemiet hulle suster Dina verontreinig het, het hulle na die stad gejaag, dit afgebrand en elke man, vrou en kind doodgemaak (sien Génesis 34). Hierdie tien broers het hulle nie heeltemal oorgegee om God te vertrou en te dien nie. Nee – hulle geweld het van Jakob ‘n stank onder die Kanaäniete gemaak!

God het weereens kap-af geroep vir hulle, hierdie keer by Bet-el. Jakob het geweet dat sy seuns vasgevang was in afgodery en God se oproep tot reinheid en regverdigheid verwerp het. Daarom het hy hulle gewaarsku: “Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan; en laat ons klaarmaak en optrek na Bet-el; en ek sal daar ‘n altaar bou vir die God wat my geantwoord het...” (Génesis 35:2-3).

Geliefde, dit is een van die duidelikste oproepe in die hele Woord van God! Die frase “trek ander klere aan” in Hebreeus beteken ‘n morele en geestelike reiniging van die verstand en hart. Uiterlik, het Jakob se seuns oorgegee: “Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ring aan hulle ore” (Génesis 35:4). Maar hulle berou was slegs oppervlakkig – hulle het nooit ‘n ware hartsverandering gehad nie. Hulle het reguit teruggegaan na hulle wederstrewigheid en vol haat, afguns en twis geword!

Daar was egter iets anders aan Josef: sy bekering was uit die hart. Hy het gereageer op die Gees se oproep – en van die ouderdom van sewentien af, was hy heeltemal ingestel daarop om die Here te volg. Te midde van ‘n goddelose, bose omgewing, het Josef rein hande en ‘n rein hart gehandhaaf.

Jakob het ander seuns gehad wat vir Bilha en Silpa, sy diensmeisies en byvroue gebore is. Hierdie seuns het die familie se vee opgepas en Josef was uitgestuur in die veld in om saam met hulle te werk. Maar hy was gou bedroef – omdat sy broers gepraat en geleef het soos die heidene! Sy rein hart was verpletter deur die goddeloosheid van sy eie familie.

“En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring” (Génesis 37:2). Josef het sy hart voor sy vader uitgestort: “U sal nie glo hoe hulle leef nie, Vader. Hulle praat teen u God en myne. Hulle bedroef Hom!”

Geliefde, dit is ‘n kenmerk van die Josefgeselskap: hulle het ‘n droefheid oor sonde! Hulle het alle afgode verlaat en is verlief op Jesus – hulle harte brand met Sy heiligheid! Hulle sien sonde in die land, maar hulle is die ergste bedroef oor die sonde in die kerk. Hulle roep vanuit van hulle siele, “O, Vader – kyk na wat onder U kinders gebeur!”

As jy deel is van hierdie laaste-dag geselskap, kan jy sonde nie oorsien nie. Iets moet net in jou opstaan wat sê, “O God, ek kan nie verdra wat hulle aan U Naam doen nie!” Jy begin om te bid – nie teen mense nie, maar teen die inbreuk wat die demoniese magte maak op die kerk van Jesus Christus!

Josef se vader het hom voorgetrek, hom geklee met ‘n spesiale kleed wat hom laat uitstaan het tussen sy broers!

Trek ons hemelse Vader sekere van Sy kinders voor? Of sê die Bybel nie dat God geen aannemer van persoon is nie?

Wanneer dit kom by ewige saligheid en Sy wonderlike verbondsbeloftes, behandel God almal eenders. Maar God reageer op almal wat heelhartig op Sy roeping reageer. Hy plaas Sy spesiale guns op diegene wat hulle lewens heeltemal aan Hom oorgee!

Job het gesê: “Die lewe, ja, guns het U aan my bewys” (Job 10:12). En Dawid het gesê: “Want U seën die regverdige, o HERE , U omring hom met welbehae soos met ‘n skild” (Psalm 5:13). “HERE, U het my berg deur u welbehae sterk laat staan” (Psalm 30:8). Die Skrif sê ook vir ons: “Maar die seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die HERE sowel as by die mense” (1 Samuel 2:26).

Die feit bly staan, ons hemelse Vader het ‘n besonderse kleed geplaas op diegene wat Hom soek en hulle harte volkome aan Hom oorgee: “Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel” (Jesaja 61:10).

Josef het gereageer op die Gees se oproep en het alles oorgegee – en hy het guns van sy vader ontvang. Hy was ‘n kleed gegee wat hom afgesonder het. Maar daardie guns van sy vader was duur! Dit het Josef alle verhoudings gekos. Dit het verwerping, misverstand, en bespotting vir hom gebring: “...sy broers....het...hom gehaat” (Génesis 37:4).

Waarom het Josef se broers teen hom gedraai? Die sleutelvers is in vers 11: “Sy broers was afgunstig op hom.” Toe hulle die kleed gesien het wat Josef gedra het, het hulle geweet dit praat van guns en geregtigheid. En hulle het dit gehaat – omdat dit hulle herinner het aan die Gees se oproep wat hulle verwerp het! Josef was ‘n bestraffing vir hulle halfhartige lewenstyl!

Jy sien, Josef se broers het rondgekuier met nietige geskinder en selfgesentreerde gepraat. Hulle harte was behep met grond, besittings en hulle toekoms. Maar Josef s’n was elders. Hy het oor die dinge van God gepraat, van bonatuurlike ontmoetings. God het vir hom drome gegee, wat in daardie tyd sinoniem was met die hoor van God se stem.

Ja, Josef was van ‘n ander stoffasie – en daardie verskil het hom gehaat en ‘n voorwerp van afguns gemaak onder sy broers. En geliefde, dieselfde ding sal met jou gebeur as jy uitverkoop is aan Jesus!

Louwarm gelowiges rondom jou sal wil praat oor hulle karre, huise en werk – maar jy wil liewer praat oor ewige dinge, oor dit wat God vir jou sê. Gou sal jy ‘n bestraffing vir hulle halfhartigheid wees. Hulle sal jou beny – omdat jy die oproep van die Heilige Gees wat hulle afgewys het, verteenwoordig!

Inderdaad, diegene van die Josefgeselskap oorblyfsel ken verwerping goed. Hulle ken die pyn van gebrandmerk word as ‘n fanatikus, ‘n geestelike gek, ‘n “ongebalanseerde” gelowige. Selfs predikers spot met hulle en noem hulle afsondering en toewyding aan Jesus “geestelike hoogmoed.” Hulle sê vir hulle gemeente, “Hierdie een is te ver heen. God verwag nie sulke fanatisme nie!”

2. Josef se grootste beproewing was die Woord van God wat hy so liefgehad en vertrou het!

“Hy het ‘n man voor hulle uitgestuur: Josef is as slaaf verkoop. Hulle het sy voete in boeie geknel, en hy self het in ysters gekom, tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het” (Psalm 105:17-19). Josef was getoets en beproef op baie maniere – maar sy grootste beproewing was die woord wat hy ontvang het!

Beskou alles wat Josef verduur het: Op slegs sewentien, was hy gestroop en in ‘n put gegooi om van die honger te sterf. Sy koudhartige broers het gelag vir sy pleidooie om barmhartigheid. Hy was verkoop aan die Ismaelitiese handelaars, met n karavaan na ‘n Egiptiese slawemark geneem en daar verkoop as ‘n gewone slaaf.

Josef se grootste beproewing was nie sy verwerping deur sy broers nie. Dit was nie die menslike onwaardigheid om ‘n slaaf gemaak en in die tronk gegooi te word nie. Nee – Josef was verward en beproef in gees deur die duidelike woord wat hy van God gehoor het!

God het aan Josef geopenbaar deur drome dat aan hom groot gesag gegee sou word, en dat hy dit tot God se eer sou gebruik. Sy broers sou voor hom neerbuig – selfs die son, maan en sterre sou neerbuig! Hy sou ‘n groot verlosser van baie mense wees.

Ek glo egter nie een hiervan was ‘n ego trip vir Josef nie. Sy hart was so ingestel op God, dat sy woord hom in plaas daarvan, ‘n nederige gevoel van bestemming gegee het: “Here, U het U hand op my geplaas om ‘n deel in U groot, ewige plan te hê. O God – waarom mý kies?” Josef was geseënd deur bloot te weet hy sou ‘n belangrike rol speel om God se woord in vervulling te bring!

Maar al die omstandighede in Josef se lewe was net die teenoorgestelde van wat God in sy hart geplant het. Hy was die dienaar – hy  moes buig! Hoe kon hy so ‘n woord van God bewaar, dat hy eendag menigtes sou verlos, as hy self ‘n slaaf was? Hy moes gedink het, “Dit maak nie sin nie. Hoe kan God ‘my gange bevestig’ in die tronk – in die vergetelheid? Hy het gesê ek sou geseënd wees. Hy nie vir my gesê dít gaan gebeur nie!”

Vir tien jaar het Josef getrou in Potifar se huis gedien – maar op die ou end was hy verkeerdelik veroordeel en oor gelieg. Sy oorwinning oor versoeking met Potifar se vrou het hom net in die tronk laat beland. Tydens sulke tye moes hy die verskriklike vrae bepeins het:

“Het ek reg gehoor? Of het my trots hierdie drome uitgedink? Kon my broers reg gewees het – dat ek te oorgegee is aan hierdie wêreld? Miskien gebeur al hierdie dinge met my as tugtiging vir een of ander selfsugtige begeerte....

Geliefde, daar was tye waarin God vir my dinge gewys het wat Hy vir my wou hê – bediening, diens, bruikbaarheid – maar al my omstandighede was die volkome teenoorgestelde van daardie woord. Op sulke tye het ek gedink, “O God, dit kan nie U wees wat praat nie – dit moet my vlees wees,” ek was getoets deur God se woord aan my!

Ek ken ‘n herder wat beproef word deur God se Woord. Hy glo wat die Bybel sê oor genesing – maar, vir die laaste vyf jaar, het hy toegekyk hoe sy vrou agteruitgaan met ‘n seldsame siekte. Hy bid vir die siekes by sy kerk – en kom dan huistoe om sy vrou te voed, aan te trek en te bad. Hy glo God vir haar genesing, maar sy word erger elke dag.

Ek sien geopenbaar in hierdie man, die genade en geduld van Christus. Hy is een van die mees liefdevolle, sorgsame manne van God wat ek ooit ontmoet het en die teerheid wat hy aan sy vrou bewys, kom nou uit in sy bediening en gemeente!

‘n Dierbare suster het onlangs geskryf dat sy meer as ‘n jaar gelede, uiteindelik besluit het om die hele pad saam met Jesus te stap. God het Christus in haar begin openbaar – kort daarna, het sy egter ontdek haar man besoek prostitute. Hy het elke aand in kroeë and bordele deurgebring.

Hierdie vrou was geforseer om haar huis te verlaat en ‘n werk te kry om haar drie kinders te versorg. Hoe meer toegewyd sy geword het, hoe meer het haar man afvallig geword van God. Sy kon nie verstaan waarom, toe sy haar hart op Christus ingestel het, so ‘n verskriklike tragedie sou gebeur nie. Maar ek ervaar in haar brief ‘n krag, ‘n hemelse sterkte.

Sy word ook beproef deur die Woord van God! God het vir haar beloftes gegee – maar haar omstandighede is egter presies die teenoorgestelde!

Selfs te midde van elke beproewing en moeilike plek, het God sy Josefgeselskap voorspoedig gemaak!

Selfs toe Josef ‘n dienskneg in Potifar se huis was, was hy deur God geseën. En kort nadat hy in die tronk beland het, was hy ook daar voorspoedig. Hoe het God hom voorspoedig gemaak? Dit was nie geld of besittings nie; dit was nie met posisie nie. Nee – die hele tyd het God Josef se gees voorspoedig gemaak – tot sy hart gespreek, vir hom drome en verklarings gegee!

Dit is wat Josef verder laat gaan het met God. Hy het geloof gehad dat, ten spyte van al sy swaarkry en situasies buite sy beheer, was God met hom. Josef was nooit vir ‘n oomblik sonder die geopenbaarde teenwoordigheid van die Here nie – en daardie voortdurende, blywende teenwoordigheid het ‘n vrede binne-in hom veroorsaak.

Ek glo God moes daarna verlang het om Josef die einde van die storie te vertel het – om vir hom te fluister, “Moenie bekommerd wees nie, Josef. Dit is hoe dit gaan eindig...” Maar Hy het dit nie gewaag nie – omdat Josef steeds in die skool was!

Jy sien, Josef het nie geweet dat hy eendag “aan sy (Farao se) oudstes moes...wysheid leer” nie (Psalm 105:22). Hoe kon hy egter God se wysheid aan Egipte se leier leer as hy dit nog nie eers self geleer het nie? God se kinders leer sulke lesse slegs deur geloof! Ons kry God se wysheid deur beproewings, verdrukkings, swaarkry en toetse. Ons bid dit nie af nie – ons leef dit uit!

As jy in God se laaste-dag Josefgeselskap is, dan is jy besig om te leer om op Hom te steun in jou beproewings. Jy leer om te vertrou en nie te kla nie – om volkome in Hom te rus. Jy sal dalk nie al die geheimsinnige weë waarop God jou gelei het, verstaan nie. Alles om jou mag inderdaad die teenoorgestelde vir jou lyk as die woord wat God vir jou gegee het.

Maar jy leer dat in alle dinge, Christus jou bron is. En God hou jou in die skool vir die dag wanneer Hy jou sal roep!

3. Die dag het gekom waarop alles vir Josef sin gemaak het! God het alles bymekaar uitgebring – en elke woord en belofte was tot die letter vervul!

Ek glo dit het gebeur tydens Josef die donkerste uur – toe hy eensaam, neerslagtig en op die punt was om moed op te gee met sy drome, terwyl hy sy posisie in God bevraagteken het. Skielik het die oproep gekom van een van die koning se wagte: “Josef! Maak jou skoon – Farao roep jou!”

Op daardie oomblik, moes die Gees van God magtiglik op Josef neergedaal het. Ek glo sy hart het opgespring – ‘n opgewondenheid het in hom toegneem; hy was op die punt om te verstaan waaroor dit alles gegaan het!

Terwyl Josef geskeer en sy hare gesny het, het hy waarskynlik gedink, “Dit is die begin van wat God aan my beloof het. Nou weet ek ek het van Hom gehoor! Die duiwel was nie in beheer nie – my lewe was nie vermors nie. God het die hele tyd alles gereël!”

In kwessie van minute, het Josef voor Farao gestaan en luister na sy droom. Hy het die uitleg van die naderende hongersnood gegee en vir Farao gesê om die land se graan bymekaar te maak en te stoor: “Iemand moet in beheer wees van die stoorkamers. U moet iemand kry wat vol wysheid is om dit alles te beheer!” (sien Génesis 41).

Farao het rondgekyk – en toe het hy na Josef gedraai: “Jy, Josef! Ek stel jou aan as tweede heerser. Slegs ék sal meer mag hê in die koninkryk as jy. Jy sal in beheer wees van alles!”

Hoe vinnig het dinge verander! Binne ‘n uur, het Josef gegaan van ‘n verlate, onbekende gevangene na die tweede magtigste man in Egipte. Terwyl hy op ‘n koninklike wa deur die strate gery het, het die mense voor hom gebuig – en skielik het hy besef hy het sy droom uitgeleef!

Ek kan net sien hoe Josef gery het in diepe, maar blye oorpeinsing. Hy moes elke moelike tyd van die afgelope twintig jaar herleef het. Hy het gedink aan al die beproewings en toetse – van sy broers se verwerping en deur hulle verkoop te word in slawerny.

Maar nou het ‘n blydskap in sy hart opgekom – omdat alles bymekaargekom het! Hy het gesê, “Nou kan ek dit sien! ‘n Hongersnood is aan die kom – en God wil my vader en my broers red. Hy het my voor hulle uitgestuur. Dit was al die tyd Sy plan!”

Die dag het gekom toe Josef voor sy broers gestaan het en in staat was om te sê: “Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou” (Génesis 50:20).

“Maar God het my voor julle uit gestuur om vir hulle ‘n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ‘n groot verlossing. Júlle het my dan nou nie hierheen gestuur nie, maar God; en Hy het my ‘n raadsman van Farao gemaak en ‘n gebieder oor sy hele huis en ‘n regeerder in die hele Egipteland” (Génesis 45:7-8).

Josef het in wese gesê, “God het alles beplan, elke tree van die pad! Elke swaarkry wat die duiwel oor my gebring het – selfs die skade wat julle bedoel het om my aan te doen – het God  alles ten goede laat uitdraai en deel gemaak van Sy ewige plan!”

Dierbare heilige, as jy deel is van hierdie Josefgeselskap, sal jy binnekort jou vurige beproewings verstaan. God gaan jou in die belofte inbring wat Hy vir jou gegee het – en skielik gaan alles sin maak. Jy sal sien dat Hy jou nooit verlaat het nie. Hy moes jou op hierdie pad neem – want Hy het jou opgelei om Hom vir alles te vertrou. Hy het ‘n tyd beplan vir jou om gebruik te word – en daardie tyd is voor die deur.

Die laaste-dag evangeliste sal nie primêr in die kansels staan nie: Hulle sal in die gemeente wees – aandag vermy, maar magtig gebruik word!

‘n Tyd kom binnekort waar daar ‘n geestelike hongersnood sal wees soos die wêreld nog nooit gesien het nie. Mense gaan oral aan ‘n geestelike hongersnood lei. Die gebroke en hongersnoodgeteisterdes sal een vir een geneem en vertel word, “Kom saam met my – ek ken iemand vol van Jesus. Hulle is getoets, hulle is deur die vuur, en hulle is vol van die Heilige Gees. Hulle sal ‘n ware woord van verlossing vir jou hê!”

Geliefde, ek sien dit reeds gebeur! Ek ken ‘n aantal van die Josefgeselskap by die naam, omdat ek met hulle gepraat het. Hulle is in staat om die Brood van die Lewe te gee vir die verhongerdes – omdat hulle die sleutel van God se stoorkamer het! Hulle ken die weë van die Here, omdat hulle deur hulle toetse en beproewings gekom het met ‘n greep op God. Iets magtigs word in hulle geopenbaar– en dit is ‘n hart wat ten volle oortuig is dat God gebed verhoor!

Hoe reageer jy op God se geheimsinnige handelinge met jou? Is jy ten volle oortuig dat God aan die werk is in alle dinge en besig is om Sy beloftes aan jou te vervul? Kan jy sê, “Dit is nou genoeg dat ek weet Jesus is met my – en dat Hy my gees voorspoedig maak”?

Hou vas aan geloof! Moenie bang wees nie – want jy is in Christus se skool. Alles is onder Sy beheer. Skielik sal die uur kom wanneer jou stryd sal eindig en jou oorwinning ‘n werklikheid gemaak word. Jy sal uit die vuur kom as ‘n werktuig van eer – om Sy wil te doen as deel van die Josefgeselskap!