Die Jónatan Kompanie

David Wilkerson

Die apostel Paulus waarsku “dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” (2 Timótheüs 3:1). Hy beskryf dan in besonderhede die verskriklike toestande wat ons in die laaste ure van tyd sal beleef:

“Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timótheüs 3:2-4).

U.S. News and World Report het onlangs ‘n artikel gepubliseer getiteld, “Die Gebroke hart Wat New York Is.” Daarin beeld die skrywer Paulus se profetiese waarskuwing uit – amper tot die letter! Hier is net ‘n gedeelte van wat gesê is:

“New York het 500,000 dwelmmisbruikers, amper die bevolking van Boston. In sommige buurte, is een kwart van alle inwoners binneaarse dwelmverslaafdes. Die gebruik van vuil naalde en die groot homoseksuele bevolking maak New York die AIDS hoofstad van Amerika...

“Die ongehude tempo in sentraal Harlem is tagtig persent en styg steeds. Elke jaar word 10,000 baba’s “vergif” gebore, die meeste van hulle crack baba’s wat $220,000 elk sal kos in remediërende aandag voor hulle kleuterskool bereik...

“In 1952, het die stad 8,757 rooftogte gehad. Verlede jaar het dit 93,387 gehad – ‘n roofoorval elke 6 minute. Een-en-twintig huurmotorbestuurders is sover hierdie jaar vermoor. Meisies is verkrag en van dakke afgegooi, en ‘n seun was vasgebind en aan die brand gesteek, vier klein kinders was doodgeskiet in dwelmoorloë binne ‘n tydperk van drie weke. Die moordkoers is op pad na ses per dag...

“Willekeurige, sinnelose geweld is nou oral en niemand is veilig nie. Sestig persent van alle New Yorkers verwag om nie meer hier te bly in vyf jaar se tyd nie. Daar is ‘n gevoel tussen stoere New Yorkers wat die stad liefhet, dat iets wat die algehele ineenstorting van die maatskaplike orde voorstel, onderweg mag wees en dat New York dit moontlik nie sal maak nie....”

“Swaar tye sal kom” – Paulus se gebruik van die woord “swaar” beteken “gevaarlike, wrede en gewelddadige tye wat alle krag tap.” Daardie tye is hier!

Dink daaraan – 60 persent van New York se bevolking beplan om te vlug! Maar sê vir my, waarheen kan ‘n mens gaan om te ontsnap van die demoniese gees van geweld wat in hierdie land woed? Dit is losgelaat oor die hele Amerika!

Byvoorbeeld, ongeveer drie jaar gelede, het ‘n familie van vyf New York Stad verlaat en hulle gevestig in ‘n oulike klein dorpie in die platteland. Hulle het gedink hulle was veilig van die misdaad en geweld van die stad. Vir twee jaar het hulle nuwe huis vir hulle na die paradys gelyk. Maar onlangs is die vader, moeder en twee van die kinders dood in hulle plattelandse huis aangetref, almal in die kop geskiet deur ‘n onbekende indringer!

In Miami se voorstede, lyk dit of geen tipe beskerming die rowers kan weghou nie. Hierdie vaardige diewe maak waghonde dood met loodpype, ignoreer alarmstelsels en beroof hele huishoudings van meubels deur trokke tot by die deur te trek helder oordag! Selfs in die berge van Colorado, eens ‘n heerlike wegbreekplek, verkrag en plunder duiwelaanbidders. Diere-offers is volop. Nou is ons selfs gewaarsku dat dit onveilig is om te kamp in al ons groot nasionale parke!

Los Angeles is ‘n stad op die rand van ontplof. Dwelmslawe – wit, swart en Spaans – vuur wapens lukraak af op onskuldige verbygangers. Hulle het geen sedes nie, geen gewetes nie. Hulle moor vir plesier!

Geliefde, daar is geen plek om weg te kruip nie, behalwe in Christus! Paulus waarsku dat sonde om ons net erger sal word – baie erger: “Maar goddelose mense en bedrieërs  sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word” (2 Timótheüs 3:13).

Dit is nie slegs ‘n New York Stad probleem nie, dit is ‘n nasionale probleem, ‘n wêreldwye probleem! ‘n Wettelose, gewelddadige golf het uit die hel gebraak tot in die kleinste dorpies van Amerika en selfs binnekant die hekke van beperkte-toegang gemeenskappe!

Dit is egter baie tragieser dat talle Christene afvallig sal raak in hierdie bose tye, wanneer hulle veronderstel is om hulle te bekeer en God te soek: “Want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal veramel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timótheüs 4:3-4).

Nou, in ‘n tyd waarin waarheid lewensbelangrik is, word talle afgesit omdat hulle nie die waarheid wil hê nie – hulle wil slegs sagklinkende leuens hê. Wat ‘n tragedie!

Geliefde, aangesien dinge net erger gaan word, hoe moet ons deur hierdie laaste uur gaan?

Dit is in teenstelling met alles in God se Woord om te vlug!

Jesus kom nie terug vir ‘n lafhartige volk aan die vlug nie, mense wat moed verloor met die stede wat deur Satan opgeëis word! As jy soek om jou lewe te red, sal jy dit verloor – maar as jy dit om Sy ontwil verloor, sal jy dit vind!

Jesus het goed geweet hoe ons tye soos lyk. Hy het geweet van die verskriklike geweld wat sou plaasvind – die vlammende gewere, die wrede, oorlogsugtige bendes en dwelmsmouse. Hy het al die uitbrake van gevaar en boosheid gesien. En steeds het Hy beveel, “Gaan na die hele wêreld! Verkondig die evangelie, doop, genees die siekes – en Ek sal met julle wees te alle tye!”

Christus het ook gesê, “Kyk, Ek stuur julle soos skape tussen die wolwe in” (Matthéüs 10:16). Hy het ons geroep om te leef tussen verskeurende wolwe en in die leeu-lêplekke van die goddelose samelewing!

Noag het geleef in ‘n samelewing wat heeltemal verdorwe geraak het – ‘n wêreld so gewelddadig dat God dit nie langer kon verdra nie! “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mensop die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart...Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. Toe sien God die aarde aan, en – dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe. En God sê vir Noag: Die einde alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg” (Génesis 6:5-6,11-13).

Die hele mensdom was verdorwe – geweld het oor die hele aarde uitgebreek! Vir 120 jaar het Noag gekyk hoe sy samelewing toenemend meer boos geword het, ‘n volk verteer met geweld, korrupsie, moord, verkragting en bloedskande. Maar te midde van dit alles het hy gestaan en geregtigheid verkondig. Hy was deur die krag van God bewaar! Hy het nooit gewankel nie! Al wat hy gevrees het, was die Woord van God!

Jy sien, God het altyd ‘n getuienis in die middel van al die goddeloosheid! Aangesien Noag gebly en nie weggekruip het nie, was hy daardie getuienis. Hy het “die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin” (Hebreërs 11:7). Wanneer golwe van boosheid opstaan, moet ons bly, staan en preek – en deur dit te doen, veroordeel ons hierdie goddelose samelewing!

God soek ‘n “Jónatan Kompanie” in hierdie laaste dae!

Dierbare heilige, jy het ‘n rol om te speel in hierdie goddelose tye! Jy moenie net oorleef nie, maar ‘n kryger wees in die voorste linies van geestelike oorlogvoering. Jy moet in staat wees om te sê, “Lewe of dood, ek is die Here s’n! Ek sal nie vlug wanneer die duiwel opstaan nie!”

Jónatan, seun van Saul, is ‘n goeie voorbeeld van hierdie soort getroue krygsman. Hy het ook in ‘n tyd geleef van morele verval en geestelike agteruitgang. Ek glo Israel was in werklikheid net so verdorwe en dekadent soos Amerika vandag.

Te midde van daardie goddelose samelewing, het Jónatan dít verteenwoordig waarna God in Sy kinders soek vandag! God soek ‘n kompanie van heiliges wat hierdie bose tye sal trotseer met moed en geloof. Ek noem hierdie heiliges die “Jónatan Kompanie” – en ek bid jy sal kies om aan te sluit by hierdie getroue afdeling!

Hier is die scenario: Israel het moeg geraak vir die profetiese woord van Samuel. Hulle het afvallig geword van die waarheid en gesmag daarna om ‘n heerser oor hulle te hê. Saul was aangestel as koning, maar het gou die Here verlaat. Hy en die volk van Israel het “dwaas opgetree” deur ongehoorsaam te wees aan die Here se gebooie – en God het die regering van Israel verlaat.

Uiteindelik het Saul duiwelbesete geword! Hy verteenwoordig ‘n samelewing wat God verlaat het, een wat hulle na boosheid gewend het. Israel onder Saul het sedelik armsalig geword, ver van God af en het die waarheid gehaat. Gou het Satan teen Israel gekom om ‘n laaste hou van verwoesting te slaan. Hy was vasbeslote om Israel van die aarde af te vee (net soos Saddam Hussein!). Die duiwel het Israel met 30,000 ysterwaens, 6,000 perderuiters en ‘n leër soldate omring wat so talryk soos die sand van die seestrand gelyk het! (1 Samuel 13:5). Die Israeliete het die vyand se massiewe mag gesien, het begin vlug en gesoek na plekke om in weg te kruip. Hulle het in spelonke, doringbosse, grotte, in kuile en hoogtes weggeduik.

Diegene steeds saam met Saul, het “bewende agter hom aangegaan” (1 Samuel 13:7). Hulle wou só graag ‘n koning hê – maar wat ‘n koning was Saul! Hy kon nie een greintjie dapperheid inspireer nie! Toe hý gebewe het, het húlle gebewe!

Saam met 600 soldate, het Saul in Gibea gewag onder ‘n granaatboom met 600 soldate. Hy was heeltemal verward, besluiteloos of hy moes vlug, oorgee, of op ‘n selfmoordsending gaan!

Praat van ‘n volk heeltemal oorweldig en sonder hoop! Niemand in daardie klein groepie het ‘n plan gehad nie – niemand kon God aanraak nie. Hulle het geen profeet gehad nie – hulle was hulpeloos, magteloos! En die duiwel wat hulle laat sidder het, het nadergekom om die nekslag toe te dien!

Dit kan die beeld in New York ook wees, as al God se kinders besluit om te vlug en na wegkruipplekke te soek – en slegs 600 soldate van God in hierdie stad oorbly. Dit is ‘n hartseer werklikheid dat talle Christene dwarsdeur hierdie land leierloos, biddeloos en afvallig is, sonder ‘n idee wat om te doen – met alle hel wat losbreek oor hulle!

Dit is omdat daar ‘n “Saulstelsel” aan die werk is vandag. Hierdie stelsel bestaan uit herders en kerke wat ineenkrimp voor die magte van duisternis. Hulle het ‘n gedaante van godsaligheid, maar geen krag nie. Die bose geeste van hierdie eeu het hulle oorweldig!

Jy sien, slegs heiligheid verskaf moed! Slegs ‘n goddelike, biddende volk kan onwrikbaar staan wanneer ‘n leër van ontelbare demoniese magte gereed is en wag om te vernietig en alles in sig op te eis!

Die Bybel sê, “Die regverdiges voel hulle veilig soos ‘n jong leeu” (Spreuke 28:1). ‘n Heilige mens kan hele leërs in die oë kyk en nie bang wees nie! Maar hoe meer wêreldsheid jy in jou hart het, hoe minder moed het jy om op te staan en te veg! Satan begeer om vrees in die harte van God se volk in te boesem – en hy slaag daarin wanneer jy ‘n  kompromie maak of afvallig word!

Ons moet eiehandig oorlogvoer!

In 1 Samuel 14 sien ons dat Jónatan ‘n plan gehad het, en vlug was nie deel daarvan nie! Hy het besluit om “eiehandig oorlog te voer” teen die vyand.

Dit is ‘n goeie ding dat hy nie vir sy pa of die 600 ander iets van sy plan gesê het nie. Hulle sou hom uitgelag het! “Jy? Alleen? Na die vyand se gebied gaan, en ‘n oorlog begin en jou lewe waag met geen leër om op terug te val nie? Net jy en jou wapendraer?”

Jónatan het egter moedig in geloof aan sy wapendraer gesê, “Want by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie” (1 Samuel 14:6). Met ander woorde, “Ek gaan aanval. Getalle tel nie by God nie!”

As God inderdaad ‘n groot leër van getroue dienaars gehad het, sou Hy hulle gebruik het. Maar God het nie ‘n groot leër nodig nie – Hy kan een of twee toegewyde soldate gebruik!

Dink daaraan! Israel se enigste hoop – God se hele belang op die aarde – hang af van die aksies van een man van God, een wat ‘n standpunt inneem en sê, “Ek gaan veg. Ek gaan reguit in die vesting van die vyand in om oorlog te voer!”

Geliefde, die oorwinning wat nodig is in jou huishouding, hang van jou af! Jy moet die oorwinning eiehandig behaal, of anders sal die vyand die oorhand kry. Jy is moontlik ‘n tiener en die enigste een in jou familie wat jou daaraan verbind het om verder te gaan met die Here. Die saligheid van jou familie hang van jou af!

‘n Tiener meisie het my eenkeer hoor preek oor vergifnis. Sy het my ná die boodskap genader en gesê, “Ek vind dit baie moeilik om my ma te vergewe. Ma en Pa is nie gered nie – en veral Ma spot my oor my wandel met Christus. Sy praat nou selde met my, en sy tree hatig op.”

Op my aandrang, het sy daardie aand huistoe gegaan om haar ma te vergewe en hopelik om hulle verhouding herstel te kry. Haar ma was in die bed en het TV gekyk. Die meisie het vol trane op haar neergeval en gesê, “Ma, vergewe my. Ek het bitterheid teenoor jou. Ek wil liefdevol en gehoorsaam wees!”

Maar haar moeder het haar weggestoot en haar spottend geterg, “Hou op snik – jy is dronk! Gaan weg! Jy is ‘n godsdienstige tjankbalie.”

Daardie jong meisie is die enigste kans wat haar ouers het! Sy moet alleen teen daardie sataniese vesting opstaan en eiehandig ‘n  geestelike oorlog voer!

Ek het onlangs gehoor van ‘n aantal bedienaars se vroue wat eiehandig oorlog voer teen die duiwel se aanval op hulle mans. Hierdie mans is ontmoedig, moedeloos, op die punt om op te gee en afvallig te word van God en van hulle roeping.

Hulle vroue weet egter dat as hulle nie in opstand kom teen die duiwel nie, sal hulle mans verlore wees! Hulle sê, “Dit is nie dat ek bang is hy sal afvallig raak en my verlaat nie. Dit is omdat ek nie die idee kan verdra dat my man God bedroef en die skape skade aandoen nie.” Daarom staan hulle op as die enigste een teen die demoniese betreding van hulle huishoudings!

Jónatan se plan het net twee opsies gehad: “Staan stil” of “Val aan!” Daar was geen omdraai nie: “As hulle vir ons só sê: Staan stil totdat ons by hulle kom ! dan moet ons op ons plek bly staan en nie na hulle opklim nie. Maar as hulle só sê: Kom op na ons toe ! dan klim ons op” (1 Samuel 14:9-10).

Ek kan my voorstel Jónatan staan op ‘n rots, swaai sy swaard en roep uit, “Julle! Onbesnede Filistyne! In die Naam van die Here kom ons teen julle!” En die Filistyne het spottende geantwoord, “Kom op. Ons sal vir jou ‘n ding of twee wys!” Duidelik het die Filistyne Jónatan geïgnoreer en gedink, “Wat kan een soldaat aan ons doen? Hy is skadeloos!”

Ek wens ek kon Jónatan hoor bid terwyl hy opgeklim het teen die kant van daardie skerp rotse: “Eer aan God, die oorwinning is ons s’n! Geen gevlug meer nie! Hierdie goddelose vyand sal voor my swaard val! Geen duiwel in hel kan my vader, my familie, my nasie vernietig nie! O God, veg vir my! Ek sal tot die dood veg as dit moet!”

Geliefde, sien hoe een klein oorwinning die vyand in verwarring gedompel het en hulle ‘n algehele nederlaag laat ly het: “En hulle het voor Jónatan geval terwyl sy wapendraer agter hom aan van kant maak. Hierdie eerste slag waarin Jónatan en sy wapendraer ongeveer twintig man verslaan het, het plaasgevind op omtrent die helfte van ‘n aanvoorsel van ‘n stuk lank. Toe kom daar skrik in die laer...en kyk, die swaard van die een was teen die ander” (1 Samuel 14:13-20).

Jónatan het ‘n halwe-akker oorwinning behaal – twintig dooie soldate. Maar hierdie klein geveg het vinnig gestoomroller tot in ‘n magtige oorwinning! Hoe is dit dat een man van God, vol geloof, twintig van die duiwel se soldate kon aanvat, hulle almal verslaan en verskrikking bring oor al die leërs van die hel?

Onthou dit: Jónatan was geen spiertier, held-tipe nie. Nie een van God se helde was in der waarheid ooit sterk in hulleself nie. Nee, dit is die Gees van God wat oor mense kom wat hulle laat waag om uit te stap in geloof om oorlog te voer! Jónatan wat gewaag het om dapper op daardie rots te klim, is ‘n beeld van enige man of vrou van God wat die teenwoordigheid van Jesus bekendstel in die oorlogvoering!

Vers 15 sê, “Hulle het ook geskrik, ja, die land het gebewe, sodat dit ‘n skrik van God geword het.” Die duiwel het paniekerig geword! Daar was drie afdelings Filistyne, en die woord het soos ‘n veldbrand versprei, “Daar is ‘n magtige leër aan die kom!”

Dit is wat God vir ons probeer sê! “Elia was ‘n mens met soortgelyke passies” – een wat in geloof gebid het omdat hy God vertrou het! Gideon was die geringste in sy huishouding, en sy leër het uit slegs 300 mans bestaan – maar God was met hom! As ons net kan besef of verstaan hoe kragtig die mag met ons is wanneer ons bid, sou ons baie meer voorbidding doen en stry in geloof!

Jónatan se swaard het blitsvinnig en kragtig geword, omdat die Gees van die Here op hom was. En so is dit met elke heilige wat oorlog verklaar teen sataniese vestings:

“Want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korinthiërs 10:4-5).

Die Bybel sê dat mans en vroue net soos jy en ek het “koninkryke oorweldig...die krag van vuur uitgeblus...dapper gewees...in die oorlog” (Hebreërs 11:33-34). Ons het dieselfde mag beskikbaar vandag! Ons kan wellus onderwerp deur geloof en gebed en God aan te roep! Ons kan die vurige toorn van Satan blus! Ons kan die monde van die leeus in ons tyd toesluit! Geliefde, ons is nie diegene wat moet bewe en verward wees nie – nee, dit is die duiwel en sy magte wat moet bewe en in uiterste verwarring gedompel moet word! God kan só maklik die laer van Satan verwar. Die effektiewe, vurige gebed van een gelowige veroorsaak groot verwarring onder demoniese magte. Een biddende heilige met die gees en geloof van Jónatan kan die hordes van die hel in totale verwarring dompel!

Dawid het gesê, “Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en in die skande kom; laat hulle wat my ongeluk beraam, agteruitwyk en rooi van skaamte word” (Psalm 35:4).

Die Skrif wys vir ons dat Satan bewe, paniekerig en verward word in elke geval as God Sy teenwoordigheid openbaar. Jesus het ‘n legioen demone uit ‘n besete uitgedryf en hulle het Hom gesmeek om in ‘n trop varke in te vaar. Maar Satan en sy bose hordes het so verward geraak dat hulle die verkeerde rigting ingehardloop het! In plaas van om na die oop wildernis (die “droë plekke”) te hardloop het hulle die varke in die see ingejaag. Dit is uiterste verwarring, algehele paniek!

Christene het die verkeerde idee dat die Koninkryk van die duisternis ‘n goed opgeleide en gedissiplineerde leër is, wat gehoorsaam is aan hulle meester. Dit is nie so nie! Dit is ‘n ryk van trotse, eiewillige, wilde ongehoorsame geeste wat vol arrogansie is! Dit is ‘n koninkryk van verwarring – en elke sondaar wat vandag lewe, deel dieselfde gees van wanorde!

Wanneer jy bid, kom jy in opstand en weerstaan jy die duiwel met geloof en voorbidding? Dompel jy die hele hel in chaos? Die duiwel en sy demone weet God sal jou verhoor. Vir eeue lank het hulle gebewe wanneer God die gebede van Sy kinders verhoor. Hulle weet nie wanneer of hoe God sal toeslaan nie! Die duiwel word bang en paranoïes – hy hoor voetstappe agter hom!

So was dit toe Elisa gebid het. Samaria was beleër deur die Aramese leër – maar in die middel van die nag het die Here in die Aramese kamp ingekom en paniek het uitgebreek:

“Want die HERE het die leër van die Arameërs ‘n gedruis van waens en ‘n gedruis van perde, ‘n gedruis van ‘n groot leërmag laat hoor...Daarom het hulle in die skemer klaargemaak en gevlug, maar hulle tente en perde en esels, die laer soos dit was, in die steek gelaat; en hulle het vir hul lewe gevlug” (2 Konings 7:6-7).

Dit was slegs die Here wat in die vyandige laer ingeloop het – en oombliklik het paniek, verwarring en angs geheers!

Satan het ‘n plan ontwerp teen jou en jou familie – en die enigste manier waarop daardie plan sal werk, is as jy ‘n afvallige Saul is en die Here nie met jou is nie. Maar as jy van die Jónatan Kompanie en vol van Jesus is, sal nie een van sy planne seëvier nie!

Selfs afvallige Christene bewe en word paniekbevange in die teenwoordigheid van iemand wat vol is van die Here. Toe Samuel na Bethlehem gekom het waar die volk afgodery bedryf het, “het die oudstes van die stad hom bewend tegemoetgegaan” (1 Samuel 16:4). Hoeveel te meer sal Satan nie bewe en paniekerig word wanneer die krag en teenwoordigheid van Jesus binnekom nie?

Ek bid dat God alle vrees uit jou hart sal wegneem, sodat jy in geloof kan opstaan en optree teen die vestings wat Satan in jou familie opgerig het. As jou wederhelf ongered is, is dit ‘n vesting – tree daarteen op! Sê dapper, “Ek eis sy (of haar) saligheid op in Jesus se Naam!”

Wat die duiwel die bangste maak, is ‘n volhardende Christen, een wat aanhou terugkom en sê, “Ek gee nie op nie, ek staan onwrikbaar vas. Ek staan op hierdie rots totdat ek my Here se oorwinning sien!”

God wil ‘n heilige dapperheid in jou hart plaas! Jy is nie net ‘n lid van ‘n kerk nie – jy is ‘n kryger van die Here Jesus Christus! Jy is geroep as ‘n soldaat om die volle wapenrusting van God aan te trek en om vas te staan teen die naderende vyand.

Sal jy aansluit by die Jónatan Kompanie? As jy ‘n lid sou word van hierdie afdeling van gelowiges in hierdie laaste dae, neem God bloot op Sy Woord. Dan, “Staan vas, en sien die verlossing van die HERE!”