Die Huidige Grootheid van Christus

David Wilkerson

“As ek aan julle in my gebede dink...Dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele” (Efésiërs 1:16-20).

Paulus se gebed vir die Kerk was eenvoudig dit: “Mag God nie net Christus se vorige grootheid aan julle openbaar nie, maar ook sy huidige grootheid.”

Vandag het die kerk groot eerbied vir die Jesus wat op die aarde gewandel het, die Galiliër, die seun van Maria, die Meester en Wonderwerker. Ons word nooit moeg om van die grootheid van Jesus Christus van Nasaret te hoor en te vertel nie – hoe Hy duiwels uitgedryf het, alle versoekings kragtig weerstaan het, blinde oë geopen het, dowe ore oopgemaak het, kreupeles laat opspring het, verdorde hande herstel het, melaatses gesond gemaak het, water in wyn verander het, menigtes gevoed het met net ‘n paar broodjies en vissies, en die dooies opgewek het.

Op ‘n stadium in die geskiedenis, het Christene egter die huidige krag van ons groot wonderwerkende Verlosser begin beperk. Die kerk het ‘n teologie ontwikkel wat Christus die God van die geestelike gemaak het, maar nie van die natuurlike nie. Byvoorbeeld, ons glo Hy kan ons sondes vergewe, ons senuwee’s kalmeer, ons skuld verlig, ons vrede en blydskap gee, ons die ewige lewe bied – alles in die onsienlike, onsigbare wêreld. Maar nie baie van ons ken Hom as God van die natuurlike nie, God van elke dag se sake: God van ons kinders, God van ons werke, God van ons rekeninge, God van ons huise en huwelike.

Paulus sê ons het ‘n openbaring van Jesus se krag nodig, sedert die tyd toe Christus uit die dood opgewek is. En op hierdie oomblik sit Jesus aan die regterhand van God, met al die mag in die hemel en op die aarde aan wat aan Hom gegee is en: “alle dinge onder sy voete gestel” het (Efésiërs 1:22).

Terwyl ek onlangs gebid het, het die Heilige Gees iets kragtigs tot my hart gespreek. Hy het gesê, “Jesus was nog nooit magtiger as nou op hierdie oomblik nie!” Trouens, die Skrif sê, “[Hy is] bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige” (Efésiërs 1:21). As ons dit waarlik glo, is die implikasies vir ons wonderlik.

Die Christus van Galiléa het nooit moed opgegee met die dooies nie.

Hy wat die dood oorwin het, het alle mag. En  daar was geen groter bewys van Jesus se krag op die aarde toe Hy uit die dood uit opgestaan het nie. “Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil” (Johannes 5:21). Jesus het duidelik daarop aanspraak gemaak om mag oor die dood te hê. Hy het selfs van Homself gesê, “Ek is die opstanding en die lewe” (Johannes 11:25). En Hy het dit bewys!

Glo ons werklik Jesus se woorde? Hy het gesê, “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê” (Johannes 5:25-26).

Jesus praat nie net van die laaste opstanding nie; Hy besrkyf ook Sy huidige mag om alles wat gesterf het op te wek – Sy huidige mag oorstroom ons met Sy lewe. Jy sien, ons almal het ‘n geheime begraafplaas in ons lewens – iemand of iets waarmee ons lankal moed opgegee het. Ons het dit begrawe, ‘n grafsteen daaroor gesit en die sterfdatum daarop geskryf!

Ek dink aan ‘n geliefde kennis wat vir my en my vrou vertel het dat sy na haar kinders se gradeplegtigheid toe gegaan het. Saam met al die familie wat dit sou bywoon, sou haar voormalige man (wat haar jare tevore vir ‘n ander vrou verlaat het) ook daar wees. Die huwelik self was onherstelbaar, omdat iemand anders nou sy vrou was. God het egter ons vriendin laat teruggaan na die grafsteen van daardie huwelik om vir sy saligheid te bid – en vir die saligheid van sy vrou! Hierdie vrou het nie moed verloor met die geestelik dooies nie.

‘n Ander dierbare suster in Christus het ‘n man wat haar jare gelede verlaat het. Hierdie man is nou verlore in ernstige sonde. Waar daar eens ‘n goeie huwelik was, staan nou ‘n grafsteen. Sy moes ook leer dat Jesus nooit moed opgee met die dooies nie. Dit is nie dat sy die man wil terughê nie (trouens, hy sal dalk nooit terugkom nie); liewer, sy wil hom opgewek uit die dood van sonde hê. Sy verloor nie moed met die dooies nie, want ons dien ‘n God met ‘n huidige-dag opstandingskrag!

‘n Herder het vir my ‘n hartseer storie vertel: Hy het ‘n vrygelate gevangene in sy huis ingeneem – ‘n man wat baie bekeerd gelyk het. Na ‘n paar maande, het die herder sy vrou en die gevangene betrap waar hulle sy eie huweliksbed besmet. Die herder en sy vrou het reeds twee kinders gehad – maar nou is die vrou verwagtend met die kind van die gevangene, wat reeds uit hulle huis gevlug het.

Wat ‘n droefheid ly hierdie herder! Hy is bekommerd oor VIGS. Hy kan skaars sy twee kinders onderhou en as hy sy vrou behou, weet hy nie hoe hy dit ooit sal maak nie. Hy het geskryf, “Dit is ‘n doodloopstraat oral waarheen ek my draai. Dit lyk absoluut hopeloos met geen uitweg nie.”

Ek ken ‘n pa wat ween oor sy sestienjarige dogter, eens so onskuldig en liefdevol. Nou is sy verslaaf is aan “crack” en dwaal in die strate rond om haar liggaam te verkoop. Sy is uitgeteer en het die sedes van ‘n straatkat. Hierdie vader het haar so lief, maar nou is sy kind half dood – eintlik meer dood as lewend!

Hy huil oor haar hoërskoolfoto en onthou die lang ente se stap en geselsies wat hulle saam geniet het. Dit is so jammer, hy het alle hoop verloor. Nou wag hy net vir die gevreesde laat-aand foonoproep om hom te sê om na die lykshuis te gaan en sy dogter se liggaam uit te ken.

Al hierdie slagoffers van die duiwel se verwoesting het skynbaar baie goeie redes om hulle geliefdes vir dood te aanvaar. Maar Jesus gee nooit moed op met die dooies nie! Hy bring lewe uit die dood voort. Al wat ons ooit nodig het, is Sy Woord, Sy Gees – en dit wat dood en hopeloos lyk, kom tot nuwe lewe.

‘n Ander treurende vader genaamd, Jaïrus, het na Jesus gekom vir die genesing van sy sterwende dogter. “En daar kom een van die owerstes van die sinagoge met die naam van Jaïrus; en toe hy Hom sien, val hy aan sy voete neer en smeek Hom dringend en sê: My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word, en sy sal lewe. En Hy het saam met hom gegaan. En ‘n groot menigte het Hom gevolg en Hom verdring” (Markus 5:22-24).

Hierdie man Jaïrus verteenwoordig die grootste deel van die Christendom. Soos Jaïrus, weet ons Christus is ons enigste hoop, en in ons krisis hardloop ons na Hom toe, val voor Sy voete neer en soek Sy barmhartigheid en hulp.

Jaïrus het ‘n groot mate van geloof gehad. Hy het Jesus gevra, “kom, lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word, en sy sal lewe” (Markus 5:23). Dit was ‘n bevestiging van ware geloof: “Here, al wat sy nodig het, is U. U het al die mag. U kan haar bewaar van die dood!”

Jesus het op hierdie man se geloof gereageer, “En Hy het saam met hom gegaan” (Markus 5:24). Jaïrus se gebroke hart moes met groot hoop gevul gewees het? Maar wat ‘n verskriklike gedagte moes by Jaïrus opgekom het: “Wat as ons te laat is? Dit is wonderlik om Jesus aan my sy te hê, maar ons het tyd nodig! Ons het Jesus en tyd nodig!”

Sou Jaïrus regtig geweet het wie Jesus werklik was “die opstanding en die lewe,” sou hy in sy gees gerus gewees het en vir sy bekommerde hart gesê het, “Jesus oortref tyd! Ek het nie meer tyd nodig nie – Ek het net Hom nodig!”

Geloof slegs tot op die punt van dood, is nie goed genoeg nie!

Jesus het toegelaat dat die tyd uitgeloop het, omdat Hy begeer het dat Sy volgelinge geloof sou hê in Sy opstandingskrag – geloof wat verder strek as hopeloosheid, selfs verder as die dood! Die nominale gelowiges wat by die dogtertjie se bed gestaan het, het hierdie geloof beperk: so lank as wat daar ‘n bietjie lewe, ‘n bietjie hoop oor was, was Jesus gesoek en nodig.

Hierdie mense het waarskynlik vir hulleself gesê, “Ja, Jesus, ons glo U is die groot geneesheer, die groot dokter. Niks is by U onmoontlik nie. Ons weet U het al die mag. Maar maak asseblief gou – want sy kan enige oomblik sterf! Dan het ons U nie meer nodig nie!”

Watter soort geloof is dit? Dit is geloof net tot op die randjie van die dood. Dit glo net tot by die graf. Wanneer omstandighede lyk of alles verlore is, sterf hierdie geloof.

Soos dit toe gebeur het, het die dogtertjie gesterf. Ek kan sien hoe die mense haar polsslag neem en haar dood verklaar. Die klein bietjie geloof wat hulle oorgehad het, was nou weg. Die eerste ding van die begrafnisreëlings was om die geneesheer te laat weet dat Hy nie meer nodig was nie. Hulle het hierdie boodskap gestuur: “U dogter is dood. Waarom val u die Meester nog lastig?” (Markus 5:35).

Hierdie woorde klink so finaal: “U dogter is dood!” Klink hierdie woorde in jou ore “Jou huwelik is dood – moenie Jesus lastig val nie!” “Jou bediening is dood – moenie die Here pla nie!” Jou kind is dood in sonde – moenie Christus lastig val nie!” “Jou verhouding teenoor daardie geliefde is dood!”

Hierdie gevreesde woorde beteken vir Jesus absoluut niks nie. Hy verloor nooit moed met die dooies nie! Hy is opstandingslewe. In die Grieks, is die beste weergawe van vers 36, “Asof Jesus nie gehoor het wat gespreek was nie, het Hy vir die owerste van die sinagoge gesê: Wees nie bevrees nie, glo net.”

Luister na die twyfel in hierdie woorde” “Waarom val jy die Meester nog lastig?” Met ander woorde, “Waarom glo jy nog wanneer alles verby is. Dit is nou ‘n dooie saak. Laat dit daar.” Maar met geen saak of mens is dit ooit verby met Jesus nie!

As hy na sulke twyfel geluister het, sou Jaïrus iets vir Jesus soos die volgende gesê het? “Dankie, Here, ek weet U het goed bedoel. Miskien sou sy geleef het as daardie vrou wat aan bloedvloeiing gely en die soom van u kleed aangeraak het U nie opgehou het nie. Ek het regtig geloof gehad; Ek het in my hart geweet dat as U betyds by die huis gekom het, toe sy nog asem gehaal het, sou sy nooit gesterf het nie.”

Dit is wat Maria vir Jesus gesê het nadat Lasarus gesterf het. “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie” (Johannes 11:32).

Beskou die soort geloof wat Lasarus se bure en vriende gehad het – ‘n geloof wat slegs tot by die rand van die dood gegaan het: “En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?” (Johannes 11:37). Nie Maria of Martha of ‘n een persoon by daardie graf, het enige geloof in Christus gehad as die Opstanding nie. Vir hulle was Jesus magtig en baie nodig – maar slegs tot op die rand van die dood.

“En hulle het Hom uitgelag”

Wat ‘n verskriklike toneel was dit by die huis van Jaïrus nie. Ek neem diep aanstoot wanneer ek die verhaal lees van wat gebeur het toe Jesus daar opgedaag het. Daar was totale verwarring, twyfel, vrees en geween. Hulle het almal opgetree asof Jesus niks anders as ‘n roubeklaer was wat Sy laaste eerbied kom betoon het nie. Ek kan hulle hoor sê, “Ten minste is Hy ordentlik genoeg om na die begrafnis te kom. Liewer laat as nooit!”

Markus 5:38-40 lees: “En Hy kom in die huis van die owerste van die sinagoge en sien ‘n rumoer: mense wat ernstig ween en huil. En toe Hy binnegaan, sê Hy vir hulle: Waarom gaan julle so te kere en ween julle? Die kind is nie dood nie, maar slaap. En hulle het Hom uitgelag.”

Geliefde, laat my jou vertel waarom daar so baie ontwrigtings in jou lewe is, so baie hartseer en droefheid: Dit is omdat jy nie glo dat Jesus, dit wat dood is, kan opwek nie. Jy glo nie Jesus weet wat Hy doen nie. Jy glo nie dat Hy ‘n lewegewende plan het nie. Jy dink Hy is te laat en dat dinge te ver gegaan het. Jy kan nie glo Jesus is steeds aan die werk – aan dit waarmee jy reeds moed opgegee het nie.

Van waar ek nou staan, kyk ek na daardie twyfelende mense en wil op hulle skree, “Waaroor lag julle? Waarom het julle moed verloor? Hou vas! Vertrou Hom. Hy kan haar weer opwek. Hy wil haar opwek! Dit was nog heeltyd Sy plan.” Ek vra myself – is dit die biddende skare wat vir Jesus gewag het om te kom terwyl hulle sê, “Hy is die antwoord”? Nou lag hulle vir Hom en ignoreer Hom. Vir hulle is Hy net nog ‘n mens.

Vandag is baie van ons net so skuldig soos daardie spotters. Ons roep ook uit tot God in ons moeilikheid en eis dat Hy ons verhoor voor dit te laat is. Dan, wanneer die antwoord nie betyds kom nie, word ons roubeklaers. Ons bewe voor die mag van die duiwel, asof duiwels die oorwinning behaal het – asof Jesus verloor het en die duiwel gewen het!

Dinge gaan dikwels van kwaad tot erger, en uiteindelik sê ons, “Dit is dit! Dit is te laat. Dit is alles verby. Vir een of ander rede het die Here gekies om hierdie situasie te laat gebeur. Hy gaan nie die situasie beredder nie.”

Dit is nie genoeg om Hom lief te hê, te dien en te aanbid tot op die rand van hopeloosheid nie. Waarom vertrou ons Hom nie ook wanneer alle hoop weg is nie? Wanneer dit lyk of ons nooit ‘n werk gaan kry nie? Of wanneer dinge ophoop aan alle kante – wanneer dit vir ons menslik onmoontlik lyk om voort te gaan?

Wat as Jesus in jou huidige situasie ingestap het? Wat sal Hy vind? Hoe sal jy teenoor Hom reageer? Sal jy steeds treur? Sal jou hart steeds ontsteld wees? Sal jy vir Hom sê, “Here, dit lyk hopeloos. Ek was op die punt om moed op te gee – maar U is steeds dieselfde as wat U in Jaïrus se huis was. U kan hierdie probleem oplos. U kan lewe uit die dood voortbring!”

As Jesus uiteindelik jou wonderwerk doen, sal jy buite gevind word saam met die spotters – of aan die binnekant saam met Sy getroue binnekring?

“Maar Hy [Jesus] het almal uitgedryf en die vader van die kind saamgeneem en die moeder en die wat by Hom was, en ingegaan waar die kind lê” (Markus 5:40). Hulle was daar om Hom aan die werk te sien. Dit is waar ek wil wees: aan die binnekant – die geloofkant!

Jesus was nog nooit meer gewillig om Sy mag te vertoon as wat Hy op hierdie oomblik is nie!

Jesus was nog nooit magtiger as wat Hy nou is nie. Ons geloof moet verder gaan as die rand van die dood. Dit moet in die aangesig van alles wat dood is, kyk en verkondig, “Jesus gee nooit moed op met die dooies nie!” Ons behoort ook nooit op te gee op enigeen of enigiets nie, maak nie saak hoe hopeloos die situasie lyk nie.

Let ook op dat met Jaïrus en sy dogter, was die Here nie geïnteresseerd daarin om sy mag aan die ongelowiges te openbaar nie. Trouens, Hy het diegene in die kamer beveel “dat niemand dit moes weet nie” (Markus 5:43). Met ander woorde: “Moenie vir ander vertel wat julle gesien het nie – die wonderwerk bly net tussen ons wat in hierdie kamer is.”

Diegene wat vashou aan onwankelbare geloof, is in vir ‘n heerlike openbaring van Christus se opstandingskrag. Slegs jy en die Here sal al die intieme werkinge ken. Hy sal jou verbaas; Hy sal jou opgewonde maak. Hy sal jou Sy heerlikheid wys!

Die huidige grootheid van Christus kan opgesom word in een kragtige vers: “In Hom was die lewe” (Johannes 1:4). Hy was – en is nou – energieke lewe. Hy besit lewe. Jesus was heeltyd vernuwe terwyl Hy getap het van die geheime reservoir wat nooit opraak nie. Hy het nooit moeg geword van die skares wat Hom verdring het nie. Hy was nooit ongeduldig nie.

Toe Hy Sy dissipels geroep het om eenkant toe te kom om te rus, hulle het vertrek na ‘n stil plek anderkant die meer. Maar die skares het ook daar gewag. Nie een keer het Hy gesê, “O nee! Dit is weer daardie probleem klomp met hulle simpel klagtes en eenvoudige vrae. Sal dit ooit ophou?” nie. In plaas daarvan, het Hy die menigtes gesien en was gedring tot medelye. Hy het enerdie gekry deur die Gees en het begin werk. Hy het dae van swoeg en sweet, nagte van gebed gehad – en selfs tyd vir die klein kindertjies!

In ‘n moeë oomblik, het Hy gestop om te rus by ‘n put, maar ‘n verlore vrou het hulp nodig gehad. Weereens was Hy energie gegee. Sy dissipels het teruggekom om hulle Meester so ontspanne en vernuwe te vind! “Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie” (Johannes 4:32). Dit is die geheime energie van opstandingslewe!

Dikwels voel ek soos ‘n uitgewerkte motorbattery: As jy die ligte te lank aanhou, is al wat jy die volgende dag kry, daardie gevreesde geluid, Urrr . . . urr! – die geklink van dooie masjinerie.

Ek weet iets is verkeerd onder vandag se gelowiges, want ons is belowe om presies dieselfde energieke lewe van Christus te hê. “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (Romeine 8:11).

Hoe duidelik is dit in die Skrif dat die Heilige Gees in ons woon om konstante lewe aan ons te bring. God het Sy energie voorsien om ons sterflike liggame binne te kom en ons fisieke sterkte te gee. “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak” (Kolossense 2:13).

“Maar God . . . het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus” (Efésiërs 2:4-5). “Dit is die Gees wat lewend maak” (Johannes 6:63). “Die laaste Adam [het] ‘n lewendmakende gees [geword]” (1 Korinthiërs 15:45).

Is jy vol van die Heilige Gees? Neem dan deur geloof besit van die nuwe lewe en energie “sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend” (Psalm 103:5). Titus praat ook van “die vernuwing deur die Heilige Gees” (Titus 3:5).

Dank God vir die huidige grootheid van ons Here Jesus Christus! Eien dit toe deur geloof – en wandel in die opstandingslewe en opstandingskrag!