Die Here Versoek!

David Wilkerson

"Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus."

“Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel.”

“En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie-en-twintigduisend geval. En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.”

Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korinthiërs 10:1-12).

Wie was die mense wat Paulus beskryf in hierdie gedeelte – die duisende wat “op een dag...geval” het, die massas wat deur slange doodgemaak is en die ander wat “deur die verderwer omgekom” het? Dit was nie die Moabiete, Kanaäniete, Filistyne of enige van die ander heidene wat Israel omring het nie. Nee, Paulus het hier van gelowiges gepraat – mense wat God self uitverkies het!

Hierdie mense het ontsaglike wonderwerke gesien. Hulle was geestelik bonatuurlik gevoed. Hulle het geestelike water gedrink uit ‘n rots, wat Paulus sê was Christus self. Hulle was goed opgelei en goed versorg. Maar, Paulus sê, baie van hierdie selfde mense was verteer deur God se vurige toorn en vernietig deur slange.

Die apostel vertel vir ons in vers 5 dat hierdie Israeliete God so mishaag het, dat Hy hulle in die woestyn “neergeslaan” het. Die Hebreeuse woord beteken hier, “Hy het hulle uit sy hand gewerp en hulle op die grond gegooi soos stof.”

Wat beteken dit? Die Here het in wese vir Israel gesê, “Ek sal dit nie van julle aanneem nie! As julle onskuldig was – as julle nie goed opgelei was nie, of nie geestelike voedsel uit my hand ontvang het nie, of nie die bewyse van my heerlikheid gesien het nie – dan sou Ek met julle werk. Maar ten spyte van my baie seëning aan julle, het julle wellus en afgode verkies. Daarom gaan Ek julle nou uitstrooi. Ek gaan julle heeltemal uit my hande uit werp!”

Hoe kon dit wees? Waarom sou die Here so ernstig teen sy eie volk optree nadat hulle so ten volle baat gevind het by Hom?

Volgens Paulus, het 23,000 gesterf as gevolg van hulle hoerery en afgodery. En was ander vernietig weens hulle murmurering en gekla. Laastens was ander deur giftige slangbyte gedood. Wat het hierdie laaste groep gedoen om hulle dood te regverdig? Paulus sê dit baie duidelik in vers 9: Hulle het Christus versoek! “En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie...” (1 Korinthiërs 10:9).

Ons kan verstaan waarom God ernstig teen hoereerders, afgodsdienaars en murmureerders opgetree het. Maar ek wil fokus op hierdie spesifieke sonde van Christus versoek. Wat bedoel Paulus as hy sê, ons “versoek die Here”?

Die apostel verwys hier na ‘n episode in Exodus 17. Die Israeliete het pas die wonderwerk van manna beleef – ‘n plat wit koekie wat al die voedingstowwe, wat hulle nodig gehad het om hulle te onderhou, bevat het. Hierdie “fyn en korrelrige” goed het op die grond verskyn in hulle midde elke dag. Die mense het nie hierdie bonatuurlike voedsel verdien of uit meriete verkry nie; die Here het dit vir hulle te ete gegee deur sy genade alleen. Al wat hulle moes doen, was om dit bymekaar te maak.

Maar hulle het geen water gehad nie. Hulle het aangekom by ‘n plek genaamd Mara, waar die water te bitter was om te drink. Weereens was hulle in ‘n krisis en het nog ‘n toets beleef. God het hulle honger gestil, maar nie hulle dors geles nie!

Dadelik het die mense hulle leier, Moses begin verwyt. Hulle het hom beskuldig dat hy ‘n hartelose leuenaar was wat hulle in die woestyn gelei het om hulle te vernietig. Hulle het selfs daarvan gepraat om hom te stenig.

Jy mag wonder – waarom toets God altyd sy mense op hierdie manier? Waarom beleef ons dikwels een toets na ‘n ander in die lewe? En waarom lyk dit of ons toetse net toeneem in intensiteit en in krag?

Die toetse wat God oor Israel gebring het, het sekerlik meer intens geword.  Wanneer die mense nie ‘n sekere les die eerste keer geleer het nie, het die Here ‘n selfs groter toets gebring. En wanneer hulle dit nie daardie keer geleer het nie, het Hy nog ‘n toets gebring en dit ook nog meer intens gemaak. Nou was hulle in gebreke om God te vertrou by die waters van Mara – wat beteken het dat ‘n selfs groter toets op hulle gewag het!

As ons vandag Paulus se gedeelte lees, neem die meeste van ons aan, “God het Israel se karakterdefekte probeer wegkap. Hy wou die dinge wat nie soos Hy was nie, wegsny – deur hulle swakhede te openbaar, sodat hulle meer soos Christus kon word.”

Dit is waar. Dit was egter net ‘n gedeelte van wat God in Israel gedoen het. Ons besef nie ons Here is agter baie meer aan wanneer Hy ons in sulke krisissituasies bring nie. Dikwels doen Hy dit, omdat Hy wil hê ons moet iets belangriks omtrent onsself leer!

Dink daaraan: Die Bybel sê ons is God se uitverkore volk, konings en priesters vir Hom. Net soos sy volk onder die Ou Testament gedoen het, eet ons sy manna, wat die Woord is. Ons drink van dieselfde Rots, wat Christus is. En ons geniet beter beloftes en ‘n beter verbond. Ons is uit slawerny verlos en het ons eie Rooisee oorgesteek. En ons het gekyk hoe God die sataniese magte wat ons eens gevange gehou het, vernietig het.

Net soos Israel, het ons egter in God getwyfel, gemurmureer en teenoor Hom gekla, ten spyte van sy seëninge aan ons. Ons het ons na afgode en begeertes gewend. En ons het Hom versoek, net soos die Israeliete. Kortliks, ons het nie ons lesse geleer nie.

Vandag bring die Here ons dikwels by ‘n plek soos Mara, waar die waters van die lewe bitter is. En wanneer ons eers daar is, beleef ons ook onvervulde dors, knaende vrae en ernstige twyfel.

Jy mag beswaar maak, “Nee – jy kan nie my met daardie afgodiese, ontugtige Israeliete vergelyk nie! Moses self het gesê hulle was hardvogtige – ‘n hardnekkinge volk wat op pad was om afvallig te word. Ek is glad nie so nie. Ek soek die Here. Jy kan nie sê dat ek soos hulle is nie!”

Maar die arme Israeliete het nie hierdie dinge oor hulleself herken nie. Hulle het nie besef wat in hulle harte was nie, tot hulle uur van toetsing aangebreek het. En ek glo dieselfde is waar van God se mense vandag. Die profeet Jeremia skryf, “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken” (Jeremia 17:9).

Jy moet onthou – hierdie is dieselfde mense wat later by Berg Sinai sou bewe voor die Here nadat hulle sy gebooie gehoor het. Hulle sou vinnig antwoord, “Alles wat God sê, sal ons ons doen. Ons sal elke gebod gehoorsaam!”

En hierdie Israeliete het opreg elke woord bedoel wat hulle gesê het. Hulle was vol van die vrees van God en was oortuig dat hulle nie in gebreke sou bly om sy woord te eerbiedig nie. Maar hulle het geen idee gehad wat in hulle harte was nie. Hulle was in der waarheid geestelik bankrot!

Jy sien, Israel het geleef van die belewenis van hulle herder en leermeester, Moses. Hulle het geen geloof van hulle eie gehad nie. En toe God Moses uit hulle midde verwyder het, het hulle afvallig geword binne veertig dae!

Dieselfde ding gebeur met talle Christene vandag. Wanneer hulle God se woord hoor verkondig word, beloof hulle gretig om dit te gehoorsaam met hulle hele hart. Maar in werklikheid, leef hulle van iemand anders se belewenis. Hulle voed op bandopnames, seminare, die openbarings van hulle predikante en pastore – en hulle het geen diepe belewenis van hulle eie met Christus nie.

Geliefde, jy kan nie God se ware opbenbaring van iemand anders kry nie. ‘n Prediker kan jou ontroer en inspireer en jy mag moontlik leer om Bybelse voorskrifte te op te sê. Maar totdat jy jou eie belewenis met Jesus gehad het en ‘n geskiedenis met Hom ontwikkel het, kan jy Hom nie ken nie, Sy woord moet sy weg in jou hart in werk, todat dit ‘n lewende ervaring word!

Die dissipels het ook geen idee gehad wat in hulle harte was nie – maar Jesus het. En Hy het hulle by ‘n plek van toetsing gebring wat dit alles blootgelê het. Hy het vir die twaalf gesê om in ‘n boot te klim en die see oor te steek, met die wete dat ‘n storm binnekort om hulle sou toesak.

Hierdie manne het gedink hulle was betroubare volgelinge van die Meester. Hulle het immers gesien hoe duisende mense gevoed was met net ‘n handjievol vis en ‘n paar stukkies brood. So, toe hulle in die boot geklim het, het hulle waarskynlik gedink hulle sou nooit weer in Jesus twyfel nie.

Dit is egter een ding om ‘n wonderwerkende krag in jou herder se lewe te sien en heeltemal ‘n ander ding om dit self te beleef. Toe die wind begin waai het en die golwe hoër gerys het, het die dissipels se toets gekom. Gou was die boot vol water en die mans het begin water uitgooi so vinnig as wat hulle kon. Binne minute, het hulle egter geweet dat hulle skip sou sink.

Luister na wat uit hierdie mans se harte gekom het in hulle uur van beproewing: “Here, gee U nie om dat ons op die punt is om te sterf nie? Ons gaan sink! Help ons, Jesus. Is U God of nie? Gee U nie vir ons om nie?”

Jesus se eie dissipels het Hom versoek! Trouens, hulle het amper presies dieselfde woorde vir Jesus gesê as wat die Israeliete vir Moses gesê het: “...omdat hulle die HERE versoek het deur te sê: Is die HERE in ons midde of nie?” (Exodus 17:7).

Jesus het egter heeltyd geweet wat Hy van plan was om te doen. Hy kon die winde en die golwe beveel het om stil te word lank voor hulle sou gaan lê. Sulke krag was altyd teenwoordig in Hom. Maar in plaas daarvan, het Hy toegelaat dat sy dissipels getoets word – in ‘n letterlike lewe-of-dood situasie!

Om die Here te versoek begin wanneer God toelaat dat ‘n krisis in ons lewens erger word. Waarom doen Hy dit? Wat is sy doel? Ons Here laat dit gebeur, sodat Hy by die laaste wortels van ongeloof in ons harte kan uitkom! Sy Gees gaan na al die kamers van ons harte en soek die mees verdoemende dinge uit – trots, selfgenoegsaamheid en al die ander dinge wat sy volheid in ons verhinder.

Die Psalmis skryf oor Israel se sonde, “En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin...” (Psalm 78:18). Die Hebreeuse betekenis van hierdie frase dui daarop dat die Israeliete “bo hulle kragte getoets is.” Dit beteken hulle het geen menslike vermoë oorgehad om vir hulself te voorsien nie. En toe hulle by daardie plek gekom het, het hulle geglo dat God hulle verlaat het, geswyg het en buite sig was.

Kortliks, dit is wat dit beteken om God te versoek. Dit gebeur wanneer sy uitverkore, geseënde mense in die vuur van toetsing geplaas word – en hulle krisis hou aan om meer intens te word totdat vrees hulle harte vasgryp en hulle skielik roep, “Here, waar is U? Waar is my verlossing? Waarom is U nie op die toneel nie? Is U met my of nie?”

Dit is onmoontlik vir ‘n ongeredde persoon om die Here te versoek. So ‘n persoon erken God glad nie in enige area van sy lewe nie. Vir hom is alles wat gebeur, of goeie geluk, of slegte geluk. Slegs diegene wat naaste aan die Here is, kan hom versoek – diegene wat sy krag gesien het, sy barmhartigheid en genade gesmaak het en geroep is om deur geloof te wandel.

Selfs die regverdige Johannes die Doper het hierdie soort beproewing, wat daartoe kan lei dat ons God versoek, beleef. Terwyl hy in die tronk gesit het, moes hy gewonder het waar God was in sy situasie. Die boodskap het na hom toe teruggekom van al die wonderlike dinge wat Jesus gedoen het – Jesus het mense genees, wonderwerke verrig en skares getrek wat eens na Johannes gestroom het. En nou het hy hier alleen gesit en wag vir teregstelling.

Johannes het geweet hy moes minder word, sodat Christus kon meer word. Maar nou het die gedagte by hom opgekom, “Minder word, ja – maar dood? Waarom moet ek sterf as Jesus waarlik God is? As Hy al hierdie wonderwerke doen, waarom kan Hy my nie verlos nie? Here, dit is alles te veel om te verduur!” (Onthou, Christus het nog nie die angel uit die dood gehaal nie.)

Die laaste woorde wat Jesus vir Johannes gestuur het, was ontsaglik betekenisvol: “En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie” (Matthéüs 11:6). Christus het vir hierdie goddelike dienaar gesê, “Moenie aan My aanstoot neem nie, Johannes. Jy weet Ek doen slegs wat Ek by die Vader sien. Hy ‘n plan met alles en Hy is waardig om vertrou te word. As Hy wou hê Ek moes kom en jou vrylaat, weet jy dat Ek daar sou wees binne ‘n oomblik. Jy kan gerus wees dat wat ook al gebeur, dit sal tot sy heerlikheid wees. En dit sal ewige heerlikheid vir jou beteken!

“Jy verduur jou laaste toets, Johannes. Moenie dat twyfel jou beroof van jou geloof nie! In plaas daarvan, rus in die Vader se liefde en getrouheid aan jou. Jy word nie geoordeel nie. Inteendeel, jy word hoog geag in sy oë. Hou net vas!”

Ek glo Johannes het verduur. Toe hy uiteindelik deur Herodus onthoof is, het hy huistoe na heerlikheid gegaan, vol geloof en eer!

Hulle het in gebreke gebly om God te vertrou by die waters van Mara en daarom het God hulle beproewing meer intens gemaak by Ráfidim, waar, “daar...geen water [was] vir die volk om te drink nie” (Exodus 17:1).

Jy moet verstaan, dit was geen klein krisis wat Israel nou beleef het nie. ‘n Mens kan vir weke oorleef sonder om te eet, maar net vir ‘n paar dae sonder water. En nou, toe Israel by Ráfidim gekom het, was daar geen water in sig nie. Kort voor lank, het kinders gehuil en families het swak geword van dors. Dit was ’n kritieke situasie.

Moses het egter die weë van die Here verstaan – en hy het presies geweet wat besig was om met Israel te gebeur. Hy het besef God het toegelaat dat sy volk uitermate getoets was. Waarom? Hy wou hê hulle moes hulself heeltemal aan sy sorg oorgee. Hy het begeer om te sien dat hulle in geloof opstaan en sê, “God kan!”

Dan sê die Skrif vir ons, “En (Moses het) die plek Massa en Mériba genoem vanweë die twis van die kinders van Israel en omdat hulle die HERE versoek het deur te sê: Is die HERE in ons midde of nie?” (Exodus 17:7).

Die woorde “Massa” en “Mériba” beteken albei dieselfde ding: “’n plek van beproewing en toetsing.” Moses het deur die kamp gehardloop en gehuil, “Dit is Massa – ‘n toets, ‘n beproewing! Dit is nie die einde nie. God het ons nie verlaat nie. So, moenie moed verloor nie. Hou vas! Die Here soek geloof en wil weet wat in ons harte is. Hy weet hoe om ons behoeftes te vervul. Hy wil net hê ons moet Hom vertrou vir nog ‘n wonderwerk!”

Jy ken die res van die storie. Dit is tragies dat Israel nie die Here vertrou het nie. Daarom het God Moses beveel om sy staf op te tel en na Horeb te gaan en ‘n sekere rots daar te slaan. Toe Moses die rots geslaan het, het water uitgestroom om Israel se behoeftes aan te spreek. Die Here het weereens bewys dat Hy met sy mense was – ten spyte van hulle ongeloof!

Ek vra jou -  hoe het Israel die Here versoek in hierdie episode? Was dit in hulle woede teenoor Moses – hulle begeerte om God se profeet dood te maak? Was dit deur hulle verskriklike murmurering? Of was dit in hulle afgodiese hoerery?

Nie een van hierdie dinge was die werklike kwessie nie. Hier is hoe Israel God versoek het: “...hulle [het] die HERE versoek...deur te sê: Is die HERE in ons midde of nie?” (Exodus 17:7).

God het daardie water heeltyd opgegaar gehad. Hy kon dit aan Israel voorsien het by die eerste tekens van hulle dors. Maar in plaas daarvan, het Hy gewag. Sy hart het daarna gesmag dat sy uitverkore volk sy liefde vir hulle sou besef en hulself in sy getroue arms sou werp. Maar weereens, het hulle misluk!

Daarom het God hulle weer getoets – hierdie keer deur toe te laat dat hulle honger ly. Moses het later gesê, “...die HERE jou God...het jou verootmoedig en jou laat honger ly...tot jou... beproewing...” (Deuteronómium 8:2,3).

Hier was nog ‘n toets van geloof. Sou Israel kon uithou met hulle leë mae en vir God wag om vir hulle brood te stuur? Sou hulle mekaar bemoedig om te glo deur te sê, “God het die Rooisee vir ons oopgemaak. En Hy het die bitter water van Mara soet gemaak. Ons weet Hy is getrou aan sy woord. Daarom, Here – vertrou ons U om ons te voed. Lewe of dood, ons is U s’n!”

Dit is al waarvoor God gewag het om te hoor!

Dit maak nie saak hoeveel jare ons met die Here gewandel het nie, hoeveel ure ons gebid het nie, of hoeveel Bybelkennis ons verkry het nie. As God iets in ons sien wat nie deur geloof is nie – ‘n area waarin ons Hom nie vertrou het om vir ons krag te gee om te oorwin nie – sal Hy ons na “Massa” neem. Hy sal ons in ‘n situasie plaas wat menslik onmoontlik is – en ons sal erg getoets word!

Byvoorbeeld, jy mag eerlikwaar glo dat jy ‘n liefdevolle hart het teenoor al jou broers en susters in Christus. “Die Here het vir my liefde vir almal gegee,” het jy getuig. Maar Jesus weet jy het ‘n probleem op een gebied: jy word ontsteld as iemand jou liefde en vriendelikheid misbruik. Wanneer dit gebeur, dra jy ‘n voortdurende gekrenktheid binne-in jou rond, maar tog hou jy aan om te sê dat jy daardie persoon liefhet.

Hoe spreek God daardie soort skynheiligheid in jou aan? Hy bring jou by ‘n plek van toetsing. Hy laat toe dat ‘n gemene, irriterende Christen oor jou pad kom! Skielik vind jy jouself aan die bid, “Here, waarom het U daardie persoon in my lewe ingebring? Hy is ‘n doring in my vlees! Ek het probeer om U getrou te dien – maar al wat ek in ruil daarvoor kry, is mishandeling!”

Die Here het jou by Massa gebring! Hy probeer by iets binne-in jou uitkom. Hy wil hê jy moet in staat wees om in jou situasie op te staan en te skree, “Ek weet my God is by my. Die Here bepaal my koers en ondersteun my. Hy sal my dra deur al my hartseer en angs!”

Hier is ‘n ander voorbeeld: Jy is ‘n uitverkore werktuig van die Here – jy drink sy lewende water, jy eet sy woord en sien magtige verlossings in jou lewe. Daar mag egter een gebied in jou lewe wees waarin sonde heers. Jy het steeds een, laaste boesemsonde – ‘n bose gewoonte, passie of begeerte.

Jy haat hierdie sonde. Jy het belofte na belofte aan God gemaak om beter te doen, maar jy het dit nog nie oorwin nie. Jy het oor jou gewoonte gehuil en die Here gesmeek om jou daarvan te verlos. Jy het boeke gelees en opnames geluister om ‘n sleutel na vryheid te probeer vind. Jy het egter nooit ‘n antwoord gekry nie. En vir jare leef jy nou in vrees dat dit geopenbaar gaan word.

Geliefde, jy gaan by Massa beland – in die toets van jou lewe! Praat van intensiteit; alle hel sal losbars in jou situasie. Die Here sal toelaat dat jy deur die duiwel versoek word en skielik sal jy oorwelding word deur jou begeerte. Satan sal jou probeer om jou te sif soos koring.

Jy sal dink jy het die swartse hart in die wêreld. Jy sal glo jy is oorgegee aan jou sonde. En jy sal op jou aangesig beland en uitroep, “Here, wat gaan aan? Waar het al hierdie begeertes vandaan gekom? Ek word nou meer versoek as toe ek aanvanklik U verlossing begin soek het. Ek verloor grond!”

Twyfel sal jou gedagtes vul. Jy sal wonder, “Hoe kan God ooit hierdie ding in my lewe toelaat? Dit gaan al vir jare aan. Hoe kon Hy al daardie beloftes aan my maak en dan nie getrou aan sy woord bly nie? Is U met my of nie?”

“...Ek het jou getoets by die waters van Mériba” (Psalm 81:8).

Geliefde, God wil hê jy moet weet dat Hy jou kon verlos het toe jy die eerste keer geroep het. Trouens, die hele tyd terwyl jy geween het, gestreef het en jou weg probeer uit veg het, het Hy die krag gehad om enige bose ding uit jou te dryf.

“Waarom het Hy dit dan nie gedoen nie?” vra jy. “Straf Hy my nie? Waarom het Hy my so ’n groot stryd laat verduur?”

As jy Israel se krisis beskou, mag jy versoek word om te sê, “God, verwag U nie te veel van hierdie mense nie? Hulle is bang en dis te verstane. Niemand kan immers sonder water lewe nie. Hoe kan hulle U versoek as hulle net hulle behoefte uitskree?”

Jy moet egter onthou – hierdie mense was goed gevoed en goed opgelei, omring deur tekens, wonders en wonderwerke. Hulle was nie geestelike nuwelinge nie. En hulle was nie sonder ‘n versorgende herder nie. Elke dag het hulle ‘n sigbare skadu-gewende wolk gehad as bewys dat God by hulle teenwoordig was. En elke nag het hulle die vertroostende gloed van ‘n vuur in die hemel gehad. Elke oggend het hulle manna op die grond gekry wat getrou uit die hemel vir hulle gestuur was. God het Israel voorsien met alles wat hulle nodig gehad het om hulle geloof op te bou!

Ons Here is nie besig met praatjies as Hy waarsku, “Sonder geloof kan jy My nie behaag nie. Jy moet waarlik glo dat EK IS – en dat Ek geloof altyd sal beloon. Daarom verwag Ek dat my goed gevoede, goed opgeleide kinders op My sal vertrou!”

Wat van die toets wat jy beleef? Wat wil God van jou hê in jou moeilike tyd?

Hy wil hê dat jy sy woord glo – sy beloftes! Hy wil hê dat jy volkome vertrou dat Hy met jou is in jou stryd. Dit maak nie saak of die hele hel teen jou kom nie. Sy teenwoordigheid sal nooit van jou weggeneem word nie, selfs te midde van jou vrese en trane. Geen pyl van die duiwel – geen magtige aanval teen jou – sal jou vernietig nie. Jou Vader het reeds ‘n plan van verlossing gereed vir jou!

Hy wag dat jy eenvoudig aan Hom vashou met blinde vertroue. Hy wil hê dat jy in staat sal wees om al jou kwaai versoekings te trotseer en te sê, “Ek mag dit dalk nie verstaan nie – maar ek weet my Here sal my nie verlaat nie. Lewe of dood, sink of swem, ek vertrou Hom om my deur te dra!”

Jou stryd sal slegs eindig wanneer jy ten volle op die Here vertrou en glo Hy is met jou in krag en in liefde. So, verwyder elke gedagte dat God jou ignoreer of sy oë sluit vir jou omstandighede. Dit is Hom versoek – en Hom beproef om sy getrouheid te bewys. Tog het Hy dit reeds baie kere bewys!

Geliefde, jy hoef nie die slang te vrees nie. Paulus sluit die gedeelte af met ‘n belofte: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13).

God sê vir jou, “Jy gaan nie onder nie. Ek is met jou deur al hierdie dinge! As jy net my aangesig sal soek en My sal vertrou, sal Ek jou deurdra. Ek sal jou in staat stel om stil te staan en enigiets wat kom, te verdra – omdat Ek altyd met jou is!”