Die Here se Getuienis Vir Die Nasies!

David Wilkerson

“En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies” (Matthéüs 24:14).

Vandag probeer talle mense in die kerk bepaal hoe naby Christus se wederkoms is deur die tekens van die tye te lees. Ons sien sulke tekens in spesifieke gebeurtenisse – byvoorbeeld, die terugkeer van die Jode na Israel. Een van die duidelikste stellings wat Jesus gemaak het oor sy tweede koms, kom egter voor in die vers hierbo: Die einde sal slegs kom nadat die evangelie aan alle nasies verkondig is – as ‘n getuienis.

Die woord wat Jesus in hierdie vers gebruik vir “getuienis” is dieselfde Griekse woord wat gebruik word vir “bewys.” Dit beteken letterlik, “bewys van die werklikheid.” Christus praat hier van nie net die evangelie verkondig nie, maar om dit as ‘n getuienis aan te bied. Kortliks, Hy sê die evangelie wat ons verkondig is effektief slegs as dit ondersteun word deur ‘n lewe wat van die werklikheid daarvan getuig.

‘n Mens sou dink dat in Amerika, ‘n nasie vol duisende evangeliese kerke, daar ‘n sterk getuienis van die evangelie sou wees. In een groot suidelike stad alleen, is daar oor die 2,000 evangeliese kerke, een met ‘n lidmaatskap van oor die 15,000 mense.

Maar talle sulke kerke het die ware evangelie van Christus in die verleentheid gebring. Egskeiding vier hoogty in hulle gemeentes. En baie van hulle jong enkellopendes lei losbandige, seksueel aktiewe lewens. Hoe kan dit wees, vra jy? Selfs met al die evangeliese prediking in baie van hierdie mega-kerke, is daar bitter min getuienis van Christus se heerskappy in die mense se lewens om dit te ondersteun. Hulle is nie ‘n ware getuienis vir die stad of die nasie nie.

Natuurlik is daar uitsonderings. In die spesifieke stad waaraan ek dink, ken ek ‘n handjievol jong bedienaars wat begin het, om baie tyd op hulle aangesigte voor die Here deur te bring. Wanneer hulle nou God se woord bring, spreek hulle met krag en gesag. Die evangelie wat hulle verkondig, word ondersteun deur ‘n getuienis van intimiteit met Christus en ‘n heilige wandel. En hulle begin om die verskil in hulle gemeentelede se lewens sien.

Ek dink ook aan die Baptiste pastoor wat een keer beplan het om ‘n groot nuwe gebou te bou. Sy gemeente het vinnig gegroei en hy het die kerkgroei-beweging begin bestudeer. Maar toe was sy vrou gedring om te bid en die Here te soek en gou het die pastoor dieselfde gedoen. Hy het gou sy droom van groot getalle laat vaar en begin om ‘n getuienis te wees van dit wat hy verkondig het.

Vir ‘n onlangse preek, het die pastoor ‘n groot skerm voor in die kerk opgestel. Hy het sy vir gemeente gesê, “God se Gees praat met my oor die sondes van hierdie gemeente. En vandag gaan ons hulle voor ons eie oë sien!”

Die pastoor het toe sonde na sonde op die skerm vertoon – hoerery, owerspel, alkolisme, dwelmmisbruik en pornografie. Toe het hy sy preek begin: “Ons gaan nie op hierdie stadium ‘n groot kerk begin bou nie. Ons moet eers Christus se lewende tabernakel uitgestryk kry voor ons enigiets anders kan doen. Ons moet sy evangelie eers leef!”

Vandag beweeg die Gees van God magtiglik in daardie kerk. Mense stroom na die Here toe en kry hulle lewens op die regte pad – omdat hulle ‘n evangelie hoor met ‘n getuienis daaragter.

Ek staan verstom en verleë deur die hordes bedienaars, beide oud en jonk, wat regoor die wêreld rond jaag om te soek na strategieë om groei in hulle kerke te veroorsaak. Vandag woon predikers seminare, konvensies en “dinkskrums” by, waar jong beroepslui gemoeid met die bediening grafieke en meningspeilings gebruik om vir hulle te wys hoe om groter kerke te bou. Ander bedienaars stroom na “herlewings” in die hoop om nuwe metodes te leer hoe om die Heilige Gees op hulle kerke te laat neerdaal.

Tans stuur sendinggenootskappe meer werkers uit as ooit tevore. Hulle noodkreet het geword, “Ons moet meer mannekrag op die sendingveld kry! Meer gekwalifiseerde mans en vrouens word benodig om die nasies vir Christus te wen.”

Maar te veel van die sendelinge wat gestuur word, kom binne ‘n paar jaar terug. Hulle is afgebreek, moedeloos en afgeransel deur demoniese magte in daardie buitelandse nasies. Waarom? Hulle lewens het nie opgeweeg teen die evangelie wat hulle verkondig het nie! Hulle het nooit eerstehandse kennis van Christus se heerskappy of van die volheid van die Heilige Gees ontwikkel nie.

Geliefde, dit neem meer as ‘n paar nuwe idee’s of strategieë om nasies vir Christus aan te raak. Al ons planne is verniet as Jesus nie in elke area van ons lewens heers nie.

Nog nooit in die geskiedenis was daar so ‘n wilde stormloop van demoniese geeste wat uit die buik van die hel losbars nie. Wetteloosheid versprei oor die aarde, met nasie wat teen nasie opstaan. En dit gebeur alles omdat Satan sy demoniese hordes losgelaat het in ‘n laaste oorlog teen die heiliges!

God word egter nooit onverwags betrap deur enigiets wat in ons wêreld gebeur nie. Hy word nie verras deur die verskriklike dwelmplaag of die bloedbad van aborsie nie. So, wat is sy reaksie in hierdie tyd van onrus en verdorwenheid? Wat stel Hy voor as ‘n teenmiddel vir die afvalligheid en groeiende demoniese mag? Wat sal God doen in so ‘n tyd van verwoesting?

Sy antwoord is dieselfde as wat dit nog altyd was – om die oorwinning van Christus na vore te bring op ‘n nuwe manier. God het nog altyd gereageer deur ‘n vars oorblyfsel van mans en vroue, wat ‘n suiwer getuienis sal wees van sy reddende en heiligmakende krag, op te rig. En dieselfde is waar vandag. Sy plan is om op hierdie toneel van die antichris aktiwiteit, ‘n liggaam van afgesonderde, Christus-gevulde oorwinaars te bring – goddelike mans en vroue wat sal lewe in totale onderwerping aan sy beheer en heerskappy!

Beskou die benarde posisie van Israel in Egipte. God se volk was in ontsaglike puin, met wydverspreide afvalligheid. Satan het Israel onder sy voete gehad en het die politieke magte van die dag gemanipuleer om wette te maak teen hulle en hulle te vervolg. Die vyand het God se getuienis op die aarde bespot en belaglik gemaak.

Dit was ‘n donker uur in Israel se geskiedenis. En met verloop van tyd, het mense mismoedig geword. Hulle het begin afvallig word en oorgegee aan die plesiere en sensualiteite van Egipte. Afgodery en hoerery het algemeen geword. Israel se situasie het hopeloos gelyk. Die geloof van die nasie het stadig gesterf.

Wat was God se reaksie op hierdie opkomende mag van duisternis? Het hy omliggende koninkryke opgewek om as sy roede teen Egipte op te tree? Het Hy ‘n burgeroorlog onder die Egiptenare aangehits? Het Hy engele gestuur om wraak te neem? Nee – God het glad nie so iets gedoen nie. Hy het ‘n heeltemal ander plan gehad. In plaas daarvan, het Hy sy hand op een man gelê en Moses opgerig!

Moses was ‘n man van gebed, heeltemal met God afgesonder. Hy het nee gesê vir die plesiere, gemak en versoekings van Egipte en in plaas daarvan, onder die totale heerskappy van die Heilige Gees gelewe. Hy het geen agenda of ambisie van sy eie gehad nie. Hy het al sy menslike vermoëns versaak en op die groot EK IS vertrou as sy enigste voorsiening en bron. En hy het van heilige grond af gekom, met ‘n eerstehandse visie van God se heiligheid.

So, in die swartste uur van Israel se geskiedenis, toe dit gelyk het of God se mense voor die vyand sou swig, het die Here te midde van dit alles ‘n man opgerig om as getuienis te dien. En hierdie een man het ‘n hele nasie afgebring, terwyl hy ‘n ander opgerig het. God het dit alles deur een man gedoen!

Hier sien ons ‘n ander geslag van afvalligheid, verdorwenheid en afkerigheid. Op daardie stadium, was die ark nie meer in Israel nie. Eli, die nasie se hoëpriester, was lui en selfvoldaan en het toegelaat dat sy seuns die priesterskap verontreinig. Onder hulle leierskap het owerspel en hoerery hoogty gevier in die tempel. Maar Eli moes so gewoond geraak het aan hierdie gemaklike lewe, dat hy niks gedoen het om hulle te keer nie.

Op een stadium het die Here die woord “Ikabod” geskryf oor die hele godsdienstige stelsel, wat beteken, “Die Gees van die Here het gewyk.” Weereens het sataniese magte magtig geword. En vir die natuurlike oog, het God se werk baie grond verloor, die kanse op herstel het onwaarskynlik gelyk.

Maar die Here het heeltyd ‘n man in plek gehad – ‘n klein kindjie genaamd Samuel. Terwyl al die bedienaars rondom hom oorgegee het aan hoerery en brassery, het Samuel geleer om God se stem te hoor. En soos hy meer en meer intiem met die Here geword het, het die Heilige Gees hom gevul met ‘n profetiese woord. Hy het ‘n getuienis geword – ‘n lewende bewys van die krag van God!

Die Skrif sê, terwyl Samuel grootgeword het, het nie een van sy woorde op die grond geval nie – wat beteken dat hy deurlopend met krag en gesag gepraat het. En weens sy goddelike gesag, was geen volk in staat om ‘n hand teen Israel te lig nie, vir oor die veertig jaar.

Weereens het die Here een man opgerig as ‘n getuienis vir ‘n hele nasie. God het inderdaad geen leër, geen menslike organisasie en geen “nuwe ding” nodig gehad nie. Al wat Hy nodig gehad het, was een regverdige man – iemand wie se bediening heeltemal oorgegee was aan sy heilige weë!

In Nehemia se dag, het die mure van Jerusalem in puin gelê, die stad was letterlik ‘n hoop klippe. En die kerk was heeltemal afvallig met geen getuienis oor nie. Die bose magte wat Israel omring het, het hulle erg vervolg en elke werk wat hulle probeer onderneem het, bespot.

Hoe het God gereageer in so ‘n tyd van verwoesting? Het hy ‘n goed opgeleide burgermag uit Susan gestuur om hulle te help? Het hy ‘n paleiswag gestuur om hulle prominente vyande te verslaan? Nee, God het weereens een man opgerig – Nehemia.

Hier was ‘n man met God se las op sy hart. Nehemia het sy dae deurgebring om te bid, te vas en te treur, omdat hy gebroke was oor Israel se toestand. Hy het ook voortdurend in God se woord gedelf, profesie begryp en in die Gees opgetree.

Hoewel Nehemia as ‘n skinker gedien het vir Koning Artasásta, het hy afgesonder gebly van al die boosheid wat hom omring het. Te midde van al die sensualiteit, immoraliteit en goddeloosheid wat in Israel plaasgevind het, het hy ‘n heilige wandel met die Here gehandhaaf. En, op sy beurt, was almal wat hom gehoor preek het, in hulle siele gereinig.

Gou het ‘n herlewing van heiligheid oor die land versprei. “En die priesters en die Leviete het hulleself gereinig, en die volk en die poorte en die muur gereinig” (Nehemia 12:30). Die huis van God was ook gereinig, met alles van die vlees wat verwyder is. Nehemia het werkers in die tempel ingestuur en vir hulle gesê, “Ek wil elke stukkie onreinheid daar uit hê. Moenie enigiets, wat te doen het met afgodery en sensualiteit, laat agterbly nie. Neem dit alles hier uit en verbrand dit!”

Geliefde, dit is God se konsep van herlewing! Dit behels ‘n uitvee van elke kamer in ons hart wat onrein en onheilig is. Hy wil geen donker plekke oorhê nie!

Waar het Nehemia so ‘n geestelike gesag gekry om te veroorsaak dat kompromie-makers bewe en goddelike vrees weer teruggebring is in die tempel? Die koning het dit nie vir hom gegee nie. Geen kerkleier het dit vir hom gegee nie. Hy het dit nie by ‘n Bybelskool geleer nie.

Nee, Nehemia het sy gesag op sy knieë gekry – gehuil, gebroke, met die begeerte om God se hart te ken. En omdat hy ‘n man van gebed was, was hy in staat om die sondes van ‘n hele volk te bely: “laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag...terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely...ook ek en my familie het gesondig. Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U, en ons het die gebooie...nie gehou nie” (Nehemia 1:6-7).

In Esegiël se tyd was Israel losbandig en trots. Mans het afskuwelikhede met hulle naaste se vroue gepleeg en het selfs hul skoondogters onteer. Die eens-heilige profete het afvallig en liefhebbers van geld geword en kon nie meer onderskei tussen die heilige en die onheilige nie. En die nasie se leiers het roofsugtige wolwe geword en onregverdige wins gesoek, bloed vergiet, leuens gespreek en die armes gekwel het. Dit klink alles so soortgelyk aan ons tyd!

Israel het God se weë so vergeet, dat die Here van hulle gesê het, “Die huis van Israel het vir My drek geword!” Die volk het so swak, wêrelds en magteloos geword, dat God hulle lagwekkend vir die sekulêre wêreld gemaak het. Hy het gesê, “Daarom maak Ek jou tot ‘n smaad vir die nasies en ‘n spot vir al die lande” (Esegiël 22:4).

Wat ‘n skroeiende aanklag! God het in wese vir Israel gesê, “Julle het heilige dinge so verafsku en julself heeltemal oorgegee aan wellus, dat Ek julle getuienis gaan wegneem!”

Die profeet Esegiël was teen hierdie tyd ‘n ouer man en op die punt om die toneel te verlaat. So, hoe het God die situasie hanteer? Hy het vir Esegiël gesê, “En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie” (Esegiël 22:30).

Stel jou dit voor – Israel se lot het afgehang van of God net een regverdige man kon kry om op te vertrou. Hy het egter vir Esegiël gesê: “...maar Ek het niemand gevind nie. Daarom het ek my toorn oor hulle uitgegiet...” (Esegiël 22:30-31).

God het dieselfde ding vir die profeet Jeremia gesê: “Swerf rond in die strate van Jerusalem...soek...of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek – dan sal ek daaraan vergifnis skenk” (Jeremia 5:1). Hy het vir in wese die profeet gesê, “Ek sal die hele nasie vergewe as ek net een man kan kry wat in die bresse sal tree. Al wat Ek nodig het, is een enkele siel, wat heeltemal oorgegee is aan my wil!”

Geliefde, vandag hoor ons ‘n Babel van stemme in die kerk, wat uitroep vir meer relevante, hedendaagse maniere om die wêreld te bereik. En so baie bisarre, vleeslike programme word probeer. In my baie jare van bediening, het ek egter hierdie programme gesien kom en gaan. Hulle vertrou heeltemal daarop om die vlees te paai; hulle het wil niks te doen hê met die kruis nie. Die skares wat hulle trek, leef leë, onvervulde lewens, omdat hulle nog nooit blootgestel was aan die evangelie van afsondering van die wêreld en sy begeerlikhede nie. Die wêreld bespot hierdie programme en herken dit as blote dwaasheid.

Enige bedienaar of promotor kan sulke kaf ontwikkel. ‘n Persoon kan selfs leef soos die duiwel en op die oog af goddelike programme implementeer. Al wat jy nodig het, is ‘n flink verstand en die strategieë van ‘n CEO om ‘n mega-kerk te bou. As jy dit egter sonder God doen – sonder sy geregtigheid of heiligheid – sal dit ‘n onwelriekende geur in sy neus wees. Dit is ‘n evangelie wat nie ondersteun word deur ‘n ware getuienis nie. Dit het geen krag om te verlos nie!

Ek het ook oor die jare opgemerk dat hoe meer afvallig ‘n prediker word, hoe meer wend hy hom na die vermaaklike evangelie en “nuwe werke” wat skares inbring. En hy vertrou op getalle en finansies om sy eie sukses te beoordeel. Maar daar is geen meegaande getuienis van sulke werke nie – omdat hulle van ‘n ander evangelie is, ‘n ander Jesus!

‘n Ware goddelike herder het slegs een doel in sy bediening: om sy siel nie te laat rus totdat Hy Jesus Here gekroon het in elke area van sy lewe nie – en om beide homself en sy skape onder die beheer van die Heilige Gees te bring!

As jy honger en dors na die volheid van Christus, sal Satan openlik oorlog verklaar teen jou. Wanneer hy getuienis sien dat jou toewyding eg is – jou ywerigheid in gebed, jou verloëning van self – sal hy elke wapen in die hel gebruik om jou getuienis te vernietig. Waarom? Daardie getuienis is God se antwoord op afvalligheid en vernietiging!

Dit is waaroor die vuuroond in die storie van Daniël gaan. Satan het ‘n breedvoerige plan uitgedink om die enigste oorblywende getuienis van God se krag in Babel te vernietig. Dit het ‘n hoogtepunt bereik in ‘n witwarm vuuroond, met die doel om alle lewende bewyse van God se evangeliewaarheid te vernietig.

Drie goddelike jong Israeliete het gedien in hoë regeringskantore in Babel – mans wat sigbare getuienisse was van die evangelie wat hulle verkondig het. Hulle het hulself afgesonder van die sensuele lewenstyl van Babel en hulle lewens eerder toegewy aan gebed. Hierdie drie mans was nie profete of priesters nie, maar gemeentlede. En hulle het getrou gebly aan God en was suiwer in hart en te midde van die afgodiese massas.

Natuurlik het dit Satan se woede opgewek en hy het die hart van Babel se bose koning binnegedring. Onmiddellik het die koning ‘n groot goue beeld opgerig en verklaar dat dit die amptelike nasionale god is, ‘n voorwerp om aanbid te word. Toe het hy elke beampte en dienaar van elke nasie onder Babel se heerskappy, opgeroep sodat hy die nuwe godsdiens kon inwy. Toe die seremoniële musiek begin het, moes almal voor hierdie nuwe god buig.

Satan het die koning ook aangepor om ‘n groot vuuroond van stene op te rig en dit witwarm te stook, sodat die vlamme vir almal sigbaar was. Ek vra vir jou – waarom het Satan dit gedoen? Hy het sekerlik geweet daar was nie ‘n goewerneur, regter of geregsdienaar op enige plek in Babel wat, die nuwe wet sou weerstaan nie. Hulle het nie nodig gehad om verlei of gedreig te word nie.

Hulle moes in werklikheidheid stomgeslaan gewees en gewonder het, “Haai, wie wil nou alles omkrap? Dit gaan goed met ons – ons het voorspoed, kos en drank, die goeie lewe. En hierdie nuwe godsdiens is maklik vir die siel. Wie sou dit nou alles wou verloor?”

So, wat was die doel van die vuuroond? Dit was totaal en al die werk van Satan – ‘n manipulasie deur hom beknoei om die drie jong manne te vernietig. Hy wou die enigste oorblywende getuienis van God in Babel vernietig!

Die duiwel het so ver gegaan as om ‘n koning en sy hele regering te besoedel, net om by drie mans uit te kom. Hy het ‘n situasie geskep wat so erg was, met die gevaar so hoog, dat niemand in sy menslike krag – nie eers die goddelike jong manne – dit kon trotseer sonder om ineen te stort nie.

By die eerste geluid van die musiek, het hulle nie gebuig nie. Satan was woedend hieroor! Toe het die verskriklike woorde uit die mond van die koning gekom, “...wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?” (Daniël 3:15). Maak “...die oond sewe maal warmer...as wat eintlik nodig is” (Daniël 3:19).

Nou het die duiwel God se dienaars geteiken en gedreig, “Wie dink julle is julle dat julle die lot wat ek vir julle bepaal het kan ontsnap? Ek gaan julle neerwerp en julle getuienis heeltemal vernietig!”

Net so, is die hitte wat ons vandag beleef baie warmer as wat dit ‘n geslag gelede was. Byvoorbeeld, Satan het die al die tegnologie van ons eeu gemanipuleer – dit besoedel met verleiding, sensualiteit, wellus en versoeking. Waarom moet ons so ‘n witwarm vuuroond van versoeking beleef vandag? Waarom word wellus en seks gebruik om elke denkbare soort produk te verkoop? Waarom is daar honderde pornografiese webwerwe op die internet? Wie is die teiken van hierdie vloedgolf van gemors?

Dit is sekerlik nie die bose massas nie – diegene wat reeds Satan se kinders is volgens die Skrif. Dit is nie die sekulêre wêreld wat reeds verlei is nie. Nee, Satan se teiken is nie een van hulle nie. Hy manipuleer die media om die harte van seëvierende Christene te verstrik. Hy wil die getuienis van die evangelie verswak en vernietig.

Tans word die vuuroond sewe keer warmer gemaak in die lewens van talle gelowiges. Satan het situasies geskep in hulle huise, by hulle werke en in hulle verhoudings wat meer intens is as ooit tevore. En talle eens sterk Christene verloor moed en verlaat God. Hulle bid nie meer vir hulp nie. In plaas daarvan, dink hulle, “My beproewing te intens vir my om te oorleef!”

God het die duiwel se plan in ‘n geleetheid verander om die hele nasie van Babel bloot te stel aan sy getuienis. Omdat die drie jong gemeentelede geweier het om te buig, het die Here hulle verlos. En hulle het vir die nasie ‘n duidelike openbaring van die Here Jesus Christus gebring!

Die koning van Babel het getuig, “...Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie?...Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ‘n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierdie lyk soos dié van ‘n godeseun” (Daniël 3:24-25).

Skielik het die koning sy eerste wet van afgodery nietig verklaar. En hy het vinnig hierdie nuwe wet uitgevaardig: “Daarom word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, stukkend gekap en van sy huis ‘n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie” (Daniël 3:29).

Geliefde, dit het alles gebeur omdat die getuienis van drie mans – regverdige liefhebbers van God, gewillig was om hulle lewens in geloof neer te lê. Hierdie drie nederige, werkende mans was daarvoor verantwoordelik dat die wette van die land verander het.

Ja, dinge gaan ekonomies, fisies, geestelik en op elke ander gebied baie warm word. Maar God het reeds sy hand op afgesonderde, goddelike mans en vroue geplaas in elke plek. En sy evangelie sal verkondig word as ‘n getuienis.

Dan sal die Here kom!