Die Here Sal vir Jou Veg

David Wilkerson

Die hele boek van Deuteronómium bestaan uit ‘n enkele preek van Moses, wat hy net voor sy dood gelewer het. Hierdie preek was ‘n oorsig van die veertig jaar waarin Israel in die woestyn rondgeswerf het. En Moses het dit aan ‘n nuwe generasie Israeliete gelewer.

Op daardie stadium het die volk uitgekamp by Kades-Barnea, ‘n belangrik plek in hulle geskiedenis. Hulle was op die grens van Kanaän, die beloofde land. Dit was dieselfde plek waar hulle vaders agt-en-dertig jaar tevore gestaan het. Dit was ook die plek waar God verhoed het dat die ouer generasie die beloofde land binnegaan. Die Here het hulle na die woestyn teruggestuur, om rond te swerf totdat die hele generasie, behalwe Josua en Kaleb, uitgesterf het.

Nou het Moses die nuwe generasie herinner aan hulle vaders se storie. Hy wou hê dat hulle presies weet waarom die vorige generasie as wanhopige rebelle in God se oë gesterf het. Moses het hulle aangespoor om te leer uit hulle ouers se tragiese foute deur te sê:

“Julle ken julle vaders se geskiedenis. Hulle was ‘n volk wat geroep, uitverkies en gesalf was deur God. Maar hulle het die visie verloor. Die Here het hulle so liefgehad dat Hy hulle keer op keer in sy arms opgetel het en hulle gedra het. Maar oor en oor, het hulle gemurmereer, teen Hom gekla en Hom bedroef.

“Op die ou end het God se geduld opgeraak. Hy het gesien dat hulle verhard was in hulle ongeloof. En daar was niks wat Hy kon doen om hulle van plan te laat verander nie. Geen wonderwerke wat Hy uitgevoer het, kon hulle oortuig van sy getrouheid en goedheid nie. Hulle harte was soos graniet. Daarom het God hulle vertel, ‘Nie een van julle sal my beloofde land binnegaan nie. In plaas daarvan, sal julle nou omdraai. Julle gaan terug woestyn toe.'”

Watter kragtige woorde. Moses het egter nie net met die nuwe generasie van Israeliete gepraat nie. Hy het ook elke generasie van gelowiges wat sou volg, insluitende ons van vandag aangespreek. Net soos al die Ou Testament verhale, was hierdie een geskryf “as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11).

Moses het ons op die gevaar van ongeloof gewys. En hy het ons gewaarsku dat as ons nie gehoor gee nie, ons almal dieselfde aaklige gevolge van diegene wat voor ons geval het, sal ly: “Sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:11). Hy sê in wese, “Dit maak nie saak watter onmoontlikhede jy beleef nie, of hoe hopeloos dinge mag verskyn nie. Jy mag nie in dieselfde sonde van ongeloof verval nie. Andersins, sal jy ook in ‘n verskriklike wildernis beland soos hulle het. En jy sal daardeur swerf vir die res van jou lewe.

“God is getrou om jou te lei. En Hy het jou vaders in hulle krisis ingelei om ‘n rede. Dit was om hulle te leer om op Hom te vertrou. Hy wou ‘n volk hê wat onwrikbaar in hulle geloof is. Hulle moes uit die wildernis kom met ‘n beproefde geloof, wat so suiwer soos goud was. Hy wou hê hulle moes ‘n getuienis vir die wêreld wees van sy goedheid vir sy mense.”

Ek glo ons generasie het die sonde van ongeloof te ligtelik opgeneem. En huidiglik sien ons die tragiese gevolge. Ek sien baie gelowiges deesdae vol van depressie en onrus. Natuurlik, sal sommige mense hierdie dinge lei oor fisieke redes. Maar baie ander verduur sulke lyding wees hulle geestelike toestand. Na my mening, is hulle depressie die gevolg van God se misnoeë met hulle aanhoudende ongeloof.

Die Here gebruik altyd sterk taal en woorde soos toorn, woede, weersin en Hom versoek, as Hy na ongeloof onder sy mense verwys. Moses het ‘n punt daarvan gemaak om die jonger geslag Israeliete daaraan te herinner: “Waar jy gesien het hoe die HERE jou God jou gedra het soos ‘n man ‘n seun dra, op die hele pad wat julle getrek het...En toe die HERE die stem van julle woorde hoor, het Hy toornig geword en gesweer en gesê: Waarlik, geeneen van hierdie manne, hierdie verkeerde geslag, sal die goeie land sien wat Ek met ‘n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie” (Deuteronómium 1:31, 34-35).

Moses het daarna die tragiese fout wat hulle vaders by Kades-Barnea gemaak het, beskryf. Dit het kort na die Rooisee kruising gebeur. God het Israel beveel om met vrymoedigheid Kanaän binne te gaan. En Hy het hulle hierdie kragtige woord van versekering gegee:

“Die HERE jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die HERE, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie...Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie. Die HERE julle God wat voor julle uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het” (Deuteronómium 1:21, 29-30). Wat ‘n ongelooflike belofte. Geen van hulle vyande sou in staat wees om teen hulle stand te hou nie (sien Deuteronómium 7:24).

Maar Israel het gesteier teen God se belofte. In plaas daarvan om Hom op sy woord te neem, het hulle aangedring om verspieders na Kanaän te stuur. En daardie verspieders het ‘n “bose verslag,” vol ongeloof teruggebring. Hulle het van reuse en hoë ommuurde stede gepraat. En die mense het hulle verslag geglo: “Maar hulle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God” (Deuteronómium 1:26). Nou vertel Moses vir die jonger generasie, “Hulle moes dadelik op God se Woord getrek het. Die Here het gesê Hy sou vir hulle veg. Maar hulle was wederstrewig.”

Kan jy sien wat met die ouer generasie gebeur het? Deur daardie verspieders na Kanaän te struur, was ‘n daad van ongeloof. En terwyl die verspieders daar was, was hulle deur Satan beïnvloed. Hulle was onderwerp aan die vyand se leuens, omdat hulle God nie op sy Woord geneem het nie. Die gevolg was dat hulle na die kamp teruggekeer het as instrumente van die duiwel.

Nadat hulle die bose verslag gehoor het, het die mense hulle vuiste teen God gebal en Hom beskuldig, “U het ons verlaat, God. U het ons hiernatoe gebring om te sterf.” Net maande tevore, was dieselfde mense deur God afgesonder, in sy oë spesiaal gemaak en wonderbaarlik verlos. Maar nou was die hele kamp in verwarring. Hulle het hardop onder mekaar gewonder, “Is God ooit nog met ons?” Gou het hulle gehuil oor hulle kinders en geroep, “Ons kinders sal van honger in hierdie woestyn sterf. God haat ons!”

Moses het die jonger Israeliete aan hulle ouers se beskuldigings herinner: “En julle het in jul tente gemurmereer en gesê: Omdat die HERE ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg” (Deuteronómium 1:27).

Kades-Barnea is ‘n plek van in-jou-gesig onmoontlikheid. Die naam opsigself kom van ‘n Hebreeuse stamwoord wat “vlugteling, vaebond, swerwer” beteken. Kortliks, as jy hier die verkeerde keuse maak, sal jy beland in ‘n wildernis waardeur jy jou hele lewe lank sal rondswerf.

Talle Christene is huidiglik in presies hierdie plek. God het hulle sy verbondsbeloftes gegee. Hy het hulle ‘n wonderlike geskiedenis met Hom gegee en wonderwerk op wonderwerk van verlossing voorsien. Maar die duiwel het ingekom met leuens en hulle vertel dat hulle dit nie gaan maak nie. Hy het hulle oortuig dat hulle nie goed genoeg is nie, dat God steeds vir hulle kwaad is oor hulle vorige sondes en dat Hy hulle nooit sal vergewe nie.

Vertel vir my: het jy sulke leuens begin aanvaar? Dink jy dat God jou in jou krisis sal faal? As dit so is, dan het jy op een of ander punt in jou wandel, opgehou om God op sy woord te neem. Jy het nie op sy bevel opgetree nie. En wat waar was vir Israel, is ook waar vir jou: die toets wat jy by Kades-Barnea deurgaan, sal die koers van jou oorblywende jare bepaal.

Net soos Israel, is jy ook deur God deur ‘n verskriklike wildernis gedra. As jy terugkyk, sal jy die vreeslike toetse wat jy deurleef het en die pynlike mislukkings wat jy verduur het in herinnering roep. Jy het deur beproewings gegaan wat jy nooit gedink het jy sou oorleef nie. Maar in elkeen was God getrou aan jou. Elke keer, het Hy barmhartig afgereik en jou opgetel. En nou kan jy sê, “God het my nooit gefaal nie. Ek staan hier vandag deur sy genade. Dit is waar, God dra my in sy arms op die wyse waarop ‘n pa sy kind dra.”

God het jou immers uitgebring om jou in te bring. Daar is ‘n beloofde land wat voor jou lê, net soos daar was vir Israel: “Daar bly ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:9). Die Here het jou gered om jou by ‘n plek van rus te bring. Wat is hierdie rus? Dit is ‘n plek van onwrikbare geloof en vrymoedigheid in die Here. Dit is ‘n plek van vertroue in sy beloftes, om jou deur te dra in jou moeilikste tye.

Maar om jou by hierdie plek van rus te kry, moet jy eers deur Kades-Barnea gaan. Wanneer jy daar is, sal jy van aangesig tot aangesig kom met ‘n stryd was so intens is dat dit erger is as wat jy nog ooit beleef het. Daar is vyande, reuse, hoë mure en dinge wat totaal onmoontlik lyk. En jy het jou algehele vertroue in God gestel om jou deur te dra.

Ons het alreeds gesien hoe die Israeliete gehuiwer het om op God se Woord op te tree by Kades-Barnea. Die gevolg was dat Satan hulle onder invloed van tien demoon-geïnspireerde leuenaars gebring het. Die gevolg? Die mense het op die ou end geglo dat God hulle wou vernietig. En dieselfde is waar vir ons vandag. Wanneer ons weier om gou op God se beloftes op te tree, maak ons onsself oop vir verwoede duiwelse leuens. En daardie leuens is bedoel om ons geloof te vernietig.

Satan wil hê dat ons moet dink dat God ons oorgelaat het om vir onsself te veg. Hy vertel vir ons die mure voor ons is te hoog en dat daar geen manier bo-oor hulle is na oorwinning nie. Hy sê ons gaan misluk en dat ons hele wandel met Jesus pure verniet was. Hy fluister dat dit nutteloos is en dat ons net sowel maar kan opgee. Ek vertel vir jou, dit is waarom God wil hê dat ons altyd vinnig op sy Woord moet optree. Hy wil nie hê dat die duiwel ‘n geleentheid gebied word om ons met leuens aan te val nie.

Jy mag dink, “Ek sal nooit kan glo dat God my haat nie. Hoe kan ek ooit dink dat die Here daarop uit is om my te vernietig?” As ons egter na Satan se leuens luister, is dit presies wat ons uiteindelik sê: “God het my in hierdie onmoontlike situasie gebring. Daar is geen bewyse dat Hy ‘n uitweg vir my maak nie. Hy sê egter dat Hy nie sal toelaat dat ek meer verduur as wat ek sal kan verdra nie. En op hierdie oomblik, is dit meer as wat ek kan verdra.” Sulke gedagtes is ‘n direkte aanklag teen God. Dit beskuldig Hom daarvan dat Hy nie met ons in ons beproewing is nie.

Ons sien weer so ‘n ongeloof in Israel toe hulle by Ráfidim gekom het. Dit was die droogste gebied in die woestyn en nog ‘n krisisplek. Gou het die mense van dors begin ly. Weereens, het hulle alle vertroue in God verloor. Hulle het uitgeroep, “Is die HERE in ons midde of nie?” (Exodus 17:7), wat beteken, “As God met ons was, sou ons nie in hierdie krisis gewees het nie. Hierdie krsis is heeltemal onmoontlik.”

Eenvoudig gestel, God se woord was nie goed genoeg vir Israel nie. Die Here het hulle ongelooflike beloftes gegee. Tog, te midde van hulle krisisse, het Israel nooit in sy Woord geglo nie. Ten spyte van elke belofte, elke waterdigte belofte om hulle deur te dra, het hulle sy Woord nutteloos gemaak. Hoe? Hulle het dit nie met geloof gemeng nie. “Maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie” (Hebreërs 4:2).

In plaas daarvan, het die mense altyd ‘n nuwe woord van God vereis. Ons sien dit in hulle vraag, “Is God in ons midde, of is Hy nie?” Met ander woorde: “Ons moet weet of God met ons in hierdie krisis is, nie ons vorige een nie. Ons moet ‘n nuwe openbaring van Hom hê vir hierdie nuwe situasie.” Ek vra jou: hoe kon enigiemand so gou alles vergeet wat God vir hulle gedoen het? Israel het alle vorige kere van God se verlossing uit hulle herinnering verwyder. Hulle het nooit toegelaat dat sy vorige bonatuurlike werke hulle geloof in Hom opgebou het nie.

Ten spyte van hulle beskuldigings teen Hom, het God egter ‘n ander woord met Israel gespreek. Hy het Moses beveel om hulle te vertel “Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie. Die HERE julle God wat voor julle uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het” (Deuteronómium 1:29-30).

Dit was nie ‘n nuwe belofte nie. God het eenvoudig weer verklaar wat Hy reeds aan sy volk gesê het: “Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees” (Exodus 14:14). Hy het hulle herinner, “Ek het julle in Egipte gesê dat Ek voor julle sal uitgaan. Ek het gesê Ek sal tussen julle bly en vir julle veg teen julle vyande.” En Hy het net so gedoen. God het hulle om elke hoek en draai, sowel as uit elke beproewing verlos.

Oor en oor het God vir hulle gesê, “Ek is met julle. Ek gaan vir julle veg. Gryp nou hierdie belofte vas en moet dit nie vergeet nie.” Toe hulle egter by Kades-Barnea was, het hulle voor hulle vyande gebewe en op hulle eie swakhede gefokus. Uiteindelik het hulle geredeneer, “Ons kan nie teen hulle veg nie.” Dit was blatante twyfel — twyfel in God se roeping op hulle lewens, twyfel dat Hy hulle gestuur het, twyfel van sy teenwoordigheid in hulle midde.

Jy mag dink dat jy nooit op hierdie manier sal reageer nie. Deesdae sê so baie Christene soortgelyke dinge: “Here, is U regtig met my? Ek weet wat U aan my belowe het. Maar is dit regtig waar? Kan ek vertrou op wat U gesê het? Ek moet weereens opnuut van U hoor. Ek het ‘n woord nodig. Asseblief, gee my meer versekering.”

Op die ou end bewe ons voor die vyand van ons siele. En al hoekom dit gebeur, is omdat ons nie glo in wat God ons beloof het nie. Ons tree op asof Hy  nooit ‘n woord aan ons gesê het nie. En dit is presies hoekom ons Hom “versoek.” Al het Hy Homself keer op keer aan ons bewys, vra ons Hom aanhoudend om opnuut sy getrouheid aan ons te bewys, om weer vir ons ‘n geloofbouende woord te stuur. Maar God sal net een woord spreek: “Glo wat Ek vir jou gesê het.”

Bewe jy voor een of ander boesemsonde wat oor jou toring soos ‘n ommuurde stad? As dit so is, wat het God vir jou gesê oor hierdie vyandige vesting? Regdeur sy Woord het Hy beloof: “Ek sal vir jou veg. Jy moenie bevrees wees nie. Groter is Hy wat in jou is as hy wat in die wêreld is. Geen mens en geen vyand kan jou uit my hand ruk nie. Ek sal jou reinig en jou heilig deur my Gees. Vertrou my geopenbaarde Woord aan jou.”

Jesus het gekom as ‘n profeet en ‘n wonderwerker vir sy eie huis, Israel. Ons word egter vertel, “En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie” (Matthéüs 13:58). Wat ‘n ontsaglike stelling om te maak. Ongeloof beperk selfs Christus se krag om te werk.

Ons sien ander tragiese gevolge van ongeloof regdeur die Nuwe Testament. Die dissipels kon weens hulle ongeloof nie ‘n duiwel uit ‘n kindjie dryf nie. En Jesus het hulle daaroor bestraf (sien Matthéüs 17:14-21). Na die opstanding, was Christus weereens geskok oor hulle ongeloof: “En Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt” (Markus 16:14). Paulus sê immers van die Jode, “Deur ongeloof is hulle afgebreek” (Romeine 11:20).

Waarom is God se oordeel oor ongeloof so ernstig in die Nuwe Testament? Dit is omdat gelowiges vandag iets gegee is wat Ou Testament heiliges net van kon droom. God het ons geseën met die gawe van sy Heilige Gees. Onder die Ou Verbond, was gelowiges soms deur God se Gees besoek. Hulle moes na die tempel toe gaan om die Here se teenwoordigheid te ervaar. Maar vandag maak God sy woonplek in sy mense. Ons is sy tempel en sy teenwoordigheid woon in elke gelowige.

In die Ou Testament, was Abram net soms deur ‘n engel besoek of ‘n woord van God gegee. En hy het geglo wat hy vertel is. Abraham het vertrou dat God in staat was om alles te doen wat Hy belowe het. Hy “het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie” (Romeine 4:20). Vandag egter, is Jesus vir ons beskikbaar te enige tyd van die dag. Ons het die vermoë om tot Hom te roep gedurende ons hele leeftyd en ons weet Hy sal reageer. Hy het ons uitgenooi om met vrymoedigheid na sy troonkamer te kom om ons smeekgebede aan Hom bekend te maak. En Hy gee ons vertroosting en leiding deur die Heilige Gees.

Tog, ten spyte van hierdie seëninge, betwyfel ons God steeds in ons tye van uiterste beproewing. Jesus bestraf sulke ongeloof en sê, “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:7-8). As Christus vandag sou terugkeer, sou Hy geloof in jou vind?

“So was die hand van die HERE dan ook teen hulle om hulle uit die laer te vernietig...todat die hele geslag, die krygsmanne, uit die laer omgekom het” (Deuteronómium 2:15, 14). Hier is van die sterkste taal in die hele Bybel oor ongeloof. Jy mag sê, “Maar dit is nie die taal van genade nie. Vandag tree God nie so erg teen ongeloof op nie.”

Dit is nie so nie. Die Bybel sê dat vandag, hoewel ons onder genade is, “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Hier is ‘n paar gevolge van ongeloof:

• Ongeloof verontreinig elke area van ons lewe. Hierdie sonde kan nie geïsoleer word tot ‘n enkele kwessie in ons lewens nie. Dit loop oor tot in alles en besmet elke besonderheid van ons wandel.

Israel se twyfel was nie net beperk tot God se vermoë om hulle vyande te verslaan nie. Hulle twyfel het oorgeloop na hulle vertroue vir hulle daaglikse voorsiening. Hulle het God se vermoë betwyfel om hulle kinders te beskerm. Hulle het getwyfel of Hy hulle in die beloofde land sou inlei. Hulle het selfs getwyfel of Hy met hulle was. Dit is waarom God hulle vertel het, “Maar julle, draai om en trek weg na die woestyn...Ek is nie in julle midde nie” (Deuteronómium 1:40, 42).

As ons ongeloof in een area het, versprei dit soos kanker na alle areas en verontreinig ons hele hart. Ons mag God vir sekere sake vertrou, soos om te glo dat Hy ons deur geloof gered het, dat Hy almagtig is en dat sy Gees in ons woon. Maar glo ons Hom vir ons toekoms? Glo ons Hom om te voorsien vir ons gesondheid en finansies en ons oorwinning oor sonde te gee?

• Ongeloof lei tot die sonde van verwaandheid. Om te verwaand te wees, is om te dink dat ons weet wat reg is. Dit is arrogansie wat sê, “Ek ken die weg,” en tree dan op sy eie op.

Hier is nog ‘n sonde wat Israel in hulle ongeloof gepleeg het. Toe God hulle beveel het om terug te keer na die woestyn, wou hulle nie gehoorsaam nie. In plaas daarvan, het hulle na Moses gekom en gesê, “Goed, ons het gesondig. Maar ons het dit nou uitgeredeneer. Ons is gereed om God se bevele te gehoorsaam om teen die vyand te veg.” En hulle het sake in hulle eie hande geneem.

Hier is waar baie twyfelende gelowiges ‘n tragiese fout maak: wanneer hulle in ‘n saak van geloof faal, wend hulle hul na die vlees. Hulle doen wat hulle dink moet gedoen word, maar in hulle eie wysheid en vermoëns. Geloof egter, weerstaan altyd om in vrees op te tree. Dit wag vir God om die werk te doen. Geloof is nooit gewillig om te iets te máák gebeur deur God vooruit te loop nie.

Hierdie bende van Israeliete het God vooruitgegaan deur ‘n klein weermag te organiseer. Hulle het ‘n strategie beplan en op hulle eie uitgetrek. Maar die vyand het hulle gesien en hulle het die Israelitiese krygsmanne “agtervolg soos die bye maak” en hulle vernietig (Deuteronómium 1:44).

Ek sien verskriklike gevalle van gelowiges wat nooit in God se rus ingaan nie. Die Here het hulle by ‘n plek van uiterste beproewing gebring — ‘n familiekrisis, ‘n finansiële stryd of ‘n huweliksprobleem — maar hulle het nie vir God gewag om op te tree nie. In plaas daarvan, het hulle Hom beskuldig van verwaarlosing en hulle krisis op hulle eie probeer oplos. Vandag, het daardie gelowiges geen rus, geen vrede en geen bewustheid van God se teenwoordigheid nie. In plaas daarvan, leef hulle in voortdurende twyfel. En dit lyk of hulle van die een krisis na ‘n ander gaan. Al waaroor hulle kan praat, is hulle nuutste probleem. Elke stukkie van hulle verwarring word egter deur een ding veroorsaak: ongeloof.

Die Psalmis het gesê, “Ons bring ons jare deur soos ‘n gedagte” (Psalm 90:9). Hierdie Psalm praat van ongelowiges. Wat is die titel van hulle verhaal? Hulle Almal het Verniet Geleef en Gesterf. Dit is dieselfde storie wat ons by mense hoor van hulle ongelowige grootouers: “Hulle het al hulle jare in mismoedigheid geleef. Hulle het niks anders gedoen as om te murmureer en te kla nie. En hulle het alleen en vergete gesterf.”

Dit is die skrik van ongeloof. Dit sny jou geestelike geskiedenis af, sodat al wat van jou onthou word, ‘n vermorste lewe is. Toe Israel se jong generasie gevra het, “Wat van oupa en ouma?” was hulle gesê, “Hulle het net gemurmureer en gekla. Hulle het niks anders gehad om voor te leef nie en daarom het hulle maar net rondgesit en gewag om te sterf.”

“Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan” (Hebreërs 4:6). Ware gelowiges is vasbeslote om God te vertrou al word hulle gebede nie beantwoord nie. Dit maak nie saak of al hulle besittings weggeneem word nie, of as hulle selfs met die dood konfronteer word nie. Hulle begeer om God se rus binne te gaan. Wat is die bewyse van so ‘n lewe? Hulle “rus ook self van sy werke” (Hebreërs 4:10). Hulle lê nie meer in die nagte wakker en probeer hulle probleme met hulle eie wysheid en vermoëns op te los nie. In plaas daarvan, gee hulle alles oor aan Jesus. Dit maak nie saak of hulle op die ou end verloor of wen nie. Hulle enigste fokus is, dat God ‘n plan het en dat Hy dit in ons lewens sal uitwerk.

Ek wil afsluit met ‘n ervaring wat ek onlangs gehad het. Een Saterdagaand, het ek na Time Square geloop terwyl dit gewoel het met toeriste en ander mense, wat vakansie inkopies gedoen het. Dit word geraam dat daar in spitstyd amper ‘n kwartmiljoen mense hier verbygaan. Terwyl ek daar gestaan het, het ek gebid en terwyl die massas mense verbygeloop het.

Op een stadium, het die Heilige Gees vir my gefluister, “David, kyk na hierdie massas mense. Vermenigvuldig hulle verskeie kere en dit is hoeveel van my mense in die woestyn gesterf het. Uit al daardie massas, het net twee my rus binnegegaan, Josua en Kaleb. Al die ander het voor hulle tyd in wanhoop en ongeloof gesterf.”

Die gedagte was vir my oorweldigend. Ek het die menigtes, wat Broadway teaters, restaurante en afdelingswinkels binnegaan, van naderby beskou. Ek het ryk mense, hawelose mense, middelklas mense, homoseksuele, drag queens...gesien en besef dat God waarskynlik nie in enige van hulle gedagtes was nie. Ek het gedink aan die voetbalstadion oorkant die rivier, die basketbal- en hokkievelde en aan al die mense wat dit volmaak, met net ‘n paar wat God waarlik liefhet. Ek het rondgekyk na al die filmteaters in Time Square en gedink aan die duisende wat daarin sit en alles wat heilig is, bespot.

Terwyl ek na die massas mense gekyk het, het ek besef dat almal die evangelie boodskap te alle tye, deur televisie, radio, literatuur en selfs gratis Bybels in hulle hotelkamers, beskikbaar gehad het. As hulle tog maar net wou weet, sou hulle vertel word dat dieselfde God, wat wonderwerke vir antieke Israel gedoen het, vandag dieselfde doen vir almal wat Hom liefhet. Hulle wíl Hom egter nie ken nie. As hulle sien dat iemand ‘n evangelietraktaatjie uitdeel, loop hulle vinnig verby en wys hom weg. Hulle het geen ander gode behalwe plesier, geld en besittings nie.

Skielik het ek die waarde van ‘n enkele gelowige in God se oë begin sien. En ek hoor vandag Jesus dieselfde vraag vra: Wanneer Ek kom, sal ek geloof op die aarde vind?” Ek sien Christus, die deursoeker van mense se harte, hierdie plekke fynkam en baie min of geen mense vind wat Hom waarlik liefhet nie. Ek sien Hom kollege kampusse deursoek en vra, “Wie hier sal My glo?” Ek sien Hom Washington D.C. deursoek vir diegene wat Hom sal aanvaar, maar Hy vind min. Ek sien Hom hele nasies deursoek en net ‘n oorblyfsel vind. Ek sien Hom die hedendaagse afvallige kerk deursoek, terwyl Hy geen geloof vind nie, slegs doodsheid.

Ten slotte, Hy deursoek sy kerk, op soek na dienaars met ware geloof. Wat Hy egter sien, breek sy hart en bedroef Hom diep. Ek hoor God huil soos wat Hy oor Israel gedoen het, “Jerusalem, Jerusalem...hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!” (Matthéüs 23:37).

Wat is die rede vir sy angs? God het sy Seun gestuur om die Vader se liefde vir sy geliefde kinders te openbaar. Hy het die Heilige Gees gestuur om hulle te vertroos en te lei. Steeds, is daar egter menigtes in sy huis wat geen geloof het nie. Hulle glo nie Hy antwoord hulle gebede nie. Hulle murmureer en kla en beskuldig Hom van kinderverwaarlosing. En hulle het vreesagtig en wanhopig geword asof God hulle verlaat het.

As ‘n bedienaar van die Here, dra ek my Herder se las. En ek voel sy droefheid. Nou hoor ek Hom sê, “Selfs in my huis, vind ek so min wat geloof het. Baie van my eie kinders, insluitende my herders, word flou in hulle tyd van beproewing. Hulle vertrou nie My vir hulle families, hulle werke en hulle toekoms nie. Inderdaad, baie het hulle keuse gemaak.”

So, wat van jou? Die Here kom na almal van ons en vra, “Sal jy my glo? Vertrou jy my? Wanneer Ek kom, sal Ek geloof in jou vind?” Hoe sal jy reageer?