Die Handdoek Opneem

David Wilkerson

In ‘n bekende gedeelte in Johannes 13, het Jesus ‘n handdoek en ‘n bak geneem en die voete van Sy dissipels gewas. Hy het vir hulle gesê:

“As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is hulle ook verplig om mekaar se voete te was” (Johannes 13:14).

Sommige toegewyde Christene neem hierdie vers letterlik op. Hulle maak dit ‘n gewoonte om “voete was” dienste te hê. Dit is prysenswaardig – maar as dit egter net ‘n ritueel bly, het die ware betekenis van voete was verlore gegaan.

Nadat Jesus die dissipels se voete gewas het, het Hy Sy kleed weer aangetrek, gaan sit en vir hulle gevra, “Weet jy wat ek pas vir julle gedoen het?” Met ander woorde: “Verstaan julle die geestelike betekenis van voete was?”

Ek glo dit is ook die Here se vraag vir ons vandag is. Iets baie magtig en deurslaggewend het plaasgevind; Christus het vir Sy kerk een van sy belangrikste lesse geleer. Verstaan ons egter die dieptes van wat Jesus gedoen het om die dissipels se voete te was?

Jesus het nie ‘n ordinansie ingestel om deur die kerkeeue te doen, soos nagmaal of waterdoop nie. As dit so was, sou Hy dit ingestel het aan die begin van die dissipels se opleiding. En Hy sou Homself aan ‘n voete was onderwerp het, soos Hy gedoen het met waterdoop.

Ek het my Bybelkommentare bestudeer om te sien wat die kerkvaders oor hierdie toneel gesê het. Amper sonder uitsondering, het hulle almal geskryf dat die betekenis in Jesus se voorbeeld van nederigheid lê. Hy het die laagste plek ingeneem om vir ons te wys hoe om nederig te wees. Ek glo egter hierdie interpretasie mis die betekenis van die gedeelte heeltemal. Jesus het immers reeds ‘n voorbeeld van nederigheid gestel deur menslike vlees aan te neem – deur Sy heerlikheid opsy te skuif en na die aarde te kom as ‘n dienaar.

Nee – hierdie gedeelte sê soveel meer as dit! Ek glo Jesus het vir ons ‘n voorbeeld gegee van die soort fisiese manifestasie wat Hy die meeste begeer – dié van “die handdoek opneem”!

Vandag, wanneer ons praat van manifestasies, dink ons aan mense in die kerkbyeenkomste wat op die grond val. Vir baie lyk daardie manifestasies vreemd. As jy egter die Woord van God bestudeer, leer jy dat Jesus baie gepraat het oor ongewone fisiese manifestasies.

Jesus het nie gepraat van op die grond val nie. Maar Hy het gepraat van in die grond val en sterf – om vrug te dra! Hy het gepraat van die manifestasie van die kruis opneem – van ‘n oortredende hand afkap, ‘n aanvallende oog uit te ruk en die ekstra myl te loop.

Een van die mees ongewone van al die manifestasies waaroor Christus gepraat het, was Sy oproep om die handdoek op te neem. Dwarsdeur in die bediening, het baie mense gevra, “Waarom was ons nie mekaar se voete in die kerk soos Jesus ons beveel het om te doen nie? Hy sê, ‘As Ek dit doen, moet julle dit ook doen.’”

Ek antwoord gewoonlik, “Waaroor Jesus praat, is primêr ‘n geestelike ding en nie net ‘n fisieke een nie.” Selfs terwyl ek dit gesê het, het ek geen konsep gehad van die geestelike betekenis van voete was nie.

Ons lewer kommentaar oor sekere waarhede in die Bybel, omdat ons nie hulle betekenis verstaan nie – en vir jare loop ons die krag van hierdie gedeeltes mis. Byvoorbeeld, die Skrif sê vir ons:

“...dien mekaar deur die liefde” (Galásiërs 5:13).

En:

“...aan mekaar onderdanig is in die vrees van God” (Efésiërs 5:21).

Hoeveel van ons weet regtig wat dit beteken om mekaar in liefde te dien? En hoe is ons veronderstel om aan mekaar onderdanig te wees in die vrees van God? Dit is maklik genoeg om te verstaan hoe ‘n vrou veronderstel is om onderdanig te wees aan die goddelike gesag van ‘n goddelike man. En dieselfde is waar vir kinders wat onderdanig is aan goddelike ouers. Maar in watter praktiese maniere dien en is ons aan mekaar onderdanig in die huis van God?

Ek glo dat as ons verstaan wat Jesus gedoen het om Sy dissipels se voete te was, sal ons hierdie konsepte van diensbaarheid en onderdanigheid verstaan. Jy sien, om mekaar in liefde te dien en onderdanig te wees in goddelike vrees, beteken baie meer as om bevele te neem of om toerekenbaar te wees aan ‘n hoër gesag. Liewer, hierdie glorieryke waarhede word ontsluit slegs in die konteks van “die handdoek opneem.”

Terwyl ek onlangs in gebed was, het die Heilige Gees vir my drie woorde gegee om my begrip oop te maak oor hierdie saak van die handdoek opneem. Die drie woorde is stof, vertroosting en eenheid. Hopelik, terwyl ons hierdie woorde ondersoek, sal die Heilige Gees vir ons hierdie waarheid ontsluit:

1. Laat ons begin met die saak van stof wat klou aan ‘n Christen broer of suster!

Die dissipels was twaalf manne, deur God liefgehad – kosbaar in Sy oë, vol liefde vir Sy Seun, suiwer van hart, in volle gemeeskap met Jesus. Hulle het egter stof op hulle voete gehad.

Jesus het in wese vir hierdie mans gesê, “Julle harte en hande is skoon, maar nie julle voete nie. Dir het vuil geword in julle daaglikse wandel met My. Julle het nie nodig om julle hele liggaam te was nie – slegs julle voete.”

Die stof wat Jesus hier noem, het niks te doen met natuurlike stof nie. Dit gaan alles oor sonde – ons foute en mislukkings, ons toegee aan versoekings. En dit maak nie saak hoe stowwerig en vuil die paaie in antieke Jerusalem was nie, geen eeu was so vuil soos ons s’n nie!

Ek wonder hoeveel mense wat op hierdie oomblik hierdie boodskap lees, het stof wat aan hulle klou. Miskien het jy hierdie laaste week in ‘n versoeking geval of God op een of ander manier teleurgestel. Dit is nie dat jy jou rug op die Here gedraai het nie. In teendeel – jy het die Verlosser meer passievol lief as ooit. Maar jy het geval en nou is jy bedroef – omdat jou voete vuil is!

Die Skrif sê vir ons:

“Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Galásiërs 6:1).

Die Griekse woord vir fout hier beteken “’n val, ‘n sonde, ‘n oortreding.” Ons moet elke Christen wat in sonde verval, herstel, as daar ‘n berouvolle hart is.

En voete was, in sy diepste geestelike betekenis, het te doen met ons gesindheid teenoor die stof wat ons op ons broer en suster sien. So, ek vra vir jou: Wat doen jy wanneer jy van aangesig tot aangesig kom met iemand wat in sonder verval of oortree het?

Wat jy doen met die stof op jou broer of suster, het alles te doen met die bediening wat Jesus beskryf as die “handdoek opneem.” Dit het alles te doen met hoe jy ander dien in liefde en onderdanig is aan ander in die vrees van God.

Laat my dit baie duidelik stel: Christene kan baie wreed wees! Gelowiges kan in werklikheid dikwels meer wreed en afbrekend wees as die goddeloses in die strate. En Jesus het dit geweet. Hy het geweet hoe ons kan reageer as ons stof op iemand anders sien – hoe ons ‘n skynheilige gesindheid kan hê en oordeel, skinder en laster. Vleeslike Christene verheug hulle inderdaad daarin om stof op ander te sien. Maar hulle verspreiding van die stof, is die stowwerigste sonde van alles!

In die afgelope weke, het ek ‘n jong pastoor wat uit sy kerk bedank het, probeer bemoedig nadat hy ‘n morele oortreding bely het. Hierdie dierbare man het die Here lief. Hy het ‘n hart vir mense en vir God se Woord. Maar sy voete het vol stof geword. Hy het egter groot berou.

Dadelik nadat ek gehoor het van sy val en bedanking, het die Heilge Gees my beveel om onmiddellik met hom in aanraking te kom. Ek het geweet hierdie jong pastoor was ‘n stil, goeie man. Hy het nie skielik goddeloos geword nie. Sy hart was nie verhard oor sy sonde nie.

Sy beste vriende het hom egter verlaat. Diegene wat daarop aanspraak gemaak het om hom die liefste te hê, het hom nou geïgnoreer asof hy ‘n aansteeklike siekte gehad het. Om die kroon te span, het sy denominasionele leiers aangedring dat hy ‘n video van sy belydenis maak – en elke duidelike besonderheid van sy oortreding gee.

Ek het hierdie dierbare broer geskakel – en ek het ‘n handdoek saam met my geneem. Ek het ‘n boodskap op sy antwoordmasjien gelaat en gesê: “Broer, ek wil hê jy moet weet ek het jou lief. God is nie klaar met jou nie. As jy ‘n berouvolle hart het, sal die Here sou herstel. En ek gaan saam met jou staan!”

Geliefde, om die handdoek op te neem, is ‘n gesindheid, ‘n oorgawe. Dit beteken nom alles in jou vermoë te doen om die stof van jou broer se voete af te was. Dit sê, “Ek is vasbeslote om jou te help om die stof af te was – om jou reputasie in ere te herstel, jou familie – om alles te doen om jou lewend in Christus te hou!”

‘n Vriend van hierdie pastoor het my later geskakel. Hy het gesê, “Dawid, jy sal nooit weet wat jou foonoproep vir my vriend beteken het nie – hoe geseënd, bemoedig en vertroos hy was nie. Niemand anders het uitgereik na hom toe soos jy nie. Jou woorde het hom nuwe hoop gegee.”

Die Skrif stel dit duidelik dat wanneer ‘n broer of suster oorweldig is deur sonde, moet ons daardie persoon herstel – hom dien in liefde en aan hom onderdanig wees in die vrees van God. Jy kan egter vra, hoe moet ons dit doen?

Ons moet die handdoek van God se genade opneem en na daardie een wat ly, gaan. In die besonderse liefde van Jesus, moet ons al ons menslike geneigdhede onderdruk om hom te ignoreer, hom te oordeel, te ontbloot, vir hom te preek en fout te vind met hom – en, in plaas daarvan, moet ons vasbeslote wees om sy vriend te wees. Om moet help om sy sonde weg te was deur die tugtigende, genesende, wassende, vertroostende Woord van God te deel.

Dit ignoreer nie sonde of sien dit deur die vingers nie. Dit praat nie kwaad goed nie. Ons praat van gevalle heiliges wat berouvolle harte het, maar sonder hoop is. Hulle weet hulle het die Here bedroef – en hulle leef in vrees, skuld en verwerping.

Dit is ‘n heeltemal ander saak met diegene wat twee of drie keer gewaarsku is, maar tog in hulle sonde bly. Die Bybel sê ons moet sulke gelowiges skerp in die publiek bestraf, sodat ander God kan vrees. Dikwels moet hulle vir ‘n tydperk van gemeenskap verwyder word, totdat hulle goddelike berou toon. Maar diegene wat hulle sonde erken – wat dit bely en laat staan – het iemand nodig om die handdoek van genade in te bring, om vir hulle reiniging en genesing te bring.

‘n Paar jaar gelede, het ‘n mede pastoor van ‘n baie groot kerk my in trane geskakel. Hy het vir my gesê, “Broer David, ek kan nie my kop optel nie, so gebroke is ek.” Hy het vir my die pyn beskryf wat hy ervaar het toe sy tiener dogter buite-egtelik swanger geword het. Die senior pastoor van die kerk het geëis dat hierdie medepastoor voor die gemeente verskyn en vir hulle vertel wat sy dogter gedoen het.

Hierdie dierbare man het dit gedoen – en dit het sy dogter verpletter. Dit het die familie se hart gebreek. Maar die gemeente het in al die besonderhede van die arme tiener meisie se sonde verlustig.

Toe, ‘n jaar later, het die senior pastoor se dogter swanger geword. Maar hierdie keer, het die senior pastoor alles in sy vermoë gedoen om dit toe te smeer.

God, wees ons genadig – omdat ons mense vernietig wat stof op hulle voete het! Wanneer sal ons ooit leer om die handdoek van genade op te neem – om onsself daaraan toe te wy om te reinig en te herstel, eerder as om stof op te skop en kosbare siele te vernietig?

2. Diegene wat die handdoek opneem, is die ware vertroosters wat die Heilige Gees gebruik!

Weet jy hoe dit is om kaalvoet te wees en deur die modder te loop? Die modder wat aan jou voete klou, kan werklik ellendig wees. Jy voel baie beter wanneer jou voete gewas en skoon is.

Toe Jesus die stof van Sy dissipels se voete afgewas het, het hulle vertroos gevoel. Maar, geestelik gesproke, het Jesus hulle geleer oor die vertroosting van oortredings wat verwyder is.

In 1 Korinthiërs 5, lees ons van ‘n man in die kerk wat verval het in die verskriklike sonde van bloedskande. Duidelik het hierdie man nie berou gehad nie en Paulus het die kerk beveel om hom aan die Satan oor te lewer vir die vernietiging van sy vlees (dit is, sodat sy siel gered kan word). Paulus het nie gesê die man was verlore en op pad hel toe nie. Nee – hy wou hom net isoleer van gemeenskap en aan Satan se planne oorgee, sodat hy aan die einde van homself kon kom om na berou gedryf te word.

Later in 2 Korinthiërs 2, het Paulus uitgevind dieselfde man het berou gekry en dat die kerk hom vergewe het. Satan het hom wanhopig gemaak en die begeertes van sy vlees was vernietig. Die man het berouvol teruggekom. En nou het Paulus vir die Korinthiërs geskryf:

“...sodat julle...hom liewer moet vergewe en vertroos, dat so iemand nie miskien deur alte groot droefheid verteer word nie. Daarom vermaan ek julle om die liefde aan hom te bevestig” (2 Korinthiërs 2:7-8).

Paulus het geweet hierdie man was heeltemal oorweldig met droefheid en hartseer. Diegene in die kerk het sy gebrokenheid en nederigheid gesien en hulle was oorweldig deur ‘n gees van barmhartigheid. Hulle het hom bemoedig, was teerhartig teenoor hom en het sy voete gewas. Nou was hy rein – en hy was herstel tot die liggaam van Jesus Christus. Wat ‘n wonderlike beeld!

Daar is talle Christene vandag wat in dieselfde toestand is as hierdie man, nadat hulle oorval is deur ‘n sonde. Hulle het vir hulleself gesê, “Ek het my Verlosser in skande gesteek. Ek het oneer aan Sy Naam gebring!” Wat hulle egter beleef, is egter glad nie wat 2 Korinthiërs beskryf nie.

Ek wil vir jou ‘n gedeelte wys uit ‘n boek wat ek onlangs ontvang het. Dit was geskryf deur die dogter van ‘n pastoor, wat oorweldig was deur ‘n sonde verskeie jare gelede. En vir al daardie jare lank, het die familie ‘n nagmerrie-hel beleef. Sy skryf:

“...(Die pers) het ons na ons huise gevolg. Ons het foonoproepe ontvang van beroemde skindertydskrifte wat groot somme geld aangebied het vir ‘n storie. Ons het uiteindelik daarin geslaag om Pa uit die huis en in ‘n restaurant te kry, net om onsself die onderwerp van mense se gesprekke te vind. Dit was verskriklik.

“Maar Dominee_____ was nooit skaam om met ons geïdentifiseer te word nie. Pa sou letterlik by die foon sit en wag vir hierdie man se oproep. Hy was oorweldig deur skuld en skaamte.... Pa het diep in depressie verval...Mense vir wie hy soveel van homself gegee het, was diegene wat so hewig teen hom gedraai het.

“Nuwe gerugte het daagliks versprei. Bedienaars het vir mekaar geskryf en daardie gerugte versprei...Slegs ‘n paar uitgesoektes was opreg deur Christelike liefde en herstel te betoon deur ons te skakel en ons te onthou in hulle gebede.”

Ek ken die man wat hierdie dogter beskryf. Hy is ‘n toegewyde man van God, ‘n goeie pa en sorgsame herder. Sy hart is steeds passievol verlief op Jesus. Hy was in werklikheid herstel en lei ‘n groeiende kerk.

Kan jy jou egter indink hoe hy al hierdie jare gevoel het? Almal wat hy vir jare bedien het, het teen hom gedraai – insluitende diegene wat hy na Christus gelei het! Hy was verpletter en met droefheid oorweldig. Op een stadium het sy dogter aan haar man voorgestel dat hulle die geweer uit die man se huis moet verwyder, in vrees dat hy in sy depressie oorweldig so word deur gedagtes van selfmoord.

Hierdie eensame, wanhopige man het by die foon gewag vir ‘n oproep van sy getroue herdersvriend. Die liefdevolle, deernisvolle bedienaar was die enigste een wat gewillig was om ‘n handdoek na sy vriend te neem – ‘n bietjie vertroosting, ‘n woord van bemoediging, ‘n kort oomblik van gelag.

Kan jy die gevalle, afgemete herder blameer dat hy net ‘n bietjie verligting wou hê van die lang jare van pyn wat deur God se mense en ander bedienaars toegedien is?

Die wêreld buite die kerk het duiwelbesete geword met die gees van haat – karaktermoord, laster en die vernietiging van reputasies en families

Onmiddellik wanneer ‘n politikus aankondig dat hy homself verkiesbaar stel vir ‘n ampsposisie, verander die pers in ‘n swerm aasvoëls en gaan grawe in sy verlede net om iets verkeerds te kry. En wanneer hulle dit kry, verkondig hulle dit in al die hoofberigte, vir die hele Amerika om hulle daarin te verlustig.

Amerika het mal geword van laster! TV is gevul het geselsprogramme wat skinder, ontblotery en spottery uitsaai. Die goddeloses kry hulle sensasie daaruit om mense, families en goeie reputasies te vernietig. En hoe meer afgryslik die modder, hoe meer hou mense daarvan.

Maar hierdie soort ding het geen plek in God se huis nie. Die kerk is veronderstel om anders te wees. Dit moet ‘n huis van reiniging wees!

Die heidene in Éfese het God se mense geëer deur hulle “Christene” te noem en wat “goedhartig” beteken. Hulle het gesien hoe goedhartig hierdie gelowiges teenoor ander was.

“Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efésiërs 4:32).

As jy goedhartig wil wees – om die handdoek op te neem en ‘n broer of suster te herstel – het jy nie nodig om die besonderhede van hoe daardie persoon vuil geword het te weet nie. Jesus het nie vir Sy dissipels gevra, “Hoe het julle voete so vuil geword nie?” Hy wou net hulle reiniging bewerkstellig – om die stof van hulle af te kry. Sy liefde vir hulle was onvoorwaardelik.

Net so, moet diegene wat wandel in die volheid van Jesus Christus ook hierdie gesindheid van liefde hê teenoor vuil voete. Ons moenie vir besonderhede vra nie. In plaas daarvan, moet ons sê, “Laat ons iets aan die stof doen!”

Maar, alte dikwels is dit egter nie die geval nie. Talle Christene wil in al die bloedige besonderhede indelf. Hulle kom na ‘n gelowige wat vuil voete het en sê, “Ek wil jou voete was. Maar sê vir my – wat het gebeur? Hoe het jy so vuil geword?”

Dan, op een of ander punt in die storie van mislukking, besef die nuuskierige vertrooster, “O aarde – dit is erger as wat ek gedink het. Ek kan nie hiermee betrokke raak nie. Ek kan dit nie hanteer nie.” En na twee minute van besonderhede, kom hy by die einde van sy armoedige menslike barmhartigheid. Hy oordeel die persoon as goddeloos, dat hy nie gehelp kan word nie – en kies om hom te ignoreer. Hy laat val sy handdoek en stap weg.

Geliefde, jy kan nie voete was in ‘n regter se kleed nie! Jy moet jou eie-geregtige klere uittrek – jou skynheilige gesindheid – voor jy enige reiniging kan doen. Soos Jesus, moet jy jou boonste kleed afhaal en jouself met liefde omgord. Af met alle eiegeregtigheid – alle trots, alle gedagtes dat jy nooit so laag kan daal nie! Jy moet ‘n gesindheid hê wat sê, “Ek gee nie om wat jy gedoen het nie. As jy berou het en God se Woord wil hoor, sal ek vriendelik en goedhartig teenoor jou wees!”

Jy vra egter, wat as die vuil persoon voor jou ‘n Judas is – iemand wat jou verraai? My antwoord aan jou is, Judas was in daardie vertrek saam met die ander dissipels, en Jesus het sy voete ook gewas. Christus het afgebuk om Judas se stof ook te reinig, selfs al het Satan reeds verraad in sy hart geplaas.

Hedendaagse Judasse kan inderdaad gered word weens die Kruis. Dikwels dink ons aan seker sondaars, soos homoseksuele of lesbiërs as hopeloos verslaaf. Ons dink hulle kan nooit verlos word nie. Paulus sê egter van hulle:

“Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders, of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.

“En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Korinthiërs 6:9-11).

Sommige van ons was ook so – maar ons voete is gewas deur Jesus! Ek vra vir jou – as Jesus gewillig is om alle sondaars vry te spreek en te regverdig, waarom is ons nie gewillig om daardie sondaars se voete te was nie? Paulus sê ons moet sagmoedig en geduldig wees met alle mense:

“En ‘n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen” (2 Timótheüs 2:24-26).

Paulus sê in wese, “Julle moet goedhartig wees teenoor almal, om gewillig te wees om hulle voete te was. God sal hulle moontlik genadig wees – en hulle verlos van hulle sonde!”

Ons kerk het nou amper dertig weke deurgebring om vir herlewing in New York Stad te bid. Dit maak egter nie saak hoeveel ‘n kerk bid nie; God sal nie nuwe gelowiges plant as hulle sal moet sukkel tussen ‘n klomp veroordelende, selfgesentreerde Christene nie.

Jy sien, elke nuwe gelowige gaan sy voete vuil maak voor hy in die geloof gevestig word. En hy het mense nodig wat gewillig is om gou na hom te gaan en sy voete te was en hom te herstel. Ware herlewing weerspieël hierdie gees van goedhartigheid – ‘n gees wat gewillig is om die handdoek op te tel om vuil gelowiges te reinig en te herstel!

3. Laastens kom ons by die woord eenheid!

Ek glo toe Jesus die dissipels se voete gewas het, het Hy ‘n deurslaggewende les gegee oor hoe om die eenheid van gemeenskap in die liggaam van Christus te verkry.

Terwyl Jesus Petrus genader het, het die dissipel teruggetrek.

“Hy kom toe by Simon Petrus en dié sê vir Hom: Here, gaan U my voete was?” (Johannes 13:6)

Petrus het verbaas gevra, “Here, U gaan nie my voete was nie, gaan U? Nooit, nooit nie!”

Jesus het geantwoord,

“...As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie” (Johannes 13:8).

Jesus het in wese gesê, “Petrus, as Ek jou voete was, het ons kosbare basis vir gemeenskap, ‘n basis vir ware eenheid.” Net so, kan geen herder eenheid in ‘n kerk bring eenvoudig deur programme te implementeer of selfs deur sy vurige prediking nie. Nee – eenheid kom deur die handdoek op te neem!

Nadat Jesus Sy dissipels se voete gewas het, het Hy vir hulle gevra, “Verstaan julle wat ek aan julle gedoen het?” As hulle die geestelike betekenis verstaan het van wat Hy pas gedoen het – deur die vlek en skuld van hulle sonde weg te neem – sou dit dankbaarheid in hulle veroorsaak het.

Ek vra vir jou: Wat het Jesus vir jou gedoen toe Hy jou gereinig het? Hy het al jou foute en skuld weggevee – Hy het die laaste oorblyfsel van sonde gereinig – en jy was skoongemaak en heel. Hy het dankbaarheid, erkentlikheid en blydskap in jou siel geplaas. Hy het jou met soveel liefde vir Hom gevul dat jy Hom sou enige plek heen sou volg en enigiets vir Hom sou doen. Al wat jy wou hê, was gemeenskap met Hom, weens dit wat Hy vir jou gedoen het.

Geliefde, dit is die geheim van ware eenheid! Wanneer jy die handdoek van barmhartigheid opneem vir ‘n hartseer, gevalle broer, dan bemoedig jy hom deur hom in sy hartseer te omhels – deur in goddelike vrees onderdanig te wees, deur sy gevoelens van waardeloosheid, angs en wanhopigheid weg te was en deur hom lief te hê en vir hom te sorg.

Wat het jy egter gedoen deur daardie persoon se voete te was? Jy het ‘n ferm fondament gebou vir ware eenheid en heerlike gemeenskap. Julle is een deur julle gemeenskaplike belewenis – dit is, deur gewas te word deur die water van die Woord!

Praat van dankbaarheid – daardie Christen sal jou vriend wees vir ‘n leeftyd! Hy sal jou verdedig, jou liefhê en enigiets vir jou doen. Hy sal vir jou sê, “Jy het by my gestaan in my moeilike tye. En nou sal ek nooit toelaat dat enigeen iets aan jou doen nie!”

Kan jy jouself voorstel ‘n kerk wat vol is van sulke sorgsame mense – wat weier om ‘n enkele woord te hoor van ‘n ander se modder; wat seer het wanneer ‘n ander seer het; wat elke wanhopige, foutbelaaide broer of suster, met ‘n woord van liefde en hoop omring? Dit is waarom ons ons bediening verskuif het na New York Stad – om ‘n heilige, goddelike oorblyfsel wat ‘n sterk, verenigde basis van vertroosters uitmaak, op te rig – mense wat ‘n handdoek in hulle hande kan dra!

Jy sal moontlik vra, “Maar hoe vind ek die mense wie se voete ‘n was nodig het?” My antwoord vir jou is, “Op dieselfde manier wat jy hulle gekry het toe jy oor hulle geskinder het!”

Wanneer jy enigiets negatief oor iemand hoor, vra bloot, “Oor wie praat jy? Net die naam, asseblief!” Gaan dan vinnig na daardie seer persoon met jou barmhartigheidshanddoek – en begin sy voete was! Sê vir die een wat geval het, “Ek gee vir jou om. En ek wil vir jou bid – maar ek hoef nie besonderhede te weet nie. Ek wil hê jy moet weet ek het jou steeds lief – en ek sal by jou staan!”

Hierdie boodskap is vir my, net soveel as vir enigeen anders. Ek het onlangs eers tot hierdie oortuigende kennis gekom van waaroor voete was werklik gaan. En, deur God se genade, sal ek saam met ander die handdoek van barmhartigheid opneem en gaan soek na dié wat ly, wie se voete nodig is om gereinig te word.

Jesus het gesê,

“As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was...As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen” (Johannes 13:14,17).

Nou dat ons “hierdie dinge weet,” soos Jesus gesê het, laat ons dit doen. Ek vra vir jou: Is jy gewillig om dit te doen? Is jy gereed om jou handdoek in liefde op te neem?

Halleluja!