Die Goedertierenheid van die Here

David Wilkerson

God se goedertierenheid is een aspek van die Here se karakter waarvan ek baie min weet. Ek glo min Christen ook.

Gedurende my leeftyd, het ek baie oor God se regverdige oordele, heilige vrees, geregtigheid, heiligheid en haat vir sonde gepreek. Maar ek het nie veel begryp of gepreek van Sy goedertierenheid nie.

Terwyl ek onlangs in gebed was, het die Heilige Gees baie duidelik tot my hart gespreek: “David, die pad is inderdaad reguit en die poort is nou wat na saligheid lei. Maar moenie My weg reguiter en nouer probeer maak as wat Ek dit gemaak het nie!”

Dit het my getref. Ek het my konkordansie uitgehaal – en ek het gou ontdek hoe baie die Bybel sê oor die goedertierenheid van die Here. Van Moses, Dawid en die profete, hoor ons keer op keer hierdie wonderlike woorde:  “Julle God is barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou, gou om te vergewe, stadig om toornig te word”

Moses was ‘n profeet wat waarskuwings aan Israel uitgebulder het en verkondig het dat as hulle nie in geregtigheid sou wandel nie, hulle geoordeel sou word. Tog het hierdie man van God ‘n groot openbaring van die Here se goedertierenheid gehad. In die wolk van God se teenwoordigheid, het die Here aan Moses Sy natuur geopenbaar:

“En die HERE het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy hy het die Naam van die HERE uitgeroep. En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe” (Exodus 34:5-7).

Geliefde, ek moet bely: Ek het nog nooit werklik die Here op hierdie manier gesien nie. Hierdie kennis van Hom is in my kop – dit was nog altyd – maar ek het dit nooit werklik in my hart beleef nie.

In al die waarskuwings van oordeel wat Moses verkondig het, het hy altyd hierdie belangrike aspek van God se karakter onthou. Moses het gesê, “As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God  terugkeer en na sy stem luister; Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie” (Deuteronómium 4:30-31).

Nehemía 9 is ‘n wonderlike gedeelte en dit beskryf ‘n kragtige openbaring van God se goedertierenheid teenoor Sy volk dwarsdeur hulle geskiedenis. Keer op keer het hulle God verlaat – en elke keer het Hy hulle herstel en aan hulle ontsaglike seëninge geskenk. Die Here het die volste reg gehad om moed op te gee met Israel, maar Hy het getrou gebly aan hulle.

Verse 28 en 31 som hierdie wonderlike openbaring as volg op: “Maar sodra hulle rus gehad het, het hulle weer kwaad gedoen voor u aangesig...as hulle U dan weer aanroep, het U uit die hemel gehoor en hulle na u barmharigheid baie keer gered...Maar in u grote barmhartigheid het U hulle nie volkome vernietig en hulle nie verlaat nie, want U is ‘n genadige en barmhartige God” (Nehemía 9:28,31).

Jesaja het dikwels God se oordeel teen sonde verkondig. Hy het vertel van die donker dag van oordeel en wanhoop wat sou kom oor diegene wat volhard in wederstrewigheid. Te midde een van sy mees skrikwekkende boodskappe oor die Here se dag van toorn, het Jesaja egter gestop en uitgeroep:

“Ek sal die goedertierenhede van die HERE prys, die roemryke dade van die HERE, ooreenkomstig alles wat die HERE aan ons bewys het...na sy barmhartighede en na die grootheid van sy goedertierenhede” (Jesaja 63:7).

Te midde van al die sonde, afkerigheid en afvalligheid in Israel, het Jesaja diep in sy hart gekyk en ‘n openbaring van hoe God werklik was, onthou. Hy het uitgeroep: “Here, verlos ons weer deur U medelye. Ons was wederstrewig en het U Heilige Gees bedroef – maar wek weer u deernis teenoor ons op. U is vol van goedertierenheid.”

Die profeet Joël het het gewaarsku oor naderende dae van stikdonkerte, soos wat nog nooit gesien was nie: verterende vlamme, aardbewings, skommelinge heen en weer en die verduistering van die son en die maan. Maar skielik stop die profeet – en te midde van ernstige waarskuwings oor toorn en oordeel, sê hy:

Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God: want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil” (Joël 2:12-13).

“Berou” beteken dat God van plan wil verander oor die oordeel wat Hy beplan het; Hy wil nie oordeel nie! Hy hoop dat ons berou oor ons sonde sal hê en onsself tot Hom sal wend om vergifnis.

EK LEER DRIE BELANGRIKE LESSE OOR GOD SE GOEDERTIERENHEID.

Vir jare het ek geprofeteer oor die liggaam van Christus en ek sal voortgaan om te profeteer todat Jesus kom, as Hy my sal toelaat. Maar ek het gevoel die Here sê vir my, “Jy moet eers My goedertierenheid verstaan. Nie één profeet in die Bybel kan profeteer voordat hy nie eers ‘n openbaring van My goedertierenheid gehad het nie.”

LES #1 – Die fondament van algehele oorwinning oor sonde is om te verstaan dat God vol liefde en goedertierenheid is.

“So sê die Here: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE” (Jeremia 9:23-24).

Ek het nog nooit ‘n probleem gehad om sonde in my lewe te bely nie – ek het altyd dadelik na die Here gegaan. En na die beste van my kennis, probeer ek nie my foute verskoon of wegsteek nie. Wanneer ek ook al die Here teleurstel en weet ek het Hom bedroef, word ek oorweldig met skaamte, skuld, veroordeling en onwaardigheid.

Ek verkondig vir ander dat die Here genadig en vergewensgesind is. Maar wanneer ek God teleurstel, verander alles skielik. Ek moet my pad deur die verskriklike las van skande en skaamte werk.

Jy vra, “Is ons nie veronderstel om sulke gevoelens te ervaar wanneer ons sondig nie?” Ja - maar ons is nie veronderstel om vir dae en weke te bly dink dat ons Vader vir ons kwaad is nie. Die skuld en veroordeling moet vinnig weggeneem word.

Jy sien, selfs nadat ons berou gehad het, mag ons voel dat ons moet dit opmaak by die Here. Maar, soos die Verlore Seun, kan die Vader ons omhels, ons wang soen, ‘n ring om ons vinger sit en ‘n kleed om ons hang en vir my sê om die verlede te vergeet en om Sy huis binne te kom en die feesmaal te kom geniet wat Hy vir ons voorberei het.

Maar van binne protesteer ons, “Ek kan nie ingaan nie. Ek is nie waardig nie! Ek het teen U gesondig. Laat my U terugbetaal. Laat my bedroef wees en hierdie skuld ‘n bietjie langer dra.”

Dit is maklik om te glo dat God Israel, Ninevé, die heidene en die sterwende dief vergewe het. Maar, ek vind dit moeilik om te begryp dat die oomblik wat ons met berou na Hom toe gaan, Hy ons vinnig en liefdevol aanvaar asof ons nooit gesondig het nie.

Dawid gee vir ons ‘n belofte dat dit moontlik is om die Here se goedertierenheid te verstaan. “Wie wys is, laat hom op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenheid van die HERE” (Psalm 107:43).

Hierdie vers verklaar baie duidelik dat die sleutel om hierdie aspek van God se karakter te verstaan, gevind word in hierdie spesifieke psalm. Hierdie sleutel is eenvoudig en ongekompliseerd en dit word vier keer herhaal:  “Toe het hulle die HERE aangeroep...”

Dawid het die openbaring van God se genadige, vergewende hart ontvang deur bloot te kyk na God se vorige rekord van hoe Hy sy geliefde kinders hanteer het:

“Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.

“Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hulle angste het Hy hulle gered. En hy het hulle gelei op ‘n regte pad om te gaan...Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders!” (Psalm 107:5-8).

Toe hulle van die Here af weggedwaal het, het hulle honger, dors en verlore geraak weens sonde, “Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hulle angste het Hy hulle verlos” (Psalm 107:19).

Weer het hulle opstandig geword en afvallig geword. Hulle het so ver afvallig geword dat hulle by die poorte van die hel was. “Toe het hulle die HERE aangeroep...Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak” (Psalm 107:19-20).

Weereens het God se volk by einde van hulleself gekom. ‘n Storm het gewoed en hulle siele het versmag van swaarkry: “Toe het hulle die HERE aangeroep in hulle benoudheid, en uit hulle angste het Hy hulle uitgelei. Hy het die storm ‘n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword” (Psalm 107:28,29).

Hier is wat die Here vir Dawid geleer het: “Kyk na my rekord. Kyk na al My handelinge met my kinders. Hulle het My keer op keer teleurgestel soos Ek jou vier keer in hierdie openbaring gewys het. Maar toe het hulle geroep.

Hulle het na My uitgereik. En Ek is van so ‘n aard dat My hart medelye het en tot deernis gedryf word wanneer My kinders hulle tot My bekeer. Ek het medelye met hulle swakhede.”

Dawid sê in hierdie psalm, “Kyk hoe maklik het God se hart medelye. O, hoe vinnig reageer Hy op die uitroepe van sy kinders. Daar is geen einde aan Sy genade nie.”

Geliefde, jy hoef nie na ‘n berader te hardloop of ‘n vriend te bel nie; jy hoef nie die pyn en skande te dra nie. Gaan net na die Here toe, roep uit en bely voor Hom! Hy is ‘n deernisvolle Vader, wat medelye het met al jou trane.

‘n Tyd het gekom toe Dawid so ‘n openbaring van God se onfeilbare genade nodig gehad het. Soos jy weet, het Koning Dawid verskriklik gesondig – deur owerspel te pleeg en dit met moord te probeer toesmeer.

Hierdie man was vol van die Heilige Gees, so ons weet hy moes ellendig gevoel het, omdat die Gees sonde bestraf. Ek is oortuig Dawid het berouvol geween gedurende dieselfde nag waarin hy owerspel gepleeg het en terwyl hy ander sondes gepleeg het.

Daar is geen manier waarop so ‘n Geesvervulde man van God dag vir dag kon voortgaan sonder om te ly onder die las van sonde, skuld en vrees nie. Ek was al in die kamer as herders of kerklidmante wat God waarlik liefhet, gekonfronteer word met hulle sonde wat geopenbaar is. Diegene wat naby aan die Here wandel, sal amper altyd in trane uitbars en huil: “Ja, ja! Dit is waar! Hoe kon ek dit gedoen het? My sonde is altyd voor my – ek slaap nie. O God, vergewe my. Ek soek hulp!”

Dit is wat ek glo wat gebeur het toe Natan Dawid gekonfronteer het. Maar dit is een ding om vergewe te wees, maar ‘n heel ander ding om vry en reg met die Here te wees. Begryp dat Dawid nie net owerspel gepleeg het nie, maar moord! Hy was die koning van Israel en God het vir hom gesê, “Jy het oneer aan God se naam gedoen.” Terwyl hy egter geween het, het Natan hom verseker, “Jou sonde is vergewe.”

Maar dit was nie vir Dawid genoeg nie. Hy het geweet dat vergifnis die maklike deel was; nou wou hy dinge met God regmaak om sy blydskap terug te kry. Daarom het hy geroep, “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Psalm 51:13).

Psalm 51 handel oor Dawid wat die lankmoedigheid en barmhartigheid van die Here onthou het. In die heel eerste vers smeek hy vir God se deernisvolle vergifnis: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.”

Dawid het geweet wat hy moes doen! Hy het geroep! “Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos” (Psalm 34:7). “Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep” (Psalm 34:16). “Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede” (Psalm 34:18).

Dierbare heilige, hier is jou oorwinning oor sonde: om die absolute vertroue te besit, dat maak nie saak hoe verskriklik ver jy gesondig of geval het nie, jy dien ‘n God wat gereed is om te vergewe, gretig is om jou te genees en wat meer goedertierenheid teenoor jou besit as wat jy ooit sal nodig hê.

Die duiwel kom na jou toe en sê, “Nee! As jy so vinnig loskom, sal jy dadelik weer sondig.” Hy sal jou ellendig, vuil en onwaardig laat voel om jou hande in lofprysing tot God op te hef, of selfs om Sy Woord op te tel!

Maar, hier is jou wapen: Roep! Roep uit met jou hele hart soos Dawid gedoen het! Gaan na die Here en bely jou sonde. Beroep jou op sy goedertierenheid en sê, “Here, U het my lief. En ek weet dat U gereed is om my te vergewe. Ek bely!”

Op die oomblik wat jy dit doen, is jy reg met God. Jy kan nie vir jou sonde betaal nie. God het jou so lief dat Hy Sy Seun, Jesus, wat reeds daarvoor betaal het, gegee het. ‘n Genadige, liefdevolle Voorspraak begeer om te help en jou te verlos: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Johannes 2:1).

Toe ek onlangs by my jong kleindogter was, wou sy op ‘n lae sementmuur geloop het. Terwyl ek haar van agter vasgehou het, het sy probeer om my hand weg te klap. Ek het haar gelos – en op die ou end het sy omgeval (sonder dat sy seergekry het).

Toe sy val, het ek haar nie gelos nie. Ek het nie gesê, “Kyk wat jy nou gedoen het. Jy is nie meer myne nie!”.

Die Here het vir my geê, “David, jy het jouself toegelaat om só lief te wees vir hierdie kind. Maar soms laat jy My nie toe om jou op dieselfde manier lief te hê nie. Jy bars van trots oor jou kinders, maar soms laat jy My nie toe om trots op jou te wees nie.”

Die Here het onlangs ‘n liefdevolle woord tot my hart spreek. Hy het gesê, “David, jy seën My – jy seën My hart!” Niemand het nog ooit in my lewe iets beters vir my gesê  nie. En dit is waar – die Bybel sê dat God ‘n behae in Sy kinders het!

LES #2 – God se liefdevolle goedertierenheid moet geniet word.

Jona was ‘n profeet wat die goedertierenheid van die Here ten volle verstaan het, maar hy kon dit nie geniet of toeëien nie. In plaas daarvan, was dit vir hom in ‘n las.

Toe God Jona beveel het om na die bose Ninevé te gaan en ‘n vinnige verwoesting aan te kondig, het Jona haastig weggevlug. Later het hy vir die Here vertel waarom hy gevlug het: dit was oor die goedertierenheid van die Here!

Hier was Jona se argument, “Here, U het my beveel om op en af met die strate van Ninevé te loop en te profeteer dat hulle slegs veertig dae oorgehad het voor alles verby was...

“Maar ek kan dit nie doen nie, want ek ken U, Here. U kry maklik medelye. Trane en berou maak U hart sag. U sal van plan verander. In plaas van oordeel stuur, sal U herlewing stuur en ek sal op die ou en soos ‘n dwaas lyk.

“Want ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil” (Jona 4:2).

Op die ou end het Jona wel na Ninevé toe gegaan, maar in die maag van ‘n reuse vis, wat hom op droë grond uitgespuug het. Jona het God se oordeel aan Ninevé verkondig en die mense het hulle bekeer, hoewel die profeet se boodskap niks van bekering genoem het nie, slegs van oordeel.

Hierdie mense het geween, gevas, getreur en rouklere aangetrek en dit selfs op hulle diere gesit! Dit was een van die mees wydverspreide herlewings wat ooit in die Bybel opgeteken is.

Te midde van al hierdie dinge, het Jona egter kwaad geword. Hy het seker gebid, “Wat het gebeur, Here? U was gereed om hulle te verwoes. U het my op daardie strate uitgestuur om te roep, “Oordeel, bloedvergieting, vuur!” Toe het hulle U aangeroep en toe U die eerste traan sien val het, het U van plan verander. Ek het heeltyd geweet dit sou gebeur? Omdat ek U ken! U is stadig om kwaad te word, gereed om te vergewe, gereed om vrede en seën te stuur in plaas van rampspoed.”

Ek bely – ek weet hoe dit voel! Onlangs het ek het ek ‘n bietjie verleë gevoel, net soos Jona waarskynlik het. Ons bediening het Amerika gewaarsku dat oordeel op ons sal kom op die slagveld van Koeweit en Irak, wat Lincoln se geloof weerspieël dat oorlog ‘n teken van God se oordeel is. Ons het gewaarsku dat Amerika hulle nie bekeer het nie en ons dat ons leiers nie vir landwye bekering gevra het nie – en ons het ‘n slagting gevrees.

Tydens een van ons Vrydagnag gebedsbyeenkomste, het ek gesê, “Hoe kan God met ons leërs wees as ons so baie bloed op ons hande het? Die Bybel is vol verhale van God wat opgee op Sy leërs wanneer hulle gesondig het soos ons. Ons beleef oordeel!”

In plaas daarvan, het oorwinning vinnig gekom. Ná slegs 100 uur van gevegte op die grond, was dit alles verby – een van die mees eensydige oorloë in die geskiedenis. Dit het vinniger geëindig as Israel se Sesdaagse Oorlog teen Egipte.

Kort daarna het ek ‘n brief gekry van iemand wat eens ons kerk bygewoon het. Dit het gesê, “Jy het gelieg! Daar was geen oordeel nie. God was met ons leërs en duisende het nie gesterf nie. Jou waarskuwing was nie van God af nie.”

Hier is wat ek glo wat gebeur het: Weereens het die Here se deernisvolle hart gou medelye gehad. Menigte duisende soldate en gelowiges dwarsdeur die wêreld het tot God uitgeroep: “Help ons! Gee ons nog een ‘n kans!” Kerke dwardeur die wêreld het gebedsbyeenkomste gehou en uitgeroep, “O God, vergewe ons! Reinig ons van ons sonde!”

Een verslaggewer in Saoedi-Arabië het gesê, “Nog nooit het ek so baie soldate gehoor bid en geestelike liedere sing nie. Nog nooit het ek so baie die Bybel gesien lees nie. Dit was soos kerk!”

Ek glo God het medelye gehad. Hy het medelye gehad en was aangeraak – omdat Hy so reg is om te vergewe! Soos Jona, moes ek geweet het Hy is “lankmoedig en groot van goedertierenheid en Een wat berou het oor die onheil.” In plaas van om oordeel oor Amerika te giet, het Hy ons leër as Sy roede teen Saddam Hussein gebruik. God was met Amerika!

As ons gekry het wat ons nasie verdien het, sou ons tienduisende van ons troepe op hierdie oomblik begrawe het. Ons sou gehuil en geween het, beskaamd! Tog het ons genadige God ons jammer gekry en van plan verander, so seker as wat Hy van plan verander het oor Ninivé. Die trane en berou van gelowiges het Sy groot goedertierenheid na vore gebring.

Jona het nie God se goedertierenhied geniet nie. Ek bid dat die kerk nie dieselfde fout maak nie. Ons moet Hom dank vir Sy groot barmhartigheid teenoor ons, en dat Hy die uitroep van ons land gehoor het – en verhoor het!

LES #3 – God se goedertierenheid moet verkondig word.

Ons moet God se goedertierenheid aan die hele mensdom verkondig. Dawid het gesê, “Van u trou en u heil spreek ek. U goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie” (Psalm 40:11).

Dawid het hierdie boodskap nie net vir homself toegeëien nie. Hy het geweet dit was broodnodig dat ook die hele vergadering, sowel as die hele nasie én ‘n hartseer wêreld dit hoor.

Dawid was dankbaar teenoor God vir so ‘n groot liefde, omdat hy deeglik bewus was van sy eie mislukkings: “My ongeregtighede het my ingehaal” (Psalm 40:13). Dit maak nie saak hoe erg mense gesondig het nie – God het steeds lief. Dit is waarom Hy sy Seun gestuur het. En ons moet dít aan die wêreld verkondig!

Kan jy saam met Dawid sê, “Ek het u goedertierenheid nie verberg van die groot vergadering nie”?

Hier is een van die mees aangehaalde en gesingde verse in die hele Woord van God: “Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys” (Psalm 63:3). Jy mag vra, “Wat beteken, Sy goedertierenheid is beter as die lewe?”

Die lewe is in werklikheid kort! Dit vergaan soos gras wat daar is vir een seisoen en teen die volgende is dit weg. God se goedertierenheid duur egter tot in ewigheid. ‘n Biljoen jaar van nou af, sal Jesus steeds so deernisvol en liefdevol wees soos wat Hy nou is. Ander kan jou lewe van jou af wegneem, maar hulle kan nie God se goedertierenheid wegneem nie.

Die grootste prokklamasie van Sy goedertierenheid is blye lofprysing. Stop en dink vir ‘n oomblik: God is nie meer vir jou kwaad nie. As jy gereed is om jou sonde te laat vaar, kan jy vergewe en herstel word, nou, op hierdie presiese oomblik.

Die Woord sê dat niks tussen ons en ons Here kan kom nie: geen sonde, geen skuld en geen veroordelende gedagte nie. Jy kan sê, “My lewe is ‘n seën vir die Here. En ek kan my verheug en Hom loof. Ek is rein, vrygespreek, vergewe, geregverdig, geheilig en verlos!”

As jy werklik verstaan hoeveel deernis Hy teenoor jou het – hoe geduldig, hoe besorgd, hoe gereed Hy is om te vergewe en te seën – sou jy jouself nie kon inhou nie. Jy sou jubel en juig totdat jy geen stem meer oor het nie!

Geliefde, Jesus kom – en ons is rein. Ons is gereed om te gaan. Jy het ‘n liefdevolle, deernisvolle Vader wat vir jou omgee. Hy het elke traan wat jy al ooit gestort het, in ‘n kruik opgevang. Hy ken al jou gedagtes – en Hy het jou lief!