Die God van Hoop

David Wilkerson

Onlangs, het ‘n ontstelde suster hierdie woorde aan my geskryf: “ Ek is bang. Ek dink dit sou wonderlik gewees het as kernbomme op ons sou val – veral op my en my familie. Dit sou alles so gou verby wees vir ons. Ons sou by Jesus wees! Ek is ‘n afgetrede vrou met geen man in ons familie nie. Ek het my man aan kanker verloor. Ek het pas uit die hospitaal gekom en ek herstel van ‘n gebreekte rug. Ek het twee ongetroude dogters, een met gesonheidsprobleme wat twee jaar lank nie gewerk het nie. Ons het verskriklik gely die laaste 16 jaar. Lede van ons selgroep, word vervolg, en my vriende ly almal genadeloos. Vrees en angs is my lot in die lewe. Meneer Wilkerson, ons ly! Is daar geen hoop vir die bruid van Christus nie? Antwoord asseblief!”

Hierdie vrou is net een van duisende wat vir ons geskryf het vanuit hulle wanhoop en hopeloosheid. Ons hoor van so baie wat die Here so ernstig liefhet, maar in situasie en toestande lewe wat hopeloos vir hulle voorkom. Hulle praat van dooie-punt huwelike en gesondheids- en familieprobleme, en hulle gebruik frases soos:

“Daar is geen uitweg nie!”

“Ek het dit oor myself gebring en nou is ek in ‘n tronk – lewenslank toegesluit!”

“God lyk nie of Hy my hoor nie – niks verander nie. Dit gaan van kwaad na erger!”

“Soms wonder ek of dit die moeite werd is. Ek wens die Here wil kom en my uit hierdie put haal!”

“Ek het ‘n paar goeie dae, maar dan word ek oorweldig deur hierdie gevoelens dat ek waardeloos is – net niks doen nie!”

Dit word gesê dat die enigste goed wat erger is as waansin, moedeloosheid en hopeloosheid is. Maar prys die Here, ons dien ‘n God van hoop! Die Griekse woord vir “hoop”, is elpo, wat beteken “Om uit te sien met behaaglike vertroue en verwagting.” Die Apostel Paulus het vir die Romeine geskryf, “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees” (Romeine 15:13).

Paulus het ‘n onsagtlike idee bekendgestel – “dat julle oorvloedig kan wees in die hoop.” Hy bedoel, “dat jy oorgenoeg sal hê; ‘n bron wat oorvloedig, oordadig en sonder perke is!” Sommige mag dink, “Dit klink soos ‘n gruwelike grap. In my huidige toestand is al wat ek wil hê ‘n straaltjie hoop, net een bewys van verhoorde gebed. Net een teken van verandering!”

Maar geliefde, God se Woord is waar! Hy is ‘n God van hoop – ‘n hoop wat oordadig, oorvloedig en sonder perke is. Paulus se gebed vir die kinders van God was dat Hy “julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof.” Dit moet ‘n normale toestand vir alle Christene wees: nie net vir goedaangepaste, gelukkige gelowiges nie – maar vir almal! God spot nie Sy lydende kinders vandag nie. Hy is nou ‘n God van hoop, gereed om jou siel met uitermatige, oorvloedige blydskap en vrede te oorstroom deur die krag van die Heilige Gees in jou.

Paulus het gesê, “Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding” (Romeine 8:24-25).

Ons reageer egter deur aan te dring om ‘n verandering in ons situasie te sien: “Maar ek kon hoop gehad het as ek net ‘n klein veranderinkie kon sien, ‘n klein stukkie bewys dat God alles ten goede vir my meewerk – net iets om aan vas te gryp. Ek moet iets sien verander. Hoe kan ek hoop hê wanneer maande verbygaan en dinge net erger word?”

Maar “om oorvloedig te wees in hoop” is om uitermatige, oorvloedige geduld te hê – meer as genoeg geduld om “daarvoor te wag.” Jy sien, die blydskap en vrede kom wanneer jy weet God het alles onder beheer!

Hopeloosheid is die vloek van vertroue in die mens.

“So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart  van die HERE afwyk. En hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land. Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jeremia 17:5-8).

Jeremia stel twee onveranderlike wette van geestelike lewe hier bekend: Een lei tot lewe en hoop – die ander tot dood en hopeloosheid. Dit is die sleutels om te verstaan waarom sommige Christene konstante vrede en blydskap in die Here geniet, terwyl ander in wanhoop en hopeloosheid rondtas.

Die Hebreeuse woord wat Jeremia hier gebruik vir “vloek” beteken “uiters laakbaar.” Met ander woorde, die mens wat God verlaat en in plaas daarvan op die mens steun, is vir Hom uiters laakbaar!

Hoe kan jy weet wanneer jy op die mens vertrou eerder as op God? As jy ineenstort wanneer iemand anders jou teleurstel, of as die dade van ander jou wandel met God beïnvloed – dan weet jy, jy steun op die arm van die vlees!

As jy jou vertroue in die mens plaas, kan jy verseker wees om skade te ly. Op een of ander stadium, sal iemand jou teleurstel. “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Net wanneer jy dink jy ken iemand, is jy in vir ‘n skok. Op die ou end sê jy, “Ek het dit nooit van hom of haar verwag nie.” Paulus het gesê ons moenie “op die vlees vertrou nie” (Filippense 3:3).

Baie van die hartseer en die hopeloosheid wat jy beleef, is ‘n gevolg van om in die steek gelaat te wees deur iemand wat jy vertrou het – iemand naby aan jou. Byvoorbeeld, ‘n vrou kan argumenteer, “As my man tog net sal verander! Hy het my regtig diep seergemaak. Hy verwaarloos my, hy probeer nie verstaan nie. Sy woorde maak my diep seer. Hy maak my liefde dood. As hy tog net kan verander, sal ek gelukkig wees.”

Nee – jy sal nie gelukkig wees nie! Wanneer die Bybel praat van die vlees jou arm maak, is dit jou eie vlees! Selfs as jou man ‘n volmaakte maat word – en mooi dinge sê en jou soos ‘n koningin behandel – sou dit nie jou probleme van wanhopigheid oplos nie.

Jou probleem is nie ‘n man- of kinderprobleem nie; dit is ‘n God-probleem. Jeremia het gesê jy is soos ‘n kaal bos in die woestyn: wat nie die goeie sien kom nie, maar eerder in die dor plekke in die wildernis bly. Dit beteken jy word afgesny van jou ware bron van geluk en hoop. Jy het die Here verwaarloos; jy skep nie van Sy Lewende Water nie. Jy het soos ‘n dooie, droë woestynbos geword – vrugteloos en onvrugbaar!

Jy sien, jy vertrou op iemand of iets anders as God om vir jou geluk en hoop te bring. En selfs as daardie persoon gedoen het wat jy wou hê, of dit wat jy geglo het jou probleme sou oplos, werklik gebeur, sou jy nie die goeie daarin raaksien nie. Dit sou jou nie verander nie. Jy sou steeds wanhopig wees. Wat jy dink jou probleem sou oplos, sal jou net slegter laat voel.

Een van die groot wonders van Amerika, is die ontsaglike New York akwaduk. Dit is alles ondergronds, gemaak van stene en loop vir myle en myle vanaf die platteland en bring water na hierdie metropool. Dit het ‘n hele leër van Italiaanse immigrante geverg om dit te bou. So, wat sou gebeur as daardie akwaduk afgesny sou word en skielik was daar geen water wat na die stad vloei nie? New York Stad sou soos ‘n dor plek word...’n brakland en onbewoon.” Ons kan sonder petrol bestaan – maar nie sonder brandstof nie.

Dieselfde ding gebeur in ons lewens! Wanneer mense hoop verloor, in plaas daarvan om na die Here te gaan, raak hulle bekommerd en trek terug. Hulle krul innerlik op en verloor hoop, en hulle harte word ‘n dor plek, ‘n brakkerige land. ‘n Goeie voorbeeld hiervan, is Abbie Hoffman, die hippie aktivis van die 1960s. Hy het onlangs gesterf – deur selfmoord te pleeg. Min het geweet hy was manies-depressief en het homself vir dae lank is sy kamer opgesluit, sonder om uit die bed te klim. Hy kon nie die wêreld in die oë kyk nie. Hy was dood onder die kombers gevind – opgekrul in ‘n bondeltjie.

Vandag beleef selfs Christene oorweldigende wanhoop, baie soortgelyk aan wat ek nou net beskryf het. Maar God sê vir Sy kinders, “Julle is wanhopig bloot omdat julle nie op My vertrou nie. Julle wend julle tot ander – tot dokters, tot vriende, tot raadgewers, tot medisyne, tot finansies. Julle word nie opgelig deur My beloftes nie; julle laat die woorde van mense julle neerslagtig maak. Julle het julleself vervloek deur nie na My te kom nie. Julle voel dor en leeg. Julle is eensaam – omdat julle nie water uit My put skep nie!”

Jeremia beskryf “die sonde van Juda” (Jeremia 17:1) as die sonde van gelowiges, nie van die afvallige heidene rondom hulle nie. Die sonde van God se eie volk was as volg: In moeilike tye het hulle hulself nie in geloof na Hom gewend nie, maar liewer hulp gesoek by die vlees. Hoe bedroef moes God hieroor gewees het, en oor die taal van hopeloosheid wat deur so baie neerslagtige Christene gebruik word. Ek sidder as ek gelowiges hierdie woorde van wanhoop hoor gebruik: “Dit is tevergeefs!” “Daar is geen hoop nie!” Israel het dieselfde taal gebruik toe hulle wanhopig was: “Maar hulle sê: Dit is tevergeefs” (Jeremia 18:12).

In hierdie gedeelte wys God ‘n ongelooflike, verskriklike sonde uit wat gepleeg word deur Sy eie volk. “Daarom, so spreek die HERE: Vra tog onder die volke: Wie het sulke dinge gehoor? Die jonkvrou van Israel het ‘n baie afskuwelike ding gedoen. Verdwyn die sneeu van die Libanon ooit van die rots in die veld? Of droog die uitlandse, koue, stromende waters op?” (Jeremia 18:13-14).

Wat is hierdie verskriklike ding wat God se volk doen?

Soos die koue, verfrissende waters wat vanaf die smeltende sneeu vloei, gee God ‘n onophoudelike bron van krag vir Sy kinders. Die Lebanon se water is die water van sterkte, beskikbaar en onfeilbaar. God se kinders gaan dikwels op hulle pad – droog, leeg en hartseer, wat sê, “Ons is aan onsself oorgelaat. Ons sal voortgaan op ons eie verlate pad, onbegeer!”

Dit is ‘n beeld van ‘n wanhopige Christene wat die beloftes van God vergeet het, wat moedeloos langs God se vloeiende stroom van God se liefde sit en dink, “Die Here is nie aan die werk in my lewe nie. Ek gaan net op my tande byt en die beste doen wat ek kan. Ek sal alleen stry as ek moet. Dit help nie meer om te hoop nie. Ek moet doen wat ek kan om te oorleef!”

Die gevaar van hopeloosheid is dat dit tot roekeloosheid lei.

“Nogtans het my volk My vergeet, hulle laat rook opgaan vir die nietige afgode; dié het hulle laat struikel op al hul weë, op die ou paaie, om te loop op sypaaie, ‘n ongemaklike pad” (Jeremia 18:15).

Ons stad se strate en kroeë is vol wanhopige mense – mense wat hulle lewens roekeloos weggooi en probeer om wraak te neem op iemand wat hulle skade doen. Sommige is selfs kwaad vir God omdat Hy hulle nie gehelp het toe hulle wou hê Hy moes nie.

Ek weet van een dominee se vrou wat in ‘n diepe depressie verval het. Sy was siek van al die geskinder en moeilikheid in hulle kerk. Sy het gedink God het haar nie met haar probleme gehelp nie en daarom het sy vir haar man gesê, “Ek kan dit nie meer verdra nie.” Sy het besluit om hom en hulle twee kinders te verlaat, en sy het saam met ‘n sondaar weggeloop. Nou sit sy in kroeë en drink. “Hulle laat rook opgaan vir nietige afgode; dié het hulle laat struikel op al hul weë” (Jeremia 18:15).

Ek kon ‘n hele boek skryf oor die tragedies van diegene, wat ek weet so depressief en moedeloos is, dat hulle roekeloos met hulle lewens geword het. As jy toelaat dat die duiwel jou oortuig dat jy ‘n hopelose slagoffer is – nutteloos, goed vir niks en niemand nie – kan hy jou dinge laat doen wat jy nooit gedink het moontlik is nie. Insluitend selfmoord!

Hierdie depressie kan ook lei tot geestelike luiheid. Mense gee hulleself verskonings om niks te doen nie: “Los my net alleen! Ek sal dit op my eie uitdink,” sê hulle. Hulle glo God het hulle vergeet. Maar die Skrif sê dit vind alles plaas, omdat “my volk My vergeet” het.

Jy het gedink dat wanneer ‘n Christen neerslagtig word en begin om te ly, sou hy na die Here gaan en sy klagte voor Hom uitstort. Maar nee! Heel dikwels tree ‘n afgestompheid in, en hy voel nie meer nie. Hy hou sy probleme vir homself en laat ná om tot God uit te roep.

Daarvandaan is dit ‘n afdraende pad. Jy kan preek, beraad, smeek en pleit, “Jy weet dat al wat jy hoef te doen, is om jou hart uit te stort voor die Here! Jy weet Hy sal jou las verlig en daardie boeie breek. Jy weet die Heilige Gees smag daarna om jou te troos en te help.” Maar dit is asof hulle nie langer kan hoor nie. Hulle ore is toe; hulle harte is verhard. Hulle is vol selfbejammering en luiheid. Al wat hulle nou kan sien, is hulle probleem – nie Jesus nie!

Kortliks, depressie, dorheid en hopeloosheid is die direkte gevolg van afgesny wees van ons daaglikse bron van Lewende Water. Wanneer ons geloof, gebed en die Woord – ons toegang tot die vloeiende sneeu-waters van die Lebanon – verwaarloos, is die gevolg altyd eensaamheid, vrugteloosheid en leegheid.

“Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is” (Jeremia 17:8).

Dank God daar is nog ‘n onveranderlike wet: die wet van hoop – die wet van die lewe!” “Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is” (Jeremia 17:8). Hier word die geheim geopenbaar hoe om in konstante hoop te lewe – die geheim van hoe om vol blydskap en vrede in die Heilige Gees te wees. Dit word nie daarin gevind om te verander, om mense te probeer behaag, of om beloftes aan God te maak wat jy nie kan hou nie.

Die mens wat hierdie belofte kan beleef, kan nie langer skade ly deur mense nie, omdat hy nie op hulle hoop nie. Sy verwagtinge is alles in die Here. Hy gee nie om wat die mens sê of doen nie; sy oë is op die Here alleen. En die Here faal of stel hulle nooit teleur nie!

“Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet.” ‘n Verstommende Hebreeuse woord word hier gebruik vir “geplant” – dit beteken eintlik “oorgeplant.” Geloof ontwortel die droë, vrugtelose woestynbos wat verskroeid, eensaam en lelik is – en plant dit oor by die lewende strome van die waters wat vanaf die Lebanon vloei.

Dawid het gesê, “Die stroompies van ‘n rivier maak die Godstad bly... God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek” (Psalm 46:5-6). En Dawid het van God gesê, “U het die land besoek en oorvloed gegee; U verryk dit grootliks; die stroom van God is vol water....U seën sy uitspruitsels” (Psalm 65:10-11).

Die rivier van God wat alles genees wat dit aanraak.

Skiet jou wortels diep uit in Sy rivier, en jy sal nie vrees wanneer die hitte kom nie. Want jy, “sy blad bly groen.” Die droogte – die droë tye – sal jou nie affekteer nie, en jy sal heeltyd vrug dra.

Jy sal nie heeltyd moeg wees, huil, eensaam wees, droog en verlate voel nie. In plaas daarvan, sal jy oorgeplant word deur bloot vir Hom al jou vertroue en geloof te gee en te rus in Sy Woord. En gou sal jou wortels diep in Sy rivier van lewe ingroei.

Waarom juig sommige gelowiges altyd en is hulle oorvloedig in hoop? Waarom is hulle vol vrede en blydskap en straal hulle die gloed van geestelike lewe en gesondheid uit teenoor almal wat hulle teëkom? Is dit omdat hulle geen probleme het nie? Nee! Hulle het in der waarheid waarskynlik meer as jy – trouens, meer as die meeste mense!

Maar hulle het die geheim geleer van om wortels in God se rivier hê. As jy gewortel in die rivier is, het jy nie ‘n herlewing nodig nie; jy het nie reënbuie van seëninge nodig nie; jy het nie ‘n spesiale uitstorting nodig nie; jy het nie ‘n vloed van skielike oorwinning nodig nie. En omdat jy ‘n konstante uur-vir-uur vloei van lewegewende water geniet, beweeg jy nie van droë tyd na seën, van laagtes na hoogtes, van herlewing na koudheid nie. Geestelike hongersnood raak jou nie; die skroeiende hitte van afvalligheid gooi jou nie omver nie. Jy skep water uit God se rivier van lewe!

As ek moes kies tussen herlewings en wortels, sou ek enige tyd wortels kies. Vir lank nadat herlewing weg is, sou ek floreer, omdat my wortels my daagliks sou voorsien van alles wat ek nodig het.

Esegiël het ‘n rivier van lewe gesien wat uit die heiligdom kom. “En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan – uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees” (Eségiël 47:12).

God het hierdie profeet ‘n rivier gewys wat uit Sy heilige tempel gekom het. Soos die tyd verby gegaan het, het dit groter geword van ‘n stroompie tot ‘n rivier waarin hy kon swem. Eségiël het ‘n man die groeiende stroom van lewe sien meet, totdat dit ‘n stroom geword het “wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys – waters om in te swem” (Eségiël 7:5). Jy sien, die vroeë Kerk het water beleef tot by die enkels; Die Hervorming het water tot by die lendene gehad. En in hierdie dag en eeu, het die water soveel opgerys, dat ons nou water het om in te swem!

Op die oewer van hierdie rivier is baie bome, alles groen en vrugdraend. En wie is hierdie bome? Almal wat wortels van vertroue in Hom het. “En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal ‘n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom” (Eségiël 47:9).

Hierdie stroom is Jesus!

Ja, die stroom is Jesus – Sy wesenlike teenwoordigheid. Die presiese oomblik waarop jy al jou twyfel en vrees neergewerp het – en uitgeroep het, “Here, ek glo, en in U het ek hoop, oorvloedige hoop” – sal jy oorgebring word tot op die walle van hierdie rivier deur die krag van die Heilige Gees.

Laat my jou vertel waarom dit so belangrik is om jou wortels diep in God se woord te vestig: omdat die ergste nog kom!

“As jy met voetgangers loop, maak hulle jou moeg: hoe sal jy dan wedywer met die perde? En in ‘n land van vrede voel jy jou veilig: hoe sal jy dan maak in die pronkbosse van die Jordaan?” (Jeremia 12:5).

Dit is veronderstel om goeie tye te wees. Ons lewe in ‘n ligte reën in vergelyking met die naderende storm. Dit is kinderspeletjies in vergelyking met die moeilikheid wat voorlê. Jy mag dink jy gaan deur iets verskriklik, maar dit is vredevol in vergelyking met die lig van die ellende wat binnekort oor die aarde kom!

Ons sal ons wortels nou diep af moet kry. As ons nie vandag krag kry van Hom af nie, sal jy dit nie kan verdra wanneer groot duisternis die aarde bedek nie. Ek en jy word nou getoets deur “ligte verdrukkings” (2 Korinhiërs 4:17) om ons na die Here te dryf, om ons diep te laat delf om in die geheime reservoir van die lewe in te kom.

Stort jou hart in geloof uit voor God!

Dit is die enigste weg om jou hart op te beur en in blydskap te bly. “My siel dors na God, na die lewende God...My trane is my spys dag en nag...Hieraan wil ek dink en my siel uitstort...Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig” (Psalm 42:3-6). Dit is God se boodskap vir almal wat “onrustig” is – diegene wat hartseer, verslane, laag, neerslagtig, moedeloos en vreugdeloos is.

Waarom is ek depressief? Waarom is ek neerslagtig en hartseer? Waarom is ek oorweldig? Waarom treur ek? Dawid het nie eens hierdie vrae in hierdie Psalm probeer antwoord nie. Al wat hy kon sê is, “Hoop op God! Die verlossing van my aangesig.”

Vir die wat geduldig en met verwagting op God wag, sal “die HERE...oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, ‘n gebed tot die God van my lewe” (Psalm 42:8).

God het duidelik gewaarsku dat dit ‘n baie ernstige saak is vir Hom wanneer ons Hom nie met blydskap dien nie. In Deuteronómium 28, hoor ons van al die vloeke en siektes wat die ongelowige oorval: “En al hierdie vloeke sal oor jou kom...Omdat jy die HERE ou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie” (Deuteronómium 28:45,47).

God het gesê, “Jy het op een of ander klein skadetjie of verkeerde ding gefokus – en jy het al die seëning en wonderlike dinge wat Ek vir jou gedoen het, vergeet!

Christus sal jou hopeloosheid verander in gejubel en jou met blydskap klee – as jy jou geloof aan Hom sal vrystel. “U het my weeklag vir my verander in ‘n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord” (Psalm 30:12).

Heiliges, jubel in die God van hoop – en lewe!