Die Gevare en Droefheid van ‘n Verslae Hart

David Wilkerson

Vir my is Jakob een van die mees interessante mense in die Ou Testament. Hier was ‘n bedrieglike, misleidende, konkelende, manipulerende, onderkruipende man – ‘n ongelooflike karakter. God het egter hierdie man baie liefgehad! Sy lewe was inderdaad gevul met wonderlike lesse vir ons oor God se handelinge met die menslike natuur.

Ek wil graag aansluit by Jakob se storie waar hy gevlug het vir sy lewe vir sy ouer tweelingbroer, Esau. Jakob het reeds vir Esau twee keer uitoorlê – en nou was sy broer vol wraakgierigheid!

Eerstens het Jakob vir Esau uit sy eersgeboortereg verkul. Toe Esau dood van die honger teruggekom het van ‘n jagtog af, het Jakob vir hom ‘n pot sop in ruil vir sy eersgeboortereg aangebied. In hulle kultuur, was dit die reg van die eergebore seun om hoof van die familiegroep te wees. Dit het ‘n “dubbele seën” ingesluit – dit is, om ‘n dubbele deel van al hulle vader se besittings te kry.

Nog belangriker, om die eersgeboortereg te hê, het beteken dat hy die voorvader van die aartsvaderlike nageslag sou wees waardeur Christus sou kom: “...en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Génesis 28:14). Die saad van Abraham was Christus!

Duidelik het hierdie spesifieke eergeboortereg groot geestelike betekenis ingehou. En die belangrikheid daarvan openbaar die verskriklikheid van wat Esau gedoen het deur die reg van die eersgeborene prys te gee vir ‘n blote pot sop!

Volgende het Jakob die aartsvaderlike seën by sy vader, Isak,  gesteel – seën wat aan Esau behoort het. Isak was oud, bedlêend en amper blind. En Jakob het voorgegee om Esau te wees om die seën te ontvang.

Toe Esau agtergekom het dat Jakob sy seën gesteel het, was hy vasbeslote om sy broer dood te maak. Hy het gesê, “...omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem...En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink...dan sal ek my broer Jakob doodmaak” (Génesis 27:36,41).

Toe Rebekka te hore gekom het van Esau se plan, het sy Isak oortuig om Jakob weg te stuur na Padan Aram, waar haar broer Laban gewoon het. Jakob kon daar ‘n vrou kry en in vrede woon totdat Esau se woede bedaar het.

Daarom het Jakob vertrek – en terwyl hy op pad was, het God vir hom ‘n ontsaglike visie gegee het. Jakob het ‘n leer gesien opgaan tot in die hemel, met engele wat op en af geklim het vanaf die troon van God, wat bevele gegee het: “En hy het gedroom – daar is ‘n leër op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het” (Génesis 28:12).

Hierdie visioen was nie bloot vir Jakob se voordeel opgevoer nie. Dit was nie een of ander spesiale hemelse effek wat die Here opgedis het om hom te beïndruk nie. Nee – God het letterlik die gordyn teruggetrek en vir Jakob die goddelike aktiwiteit wat heeltyd aan die gang is, gewys! Al daardie engele het op bevel opgetree – en het heen en weer na die aarde beweeg om God se mense te lei, deur hulle te bedien, rondom hulle laers te trek, hulle te waarsku, hulle te beskerm, hulle te bewaar en in hulle behoeftes te voorsien.

Geliefde, daardie leer is steeds daar! En dieselfde engele het nie ‘n uur ouer geword as toe Jakob hulle gesien het nie. Hulle is inderdaad steeds aan die werk en dien om ons ontwil vandag.

Bokant hierdie hele toneel, het Jakob die Here sien toesig hou: “En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee” (Génesis 28:13).

Met hierdie belofte, het die Here Jakob in die verbondseën van sy oupa, Abraham, en sy vader, Isak, ingebring. Die Here het in wese gesê, “Ek het jou aanvaar in die nageslag in! Jy is nou die eersgeborene en jy het die eersgeboortereg. En so sal Ek die verbondsbeloftes van jou vaders aan jou skenk!”

Toe het God hierdie wonderlike beloftes bygevoeg: “En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het” (Génesis 28:15).

God het voor Jakob ‘n eed afgelê en gesê, “Ek sal jou nooit verlaat nie, Jakob – Ek sal met jou wees met elke tree op jou pad. Jy sal nooit ‘n skuif maak waarin Ek nie betrokke sal wees nie! En deur dit alles heen, sal Ek jou inbring in my ewige doel vir jou lewe. My doel sal uitgevoer word in jou, maak nie saak wat nie!”

Tot op hierdie oomblik, kan ek eenvoudig nie enige geloof, goedheid of genade in Jakob kry nie. Hoe kon hy ooit die verbondsvoorvader wees van God se ewige doel? Wanneer die Bybel sê, “...Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat” (Romeine 9:13), wil ek vra, “Here, wat het U in hierdie man gesien? Ek weet U is heilig en regverdig en U sien nie die dinge oor wat hy gedoen het nie. Waarom het U hom nie tereggewys nie? Waarom het U hom geseën nadat hy gesteel en bedreig het?”

God het iets in Jakob se hart gesien wat sy groot liefde en ‘n begeerte om hom te seën te voorskyn laat kom het!

Die Skrif wys vir ons God se voorkennis van Jakob – dat selfs sedert die baarmoeder, hierdie jonger broer die eersgeboortereg sou hê. Toe Esau eerste uit Rebekka se baarmoeder gekom het, het Jakob Esau se hakskeen gegryp, so asof hy gesê het, “Nee, die eersgeboortereg is myne!”

En God het dit eerbiedig. Toe Rebekka ‘n stryd tussen die tweeling gevoel het tydens haar swangerskap, het God vir haar verduidelik, “Jy het twee nasies binne-in jou – en die ouer een sal die jonger een dien!” Jakob se naam beteken “onderkruiper” – dit is, “een wat ‘n ander laat struikel op ‘n onderduimse manier, om sy plek in te neem deur slim planne, om hom tot ‘n val te bring en te vervang.”

Sekerlik het God al hierdie dinge in berekening gebring voor Hy Jakob geseën het. Hy het die vleeslikheid in hierdie man se dade gesien. En Jakob was oud genoeg om van beter te weet. Hy was ten minste veertig jaar oud toe hy sy bedrog gepleeg het (sommige kenners glo hy was ouer as sewentig). En op daardie ouderdom, moes sommige dinge in sy karakter al verander het.

So, waarom het die Here ‘n verbond gesluit met hierdie man? Waarom het Hy so goedgunstig na Jakob gekyk? Die Skrif moet altyd Skrif uitlê. En ons lees in Jesaja: “...Ek woon in die hoogte in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes” (Jesaja 57:15).

Hierdie gedeelte beskryf ‘n man, wat net soos Jakob, terneergedruk en op vlug is – en God het hom laat herlewe, hom geseën en hom eer gegee. Jesaja voeg by: “...Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2).

Ons weet dat mense ag gee op die uiterlike voorkoms, maar God kyk altyd na die hart. Ons kan net Jakob se hebsug, gierigheid en manipulasie sien. Maar God het verder as sy vlees gekyk na iets binne-in sy hart – ‘n verslae, gebroke gees. God het geweet dat iets in Jakob se hart gewillig was om te verander.

En dit is presies waarna God in ons soek! Hy soek ‘n gebroke, verslae hart waaraan Hy kan werk. Hy kan niks uitrig met ‘n Esau-tipe, wat die dinge van God as vanselfsprekend aanvaar en wat kunsmatige trane van berou huil nie. Esau was sensueel en sy hart was hard. Hy was soos talle Christene vandag – wat deur die lewe sweef met geen doel nie en net sensuele plesiere langs die pad wil geniet.

Jakob het egter God se woord eerbiedig. Hoe weet ons dit? Dink daaraan: Jakob moes gehoor het hoe sy vader, Isak, oor en oor die storie vertel het van hoe God ‘n verbond met Jakob se oupa, Abraham, gemaak het. Hy het gehoor van die keer toe Isak op die altaar neergelê is om geoffer te word – maar toe Abraham die mes opgelig het, het God hom gekeer en vir hom in Isak se plek ‘n lam gewys om te gebruik vir die offer. Uiteindelik het Jakob ook gehoor van die heilige saad wat sou kom uit die aartsvaderlike nageslag.

Bykomend hiertoe, het Jakob se moeder hom waarskynlik herinner aan die droom wat God vir haar gegee het – dat Jakob die heilige nageslag sou wees. Jakob moes oorstelp van blydskap gewees het oor die gedagte dat hy eendag hoof van die familiegroep sou wees – en die fakkel sou dra van die nageslag waaruit die Messias sou kom!

Jakob was bewus daarvan dat die eersgeboortereg groot geestelike belang en betekenis gehad het. Toe hy egter na sy ouer broer, Esau, gekyk het, was al wat hy gesien het, sensualiteit en wêreldsheid. Esau was ‘n goddelose man en verhard teen sulke waarheid. Hy het met twee Kanaänitiese vroue getrou. Jakob wou eenvoudig nie hê dat die eersgeboortereg in sulke goddelose hande val en ligtelik opgeneem word nie. Daarom was hy vasbeslote om Esau se posisie oor te neem. Hy het verklaar, “Ek wil die eersgeboortereg hê!”

Daar is geen bewyse dat Jakob hierdie voorreg om selfsugtige redes wou gehad het nie. Hy sou immers nie die hoof van die familiegroep wees nie, omdat hy vir ongeveer twintig jaar weg sou wees. En hy het nooit probeer om ‘n leër op te rig, terug te keer en sy dubbele deel te vat nie. Nee, dit is vir my duidelik dat Jakob diep in sy hart ‘n smagting en verlange na God gehad het. En die Here moes die geestelike betekenis agter Jakob se dade gesien het. Ek sien geen ander rede waarom Hy Jakob se bedrieglike plan om die geboortereg oor te neem, sou verdra het nie.

Vandag het die Here ook vir ons wonderlike, nuwe verbondsbeloftes gegee. En dit is net soos die beloftes wat Hy aan Jakob gemaak het – om altyd met ons te wees, om te keer dat ons struikel, om ons te seën met alle hemelse seëninge en om sy ewige doel in ons lewens te vervul.

God maak egter nie ‘n verbond met almal wat daarop aanspraak maak om ‘n gelowige te wees nie. Hy belowe nie om diegene, wat soos Esau is en geen agting vir heilige dinge het, te bewaar of te verlos nie. God seën en het die Jakob-tipe lief – die een wat bewus is van sy strydighede en swakhede. Hierdie een het ‘n gewilligheid om te verander en gevorm te word deur die hand van God. Iets in hom is altyd aan die breek en hy onderwerp homself aan God.

Die woord “verslae” beteken “gebroke in gees deur ‘n skuldige gevoel; ‘n toestand van opregte berou; om ‘n haat vir sonde te hê en ‘n gewilligheid om te verander.” Selfs die Webster se definisie van “verslae” vertaal “om bedroef en berouvol te wees oor sonde of tekortkominge.” Verslaenheid is ‘n veragting van sonde en ‘n begeerte om te verander.

Jakob het vertrek na Padan Aram om ‘n vrou te kry – met ‘n heerlike gevoel dat God hom liefgehad het!

Toe Jakob die nuwe land binnegegaan het, het dit gou duidelik geword dat God met hom was met elke tree, net soos Hy belowe het – omdat sy eerste stop ‘n goddelike bestiering was. Hy het ‘n aantal van die herders ontmoet, wat hom vertel het dat hulle sy oom, Laban, geken het – en hulle het vir hom ‘n pragtige vrou gewys wat skape na die water gelei het. “Dit is Laban se dogter, Ragel,” het hulle gesê.

Toe Jakob vir Ragel gesien het, het hy gedink, “Here, U is waarlik met my. U het my gelei na die mooiste vrou wat ek nog ooit gesien het – en sy gaan my vrou word!”

Jakob het vinnig opgetree. Daar was ‘n groot klip wat die water bedek het waar die skape moes drink. Voor Ragel egter daar kon kom, het Jakob die klip weggeskuif en die skape water gegee. Toe Ragel opgedaag het, het Jakob vir haar gesê, “Ek is Rebekka se seun” – en hy het haar dadelik gesoen! Dit moes liefde met die eerste oogopslag gewees het.

Ek kan my voorstel die opgewondenheid wat Jakob op daardie oomblik gevoel het. Hy kon waarskynlik nie wag om by Laban se huis te kom nie. Toe hy uiteindelik sy oom ontmoet het, was hy dadelik aangestel as ‘n herder. Laban het egter vir hom gesê, “Hoewel jy my neef is, gaan ek jou nie laat werk sonder betaling nie. Wat wil jy as jou loon hê?”

Jakob het na Ragel gewys en uitgeblaker, “Ek wil haar as my vrou hê! En ek sal vir sewe jaar vir haar werk.” Jakob het toe ook vir ‘n totaal van 2,555 dae gewerk om met Ragel te trou. Nag na nag het hy die koue en hitte van herderswerk verduur. Tog sê die Skrif dat hy so verlief op haar was, dat daardie sewe jaar vir hom net soos ‘n paar dae gevoel het.

Uiteindelik het die troudag aangebreek. Na die huweliksbeloftes afgelê is en die feesvierings opgehou het, het Jakob na sy tent gegaan en angstig gewag vir sy versluierde bruid, Ragel. Maar Laban het ander planne gehad! Hy het ‘n plan beraam waarin sy oudste dogter, Lea – wat klaarblyklik eenvoudig en onaantreklik was – haarself met ‘n sluier sou bedek en Jakob se tent sou binnegaan in plaas van haar jonger suster.

Toe Lea binne by Jakob was, moes sy gefluister het in plaas van gepraat het, omdat sy gevrees het dat haar stem haar sou ontmasker. Jakob het waarskynlik gedink dit was oor sy nuwe bruid se skaamheid. In die donkerte van die tent, het hy geen idee gehad dit was “dowwe-oog” Lea wat in sy arms gelê het nie.

Wat ‘n tyd moes dit gewees het! Ek wonder hoeveel liefdevolle woordjies Jakob in Lea se oor gefluister het terwyl hy gedink het dit was Ragel. Hy het waarskynlik talle drome met haar gedeel en die nag om gesels: “Ek wil tien kinders hê – nee, twaalf!” Sy nuwe vrou het net teruggefluister en goedkeurend geknik.

Toe Jakob egter die volgende oggend wakker word, het hy Lea langs hom gesien lê en uitgeroep, “Jy is nie Ragel nie!” Woedend het hy na Laban gehardloop en geskreeu, “Jy het my bedrieg!” (‘n vreemde beskuldiging siende dat dit van die “bedrieër” gekom het!”)

Laban het ‘n nuwe transaksie aangebied. Hy het gesê, “In ons samelewing is dit nie reg om die jonger dogter voor die ouer een in die huwelik af te staan nie. Ek sê jou wat – vervul jou week lange wittebrood met Lea en dan kan jy ook vir Ragel kry. Maar in ruil daarvoor, sal jy nog sewe jaar se werk vir my moet doen.”

“En hy [Jakob] het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea. En hy was by hom nóg sewe jaar in diens” (Génesis 29:30). Die Skrif sê dat Jakob nie net vir Ragel meer liefgehad het as vir Lea nie, maar dat hy die minder aantreklike vrou gehaat het: “En toe die Here sien dat Lea die nie-geliefde (gehaat) was, het Hy haar skoot geopen; maar Ragel was onvrugbaar” (Génesis 29:31).

Nou het hierdie susters mekaar verafsku. Soos die tyd verby gegaan het, het hulle niks anders gedoen as om te argumenteer nie. Stel jou voor hoe Jakob daaroor moes gevoel het. Nou was hy verbind om nóg sewe jaar se slawearbeid te verrig waartydens sy loon tien keer verander het. Hy was in geen posisie om vir sy familie te voorsien of met sy eie planne voort te gaan nie.

Een nag het hy in die oop veld gesit en met die Here geredeneer: “God, hoe het ek in hierdie gemors beland? U het soveel groot beloftes aan my gemaak. U het vir my gesê U sou my lei, bewaar en u planne in my vervul. Waarom het U nie hierdie bedrog gekeer nie? Hoe kon dit u leiding wees?

“Nou is my hele toekoms in gedrang. Ek kan geen planne maak nie, want ek is verbind tot hierdie bose man vir die volgende sewe jaar. En hy beroof sy dogters van hulle erfenis. Daar sal niks oor wees nie, Here. Ek het eenvoudig geen toekoms nie. Watter soort verbondswandel is dit?”

Jy mag met jouself redeneer en sê, “Miskien het Jakob nie God geraadpleeg oor met wie hy veronderstel was om te trou nie. Miskien het hy die verkeerde motiewe gehad en Ragel gekies volgens sy vlees. Miskien was hy veronderstel om met Lea te trou.” Al hierdie dinge is nie ter sake nie. God kon op enige stadium om Jakob se ontwil ingegryp het – maar Hy het nie.

Ons kan in der waarheid ‘n verslae gees hê en steeds huweliksprobleme hê. Miskien beskryf dit jou. Jy en jou wederhelf mag deur ‘n verskriklike beproewing gaan. Jy het gebid, “Here, ek verstaan nie! Ek weet my hart is reg en ek wandel in verbond met U. Ek soek U getrou. So, waarom laat U hierdie verskriklike beproewing toe?”

Soos Jakob, dink die meeste van ons dat verslae, biddende Christene nie groot droefheid hoef deur te gaan nie. Ons hoef nie verskriklike tye of vreesagtige toestande te beleef waarin ons toekoms bedreig word nie. Ons kan egter in werklikheid nederige, berouvolle, biddende Christene wees – heeltemal oorgegee aan God se wil, gehoorsaam in alle dinge en in verbond met Hom wandel – en steeds groot gevaar en droefheid beleef!

Nêrens in die Bybel belowe God om ons te bewaar van huweliks- of familieprobleme nie. Nooit het Hy ons beloof dat ons ‘n moeitelose werk of loopbaan sal hê nie. Ook het Hy nie vir ons beloof om kwytgeskeld te word van verdrukking nie. Hy sê immers, “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom” (Psalm 34:20). Hierdie vers sê nie dat God ons van verdrukking verlos nie, maar daaruit.”

Paulus praat daarvan om die hoogtes en dieptes van God se liefde vir hom te ken. Die Here het egter nie Paulus se skip gekeer om te sink nie. Hy het in werklikheid toegelaat dat die apostel gestenig, geslaan en verneder is. Paulus sê hy was blootgestel aan gevare op die land en op die see, aan rowers en sy eie landgenote.

Met tye mag ons selfs ween en wonder, “God, waar is U? Waarom het U my nie uit hierdie ding uitgehaal nie?” Maar al het die Here toegelaat dat ons dinge beleef wat ons siele beproef, verlos Hy ons op een of ander manier uit hulle almal – net soos Hy met Jakob, Josef en Paulus gedoen het.

Ek glo min Christene het al die tragiese, droewige familieprobleme beleef wat Jakob gehad het. Byvoorbeeld, hy het nie geweet dat sy spesiale geliefde, Ragel, ‘n geheime afgodedienares was nie – en dat God haar baarmoeder gesluit het as gevolg daarvan. Ragel het inderdaad vir jare geen kinders gehad nie, omdat sy haar vader se familie-afgode gesteel het: “Maar Ragel het die huisgode geneem en dit in die kameelsaal weggepak en daarop gaan sit. En Laban het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie” (Génesis 31:34).

Jakob was heeltemal onbewus daarvan. Maar toe Laban uitgevind het dat die afgode vermis was, het hy Jakob agtervolg en geëis dat hy die afgode teruggee. Jakob was verontwaardig oor die beskuldiging. Min het hy geweet dat sy pragtige vrou so geheg was aan afgode, dat sy gelieg het om dit weggesteek te hou!

Praat van ‘n gekwelde familie. Hier was Lea, vasgevang in ‘n liefdelose huwelik, met geen toekoms nie. Sy het geboorte gegee aan seun na seun terwyl sy gedink het, “Miskien sal my man my nou liefhê.” Maar niks het ooit verander nie. En nou was haar suster woedend vir haar omdat sy Jakob se liefde gesteel het.

Hier was Ragel, ‘n afgodedienares wat Jakob voortdurend geskel het om vir haar ‘n kind te gee – en steeds was haar baarmoeder deur God gesluit, omdat Hy haar afgodery gehaat het.

Verstaan asseblief – die hele tyd het Jakob in gehoorsaamheid aan God gewandel. Uiteindelik, nadat hy die bykomstige sewe jaar gewerk het, het God in ‘n droom na hom gekom en gesê, “Gaan terug na Bet-el, die plek waar Ek jou die eerste keer ontmoet het. Bou ‘n altaar daar soos jy beloof het om te doen.”

En Jakob het gehoorsaam. Hy het sy familie en kuddes bymekaargemaak en na Bet-el vertrek, in die rigting van sy eie vader se huis.

Jakob was op pad na die grootste gevaar van sy lewe – hoewel hy op die pad na gehoorsaamheid was!

Jakob het ‘n duidelike woord van God gehoor en hy het in volle gehoorsaamheid aan daardie woord opgetree. Hy het geweet hy was onder ‘n verbond – dat God hom sou bewaar, met hom sou wees en sy plan vir hom sou vervul. Jakob het egter ‘n gevaar in die gesig gestaar wat hom op die randjie van verwoestig gebring het!

Hy was op pad terug na sy broer, Esau, en sy vader, Isak, wat hy bedrieg het. En op een stadium, het ‘n boodskapper gekom om hom te waarsku, “Esau is op pad met ‘n leër van vierhonderd manne. Hy wil jou kry!”

Die Skrif sê, “Toe het Jakob baie bevrees en benoud geword..." (Génesis 32:7). Ek kan die paniek wat Jakob getref het, verstaan. Hy het vinnig sy familie in twee groepe verdeel terwyl hy gedink het, “As Esau een groep doodmaak, dan kan die ander groep ten minste ontsnap.” Selfs in hierdie mees vreesagtige belewenis van sy lewe, sien ons egter bewyse van Jakob se gebroke, verslae hart:

“En Jakob het gesê: o God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o HERE, wat my beveel het: gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen – ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het; want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword.

“Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders. U het tog self gesê: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie” (Génesis 32:9-12).

Jakob het vasgehou aan die verbond wat God met hom gemaak het. Hy het in wese gesê, “Here, U het ‘n belofte aan my gemaak! Ek weet ek is dit nie waardig nie. Ek weet my naam beteken ‘Onderkruiper.’ Maar nou, in hierdie pad van gehoorsaamheid, het U my op die randjie van wanhoop gebring.

“U het vir my gesê U sal met my wees, Here. Maar nou is ek op die punt om my familie en alles wat ek besit te verloor. Ek maak nie aanspraak op enige goedheid van my kant af nie. Maar ek weet ek het U lief en ek gehoorsaam U. So, waar is u verbond, God?”

Die volgende keer wat ons vir Jakob sien, was hy in verskriklike barensnood. Die hele nag deur het hy met ‘n engel gestoei (wat die Here self was). En die Bybel sê vir ons hy het die engel “oorwin.” Hy het uit daardie nag van gestoei gekom as ‘n ander man: “Toe sê hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel: want jy het geworstel met God en met mense en het oorwin” (Génesis 32:28).

Sommige Christene mag dink, “Die rede waarom Jakob gely het tot op daardie stadium, was omdat hy nie geloof gehad het nie. Maar nou het hy ‘n oorwinnende geloof en krag gehad – en hy het nie nodig gehad om getoets te word met nog moeilikheid en smarte nie. Hy kon net die duiwel bestraf en jubelend voortgaan!”

Nee! Jesus het gesê sy Vader veroorsaak dat die reën val op beide “...regverdiges en onregverdiges...” (Matthéüs 5:45). En totdat ons hemel toe gaan, sal ons aanhou om talle verdrukkinge te beleef. Daar is geen omdraai nie – geen plek buite bereik van die gevare en droefheid van ‘n verslae hart nie!

God het Jakob gered van Esau se toorn op daardie geleentheid. Maar toe, in plaas van om die hele pad na Bet-el te gaan soos hy beveel was, het Jakob halfpad gestop. Hoewel hy in verbond met God gewandel het en met nuwe krag, het hy kamp opgeslaan en hom gevestig naby die Hewiete in Salem, wat in Kanaän was.

Eendag, terwyl sy deur die lande geloop het, was Jakob se dogter Dina verkrag deur ‘n jong man genaamd Sigem. Daarna het Sigem dit voor Jakob bely en gesê hy wou met Dina trou. Maar Dina se broers was woedend vir Sigem – en hulle het ‘n plan beraam.

Dit was teen die wet om te ondertrou. Maar Jakob se seuns het ingestem om Hewitiese vroue te trou en om toe te laat dat Hewitiese mans met hulle susters kon trou, op voorwaarde dat die Hewitiese mans besny word. Terwyl die Hewitiese mans seer en besig was om te genees van hulle besnydenis, het Jakob se seuns hulle aangeval en almal doodgemaak, hulle kinders ontvoer en hulle besittings geplunder.

Toe Jakob dit uitgevind het, was hy baie bedroef. Hierdie man van gebed het na sy moorddadige seuns gekyk en gesê, “Julle het my in die skande gebring voor die hele wêreld. Watter soort mans is julle?”

Geliefde, al hierdie droefheid het gekom nadat Jakob oorwin het in gebed! Maar dit was nie die einde van al Jakob se moeilikheid nie. In sy ouderdom, het Jakob ‘n seun gehad, Josef, wat die vreugde van sy lewe geword het. Jakob het met die seun gespeel, hom geleer en vir hom ‘n kleed met baie kleure gegee. Toe, eendag, was die kleed flenters teruggebring na Jakob. Hy was gesê dat ‘n wilde dier Josef in die veld doodgemaak het.

Ek kan my voorstel die bitter trane wat Jakob gestort het oor sy seun. Dit moes die ergste droefheid van sy lewe gewees het, die grootste toets van sy geloof. Selfs sy oorwinnende krag in gebed kon nie sy seun terugbring nie.

Toe, buiten sy droefheid, moes Jakob ‘n verskriklike hongersnood beleef – een van die ergste gevare van sy lewe. Hy het die natuur sien doodgaan voor sy oë – en weer kon oorwinnende krag in gebed nie reën bring nie. Hy moes die moontlikheid in die gesig staar dat hy sou moes toekyk hoe sy familielede een vir een van die honger sterf.

Toe het dinge egter erger geword. Toe Jakob sy seuns na Egipte gestuur het om voedsel te koop, het hulle teruggekeer met die nuus dat een van sy seuns daar gyselaar gehou was. Jakob het amper van die spanning ineengestort.

Op hierdie stadium in Jakob se storie moet ek wonder: Wanneer hou die stroom van beproewings ooit op? Is dít wat gebeur wanneer jy in verbond met God wandel – wanneer jy ‘n nederige hart voor Hom het? Hou God nie sy verbonde nie? Of betaal dit nie om getrou voor Hom te wandel nie?

Laat my jou nou neem na ‘n ander toneel in Jakob se lewe!

Rig nou jou gedagtes op Farao se hof. Hier staan Jakob as ‘n ou man – 130 jaar oud – en sy verlore seun, Josef, hardloop om hom te omhels. Dit het so uitgewerk dat Josef tweede in bevel was oor die hele Egipte. En oral waar Jakob gegaan het met sy seun – in die paleis, deur die strate, in sy strydwa – het mense voor Josef gebuig met eerbied en ontsag.

Toe Farao vir Jakob gevra het hoe oud hy is, het hy geantwoord, “...Die dae van my jare van my vreemdelingskap is honderd-en-dertig jaar. Min in getal en vol teëspoed was die dae van my lewensjare...” (Génesis 47:9). Die Hebreeus lees, “Min in getal en vol teëspoed.” Kortliks: “Ek het baie lyding beleef.”

Was dit egter die moeite werd? Ja – absoluut! Jakob en sy familie was verlos van die hongersnood. Al sewentig lede van sy familiegroep was nou veilig teen gevaar, gevestig in die rykste landbougrond in Egipte. Hulle het oorgenoeg kos gehad om te eet. En Jakob se seun was op die troon!

Jakob – ‘n man met ‘n verslae hart – kon nou terugkyk en sê, “Toe my broer, Esau my gedreig het, het dit gelyk of my lewe verby was. Maar God het my gered! My Here was die hele tyd daar. Toe Laban probeer het om my te vernietig, het God my geseën en verlos. En die Here het my vrou, Ragel, en my familie van die gevare van afgodery verlos.

“Ek het geseëvier oor al my vyande. Nie een van hulle het ooit opgestaan om my uit te daag nie. En ek het lank genoeg geleef om te sien hoe my nageslag vermenigvuldig en voorspoed beleef – die begin van ‘n groot nasie. Ek het geleef om te midde van my kleinkinders te woon – selfs agter-, agter-, agterkleinkinders. En nou sal my seuns die voorvaders van Israel wees, leiers oor hulle eie stamme.

“Nie een woord wat God vir my in die begin gesê het, het ooit nie waar geword nie. My Here het sy woord aan my gehou!”

En geliefde, so sal Hy met ons wees vandag!