Die Geopenbaarde Teenwoordigheid van Jesus

David Wilkerson

Vra enige Christen, “Het jy Jesus lief?” en hy sal antwoord, “Natuurlik ja!” Maar woorde alleen sal nie staande bly in die heilige lig van Sy Woord nie, want Jesus self sê twee kenmerkende dinge sal jou liefde vir Hom openbaar. As hierdie twee bewyse nie geopenbaar word in jou lewe nie, dan is jou liefde vir Jesus in woord alleen – nie in daad en in waarheid nie. Hierdie twee bewyse is: (1) jou gehoorsaamheid aan al Jesus se gebooie en (2) ‘n openbaring van Sy teenwoordigheid in jou lewe.

Hierdie vers sê dit alles: “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan Hom openbaar” (Johannes 14:21). “Openbaar” beteken “om te skyn of deur te breek” – met ander woorde, om ‘n instrument of kanaal te word wat Christus se teenwoordigheid uitstraal.

Die Kerk bid so dikwels, “O Here! Stuur ons U teenwoordigheid. Kom na ons – daal neer op ons – beweeg oor ons. Openbaar Uself aan ons!” Maar God se teenwoordigheid “daal” nie net “neer” nie. Dit daal nie skielik neer en verras of oorweldig die gemeente nie. Dit lyk of ons die idee het dat Christus se teenwoordigheid ‘n onsigbare rook is wat God in die atmosfeer inspuit, soos die Ou Testament wolkkolom wat die tempel so gevul het met heerlikheid dat die priesters nie kon staan om diens te doen nie.

Ons vergeet dat ons liggame vandag die tempel van God is, en as Sy heerlikheid kom, moet dit in ons harte verskyn en ons liggame vul. Christus woon nie in geboue of in ‘n sekere atmosfeer nie; trouens, die hemele kan Hom nie hou nie. Liewer, Hy word geopenbaar deur ons gehoorsame, geheiligde liggame – Sy tempels: “Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees” (2 Korinthiërs 6:16). “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is” (1 Korinthiërs 6:19).

Maar waarom is daar min of geen teenwoordigheid van Jesus onder ons kerke? Waarom is so baie gemeentes dood? Omdat of die herder of die mense – of beide – geestelik dood is!

Om die teenwoordigheid van Jesus in ‘n kerk te beleef, is nie soseer ‘n gesamentlike ding as wat dit ‘n indviduele ding is nie. Dit is waar dat ‘n geestelik lewelose, biddelose herder dood oor die mense kan spreek. Elke lid is egter steeds ‘n tempel en bly persoonlik verantwoordelik om God te gehoorsaam en om beskikbaar te wees as ‘n instrument van Sy teenwoordigheid. Jou kerk kan dood wees, terwyl jy steeds vol van Christus se teenwoordigheid is.

Onlangs het vier tienerseuns vir my vertel, “U het verlede jaar in ons kerk gepreek en dit was dood. Toe het ons vier ‘n gebedsbyeenkoms begin net vir ons. Ons wou regmaak met God, ons bekeer en aan die brand wees vir Jesus. Ons groepie het tot tien gegroei en ons het ander ouens gehelp om saligheid te ontvang. Nou nooi ons die diakens en herders uit om saam met ons te kom bid. Ons het regtig ‘n veranderde kerk. Die Here is nou daar!”

‘n Ware herlewing, soos ek dit sien, is ‘n herstel van hierdie soort intense liefde vir Jesus. Hierdie liefde word gekenmerk deur ‘n nuwe begeerte om al Sy woorde te gehoorsaam, ‘n hartsgesindheid wat sê, “Wat Hy ook al sê, sal ek doen.” Trouens, ‘n herlewing is ‘n terugkeer na gehoorsame liefde deur mense wat alle sonde individueel bely en laat staan het, met die begeerte om kanale van Christus se teenwoordigheid te word. Herlewing vind gestalte in hierdie mense. Hulle dra Christus se heerlikheid en teenwoordigheid saam met hulle, omdat Sy lewe deur hulle vloei te alle tye.

Herders van groot kerke het vir my gesê, “Jy moet kom kyk wat God doen. Duisende kom – ons is volgepak! Ons aanbidding is regtig iets om te sien!”

Ek het met groot verwagting na hierdie kerke gegaan, maar selde het ek die ware teenwoordigheid van Jesus in hierdie massabyeenkomste gesien of beleef. Die gemeentes toon geen ware bekering nie. Ek glo dat as ‘n profeet opgestaan het en die egskeiding, owerspel, hoerery en mengsel van bose musiek wat in daardie kerke plaasvind, sou openbaar, sou helfte van die skare uitgeloop het.

Hulle het pret gehad! In een kerk, het ‘n leier ongeveer 50 mense genooi om na ‘n gebedskamer te gaan waar hy vir hulle ‘n verkoopspraatjie gegee het. Hulle moes by daardie kerk aansluit, het hy gesê, “vir ‘n bedekking – om julle gebede verhoor te kry.” In daardie gemeente, was daar geen instrumente of kanale van Sy teenwoordigheid nie. Die sogenaamde lof en aanbidding was bloot ‘n geraas, en ek het geweet dit sou nie lank wees voor die skare sou uitroep vir vermaak nie. Waar daar geen ware teenwoordigheid van Christus is nie, soek die mense slegs opwinding.

Ek het hierdie byeenkomste verlaat met die wete in my hart dat Jesus nie tussen die mense was nie. Dit was duidelik hulle het nie in gehoorsaamheid aan Hom gelewe nie – so, in der waarheid kon hulle Hom nie liefhê nie. Jesus sal Homself nie openbaar aan diegene wat sê hulle het liefde, maar nie gehoorsaam is nie. Wanneer jy die teenwoordigheid van Jesus vind, sal jy altyd vind dat ten minste vier openbarings uitbars onder Sy mense.

1. ’n Diep, treffende oortuiging van sonde

Wanneer heilige werktuie die lewende Teenwoordigheid van Jesus beliggaam, waar Sy heilige teenwoordigheid uitbars deur gehoorsame harte, sal die persoon wat sonde in sy lewe herberg, een van twee dinge doen: of neerval en aanbid, of vlug en wegkruip!

‘n Dag kom wanneer Jesus Homself ten volle aan ‘n goddelose mensdom sal openbaar, en mense sal uitroep vir rotse en berge om op hulle te val en hulle weg te steek vir Sy ontsagwekkende teenwoordigheid. “[Hulle] het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit” (Openbaring 6:15-16).

Tydens een Dinsdag aanddiens van Time Square Kerk, was ek oorweldig toe die teenwoordigheid van Jesus geopenbaar was deur die goddelike aanbidders wat op Hom gewag het. Mense het na die altaar gekom, sommige het geween. Die vrees van die Here was ontsagwekkend. Ek het gevoel soos Jesaja wat gesê het, “Weë my...’n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is” (Jesaja 6:5).

By hierdie kerk preek ons dikwels teen sonde en talle kan sê, “Ek het alles neergelê wat die Gees in my geopenbaar het nie soos Jesus is nie.” Tog besef ek dat ons nog nie daar is nie; ons kom steeds van Sy heerlikheid kort. Maar om te preek alleen, sal nie die haat vir sonde bring wat so baie nodig het in hierdie laaste dae nie. Dit sal diep, deurdingende openbarings van God se heilige teenwoordigheid verg. Ons leer om sonde te haat en te wandel in Sy vrees slegs wanneer ons in Sy heilige teenwoordigheid is.

Ek hoor Christene roem, “Op daardie Oordeelsdag sal ek nie op my aangesig hoef te val nie. Ek sal dapper staan, vratte en al, omdat ek vertrou op Sy verlossing, nie op my werke nie!” Dit is waar dat ons nie gered word deur werke nie. Maar as ons nie Christus se gebooie gehoorsaam nie, dan het ons Hom nooit werklik liefgehad nie en was Hy nie in ons geopenbaar nie (Johannes 14:21).

Die Apostel Johannes, ons “broeder en deelgenoot in die verdrukking” (Openbaring 1:9), die een wat eens geleun het op Jesus se bors, het Christus in Sy verheerlikte heiligheid gesien het. Johannes het getuig, “Toe ek my omgedraai het, sien ek...een soos die Seun van die mens...en sy oë soos ‘n vuurvlam...en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag...en toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie” (Openbaring 1:12-17).

Jy mag dalk soos Johannes wees, ‘n regverdige broer of suster in die Here – ‘n dienaar wat baie verdrukking verduur het – maar kan enigeen van ons voor ‘n Teenwoordigheid staan wat skyn soos die son in al sy krag? Ons sal nie na daardie heiligheid kan kyk nie, net soos wat ons ook nie nou in die son kan kyk sonder ‘n getinte bril nie. Hy sal ons in staat moet stel in daardie dag – deur ons aan te raak en te verseker om nie bang te wees nie. “Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 24).

Die teenwoordigheid van Jesus het die mag om sonde uit te dryf en te vernietig!  “God staan op, sy vyande raak verstrooid, en sy haters vlug voor sy aangesig weg! Soos rook verdryf word, verdryf U hulle; soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God” (Psalm 68:1-2).

Dit is ‘n toonbeeld van wat behoort te gebeur wanneer jy alleen met God in jou binnekamer is. Sy ontsagwekkende, geopenbaarde teenwoordigheid is soos ‘n orkaan wat al die vullis en rook van wellus wegblaas; soos ‘n vlammende vuur, smelt dit alle hardheid weg. Goddeloosheid vergaan in Sy teenwoordigheid.

“Berge smelt weg soos was voor die aangesig van die HERE” (Psalm 97:5). Die berge in hierdie psalm verteenwoordig sataniese vestings en berge van hardkoppigheid, wat alles wegsmelt van diegene wat met God toegesluit is. Ons kan bid totdat ons uitgeput is, “O God, stuur U sonde-openbaarmakende, sonde-vernietigende krag na al ons kerke!” Maar dit sal geensins iets goeds uitrig nie, totdat die Gees in daardie kerke ‘n biddende, heilige oorblyfsel oprig wie se rein harte Sy teenwoordigheid nooi na die heiligdom.

Jy sal nie die ware teenwoordigheid van Jesus beleef nie, totdat jy binne-in jou ‘n groeiende haat vir sonde het – ‘n deurdringende oortuiging van jou mislukkings en ‘n verdiepende gewaarwording van die verskriklike sondigheid van sonde. Diegene sonder Christus se teenwoordigheid, word minder en minder oortuig van sonde. Hoe verder hulle van Sy teenwoordigheid af onttrek, hoe dapperder, meer arrogant en meer gemaklik word hulle met kompromie.

Tog is dit nie vir ons genoeg om in Sy teenwoordigheid te eet en te drink nie; ons moet ook verander en gereinig word deur by Hom te wees. “Dan sal julle begin sê: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer. En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van my af, al julle werkers van die ongeregtigheid!” (Lukas 13:26-27).

Diegene wat bely dat hulle in Sy teenwoordigheid geëet en gedrink het, sal in werklikheid sê, “Ons was in U teenwoordigheid. Ons het onder U lering gesit!” Daarom sal julle uit hulle eie monde geoordeel word. Hulle sal erken dat hulle in Sy teenwoordigheid gesit het – maar nie verander was nie. Hulle het blind geword vir hulle eie sondigheid, verhard en ongeaffekteer deur die teenwoordigheid van Christus. Jesus sal hulle antwoord, “Ek ken julle nie. Gaan weg van My af!”

Hoe gevaarlik is dit om tussen heiliges van God te sit wat Sy heerlikheid en teenwoordigheid uitstraal, waar Jesus Homself so kragtig openbaar, maar nie verander word nie. Hoe dodelik om nie die laakbaarheid van sonde, die plaag van die hart, te sien nie! Waag jy dit om vir die Here te sê, “Ek het ‘n kerk bygewoon waar U teenwoordigheid ‘n werklikheid was – ek het in U heilige teenwoordigheid gesit”? Dit sal jou eie verdoemenis verseël. Dit sou vir jou beter gewees het om nooit Sy teenwoordigheid te geken het nie.

2. ’n Gees van heiligheid

“Aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God” (Romeine 1:3-4). Ware heiligheid het ‘n gees wat daaragter werk. Waar jy ook al die teenwoordigheid van Jesus in of onder Sy kinders sien werk, sal jy baie meer in hulle ontdek as gehoorsaamheid, meer as afsondering van die wêreld, meer as wegbly van goddelose dinge. Jy sal ‘n gees van gehoorsaamheid vind.

Vir al hierdie mense, is gehoorsaamheid nie meer net ‘n saak van doen wat reg is en vermy wat verkeerd is nie. Die gelowige wie hom so verheug om die Here te behaag, het ‘n gees wat op hom rus en hom outomaties na die lig trek. “Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is” (Johannes 3:20-21).

‘n Heilige mens is nie bang vir die lig van God se teenwoordigheid nie. Liewer, hy nooi daardie stralende lig uit, omdat ‘n gees van heiligheid binne-in hom uitroep, “Ek wil hê alle verborge dinge moet na vore gebring word! Ek wil net soveel soos Jesus wees as wat dit moontlik is vir ‘n mens op hierdie aarde.” Hierdie dienaar hardloop na die lig, en wanneer hy oorgee, word die lig van Christus se teenwoordigheid suiwer heerlikheid vir hom.

Diegene wat egter boesemsondes wegsteek, besit ‘n gees van slinksheid. Dit is ‘n geheime gees wat ‘n boodskap van bestraffing haat en “Genade!” roep om verborge verdorwenheid te bedek. Maar wanneer die teenwoordigheid van Jesus geopenbaar word, ontbloot dit alle geheime en bring dit alle verborge dinge in die openbaar. God se kinders laat staan alle duisternis en word oop boeke, “gelees deur alle mense” (2 Korinthiërs 3:2).

Letterlik honderde het al na Times Square Kerk gekom, in die Here se teenwoordigheid gesit en weggegaan weg om nooit weer terug te keer nie. Hulle het weggeloop en gesê, “Hierdie predikers is te hard, te rigied, te wetties. Hulle laat my voel asof ek dit nooit sal maak nie.” Hierdie hoorders koester in werklikheid ‘n troetelsonde wat hulle weet geopenbaar sal word as hulle aanhou kom na die lig. Hulle moeilikheid lê nie in hierdie kerk of in ons boodskap nie. Dit lê in hulle begeerte om in duisternis te bly waar goddelose dade verborge kan bly.

Luister na die taal van die gees van heiligheid, na die motivering van daardie gees: “Omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Johannes 3:22). In die Griekse vertaling, is hierdie woorde baie sterk: “Ons onderhou Sy gebooie, doen dit met groot opgewondenheid omdat ons weet dit behaag Hom!”

Hier is hoe ek glo hierdie gees van heiligheid werk in die kerk waar die teenwoordigheid van Jesus geopenbaar word. Eerstens, broers en susters kom na jou kerk in oorwinning met die glimlag van ‘n oorwinnaar. Hulle getuig, “Ek word verander! Die Here plaas ‘n begeerte in my hart om te gehoorsaam en vlekkeloos in Sy teenwoordigheid te lewe.” Terwyl jy dit sien, juig jou gees en sê innerlik, “Dank God, nog ‘n dienaar verheug Hom! My broer en my suster maak dat die hemel juig!”

Jou opwinding strek verder as die vryheid wat ons huidiglik geniet, verder as ons redding uit die mag van die duiwel. Dit is omdat ons bo alles, ‘n liggaam word wat leer om Hom te behaag. Ons gehoorsaam nie uit plig of uit slaafse vrees nie, maar omdat ‘n gees van gehoorsaamheid binne-in ons leef. Ons verheug ons in Christus se blydskap, verbly ons dat Sy hart jubel! Dit is heiligheid.

3. ’n Deel aan die Here se las

Elke ware las wat die Here vir my gegee het om te dra, was gebore uit ‘n diep, lewensveranderende ontmoeting in die teenwoordigheid van Jesus. Een-en-dertig jaar gelede, het die Gees van God oor my gekom deur ‘n gees van geween. Ek het my televisie wat my vrye tyd oorheers het, verkoop, en vir ‘n jaar het ek myself toegesluit saam met my Here in gebed. Ek het maande in my studeerkamer en in die woud gebid. En terwyl ek in Sy teenwoordigheid was, het Hy Sy hart vir my oopgemaak en vir my ‘n hele lydende wêreld gewys. Hieruit het die opdrag gekom, “Gaan na New York.” Ek het gehoorsaam, en terwyl ek op hierdie strate geloop het, het Hy met my Sy las vir bendes, verslaafdes en alkoholiste getoon.

Ongeveer vyf jaar gelede, het God my geroep tot ‘n lewe van baie dieper gemeenskap. Ek het maande alleen saam met Jesus deurgebring, terwyl ek gereining is, alle ambisie neergelê het en net Hom wou behaag. Weereens het die opdrag gekom: “Gaan terug na New York.” Nou beweeg ons bediening slegs deur gebed en deur in Sy teenwoordigheid te wees. Die las wat ons het, moet Sy las wees, anders is dit nutteloos.

Toe ek agt jaar oud was, was kampbyeenkomste gewild. Op daardie stadium, was daar geen PTL kampgronde of Christelike oorde nie; tente en klein hutjies was al wat die kerk kon bekostig. Gwen en ek het gewoonlik gegaan na ‘n plek wat genoem was, “Living Waters Camp” in Cherry Tree, Pennsylvania. Mense sou na daardie kamp kom, vol van die teenwoordigheid van die Here. Ons het geen TV’s gehad nie, en niemand het ooit gewaag om te dink om na die teater te gaan nie; Jesus was ons alles!

Die byeenkomste sou die grootste deel van die nag duur. En tydens so ‘n byeenkoms waar Jesus  so magtig geskyn het, het ons almal na die altaar gehardloop het. Ek onthou ek het in die strooi gekniel, en terwyl ek in God se teenwoordigheid was, het Hy my lewe geword. Hy het daar met my gepraat en gesê, “Gee my jou lewe!”

Ek twyfel of ek vandag sou bedien het as dit nie was vir die dierbare heiliges wat so vol van die Here na daardie kampbyeenkomste gekom het nie. Hulle het Sy heerlikheid geopenbaar. Ek het vir ure gelê, terwyl ek geween en gebewe het by daardie kampbyeenkoms se altaar. En toe ek opstaan – net ‘n seun van agt – was God se hand op my lewe en Sy las was op my siel.

Niemand het die las van die Here meer gedeel as die Apostel Paulus nie. Jesus het op sy skouers die las van Sy eie hart gelê. Maar hoe het Paulus daardie las ontvang? Vanuit ‘n ontmoeting met die helder son van Christus se teenwoordigheid! “En toe...omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af; en hy val op die grond” (Handelinge 9:3-4). Dit was die ware teenwoordigheid van Jesus.

Paulus se bediening het uit daardie ontmoeting voortgespruit. Let op “Staan op en gaan” (Handelinge 9:6) kom volgende. Wanneer jy die ware, lewende teenwoordigheid van Jesus het, het jy nie komitee’s, strategieë of “hoe om” seminare nodig vir leiding nie. Die Heilige Gees kom en sê, “Gaan hierheen...gaan daarheen...doen dit so...” Hy sê vir jou wanneer, waar en hoe!

Jy mag twee bedienaars hoor, elkeen opreg, elkeen verkondig dieselfde boodskap. Die leerstellinge van beide mag reg wees, en altwee mag met vuur preek. Tog, die woorde van een is leweloos en val op dowe ore; geen resultate nie. Maar die woorde van die ander tref die hart soos ‘n swaard. Hierdie prediker deel en openbaar die ware las van die Here, omdat hy in sy binnekamer was saam met Jesus en kan spreek oor wat in Sy hart is. Die Here te teenwoordigheid deur hom, bring beide oortuiging van sonde en lewe.

Wys vir my ‘n bedienaar wat saam met Christus toegesluit is, in Sy teenwoordigheid wag, en ek sal vir jou een wys wat nooit die gedagte van Christus mis nie. As hy een stap uit lyn uit neem, bring die Here hom terug. Net so, wys vir my ‘n kerk wat God se Woord gehoorsaam en Sy teenwoordigheid openbaar, en ek sal vir jou ‘n kerkliggaam wys wat van God hoor, Sy las ken en slegs doen wat Hom behaag. So ‘n liggaam laat die strewende skare verbygaan. Hulle sal ‘n duisend stemme van goeie sake en promosies hoor sê, “Kom help ons!” Tog sal hulle nie optree nie, totdat Hy sê, tree op. Hierdie kerk sal geen saak nastrewe as Sy teenwoordigheid nie daarin is nie.

4. ’n Uitgelate en uitermate groot blydskap!

“U het my die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by u aangesig” (Handelinge 2:28).

Het jy al ooit gewonder hoe Jesus was dag vir dag, Sy hart, Sy gesindheid? Het Hy verpletter gelyk deur al die laste wat Hy gedra het? Het Hy meestal geween? Was daar ‘n plegtige swaarmoedigheid in Sy teenwoordigheid?

Hy het geween, en Hy het swaar laste gedra. In Getsémané, het Hy groot druppels bloed gesweet, en ander tye het Hy gekreun en gesug oor ongeloof. Maar die Woord van God het dit duidelik gemaak dat Christus vol vreugde en blydskap was.

“Want Dawid spreek van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. Daarom is my hart bly en my tong juig...U het my die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by u aangesig” (Handelinge 2:25-28). In sy toespraak voor die Joodse Raad, het Petrus ‘n profesie van Psalm 16 aangehaal. Dit was ‘n visioen van Christus, wat ‘n juigende hart, ‘n tong wat van blydskap spreek en ‘n aangesig vol vreugde sou hê weens die teenwoordigheid van Sy Vader.

Ons moet juig, bly en vol vreugde wees oor dieselfde redes as waaroor Jesus bly was. Die eerste rede vir Sy blydskap was, omdat Hy geweet het dit was onmoontlik vir die dood om Hom vas te hou. En so is dit vir ons!  Hierdie kennis vernietig die goddelose leerstellling wat sê dat Jesus in die duiwel se hande geplaas was en Sy pad uit die hel moes baklei. Maar Jesus het geweet op aarde dat die dood Hom nie kon hou nie – en ons weet dit ook.

Tweendens, die Here is aan ons regterhand in al ons moeilikheid. Ons kan hoopvol en met verwagting rus in die wete Hy is met ons te alle tye.

Derdens, “U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat...nie!” Ons sal opstaan in ‘n nuwe lewe in ‘n nuwe liggaam, in ‘n nuwe wêreld.

En laastens, Sy ware teenwoordigheid oorstoom ons met blydskap! Hoe kan ons enigiets anders doen as uitroep en bly wees wanneer ons uit die hel verlos is, ‘n ewige lewe belowe is, Sy vertroosting gegee word in al ons moeilikhede hier op aarde en Sy teenwoordigheid geopenbaar word voor ons?

Met tye moet ons stil wees en weet dat Hy God is. Soms bring die Gees soete, melodieuse liefdesliedere tot Jesus. Maar dwarsdeur God se Woord, waar Hy ook al oorwinning gebring het oor die vyande, het die volk altyd ‘n groot uitroep, ‘n harde geklank van lof gebring aan die Here. Op die sewende dag waarop Israel rondom Jerigo gemarsjeer het, het hierdie opdrag rondgegaan: “Die hele volk [moet] ‘n groot krygsgeskreeu aanhef: dan sal die stadsmuur op sy plek inval” (Josua 6:5). “Toe...die volk ‘n groot krygsgeskreeu aangehef; en die muur het op sy plek ingeval” (Josua 6:20).

In Esra ontdek ons dat ‘n ander groot geskreeu plaasgevind het toe die tempelfondament gelê is. “Toe die bouers dan die fondament van die tempel van die HERE lê, het hulle...om die HERE te loof...aangehef met lof en dank aan die HERE...En die hele volk het gejuig met groot gejuig toe hulle die HERE loof...En die volk kon die geluid van blye gejuig nie onderskei van die geluid van die gehuil van die volk nie, want die volk het gejuig met groot gejuig, sodat die geluid tot ver weg gehoor is” (Esra 3:10-11,13). Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word vir “gejuig,” beteken “die ore laat tuit.” Die gehuil van die Israeliete was so vreugdevol en die lofgesange so luid dat hulle die ore laat tuit het! Sommige mense sê hulle kan nie geraas en geskree in die kerk verdra nie. Maar hoor hier: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep” (1 Thessalonicense 4:16).

God wil hê ons moet Sy Woord ken oor hierdie saak. Die Psalms beveel ons om te juig tot eer van God. “Juig,” in Hebreeus stel donder, vonke en vuur voor. “Juig tot eer van God, o ganse aarde” (Psalm 66:1). “Jubel tot eer van God, ons sterkte! Juig tot eer van die God van Jakob” (Psalm 1:2). “Juig voor die HERE, o ganse aarde, breek uit en psalmsing...met trompette en basuingeklank; juig voor die aangesig van die Koning, die HERE...Laat die riviere in die hande klap, die berge tesame jubel” (Psalm 98:4,6,8).

God se kinders ken oorvloedige groot blydskap wanneer die teenwoordigheid van Jesus geopenbaar word. As ons nie oor Sy lof sal juig nie, sal die bome dit vir ons doen. By Times Square Kerk sing ons hierdie lied: “Lig op julle hoofde, moenie vrees nie, sing tot die krag van die Here afkom! Daardie krag is Sy teenwoordigheid!”