Die Genesing Van Bekommerde Gemoedere

`n Bekommerde gemoed is `n gemoed wat aan aanhoudende ongelukkigheid lei. Dit is depressief, ongelukkig, rusteloos met geen kalmte of rus nie. Dit tob oor die toekoms, die verlede en oor huidige omstandighede. En, ek is seker dat daar vandag meer bekommerde gemoedere is, as wat daar in enige voorgaande generasies was!

Ons wat in New York Stad woonagtig is sien die bewyse hiervan daagliks. Staan net buite die teaters op Broadway en kyk na die teatergangers wat die vertonings verlaat, en jy sal beswaarlik `n glimlag op enige een se gesig sien. Hierdie mense het tagtig dollars betaal om tydelike ontvlugting van hulle laste te verkry - maar hulle vertrek met `n swaarder las as waarmee hulle gearriveer het.

Blykbaar is menigte van die mense wat Jesus lief het net so bekommerd in hulle gemoedere soos die massas ongelowiges. Ek sien bewyse hiervan in sommige van die briewe wat ons by ons bediening ontvang. Menigte gelowiges lê wakker in die nag, bekommerd en bedruk. Hulle gaan kerk toe met die hoop dat hulle `n soort van verlossing sal ondervind van hulle bekommernisse. Maar die oomblik wanneer hulle die diens verlaat kom hulle probleme terug.

Hoekom is sovele mense geestelik bekommerd? Laat my toe om sommige van die redes met julle te deel wat die Heilige Gees aan my gewys het:

Vir dekades lank al word ons deur sekulêre wysgere vertel dat voorspoed die antwoord is op die mens se probleme. `n Goeie geleerdheid, `n goeie werk, `n mooi huis, geld in die bank - al hierdie dinge is veronderstel om mense met eie waardigheid en vrede te voorsien. Volgens hierdie persone sal ons probleme opgelos wees as elkeen net `n stukkie van die Amerikaanse droom kan verkry.

Hierdie teorie stel dit, dat mense alkoholiste en dwelm verslaafdes word omdat hulle nooit eie waardes gehad het nie. Hulle armoede het hulle van geleenthede ontneem wat hulle met `n sin van waardigheid sou beklee het. So, as ons hulle net met `n goed betaalde werk, `n goeie plek om te bly en `n gereelde inkomste voorsien, sal hulle lewens goed wees.

Laat my toe om hierdie teorie met `n persoonlike voorbeeld te antwoord. Jare gelede is Nicky Cruz, `n wrede Mau Mau bendeleier, platteland toe geneem vir `n dag om deur `n psigiater ondersoek te word. Nicky was `n vegter wat soos die duiwel geleef het. Almal wat hom geken het, het gedink hy is totaal onrehabiliteerbaar, met geen hoop om ooit te verander nie.

Nadat ure met Nicky gespandeer is het die psigiater almal se waarneming bevestig. Hy het Nicky vertel dat hy totaal mal is, met geen hoop op rehabilitasie nie. Die rede? Nicky se armoedige opvoeding in Puerto Rico het hom van voorregte, wat ander gehad het, beroof. Dit was die gemeenskap se skuld dat hy `n monster was.

Nicky het na die psigiater gekyk en gesê "Man, jy is die mal een. Ek is lief om te baklei. Sê vir my - hoe het jou moeder jou behandel? Op die ou en het hy die psigiater gepsigoanaliseer!

Nicky was reg, armoede is nie die hoof oorsaak van sonde nie. Hoekom anders word meer en meer goed opgevoede tieners verslaaf aan gewoonte vormende dwelmmiddels? Hierdie problematiese tieners het alles wat hulle ooit sou wou hê binne hulle bereik. Hoekom sou hulle, hulle na dwelms keer as hulle alreeds die innerlike kalmte en vrede het wat materiële dinge hulle sogenaamd bied?

Hoekom is daar groeiende aantalle dokters, prokureurs en besigheidsleiers wat alkoholiste word? Hulle het bevredigende beroepe, ses syfer inkomstes, verskeie voertuie en gereelde vakansies. Steeds keer hulle meer en meer na alkohol om hulle gewetes te verdof.

Ek was in Wall Straat aan die einde van `n werksdag met sluiting van die Beurs. As die deure van die Beurs oopswaai dan spaander die makelaars daar deur soos stormende bulle na die naaste kroeg. Hulle pak hulle self in dosyne in die Wall Straat water gate en verdrink al hulle emosies met alkohol.

Hoekom is hulle nie gelukkig nie? Hoekom is hulle so bekommerd in hulle gemoedere? Hulle het alles wat hulle gesê is hulle sal benodig om gelukkig te wees. Hulle het gemaklike inkomstes, eie vakansiehuise, rook $50 sigare, drink $300 bottels wyn en bestuur duur luukse motors. Nogtans word hulle bedwelm net om dit deur die dag te kan maak. Hoekom geniet hierdie mense nie `n kalm en tevrede stand van die gemoed nie?

Dit is omdat hulle bang is hulle kan alles verloor Hulle is bang dat die ekonomie ineen gaan stort en skielik alles waarvoor hulle gewerk het in die niet gaan verdwyn.

" Daar sal radeloosheid onder die volke wees uit die angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. Die mens sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word." (Lukas 21: 25-26).

Jesus het gesê dat die insidente wat oor hierdie wêreld sal kom so vreesaanjaend sal wees, dat mense letterlik dood sal neerval aan hartaanvalle. Deesdae ervaar ons die presiese dinge wat Hy voorspel het: wêreld gaos, verwilderheid en onsekerheid. Die nuus oor die afgelope maand Desember 1998 - is genoeg om die sterkste gemoed te vermoei en te verwar.

Japan, die wêreld se tweede grootste ekonomie het selfs verder in depressie verval. Sy tweede grootste bank is bankrot, met $20 biljoen slegte skuld. Nou het die Federale Regering ingetree om die bank oor te neem- maar ander Japanese banke staan op die vooraand van ondergang.

Allen Greenspan, voorsitter van die VSA Federale Bank sê die Amerikaanse Beurs tree op net soos dit opgetree het voor die 1929 Beurs se ineenstorting. Volgens Greenspan is al die wilde spekulasie wat ons nou sien presies dit wat die Groot Depressie veroorsaak het.

Vyf groot VSA industrieë het 50 000 pos verminderings aangekondig wat oor twee weke plaasvind.

Die President van die VSA is deur die Kongres beskuldig. Maar die meeste Amerikaners het `n houding aangeneem van "Wie gee om?"

`n Republikeinse Kongres Lid het in soveel woorde gesê "Vergeet van vervolging, vergeet die morele saak. As ons die President uitgooi sal ons, ons vooruitgang verloor en in `n depressie; eindig" Sy woorde het die sienswyse van meeste Amerikaners gereflekteer. Morele waardes geld glad nie meer nie omdat die enigste ding wat saak maak, geld is. Die slagspreuk wat ons huidige President (Bill Clinton) in die stoel geplaas het is "Dit is die ekonomie domkop!"

`n Gerespekteerde New Yorkse onderwyser was ontslaan omrede hy `n Bybel op sy lessenaar gehad het en dit beskikbaar gestel het aan sy leerlinge. Hierdie man was een van die mees gerespekteerde onderwysers van die stad en sy klasse het bo die ander presteer. As hy `n doos kondome op sy lessenaar gehad het sou niks met hom gebeur het nie, maar hy is ontslaan omdat hy `n Bybel skool toe gebring het!

Al hierdie dinge is onrusbarend en gekompliseerd en verwarrend vir enige persoon wat Jesus lief het. Ons bediening ontvang inderdaad groot hoeveelhede briewe van gelowiges regoor die land wat bekommerd is oor die morele verval van ons nasie.

Een so `n brief is ontvang van `n prediker wat in sy negentigs is. Hy onthou immoraliteit gedurende die negentien twintigs wat oordeel oor Amerika gebring het deur die Groot Depressie. Hy was `n getuie van die twee wêreld oorloë. Hy het die verandering gesien van vervoermiddele, vanaf perdekarre tot ruimteskepe. Hy het kommunikasie sien verander vanaf krakende radio's tot die internet. In kort, hy het dit alles gesien.

Nou skryf hy, dat die boosheid wat vandag in ons nasie plaasvind, hom meer grief as enige ander geleentheid waarvan hy `n getuie was. Hy kan skaars alles inneem, sê hy, omdat dit so vinnig gebeur en die omvang van die verdorwenheid sy verstand te bowe gaan.

Steeds gee Jesus ons Sy Woord van versekering ten spyte van alles wat ons sien gebeur. Hy beveel, ".Pas op dat niemand julle mislei nie...Dit moet kom, maar dit is nie die einde nie." (Matteus 24:6) Hy vertel ons, "Laat geen van hierdie slegte dinge waarteen Ek julle waarsku julle gemoed bekommer nie!"

Daar is menigte stemme in die wêreld vandag wat mense analiseer om uit te vind hoekom mense so verward en bekommerd is. Maar dit alles kom tot niks meer as babelse verwarring van redes nie. Die feit is, dat geen werklike liefhebber van Jesus Christus bekommerd gaan wees oor die potensiële verlies van materiële dinge nie. Hy gaan eerder bekommerd wees oor probleme rakende die geestelike gebied.

Paulus het die werklike redes van ons verwardheid en bekommernisse geken. Hy spreek die aangeleentheid aan in Romeine 7: "Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek." (Romeine 7: 15, 19).

Die Apostel sê "Dit wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. Maar die een ding wat ek smag om te doen, is gehoorsaamheid aan God en dit vind ek, ek kan nie in myself bereik nie.

Paulus praat hier namens duisende ernstige gelowiges. Hulle is bekommerd want hulle vind nie oorwinning oor sonde nie. Hulle wil doen wat reg is, om heilig en rein voor God te lewe. En hulle haat die sonde wat so maklik tempteer en hulle samesyn met Jesus omverwerp. Tog keer hulle terug daarna!

Hulle eindig, ontsteld, afgemat en huilend, "O ellendige mens wat ek is! Ek wil dit nie meer doen nie. Maar ek is hulpeloos om dit teen te staan! Hoekom is ek so swak? En hoe lank nog moet ek hierdie stryd voortsit? Sal ek my lewe lank deur, riviere van trane stort en erken en bely en dan weer terug keer na die sonde toe?"

Sulke aanhangers van Jesus is nie bekommerd oor `n ekonomiese ineenstorting of `n wêreld krisis nie, soos wat hulle oor hulle tekortkominge van die afgelope week is nie. Hulle het gedink dat hulle, hulle boesemsonde oorwin het, maar skielik het dit terug gekom met hernude krag. Nou is hulle hartseer omdat hulle, hulle God weer gewond het. En hulle is bekommerd, "Hoekom vaal ek so aanhoudend, wanneer al wat ek wil doen is om Jesus te behaag?"

Ek glo ons kan ons werklike geestelikheid ken deur die mate van bekommernis in ons oor ons kleinste sonde teenoor die Here.

Sommige Christene treur slegs oor dit wat hulle as "Groot Sondes" sien soos, ontug, dwelm misbruik, drink en vloek. Die werklik geestelike persoon weet egter dat geen sonde klein is in God se oë nie. Daarom word hy treurig elke keer as hy skinder, `n vuil grap vertel of bose gedagtes het. Hy weet hierdie dinge ontstaan in sy hart, die middelpunt van sy wese!

Jy kan aan God ongehoorsaam wees in baie "klein dingetjies," en jouself verskoon en daarvan vergeet. Maar as jy dit doen sal jy nooit volwasse in Christus wees nie. Jou regverdigheid word gemeet aan jou onwilligheid om enige iets te aanvaar wat jou Heilige Redder grief!

Nie so lank terug nie, het ek iets baie onchristelik aan my vrou gesê. My woorde aan haar was heeltemal ongevraagd en ek het dadelik skuldig gevoel. Ek het geweet ek het haar te na gekom, en het haar dadelik om vergifnis gevra. Toe het ek haar teen my vasgedruk en vir haar gesê, dat ek het haar liefhet.

Maar in my gemoed was ek nog steeds bekommerd. Ek het gedink, "Hoe was ek in staat tot iets so anders as Jesus? Na alles was ek nog nooit so na aan Jesus nie. Ek het nog nooit so baie gebid soos wat ek die afgelope jaar gebid het nie. Ek moet uiters boos wees dat so `n kras uitlating uit my hart kon voorkom."

Die einste ding wat ek gehaat het, het ek gedoen. En ek was nie net in myself teleurgesteld nie - ek was teleurgesteld, verward en verontrus in my gemoed. Ek is na my studeerkamer toe en het neergeval voor die Here, roepende na die Bloed van Christus om my skoon te was.

In daardie oomblik het die vyand aan my gefluister, "Daardie klein glipsie was nie ernstig nie. Dit was so `n ou klein dingetjie." Maar die Heilige Gees het onmiddellik tot my hart gespreek en het die duiwel se stem stil gemaak. Hy het my weer verseker, "David, die feit dat jy oor hierdie sonde treur is bewys dat Ek aan die werk is binne in jou. Hoe meer jy selfs oor die kleinste oortreding teenoor my in liefde treur, hoe meer kom jy nader aan oorwinning!"

Omdat ons aanhou om te stry teen sonde, hoewel dit wil voorkom of Paulus se woorde in Romeine geen sin maak nie, skryf Hy: "..dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. Maar nou - julle is vrygemaak van die sonde en in diens van die God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig
word, en die uiteinde is die ewige lewe. Die loon wat die sonde gee is die dood..." (Romeine 6: 17-18, 22-23)

Vry van sonde? `n Dienskneg van geregtigheid wat Heilige vrugte voortbring? Jy maak seker `n grap! Wanneer ons dit lees dan moet ons eerlik erken, "Ek is nie dood vir die sonde nie. Ek is nog nie waarlik vry nie. Ek is nog steeds onder die bedrieglike mag van `n geheime sonde- en dit bekommer my. As die beloning van die sonde die dood is, wat se hoop is daar dan vir my?

Hier is twee verkorte briewe van ernstige Christene wat erg gestry het teen die bande van die sonde. Die eerste kom van `n jong man:

"Ek word gereeld getempteer deur seksuele sonde en ek gee altyd in. Ek is lief vir Jesus met my hele hart, maar ek voel God se nabyheid is besig om uit my lewe uit te glip. Al het ek Hom lief, gaan ek nog steeds terug na my begeertes. En tog haat ek dit. Ek huil soos `n baba terwyl ek daaraan deelneem en vra God om my te help dat ek dit nie sal doen nie. Maar ek hou aan om dit te doen.

"Ek vertrou op God om my van die sonde te red, soos wat Paulus in Romeine 7 sê. En ek is lief vir God met my hele hart. Tog weet ek, ek is verkeerd, maar ek voel hulpeloos om iets daaraan te doen. Ek voel soos `n Judas wat God verloën het. Somtyds dink ek selfmoord is die enigste uitweg."

Die tweede brief kom van `n getroude vrou wat deur owerspel betrokke is met `n getroude man:

"Ek bid vir verlossing, vir vergifnis en vir krag. Ek maak `n belofte om sterk te wees teen die versoeking wanneer dit weer kom, maar wanneer ek hom weer sien [my minnaar], dan verval ek terug in die selfde ou groef. Ek het `n skoon morele lewe gelei vir jare; Ek het nooit gedink ek sal by magte wees om so iets doen nie. Maar nou het ek in die hel verval en ek weet nie hoe om dit te stop nie.

Wanneer ek julle nuusbriewe lees, dan word ek veroordeel. Ek het gebid en het probeer om enige demone uit te werp wat ingekom het as gevolg van my sonde. Maar ek voel so verdoem. My verstand snel om al die geskrifte wat teen dit wat ek doen praat, dat ek soos `n verdoemde voel. Ek is vol skuldgevoel, vrees, paniek en teleurgesteld. Ek voel so alleen, afgesonderd en afgesny van God"

Ons ontvang talle briewe soos hierdie - krete om hulp van gemoedere vol wroeging van `n boesemsonde. Maar ek moet aan al die geliefdes van Jesus sê wat hierdie wroeging ondervind: Daardie bekommerde innerlike kreet - daardie oorlog in jou gemoed - is die werk van die Heilige Gees!

God het sy Gees na ons toe gestuur om oorlog te maak teen ons begeertes en ons wellus. So, as jy nie bekommerd is wanneer jy faal nie - as jy bevoeg is om jou sondes af te skud sonder om skuldig te voel, hartseer of jammerte - dan is die Heilige Gees nie besig in jou met oorlogvoering nie.

Maar as jy selfs deur die kleinste oortreding skuldig voel, dan is jy naby aan ware oorwinning. Hy is besig om die stryd in jou hart te wen deur goddelike hartseer te produseer wat na ware berou lei.

Daar is oorwinning vir ons oor al hierdie dinge wat ons gemoed so bekommer. Dit is opgesluit in die Gelofte wat God jare terug aan Abraham en sy afstammelinge gemaak het:

"Om ons te verlos van ons vyande en uit die hand van ons haters; om Hom te ontferm oor ons voorvaders en sy heilige verbond te onthou. Met `n eed het Hy dit bevestig aan ons voorvader Abraham dat Hy sou gee dat ons, gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe." (Lukas 1: 71-75).

God se gelofte aan Abraham en sy kinders is kristal helder: Hy sal ons red van al ons vyande, sodat ons sonder vrees kan lewe - nie bekommerd nie en rustig - elke dag van ons lewens!

Geliefde hierdie Gelofte is van toepassing op almal van ons wat vandag leef. Volgens Paulus is almal wat Jesus as Here ontvang het in geloof "Abraham se nageslag" (Romeine 9:8). "Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is." (Galasiërs 3:7).

So, hoe kan ons hierdie gelofte wat aan ons belowe is ons eie maak? Abraham het `n soortgelyke vraag aan die Here gestel toe hy geen vrystelling van sy dilemma gesien het nie. Hy het gevra, " Wat sal U my gee aangesien ek geen kind het nie Here?" Hier was God se antwoord: "..Moenie bang wees nie , Abraham, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees."(Genesis 15:1)

God het aan Abraham gesê "Abraham ek gaan jou myself gee - en dit is al. Ek sal jou beskermer wees en jou groot beloon - omdat Ek is wie Ek is. Jy hoef nooit weer `n vyand te vrees vir so lank as wat jy leef nie, omdat ek God vir jou sal wees.

God gee ons `n glorieryke belofte net soos hierdie een. In sy nuwe gelofte sê Hy, "..Ek sal vir hulle God wees, en hulle sal my volk wees" (Hebreërs 8:10). Inderdaad, vanaf die begin van die skepping en dwarsdeur die Skrif hoor ons God hierdie versoek maak aan die mensdom: Ek wil God vir julle wees!"

God se plan vir ons was nog altyd baie eenvoudig. Hy het gesê, "Julle hoef geen mag te vrees wat teen julle kom nie. Ek sal as jou beskermer optree ten alle tye. As jy slegs op my geswore beloftes vertrou, jou self in my toesig, deur geloof gee, sal ek Almagtige God vir jou wees. Ek sal al jou vyande verslaan en hulle voor jou oë verneder. Jy sal oorwinnend wees, meer as `n oorwinnaar - en jou dae in vrede uitleef, sonder vrees!"

Ek vra jou: Leef jy al jou dae uit sonder vrees -met `n kalm gees en met vrede van verstand? Meeste van ons lewe nie eers vir `n fraksie van die tyd so nie. Ons beweeg in en uit hierdie oomblikke van vrede, maar ons gaan nooit ten volle in God se rus in nie.

As jy bekommerd, verward, en benoud oor `n boesemsonde is, dan moet jy verstaan : God is nie kwaad vir jou nie! Hy wil jou nie tugtig of oordeel nie. Die teenoorgestelde is waar - Hy verlang daarna om jou te vul met sy almagtige krag!

God sê essensieel dieselfde in al sy geloftes: "Ek soek na mense wat sal glo dat Ek hulle sal red van hulle vyande" "Die verbond wat Hy met hulle gesluit het , moet julle nie verontagsaam nie. Moenie ander gode dien nie. Julle moet net die Here julle God dien. Hy sal julle red uit die mag van al julle vyande."(2 Konings 17: 38-39).

In die Ou Testament, was die vyande ongelowige nasies - Filistyne, Moabiete, Hetiete, Jesuïete, Kanaäniete. Al hierdie onheilige magte het beoog om God se mense te vernietig en om hulle terug in gevangenisskap te plaas.

Vandag bestaan ons vyande in die geestelike gebied - demoniese magte, vleeslike wellus en bose begeertes. In die Nuwe Testament herhaal God sy belofte aan sy mense:

" Ek gaan God vir julle wees - en julle sal my seuns en dogters wees. Julle sal my kinders wees van nou af tot in alle ewigheid. Onthou daarom die Gelofte wat Ek aan julle gemaak het. Jy sal geen mens of mag vrees nie, maar net vir My. Ek sal jou red uit die hand van al jou vyande - insluitende demoniese teistering, klewende begeertes, dominerende gewoontes en alle boesemsondes!"

As jy wonder hoekom jy bly val -waarom jy swak en kragteloos bly voel, en presies dit doen wat jy haat - dan is dit moontlik omdat jy nog nie heeltemal glo in God se glorieryke beloftes nie.

God het al hierdie beloftes aan Abraham gemaak - beloftes om sy skild te wees, om sy beloning te wees, om al sy vyande te verslaan, om selfs wonderwerke vir hom te doen, soos om hom `n kind te skenk op sy hoë ouderdom. Abraham het hierdie beloftes geglo - en God sê sy geloof was kredietwaardig en regverdig.

Net so, die oomblik wat ons ophou baklei teen ons geestelike vyande in ons eie krag - en in ons harte aanvaar, dat wat ook al God belowe het Hy by magte is om uit te voer en vertrouend dan alles in sy hande plaas, dan is dit die begin van regverdigheid.

God help ons hierin dat hy sy eie Gees stuur om verblyf in ons harte te kom neem. Die Heilige Gees is die krag van God en sy krag verklaar oorlog teen alle demoniese magte: "..die Gees wil [begeertes beveg] teen die vlees.."(Galasiërs 5: 17)

Die Gees verklaar, " Hierdie is nou my blyplek duiwel. Ek het my hoofkantoor hier gemaak en ek hys die vlag van die Almagtige God. Jy regeer nie meer langer hier nie. En jou oorlog is nie meer teen my kind nie. Jy kom nou teen My teëstaan. En ek gaan op jou jag maak, jou planne omverwerp en jou baklei op alle fronte. Hierdie kind is nou die tempel van die Heilige Gees!"

Om die pad saam met die Gees te loop is nie ingewikkeld nie. Dit is eenvoudig net om te glo wat God gesê het: "...Wandel in die Gees en jy sal nie die begeertes van die vlees bevredig nie" Vers 16). Eenvoudig gestel beteken dit die volgende, " Glo in die Heilige Gees! Glo in die belofte om jou saak op te neem. Wandel in die krag van sy belofte om vir jou te veg!"

" Ek sal reinigingswater oor jou uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle `n nuwe hart en `n nuwe gees gee, ek sal die klip hart uit julle liggaam uithaal en julle `n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom."
(Esegiël 36:25-27).

Sien jy wat God sê? Sy Gees doen al die werk in jou! Hy sal jou reinig en sal jou `n nuwe hart gee. Hy sal jou na gehoorsaamheid bring en jou laat reg doen. Jou plig is om te glo dat Hy sy woord sal hou sonder weifelende geloof!

So, sal jy jou probleme, jou toekoms, jou lewe - en jou sondes - in die hande van die almagtige God toevertrou?