Die Genesende Krag van Verdrukkings

Almal van ons weet wat verdrukkings is. Dit is daardie tye van swaarkry en spanning wat ons nagte wakker hou. Dit kan so pynlik en verlammend word, dat ons slaap verloor as gevolg van vrees en angs.

Tog, so pynlik soos wat verdrukkings is, gebruik God dit om sy doel in ons lewens te bereik. Dawid skryf, “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:20). Verder, maak die Skrif dit duidelik dat God verdrukkings kan gebruik om sondaars, sowel as heiliges te genees.

Ek dink aan Manasse, die mees goddelose koning in Israel se geskiedenis. Manasse het van die Here af weggedwaal en ‘n veragtelike, moorddadige man geword. Beskou al die goddeloosheid wat hierdie man gedoen het: Hy het afgode vir die heidense afgod, Baäl, opgerig, selfs in die Tempelhof. Hy het altare gebou om die son, maan en sterre te aanbid. Hy het sy eie kinders geoffer deur hulle in die vurige putte van demoniese Baäl-afgode te gooi. Hy het die woorde van regverdige profete verag en in plaas daarvan die raad van fortuinvertellers verkies. Hy het heksery, dodebeswering en duiwelaanbidding goedgepraat. Hy was ‘n wrede, bloeddorstige tiran wat dit geniet het om onskuldige mense te vermoor. Die Skrif sê Manasse het erger gesondig as al die heidene rondom Israel.

Wat het met hierdie goddelose koning gebeur? God het groot verdrukking oor Manasse gestuur deur die Assiriese leër. Die gevreesde Assiriërs het Jerusalem binnegeval en die mense gevange geneem, insluitende Manasse, wat hulle met kettings geboei het en sy liggaam in pynlike dorings toegedraai het. Hulle het die Israeliete in dodelike lang marse ingedwing en hulle bittermin te ete en te drinke gegee. Volgens historici, was hierdie marse afgryslik.

Dit was tydens hierdie tyd van verskriklike verdrukking dat Manasse begin bid het: “Maar in sy benoudheid het hy die aangesig van die HERE sy God om genade gesmeek en hom diep verootmoedig” (2 Kronieke 33:12). Hoe het God op Manasse se gebed gereageer? Hy het die koning se roepstem gehoor en hom tot sy troon herstel. Manasse het toe ‘n vegter vir geregtigheid geword en die afgodsbeelde en altare wat hy in die land gebou het, afgebreek.

Die lesse wat ons uit Manasse se storie leer, is duidelik. Eerstens, hoe was hierdie mans herstel? Dit het deur verdrukking gebeur. Goddelose Manasse het die monde van al die profete in die land toegestop en dit het God net een opsie gelaat om tot hom deur te dring: vedrukking. Dit was toe dat die Here die Assiriërs opgewek het om hulle soos ‘n lat van teregwysing te gebruik. ‘n Tweede les is, ons kan nooit met enigeen moed verloor nie, selfs nie die mees veragtelike, goddelose persoon nie. God het sy manier om deur verdrukking selfs die mees goddelose sondaars tot Homself te bring.

Dawid het geskryf, “Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord...Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge kon leer” (Psalm 119:67, 71). Hierdie twee verse verduidelik aan ons hoe God se Woord ‘n lig vir Dawid se voet geword het... hoe Dawid voor die wêreld kon getuig, “U Woord is my blydskap”...hoe hy so ‘n wonderlike gebedslewe kon ontwikkel...hoe hy ‘n man na God se hart geword het. Volgens sy eie getuienis, het dit deur verdrukkings gebeur.

Beskou: “As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende” (Psalm 119:92). Hierdie ongelooflike openbaring het na Dawid gekom deur sy lyding. Hy verklaar, “Dit was die Here self wat my verdruk het. En in sy getrouheid, het Hy my verdrukkings gebruik om my al my kompromieë te wys. Toe ek in pyn was, het Hy sy Woord vir my oopgemaak en ek het begin om duidelik te sien.”

Met ander woorde het Dawid gesê, “Ek weet nou dat die Here dit toegelaat het om my te genees van al die drek, dwaasheid en vlees in my. As Hy nie sy vrees in my hart geplaas het nie — as ek nie hierdie kwessies moes hanteer nie — sou ek nie vandag hier gewees het nie. Ek sou afgedwaal het. God het geweet wat in my hart was, en Hy het presies geweet hoe om my aandag te kry.”

Jy mag dink, “Dit is moeilik om te aanvaar. Hoe kan ‘n liefdevolle God Dawid se verskriklike swaarkry toelaat? Net so, as die Here my liefhet, hoe kan Hy die verskriklike verdrukkings wat ek beleef, toelaat?” In werklikheid, wat Dawid hier sê, is ‘n lewegewende waarheid. Hy vertel vir ons in wese: “As ons nie die Here in ons omstandigheide sien werk nie — as ons nie glo dat die gange van die regverdige deur die Here se hand bevestig word nie, insluitende ons ernstige situasies nie — dan sal ons geloof ineenstort. Ons sal totaal skipbreuk ly.”

Hier is God se Woord oor die onderwerp: “Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter. U het ons in die net gebring, ‘n swaar las op ons heupe gelê. U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed” (Psalm 66:10–12). “DIE Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit” (Psalm 34:7).

Toe Dawid deur sy verdrukkings gekom het, het hy nie langer met angswekkende vrae uitgeroep nie: “God, waarom het U my deur sulke swaar tye laat gaan? Waarom het U sulke diep pyn toegelaat?” In plaas daarvan, het hy die Here se hand in al sy omstandighede gesien, veral die pynlikes. Hy het geweet dat God besig was om iets in ewigs in hom te doen. Inderdaad, hy het besef dat die verdrukkinge wat ons beleef, bedoel is om ons te genees en te suiwer. Hulle bring die blywende vrug van die Gees in ons, geduld, goedheid, lankmoedigheid, vriendelikheid.

“Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenheid; want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders” (Klaagliedere 3:32–33). God het geen plesier daarin om enigiemand, heilige of heiden, te verdruk nie. Jeremia vertel vir ons, “God mag ons tugtig en dit is vir ons swaar. Maar Hy bring lyding nie gewillig nie. Hy doen dit met pyn in sy hart.” Die Hebreeus hier, beteken letterlik, “Sy hart is nie daarin nie.” Sy hart is nie in die tugtiging nie, maar in die genesing wat dit bring.

Dink aan ‘n chirurg en sy mediese span terwyl hulle voorberei om te opereer op ‘n kind wat kanker het. Daardie chirurg weet dat as die tumor nie verwyder word nie, sal die kind sterf. Om daardie rede sal hy alles gebruik om die kanker uit daardie kind se liggaam uit te sny, maak nie saak hoeveel pyn dit veroorsaak nie. Hy weet sy snykundige werk gaan diepe seerkry veroorsaak. En nou, terwyl hy voorberei om te sny, vorm daar ‘n traan in sy oog. Dit is ‘n baie pynlike oomblik vir hom, veral omdat daardie kind sy eie is.

Dit is die barmhartige liefde agter elke tugtiging van ons Vader. Toe ek ‘n seun was, het my ouers God se Woord letterlik opgeneem en as ek verkeerd gedoen het, was ek geslaan. (Vandag word dit kindermishandeling genoem.) Elke keer wat my pa sy lyfband op my agterkant gebruik het, was dit vir my swaar, hoewel hy dit nooit in woede gedoen het nie. Terwyl hy my gewiks het, het hy altyd gesê, “Dit maak my meer seer as vir jou.” Ek het hom nooit geglo nie. Dan het hy altyd na die tyd vir my gesê, “Kom hier David, laat ek jou ‘n drukkie gee.”

Ek is oortuig dat my pa se liefdevolle, konsekwente tugtiging een van die redes is waarom ek die evangelie sestig jaar later verkondig. Net so, weet ons hemelse Vader van alles wat in ons harte is en ons kan vernietig. En wanneer Hy verdrukking in ons lewens toelaat, is dit om daardie dodelike kanker te verwyder. Hy wil nie pyn veroorsaak nie; dit is die laaste ding wat Hy wil hê. Hy begeer net om die siekte wat sy geliefde kind bedreig te verwyder.

Baie gelowiges wat verdrukking beleef, dink onmiddellik dat hulle deurloop onder ‘n onbekragtigde sataniese aanval. Hulle gedagtes gaan na Job, wat wreed deur die duiwel aangeval is. Of hulle dink aan Paulus, wat gepraat het van ‘n “boodskapper van Satan” wat gestuur is om hom te kasty. Hulle onthou die gedeeltes waar Paulus sê dat hy deur die duiwel “verhinder” was.

En so, wanneer ons verdrukkings beleef, praat ons daarvan dat Satan soos ‘n “rivier” kom. Ons dink aan hom wat ons soos ‘n brullende leeu aanval, op soek na iemand wat hy kan verslind. Ons kan nie daaraan dink dat God betrokke kan wees nie.

Tog, in werklikheid, kan Satan nie ‘n vinger teen enige kind van God oplig tensy God dit toelaat nie. Ja, dit is God wat ons verdrukkinge toelaat. As Satan begeer om ons aan te val, moet God eers sy muur van beskerming rondom ons afhaal. Beskou wat die Here van Dawid gesê het: “Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf, met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk. Die vyand sal hom nie oorval nie en die kwaaddoener hom nie verdruk nie” (Psalm 89:21-23, kursief myne).

God vertel vir ons, in wese: “Dit maak nie saak watter beproewings Dawid beleef het nie. Deur alles heen, sal hy verlos word in God se tyd. Ek verklaar vir die wêreld dat die duiwel niemand sonder My toestemming kan verdruk nie.” Die Assiriërs mag dalk God se tugroede vir Manasse gewees het — sataniese magte mag die roede wees — maar God is steeds in beheer.

Die Skrif vertel ons, “Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid. Want die septer van goddeloosheid sal nie rus op die erfdeel van die regverdiges nie, sodat die regverdiges hulle hande nie sal uitsteek na onreg nie” (Psalm 125:2–3). Ons moet nooit skade van die duiwel vrees nie. Hy het net mag oor die goddeloses. God plaas beperkings op hom sodat hy net tot op ‘n punt met sy verdrukkings kan gaan, soos hy met Job gedoen het.

Die duiwel was toegelaat om net so ver te gaan in die kastyding van Paulus. As God se mense, sal elkeen van ons aanvalle van die vyand beleef. Maar ons Here het aan ons verdedigingswapens belowe, insluitende die skild van die geloof, waarmee “julle al die pyle van die Bose sal kan uitblus” (Efésiërs 6:16).

Paulus het besef dat hoewel hy deur die Satan aangeval is, het die Here dit toegelaat. Hy het drie keer gebid om van sy verdrukking verlos te word, maar God het dit nie toegelaat nie. Later het Paulus besef dat hy sonder die vyand se kastyding, moontlik deur trots vernietig sou geword het. Buitendien, hierdie man het hemelse openbarings, wat aan geen ander mense gegee is nie, ontvang. Sonder God se beperkende verdrukkinge, sou hy dalk ineengestort het van hoogmoed.

Wanneer ons verdrukking nie weggaan nie, word ons versoek om te dink, “God moet kwaad wees vir my. Ek ly nou vir die sonde wat ek in die verlede gedoen het.” Ons begin dink aan al daardie vorige sondes en word oortuig, “Ek moes iewers te ver gegaan het. Andersins, waarom stop my verdrukking nie? Waarom antwoord God nie my gebed vir verlossing nie? Ek het gedink alle sonde is onder Christus se bloed. Wat ek gedoen het, moet so verskriklik wees dat ek nou daarvoor moet betaal.”

Dit is hoe Asaf, die psalmis, gereageer het op groot verdrukking in sy lewe. Hierdie goddelike man was die Tempel se musiekleier onder Koning Dawid en Salomo. In Psalm 77, beskryf Asaf die ernstige gevolge van sy verdrukking: “U hou my ooglede oop; ek is onrustig en kan nie spreek nie” (Psalm 77:5). Ons weet nie presies wat Asaf verdruk het nie, maar dit was so oorweldigend dat hy snags nie kon slaap nie. Hoewel hy ywerig gebid het, het daar geen antwoord gekom nie. Die hemel het gelyk of dit vir hom geslote was.

In sy verdrukking, het Asaf gesê, “Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is. Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly” (Psalm 73:1–2). Hy het in wese gesê, “Jy moet goed wees om verdrukkinge vry te spring.” Watter verkeerde lering gespreek deur ‘n bedienaar van God! Waarom sou Asaf dit sê?

Dit was weens ‘n pynlike verwarring wat hy verduur het. Jy sien, te midde van sy verdrukking, het Asaf gesien dat die goddelose nie soveel soos hy gely het nie, maar in plaas daarvan, was hulle voorspoedig. Hy het gesê, “Hule spot en spreek in boosheid verdrukking; hulle spreek uit die hoogte...Hulle oë peul uit van vet; die inbeeldinge van die hart loop oor” (Psalm 73:8, 7).

Asaf het in wese gesê, “Ek het my hart suiwer gehou en my hande rein. Tog het ek gely, terwyl die goddelose geseënd was.” Hy het tot die gevolgtrekking gekom, “Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke môre” (Psalm 73:13–14). Met ander woorde: “Dit maak nie saak dat ek so toegewyd is nie. Dit was alles verniet.” Hy het duidelik op vorige sondes gefokus.

Nou het ons by die bron van Asaf se probleem gekom. Hy openbaar, “Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë” (Psalm 73:16). Hy het verklaar, “Ek kan dit nie verstaan nie. Die goddelose is voorspoedig, terwyl die goddelike ly. Hoe kan dit wees? Dit is pynlik om daaraan te dink.”

Hierdie geliefde man het God se werk gedoen — hy het aanbid, gesange gekomponeer, kore gelei om God se lof te besing — tog was sy hart vol van afguns. Toe Asaf gesê het, “My voete het amper gestruikel” (Psalm 73:2), het hy bedoel, “Ek het hard gestry om in reinheid voor die Here te wandel. Maar al wat ek teruggekry het, was verdrukking. Ek was so jaloers op die goddelose wat voorspoedig was dat my geloof amper ineengestort het.”

Asaf het ervaar wat vandag genoem word, “beproef deur die Woord.” Soos hy teruggekyk het na die wonderwerke wat God vir sy mense gedoen het — die skeiding van die Rooi See, die manna uit die hemel, die water uit die rots — was hy “beproef” deur God se getrouheid. Eenvoudig gestel, soos hy na sy eie lewe gekyk het en die gebrek aan verlossing, het my beswaard geword.

As Dawid se getuienis geloofwaardig is — dat God die verdrukking van die regverdige toelaat — kan ons weet dat dit die Here was wat Asaf se gees beswaar het. In sy groot, liefdevolle goedheid en getrouheid, sou Hy nie toelaat dat Asaf voortgaan met sy verlammende sonde van afguns nie. Hy sou nie toelaat dat hy aanhou dink, “God laat my nou vir al my sondes betaal” nie.

Die Here het uiteindelik vir Asaf deur daardie donker nag gebring. Maar nooit vir ‘n oomblik was hierdie man se verdrukkinge ‘n oordeel vir enige voriges sondes nie. Asaf se verlossing was nooit te betwyfel nie. Eerder, soos die outeur van Hebreërs ons vertel, “Want die Here tugtig hom wat Hy liefhet” (Hebreërs 12:6).

Asaf het gewys dat hoe ons op ons verdrukkinge reageer, ‘n saak van lewe of dood is. As ons nie die Here aan die werk in ons verdrukking sien nie, kan ons ons harte verhard en uiteindelik skipbreuk ly. Ons geloof kan nie rus op die goeie dinge wat God in die verlede gedoen het nie, maar om Hom, wat daardie wonderdade in getrouheid gedoen het, te ken.

Die regte reaksie in enige verdrukking is ‘n ondersoekende hart. Dit is ‘n hart wat vra, “Here, sê U hierdeur iets vir my? Is ek blind vir iets wat U vir my wil sê?” Deur die jare, het ek geleer dat wanneer verdrukking kom, moet ek na die Here gaan met ‘n oop hart en vra, “Waaroor gaan dit alles, Here? Wat wil U vir my wys? Ek sal doen wat U ookal vir my vra.”

Die Heilige Gees misluk nooit om vir my te sê nie. Soms sal Hy sê, “Dit is ‘n strik van Satan, David. Wees waaksaam.” Of, sonder veroordeling, sal Hy ‘n area van kompromie aanwys en sê, “Gehoorsaam en die hemele sal vir jou oopgaan. Alles sal duidelik word.”

Ons saligheid is nie in gedrang nie. Hoewel ons egter gered is, is ons steeds nie volkome geheilig nie. Ons het baie kwessies wat God se volheid in ons verhinder, kwessies van die hart waarvoor ons blind is: geheime wellus, hebsug of luiheid oor die dinge van God. As ons gewillig is om na Hom te luister, sal die Here dit altyd aan ons openbaar. Die belangrikste van alles is, dat wanneer ons die vure van verdrukking verduur, sal God aan ons sy teer, liefdevolle barmhartighede en deernis openbaar.

As God vir ons wys wat in ons harte is – die ongeduld, die boesemsonde, die “klein” maar dodelike kompromië – word daardie dinge vir ons moeilik in ons tyd van verdrukking.  Dit is waarom Dawid gebid het: “Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg. Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging” (Psalm 119:76–77).

Dawid het uit sy verdrukking geroep, “Stuur vir my u woord van vertroosting, Here. Wys my u teerheid. Wys my u liefdevolle, ewige barmhartigheid.” Dawid het eintlik ‘n belofte wat God hom vroeër gegee het opgeëis, “Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartigheid is oor al sy werke” (Psalm 145:8–9, kursief myne ).

Dit maak nie saak waardeur ons gaan nie, God se barmhartigheid is daar vir ons. Soos Dawid gesê het, sy barmhartigheid is “oor al sy werke” in al sy mense. God is nie daarop uit om ons te veroordeel of ons te straf nie. Soos enige liefdevolle Vader, vertel Hy vir sy kinders, “Laat my jou hierdeur liefhê. Ek wil dat jy my ken te midde van dit alles. Ek gebruik dit om jou die diepte van my liefde te wys.”

Ek het ‘n belydenis om te doen. Die boodskap wat ek hier skryf, was gebore uit diep wonde van vriende wat teen my gedraai het. Soms kom die ergste verdrukking van hulle wat die naaste aan jou is. Hulle woorde en beskuldigings sny die diepste, omdat hulle jou skynbaar die beste ken.

Ek dink veral aan een vriend wat ek gementor het. Hy het na my gekom en verskriklike valse beskuldigings gemaak, ‘n stroom kwetsende woorde wat my diep verwond het. Ek het verpletter huistoe gegaan na ons vergadering. Ek het op my aangesig geval en by die Here gepleit: “Hoe kon my vriend sulke kwetsende dinge aan my sê? Ek het nog nooit so seergemaak gevoel nie. Hierdie aanval is  van die vyand. Ek weet in my hart dat die dinge wat hy gesê het nie waar is nie.”

Ek het my vriend vergewe omdat hy my seergemaak het en vir hom gebid. Maar iets het my bly pla. Daar was ‘n ontsteltenis in my gees wat nie wou weggaan nie. Ek het teruggegaan na gebed en hierdie keer het ek gevra, “Here, het U iets hiermee te doen? Het U dit toegelaat? Probeer U iets vir my sê?”

Die Here het my geantwoord met ‘n noodsaaklike teregwysing oor ‘n sekere area van my lewe. Die ontsteltenis in my oor my vriend se beskuldigings was eintlik ‘n wekroep oor ‘n kwessie wat my kon vernietig het. Dit het my gedwing om te stop, in my hart te kyk en Jesus te vra om vir my enigiets wat verhinder het om in Hom te vorder te wys.

Wanneer ons onsself te midde van verdrukking verootmoedig, is God getrou om vir ons ‘n wonderbaarlike openbaring van sy barmhartigheid te wys. Dit was wat Hy vir my gedoen het. Toe ek sy liefdevolle teregwysing ontvang het, het die Heilige Gees aan my gefluister, “David, gaan na my Woord. Doen ‘n soektog oor my barmhartighede, my liefdevolle goedheid en my gereedheid om te vergewe.”

In der waarheid, wanneer God ‘n groot werk in my lewe gedoen het, was dit tydens my donkerste ure. Ek het die meeste van my blywende lewenslesse in my tye van diepste pyn geleer. Dit was wanneer sy barmhartigheid gekom het — toe ek uiteindelik opgehou het om dinge vir myself te probeer uitwerk en in plaas daarvan net uitgehou het, terwyl ek op Hom vertrou het om my te verlos en sy werk in my te doen.

Ek het talle boeke van apologete deur wonderlike manne van God gelees. Hulle het die lyding van heiliges wie se beproewings dag na dag, jaar na jaar en soms vir ‘n leeftyd aangehou het, probeer verduidelik. Maar meeste antwoorde het my nooit tevrede gestel nie. Ek kan eenvoudig nie teologies verklaar waarom die mees goddelike mense skynbaar die meeste en langste ly nie.

In plaas daarvan, het ek geloof ontvang van nederige mense wat van God se getrouheid teenoor hulle getuig het tydens ondenkbare verdrukking. Ek dink aan Sam, ‘n ouderling in ons kerk, wat vir vyftien jaar met ondraaglike pyn geleef het. Hy het operasie na operasie gehad en loop steeds met ‘n kierie. Elke keer wat ek vir Sam sien, het hy God se Woorde op sy lippe en Christus se sagtheid op sy gesig. Hy bid daagliks vir my en vir ons pastorale personeel. Vir my, is Sam ‘n held van die geloof wat by diegene in Hebreërs 11 hoort.

Ek dink ook aan Jimmie, die man van my jarelange sekretaresse. Sedert kindskap, het Jimmie migraine hoofpyne gehad wat selfs die kragtigste medisyne nie kan verlig nie. Oor die jare het hy die meeste van sy sig en gehoor verloor. Tog ken ek min mense wat so vriendelik en vrygewig is soos Jimmie. Ek noem hom Mnr. Fantasties. Hierdie man leef met folterende pyn, maar elke keer wanneer ek hom vra hoe dit gaan, antwoord hy, “Fantasties.”

Uiteindelik, dink ek aan my vrou, Gwen, wat meer as vier-en-twintig operasies ondergaan het, sommige daarvan was om kanker te verwyder. Sy het die meeste van haar sig verloor deur makulêre degenerasie. In ‘n tydperk van vyftig jaar, het Gwen intense fisieke pyn geken, met baie min van daardie jare waarin sy pynvry was. Tog het sy nie gekla nie. As ek na haar, Sam en Jimmie kyk, sien ek getuies van wie ek moet sê, “God is getrou.”

Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, soos Dawid sê – maar God, op sy tyd en manier, verlos ons van alles. En dit is ‘n blywende verlossing, een wat die duiwel nie kan keer nie. Waarom nie? Hy laat ons nie net opstaan uit lyding nie, maar ook vanuit twyfel en vrees. Ons word in staat gestel om enige pyn en enige probleem te trotseer, omdat ons weet Hy is met ons te midde daarvan.

Hier is meer van God se beloftes vir die verdruktes:

“Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Korinthiërs 4:17).

“Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid, Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtigheid nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:8–14).