Die Genade van God Verander in Ongebondenheid

David Wilkerson

In sy brief aan die kerk, gee Judas ‘n dringende waarskuwing. Hy skryf, “Aan die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is...ek [het] die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip...goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 1-4).

Judas waarsku ons dat vals herders in God se huis sal insluip, met een doel in gedagte: om die genade van die Here in ongebondenheid te verander. Hy sê, “Satan stuur ‘n sekere vals leerstelling om die kerk te infiltreer. En dit gaan kom deur predikers, leraars en evangeliste. Hulle sal God se genade neem en dit subtiel verdraai, dit manipuleer, totdat dit uiteindelik ongebondenheid in God se mense veroorsaak.”

Om ten volle die erns van Judas se waarskuwing te begryp, moet ons die betekenis van ongebondenheid verstaan. Hierdie term vergestalt elke denkbare soort sonde. In letterlike terme, beteken ongebondheid “gebrek in morele dissipline, om geen agting vir aanvaarde morele standaarde te hê nie.” Die woord kom van die Latynse “lascivia,” wat los, weghol passie en begeerte beteken. Dit dui op bandeloosheid, losbandigheid, wetteloosheid, die weggooi van alle grense. Dit verteenwoordig ook alles wat vuil, vernederend, ontugtig en onwelvoeglik is.

Jesus noem ongebondenheid ‘n sonde van die hart, “Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid” (Markus 7:20-22).

Soos Judas, het die apostel Paulus ook die ongebondenheid, wat hy in die kerk gesien het, aangespreek. Hy het sonder om doekies om te draai in aan die Korinthiërs geskryf, “Want ek vrees dat ek julle by my koms miskien nie sal vind soos ek wens nie...en ek sal treur oor baie van die wat vroeër gesondig het en hulle nie bekeer het van die onreinheid en hoerery en ongebondheid wat hulle bedryf het nie” (2 Korinthiërs 12:20-21).

In dieselfde gedeelte, noem Paulus die Korinthiërs sy “geliefdes.” Hierdie mense was inderdaad Paulus se kinders in die Here. En hulle was ontsaglik deur God geseën. Hulle was deur Paulus self, Timótheüs, Titus en ander goddelike bedienaars onderrig. En Paulus het hulle herinner, “Ons spreek...dit alles...tot julle stigting” (1 Korinthiërs 12:19).

As ons Paulus se twee briewe aan hierdie kerk lees, sien ons die ontsaglike kragtige lering wat hy vir hulle gebring het. Hy het oor die opstanding van die Here, die wederkoms van die Here, die regterstoel van Christus, dood vir sonde, geregtigheid deur geloof, hemel en hel geskryf. Paulus het hierdie mense getrou gewaarsku, hulle gesmeek, by hulle gepleit. Sonder twyfel was daar geen ander liggaam van gelowiges so liefdevol versorg, so met oortuigende waarheid bedien en so deur die evangelie van genade gestig nie.

Verder was die Korinthiërs met meer as Paulus se lering geseën. Hulle het kragtige bewegings en werkings van die Heilige Gees in hulle midde beleef. En aan hulle was vele geestelike gawes, insluitend gesondmaking, profesië, tale, uitleg van tale en goddelike openbarings gegee. Hierdie kerk was ‘n lewendige, profetiese, aan die brand liggaam.

Dit is egter ongelooflik dat ‘n aantal van dieselfde geseënde gelowiges voortgeleef het in onsedelikheid. Paulus het baie van hulle beskuldig van ongebondenheid (2 Korinthiërs 12:21). Hy het geskryf, “Dit is die derde keer wat ek na julle toe kom...Ek het dit vroeër gesê...en ek skrywe dit nou...aan die wat vroeër gesondig het en aan al die ander, dat as ek weer kom, ek nie sal spaar nie...Daarom skryf ek dit in my afwesigheid om nie, as ek teenwoordig is, strengheid te gebruik nie, volgens die gesag was die Here vir my gegee het om op te bou en nie af te breek nie” (2 Korinthiërs 13:1-2,10).

Paulus het nie doekies omgedraai nie. Hy het gesê, “Twee keer het ek julle nou al gewaarsku oor die sonde in julle gemeente. Julle almal is onderrig deur goddelike prediking, wat van sonde oortuig. Julle het almal deel gehad aan God se gawe van genade. En tog is daar sommige van julle wat willens en wetens aanhou om in onreinheid te lewe. Ek herinner julle, my gawe is stigting, nie verwoesting nie. Ek is geroep om julle op te bou in die kosbare geloof. Maar wanneer ek ‘n derde keer na julle toe terugkom, sal ek dalk geen ander keuse hê nie, as om hard met julle te wees. Ek sal niemand, wat steeds aan sonde toegee, spaar nie.”

Ek vra jou: hoe kon hierdie oorvloedig geseënde mense kies om in so ‘n onrein toestand te bly? Ons verwag die wêreld om losbandig te wees en vrylik aan hulle wellus oor te gee, maar nie God se mense nie. Dit is egter duidelik dat hierdie sonde hoogty gevier het in God se huis.

Ons mag dieselfde vraag vra oor die kerk vandag.

Elke Sondag, kom belydende Christene in God se huis bymekaar om te aanbid, sy Woord te hoor en om gemeenskap te geniet. Daar is egter baie van dieselfde mense wat heilig lyk, maar wellusgevulde lewens lei. Hulle hoereer, het buite-egtelike verhoudings en voed hulle verslawing aan pornografie. Vertel vir my, hoe kan enige verligte gelowige aanhou om sulke dinge te doen?

Eerstens, beskou die profesie in Openbaring 12. Ons word vertel dat ‘n woedende duiwel die aarde sal binneval in die laaste dae om God se mense te verlei: “Want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het; En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het...En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier” (Openbaring 12:12-15).

Hierdie gedeelte beskryf Satan se aanval op die kerk in hierdie laaste dae. Die duiwel gaan ‘n rivier van onreinheid, wat so groot en magtig is, stuur, dat dit selfs talle van God se uitverkorenes sal wegvoer. Paulus het vir die Korinthiërs gesê, dat dit alreeds besig was om onder hulle te gebeur, omdat baie reeds deur Satan se rivier van ongebondenheid weggevoer is.

Huidiglik, glo ek ongebondenheid het ‘n epidemie in die kerk geword. Van kus tot kus, doop mense hulself in erotiese onreinheid. Selfs in die berge van Kentucky, op plase in Iowa beesplase in Idaho, voed mense van alle ouderdomme hulle siele op smut. Dit word tot in hulle huise gebring via sateliet. Hierdie rivier van vuilheid het so algemeen geword, dat self bejaarde ouma’s en oupa’s hulleself daarin verlustig.

Ek het hierdie verskynsel in 1974 geprofeteer in my boek, The Vision. Dit was voor VCR ontdek is, op ‘n tyd toe selfs die woord seks nie op TV gebruik kon word nie. Ek het geskryf:

Hoe sal Satan probeer om God se uitverkorenes te kwel en mislei? Hy gaan dit doen deur die mensdom te verlei en ‘n morele grondverskuiwing te veroorsaak. Hy gaan die sluise van die hel oopmaak en soek om die wêrel te doop in erotiese vuilheid, smut en sensualiteit. Hierdie morele grondverskuiwing sal enigiets, wat menslike gedagtes kan uitdink, oortref. Alreeds versprei demoniese geeste van wellus deur die nasies en bring naaktheid, perversie en ‘n rivier van vuilheid.

Daar is ‘n modderbad wat kom om die gedagtes en siele van die mees toegewyde Christene, wat vandag leef, te kwel. Die Bybel het gesê Lot het sy siel dag en nag gekwel oor die dinge wat hy in Sodom gesien en gehoor het. Christene gaan binnekort blootgestel word aan so ‘n gewelddadige vuilheid en sensualiteit dat dit ‘n ferm greep op God sal verg om dit te oorleef. Diegene wat op die draad sit, gaan plat op hulle gesigte val. Diegene wat nie die ark van God se veiligheid binnegaan nie, sal weggevoer word deur hierdie onreinheid.

Groot TV netwerke sal in hierdie grondverskuiwing opgevang wees. Ek voorspel die netwerkprogramme sal binnekort poog om kaalborstonele uit te saai. Bostukloosheid sal die nuwe modegier word vir diegene, wat die media te probeer liberaliseer. Dit sal aanvanklik “smaakvol” gedoen word. Maar wanneer die artistieke gemeenskap in ‘n koor van lof hierdie deurbraak van vryheid besing, sal die sluise oopgemaak word en dan sal enigiets aanvaarbaar wees. Selfs kerkleiers sal naaktheid op TV loof, en sê dit is ‘n gesonde ontwikkeling. In verrassende wending, sal diegene wat daarteen kapsie maak, nie bedienaars en diegene wat bekend staan as toegewyde Christene wees nie, maar eerder diegene betrokke in politiek en in Hollywood self.

Wees gewaarsku, in die nie te verre toekoms nie, sal die boosste, X-gegradeerde pornografiese films gewys word op geselekteerde sateliet TV na middernag. Sateliet TV is reeds ‘n teiken van pornografiesmouse. In ‘n paar groot stede in die Verenigde State, Kanada en Europa, is trippel-X-films beskikbaar in sommige hotelle. Dit kom van Swede, Denemarke en die Verenigde State. Hierdie vuil films sal naaktheid, seksuele omgang, homoseksualiteit, bestialiteit en sadisme uitsaai.

Mense sal betaal vir hierdie erotiese films om direk na hulle sitkamers gestuur te word...Dit sal gespeel word deur ‘n gekoppelde elektroniese apparaat en direk in hulle huise gekanaliseer word. En ons huise sal plesierpaleise genoem word.

Ek het dit 27 jaar gelede geskryf. Nie net het elke deel daarvan waar geword nie, dit raak nou buite beheer, selfs in die kerk.

Die meeste Christene, wat hierdie boodskap lees, dink waarskynlik dit is nie op hulle van toepassing nie. Hulle wonder, “Waarom sou jy hierdie soort boodskap skryf vir dienaars wat nooit aan enige soort ongebondenheid toegegee nie. Ons moet opgebou en gestig word.”

Laat my verduidelik waarom ek hierdie waarskuwing skryf aan goddelike, toegewyde gelowiges:

Dit is nie ‘n waarskuwing vir diegene wat in pornografiese teaters insluip of vuil video’s huur nie.

Ek skryf dit nie vir Christene wat aan onreinheid oorgee nie, of dit nou deur TV, video’s of die Internet is. My doel is eerder om jou te laat ondersoek instel oor watter soort evangelie jy glo. Dit sluit jou konsep van genade in. Ek wil jy moet jouself toets of jy in jou hart enige suurdeeg of valse leerstelling oor die betekenis van God se genade sal toelaat. Uiteindelik kan dit ‘n saak van lewe of dood wees.

Jy sien, die duiwel is waarskynlik nie daarop uit om jou met onreinheid te vang nie. Hy weet dalk hy kan jou nooit versoek met growwe sonde nie. As hy egter jou konsep van genade kan verdraai — as hy jou sover kan kry om genade te sien as ‘n verskoning vir permissiwiteit — dan kan hy jou sit op die pad na verslawing. Gou sal jy dinge doen, wat jy nooit gedink het jy ooit sou doen nie. En, die ergste van alles is, hy sou die leuen aan jou verkoop het, dat dit oukei is vir jou om aan jou wellus oor te gee.

Om hierdie rede, draai Judas nie doekies om nie. Hy vertel vir ons reguit waarom so baie in God se huis weggevoer word deur die duiwel se rivier van losbandigheid: “Want sekere mense het ingesluip...goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 4). In hierdie een vers, ontbloot Judas Satan se hele plan om God se uitverkorenes te mislei. Die duiwel gaan bedienaars van alles soorte subtiel in die kerk inbring, om die evangelie van genade te verdraai.

As jy egter ‘n ware Bybelse begrip het van genade, kan die vyand jou nie mislei nie. Hy sal nooit in staat wees om jou te verlei met ongebondenheid of losbandigheid nie. So, wat is die ware Bybelse genade?

Ware Bybelse genade is Heilige Gees bemagtiging om ‘n goddelike lewe te lei en goddeloosheid te verloën.

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:11-13).

Hierdie gedeelte openbaar twee kenmerke wat Bybelse genade altyd in die lewe van ‘n gelowige teweegbring: 1. ‘n verwagting en verlange na die koms van die Here, en 2. ‘n goddelike vrees en heilige eerbied vir die Here. Hierdie twee vrugte van genade se werk is onafskeidbaar. Ons kan doodeenvoudig nie die een sonder die ander hê nie.

skrywer van Hebreërs dring by ons aan, “Laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees” (Hebreërs 12:8). Hierdie vers verbind genade direk aan eerbied. Kortliks, eerbied is ‘n konsep van God wat insluit, verwondering, respek en nugterheid of ingetoënheid.

Die apostel Petrus het ook genade aan nugtere eerbied verbind: “Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:13). Petrus moedig ons nie aan om lang gesigte te hê, of om sonder blydskap rond te loop nie. In teendeel, hy praat van ‘n eerbied wat ware blydskap in die hart veroorsaak. Hy sê, in wese, “As jy ‘n openbaring van Jesus se genade het — sy liefde, heiligheid en skoonheid — sal dit binne-in jou verwondering en eerbied teweegbring.”

As Judas sê goddelose manne sal die kerk infiltreer, beteken die woord wat hy vir goddeloos gebruik “mense sonder eerbied.” Met ander woorde, hierdie leraars sal ligsinnigheid en onstandvastigheid in God se huis inbring. Hulle sal probeer om alle eerbied vir die dinge van die Here te verdraai en verkeerd te interpreteer.

Jeremia het oor sulke goddelose mense geprofeteer, “Kyk, Ek het dit teen hulle...spreek die HERE...[wat] my volk verlei met hulle leuens en grootpratery” (Jeremia 23:32). Die woord vir grootpratery in hierdie vers beteken skuim of ligsinnigheid. Jeremia sê, “Hierdie vals leraars lag oor die dinge wat veronderstel is om eerbiedig, gerespekteer en met agting beskou te word. Hulle bespot die gesonde verstand, nugterheid en ingetoënheid, wat kom met ware aanbidding van die Here.”

Wat is die duiwel se doel om ‘n gees van lighartigheid te bring? Dit is om jou te laat glo dat die Here nie ernstig is oor sonde nie. Satan wil jou laat dink daar is hoegenaamd geen toorn in God nie en dat sy genade alle regverdige oordeel bedek. So, soms sal jy die vyand hoor fluister, “Moenie bekommerd wees oor jou wellus nie. Daar is oorvloedige barmhartigheid en vergifnis in die Here.”

Paulus sê al hierdie goddelose bedienaars onderdruk “in ongeregtigheid die waarheid” (Romeine 1:18). Met ander woorde, hulle het die waarheid geken en dit gesmaak. Hulle was daardeur gestig en tereggewys. “Want God het dit aan hulle geopenbaar” (Romeine 1:19). Tog, ten spyte daarvan om geseën te wees deur God se waarheid, het hulle daarvan af weggedraai. Hulle weier om hulle losbandige weë te laat vaar en in plaas daarvan, gee hulle hulself oor aan hul wellus. Op sy beurt het God hulle heeltemal oorgegee aan die misleiding van hul sonde.

As Judas praat van “die genade van onse God verander in ongebondenheid” (Judas 4), beteken die woord verander hier gemodifiseer, iets bygevoeg. Dit kom van ‘n basiswoord, wat beteken om waarheid neer te lê en uit te strek, dit is, om die waarheid op die grond neer te lê en dit iets passiefs te maak. Kortliks, God se genade was eens iets opreg en effektief in hierdie goddelose mense se lewens. Maar, omdat hulle nie hul sonde laat staan het nie, het hulle die waarheid neergelê en daarop getrap, sodat dit al sy betekenis en krag verloor het. Soos Jesaja uitgeroep het, “die waarheid struikel op die strate...die waarheid word vermis” (Jesaja 59:14-15).

Ek sien God se waarheid op hierdie manier hanteer word regdeur die kerk vandag. Ek het onlangs gekyk na ‘n videoband van ‘n soekervriendelike kerk wat ‘n “David Letterman” aand gehou het. Die herder het die top tien redes gelys waarom kinders verveeld raak in die kerk. Sommige van die dinge wat hy genoem het, was so ver verwyder van die ware karakter van Christus, dat ek dit nie kan herhaal nie. Tog het almal in die gemeente gelag en hande geklap. Die herder het die evangelie van genade in ligsinnigheid verander. Deur die betekenis subtiel te verdraai, het hy dit op die grond neergelê en sy krag verwyder.

Jy mag wonder: waar kom sulke goddelike bedienaars vandaan? Hoe gaan hulle in staat wees om in die kerk in te sluip om God se genade te verdraai? Het die duiwel hulle uit een of ander pornografiese teater uitgesoek en hulle aangetrek as engele van die lig? Of, is hulle ateïste wat hulleself as predikers vermom het en hulle weg na die preekstoel gebluf het?

Nee. Paulus sê van sulke mense, “God het dit aan hulle geopenbaar” (sien Romeine 1:19). Eens het hierdie mense die volle betekenis van genade verstaan. Op een of ander manier het hulle egter verslaaf geraak aan ‘n onversaakte begeerte. Op daardie punt, het hulle die waarheid in ongeregtighed begin hou. Hulle moes ‘n vals genade uitdink om hulle losbandigheid te verskoon. So, nou preek hulle ‘n vals Christus, deur ‘n verdraaide konsep van genade.

Die meeste lesers van hierdie boodskap is nie soos die mense wat Judas beskryf nie.

Judas praat van sulke goddelose bedienaars as volg: “Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens” (Judas 8). In teenstelling, glo ek die meeste mense wat hierdie boodskap lees, is Godvresende, gehoorsame dienaars. Hulle speel nie met onreinheid nie. Hulle het losbandigheid versaak en wandel in genade wat tot heiligheid lei.

Steeds glo ek sommige lesers mag sukkel met wat ek noem “oomblikke van verval in losbandigheid.” Hierdie Christene het nie hulself oorgegee aan hulle begeertes nie, maar hulle het nou en dan gemeenskap met iets onrein. Ons sien ‘n voorbeeld hiervan in ‘n verslag wat vrygestel is deur ‘n hotel wat spesialiseer in konvensies. Die verslag sê, die grootste aantal in-die-kamer, betaal-per-kyk pornografiese films, was versoek tydens ‘n godsdienstige konvensie. Trouens, meer pornografiese films was na die kamers gekanaliseer tydens daardie kerk se konvensie as tydens alle ander soorte konvensies wat daar gehou is.

Ek besef dat baie bedienaars en Christenwerkers verslaaf kan wees aan een of ander wellus. Vraelyste onder herders het gewys dat dit oorweldigend waar is. Ek glo egter dat baie sulke gelowiges meer geteister word deur sporadiese oomblikke van verval in losbandigheid. Na elke keer wat hulle daaraan toegegee het, voel hierdie sukkelende dienaars die gewig van hulle skuld en hulle bely dit. Hulle verlang immers daarna om verlos te word van sporadiese verval.

Ek wil nou alle sulke Christene aanspreek: Satan besef jy gaan tot God uitroep elke keer wanneer jy sondig. En hy weet jy gaan altyd God se vergifnis ontvang. Daarom, so lank as jy steeds ‘n mate van die vrees van God in jou hart het, kan hy jou nie verslaaf aan enige wellus of sonde nie. Hoe, kry die vyand dan uiteindelik ‘n houvas op God se mense? Hoe werf hy diegene, wat ware genade geken het, en bewapen hulle met ‘n vals evangelie en stuur hulle in kerke in om te probeer om die uitverkorenes te mislei?

Die enigste manier waarop die duiwel jou kan verslaaf aan ‘n sonde, is deur aan jou ‘n leuen te verkoop. Kortliks, hy moet jou oortuig dat sy leuen eintlik die waarheid is. En hy doen dit die dikwelste deur Christene te oortuig, dat hulle steeds God se waarheid kan hou, terwyl hulle aan ‘n sonde toegee. Jy mag beswaar maak, “Hoe kan Satan ooit ‘n opregte Christen oortuig dit is oukei om te sondig? Ek sou nooit kon glo dat God my sonde sou oorsien of verskoon nie.”

Satan verkoop sy leuen deur Christene te oortuig, dat genade eenvoudig ‘n nimmer-eindigende rivier van vergifnis is. Hy fluister vir ons, “Jy kan aanhou teruggaan na jou sonde, so lank as wat jy aanhou terugkom na die altaar. Het Jesus nie gesê ons moet ander 490 keer vergewe nie?  Jou liefdevolle Verlosser sal jou sekerlik baie meer kere as dit vergewe. So lank as jy ‘n berouvolle hart het en aanhou treur oor jou sonde, sal jy oukei wees. Jy kan ‘n duisend keer aan jou wellus oorgee en Hy sal jou elke keer vrylik vergewe.

Dit klink so naby aan die waarheid. Trouens, daar is geen einde aan God se vergifnis vir diegene wat na Hom kom met ‘n ware berouvolle hart nie. So, hierdie stelling is 95 persent evangelie. Die ander 5 persent is suiwer gif. En dit sal uiteindelik jou siel vernietig. Satan se “5 persent leuen” oor genade is die demoniese suurdeeg wat die hele brood bederf.

Dink jy, “Dit kan nooit met my gebeur nie”?

Miskien dink jy, “Ek woon ‘n kerk by waar ‘n goddelike herder ‘n grondige, Bybelse woord preek. Ek ken nie enige bedienaars wat die evangelie van genade verdraai tot permissiwiteit nie. Die preke wat ek hoor is oor Nuwe Testament genade en God se barmhartigheid teenoor diegene wat sukkel. Ek het geleer dat, hoewel ek geen krag in my vlees het om sonde te oorwin nie, sal God se Gees my bemagtig om sy woord te gehoorsaam.”

Jy het ‘n ontsaglike, bevrydende, lewensveranderende waarheid verstaan. As Satan jou egter sien waar jy soms in losbandigheid verval, sal hy besef jy hou van jou sonde. Hy weet jy wil nie werklik vry wees nie. Trouens, deur jou voortgesette sonde, het jy vir hom volkome toegang gegee tot jou gedagtes. En dit is presies hoe hy ‘n leuen in jou sal plant. Hy sal jou inspuit met ‘n enkele, dodelik verdraaiing van die waarheid, wat iets soos volg sal klink:

“Is hierdie waarheid nie wonderlik bevrydend nie? In jouself het jy geen vermoë om sonde te weerstaan nie. Daarom belowe God om die Heilige Gees te stuur om vir jou te doen, wat jy nie self kan doen nie. Al wat jy hoef te doen, is om aan te hou treur, en jou oomblikke van verval sal nie saakmaak nie. Die Heilige Gees weet wanneer om in te tree en jou te bemagtig. Jy kan sekerlik nie geoordeel word vir ‘n sonde wat jy nie kan beheer nie.”

Sien jy die leuen, wat in hierdie evangelie van genade ingevoeg word? Dit is die leuen dat Christene geen persoonlike verantwoordelikheid het vir hulle sonde nie. En dit lei daartoe dat jy God blameer vir jou sonde. Jy sal sê, “Waarom het die Heilige Gees nie gekom toe ek versoek was nie? Ek het vir Hom gewag om my te bemagtig, maar Hy het nooit opgedaag nie. Dit is waarom ek ingegee het vir wellus. Dit is nie my skuld nie.”

As jy nie waarlik wil vry wees van jou wellus nie, sal jy God se gawe van genade neem en reguit daarmee hardloop tot in sonde. Maar Paulus spel die misleiding van hierdie denkwyse uit: “Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie” (Romeine 6:1-2).

Dank God, Judas het ons drie veiligheidsmaatreëls gegee teen die misleidings van Satan se leuens insake genade. Judas skryf, “Maar julle geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag” (Judas 20-21). Let op drie dinge in hierdie vers:

  1. Ons moet ons geloof opbou. Hoe? Deur God se Woord ywerig te bestudeer. Geloof kom egter nie net deur die Bybel te lees nie, maar deur dit te hoor — of, doen — wat ons lees. Ons moet God se Woord lees, dit op ons harte toepas en sy teregwysing aanneem. Dit sal in ons ‘n geestelike ingetoënheid produseer. Dan, maak dit nie saak watter soort boodskap ons hoor gepreek word nie, ons sal nie deur die leuen of lighartigheid van enigeen meegesleep word nie.
  2. Ons moet in die Heilige Gees bid. Dit beteken ons bid nie net in die kerk nie, maar deur onsself privaat af te sonder met die Here. Ons moet God se Gees vra om sy lig in ons harte in te skyn en sy dan teregwysing ontvang, sodat ons genade kan kry vir enige gebrek.
  3. Ons moenie bekommerd wees oor iets nie en in plaas daarvan, uitkyk na die Here se koms. As ons God se Woord bestudeer en in die Gees bid, dan kan ons nie anders as om uit te kyk vir Jesus se skielike verskyning nie. Ons weet hierdie wêreld is nie ons tuiste nie en ons sal verwag dat ons Here te enige oomblik ons sal kom haal.

As jy hierdie veiligheidsmaatreëls toepas, dan sal jy ware genade verstaan. En jy sal nie verlei word tot in losbandigheid deur enige verdraaide boodskap van genade nie. God het ons in sy verbond verseker: “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee...En Ek sal...maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Esegiël 36:26-27). God sweer om sy Gees in ons te plaas en Hy sal ons bemagtig om alles, wat ons Here van ons vereis, te gehoorsaam.

Ons God het egter ‘n voorwaarde aan hierdie belofte. Hy sê, “Ek, die HERE het dit gespreek en sal dit doen. So sê die Here HERE: Ook dit  sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen” (Esegiël 36:36-37).

Hier is waar ons persoonlike verantwoordelikheid inkom. Ons moenie passief lewe en altyd wag op die Heilige Gees om op te daag, wanneer ons ook al versoek word nie. Ons werk is om gedurig die Here te vra, dit is, om biddend te wees. Hy sê vir ons, “As jy waarlik krag wil hê om sonde te oorwin, dan moet jy My daarvoor soek. As jy na My kom met jou hele hart, met ware ywer, sal Ek elke belofte van my verbond in jou lewe vervul.”

Elkeen van ons het binne-in ons die vermoë om te bid, om God se Woord te lees en om uit te kyk na Jesus se spoedige wederkoms. As ons hierdie dinge doen, sê Judas, sal ons die voordele van hierdie gebed verkry: “Aan Hom wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig” (Judas 24).