Die Evangelie van Jesus Christus

David Wilkerson

Wat is die ware evangelie van Jesus Christus? Selfs ongelowiges weet dat die Bybel vier weergawes van die evangelies het, Matthéüs, Markus, Lukas en Johannes. So, wat is die belang van hierdie evangelies, of die “goeie nuus”? Wanneer Christene van die evangelie van Jesus Christus praat, waarvan praat ons?

Die Skrif gee verskeie definisies van wat hierdie evangelie is. En ons moet hierdie Bybelse definisies gebruik om te bepaal of die ware evangelie van Christus lewend in sy kerk is. Beskou:

Die Here het Petrus vertel, “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Matthéüs 16:24).

Dit is duidelik dat om aan Jesus se kerk te behoort meer beteken as net om bloot in Hom te glo. Baie Christene van vandag “stem” bloot vir Jesus. Hulle gesindheid is, “Ek het vir Christus gestem. Dit maak my ‘n lid van sy party.” Maar wanneer hulle klaar gestem het, loop hulle weg en vergeet heeltemal van sy Heerskappy oor hulle lewens.

Jesus sê om aan sy kerk te behoort, strek verder as dit. Dit beteken om jouself te verbind om Hom te volg. En dit sluit in ‘n lewe van selfverloëning en ‘n kruis opneem. “En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie” (Matthéüs 10:38).

Ons Here maak dit duidelik: “As jy in my kerk is, moet jy bereid wees om te ly en vervolg te word vir jou geloof in My. Wees bereid om jouself alle roem, aanvaarding en wêreldse plesiere te ontsê. Mense sal jou aan ‘n kruis van bespotting, ‘n kruis van minagting en ‘n kruis van vervreemding vasspyker. En hulle sal dit doen omdat jy honger en dors na My. As jy aan my kerk behoort, is daar ‘n kruis wat sekerlik sal volg.”

Immers, Christus was se kerk nog nooit goedgekeur of aanvaar deur die wêreld nie. En dit sal ook nooit nie. As jy vir Jesus lewe, sal jy jouself nie hoef af te skei van ander se geselskap nie; hulle sal dit namens jou doen. Al wat jy hoef te doen, is om vir Hom te lewe. Skielik sal jy vind dat jy verwyt, verwerp en boos genoem word: “Wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens” (Lukas 6:22).

Jesus voeg egter by dat hierdie pad na ware vervulling lei. “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind” (Matthéüs 16:25). Met ander woorde: “Die enigste manier wat jy betekenis in die lewe sal vind, is as jy jouself aan My uitverkoop. Dan sal jy ware vreugde, vrede en tevredenheid vind.” Christus vertel vir ons, “My kerk is sonder vlek of rimpel. So, wanneer jy na My toe kom, moet jy gewillig wees om alle sonde af te lê. Jy moet geheel en al alles aan My oorgee, heeltemal sterf aan self en alle ongoddelike ambisie en ego. Deur geloof, sal jy saam met My begrawe wees. Maar Ek sal jou laat opstaan in nuwe lewe.”

Dink aan wat dit beteken om sonder vlek of rimpel te wees. Ons weet dat ‘n vlek sonde is. Maar wat van ‘n rimpel? Het jy al ooit die frase, “’n nuwe rimpel gehoor”? Dit beteken om ‘n nuwe idee aan ‘n bestaande konsep te heg. ‘n Rimpel, in daardie sin, is van toepassing op diegene wat poog om op die evangelie te verbeter. Dit stel ‘n maklike pad voor om die hemel te vind, sonder algehele oorgawe aan Christus.

Dit is daardie soort evangelie wat deesdae in baie kerke verkondig word. Die preke is net daarop gerig om mense se behoeftes aan te spreek. As ek egter Jesus se woorde lees, sien ek dat hierdie soort prediking nie werk nie. Dit bereik nie die ware doel van die evangelie nie.

Moenie verkeerd verstaan nie: Ek is nie teen preke van troos en krag vir God se mense nie. As ‘n herder van die Here, is ek geroep om presies dit te doen. Maar as ek net preek om mense se behoeftes aan te spreek en Christus se roepstem om ons lewens neer te lê, ignoreer, dan sal die ware behoeftes nie aangespreek word nie. Jesus se woorde is duidelik: ons behoeftes word aangespreek deur aan onsself te sterf en sy kruis op te neem.

Jesus verklaar, “My kerk is ‘n plek van skaamtelose, openlike belydenis en bekering.” Inderdaad, die apostel Paulus getuig: “Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.

“Want met die hart ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie” (Romeine 10:8-11).

Eenvoudig gestel, ons word tot redding gebring deur ons openlike belydenis van bekering. Jesus verklaar, “Want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Matthéüs 9:13). En, Hy sê, bekering is hoe ons genees en herstel word: “Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Lukas 5:31-32).

Geliefde, dit is goeie nuus. Jesus vertel vir ons, “In my kerk word almal genees deur bekering. Dit maak nie saak wie jy is nie — die fisiek gebroke, die verstandelik ongesteldes en die geestelik siekes. Elkeen moet op dieselfde manier na My toe kom. En almal vind genesing deur bekering.”

Ek vra jou: hoeveel kerke maak steeds hulle altare oop vir hart-getrefde mense om vorentoe te kom en hulle te bekeer? Hoeveel herders het opgehou om uitnodigings te gee vir hierdie baie belangrike geestelike werk? En hoeveel gelowiges het hulle sin van hulle behoefte om sonde te bely, verloor?

So, wat is die sentrale boodskap van Christus se evangelie? Hy maak dit eenvoudig regdeur Matthéüs, Markus, Lukas en Johannes. In hierdie vier evangelies, vertel Hy vir ons, “Dit is wat Ek in my kerk verkondig. Dit is my boodskap aan alle sondaars.”

Eerstens, “Jesus ...[het] gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15). Wat was Jesus se eerste boodskap? Hy het bekering gepreek.

Vir sommige Christene, mag dit klink na sterk taal. Hulle mag reageer, “Reg, maar hoe kragtig het Jesus bekering gepreek?” Lukas antwoord in sy evangelie. Jesus het sy luisteraars vertel, “Maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom” (Lukas 13:5).

Jy mag dink dat Christus se evangelie van bekering soos ‘n depressiewe ervaring klink. Maar Paulus sê anders. ‘n Berouvolle hart bring ware lewe: “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding” (2 Korinthiërs 7:10).

Bekering was ook die hart van die heel eerste preek na Christus se opstanding. Petrus het die skares wat by Pinkster byeengekom het, vertel “Jesus, die Nasaréner...het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring” (Handelinge 2:22-23).

Toe die mense dit hoor, het hulle onder kragtige sondebesef gekom. Die verkondigde Woord het hulle diep in hulle harte getref, omdat die Heilige Gees in al sy krag gekom het. En volgens Jesus, is dit presies die Gees se werk. Hy het gesê dat die Heilige Gees gekom het om te “oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel” (Johannes 16:8).

Die skares was so aangeraak, dat hulle nie kon beweeg nie. Skielik, voor hulle, was die kwessies van lewe en dood. Daarom het hulle na Petrus uitgeroep en gevra wat hulle moes doen. Hy het geantwoord, “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes...Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag” (Handelinge 2:38, 40).

Die gedeelte illustreer dat bekering die hart van Jesus se boodskap is. As daar geen oortuiging van sonde in hierdie boodskap is nie — geen waarheid oor sonde en skuld, geen tref van die hart nie — dan is die Heilige Gees nie daarin nie. Hy is eenvoudig nie teenwoordig in sulke prediking nie.

Ek dink aan al die “sondebesef-vrye” predikers wat verantwoordelik is vir die siele van veelvuldige duisende van Christene. Hulle gemeentes is met sonde belaai en hulle ongeregtighede kruisig Christus weer daagliks. Dit is absoluut tragies. Wat hierdie mense nodig het, is ‘n boodskap van ‘n prediker wat nie bang is om vir hulle te sê, “Jy het teen Christus gesondig” nie. Maar net die teenoorgestelde het gebeur. Die mense word eintlik in hulle sonde bevestig deur gekompromitteerde herders.

Esegiël sê van sulke predikers, “Omdat julle met leuens die hart van die regverdige droewig gemaak het — terwyl Ek hom geen smart aangedoen het nie — en die hande van die goddelose versterk het, dat hy van sy slegte weg nie sou terugkeer, om hom in die lewe te hou nie” (Esegiël 13:22). Die profeet sê in wese, “Julle het die regverdige bedroef met julle ligsinnige prediking. En julle het die sensuele mense krag gegee om selfs nog meer te sondig, sonder skuldgevoelens. Julle het vir hulle leuens vertel oor die ewige lewe. Nee! Julle beroof hierdie mense van die ewige lewe. Julle het God se genade in losbandigheid verander.”

Paulus sê ‘n dag van oordeel kom gou. En om daardie rede, moet ons die evangelie met selfs meer oortuiging van sonde verkondig soos die dag nader kom. Ons moet teregwys en vermaan en dit doen met lankmoedigheid en liefde. Inderdaad, die dag kom wanneer elke herder voor die Here sal staan en rekenskap gee oor alles wat hy gepreek het. Het hy die regverdige bedroef? Het hy die hande van die goddelose versterk? Of het hy onder heilige salwing ‘n vreeslose woord, wat van sonde oortuig het, gebring?

Petrus was immers nie daarin geïnteresseerd om daardie skares by Pinkster te affronteer nie.  Sy enigste doel was om hulle die waarheid te wys. En wanneer die Heilige Gees die waarheid openbaar, oortuig dit van sonde. Dit gaan diep af en ontwortel elke area van die hart.

Dit is jammer dat dit deesdae nie meer in baie kerke gebeur nie. Nie net is die Heilige Gees nie teenwoordig in sulke kerke nie, maar Hy is ook nie welkom nie. Ons bediening ontvang brief na brief wat dieselfde refrein weerklink: “Ek het ‘n buurman teenoor wie ek vir maande getuig het. Hy gaan deur ‘n egskeiding...sy het ‘n drankprobleem...hy het ‘n buite-egtelike verhouding…

“Daarom het ek hulle kerk toe geneem met die hoop dat hulle ‘n woord oor hulle toestand en hulle behoefte vir die Here sou hoor. Maar my prediker het nooit ‘n woord oor sonde gesê nie. Daar is nooit ‘n woord wat oortuiging van sonde bring nie, wat die nodigheid van Jesus se reinigende, bevrydende krag uitspel nie. My buurman verlaat daarom die kerk net meer gemaklik met sy sonde.”

Wat ‘n tragedie! Hoe moet dit God nie bedroef dat meer mense in die kerk in hulle sonde bevestig word as daar buite nie.

Ander skryf, “Ek gaan na ‘n sonde-vriendelike kerk, maar ek kan dit nie meer verdra nie. Elke week word daar ‘n opname gemaak waarin ons gevra word hoe ons van die diens gehou het. Hulle wil weet, ‘Was die musiek te hard? Was die komiese oomblikke te lank? Was die diens amusant?’ Pastoor David, ek gaan kerk toe om hoop te vind vir my verlore familie. Maar in plaas daarvan, word ek gevra om die vermaak te beoordeel.”

Volgens Jesus, kan niemand van sonde verlos word nie — niemand word ooit met die waarheid gekonfronteer nie — sonder die oortuigende teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees wat mense onder sondebesef bring nie.

Beskou hierdie toneel waar Jesus met sy volgelinge gepraat het: “Dit is die brood wat uit die hemel neergedaal het – nie soos julle vaders die manna geëet het en gesterwe het nie; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe. Hierdie dinge het Hy gesê in die sinagoge...En baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister? En Jesus het in Homself geweet dat sy dissipels hieroor mumureer, en Hy sê vir hulle: Is dit julle tot ‘n aanstoot?” (Johannes 6:58-61).

Let op dat Christus hier met gelowiges gepraat het. Wat was die harde woord waarop hulle gereageer het? Dit was, “Julle moet my vlees eet en my bloed drink, anders het julle nie lewe in julself nie. My vlees is vleis en my bloed is drank. En die ewige lewe kom slegs deur dit te eet.”

Die sondaar-vriendelike evangelie sê egter, “Jy kan nie daardie soort ding preek nie. Sondaars sou dit nooit verstaan nie. Bloed drink en vlees eet? Hulle sal dink ons is barbare. Ons moet die woorde verander om dit meer verteerbaar te maak. Anders gaan dit mense aanstoot gee, veral ongelowiges.”

In Christus se ware kerk sal daar aanstootlike woord kom. Ja, in sy kerk sal jy ‘n boodskap van goeie nuus, ‘n evangelie van liefde, barmhartigheid, genade en lankmoedigheid hoor. Maar in Christus se kerk, is daar ook boodskappe wat ons nie kan waag om mee te peuter nie. En daardie boodskappe sluit die prediking van Christus se bloed en sy kruis in.

Jesus het gesien dat die mense geskok was deur sy woorde. Daarom het Hy hulle in wese gevra, “Het ek julle sintuie aanstoot gegee? Pla dit julle as Ek die waarheid praat?” Dan maak Hy die stelling, “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Johannes 6:63). Hy het dit kristal helder gemaak: “Die presiese ding wat julle aanstoot gee, is dit wat lewe bring.” Hoe het sy volgelinge gereageer? “Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie” (Johannes 6:66).

Wat sê Jesus hier oor sy evangelie? Eenvoudig gestel, hy verklaar dat die boodskap van sy bloed en sy kruis aanstoot gee. Tog is dit die enigste evangelie wat tot ewige lewe lei. Ewenwel, sommige gaan dit nie aanvaar nie. “Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie” (Johannes 6:64).

Hierdie woorde van Jesus word deesdae uit baie kerke weggelaat. Ongelooflik soos dit klink, sommige gemeentes het elke verwysing na Christus se bloed van hulle aanbiddingsdienste verwyder. Predikers noem dit nie meer in hulle dienste nie. Gesange oor die bloed is uit die kerk verwyder. Dit word beskou as net te aanstootlik.

Maar Jesus waarsku, “Dit maak nie saak hoe aanstootlik my woorde vir jou is nie. Jy kan dit nie verander nie. My woorde produseer lewe. En jy moet dit inneem soos wat jy voedsel en drank sou inneem om dit die hele bestaan jou wese te maak. Daarom moet jy nie dit wat Ek gesê het sagter maak nie. As jy die bloed en die kruis van jou prediking verwyder, sny jy soekers af van hulle enigste hoop vir die ewige lewe.

“Die bloed-verlossing boodskap kan slegs verstaan word deur die Gees. Maar dit moet verkondig word selfs al word dit misverstaan. Staan daarom moedig en verkondig my evangelie, maak nie saak watter reaksie jy kry nie. Dit is die enigste Woord wat red.”

Ons sien ‘n soortgelyke toneel in Matthéüs. “En Hy het in sy vaderstad gekom en hulle geleer in hul sinagoge...En hulle het aanstoot aan Hom geneem” (Matthéüs 13:54, 57). Selfs Jesus se binnekring van dissipels het na Hom gekom en gesê dat sy boodskap aanstoot gegee het: “Weet U dat die Fariseërs, toe hulle die woord hoor, aanstoot geneem het?” (Matthéüs 15:12). In hierdie toneel was dit nie die mense wat aanstoot geneem het nie, maar dit was die godsdienstige leiers. Waarskynlik het die menigtes ontvang wat Jesus gesê het. Maar die herders was woedend.

As jy in Jesus se kerk is, dan sal die harde boodskappe van die Heilige Gees af kom. Waarom? Omdat die Gees uitroep teen alles wat ons dink, sê of doen wat van die vlees is. Jesus sê, “Want wat uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal” (Matthéüs 15:19).

Die teken van elke ware volgeling van Jesus is egter dat hy onderdanig is aan elke woord van Christus. Hierdie dienaar is lief vir teregwysing, weens dit wat dit in sy hart veroorsaak. Hy sien die verandering wat dit teweegbring, en hy weet dat dit vir hom lewe bring.

Diep in sy hart, is dit ook waarom ‘n sondaar na God se huis toe kom. Dit is nie net om nog ‘n nommer in ‘n groter gemeente te wees nie. Dit is om deur God gevind te word, omdat hy diep in sy hart weet dat hy verlore is. Sy siel is nie gerus nie en hy het te veel lang, slapelose nagte gehad. Hy soek antwoorde, waarheid en waaragtige verandering omdat hy besef dat hy op pad hel toe is. En hy het nie ‘n gelowige of prediker nodig om hom te vertel dat hy oukei is nie.

Natuurlik, as hierdie sondaar Christus se evangelie hoor, mag hy aanstoot neem daaraan. Hy mag kwaad word en uitloop. Maar hy sal nie vergeet wat hy gehoor het nie. En die Heilige Gees sal dit gebruik om waarheid aan hom te openbaar.

Ons is almal geleer dat Christus die hoeksteen van sy kerk is. Paulus sê hierdie steen is ‘n rots van struikeling: “Soos geskrywe is, Kyk, Ek lê in Sion ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie” (Romeine 9:33). Petrus het Jesus ook ‘n rots van aanstoot genoem: “Dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling – vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is” (1 Petrus 2:7-8).

Petrus kon jou eerstehands vertel wat gebeur as jy probeer om met die boodskap van die kruis weg te doen. Hy het aanstoot geneem toe Jesus sy dood aan die dissipels voorspel het. “Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie!” (Matthéüs 16:22).

Maar Jesus het hom met hierdie skerp woorde geantwoord: “Maar hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir my ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense” (Matthéüs 16:23).

Dit is ‘n duidelike voorbeeld van hoe Satan selfs misleiding kan plant in ‘n goddelike herder wat Christus liefhet. En jy kan seker wees dat Petrus nooit sy Meester se woorde vergeet het nie nie. Net so moet elke bedienaar en gelowige van vandag, luister na Christus se waarskuwing: “My kruis en my bloed mag jou aanstoot gee. Maar as jy jou skaam vir my boodskap, of as jy probeer om dit te versag, dan gee jy My aanstoot. Jy verteenwoordig nie my Woord of my kerk nie.”

Die eerste ding wat Christus sou doen, is om op ‘n toer te gaan deur jou stad terwyl Hy ween. Die Skrif vertel vir ons, “En toe Hy naby kom en die stad (Jerusalem) sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek” (Lukas 19:41-42).

Wat het Jesus laat ween? Dit het begin met ‘n hartroerende wandel deur die stad. Hy was oorweldig deur droefheid met die aanskoue van sogenaamde godsdienstige mense wat geen vrede gehad het nie. Hierdie mense het die waarheid verwerp vir fabels. En nou het hulle ‘n dooie vorm van godsdiens gevolg. Hulle was skape sonder ware herders.

Ek is nie daarop uit om enige bedienaar te oordeel nie. Maar ek wil almal, wat hierdie boodskap lees, vra: kan jy jouself voorstel dat jou prediker deur jou dorp ry en daaroor ween? Jesus gee ons ‘n heel ander beeld van die baie van die beplanners wat deesdae kerke bou. Hierdie mense gaan van deur tot deur, neem opnames onder die mense en vra wat hulle in ‘n kerk wil hê: “Hoe lank wil jy hê moet die diens wees? Vyftien minute? Tien?”

Jesus het ‘n vorm hiervan in sy eie tyd gesien. Soos Hy deur die tempel geloop het, het hy tafels van geldwisselaars en bedienaars, wat handel gedryf het met die dinge van God, gesien. Daar was geen ware gebed nie, geen vrees vir die Here nie. En Christus het oor dit alles geween en geroep, “Daar is geskrywe: My huis is ‘n huis van gebed. Maar julle het dit ‘n rowerspelonk gemaak” (Lukas 19:46).

Ek vra jou: sou Jesus ween oor wat Hy deesdae in jou kerk sien? Sou hy jou herder vind waar hy wroeg oor verlore siele? Of sou Hy hom vind waar hy wins maak uit die dinge wat heilig in God se oë is? Sou Christus sy mense biddend vind? Of sou Hy hulle vind waar hulle hulself besig hou met besig-wees en programme wat op hulle eie belange fokus?

As Jesus sy wenende toer van jou stad afgesluit het, sou Hy sy mense geprys het? Of sou Hy hierdie waarskuwing bring: “Julle is blind vir die tye. Die Oordeel staan voor die deur, maar julle lyk meer na die wêreld as ooit tevore. Waarom bid en soek julle My nie vir krag en wysheid om die tyd uit te koop nie?”

Mag God ons verhoed om ooit sy evangelie sagter te maak. As jy ‘n herder het wat die ware evangelie van Jesus Christus verkondig, dring ek by jou aan, bemoedig hom. En bid vir hom. Dank die Here dat jou aangestelde herder nie op persoonlikheidspredikers vertrou om skares te lok nie.

En wees dankbaar dat die teenwoordigheid van die Heilige Gees toegelaat word om sy ware werk in julle midde te doen. Wanneer die evangelie van Jesus Christus met oortuiging van sonde gepreek word, maak die hemele oop en duiwels vlug.