Die Evangelie van die Uitgeworpenes

Lukas 15 word genoem “Die Evangelie van die Uitgeworpenes.” Vir eeue is hierdie hoofstuk gesien as God se Woord aan diegene wat geval het. Dit is ‘n boodskap aan almal wat van Christus weggedwaal het, diegene wat eens gered was, maar nou verlore is, en wat gebind is deur ‘n boesemsonde.

Wat presies is ‘n uitgeworpene? In Lukas 15, is die uitgeworpene diegene wat deur die gemeenskap en die kerk as mislukkings verwerp is. Dit sluit diegene in wie deur God verwerp voel as gevolg van ‘n morele mislukking.

Hierdie merkwaardige hoofstuk begin met ‘n menigte sondaars wat bymekaar is om Jesus te hoor preek. Onder hulle was tollenaars, ‘n beroep vol met korrupsie. Tollenaars was deur die gemeenskap verag, gesien as pure sondaars saam met prostitute, ontugtiges en dronklappe. Inderdaad, almal van hulle het die uitgeworpenes van die dag ingesluit, mense wat “verlore” was in die oë van die wêreld.

En tog was dit presies die skare wat Jesus die meeste liefgehad het. Om die waarheid te sê, hulle was diegene wie Hy spesifiek kom soek het om te red. Hulle was die sieklikes wie ‘n geneesheer nodig gehad het, en Hy was die Geneesheer wat hulle nodig gehad het.

Laat my ‘n vraag vra: praat hierdie “weggooi groep” op enige manier met u? Dalk het u van die Here weggedryf. Dalk is u vervreemd van die dinge van God deur ‘n sekere boesemsonde: pornografie, alkohol, dwelms.

Wat ook al u stryd is, u voel nie meer die nabyheid met Christus nie. U vermoed dat u so diep in sonde verval het dat u nie meer vergewe kan word nie. Sommige worstel met die treiterende gedagte dat hulle onmoontlik is dat hulle vrygemaak kan word. As dit u beskryf, dan is hierdie boodskap spesifiek vir u bedoel.

Terwyl Christus voor die skare gestaan het, het ‘n groep trotse Fariseers en Skrifgeleerdes daar naby getalm.

Terwyl die godsdienstige leiers na die groepie gestaan en kyk het, moes hulle vir mekaar gesê het: “Kyk na dié Meester! Enige goeie Jood, enige ware leermeester, sou nie met sulke sondaars omgegaan het nie. En tog het hierdie Man hulle omhels en Sy hande op hulle gelê. Hulle was uitgeworpenes, erkende sondaars, en tog het Hy vir hulle gebid en saam met hulle geëet.”

Soos Jesus begin praat het, het die skare stil geword. Hy het drie vergelykings vertel, kragtige voorbeelde oor God se hart vir die uitgeworpenes. Hierdie vergelykings het stories oor ‘n verlore skaap, ‘n verlore geldstuk en ‘n verlore seun ingesluit.

Jesus se boodskap daardie dag was nie net bedoel vir diegene wat rondom Hom vergader het nie. Dit was bedoel vir elke generasie en spesifiek vir ons vandag.

Christus se boodskap in hierdie vergelykings is aan almal wat in slawerny in die sonde verval het. Dit kan pastore of leermeesters of eenvoudig enige gelowige insluit. Dit is vir diegene wie eens op ‘n tyd gebrand het vir die Here, maar wie nou weggedryf het, en koud geword het, en ongeliefd voel deur God of die kerk.

Ek dink aan ‘n pastoor wat by my was vir berading, wat in egbreek verval het. Hierdie man het sy kerk en sy familie verloor en was agtergelaat met nie ‘n sent in sy sak nie. Hy het vir my vertel, “God het my met soveel geseën, en tog het ek teen soveel lig gesondig. Ek het boodskappe gepreek teen die einste dinge. En hier is ek nou, ‘n uitgeworpene.”

Jesus se boodskap is vir hom, en vir menigtes net soos hy.

“Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?” (Lukas 15:4, my kursief)

Jesus praat hier van ‘n skaap wat in die kraal was. Dit is duidelik, dat dit ‘n lid van Christus se kudde voorstel, een wat goed versorg is en gelei is deur ‘n liefdevolle herder. En tog het hierdie skaap verlore geraak, dus het die herder uitgegaan en hom gaan soek.

Let op wat Jesus hier oor die herder sê: “(Hy het gegaan) agter die een wat verlore was, totdat hy dit gekry het” (15:4). God gee nooit op op enige iemand wie aan Hom behoort het en verlore geraak het nie. Hy laat nooit toe dat die gevallene so ver wegdryf dat hy nie weer teruggebring kan word nie. In plaas daarvan gaan God uit om die skaap te vind, omhels dit en bring dit terug na die kraal.

Eenvoudig gestel, jy kan so ver gaan as om te sê dat jy by die rand van die hel gekom het, en Hy sal jou nog steeds najaag. Dawid getuig: “Maak ek die doderyk my bed, kyk U is daar” (Psalm 139:8)

Ons het almal al die uitdrukking gehoor “hel op aarde.” Dit is wat die lewe vir sommige is wat van God weggehardloop het. Hulle “bed in die hel” is ‘n verskriklike, aaklige toestand. Dit beteken om vasgevang deur sonde te wees, en verder en verder van die Here af te dryf totdat jy einteindelik in ‘n lewelose sluimering in verval. Hierdie sluimering gaan gepaard met ‘n aanhoudende vrees wat fluister, “Jy gaan dieper en dieper in die hel in. Jy mag dalk nooit weer terugkeer na God nie.”

Vir jare, het my vrou, Gwen, en ek ‘n prediker se gevalle dogter gesien vir berading. As ‘n jong dogter is sy geroep om ‘n sendeling te word, en sy het ‘n hart vir die Here gehad. Sy is in ‘n goddelike huis grootgemaak, maar as ‘n tiener het sy in opstand gekom. Uiteindelik, op die ouderdom van agtien, het sy van die huis weggehardloop en met ‘n ateïs getrou.

Van tyd tot tyd sou die jong vrou ons huis besoek en ek en Gwen sou haar beraad. Dit het voorgekom asof sy daarop reageer, maar oor die jare het sy haar hart stadig verhard. Sy en haar man het twee seuns, en albei van hulle het grootgeword en ateïste geword.

Vir jare het hierdie vrou geleef en het die gedagte aan haar roeping haar nie losgelaat nie, en met die tyd saam het sy verbittered geraak daaroor. Op ‘n sekere stadium het sy vir ons gesê, “Moet asseblief nie meer oor my roeping praat nie. Ek het my bed gemaak en ek moet daarin lê. Ek is getroud met ‘n ateïs, en my lewe is ‘n lewende hel.”

Die vrou was baie naby aan Gwen, wie haar altyd sou omhels en vir haar vertel hoe lief die Here haar het. Maar op ‘n stadium het die vrou oortuig geword, “Ek kan nie terug gaan na waar ek veronderstel is om te wees nie. Julle sien hoe ver ek al is. Dit is verby met my.”

En tog het die Heilige Gees aangehou om haar te roep “en boodskappe gelos.” Soos Jesus vir ons in die vergelyking vertel, hy gaan agter die verlore skaap aan totdat hy hom vind.

Jare later, toe die vrou reeds in haar sestiger jare was, het sy ons eendag gekontak. Sy was geskei en het in ‘n nuwe woonplek ingetrek. Sy was besig om dit te restoreer en het ook ‘n nuwe werk. Sy het selfs opgewonde geklink toe sy ons vertel het, “Uiteindelik, dink ek, is ek by die plek in my lewe waar ek vrede kan hê. Dalk sal dit nou moontlik wees om ‘n goeie lewe te leef.”

Die volgende week, het sy ‘n seer keel ontwikkel. Sy het haarself in ‘n hospitaal laat opneem, maar binne dae het sy gesterf. Die vrou was nooit siek nie, en in so ‘n kort tydjie was haar lewe verby.

‘n Familielid wat haar in die hospitaal gesien het, het later vir ons vertel dat die vrou tot Jesus gebid het voordat sy gesterf het. Klaarblyklik het Jesus na haar uitgereik in die laaste oomblikke van haar lewe en haar in Sy arms opgetel, daarna het Hy haar saam met Hom huistoe geneem.

Ek glo dat Jesus haar om middernag geneem het, net toe sy in die ewigheid in verdwyn het. Ek kan my Hom voorstel waar Hy sê, “Ek het vir hierdie skaap gekom vir jare. En die heel tyd, het ek gewag vir net een uitroep.”

Christus vertel vir my hierdeur, “Dit maak nie saak wat jy gedoen het nie. Jy mag dalk jou bed in die hel gemaak het, maar jy is nie te diep in die sonde vir My om uit te reik en jou met ope arms te ontvang nie.”

As die Herder die verlore, beseerde skaap vind, neem Hy dit nie dadelik na die kudde nie. Volgens die gelykenis, neem Hy die skaap, op sy skouer, en dra dit na sy huis. Dan roep Hy al sy bure en vriende en sê: “Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry, wat verlore was” (Luk. 15:6).

In hierdie laaste vers vind ons die kern van al drie die gelykenisse. In al drie praat Jesus van die eienaar se blydskap: “Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie” (Luk. 15:7).

Ek was, oor die jare, getuie van baie verlore skape wat gevind en genees is. Dikwels het ek agter gekom dat hulle wat gevind en herstel is, nie waarlik vreugde in Jesus gevind het nie. Hulle het geweet hulle was vergewe en bemind. Maar na ‘n lang tyd het hulle steeds hulleself veroordeel, en gedink. “Ek het sulke vreeslike dinge gedoen. Ek moet daarvoor vergoed teenoor die Here, my geliefdes en die gemeente van Christus.

Hulle word agtervolg deur gedagtes van verlore tyd, vermorste jare, en die gevoel dat hulle nooit die Here kan bly maak nie. So probeer hulle met alles in hulle vermoë om God gunstig te stem teenoor hulle. Hulle is gedurig besig met werke in die vlees. Al die tyd was Jesus meer gewillig om hulle te vergewe, as wat hulle was om hulleself te vergewe.

Is dit waarom Christus by herhaling hierdie gelykenisse vertel hoe God verheug is as die verlorenes gevind is? Dink aan die gelykenis van die skaap: as ons in die skaapwagters hut sou kyk, sou ons sien hoe die verlore skaap liefderik gewas, gekam en versorg word.

Die herder verwyt nooit die beseerde skaap nie. Hy vertel nie vir andere hoe die skaap weggehardloop het nie. Inteendeel, hierdie herder verbly hom voor almal, “Kyk na hierdie een wat verlore was en gevind is Dit is ‘n bewys van my genade.”

Buitendien, sal al die verlore tyd, toe die skaap verlore was, nou herwin word, God se Woord sê: “Wees bly en juig, want die Here het ‘n wonder gedoen … Ek sal julle vergoed vir die jare wat die treksprinkaan verslind het … Julle sal oorgenoeg hê om te eet, julle sal die Naam van die Here, julle God, prys. Hy wat wonders vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer in die skande kom nie.” (Joel 2:21, 25 – 27).

Let op die laaste vers: Dit maak nie saak wat jy gedoen het nie. Hoe ver jy afgedwaal het nie. As die Herder jou terugbring is jy volkome gered. Daar is geen rede vir jou om in die vlees te swoeg om op te maak vir wat jy gedoen het nie. Jou Verlosser sê: “Daar is geen rede meer vir jou om jou te skaam nie. Ek het jou verlos, vrygekoop.”

“Watter vrou wat tien muntstukke gehad het, as sy een verloor het, nie ‘n lamp opsteek, die huis vee en deeglik daarna soek, totdat sy dit gekry het nie” (Luk. 15:8) Weereens, ‘n soeker gaan agter haar verlore waardevolle goedere aan, totdat sy dit vind.

“En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry” (Luk. 15:9). In die tweede gelykenis, is die eerste ding wat die eienaar doen, as sy haar geldstuk kry, om haar te verbly. Albei gelykenisse beklemtoon hierdie tema: ‘Daar is groot vreugde as dit wat verlore was, gevind word.’ “Net so is daar blydskap, onder die engele van God, oor een sondaar wat hom bekeer” (Luk. 15:10).

In die vroeë sestiger jare, na my vader se dood, het ek na New York gekom om met bende-leiers en verslaafdes te werk. My moeder en haar vriendin, Faye, het saam met ons gewerk. Dit was aan die begin van die “hippie” tyd, die strate van Greenwich Village was vol van die voorlees van gedigte, “rock” orkeste en homoseksueles.

My moeder was lief daarvoor om in die strate van die dorp te werk, daarom het sy gevra dat ons ‘n koffiekroeg moet oopmaak. Ons sou gratis koffie en “donuts” aan die mense gee wat ingekom het en sy sou teenoor hulle getuig. Ons het daardie koffiekroeg “The Lost Coin” genoem. My Ma het met elkeen wat ingekom het gepraat. Haar leuse was: “As net een persoon gered word, was dit die moeite werd.

Eendag het ‘n Jood ingekom en by ‘n tafel gaan sit. My Ma het langs hom gaan sit en vir hom van die Messias begin vertel. Hierdie jong man was ‘n uitgewerpte deur beide sy Joodse herkoms en die Amerikaanse gemeenskap. Sy naam was Kurt. Soos baie jong mense van daardie tyd, was hy ook soekendes na die waarheid. Hy het bly kom en my Ma het steeds met hom gepraat. Eindelik het hy sy lewe vir Jesus gegee.

Daar het baie jong mense na daardie koffiekroeg gekom. Baie was deur die Heilige Gees oortuig, hulle het hulle bekeer en het Jesus aangeneem. Maar daar was een jong man in die besonder wat die Heilige Gees wou opvee uit die strate van Greenwich Village: Kurt.

My Moeder het sedertdien verhuis na haar Heer. In die jare daarna het Kurt se getuienis vermenigvuldig en voortgegaan. Sy verhaal is oor die wêreld gelees in “Guideposts” tydskrif. Hy en sy vrou, Barbara, het my preke vir meer as vyf en dertig jaar gedruk en versprei, asook deur middel van hulle webwerf, Misslink.org wat deur honderde duisende wereldwyd besoek en gebruik word om programme af te laai.

Dit gaan alles terug na die gelykenis van die verlore muntstuk. Die vrou het gevee en gevee totdat sy die muntstuk gekry het. Sy het vir haarself gesê: “Ek sal vee tot ek dit kry.” By die “Lost Coin” koffiekroeg was Kurt die kosbare muntstuk.

Hierdie verhaal gaan oor twee verlore muntstukke, dit speel af in oorlog geteisterde Kosovo, Serbië. Terwyl strydende soldate deur die verwoeste strate gestroom het, met misiele wat om hulle val, was die Heilige Gees ook besig om te vee om verlorenes te vind.

‘n Man en sy vrou was heroin-verslaafdes wat op die strate van die stad gewoon het. ‘n Verbygaande Christen het vir hulle ‘n eksemplaar van my boek: “The Cross and the Switchblade” gegee. Die twee het besluit om ‘n hoofstuk op ‘n keer te lees en tussendeur heroïne te gebruik.

Na elke hoofstuk, het hulle heroïne gebruik, maar elke nuwe hoofstuk het ‘n nuwe sprankie hoop gebring. Hulle het gedink: “Miskien is daar nog hoop en redding moontlik.” Hulle het opgestaan na ‘n klein kerkie geloop en hulle lewens aan Jesus oorgegee.

Vandag is hierdie twee mense die leiers van die “Teen Challenge” uitreiking aan dwelm-verslaafde in Serbië. Dit alles omdat die Heilige Gees die strate van ‘n oorlog geteisterde stad gevee het, op soek na verlorenes. Dink net hoe God gejuig het omdat hierdie twee verlorenes gevind is.

Ons noem hierdie man die verlore seun. Die verhaal is baie bekend by die meeste lesers. Ek wil net dit daaroor sê: Dit is nie hoofsaaklik oor die verlore seun nie, maar oor die vreugde van die Vader.

Die verhaal gaan oor terugkeer, maar veral oor die vreugde van die Vader. Die verhaal gaan oor terugkeer, maar veral oor genade, vergewing en aanvaarding of herstel. Dit gaan nie net oor die terugkeer van die seun nie. Lees weer die verhaal en jy sal sien dat dit nie daar eindig nie.

Nee, die verhaal gaan ook oor wat die seun by die huis gehou het. Wat het dit veroorsaak? Dit is die wete dat sy vader bly is oor hom. “Hierdie seun van my was dood en hy lewe weer; hy was verlore en ek het hom teruggekry. Toe het hulle begin feesvier” (Luk. 15:24-25).

Sy pa het hom nooit verwyt of berispe nie, nooit veroordeel nie. Hy praat nooit eers daaroor dat sy seun weggeloop het nie. In teendeel, hy laat hulle feesvier. Hy nooi al die familie en vriende uit. Hy het na sy seun verlang, en nou was hy hier!

Die verlore seun protesteer eers: “Nee, nee, ek is dit nie werd nie.” Sy pa ignoreer dit en versoek dat hulle klere,‘n ring en skoene moet bring en hom dit moet aantrek. Alles wat sy vader besit het, was nou weer tot sy beskikking. En daar was groot vreugde met musiek, dans en feesviering.

Ek glo dat liefde hierdie jong man huis toe gebring het, maar dit was sy vader se blydskap wat hom daar gehou het. Jy sien, die seun is behou eenvoudig deur dat hy elke oggend wakker geword het met die wete: my pa is bly dat ek hier is. Die vader se vreugde het daarin gelê dat sy seun by hom was. Meer nog, alles wat deur die kankerwurm verteer was, is daagliks weer opgebou.

Ek het baie verslaafdes geken, wat soos die verlore seun was. Hulle kan alleen maar dink aan wat hulle verloor het: eggenote, kinders, bediening. Hulle voel die vader se tugtiging en dit maak seer. Maar Jesus vertel vir hulle hierdie gelykenis: “Niks is verlore in My koninkryk nie. Jy gaan nou sterker gemaak word. Jy is nou by die huis. My genade sal jou volkome herstel.

Terwyl ek hierdie preek voorberei het, het ek deur notas gelees van ‘n preek van sewentien jaar gelede. Daarin is ‘n ware illustrasie van een van my geestelike seuns.

Gwen en ek was lief vir hierdie jongman, van die begin af. Hy was toegewy aan die Here, ‘n ware sielewenner, en gerespekteer deur baie. Hy is deur sonde verras en het moreel geval.

Hy was skaam oor wat gebeur het en jammer oor die hartseer wat hy andere aangedoen het. Meer as enigiets anders was hy platgeslaan dat hy sy Here bedroef het. In sy verwarring het hy weer op kokaïne teruggeval om sy emosies te verdruk.

Hierdie man het die verlore seun geword. Hy het van sy vrou geskei, in ‘n besigheid betrokke geraak en het groot sukses behaal. Hy het luukse motors gekoop en met ryk en gesiene mense begin assosieer. Gedurende hierdie tyd, het hy kokaïne gebruik en hewig begin drink. Hy het in geestelike vrees geleef en gewonder “Sal ek so ver van God afdwaal dat ek nie meer kan terugkom nie?”

Net soos die verlore seun het hy alles op wêreld se plesier uitgegee. Probleme het toegeneem, sy gesondheid het gekwyn. Hy het hartprobleme ontwikkel en begin bloed spuug. Op ‘n stadium het hy hom vir drie dae in ‘n kamer toegesluit, kokaiene gebruik en gehoop hy kon sterf.

Een dag, bevind hy hom aan die einde van homself, alleen in ‘n kamer, verwond en aan die drink. Hy was oortuig dat hy oppad was hel toe. Eindelik val hy op sy gesig en roep uit na God: “Help my, asseblief! Neem my terug!”

Die Vader het onmiddelik op die man se uitroep gereageer. Hy het hom omhels en teruggeneem. Wat ‘n vreuge was dit vir my toe ek by ‘n vriend navraag doen oor hierdie man, om te hoor: “Het jy nie gehoor nie? Hy het skoongemaak en God seën hom.”

Daardie teruggekeerde verlore seun, het verlede maand hier in Times Square Church gesit toe ek hierdie boodskap gebring het. Hy was hier om Gwen en myself te besoek.

Geliefde lydende, voel jy soos ‘n uitgeworpene? Voel jy onwaardig om die Vader se liefde te aanvaar? Al wat jy nodig het om te doen, is om uit te roep. Net een hulproep en die Ware Herder sal uitreik en jou in sy arms neem. Die Een wat al jare lank na jou soek, is gereed om jou te ontvang. Dit het tyd geword dat jy huis toe kom, na Jesus toe.