Die Duiwel se Spertyd!

David Wilkerson

“Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12).

As volgelinge van Jesus Christus, moet ons heeltyd daarvan bewus wees dat die duiwel daarop uit is om ons te vernietig. Daarom sê Paulus dat ons soveel as moontlik oor die vyand se taktiek en planne moet weet: “Sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Korinthiërs 2:11).

Die bogenoemde gedeelte van Openbaring sê vir ons dat Satan ‘n volskaalse oorlog teen God se heiliges verklaar het. Dit beteken ook dat die duiwel ‘n spertyd het om sy werk af te handel: “omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12).

Terwyl talle Christene op hierdie middernag-uur sluimer, net soos Jesus voorspel het, werk die duiwel verwoed en berei hy voor vir oorlog. Hy is deeglik bewus van die kort tyd wat hy oor het om sy bose doelwitte te bereik en daarom hy laat hy homself nie toe om te rus nie. Hy is alewig aan die konkel en beplan maniere om die kerk van Jesus Christus te teister en te vernietig!

So, wanneer het die duiwel vir die eerste keer besef dat sy tyd kort was? Het hierdie kennis na Hom gekom oor die afgelope eeu, toe hy die tekens van die tye gelees het? Het hy dit besef toe die nasie van Israel weer gebore was en nasie teen nasie begin opstaan het? Het hy dit herken toe hy ‘n groot afvalligheid van die Christelike geloof bespeur het? Het hy dit skielik afgelei uit Bybelse verwysings met betrekking tot hierdie gebeure dat Jesus op die punt was om terug te keer vir sy bruid?

En toe die duiwel tot hierdie gevolgtrekking gekom het dat sy tyd kort was, het hy paniekerig geraak? Het hy geskarrel om ‘n oorlogskamer op die aarde op te rig en ‘n laaste wanhopige, woeste oorlog teen die kerk te beplan? Het hy vir homself gesê, “Die tyd vlieg verby. Ek moet vinnig werk, omdat ek net ‘n kort tyd het voor Christus terugkeer!

Nee! Satan se spertyd was eeue gelede aan hom gegee. Dit kan nagespeur word tot by die wonder wat in die hemel plaasgevind het. Hierdie wonder was ‘n ontsaglike oorlog, toe Satan vasbeslote was om die Chrisuskind te vernietig:

“En daar het ‘n groot teken in die hemel verskyn: ‘n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre; en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barensnood” (Openbaring 12:1-2).

Die son in hierdie gedeelte verteenwoordig God. En die vrou wat met die son geklee was, verteenwoordig Christus se bruid, of God se uitverkore mense. (Sy is gekroon met die twaalf sterre, wat staan vir die twaalf stamme van Israel, sowel as die twaalf dissipels.) Uiteindelik is die kind wat hier gebore moes word, Jesus, die Verlosser. Die gedeelte gaan voort:

“En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het  gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het” (Openbaring 12:3-4).

Satan word hier uitgebeeld waar hy op die aarde wag om die Christuskind te vernietig met sy geboorte. En o, hoe dikwels het die duiwel probeer om Jesus te verslind! Satan het eers Herodus gebruik om Christus te probeer vernietig toe die bose koning beveel het dat al die manlike baba’s in Bethlehem doodgemaak moes word. Herodus se groot woede was ‘n demoniese woedebui, ‘n manifestering van die duiwel self!

Jy mag wonder, “As Herodus Satan-besete was, waarom het die duiwel nie vir hom gewys watter kind die Christus was nie? Waarom moes alle manlike baba’s doodgemaak word? Die Here het Satan se oë verblind! Soos die gedeelte vir ons sê, het God Christus vir die vyand weggesteek vir ‘n tydperk: “En sy het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon” (Openbaring 12:5).

Die Skrif sê die volgende, “En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie” (Openbaring 12:7-8). Hierdie oorlog was deur Satan gevoer teen die Seun van God en die duiwel het verloor. Hy was oorwin deur die bloed van die kruis en vir eens en vir altyd verslaan!

Trouens, Satan het sy toegang tot die hemel verloor: “En hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie” (Openbaring 12:8). “Die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat op die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Eens wat die duiwel se bewegings nie tot die aarde beperk nie. Job vertel vir ons, “En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom” (Job 1:6). Die duiwel moes seker dikwels voor God se troon gekom het as die aanklaer van die broeders.

Maar vandag het Satan nie meer God se oor nie. Hy kan God se kinders nie meer van enigiets aankla nie, omdat Christus se bloed oor al sy leuens oorwin het! Jesus se voorbidding vir ons nou, het niks te doen daarmee om Satan se beskuldigings teen ons te weerlê nie. So ver as wat God betref, het die oorwinning van die kruis dit alles tot niet gemaak!

Satan mag vir jou lieg en jou geen rus gee van sy beskuldigings nie. Maar Hy kan jou nie by jou hemelse Vader aankla nie. Hy is uit die hemel verban en al sy beskuldigings is betekenisloos!

Die groot kosmiese oorlog is nie meer tussen Christus en die duiwel nie. Jesus sit nou veilig by die hemelse Vader, ver buite bereik van Satan. Maar die duiwel voer steeds oorlog teen Christus deur dit te rig teen sy saad!

“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus hou” (Openbaring 12:17). Dieselfde woede en versoeking wat Satan teen Jesus gemik het in die woestyn, kom nou teen almal wat Christus volg!

Petrus gee vir ons hierdie waarskuwing: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8). Dit beteken nie dat die duiwel êrens in die heelal sweef en bevele aan sy demoniese hordes gee nie. Ons het pas gelees dat Satan neergewerp was op die aarde, waar Christus hom aan die kruis verslaan het. Daarom is die duiwel se koninkryk beperk tot die hier-en-nou.

(Die geestelik boosheid in hoë plekke waarvan Paulus praat het te doen met die geestelike verdorwenheid in hoë regeringskantore en afvallige kerkleierskap. Paulus sê Satan se gees is aan die werk in talle wat hierdie invloedryke posisies beklee.)

In teenstelling met die denke van sommige Christene, besit Satan nie almagtige krag nie. Hy was deur Jesus verslaan en gestroop van alle gesag. Satan is ook nie alwetend nie, wat beteken dat hy nie gedagtes kan lees nie. En hy is ook nie alomteenwoordig nie, hy kan nie orals op een spesifieke tyd wees nie. Hy is fisies beperk tot een plek op een tyd.

Maar Satan het owerhede en magte regdeur die aarde. En sy leër van demone verskaf vir hom die intelligensie op sy versoek. Hulle hoor wanneer jy bid en hulle sien jou gehoorsaamheid aan God. En dit is wat Satan se toorn teen jou opwek!

As die Skrif sê, die duiwel “weet dat hy min tyd het” (vers 12), verwys dit nie na die tyd wat Satan oor het voor die terugkeer van Christus nie. Dit is eerder, voortdurende spertye, ‘n reeks kort tye wat die duiwel het om sy werk te verrig. Dit gaan alles oor die kort tye wat hy het om oorlog te maak teen God se heiliges!

As ons navors wat dit beteken vir die duiwel om hierdie kort tydjie te hê, moet ons vra: Wat doen ons wat hom so woedend maak vir ons? Wat veroorsaak hom ons te oorstroom met die hel se hele arsenaal? Hoe wek ons die magte van die duisternis op wat ons probeer verslind?

Ek glo ons doen drie dinge wat die duiwel se toorn aantrek:

Miskien het jy onlangs jou toewyding hernu om met alle ywer te bid. Of miskien het jy ‘n honger uitgedruk om voor die Here in heiligheid te wandel. Of miskien het jy jou verstand en liggaam aan God as ‘n lewende offer gebring. Jy het uitgeroep, ek gaan nie meer halfpad nie. Ek gee alles wat ek het vir Jesus!

Hierdie soort toewydings wek die duiwel se toorn op soos niks anders kan nie. Hy weet dat iemand wie se lewe heeltemal oorgegee is aan God, ‘n groot bedreiging vir sy koninkryk is. Hy onthou die lewens van Petrus, Paulus, Filippus, individue wat uit die skare uitgetree het en uitgeroep het, “Ek doen dit op God se manier!” Hulle het alles aan Christus oorgegee en hulle maak amok in Satan se koninkryk!

Die duiwel weet maar al te goed dat almal wat God met hul hele hart soek, Hom sal vind en dat biddende heiliges uiteindelik sal oorwin, dat God elke lewende offer wat aan Hom gegee is met ‘n hele hart aanvaar en dat die honger gees versadig sal word.

Maar Satan weet ook daar is ‘n tydperk tussen die uitspreek van ‘n gebed en wanneer dit beantwoord word. Geliefde, dit is die duiwel se kort tyd om te werk! Hy weet die lastige weduwee het vir ‘n tydperk geroep voor sy gehoor was. En net so, sal ons antwoord kom op die aangewese tyd. In die tussentyd, probeer die duiwel ons verslind, terwyl ons op die Here wag!

God spring nie elke keer wat ons roep, “Here, ek gee dit alles vir U,” nie! God weet dat toewyding, oorgawe en ‘n honger vir Christus nie altyd ‘n eenmalige, emosionele uitroep vergesel nie. Daarom, sal sy Gees nie reageer totdat Hy in ons ‘n gehandhaafde vasbeslotenheid sien, een of ander bewys, dat ons nie sal terugkeer van ons honger nie.

Satan herken dit ook. Hy weet uit sy waarneming van ons lewens wanneer ons nie ernstig is oor ons toewyding aan die Here nie. As ons nie ernstig is om dit deur te voer nie, mors hy nie sy tyd met ons nie. Hy laat ons alleen in ons swakheid en sonde.

Maar die oomblik wat hy ware toewyding in ons sien, ‘n begeerte om vrygemaak te word van sonde, ‘n vasbeslotenheid om alle dwaasheid te laat vaar en ons met Christus te beklee, dan weet hy sy tyd is kort. Hy weet daar sal slegs ‘n kort tydjie wees voor ons uit sy koue sal ontsnap, in heerlikheid sal wandel en deur geloof sal optree en in oorwinning lewe. Dit is wanneer hy alles in die hel teen ons begin gooi!

Dit is die presiese rede waarom so baie toegewyde gelowiges in die liggaam van Christus tans deur intense beproewings gaan. Openbaring 12 sê vir ons: Gaan voort, Christen, kom uit jou lusteloosheid uit. Onderwerp jou liggaam aan Jesus as ‘n lewende offer. Vertrou die Heilige Gees om jou van elke begeerte te verlos. Soek God met alles wat in jou is. Maar wees voorbereid om die beproewing van jou lewe te beleef, omdat Satan teen jou gaan kom met al sy krag!

“Die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi om haar te laat wegvoer deur die rivier” (Openbaring 12:15). Jy gaan oorval word met verskriklike versoekings, teisterende geeste, moegheid, neerslagtigheid, ongeloof en moedeloosheid. Die vyand sal jou probeer teister in jou ligaam, siel en gees!

Satan ken jou swakhede, jou stryd met die vlees, begeertes of probleme in jou gedagtes en hy sal hard aan daardie areas werk. Hy sal jou probeer wegvoer in ‘n stroom van probleme en versoekings en alles in sy vermoë doen om jou te verslaan. Hy is paniekbevange, omdat hy jou op die rand van ‘n oorwinning sien, en hy weet sy tyd is kort!

Dit is tragies dat die duiwel dikwels slaag in sy kort tyd. Talle gelowiges verloor moed en gee oor aan versoeking en wanhoop. Hulle glo Satan se leuens dat hulle nikswerd, onrein en nooit vry gaan wees nie. En op die ou end lei hulle geloof skipbreuk.

Sulke leuens bereik in der waarheid nooit God se ore nie. Hy sal niks van Satan toelaat in die hemel nie. So, ons moet ook ons ore vir die duiwel sluit, deur geloof aan Christus se werk aan die kruis!

Vra enigeen wat deur God geroep is om in een of ander nuwe werk van die koninkryk en daardie persoon sal vir jou sê, Satan het met woede teen hom gekom en een verdrukking na ‘n ander op hom gewerp.

Die duiwel luister na jou. Hy hoor alles van daardie nuwe stap van geloof wat God jou geroep het om te neem. Jy het daaroor gebid, daaroor gepraat en jy het raad by ander daaromtrent gevra. En toe Satan hoor jy sê ja vir God, het hy geweet hy het ‘n kort tydjie om daardie roeping heeltemal te vernietig!

So was dit in die lewe van Christus. Skaars was Jesus gedoop met die duif wat verskyn het en die stem uit die hemel wat Hom die Lam van God, die Verlosser van die wêreld verklaar het, of Satan het aan die werk gespring. Hy het geweet hy het net veertig dae en nagte om te probeer om Jesus te verslind en sy bediening te stop. En hy het koorsagtig gewerk en elke skelmstreek in die hel gebruik!

Skaars het Jesus vir Petrus ‘n rots van geloof verklaar, of Satan het inbeweeg om die dissipel te sif deur hom te dryf na ongeloof en verloëning. Satan het geweet hy moes vinnig optree in Petrus se lewe, voor Jesus se woorde oor die dissipel waar sou word. Maar die versoeking het uiteindelik misluk, omdat daardie rots van ‘n man vrees in Satan se koninkryk ingeboesem het!

Ek weet wat hierdie soort helse aanval is. Ek kom nou juis uit een van mees pynlike belewenisse van my lewe. En dit het alles gebeur omdat God onlangs ‘n vars roeping van bediening op my lewe geplaas het!

Nadat ek baie tyd in gebed deurgebring het, het ek beleef dat God se roeping my bediening uitgebrei het deur met bedienaars oor die wêreld te praat. (Ek verlaat nie die bediening by Times Square Church, of die bediening van hierdie geskrewe boodskappe nie. Ek voeg net hierdie sporadiese aspek van bediening by deur die leiding van die Heilige Gees.)

Ek beplan om hierdie lente te praat met bedienaars in vier nasies: Frankryk, Romenië, Pole, Masedonië en die Balkan lande. Hierdie laaste vergadering sou bedienaars van al die etniese groepe wat mekaar haat, insluit – Serviese bedienaars, Albaniese pastore, pastore van Kosovo en die Balkan lande. Hierdie mans sou saam aanbid, as een in Christus staan en in liefde vir Hom en vir mekaar saam wees.

Skaars het ek hierdie geskeduleerde reis beplan of Satan het inbeweeg. Tot op daardie punt het ek uitstekende gesondheid geniet. Maar skielik was ek fisiek getref. Binne ‘n paar uur, het ek so swak geword dat ek skaars kon loop. Ek het skerp buikpyne gevoel, asof ek probeer het om ‘n niersteen te passeer. Gou het daar vlekke op my maag verskyn.

‘n Doktersvriend van my het vir my gesê ek het gordelroos, ‘n siekte wat kom van die oorblyfsel van waterpokkies. Hoe ouer jy is as jy gordelroos kry (ek is oor sestig), hoe erger voel jy. Ek het weke in pyn deurgebring en geen medikasie kon dit stop nie. Ek het sere bo-op my vlekke gekry en ek kon nie slaap nie.

Die duiwel het gelyk of hy lag en sê, so jy praat van hierdie nuwe bediening opneem, nê? Jy sal nie as ek dit kan keer nie!

Nou, terwyl en hierdie boodskap skryf, binne weke van my reis, het al die sere verdwyn. Die Here het my opgerig en my nuwe krag gegee. Dit was alles die oorlogvoering uit die hel!

Dit was nog altyd so, regdeur my jare in bediening. Elke nuwe aanvaardig van ‘n roeping van die Here, is gevolg deur demoniese aanvalle spesifiek teen my vrou, Gwen, en my vier kinders. Die duiwel het dikwels probeer om my bang te maak deur my te dreig, “Elke ja vir God sal jou jou vrou kos, jou kinders en jou gesondheid.”

In die laat 1980s, toe ons na New York Stad toe getrek het, om Times Square Church te stig, het Gwen weer ‘n aanval van borskanker gehad. Sy moes ‘n noodoperasie ondergaan en daarna het ons gewonder of die chirurge al die kanker kon uitsny. Toe, op die dag wat Gwen uit die hospitaal uitgekom het, het ons ‘n oproep uit Texas gekry: Ons dogter, Bonnie was gediagnoseer met kanker. Sy het ‘n 30 persent kans op oorlewing gehad.

Ek het toe ook Satan hoor lag en sê, “So, jy dink jy gaan ‘n kerk in New York vestig? Dink weer, prediker!”

Satan probeer elke dienaar van God te ontmoedig met sulke leuens. Vandag is Gwen gesond en sterk en Bonnie is nou al vir tien jaar skoon van kanker. En op hierdie oomblik, terwyl ek hierdie boodskap skryf, voel ek glad geen fisieke pyne nie.

Die duiwel kom teen ons met al hierdie intense beproewings, omdat hy geweet het hy het net ‘n kort tyd om God se planne te vernieig. Maar ons moet hom nie vrees nie!

John Knox is ‘n groot voorbeeld van hoe ons die duiwel se leuens kan teëstaan. Knox was een van Brittanje se kragtigste predikers. Sy ontsagwekkende prediking het konings en koninginne laat bewe. En hy het ‘n regverdige lewe gehad om die evangelie wat hy verkondig het, te ondersteun, sonder dit in gedrang te bring.

In Knox se latere jare, toe hy terminaal siek geword het, het Satan nog ‘n spertyd gekry. Hierdie man het die hel woedend gemaak, waarskynlik soveel soos die apostel Paulus. Daarom het die duiwel hom daarop ingestel om in die kort tyd wat hy oorgehad het, Knox die ewigheid in te stuur met vrees en ongeloof.

Knox het geskryf, “My hele lewe lank is ek getoets en deur die Satan aangeval. Maar my huidige toets het my die ergste aangeval. Hy was daarop uit om my te verslind en ‘n einde aan my te maak. Dikwels voorheen, sou hy al my sonde voor my oë bring. Hy sou my probeer verstrik met al die aanloklikhede van hierdie wêreld. Maar die Gees het daardie aanval gebreek.

“Nou het hy my op ‘n ander manier aangeval. Hierdie geslepe duiwel het hard probeer om my te oortuig dat ek die hemel verdien het deur my getrouheid aan my bediening!” Knox het geweet dat verlossing deur geloof alleen kom. Hy het dit sy hele lewe lank verkondig en dit baie duidelik gestel dat niemand deur sy eie geregtigheid gered kan word nie, maak nie saak hoeveel goeie werke hy gedoen het nie. Maar nou het Satan probeer om die prediker te verdoem deur te laat struikel oor sy eie getrouheid!

Net voor sy dood, het Knox getuig, “Geseënd is God wat my in staat gestel het om hierdie vurige pyl neer te werp met gedeeltes uit die Skrif. “Deur die genade van God, is ek wat ek is, nie ek nie, maar die genade van God in my. Deur Jesus Christus het ek die oorwinning verkry. Die versoeker sal my nie weer aanraak in hierdie kort tyd nie. Ek sal binnekort hierdie verganklike lewe vir die geseënde onverganklike lewe verruil deur Jesus Christus!”

Dank God vir die getuienis van John Knox! Hy het die skrif gebruik om Satan te weerstaan en die Here het hom verlos. Hy het in heerlikheid huistoe gegaan terwyl hy in geloof God se lof besing het.

Wat ek nou gaan sê, mag jou moontlik aanstoot gegee. Maar die Bybel stel dit baie duidelik: As jy ‘n slaaf van wellus is, in sonde leef, sonder die Gees van Christs in jou, is jy ‘n kind van die duiwel self. Jesus sê, “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen” (Johannes 8:44). Hy sê in wese, Satan is in beheer van jou lewe. Daarom is jou vader nie God nie, maar die duiwel. Jy is deel van die vyand se familie, nie die Here s’n nie!

Natuurlik het Christus hierdie woorde gespreek vir ‘n godsdienstige skare wat gedink het hulle was goed in God se oë. Uiterlik was hulle rein en godsdienstig, maar innerlik was hulle vol wellus, sensualiteit, hoerery en gierigheid.

Daar is egter ook ‘n siekte wat die kinders van die duiwel tref. Dit is sonde-siekte. Hoe dieper ‘n mens val, hoe meer kritiek word hierdie siekte. Dit bereik ‘n hoogtepunt wanneer sonde skielik sy plesier verloor en vervelig en onvervullend word.

Sonde-siekte het ‘n bekende jong TV ster gedryf om selfmoord te pleeg net ‘n paar weke gelede. Die akteur het in ‘n suksesvolle reeks gespeel en het ‘n fortuin gemaak. Hy het pas kontrakte geteken om in films te speel en het met ’n pragtige aktrise uitgegaan. Hy het roem, voorspoed en goeie gesondheid geniet.

Maar toe is sy lewelose liggaam in ‘n goedkoop porno-hotel gekry. Waarskynlik het nie een van die wêreld se plesiere hom tevrede gestel nie. Sy lewe het leeg en betekenisloos geword en selfmoord het dit alles beëindig. Hy het gesterf as gevolg van sonde-siekte!

As jy nog nooit jou lewe vir Jesus gegee het nie, dan het die duiwel tot nou toe algehele beheer oor jou gehad. Hy het oor jou lewe geheers en dit beheer. Maar miskien sien Satan nou ‘n verandering wat oor jou kom en hy weet hy is besig om sy greep op jou te verloor!

Vir jou het sonde skielik sy soet smaak verloor. Jy gaan nie na die bose plekke wat jy eens dikwels besoek het nie. En jy is nie meer so angstig om partytjie te hou nie. Geld stel jou nie meer tevrede nie en ook nie seks of besittings nie. Jy voel ‘n groeiende leegheid in jou.

En nou is jy hier en lees jy hierdie boodskap. Miskien is het jy gewillig geword om die Bybel te lees. Niemand dwing jou om dit te doen nie; dit is iets binne-in jou wat jou dring om dit op te tel.

Geliefde, op hierdie oomblik klop Jesus aan die deur van jou hart en die duiwel weet dit. En die een ding wat Satan die bangste voor is, is dat jy die deur vir Christus sal oopmaak!

Die duiwel weet hy het net ‘n kort tyd oor om aan jou te werk. En nou gaan hy alles in sy vermoë probeer doen om jou te keer dat jy God se roeping aanvaar! Die evangelie van Lukas vertel vir ons van ‘n vader wat sy duiwelbesete seun na Jesus gebring het. Christus het die vader beveel, “Bring jou seun hier. En toe hy nog aankom, skeur die duiwel hom en laat hom stuiptrekkings kry” (Lukas 9:41-42). Die woord “skeur” beteken geweldige stuiptrekkings en verskriklike skudding.

Hierdie jongman het na Christus gekom om vrygemaak te word, uit die koninkryk van die duisternis na die koninkryk van die lig. Die duiwels het gesien hy was op die punt nog ‘n slagoffer te verloor. Daarom het hy in ‘n woedebui die jongman op die grond gegooi in een laaste gewelddadige aanval. Hy wou hom doodmaak en sy siel neem voor Jesus hom kon verlos!

Satan sal dieselfde ding met jou probeer vandag. Die oomblik waarop jy na Christus beweeg, sal hy een laaste verterende aanval probeer. Hy sal die mees aanloklikste versoekings oor jou pad stuur. Hy sal probeer om jou neer te werp met leuens en jou vertel jy sal nooit verlos word van sonde en wellus nie. Hy sal jou probeer oortuig jy sal altyd syne wees, nie God s’n nie!

Maar laat my jou herinner: Die oomblik waarop jy na Jesus beweeg, word die duiwels hulpeloos gelaat. Hy kan niemand, wat na Christus op pad is, keer nie. Hy kon nie die duiwelbesete jongman keer om Jesus te bereik nie. Al wat Christus gedoen het, was om ‘n woord te sê: “Maar Jesus het die onreine gees bestraf en die seun genees en hom aan sy vader teruggegee” (Lukas 9:42).

Jakobus beveel ons, “Weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). So, hoe weerstaan jy die vyand? Jy doen dit deur geloof alleen! Kom eenvoudig na Jesus toe en vertrou Hy sal jou red uit al die kloue van Satan. “Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Petrus 5:9).

Vandag kan jy vry wees. Jy kan vir Satan sê, “Wanneer ek hierdie boodskap klaar gelees het, gaan ek ‘n vry mens wees. Jesus is my Verlosser en Hy gaan my verlos van elke begeerte en ongoddelike passie. Dit gaan alles waai, omdat Hy so sê!

Die tye wat voorlê, mag moontlik vir jou moeilik wees. Maar die Vader se heerlike, gloeiende son sal al helderder vir jou skyn!