Die Dood van Deernis!

David Wilkerson

‘n Crack-verslaafde moeder het haar eie ses jaar oue dogter, Elisa, doodgemaak deur haar met ‘n kussing te versmoor.

Vierjarige Nadine het van honger omgekom in haar moeder se huis in die Bronx. Polisie het die meisie opgesluit in ‘n slaapkamer gevind – verskrompel, uitgeteer en opgekrul in die fetale posisie. Al haar hulpgeroepe was nie gehoor deur haar crack-verslaafde moeder nie.

‘n Twintig jarige moeder het haar drie kinders na die dak van hulle woonstelkompleks geneem. Sy het stelselmatig een vir een die skreeuende kinders van die dak na hulle dood gestamp. Toe het sy gespring en na haar dood geval. New York se Daily News het foto’s gewys van ontstelde bystanders wat in ongeloof huil oor die toneel van die moeder en drie kinders wat dood in die straat gelê het. Mense het omgekrul van pyn by die aanskoue van die gesig. Verskrik het hulle uitgeroep, “Wat het van ons land geword?”

‘n Sestienjarige meisie het van die opgeligte trein in Brooklyn afgespring en geval op ‘n klein seuntjie, wat gehardloop het om te speel met ‘n nuwe speelding, wat sy ma vir hom gekoop het. Terwyl ek hier skryf, is hierdie seuntjie in ‘n hospitaal in ‘n koma. Die tienermeise het gesterf.

‘n Radelose moeder het haar klein dogtertjie op ‘n bed neergelê, die kind se kop met ‘n trui toegemaak, na die kombuis gegaan, ‘n mes gekry en begin om die meisie dood te steek. Later kon die ma geen verduideliking vir haar daad gee nie. En dit het gelyk of sy geen berou daaroor gehad het nie.

‘n Ander moeder het smoordronk geword, haar twee kinders in ‘n kar gelaai en wild begin ry met die straat af. Sy het twee kinders raakgery en hulle is op slag dood en toe het die kar teen die skeidsmuur gebots wat gelei het tot haar en haar kinders se dood. Vier kinders leweloos – doodgemaak binne ‘n oomblik deur ‘n ma in dronk bedwelming!

Ek kan verder en verder gaan, met een tragiese storie op ‘n ander. Dit is net ‘n paar van die stories wat in ons New York Stad se koerante verskyn het die afgelope paar maande. Daar is klaarblyklik geen einde aan al die verskriklike misdade wat teen kinders gepleeg word nie. En dit gebeur dwarsdeur die land.

Ek glo dit is al wat God kan doen om Homself te keer om in te gryp voor die einde van tyd en ‘n einde te maak aan dit alles. Ek sal nooit glo Hy is net een of ander goedaardige gees wat in die hemel sit en onaangeraak is deur die verskriklike gees van moord wat los is in hierdie land nie. Nee – Hy is ‘n deernisvolle Vader wat gekwel word oor sy lydende kinders.

Gedurende sy tyd op aarde, was Jesus die verpersoonliking van God se deernis. Die Skrif sê dikwels dat Christus “innig jammer gevoel het” vir die lydende mense. En as dit die geval was in die eerste eeu, watter groot droefheid moet daar nie nou in ons Here se hart wees nie!

Die Bybel sê vir ons, “...sy barmhartighede het geen einde nie” (Klaagliedere 3:22). “Maar U, HERE, is ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Psalm 86:15).

Die meeste Christene wat vandag leef, sou graag wou dink dat hulle soos Jesus,  “innig jammer voel” vir mense.

As ek stories soos hierdie in ons koerante lees, voel ek ook innig jammer en vol deernis vir die mense. Selfs die slegste sondaars word met deernis gevul wanneer hulle van die lyding van kinders hoor. Ek hoor hulle praat met bewende stemme op radio geselsprogramme terwyl ek my kar bestuur. Hulle sê, “Hoe verskriklik tragies en jammer! Wat het van ons nasie geword? Ons behoort al die dwelmverslaafde moeders toe te sluit. Ons moet sterker teen misdaad optree.” Nadat een omroeper verskeie soortgelyke oproepe geneem het, het hy verklaar, “Amerika is steeds vol deernis!”

Maar deernis is nie net jammerte of simpatie nie. Dit is baie meer as om net tot trane gedryf te word of emosioneel aangeraak te word – meer as om openlik te praat teen die boosheid agter sulke misdade. Deernis beteken jammerte, medelye en barmhartigheid vergesel met ‘n begeerte om dinge te verander. Ware deernisvolle gevoelens dring ons om iets daaromtrent te doen!

Dit word geïllustreer in die deernis wat Jesus in die evangelies betoon het. Op een stadium het Hy na die woestyn vertrek om te bid. Toe die menigtes uitgevind het waar Hy Hom bevind het, het hulle Hom te voet gevolg vanaf al die omringende dorpe. In desperaatheid, het hulle vir Hom hul kreupeles, blindes, sterwendes en hul demoonbesetenes gebring.

Wat het Jesus gedoen? Die Bybel sê vir ons: “En toe Jesus uitgaan, het Hy ‘n groot skare gesien en innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak” (Matthéüs 14:14). Dit is deernis!

Sou Jesus belemmer gewees het deur ons hedendaagse denke, sou Hy dalk sy dissipels saamgeroep het vir ‘n komitee vergadering. Hy sou die probleme geanaliseer het en gepraat het oor die sonde wat die samelewing tot op so ‘n punt gebring het. Hy sou gewys het na die skuimende demoonbesetene en tranerig gesê het, “Kyk na wat sonde aan mense doen. Is dit nie tragies nie? Sien die loon van sonde aan die werk!”

Of, Hy kon gesê het, soos soveel skynheilige mense, “Kyk – Ek is baie moeg. Ek het hard gewerk om julle te bedien. Maar nou is Ek uitgeput en Ek moet met my Vader praat. Julle kan seker wees dat Ek julle pyn voel. Ek sê julle wat: Ek sal my dissipels byeenroep en ons sal ‘n gebedsbyeekoms hou. Ons sal in gebed saamstem oor julle behoeftes. Gaan nou in vrede.”

Dit is hedendaagse teologie in ‘n neute dop. Almal is gewillig om te bid – maar min is gewillig om op te tree!

Matthéüs 9 sê van Jesus, “En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie” (Matthéüs 9:36). Die frase “innig jammer gekry” beteken hier “aangespoor tot aksie.” So, wat het Jesus hieromtrent gedoen?

Hy het nie net gepraat nie. Sy hart was aangeraak en aangeroer deur dit wat Hy gesien het – en Hy het ‘n verterende begeerte gehad om dinge te verander! Het Hy jammer gevoel vir daardie mense? Ja. Het Hy simpatie gehad? Ja. Maar daardie gevoelens het Hom tot aksie aangespoor! Hy het gesê, “Ek sal alles doen wat Ek kan om ‘n verskil te maak!”

“En Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees” (Matthéüs 9:35). Dit was nie een of ander vae teologie nie. Jesus het nie alleenlik by die Vader uitgekom en gesê, “Here, stuur arbeiders in u oes in nie.” Jesus het self gegaan! Hy het hande op die melaatses gelê. Hy het diep, prakties, intiem betrokke geraak.

In Matthéüs 15 lees ons van ‘n ongelooflike toneel: “En ondertussen kom daar groot menigtes na Hom met kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by hulle, en hulle het dié by die voete van Jesus neergesit, en Hy het hulle gesond gemaak” (Matthéüs 15:30).

Ek dink nie ons kan hierdie toneel vandag waardeer nie. Kan jy jou dit voorstel? Oral rondom Jesus het daar honderde aangetaste mense op die grond gesit en gelê – die siekes, die moedeloses, klein kindertjies wat te siek was om regop te sit, mense wat hardop om hulp geroep het, wat gekreun het van pyn, koorsig en demonies besete was.

Jesus het hulle nie weggewys nie. Hy het wonderwerke van genesing en verlossing uitgevoer: Die stommes het gepraat, die kreupeles het gespring, die blindes het gesien, die siekes en aangetastes was skielik gesond gemaak. En met elke genesing, het die mense nog nader saamgedrom. Ek verbeel my die mense tel hulle siek kinders op en druk vorentoe, met die dissipels wat probeer orde handhaaf.

Hierdie mense was buite in die wildernis vir drie dae en sonder kos. En nou het hulle flou geval van die honger. Dit is toe dat Jesus gesê het, “Ek kry die menigtes innig jammer. Ek sal hulle nie sonder kos wegstuur nie, anders kan hulle op die pad beswyk.”

Ek kon net daar ophou en dit die fokus van hierdie boodskap maak: “Ek het deernis – en Ek sal hulle nie wegstuur nie!” Maar die Here wil vir ons baie meer sê:

Ons eens deernisvolle nasie is stadig maar seker besig om sy hart te verloor vir die armes en behoeftiges!

Amerika se deernis is besig om te kwyn! Hier in die hawe van New York Stad staan daar ‘n vrou wie se arms uitgestrek is vir die armes en behoeftiges vir meer as eenhonderd jaar. Dinge is egter nou besig om drasties te verander.

Staatgoewerneurs kompeteer met mekaar om te sien wie kan die meeste mense van die welsynslyste afhaal. Van die Wit Huis tot by stede en distrikte, is daar ‘n stormloop om voedselseëls in te kort en welsyn uit te wis – om so min as moontlik te gee. Net verlede maand, het President Clinton gepraat oor die baie duisende mense wat nie meer welsynsvoordele kry nie. En hier in New York Stad, droog voedselskemasentrums vinnig op. Fondse vir hulpprogramme taan.

Ek is nou wel nie ‘n politikus nie. Ek wil nie in ‘n politieke gesprek ingaan oor die reg en verkeerd van welsyn vir die armes nie. Ja, ek weet daar is baie bedrog in die stelsel. En ek glo daar moet veranderings plaasvind – dat alle gesonde mans moet werk en dat ons nie moeders moet betaal om nóg buite-egtelike baba’s op die welsynsrolle te plaas nie.

Maar wat my die meeste pla, is dat meeste van die retoriek wat ek oor die onderwerp hoor, gemeen van gees, koud en harteloos is. Daar is ‘n hardheid wat oor ons land versprei!

Ek sê vir jou, God sal nie toekyk en toelaat dat die rykste nasie op die aarde moeders en kinders op die straat sit nie. Hy sal nie toelaat dat biljoene spandeer word op ruimtenavorsing, terwyl ons stede se kinders hongersnood beleef nie. En wees gerus – ons is net twee jaar weg daarvan om honderde families op die strate van New York Stad te hê!

Ek ken die gevoel van middelklas werkers dwarsdeur die nasie terwyl hulle sukkel om finansieel te oorleef. Baie voorstedelike mense het goeie werke, maar word belas tot die dood toe. Hulle kan eenvoudig nie bekostig om hulle kinders te laat inent of vir hulle gesondheidsorg te gee nie – hulle hoor egter van ghetto moeders wat gratis gesondheidsorg ontvang. Hulle kans skaars kos op hulle tafels bekostig, terwyl gratis voedselseëls gaan na mense op welsyn. Een hardwerkende moeder het gesê, “Ek kan net sowel op welsyn gaan. Al my kinders sal dan mediese sorg ontvang.”

Ek verstaan al hierdie ekonomiese druk. Maar as Christene, kan ons nie toelaat dat ons land se koue, harde gees teenoor die armes ons beroof van deernis nie!

Een voormalige goewerneur oefen druk uit om ‘n nuwe wet in te stel wat genadedood wettig maak om die bejaarde ongesteldes dood te maak. Hy sê die nasie kan nie meer bekostig om “sy hulpbronne op hulle te vermors nie.” Hy stel voor dat die beste ding wat die bejaarde siekes kan doen, is om “te sterf en ons mediese hulpbronne vir die jonges te bewaar.”

Dit is skokkend! Ons het so hard en gevoelloos geword dat Jack Kevorkian – “Dokter Dood,” die man wat assisteer in beplande selfmoorde – gesien word as ‘n held. Na hom word verwys as ‘n “deernisvolle, sorgsame dokter, wat mense uit hul ellende verlos.” Wat hý egter doen, is bloot eenvoudig moord!

Nog erger, genadedood word nou toegelaat in gevalle van nie net fisieke pyn nie, maar emosionele pyn ook. As jy ‘n senu-ineenstorting het en nie meer wil lewe nie, kan jy Dokter Dood inroep!

Eendag, binnekort, sal ons nasie genadedood wettig. Ons sal meer en meer voedselseëls vir die armes gee. En ons strate sal begin lyk soos dié van Derde Wêreldlande – vol bedelaars, kinders en hawelose mense.

Wat my egter nie meeste skok, is die gebrek aan deernis wat toeneem in die kerk van Jesus Christus. Talle van God se mense se harte word koud en hulle gee nie meer om nie. Denominasies sê hulle sendingfondse kwyn. Mense gee eenvoudig nie meer vir buitelandse sending nie.

Onlangs het ek vir ons lesers ‘n eenvoudige verslag van ons sendinggawes gestuur. Ek het geskryf, “Ek wil hê dat jy weet dat ten minste tien persent van elke dollar wat jy stuur vir sending gaan. Ons ondersteun kindersorgbedienings dwarsdeur die wêreld. Ons bedryf kinderhuis in Romenië en Mosambiek en ons gee duisende aan Latyns Amerikaanse kindersorg.”

Ek het gedink mense sou dankbaar wees vir ons bediening se toewyding aan gee. Maar ek was geskok en teleurgesteld oor die aantal verergde briewe wat ons ontvang het van verskeie lesers. Hier is wat sommige van hulle gesê het:

“Haal my van julle briewelys af. Ek het jou nie toestemming gegee om deel van my offergawe oorsee te spandeer nie. Ek wil hê elke dollar moet hier in die Verenigde State bly.”

“Ek wil nie hê enige van my geld moet na buitelandse sending gaan nie. Ek sal jou bediening hier in New York ondersteun, maar nêrens anders nie.”

Ek sê vir almal wat dieselfde voel as hierdie mense: as jy nie daarvan hou dat ons ‘n tiende van jou offergawes gee nie, is die beste ding om te doen om op te hou om vir ons te gee. Ek gee nie om as dit ons duisende dollars kos nie. God sal nie daardie soort gesindheid duld nie.

Dank God, die meeste lesers is dankbaar vir ons verbindtenis om uit deernis te gee.

Laat my nou praat oor ons – oor Times Square Church en ons personeel!

Ons bedien in een van die stede met die meeste probleme in Amerika – beide geestelik en binnekort, ekonomies. Dit is ‘n stad waar oor die twee miljoen mense regeringshulp kry, talle van hulle is op welsyn. Hierdie stad word oorstroom met dwelmverslawing, wanhoop en haweloosheid.

Matthéüs skryf dat menigtes na Jesus gekom het en die verlamdes, blindes, dowes, stommes, en kreupeles by sy voete neergelê het. En vandag sien ek dit gebeur in New York met die kerk van Jesus Christus. Die regering het misluk; alle ander instansies en stelsels het misluk; so, wat is die laaste hoop vir die mensdom? Dit is veronderstel om die kerk van Jesus Christus te wees! En binnekort gaan ons nog meer seer, nog meer hawelose en nog meer hulpelose mense by ons voete neergelê hê. Hulle sal tot reg op ons drumpels gebring word!

Wat sal ons dan doen? Sal ons bid vir herlewing en deurnag gebedsbyeenkomste hou – en bloot trap bo-oor die haweloses wat reg voor ons kerkdeure lê? Nee – nooit! Dit is nie deernis nie!

‘n Paar Sondagnagte gelede, kon ek nie slaap nie. My gees was ontsteld, omdat ek die moeder wat ek kort tevore agter die skerms ontmoet het, nie uit my gedagtes kon kry nie. In een arm het sy ‘n vyf dae oud baba gehou en in haar ander hand, het sy haar tweejarige vasgehou. Haar man het sy werk verloor, kon nie werk kry nie en het haar verlaat.

Hierdie jong moeder het nou op die vloer van ‘n klein woonstel geslaap waar tien ander mense gewoon het. Hulle wou haar nou daar uit hê, want haar baba’s het te veel gehuil. Sy kon nie welsyn kry nie; sy het geen familie nie, geen plek om heen te gaan nie, nie eers geld vir melk nie. Sy het vir my gesê, “Ek gaan strate toe. Daar is nie ‘n plek vir ons om heen te gaan nie!”

Ek het vir hierdie jammerlike vrou geld gegee en ons hulpbediening het met haar begin werk. Maar dit was nie die einde nie. ‘n Ander jong moeder wat ons kerk bywoon, het in ‘n soortgelyke toestand na ons gekom. Haar man was op dwelms en kon nie werk kry nie. Sy was ongeskool en kon nie werk nie. Sy het ook vir my gesê, “Pastoor Dave, ek is net ‘n week weg van op die strate wees.”

Toe het ek twee ander dierbare vroue, wie se mans hulle slaan, ontmoet. Hulle vrees vir hulle lewens en vir hulle kinders se veiligheid. En die hele stad se “veilige tehuise” is vol, met lang waglyste.

Terwyl ek daardie nag probeer slaap het, kon ek nie my oë toemaak nie. Was ek ontsteld? Ja. Vol innige jammerte? Ja. Maar iets anders het binne-in my aangegaan. Ek het gebid: “Here, wat wil U hê moet ons hieromtrent doen? Hoe kan ons hierdie tragiese situasie verander? Ek is vyf-en-sestig en ek is moeg. Ek het genoeg tyd deurgebring met dwelmverslaafdes en alkoholiste. Asseblief – nie nog ‘n program nie.”

Maar die beeld van die vyf dae oue baba het in my gedagtes gebly maal. Ek het gedink, “”Ons is die kerk van Jesus Christus. Ons moet deernis hê en hulle nie wegstuur nie. Wat kan ons doen?”

Ek het besef dat ons Isaiah House oop en aktief sou wees in Times Square binne net twee of drie weke. En ons sou ons mans se Timothy House in daardie fasiliteit laat intrek.

Skielik, daar was dit, reg voor my oë: In die voormalige Timothy House gebou sou tien woonstelle oopgaan. Ons kon die gebou gebruik as ‘n woonplek vir verlate en misbruikte moeders. Ons kon net twee moeders en hulle kinders in ‘n enkele woonstel sit – en dit het beteken ons kon net sowat veertig tot vyftig families per jaar help. Dit is net ‘n druppel in die emmer. Maar iets moes gedoen word!

Deernis kan nie net simpatie en jammerte wees nie. Dit moet gevoelens wees wat ons tot aksie aanspoor! Dit vra, “God, wat wil U hê moet ek doen?”

Laat my vir jou vertel van die soort uitstorting wat ek graag hier in New York Stad wil sien!

Ons kerk bring baie tyd in gebed deur. Ons het pas klaargemaak met ‘n vier-en-twintig-uur-per-dag, dertig-dae-gebedsketting. En in Januarie het ons die jaar geopen met gebed en vas. Maar presies waaroor het ons gebid? Waarna soek ons?

Oorlede Leonard Ravenhill, wat Why Revival Tarries geskryf het, was ‘n groot man van God – volgens my, ‘n ware profeet. Ek het vir ure na hom gesit en luister oor ‘n komende groot herlewing. Hy het vir meer as sestig jaar daarvoor gewag, maar het gesterf sonder om dit ooit te sien.

Toe ek grootgeword het in die Pinksterkerk, was die komende groot herlewing al waaroor my pa en oupa ooit kon praat. Evangeliste het daaroor by kampbyeenkomste gepraat: “Daar kom herlewing. God gaan menigtes in die koninkryk inbring!”

Aan die hart van al hierdie herlewingsgesprekke, was een basiese gedagte: “Ons sal nie in die strate hoef uit te gaan en ons hande vuil te maak nie. Ons kan net hier bly en bid. Die Heilige Gees sal mense trek!”

Maar die definisie van herlewing is, “die ontwaking van die opstanding van dit wat dreig om ‘n lyk te word.” Dit beteken, “om die dooie kerk op te wek – om dit te laat herleef, dit op te wek, sodat die goddelose geneig sal wees om sy deure binne te gaan.”

Geliefde, dit is nie veronderstel om nodig te wees dat die kerk uit die dood hoef opgewek te word nie! Ons is nie veronderstel om te bid vir een of ander groot herlewing nie. En terwyl ons almal afgesonder en gebid het vir herlewing, het die volgende dinge in ons land gebeur:

Een helfte van al ons tieners rook dagga. Meer as ‘n derde drink. Twaalfjariges vergryp hulle aan seks. Veetienjarige meisies het baba’s. Ons het ‘n hele geslag jongmense verloor aan sinisme, hardheid en ontnugtering.

Ons stede is op die punt om in vlamme uit te bars. Die nasie is versadig met seks, plesier en die afgodery van sport. Een van elke twee huwelike eindig in egskeiding.

Die snikgeluide van honger, geslaande kinders styg nou op soos donderweer uit ons stede. Homoseksuele maak aanspraak op huweliksregte. Desperate vaders by die honderde dwaal in die strate rond op soek na werk. Talle swart en Spaanse mans kan selfs nie onderhoude vir werk kry nie.

Soos die jaar 2000 nader kom, wat gaan die kerk omtrent hierdie dinge doen? Wat neem al ons aandag en energie in beslag?

Nie lank gelede nie, het ek ‘n brief ontvang van ‘n vrou wat ons kerk bywoon. Sy het in wese gesê, “Times Square Church het genesings, wonderwerkbyeenkomste, tekens en wonders nodig – soos die dinge wat gebeur op Broer So-en-so se TV program.”

Ek wil hierdie vrou se brief liefdevol en openlik antwoord: “Liewe Suster: Laat my jou vertel hoe ons ‘n magtige wonderwerk, ‘n groot teken vir alle ongelowiges kan word.

“Daar is ‘n moeder in ons kerk wat op die punt staan om op die strate uitgeskop te word saam met haar kinders. Sy is enkellopend en sy is gewillig om te werk. Sou jy so gaaf wees om haar in te neem en vir haar jou ekstra kamer te gee vir drie maande? Of laat haar eenvoudig op jou rusbank slaap? Sal jy vir haar kosgee, terwyl sy soek na ‘n woonstel? Sal jy haar bedien? Sal jy haar uit die put van wanhoop uithaal?”

Sal dit as ‘n wonderwerk geag word? Sal dit beskou word as ‘n teken, ‘n wonder? Ja – natuurlik! Elke ongelowige wat dit sien, sou sê, “Nou dit is waaroor Christus gaan. En dit is waaroor Christenskap veronderstel is om te handel!”

Die Bybel sê dat as ons menslike behoeftes aanspreek – gehoorsaam ons die gebod om deernisvol teenoor die wêreld te wees en onsself te gee vir die behoeftes van ander – dan sal ons ‘n goed besproeide tuin wees! “Dat jy jou brood breek vir hom wat honger het...As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee...en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig...die HERE sal jou [dan] gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou begeente sterk maak” (sien Jesaja 58:5-12). “...En jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein wan waters waarvan die water nooit teleurstel nie” (Jesaja 58:11).

‘n Kennis in die bediening het onlangs vir my ‘n video-opname geneem van ‘n kerkbyeenkoms wat deel is van wat ‘n groot herlewing genoem word. Wat ek op daardie video gesien het, was vreemde manifestasies. Op een stadium, het die pastoor wat die vergadering gelei het vir ‘n huilende man gesê, “Daar is geen gehuil hier nie. Dit is nie ‘n gebedsbyeenkoms hierdie nie. Dit is tyd vir lag!” Toe het die leier langs die man op die vloer gekniel en begin sê, “Pomp op, blyskap! Pomp op, blydskap!”

Ek het my bedienaarsvriend gevra om alles vir my te verduidelik. Hy het in wese gesê, “Christene het so verslane, droog en terneergedruk geword dat God probeer om blydskap op te wek. Die Heilige Gees probeer om mense vry te maak met behulp van manifestasies.”

Nee! Die gelag wat ons vandag sien, is nie nuut nie. Ek het heilige lag gehad toe ek tien jaar oud was. Ek het vir ure gelag en toe vir ure gehuil – alles weens die oortuiging van die Heilige Gees. Daar is niks nuut daaroor nie.

Ek vra jou: Hoe het die kerk in elk geval ooit by hierdie lae punt van neerslagtigheid gekom? Hoe het die kerk ooit sover gekom om so ‘n op-pomp nodig te hê?

Dit is omdat ons nie werk gemaak het met Jesaja 58 nie! Daardie gedeelte vertel vir ons baie duidelik en sonder om doekies om te draai waarom Christene hulle blydskap verloor, droog en vasgevang word. Dit is omdat hulle behep geraak het met self-oorlewing!

Die meeste Christene hoor deesdae net preke oor hoe om die lewe se probleme te hanteer en hoe om met leegheid af te reken. Hulle het nie meer ‘n las vir sending, vir mense op die strate en vir die armes nie. In plaas daarvan, sit hulle rond en kla oor hoe hulle belastinggeld gespandeer word. En dieselfde Christene sal bloot verby die armes en behoeftiges loop!

Waarom onderrig die herders nie hulle mense om uit te reik na menslike behoeftes, sodat wanneer hulle kerk toe kom, hulle ‘n goed besproeide tuin en ‘n diep bron wat uitspuit sal vind nie? Die Here sê Hy sal dit voorsien aan almal wat gewillig is om van hulself te gee!

Amper driehonderd jaar gelede het die Morawiërs na New York stad gekom saam met die Nederlanders. Toe hulle ‘n kerk gestig het, het hulle ook ‘n uitreikbediening vir die armes gevestig. Vandag het hulle kerk verdwyn – maar die Morawiese bediening in New York bestaan steeds as een van die groot voedingskemas in die stad.

Net so gaan die Bowery Sending steeds aan na eenhonderd-en-vyftig jaar. En Jerry McCauley se bediening aan die armes is steeds in bedryf na eenhonderd-en-sestig jaar. God spreek die behoeftes van die armes aan – selfs al het talle kerke verdwyn!

Ons sou nie verder as ons eie woonbuurt hoef te reis om die grootste soort herlewing denkbaar te hê nie. God sê dat as ons ons brood aan die armes sou uitdeel, die armes in ons huise inbring, die naaktes klee en ons eie siel vir die hongeriges en lydendes gee, sal Hy ons lei en voortdurend vir ons voorsien. Ons sal soos ‘n goed besproeide tuin wees – ‘n fontein van water waarvan die waters nooit sal ophou nie!

God sê vir ons, “Fokus daarop om ander te help! Reik uit na die armes en na die wat ly. Ek sal jou antwoord, jou lei en jou versadig. Jy sal ‘n fontein van lewe wees vir ander. Jou seëninge sal nooit opdroog nie!”

As jy nie gemaklik met hierdie Ou Testamentiese leerstelling is nie, luister na wat Jesus in die Nuwe Testament sê:

“Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee niel Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee niel siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie.

“Dan sal julle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie?

“Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen het. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe” (Matthéüs 25:42-46).

“Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?” (1 Johannes 3:17).

Op hierdie punt mag jy sê, “Ek sal graag deernisvol wil wees om die armes te help. Hoe kan ek ‘n verandering maak?”

Ek kan net vir jou sê dat God hierdie gebed sal beantwoord: “Here, ek sien al die menslike behoeftes rondom my. En ek weet dat die enigste Jesus wat my stad ooit sal sien, is die een wat hulle deur my en sy kerk sal sien. God, U sal my moet lei. Ek is gereed met my beursie, my huis en my tyd. Wys my waarheen om te gaan, Here!” Wees verseker – God sal diegene in nood voor jou drumpel bring!

Jy mag dink, “Maar ek het so baie probleme van my eie. Ek kan nie tyd spandeer om ander te help nie.” Laat my vir jou vra: Is jy alleen? Bied jy aan om lydende mense in ‘n hospitaal of gesondheidsorgsentrum te besoek? Voor die aand verby is, sal jy nie meer alleen wees nie! Het jy ‘n vriend nodig? Gaan na die strate, soek ‘n hawelose persoon en vra, “Is jy honger? Laat ons na McDonalds gaan.” Koop vir daardie lydende persoon ‘n hamburger en praat met hom oor Jesus.

God wil hê elkeen van ons moet deel wees van sy deernisvolle hart vir die wêreld. En as jy gewillig is om dit te doen, sal Hy die behoeftes tot op jou drumpel bring.

So, maak jouself beskikbaar vir die Here om gebruik te word. Hy sal alle deure vir jou oopmaak. Dan sal jy waarlik sy hart van deernis ken!