Die Buik van die Hel

"En die woord van die HERE het gekom tot Jona...en gesê: Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig. Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die HERE af weg” (Jona 1:1-3). Ons ken Jona se storie. Hy is die man wat van God probeer weghardloop het. Die Here het vir Jona ‘n mandaat gegee om oordeel oor die stad-nasie Ninevé te verkondig. Maar in plaas daarvan om Ninevé te waarsku, het Jona gevlug.

Die storie was bevestig deur Christus self. Jesus het gesê, “Want net soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matthéüs 12:40). Met ander woorde, Jona se storie was so seker soos Christus se eie begrafnis en opstanding.

So, waarom het Jona weggevlug? Waarom het hy geweier om God se duidelike, geopenbaarde Woord te gehoorsaam? Ons weet hy was ‘n goddelike, biddende man. Die Here praat immers duidelik met diegene wat met Hom kommunikeer. En die Here kies nie sy dienaars roekeloos nie. Hy het duidelik iets in Jona gesien. Miskien het God hierdie man gekies weens sy gawes: ‘n kragtige stem of ‘n sensitiewe oor om die Gees te hoor.

Ons weet dat Jona in Israel geprofeteer het. Hy was ‘n tydgenoot van ander profete van daardie tyd. So, dit is duidelik dat hierdie man begaafd en gekies was deur God. Op hierdie een geleentheid, het Jona van God se roeping af weggevlug. Hy het inderdaad van God se teenwoordigheid af weggevlug en hom van gemeenskap met die Here afgeskei. Waarom? Wat het so ‘n blatante ongehoorsaamheid veroorsaak?

Dit is onduidelik hoeveel tyd verbygegaan het tussen Jona se roeping om oordeel te verkondig en sy besluit om te vlug. Dit kon weke of selfs maande gewees het. Verder was die afstand van Jerusalem na Joppe vyf-en-dertig myl. As Jona te voet gereis het, het hy oorgenoeg tyd gehad om sy sending te heroorweeg. Een ding is seker: Jona het met elke tree op die pad die Heilige Gees se stem in sy ore gehoor klink. Die Heilige Gees is die snuffelhond van die hemel en wanneer Hy ons roep tot diens, laat Hy ons nie met rus nie. Jona het sonder twyfel woorde soos die volgende gehoor:

“Onthou Adam se voorbeeld, Jona. Bepeins die gevolge van sy ongehoorsaamheid. Dink ook aan Moses. Daardie nederige, heilige man het van aangesig tot aangesig met God gepraat. Maar die Here het hom gestraf vir een enkele daad van ongehoorsaamheid, wat hom uit die Beloofde Land gehou het. Dink ook aan Dawid, ‘n biddende man na God se eie hart. Onthou die verskriklike lyding wat hy verduur het vir sy daad van ongehoorsaamheid. Jy kan nie aan God se Woord ongehoorsaam wees en daarmee wegkom nie. Gaan terug, Jona."

Die lot van menigtes het afgehang van Jona se gehoorsaamheid. Maar in plaas daarvan om na Ninéve te gaan, het “hy... na Jafo afgegaan en ‘n skip gevind wat na Tarsis sou vaar. En hy het die reisgeld daarvoor betaal en daarin geklim om saam met hulle na Tarsis te vaar, van die aangesig van die Here af weg” (Jona 1:3).

Hoe kon so ‘n biddende man weggedryf het van sy roeping en in ongehoorsaamheid verval het? Dit begin met ‘n gedeeltelike, onvolledige kennis van God se natuur.

Jona was ‘n magtige openbaring gegee van God se genade en barmhartigheid. Hy het getuig, “Ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil” (Jona 4:2). Aan hom was dieselfde openbaring gegee wat Moses ontvang het toe God sy heerlikheid aan Moses op die berg geopenbaar het.

Jona het daarop aanspraak gemaak dat hierdie openbaring hom laat vlug het: “Daarom het ek tevore na Tarsis gevlug” (Jona 4:2). Deur sy dade het hy gesê, “Here, U vergewe so maklik almal wat hulle bekeer. Elke keer as U ‘n oordeel fel, word U oorweldig deur barmhartigheid. Ek weet U gaan Ninevé nie oordeel nie. Sodra ek profeteer, sal hulle hul bekeer en U sal u genade op hulle uitstort.”

Sien jy die probleem met Jona se redenasie? Hy beskryf slegs ‘n gedeelte van God se natuur. En hy beskuldig God daarvan dat Hy sagkens met sonde handel. Natuurlik is God alles wat Jona hier beskryf: lankmoedig, gewillig om te vergewe en  gereed om oorvloedige genade uit te stort. Ek dank God vir hierdie wonderlike openbaring van sy natuur. Dit is die mees lewe-gewende waarheid wat ek ooit geken het. Ek is lief daarvoor om God se barmhartigheid aan mense te verkondig.

Maar die Bybel praat ook van God se heilige, regverdige natuur. “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk” (Romeine 1:18). Jona het sekerlik hierdie sy van God geken. Hoe kon hy dit verontagsaam het?

Ek glo Jona het geen begrip gehad vir die vrees van God nie. As jy aan God dink net as barmhartig, sal jy dit maklik vind om sy Woord ongehoorsaam te wees. Jy sal glo dat Hy sy waarskuwing gering ag, dat Hy nie bedoel wat Hy sê nie. Ek glo dit was die wortel van Jona se ongehoorsaamheid.

Elke ware dienaar moet die openbaring van die vrees van God aangryp. Ek bedoel nie ‘n vrees wat deur mense ingeboesem word waar mense gemanipuleer word om te gehoorsaam nie. Ek bedoel die goddelike openbaring van ‘n heilige vrees soos geopenbaar word in God se Woord: “Vrees die Here en wyk af van die kwaad” (Spreuke 3:7). “Maar wees die hele dag in die vrees van die Here” (Spreuke 23:17).

Sulke vrees moet ywerig gesoek word. En dit moet in ons geplant word deur die Heilige Gees: “As jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind” (Spreuke 2:4-5). Soos God se barmhartigheid, is die vrees van God is lewe-gewend: “In die vrees van die HERE lê ‘n sterk sekerheid” (Spreuke 14:26). “Die vrees van die HERE is ‘n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk” (Spreuke 14:27).

Daar is ernstige gevolge vir almal wat God se Woord ongehoorsaam is. Jona se ongehoorsaamheid bewys dit op drie maniere:

“Maar die HERE het ‘n sterk wind op die see gewerp, en toe daar ‘n groot storm op die see ontstaan, het die skip gevaar geloop om skipbreuk te ly. Toe word die seeliede bang – hulle het elkeen tot sy god geroep en die lading wat in die skip was, in die see gegooi om vir hulle verligting te bring” (Jona 1:4-5).

Soms beleef selfs goddelike mense wanorde in hulle lewens. Skielik word alles chaoties. Maar God los hulle nie in sulke situasies nie. Hy verlos hulle, bring hulle lewens in sy goddelike orde met vreugde, vrede en vertroosting. Of, Hy voorsien hulle met genade om dit te verdra.

Die dienaar wat egter in ongehoorsaamheid wandel, beleef krisis op krisis. Beskou die chaos wat Jona se sonde vir hom veroorsaak het. ‘n Ontsaglike storm het losgebreek en die see het begin dreun. Matrose het waansinnig oor die skip gehardloop die vrag oor boord gegooi. Hulle het wanhopig gekyk hoe hulle lewensmiddele in die see weggesink het. As daar ander skepe in die gebied was, sou hulle dieselfde moes doen terwyl hulle vir hulle lewens vrees.

O, die verskriklike wanorde wat veroorsaak word deur een gelowige wat in hardnekkige ongehoorsaamheid aan God se Woord leef. Wat is ongehoorsaamheid? Dit is om te wandel in teenstelling met God se geopenbaarde Woord. Dit sluit elke liefdesbevel in die Nuwe Testament in, van Jesus se woorde tot sy apostels s’n.

Beskou hierdie gedeeltes oor owerspel en hoerery: “Dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie” (Efésiërs 5:5). “Want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Die Griekse woord vir hoereerder is porno, waarvandaan ons die woord pornografie kry.

Ek was geskok om te verneem dat daar nou oor die 200,000 pornografiese webwerwe op die Internet is. Nog erger, ek ken bedienaars wat hulle vrylik aan hierdie gemors oorgee. Sommiges is betrokke in buite-egtelike verhoudings. Talle het hul bedienings en familes verloor. Ek ontvang briewe van ontstelde vroue wat die effek op hulle kinders beskryf. Die kinders sien hulle pa se voorbeeld en kan dit nie hanteer nie. Hulle respekteer hom nie meer nie. Sommige het selfs hulle geloof verlaat en hulle na dwelms, alkohol en seks gewend.

Waar kom hierdie wanorde vandaan? Nie van die duiwel af nie, maar van God wat die beskermende muur laat sak het. Hy wek ‘n storm op om sy dienaars wakker te maak, soos Hy met Jona gedoen het: “Die HERE het ‘n sterk wind op die see gewerp” (Jona 1:4).

Jona was onbewus van die chaos en pyn wat hy veroorsaak het. Dwarsdeur die storm, het hy “na die onderste dele van die skip afgeklim en daar gaan lê en vas aan die slaap geraak” (Jona 1:5). Sien jy sy toestand? Hy was ‘n gevangene van sy eie ongehoorsaamheid. Sy sonde het die storm veroorsaak en nou was hy magteloos om dit te stop. So, wat het hy gedoen? Hy het in ‘n geestelike stupor ingegaan. Hy het homself oorgegee aan skuld-gedrewe luiheid.

Ek onthou die direkteur van een van ons Teen Challenge programe jare gelede. Hy was ‘n toegewyde dienaar en ‘n goeie prediker. As ‘n voormalige verslaafde, was hy gerespekteer deur die mans in die program. Maar hy het owerspel gepleeg met ‘n voormalige prostituut wat in die program ingeskryf was. Op die ou einde het hy sy vrou verlaat en uit die bediening bedank.

Die wanorde wat deur hierdie man se sonde veroorsaak is, was tragies. Sy vrou het probeer selfmoord pleeg en in die sorg van ‘n sielsieke inrigting beland. Die verslaafdes in die program het moed verloor. Hulle het gedink, “Hy was so heilig. As hy dit nie kon maak nie, watter kans het ek?” Baie het weggegaan en na dwelms teruggekeer.

Later het ek met hierdie man en vrou gepraat. Hulle het getrou en teruggekeer na dagga-rokery. Hulle het my vertel dat hulle opgehou het om Bybel te lees en het geen geestelike honger meer gehad nie. Die man het erken, “Ons is gevangenes. Ons het ons keuse gemaak en daar is geen uitweg vir ons nie.”  Maar toe ek vertrek het, het hy gesê, “Een ding wat ek van jou bediening geleer het, is dat God barmhartig is. Ek weet hy vergewe sonde. Ons het net meer tyd nodig.”

Vyf jaar later, het ek weer die man gesien. Hy was nou ‘n dwelmsmous en het ‘n nuwe Mercedes gery. Ek het hom gesê dat ek nog al die jare vir hom bid. Hy het geantwoord, “O, ek het nog tyd nodig.” Wat het hy regtig gesê het, was, “God sal my nie oordeel nie. Hy sal wag totdat ek gereed is om hierdie goeie lewe prys te gee en terug te kom.” My hart het in my skoene gesak. Daardie dwalende man het alle vrees van God verloor. En hy het God se genade in losbandigheid verander.

Dink aan die weghol egskeidingsyfer in die kerk. Beskou die owerspel wat beide in die kansel en in die kerkbanke plaasvind. Christene het gevoelloos geword vir die toename in onsedelikheid in die gemeenskap. HBO en ander sateliet netwerke kompeteer nou om bestaande grense van onreinheid te oorskry. Hulle doel is om te sien hoe ver hulle hul morele perke kan strek. En Christene word saam met die wêreld verlei.

Hoe kan dit gebeur, vra jy? Dit is die gevolge van ‘n oorheersende boodskap van “slegs genade” in die kerk. Hierdie boodskap is slegs ‘n gedeeltelike waarheid van God se natuur. Predikers van vandag ignoreer die leerstelling van die heilige vrees van God. En dit sus sy mense tot in ‘n geestelike stupor.

“Daarop kom die skeepskaptein na hom (Jona) toe aan en sê vir hom: Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God! Miskien sal dié God aan ons dink, sodat ons nie vergaan nie...En hulle sê vir hom: Vertel ons tog om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het? Wat is jou nering? En waar kom jy vandaan? Wat is jou geboorteland, en uit watter volk is jy?

“En hy antwoord hulle: Ek is ‘n Hebreër, en ek vrees die HERE, die God van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het. Toe word die manne baie bang en sê vir hom: Wat het jy nou gedoen! Want die manne het geweet dat hy van die aangesig van die HERE af wegvlug; want hy het hulle vertel” (Jona 1:6-10).

Jona se ongehoorsaamheid het die Here wraaksugtig laat lyk. Dit het gelyk dat as jy Jona se God teëgegaan het, Hy jou sou jag en die skrik op die lyf sou jaag. Dit was egter geensins nie die geval nie. Dit was ‘n algehele wanvoorstelling van God se natuur.

So, was God kwaad vir Jona? Was dit sy toorn teen ‘n rebelse dienaar? Het Hy in wese gesê, “Jy het my gefaal, Jona. Jy het jou kans gehad, maar jy het jouself gediskwalifiseer. Nou word jy veroordeel”? Nee, God was nie kwaad vir Jona nie. Hy mag teleurgesteld gewees het in hom, maar Hy was nog nie klaar met hom nie. Nie in die minste nie.

Hierdie hele storie is een van barmhartigheid en genade. Ja, God het die storm opgewek. Maar Hy het dit gedoen om Jona na Homself terug te bring. Die Here het in wese gesê, “Ek sal die natuur onderstebo keer om my ongehoorsame dienaar te herstel. Jy mag van My af weghardloop, Jona, maar Ek verloor nie moed met jou nie. Ek het jou steeds lief. En Ek het jou geroep en uitverkies. Jy is steeds my man vir hierdie werk.”

Let op dat die kaptein Jona moes wakker maak. In hierdie krisis, was God se boodskapper onvoorbereid. Jona het probeer getuig van God se mag, maar hy het geen geloofwaardigheid by die bemanning gehad nie. Hulle het geweet hy het in ongehoorsaamheid gelewe het, dat hy “van die aangesig van die HERE af wegvlug” (Jona 1:10). Jona se sonde het hom uitgevang. Net so verloor elke dienaar wat in ongehoorsaamheid lewe sy geloofwaardigheid by die wêreld. Hulle sien hy het geen geestelike gesag nie.

Toe Jona by die bemanning gedring het om hom oor boord te gooi, het hulle hom geïgnoreer: “Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring” (Jona 1:13). Hulle dade het gesê, “Waarom sou ons vir jou luister? Terwyl ons tot ons gode geroep het, het jy geslaap. Ons moet probeer om onsself uit hierdie gemors te kry.”

Jona was heeltemal magteloos. Selfs as hy die storm gespaar was, was hy in geen toestand om vir Ninevé te profeteer nie. Waarom sou hulle sy woord eerbiedig as die skip se bemanning dit nie eers gedoen het nie? Die Skrif vertel vir ons, “En die HERE het ‘n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nage in die ingewande van die vis: (Jona 1:17).

“Uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp” (Jona 2:2). Waarom het die Here Jona so laag laat daal? Hy was in die buik van ‘n lewende hel, hangende in duisternis, tussen lewe en dood. Waarom sou ‘n barmhartige God ‘n dienaar hierdeur laat gaan? Ek glo Jona se storie wys ons hoe God optree teen ongehoorsame dienaars.

Jona was in hierdie hel vir drie dae en drie nagte. Gedurende daardie hele tyd, het hy nooit gebid nie. Die storm het hom nie tot op sy knieë gebring nie. Ook nie dat hy op die randjie van die dood was in die walvis se buik nie. Slegs na drie dae en nagte lees ons eers, “En Jona het tot die HERE sy God gebid uit die ingewande van die vis” (Jona 2:1).

Waarom het Jona nie vroeër gebid nie? Dit was omdat hy oortuig was, “Ek is weggestoot, weg van u oë” (Jona 2:4). Hy het God beskryf as barmhartig teenoor Ninevé, maar Jona kon nie dieselfde barmhartigheid vir homself glo nie. Hy het gedink, “Ek is ‘n dooie man. Ek kan nie enigsins laer daal nie. God het sy rug op my gedraai. Hy haat my vir wat ek gedoen het.”

Niks kon verder van die waarheid af wees nie. As die Skrif sê, “Die HERE het ‘n groot vis beskik om Jona in te sluk,” beteken die woord vir beskik aangestel. God het ‘n groot walvis uitgekies en ‘n dringendheid in daardie skepsel geplaas. So, toe Jona oor boord geval het, was die walvis daar, gereed om hom in te sluk. Die Here was steeds aan die werk.

Die duiwel het egter daarin geslaag om Jona te mislei. Wie heers oor die gebied van die hel anders as Satan? Jona het uitgeroep, “Die wat nietige afgode vereer, verlaat die Een wat vir hulle goedertieren is” (Jona 2:8). Die letterlike Hebreeuse vertaling lees, “Diegene wat ‘n misleidende leuen beskerm of verdedig, beroof hulleself van die ontvangs van barmhartigheid.” Dit is wat met Jona gebeur het. Sy misleiding het hom beroof van enige hoop op God se genade. Vir drie dae en nagte, was hy onder ‘n verskriklike misleiding. Satan het hom vertel, “Jy het misluk. Nou het jou lewe geëindig. Jou ongehoorsaamheid het die lewens gekos van talle, wat hulle tot die Here kon gewend het. Nie eens God kan jou nou red nie. Selfs as jy oorleef, sal jy ewige verwyte hê.”

In der waarheid het God Jona op sy pad na Ninevé bespoedig. Gou sou die profeet weer in die sonlig loop. Hy sou met vrymoedigheid in die strate preek as ‘n uitverkore boodskapper.

Wat was God se oogmerk deur Jona se buik van die hel belewenis? Dit wys hoe Hy toelaat dat ongehoorsame dienaars algehele isolasie van alles heilig en suiwer beleef. Vir ‘n seisoen het Jona geweet hoe om dood te voel. Hy kon nie bid nie. God het sy aangesig verberg en die profeet het nêrens gehad om heen te gaan vir hulp nie. Hel vir Jona was nie die seegras wat hom verstrengel het, of om heen en weer gestamp te word nie. Dit was die gevoel dat God sy hand van sy lewe afgehaal het.

Dit was alles bedoel om Jona in sy ongehoorsaamheid te toets. God het nie geëis, “Sal jy my nou gehoorsaam, Jona?” Liewer, Hy het gevra, “Wie se woord sal jy in hierdie verskriklike hel glo, Jona? Myne of die duiwel s’n?” Uiteindelik lees ons, “Jona het...gebid” (Jona 2:1). “Toe my siel in my versmag het, het ek aan die HERE gedink; en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel” (Jona 2:7). Jona het teruggehardloop na God se liefdevolle arms. Toe het hy getuig, “Uit die binneste van die van die doderyk het ek geroep om hulp – U het my stem gehoor” (Jona 2:2).

Oor die jare, het ek baie Jona’s ontmoet. Ek het hierdie uitverkore dienaars, wat ongehoorsaam was aan God en in erge sonde verval het, bedien. Sommige het uiteindelik hulleself aan Satan se leuenagtige nietighede oorgegee. Sommige het verlore gegaan en in hulle sonde gesterf. Maar ander het hulle bekeer uit die buik van hulle hel en was herstel. Vandag gebruik God hulle weer magtiglik as herders, onderwysers, evangeliste en gemeentelede. In elke geval het hierdie herstelde heiliges hulleself aan gebed oorgegee en tot die Here uitgeroep.

In elke periode van uiterste goddeloosheid, roep God sy kerk om die gemeenskap te waarsku oor komende oordeel. Sy Gees beveel ons almal, “Staan op en waarsku jou stad, jou familie, jou nasie. Ek het genoeg van hierdie boosheid verduur.” Dit is waarom God my na New York City gestuur het vyftien jaar gelede. Ons bediening was gevestig om ‘n goddelike oorblyfsel van gelowiges op te rig en om die gemeenskap te waarsku oor die komende oordeel.

Vandag oortref die goddeloosheid van Amerika dié van Ninevé ver. Daardie antieke mense was nie versoek deur pornografie, die Internet of ongure TV nie. Daar was ook nie ‘n teenwoordigheid van die evangelie in hulle midde om die waarheid aan hulle te bring nie. Hulle het geen Bybel, geen kerk en geen Christelike media gehad nie. In teenstelling daarmee, is Amerika versadig met sulke wonderlike dinge. Ons gemeenskap word egter steeds oorheers deur boosheid. Hoe kan dit wees, vra jy? Dit is eenvoudig: God se dienaars het aan die slaap geraak. Die kerk het van sy teenwoordigheid weggevlug en alle goddelike vrees verloor.

In Jona se dae, het die skepe van Tarsis voorspoed verteenwoordig. Salomo het in Tarsis ‘n vloot van skepe gebou om Israel se rykdom te vermeerder. Maar God het hierdie skepe vernietig. Vandag, soos Jona, slaap talle gelowiges aan boord van Amerika se skip van voorspoed. Maar nou het die Here ‘n storm oor ons nasie gebring en die skip van ons staat geskud. Ons het dit duidelik gesien op 11 September toe die simbole van ons regering en ekonomie in vlamme opgegaan het.

Amerika leef steeds in vrees. Selfs die heidene bid. Senators en die lede van die Kongres het hul vergaderings verdaag om op die Capitol se trappe byeen te kom vir gebed. (Oomblikke tevore, was baie van hulle besig met die maak van wette wat aborsie bevorder en God se Naam uit publieke plekke verbied). Onlangs het ek nuusbrokkies, wat massa gebedsbyeenkomste beskryf en deur Moslems in Hindu’s gereël is, ontvang.

Nou is duidelik die tyd vir God se biddende, onderskeidende dienaars op op te staan en oor die oordeel te waarsku. Soos die bemanning op Jona se skip, het massas van goddelose mense vir Christene gevra, “Waarom gebeur hierdie storm? Waar is God in al hierdie dinge?” Dit is egter tragies dat die kerk sy geloofwaardigheid in die oë van die wêreld verloor het. Vir talle handel Christenskap net oor TV predikers wat vir geld smeek. Hulle sien Christene slaap op die skip van voorspoed.

As ‘n woord uit die kerk kom, is dit dikwels van ‘n gekompromitteerde herder wat uitroep, “God sit nie agter die huidige storm nie. Dit is die duiwel se werk. Ons liefdevolle God sou nie hierdie nasie oordeel nie.” Sulke mense ken nie hulle Bybels nie. Niks gebeur met enige nasie sonder God se toestemming nie. Dit was immers nie die duiwel wat Sodom vernietig het nie. Hy het nie vuur en swael uit die hemel afgeroep nie. Die Here het daardie regverdige oordeel op bose Sodom gebring. Dit was ook nie Satan wat die vloed in Noag se dae gebring het nie. God self het die hemele oopgemaak en die verskriklike stortbui van reën gestuur.

Maar die Here het sy manier om sy kerk wakker te maak en dit tot gebed te bring. Op hierdie oomblik sien ons net die storm. Baie gou sal ons nasie die buik van die hel binnegaan.

Amerika is op die punt om oor boord gegooi en ingesluk te word deur ‘n ekonomiese hel. Jy mag onthou van ‘n boodskap, wat ek vyf jaar voor die Golf Oorlog geprofeteer het. Ek het gesê bomme sou val op die oliegate in die Midde Ooste en 500 Koewaitse vure sou veroorsaak. Later het Saddam Hussein se weermag 503 gate aan die brand gesteek. Ek het ook geskryf van 1,000 vure wat in New York Stad sou brand. Ek glo nou dat daardie vure sal kom uit ‘n ekonomiese ineenstorting.

Twee jaar gelede was die aandele beurs op 12,000 punte. Kenners het gesê dit sou 30,000 wees voor die bloeitydperk eindig en dat ons immuun teen resessie was. Maar na 11 September, het die mark getuimel.

Wat het hierdie storm van gebeurtenisse veroorsaak?  Baie min volgens my. Ek sien geen tekens van ‘n Ninevé-agtige bekering nie. In plaas daarvan, het vyf state nou aanneming vir homoseksuele paartjies goedgekeur. En ‘n skool in Californië dring daarop aan dat kinders skool bywoon terwyl hulle aangetrek is soos Moslems en ‘n Koran dra om oor Allah te leer. In die tussentyd is Bybels steeds verban.

Ek ken baie lesers wat nie hierdie soort boodskap wil hoor nie. Ons wil almal liewer glo dat ons op een of ander manier ‘n lewensboot gegee sal word en sal kan vermy om in die buik van lyding in te gaan. Maar in werklikheid, is die walvis se buik God se uiteindelike daad van barmhartigheid. Hy het probeer om ons tot bekering te bring deur sy goedheid en seëninge op Amerika uit te giet. Maar ons het vet geword in ons voorspoed en selfs verder van Hom af weggegaan.

Nou sê die Here, “Ek weet nie hoe anders om jou te red behalwe deur hierdie soort donker hel nie. Miskien sal jy in die buik van ‘n gebroke ekonomie wakker word. Miskien as jy ‘n tydperk van paniek en vrees beleef, sal jy terugkeer na jou roeping.”

God probeer nie om Amerika te vernietig nie. Ek glo Hy probeer ons red. Hy probeer ook sy kerk te laat terugkeer na sy sending. Sy begeerte is dat uit hierdie tyd in die walvis se buik, families sal terugkeer na Hom toe. Bedienaars sal hulle sonde en dwase prediking staak en kerke sal lewend word. ‘n Biddende oorblyfsel sal uitkom met Bybelse waardes en die wêreld binnegaan en met ware gesag preek.

Die storm waarin ons is, is bedoel om ons te leer dat God bedoel wat Hy sê. Dit gaan alles daaroor om ‘n openbaring van sy vrees, sowel as van sy barmhartigheid en genade te kry. As jy in ongehoorsaamheid wandel, hardloop dadelik terug na Hom toe. Bely gou en stort jou siel voor Hom uit. Hy sal jou nie langer in die walvis se buik hou nie. Hy is ‘n liefdevolle God wat begeer om jou te herstel.