Die Belangrikheid Van Liefde Vir Jou Vyande

David Wilkerson

As jy daarop aanspraak maak dat jy geen vyande het nie, wil ek graag vir jou ‘n aanbod maak. Ek wil jou aanstel om ‘n boek te skryf waarin jy verduidelik hoe jy dit reggekry het om so ver in die lewe te kom, sonder dat ‘n enkele persoon jou teëgestaan het. Jou boek sal sekerlik ‘n topverkoper wees.

Jy kan beskryf hoe niemand nog nooit jaloers, afgunstig of vyandig teenoor jou was nie. Jy kan beskryf hoe niemand nog nooit probeer het om jou planne te onderbreek, jou doelwitte tot niet te maak en jou toekoms te ontspoor nie. Jy kan vertel hoe niemand jou nog ooit skade aangedoen, jou van ‘n begeerte weerhou of ‘n afbrekende misdryf teen jou gepleeg het nie.

Dit is nie my bedoeling om ligsinnig of sarkasties te wees nie. Maar dit is in werklikheid hierdie dinge wat van iemand jou vyand maak. En elkeen van ons het ten minste een van hierdie belewenisse.

Natuurlik trotseer elke Christen ‘n aardsvyand in Satan. Jesus vertel vir ons hy is die vyand wat onkruid in ons lewens saai (sien Matthéüs 13:39). Net so waarsku die apostel Petrus ons oor Satan: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8).

Jesus maak dit egter duidelik dat ons niks het om te vrees van die duiwel nie. Ons Here het ons al die krag en mag oor Satan en sy demoniese magte gegee: “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie” (Lukas 10:19). Christus stel dit baie duidelik dat die stryd teen Satan reeds gewen is. Ons het binne-in ons die mag om enige poging van die duiwel om ons te verslind, te weerstaan.

Ek wil liewer fokus op ons beproewings met ons menslike vyande – vlees-en-bloed opponente, mense wat dalk saam met ons leef of werk. Jy sien, as Petrus die woord “verslind” gebruik, is die Griekse betekenis “om op enige manier met een poging te probeer insluk.” Petrus praat van ‘n enkele kwessie – ‘n stryd, beproewing of versoeking – wat jou kan insluk en jou in depressie, vrees of moedeloosheid kan laat beland.

Jy mag in staat wees om te getuig dat jy ‘n groot oorwinning in Christus gewen het. Jy het suksesvol alle versoekings en bose begeertes, alle wellus en materialisme en al die liefdes van hierdie wêreld weerstaan. Maar, terselftertyd, mag jy verslind word deur ‘n voorslepende stryd teen ‘n menslike vyand. Iemand het teen jou te staan gekom – afguns en bitterheid gemanifesteer, ‘n wanvoorstelling van jou aksies en motiewe gegee, jou reputasie beswadder, jou teëgestaan om elke hoek en draai en gesoek om God se doel in jou lewe te in die wiele te ry.

Hierdie persoon se aanval teen jou het jou beroof van alle vrede. Jy het waardevolle tyd gespandeer om jouself te verduidelik en jou aksies te verdedig. En na ‘n rukkie, het die konflik begin om al jou gedagtes te verslind en jou baie slapelose nagte veroorsaak. Nou sien jy dat dit jou familie, jou verhoudings en selfs jou fisieke gesondheid beïnvloed.

As dit jou beskryf, dan is jy reeds verslind deur ‘n vyand – ingesluk deur ‘n beproewing wat oor jou gebring is deur ‘n menslike vyand.

Die Ou Testament wet het vir wraak gevra – ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand. Sy boodskap lyk of dit as volg is, “U sien wat my vyand aan my gedoen het, Here. Agtervolg U hom nou.”

Dit is vir ons makliker om hierdie gesindheid te verstaan as ons meer van Israel se wrede vyande te wete kom. Die Egiptenare se oorlogskreet was, “Ek sal agtervolg, inhaal, buit verdeel, my begeerte sal versadig word van hulle; ek sal my swaard trek, my hand sal hulle uitroei” (Exodus 15:9). En God was getrou om Israel teen sy vyande te wreek: “U het met u asem geblaas: die see het hulle gesink in die geweldige waters” (Exodus 15:10). “U het u regterhand uitgestrek, die aarde het hulle verslind” (Exodus 15:12).

Ek kan reeds sommige Christene hoor sê, “Dit is wat ek wil hê God moet aan my vyande doen. Laat Hy hulle neerwerp en hulle insluk. Hulle het immers aan my gedoen wat die Egiptenare aan Israel gedoen het. Hulle het my agtervolg, my onkant betrap en my ingehaal. So, ek het duidelike Bybelse gronde om God te vra om my vyande weg te blaas.”

As ons egter probeer vertroosting vind in die Ou Testament se manier van om teen vyande op te tree – selfs ons ongeredde vyande – plaas ons onsself terug onder die slawerny van die wet.

Dawid maak ‘n paar sterk stellings oor sy vyande. Hy pleit by God, “Al my vyande sal beskaamd staan en baie verskrik word; hulle sal in ‘n oomblik beskaamd omdraai” (Psalm 6:10). Hy het gesê, “Jag hulle, Here – moenie hulle laat slaap nie, weens dit wat hulle aan my gedoen het.”

In een geval was Dawid se vyand ‘n innige vriend, een van God se mense. Dawid was diep seergemaak deur sy vriend, iemand aan wie hy sy siel geopenbaar het. Hierdie man was Dawid se gebedsmaat, ‘n metgesel wat sy liefde vir God gedeel het. Tog het hierdie boesemvriend teen Dawid gedraai en hom verraai. En dit het Dawid seergemaak, kwaad en verward gelaat.

“Want dit is geen vyand wat my smaad nie, anders sou ek dit dra; dit is nie my hater wat hom teen my groot maak nie, anders sou ek my vir hom wegsteek; maar jy, ‘n man soos ek, my vriend en my vertroude! Ons wat innig met mekaar omgegaan het, in die huis van God gewandel het met die woelige skare” (Psalm 55:13-15).

Dawid het in wese gesê, “As dit ‘n een of ander gewone mens was, sou ek dit kon hanteer. Maar hierdie was ‘n innige, goddelike vriend. En dit was te veel vir my om te dra.”

Ek glo saam met die meeste Bybelgeleerdes die vriend wat teen Dawid gedraai het, was Agitófel, eens sy raadgewer en vertroueling. Die twee mans het mekaar se mening op elke saak in die lewe gesoek. Elke keer wat Dawid na God se huis gegaan het om te aanbid, was Agitófel aan sy sy en het as ‘n godspraak van die Here vir hom opgetree. En Dawid het openlik sy hart met Agitófel gedeel, terwyl hy gedink het hy het ‘n geestelike vriend.

Dieselfde Agitófel – alhoewel hy so wys en geestelik, so sonder bedrog en toegewyd was aan Dawid en sy saak – het skielik teen die koning gedraai en sy vyand geword. Agitófel het in werklikheid so bitter teen Dawid geword, dat hy werklik mense teen hom in opstand laat kom het. Hy het selfs Dawid se seun, Absalom, ingesluit in ‘n sameswering om hom dood te maak.

Dawid het gekla, “Glad is die botterwoorde van sy mond, maar sy hart is oorlog; sy woorde is sagter as olie, maar hulle is ontblote swaarde” (Psalm 55:22). Hy het in wese gesê, “Ek het gedink Agitófel was my vriend. Hy het so vroom gepraat en my vertel wat die beste vir my was. Maar toe het hy ‘n swaard in my rug gesteek.”

Die verskriklike verraad het veroorsaak dat Dawid heeltyd oor sy skouer moes kyk. Hy het gesê, “Die hele dag verdraai hulle my woorde; al hulle gedagtes is teen my, om kwaad te doen. Hulle val aan, lê en loer – hulle let op my hakskene net soos hulle op my lewe geloer het” (Psalm 56:6-7). Dawid het gekla, “Hulle hou my elke beweging dop en wag om my te bedrieg.”

Uit sy verskriklike hartseer, depressie en woede, het Dawid heftig uitgeroep: “Laat die dood hulle oorval, laat hulle lewendig in die doderyk neerdaal; want boosheid is in hulle woning, in hulle binneste” (Psalm 55:16). Hy het met ander woorde gesê, “Maak hierdie verraaier dood, Here. Moenie hom sy dae laat uitleef nie. Stuur hom hel toe oor dit wat hy aan my gedoen het.”

Toe Dawid dit egter gesê het, het hy homself voorgestel as onskuldig. Hy het getuig, “Maar ek, ek roep God aan...Saans en smôrens en smiddags klaag ek en steun, en Hy hoor my stem” (Psalm 55:17-18). Dawid het in wese gesê, “Here, U weet ek het alles gedoen om te probeer om U te behaag. Ek het nie aan hierdie man geraak nie – maar tog het hy teen my gedraai. Hy het homself my vyand gemaak.”

Hierdie woorde kom van dieselfde goddelike koning wat gehuil het toe sy moorddadige vyand, Saul, in die oorlog gesneuwel het. Dawid het sy klere van droefheid geskeur en ‘n beroep op sy vriende gedoen om te vas en te bid en uit te roep, “’n Reus het geval. Saul was ‘n pragtige man van God.” Tog het Dawid van Agitófel, sy voormalige vriend, gesê, “Maak hom dood, God. Stuur hom vinnig hel toe.” Toe het hy sy gesindheid geregverdig deur te sê, “Ek is ‘n biddende man. Ek is altyd op my knieë.”

Hoe dikwels is ons Christene net soos Dawid. In ons verskriklike hartseer en depressie, roep ons in ons eie-geregtigheid teen ons vyande uit, “Here, moenie dat hulle een dag langer lewe nie.”

Miskien ken jy iemand wat eens vir almal vertel het hy het jou lief. Maar toe, eensklaps – het daardie vriend jou in die rug gesteek. Hy het teen jou gedraai en nou is hy daarop uit om jou seer te maak.

Miskien is jy geskei van jou maat en nou het daardie gade sy mes in vir jou. Eens was jy oortuig dat jou maat jou liefgehad en gerespekteer het. Hy het langs jou voor die altaar gestaan en belowe om joune te wees vir ‘n leeftyd. In die vroeë dae, was sy woorde mooi en liefdevol en jy het gedink, “Ons het so ‘n noue band. Hy is my dierbaarste vriend.”

Maar nou het hy jou verlaat, miskien vir iemand anders. En hy verwyt jou - praat mooi voor jou, terwyl hy agter jou rug jou probeer vernietig. Jy huil jouself aan die slaap en dink, “Ek het gedink ek ken hom. Hoe kon hy so uitdraai?”

Miskien is jou vyand ‘n innige, persoonlike vriend – miskien ‘n bedienaarsvennoot of ‘n Christen medewerker. Op een stadium, het dit gelyk of hierdie vriend baie goddelik en sonder bedrog was en jy het hom vertrou. Maar skielik, vir geen ooglopende rede nie, het hy teen jou gedraai. Jy het niks gedoen om sy teenkanting teen jou te veroorsaak nie. Jy het in werklikheid vriendelik gebly toe hy jou genader het. Tog kan jy nie glo die gif wat hy teenoor andere oor jou uitspuug nie – leuens, kwetsende woorde, manipulasies. En die wond is selfs seerder, omdat hy jou vriend was.

Sommige lesers mag vra, “Gebeur sulke dinge werklik in die liggaam van Christus? Ek sien nie hoe dit waar kan wees van enige Christen nie.” Ek is jammer om te sê, dit is alles waar.

Ek ken ‘n goddelike besigheidsman wat genooi was om op die bestuur van ‘n Christen organisasie te dien. By die eerste vergadering, was hy geskok oor die politiek en binnegevegte wat hy gesien het. Hy het my verward geskakel en gevra, “Gaan dit so in elke bediening? Ek het hierdie soort ding in besigheid verwag, maar ek is moedeloos oor wat ek onder hierdie mans gesien en gehoor het. Hulle kan nie in die Gees van Christus gaan sit en hulle verskille uitwerk nie.”

Ek sê vir jou, dit is onmoontlik om waarlik heilig te wees sonder totale gehoorsaamheid aan ons Here se bevel om mekaar lief te hê. Jesus het gesê, “Die hele wet word hierin vervul – dat jy God liefhê met jou hele hart en jou naaste soos jouself” (Matthéüs 22:37-40). God toets inderdaad ons liefde vir Hom deur die liefde wat ons aan ons Christen broers en susters betoon. “As iemand sê: Ek het God lief – en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie” (1 Johannes 4:20).

Jy kan God se lof besing in die kerk, jy kan kos bedien aan die haweloses – maar as jy een enkele wrok teen iemand dra, is jou liefde vir God verniet. Die Skrif sê as jy boosheid in jou hart teenoor iemand anders herberg, dan is jy ‘n blatante skynheilige in God se oë.

Om diegene wat ons seergemaak het, lief te hê, is nie ‘n opsie nie, maar ‘n bevel. “En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het” (1 Johannes 3:23). “Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê” (Johannes 15:17).

Jy mag beswaar maak, “Here, ek dien U, prys U, aanbid U, doen opofferings vir U – maar moenie van my verwag om hierdie hartseer neer te lê nie. As U net die diepte van die pyn waardeur ek gaan verstaan, sou U dit nie van my verwag het nie. Dit is bokant my vermoë om dit te doen.”

Nee – dit is binne jou vermoë om dit te doen. Jesus sê Hy het vir ons al die mag oor die vyand gegee. Sy Heilige Gees bemagtig ons om te vergewe, selfs waar ons diep gewond is.

Jy sien, as lede van Christus se liggaam, moet ons reageer volgens die leiding wat deur ons hoof, Jesus, aan ons gegee word. Dink daaraan: nie een van jou vingers beweeg, of ‘n ooglid knip, sonder dat dit deur jou brein beheer word nie. So, as Christus ons hoof is, dan moet al sy lede volgens sy gedagtes beweeg. En Hy het sy gedagtes hieroor duidelik uitgespreek: “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efésiërs 4:32).

Tree jy volgens Christus se wysheid op? Of het jy jou eie hoof geword, onafhanklik van Hom? Het jy jou vyande in liefde vergewe, net soos Jesus jou vergewe het? Of hou jy steeds ‘n wrok, wat veroorsaak dat jou sonde teen jou opstapel?

Dikwels kan God se gebod om ons vyande lief te hê vir ons lyk na bitter, onsmaaklike medisyne. Maar soos die kasterolie wat ek in my jeug moes sluk, is dit medisyne wat genees. Talle Christene is nie gewillig om hierdie medisyne te neem nie. Hulle sien dit verwoord in die Skrif, maar hulle gehoorsaam dit selde. Hulle voel steeds geregverdig om hulle vyande te verag.

Jesus stel dit baie duidelik: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Matthéüs 5:43-44).

Was Jesus hier teenstrydig met die wet? Glad nie. Hy het die gees van vlees wat die wet binnegedring het, omgekeer. Op daardie stadium, het Jode net ander Jode liefgehad. ‘n Jood mag nie met ‘n heiden bladgeskud het nie of selfs toegelaat het dat sy kleed aan ‘n buitestaander se klere raak nie. Dit was egter nie die gees van die wet nie. Die wet was heilig en het beveel, “As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors het, gee hom water om te drink. Want jy hoop gloeiende kole op sy hoof, en die Here sal jou dit vergelde” (Spreuke 25:21-22).

Jesus het ook die Ou Testament wet insake skade en beserings aangespreek. Hy het verklaar, “Jy het gehoor dat daar gesê is: Oog vir ‘n oog en tand vir ‘n tand. Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” (Matthéüs 5:38-39).

Onder Moses se wet, moes enigeen wat ‘n besering veroorsaak het, op dieselfde manier daarvoor kompenseer – ‘n wond vir ‘n wond, ‘n hou vir ‘n hou. Dit was egter nie veronderstel om so te wees onder Christus se bediening van genade nie. Jesus se gebod om ons naaste lief te hê, was inderdaad bedoel om ons vyande in te sluit.

Jy mag vra, “Is ons veronderstel om bose mense lief te hê – dokters wat aborsies uitvoer, gewetenlose politici, militante homoseksuele wat daarop aanspraak maak dat Jesus homoseksueel was? Sê die Bybel nie vir ons om teen sonde uit te vaar en boosdoeners heftig teë te staan nie?” Ja, dit is so. Maar ons moet hierdie mense se bose weë weerstaan sonder om hulle as persoon te haat.

Jy mag wens om op Dawid se gebed aanspraak te maak: “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my” (Psalm 139:21-22). Selfs Dawid het egter die genadige gees van die wet ontdek. Hy het geleer dit is moontlik om iemand se boosheid te haat, sonder om die persoon te haat. Hy het geskryf: “Die dade van die afvalliges haat ek” (Psalm 101:3). “Daarom haat ek elke leuenpad” (Psalm 119:104). “Leuens haat ek en het daar ‘n afsku van” (Psalm 119:163).

Beskou Jesus se voorbeeld. Hy het die gekombineerde boosheid van elke betekenisvolle mag in sy dag getrotseer – regeringsamptenare, politieke hoofde en kerkleiers. Al hierdie mense het hulleself Christus se vyande gemaak en het kwaadwillig teen Hom gelaster. Tog, op die hoogtepunt van sy pyn – op die randjie van die dood – het Jesus gebid, “Vader, vergeef hulle” (Lukas 23:34).

Stéfanus het alle reg gehad om diegene wat hom gestenig het te weerstaan. Hy kon ‘n vinger teen daardie verdorwe godsdienstige leiers gelig en gesê het, “Ek sal julle op die oordeelsdag sien. Julle sal nie hiermee wegkom nie. God gaan julle tugtig vir hierdie sonde.” Maar, in plaas daarvan, het Stéfanus Jesus se voorbeeld gevolg. Hy het gebid, “Here, reken hulle die sonde nie toe nie” (Handelinge 7:60).

Toe Mirjam in aanklag teen haar broer, Moses, in opstand gekom het, het sy ‘n sonde wat die dood verdien het, gepleeg. En God was getrou om Moses te wreek en het sy suster met melaatsheid getref. Tog het Moses hom nie verbly in Mirjam se lyding nie. Dit het in sy hart bedroef en hy het God gesmeek vir haar genesing: “o God, maak haar tog gesond” (Númeri 12:13).

Paulus was gevlei deur die skynheiliges, wat hom daarna uitgeskel, mishandel en belaster het. Mense van oor die spektrum heen het Paulus teëgestaan – bose politici, hele samelewings, Romeinse skandseuns, wat hom gehaat het omdat hy hulle homoseksuele praktyke teëgestaan het. Selfs kerke het teen hom opgestaan. Woedende leermeesters, afgunstig op die openbarings wat Paulus ontvang het, het hom bespot en verkeerd aangehaal. Ander het hom beskuldig van wanhantering van geld.

Moenie verkeerd verstaan nie – Paulus het hierdie mense se sonde gehaat. Hulle misleidings het hom bedroef en hy was uitgesproke teen hulle boosheid. Maar nooit het hy opgehou om die mense lief te hê of vir hulle siele te bid nie. Hy het getuig, “Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit; word ons belaster, ons troos” (1 Korinthiërs 4:12-13). Paulus het Jesus se voorbeeld gevolg. Net soos Petrus oor Christus geskryf het, “Wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23).

Ons kan die immorele aksies van diegene in die regering haat. Ons kan die sonde van homoseksuele, aborsioniste en alle Christus-veragters haat. Maar die Here gebied ons om hulle as mense lief te hê – mense vir wie Jesus gesterf het. En Hy gebied ons om vir hulle te bid.

In plaas daarvan, spot ons dikwels met hulle. Ek het al baie grappies oor ons President oorvertel en oor ander gelag. Ek glo sy standpunt oor laat-termyn aborsie is ‘n gruwel in God se oë en dit laat my bloed kook. Maar dit is geen verskoning vir my om sy siel nie ernstig op te neem nie. As ek te enige tyd ‘n persoon verag eerder as die beginsels agter daardie persoon, dan verteenwoordig ek nie waarlik Christus nie.

Ek glo Jesus se naam word oneer aangedoen deur die manier waarop talle Christene teen boosdoeners optree. Ons gaan te kere teen diegene vir wie ons moes gebid het. Sogenaamde gelowiges het aborsieklinieke gebombardeer, aborsie dokters vermoor en woedende vuiste geswaai teen gay betogers. Niks daarvan is die Gees van Christus nie. Ons krag is in ons knieë, nie om ons vuiste te swaai of woedende oordele te rig nie.

Hoe moet ons optree teen Christene wat hulself ons vyande gemaak het? Jesus beveel ons om hulle lief te hê, deur drie dinge te doen: 1. Seën hulle. 2. Doen goed aan hulle. 3. Bid vir hulle. “Julle moet julle vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Matthéüs 5:44).

Laat ons ons lewens ondersoek in die lig van hierdie drie dinge, om te sien of ons aan Christus, ons Hoof, gehoorsaam is:

1. “Seën die wat julle vervloek.” Wat presies beteken dit om te seën? Die Griekse woord vir seën hier impliseer, “praat slegs wat goed en opbouend is, hardop, met die mond.” Ons moet nie net goeie dinge oor ons vyande dink nie, maar dit openlik uitspreek.

Ek het waarlik misluk in hierdie gebod. Ek onthou die keer toe mense wat ek hartlik liefgehad het teen my opgestaan het, my vervolg en belaster het. Dit was die ergste pyn wat ek al ooit verduur het en dit het my gedagtes dag en nag verteer. Wanneer ek ook al die kans gehad het, het ek my hart oopgemaak teenoor enigeen wat wou luister.

Eendag het ‘n dierbare paartjie in die bediening gevra om middagete te hê saam met my en my vrou, Gwen. Ons het skaars gesit of ek het my hart teenoor hulle oopgemaak. Ek het hulle elke besonderheid van my seer vertel – elke leuen wat vertel is en elke wond wat toegedien is. Daardie paartjie het nie geweet wat hulle getref het nie. ‘n Uur of wat later, het hulle verward vertrek. Toe ek na Gwen gekyk het, het ek moedeloosheid in haar oë gesien. Dit is toe dat ek besef het – ek het al die praatwerk gedoen.

Ek het later uitgevind dat hierdie dierbare paartjie seer gehad het – en dit is waarom hulle desperaat was om ons te sien. Ek het egter nooit gevra hoe dit met hulle gegaan het nie. Hulle kon nie ‘n woord inkry nie – en hulle het leeg, droog en sonder dat hulle geestelik gestig is, weggegaan. As ek net Jesus se bevel gehoorsaam het om my vervolgers te seën en goed van hulle te praat, sou hierdie paartjie dalk ‘n seën ontvang het. In plaas daarvan, het hulle bedruk weggegaan.

2. Doen goed aan die wat vir julle haat.” Wat beteken dit om goed te doen aan diegene wat ons teëstaan? Die Griekse betekenis hier impliseer “eerlikheid plus herstel.” Jesus sê in wese, “Doen alles in jou vermoë om jou vyand se genesing en herstel van Satan se strik te soek. Jy weet dat wat hierdie persoon aan jou doen boos is. Tog moet jou fokus nie op jou eie hartseer wees nie, maar op die misleiding in jou vyand se siel.”

Christus beveel ons in werklikheid om die siel-vernietigende toestand van ons vervolgers te visualiseer. Ons moenie vertroosting in die gedagte vind dat God eendag hulle sonde teen ons gaan wreek nie. In plaas daarvan, moet ons vir hulle bid. Ons moet probeer om enige mure, wat hulle mag vernietig, af te breek en elke poging aanwend om ‘n brug na hulle te bou.

Jesus het beloof, “As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou” (Johannes 20:23). Om te vergewe beteken “om heeltemal te vergeet, kwyt te skeld, eenkant te werp.” Natuurlik kan niemand iemand se sondes teen God kwytskeld nie. Net Christus kan dit doen deur sy werk aan die kruis. Maar ons kan die sondes vergewe wat teen ons gepleeg is. Jesus sê, “As jy sonde teen jou sal vergewe, het Ek dit in die hemel vergewe. Ek sal jou vyand ter wille van jou vergewe.”

Christus se bevel hier is baie eenvoudig: “Maak jy die eerste skuif. Moenie wag nie – moenie die geleentheid misloop nie – omdat jou vyand se siel in die ewigheid kan ingaan terwyl hy steeds sy sonde dra. Wees jy die eerste om versoening te soek. Natuurlik sal jou barmhartigheid verwerp word. Maar as dit aanvaar word, kan jy op die oordeelsdag staan met die wete dat jou vyand nie geoordeel en verdoem is as gevolg van sy sonde teen jou nie.”

3. “Bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.” Ons sien hierdie gebod geïllustreer in die pligte van die hoëpriester. Eerstens vereis die wet dat die priester die offer slag en dit op die altaar plaas om versoening te doen vir die mense se sonde. En tweedens, moes die priester bid vir die gemeente, om namens hulle op te tree as ‘n middelaar.

Hierdie priester se werk was gedemonstreer aan die kruis. Jesus het beide gedoen: Eerstens moes hy die offer vir sonde gebring het met sy eie liggaam. Toe het Hy gebid vir die vergifnis van die mense, insluitend sy eie vervolgers.

En nou tree Christus in gebed vir sy vyande in. “En as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Johannes 2:1). Jesus is ‘n Voorspraak of advokaat, selfs vir diegene wat jou misbruik en vervolg. So, as Hy vir hulle siele intree, hoe kan ons ‘n vyand van hulle bly? Dit is eenvoudig onmoontlik.

Paulus skryf,  “Gee plek vir die toorn” (Romeine 12:19). Hy sê kortliks, “Ly die verkeerd. Lê dit neer en beweeg aan. Kry ‘n lewe in die Gees.” As ons egter weier om te skade wat aan ons gedoen is te vergewe, moet ons die gevolge dra:

  1. Ons word skuldiger as die persoon wat ons wonde toegedien het.
  2. God se barmhartigheid en genade teenoor ons sal afgesny word. Dan, as dinge begin verkeerd loop in ons lewens, sal ons dit nie verstaan nie, omdat ons in ongehoorsaamheid sal wees.
  3. Ons oortreder se booshede teen ons sal aanhou om ons van vrede te beroof. Hy sal die oorwinnaar word en daarin slaag om ‘n permanente wond vir ons te gee. En hy sal al laggende wegstap, terwyl ons in woede bly broei.
  4. Omdat Satan steeds daarin slaag om ons te dryf na gedagtes van wraak, sal hy in staat wees om ons na dodeliker sondes te lei. En ons sal baie erger oortredinge as hierdie een pleeg.

Die skrywer van Spreuke gee raad, “Die verstand van ‘n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom ‘n eer om die oortreding te vergewe” (Spreuke 19:11). Met ander woorde, ons moet niks doen totdat ons woede verbygegaan het nie. Ons moet nooit ‘n besluit neem of enige daad deurvoer terwyl ons steeds kwaad is nie.

Trouens, ons bring glorie aan ons hemelse Vader wanneer ons skades oorsien en die sondes wat teen ons gepleeg word, vergewe. Om dit te doen, bou karakter in ons. Ons het reeds gelees dat as ons reageer soos Jesus het, sal “die HERE... jou dit vergelde” (Spreuke 25:22). As ons vergewe soos God vergewe, sal Hy ons bring tot ‘n openbaring van guns en seën wat ons nooit geken het nie.