Die Aanraking van God

Die Mens Wat Deur God Besit Word
David Wilkerson

Ek wil drie stellings teenoor jou maak insake die aanraking van God. Hierdie drie punte is die hart van my boodskap:

  1. Wanneer God iemand aanraak en van hom besit neem, is dit nie ‘n tydelike eiendom nie. Dit is vir ‘n leeftyd. Die Here sal nooit dit wat Syne is, aan Satan afstaan nie
  2. Diegene wat deur God besit word, bewaar Hy. Ons mag fouteer, misluk of in vernietigende sonde verval. Maar wanneer God ons eers besit, sal Hy nooit, nooit opgee op ons nie: “Want die HERE... sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar" (Psalm 37:28).
  3. Diegene wat deur God besit word, berei Hy voor vir toenemende bruikbaarheid. Dit sluit selfs gevalle, moedelose heiliges in. Jy mag oortuig wees dat God opgegee het op jou, dat Hy jou nie meer kan gebruik nie. As jy in der waarheid ‘n verslae hart het, word jy voorberei vir iets groter. God wend selfs daardie dinge aan wat Satan bedoel om ons mee te vernietig.

Ons vind hierdie patroon regdeur die Bybel aan die werk in die lewe van mense, wat deur God besit word. Ons lees van goddelike heiliges wat in veragtelike mislukking en sonde verval. Soms is hulle gereed om tou op te gee. Maar God gooi nooit tou op met hulle nie. In plaas daarvan, hou Hy aan om hulle te nader. En uit die puin van verwoesting, word talle genees. Inderdaad, hulle beste dae lê nog voor hulle.

Dit is die punt van my boodskap aan jou. Ek wil vir jou bewys dat wanneer God jou aanraak en van jou besit neem, Hy jou uit elke sataniese strik sal red indien jy Hom aanroep. Hy sal jou van die duiwel se gramskap bewaar. En Hy sal alles in jou lewe — insluitende jou mislukkings, probleme en beproewings — gebruik om jou voor te berei vir sy beste, wat steeds voorlê.

Dink terug aan die tyd toe God na jou toe gekom het en jou siel bonatuurlik aangeraak het. Hy het jou na Homself geroep en jou met sy Gees vervul. Op daardie oomblik, het God ‘n verbintenis met jou gemaak: “Ek wil jou hê. En Ek eis jou op. Jy is my eiendom.” Skielik het Hy beheer van jou lewe geneem. En niks sou daardie feit verander nie. Jy het God se gekoopte eiendom geword: “Die gemeente van God...wat Hy deur sy eie bloed verkry het" (Handelinge 20:28).

Die Skepper van die heelal het jou met die prys van sy eie bloed gekoop. En niks het mag oor daardie bloed nie. So, jy bly God se eiendom, selfs wanneer die magte van die hel jou verlei en veroordeel. Satan self mag jou verstrik met ‘n strik uit die hel. Net as hy egter dink, “Ek het hom,” antwoord God, “Nee, duiwel, jy kan hom nie kry nie. Hy is myne. Ek het hom gekoop. Los nou my eiendom.” Jy is steeds God se eiendom. En Hy bewaar jou en berei jou voor vir sy beste. Hier is die Bybelse patroon:

Moses was deur God besit. Die Here het hom deur beproewing op beproewing bewaar. En die hele tyd het God hierdie man voorberei vir ‘n groot werk.

Moses was aangeraak deur God terwyl hy in die Farao se huis gebly het. Die gevolg was dat Moses geweier het om Farao se seun genoem te word: “Omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning" (Hebreërs 11:25-26).

Daar was geen twyfel oor God se aanraking op Moses se lewe terwyl hy in Egipte was nie. Moses het alles wat van die vlees was, verwerp. En hy het geweet hy was geroep om Israel te verlos. Hy het in werklikheid aangeneem die Israeliete sou hom erken as hulle verlosser toe hy die Egiptiese slawedrywer doodgeslaan het. Stefanus het getuig, “Hy...[het] die Egiptenaar...verslaan. En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sý hand redding sou gee" (Handelinge 7:24-25).

In plaas daarvan, moes Moses die Farao vrees as gevolg van sy daad. Daarom het hy uit Egipte gevlug. Teen die tyd dat hy gevlug het, was Moses heeltemal deur God besit. Hy het alles prysgegee ter wille van Christus. Min het hy egter geweet dat hy op die punt was om ‘n lang wildernis tydperk deur te gaan. Hy sou weggesteek word op die agterkant van ‘n woestyn vir veertig jaar lank.

Wat het hierdie wildernis tydperk in Moses se lewe verteenwoordig? Dit is ‘n tyd wat talle diensknegte, wat deur God besit word, beleef. Hulle voel vasgevang in ‘n plek ver benede hulle vermoëns. Hulle rol skiet hopeloos te kort teenoor dit wat hulle glo God vir hulle beplan het. Moses was net so ‘n dienskneg. Hy het ‘n magtige roeping op sy lewe gehad en hy het daarvan gedroom om groot dade vir God te doen. Hy was egter vasgevang op die agterkant van ‘n wildernis met skynbaar geen toekoms nie.

Ek het gewonder hoe dikwels Moses na sy trop skape gekyk en gebid het, “God, U het my so duidelik aangeraak. Ek het gedink U het my geroep om u verlosser te wees. Waarom het U my hier gelos? U kon my sekerlik met meer vertrou het as om so min skape op te pas. U het my ‘n opleiding gegee by Egipte se beste opleidingsentrums. U het vir my magtige dinge, wat deur U hand gedoen kan word, gewys. Maar ek voel oorgesien, op die rak gesit. Is dit al wat daar vir my is?”

Ek glo Moses was oortuig dat die tyd vir hom uitgeloop het. Hy het geen stem en geen boodskap gehad nie. Daarom het hy homself berus om ‘n agterkant-van-die-wildernis-herder te wees. Maar God was verbind aan hierdie man. En die hele tyd waartydens Moses gefrusteerd was met sy beperkte bestaan, het die Here hom bewaar en voorberei vir groter dinge.

Gedurende hierdie tyd, het Moses se skoonpa, Jetro, die wildernis verken, water opgespoor, paaie genavigeer en roetes gevind. Moses het nie besef dat Jetro op die punt was om Israel se reidsgids deur die woestyn te wees nie. God se verborge herders was toe die hele tyd voorberei en opgelei vir wildernis-oorlewing vir die werk wat voorgelê het.

Toe, skielik, het Moses sy ontmoeting met die brandende bos gehad. Die bos was waarskynlik ‘n algemene struik, laag op die grond en nutteloos. Maar God het daardie bos aan die brand gesteek en ‘n stem het daaruit voortgekom en gesê, “Trek jou skoene af, Moses. Jy is op heilige grond.” Die Here het toe ‘n boodskap direk tot Moses se hart gespreek. En na net ‘n paar uur by daardie brandende bos, was Moses se lewe nooit weer dieselfde nie. God het hom beveel, “Gaan, maak die kinders van Israel bymekaar. Vertel vir Farao, ‘Laat my volk trek.’”

Hier was ‘n man wat deur God besit was, wat bewaar en voorberei was vir baie jare lank. Nou was hy deur God self aangespreek uit die brandende bos. Dit was alles bedoel om vir Moses te vertel, “Ek het jou nie vergeet nie. Ek was die hele tyd met jou. Ek was die een wat jou in hierdie wildernis ingelei het. En Ek het jou van Farao bewaar. Nou is jy op die punt om groter dinge te sien in jou diens aan My.”

Daardie brandende bos was die vuur van die Heilige Gees wat deur ‘n natuurlike voorwerp beweeg het. God het ‘n nuttelose struik geneem en veroorsaak dat ontsaglike dinge daardeur plaasgevind het. Net so vandag, mag ek die laag-teen-die-grond bos wees wat God gebruik om met jou hart te praat. Laat my toe om jou te vra: is jy op die agterkant van die wildernis?

Miskien is jy vasgevang in ‘n werk waar jy maar min betaal word met geen hoop of invloed nie. Of, jou gade is ‘n ongelowige en soms toets jou huwelik jou siel. Jy is regtig nie jaloers op ander se seëninge nie. Maar jy wonder, “Here, waarom word ek nie gebruik nie? U het my ‘n hart gegee om meer vir u koninkryk te doen. Moenie my oorslaan nie.”

God is verbind aan jou, net soos Hy aan Moses was. Jy mag gefrustreerd wees met jou beperkte bestaan. Maar nog die hele tyd was God besig om jou te bewaar en voor te berei. Jy mag dalk nie geroep wees om een of ander groot werk te doen nie. Maar jy word geroep tot ‘n nuwe wandel met die Here, soos jy nog nooit tevore beleef het nie. En jy word geroep om Christus te bedien soos nog nooit tevore nie. Jou rol is eenvoudig om te glo dat God jou na hoër, heiliger grond sal neem. Hy wil meer van Homself aan jou openbaar en sy vuur in jou plaas. Hy wil hê diegene rondom jou moet besef, “Daardie persoon was by Jesus.”

Wanneer jy Hom met intensiteit begin soek, gaan jy wonderwerke sien. Jy sal in ‘n nuwe man, ‘n nuwe vrou verander word. En dit gebeur alles omdat jy sy eiendom is. Jou beste dae lê nog voor.

Dawid het ‘n verskriklike stryd met wellus in sy hart gehad. Hier was ‘n krygsman wat reuse doodgemaak het, ‘n gesalfde Psalmdigter, ‘n koning wat magtiglik gebruik is om oor God se volk te heers. Die Here self het Dawid ‘n man na sy eie hart genoem. Op die hoogtepunt van God se seëning en guns, was Dawid egter verras deur ‘n geweldige aanval van wellus.

Hierdie regverdige koning het pas ‘n string oorwinnings oor vyand op vyand. Hy het die ark van die verbond teruggewen en in ere herstel. En hy het ‘n belofte van die Here ontvang van ‘n ewige huis. Die Skrif sê, “Die Here het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het" (2 Samuel 8:14).

Toe eendag, het Dawid vir Bátseba gesien en was oorval deur verskriklike wellus. Hy het owerspel gepleeg en ‘n kind by haar verwek. Dawid het desperaat probeer om hierdie verskriklike sonde weg te steek. Hy het gemanipuleer, gekonkel en gelieg om dit toe te smeer. Uiteindelik het hy so laag gedaal dat hy die moord van sy beminde se man veroorsaak het.

Dawid se verskriklike sonde sou die hoofopskrifte gemaak het in alle samelewings in alle eeu. As jy gedurende sy leeftyd geleef het, sou jy waarskynlik gedink het, “God is op die punt om tou op te gooi met daardie man. Hy het gesondig teen so groot lig.” Wat verteenwoordig Dawid se laagtepunt vir ons vandag? Dit is ‘n beeld van die dienskneg, wat deur God besit word, wat verras is deur ‘n oorweldigende wellus. Satan probeer elke dienaar, wat ernstig is in sy wandel met God, verras.

Was jy al ooit verras en oorval deur een of ander wellus? Jy het ‘n rein geskiedenis, ‘n bewonderenswaardige wandel met Jesus. Jy was bekend en geag as ‘n regverdige dienaar, iemand wat die Here liefhet. Maar die duiwel het jou in sy sig gekry, gemik en ‘n arsenaal van vurige pyle uit die hel op jou geskiet.

Miskien was jou val owerspel. Miskien was dit pornografie of geheime drinkery. Net soos Dawid, het jou sonde jou uitgevind en jy was ontbloot. (Ek het ‘n bedienaar vriend wat dit beleef het. Hy was in ‘n hotel op ‘n bedienaarsreis en was versoek deur ‘n verskriklike wellus. Hy het uiteindelik ingegee en ‘n X-gegradeerde film bestel. Maar binne vyf minute, was sy sonde ontbloot.)

Jy mag sê, “Ek het nie so ‘n sonde in my lewe nie. Ek het ‘n rein wandel.” Maar wat van die moeder van alle sondes, ongeloof? Miskien het jy by ‘n plek van oorwinning uitgekom, ‘n hoogtepunt in jou geloofswandel. Jy het gevoel jy het na die Here deurgebreek. Toe, van nêrens, was jy oorval deur ongeloof. Jy was geteister deur depressie, vrees, angs en selfs woede teenoor God. Skielik het jy God se teenwoordigheid in jou lewe in twyfel begin trek. Ek vertel vir jou, daardie presiese gedagte is ‘n sataniese strik. Die vyand sal met graagte die geloof van elke gelowige, wat deur God besit word, vernietig.

Dit maak nie saak wat jou ongeregtigheid mag wees nie. Daar is nie so ‘n sonde in jou lewe wat sou veroorsaak dat God sou tou opgee met jou nie. Jy is steeds sy gekoopte eiendom. Selfs al het Dawid God verag deur owerspel te pleeg, het die Here nie tou opgegee met hom nie. Die Skrif vertel vir ons, “Daarom het die Here Natan na Dawid gestuur" (2 Samuel 12:1). Terwyl Moses uitgedaag was deur ‘n brandende bos, was Dawid gekonfronteer deur ‘n profeet. Natan het dit aan hom uitgewys en gesê, “Jy is die man wat gesondig het. Jy het owerspel gepleeg.” Hoe het Dawid gereageer? Hy het homself verneder en bely, “Ek het gesondig teen die HERE" (2 Samuel 12:13).

Dawid het ontsettende gevolge vir sy sonde gely. Maar God het hom deur die hele vuurproef bewaar. Nadat Natan Dawid gekonfronteer het, het hy die koning vertel, “So het die HERE dan ook u sonde vergewe" (2 Samuel 12:13). In werklikheid was Dawid voorberei vir ‘n selfs groter bediening na sy val. Sy stem was regdeur die land gehoor soos nog nooit tevore nie. Vandag lees ons sy gesalfde woorde in die Psalms. Inderdaad, daar word steeds vandag gepreek oor die Woord wat God aan Dawid geopenbaar het tydens sy beproewing.

Ongelukkig was Saul, Dawid se voorganger, nie so bewaar soos Dawid nie. Saul was ook magtiglik deur God aangeraak en deur sy Gees in besit geneem. Maar Saul was ongehoorsaam aan elke woord wat die profeet Samuel tot hom gespreek het. In plaas daarvan om homself te verneder, het Saul bitter en kwaad geword vir God. Die Here het probeer om Saul weer aan te raak by Rama deur sy Gees op hom uit te stort. Maar Saul het Hom uitgesluit. Hy het heeltemal tou opgegee met God en homself tot ‘n heks gewend vir raad.

In werklikheid sal God nooit opgee op jou nie. As jy verstrengel is in sonde, sal Hy jou van aangesig tot aangesig bring met ‘n oortuigende, profetiese woord. Ek het baie keer gesê dat ek nog nooit daarop aanspraak gemaak het dat ek ‘n profeet is nie. Maar op hierdie oomblik, weet ek ek dien as ‘n profeet vir talle lesers van hierdie boodskap. Ek is jou Natan en ek stel dit aan jou: “As jy jou sonde sal bely en laat staan...as jy God sal vertrou om sy verbondsbeloftes aan jou na te kom...sal jy nie alleen vergewe en herstel word nie, maar jou beste, mees vrugbare dae sal steeds voor jou lê.

Hierdie dissipel wat deur God besit is, het die ergste sonde van almal gepleeg. Dit was een ding vir Moses om te vlug en vir God weg te kruip. Dit was ‘n ander storie vir Dawid om die Here te verag. Maar die erste van alles, Petrus het ontken dat hy Christus ken. Hy het selfs sy Here gevloek.

Jesus het gesê sy goeie vriend, Petrus, was ‘n rots. Hierdie moedige dissipel het selfs saam met die Here op die water geloop. En hy het vol bravade gesweer dat hy vir sy Meester sou sterf. Toe Petrus egter later daarvan beskuldig is dat hy een van Christus se dissipels was, het hy met hierdie ysingswekkende woord geantwoord: “Ek ken die man nie" (Matthéüs 26:72). Toe die skare daarop aangedring het, “Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken die man nie" (Matthéüs 26:74).

Kan jy jouself indink in hierdie verskriklike toneel? Het ons Petrus geken, sou ons gedink het, “Dit is dit, dit is klaarpraat met Petrus. Hy het die aangesig van God gevloek. En hy het Jesus verloën en gehelp om Hom na die kruis te stuur. Daar is geen hoop vir hom nie. God moet tou opgee met hom.”

Die duiwel moes geroem het in Petrus se verwoesting en uitgeroep het, “Ek het jou. Jy is nou heeltemal myne.” Maar God wou nie sy eienaarskap opgee nie. Hy sou Petrus bewaar. En Hy het uitgeroep, “Nee, duiwel, hy is my eiendom. Kyk net wat Ek met hom gaan doen.”

Terwyl Moses aangekeer was deur ‘n brandende bos, en Dawid deur ‘n profeet, was Petrus deur die Heilige Gees aangekeer. Die Heilige Gees het Petrus herinner aan wat Christus gesê het: “En Petrus het die woord van Jesus onthou van Hy vir hom gesê het: Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het uitgegaan en bitterlik geween" (Matthéüs 26:75).

Die Heilige Gees het op Petrus neergedaal, hom oortuig van sonde en hom gesmelt. Die dissipel is ‘n gebroke hart en ‘n verslae gees gegee. Toe, net ‘n paar weke later, sien ons ‘n heeltemal ander Petrus. Hierdie man het by Pinkster die evangelie met vrymoedigheid verkondig aan ten minste 3,000 mense. Die dissipel wat van lafhartigheid ineengekrimp het voor ‘n diensmeisie, was nou ‘n vreeslose evangelis, vol vuur en drif.

Hier is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe die Here sy eiendom bewaar en voorberei. Sien jy die patroon? Petrus was besig om voorberei te word selfs in sy verloëning van Jesus. Wat die duiwel as uiterste boosheid bedoel het, het God in sy eie heerlikheid verander. Hoe? Dieselfde priesters wat gesien het hoe Petrus Jesus verloën, het hom later gesien staan en die opgestane Christus verkondig. Petrus se heilige vrymoedigheid het veroorsaak dat hulle verwonderd was, “Hierdie man was saam met Jesus, wat hy verloën het. Watter krag is dit wat in hom werk en hom salf?”

Die Here het met ‘n verbond gesweer om gewonde dienaars, wat Hy besit, te red en te herstel. Kan jy eerlik sê dat God jou sy eiendom gemaak het? Ek onthou die dag toe dit met my gebeur het. Ek was agt jaar oud by ‘n kampbyeenkoms. Die Gees van God het oor my gekom en besit geneem van my liggaam, verstand, siel en gees. Hy het my geroep om sy Woord te verkondig.

Omdat die Here my van toe af besit het, het Hy my deur al die jare bewaar. Hy het my verlos uit strik op strik wat deur die Satan gestel was. Elkeen van daardie demoniese strikke kon my bediening vernietig en my lewe verwoes het. Maar, omdat die Here my besit het, het Hy elke keer tussen beide getree en gesê, “ Ek sal nie toelaat dat jy hom kry nie, duiwel.” Nou, op die ouderdom van een-en-sewentig, weet ek dat my beste jare steeds voorlê. En ek kan sien dat al my beproewings my voorberei het vir hierdie tyd.

Jare gelede het ek die donkerste tydperk van my bediening beleef. Ek was aangeval deur elke versoeking uit die hel. My vrou, Gwen, was onder geweldige druk weens haar siektes. En alles wat in ons bediening kon verkeerd loop, het. Op een stadium, het my personeel begin bedank. Ek was angsbevange om te preek, want ek het skynheiligheid in my eie lewe gesien. Ek het so onheilig gevoel.

Die pyn van daardie dae was onbeskryflik. Ek het in die kerk gesit en gepleit, “God, stuur vir my ‘n woord, iemand, iets om die pyn in my aan te raak. Asseblief, sê vir my waar ek verkeerd gegaan het. Waarom teister Satan my op hierdie manier? Ek smeek U om my uit hierdie strik te verlos.” Ek het gedink dit was klaarpraat met my, heeltemal uitgebrand. Ek het gevoel God het alle reg gehad om my salwing weg te neem, omdat ek so ‘n mislukking was.

Dit was gedurende hierdie donker tydperk dat God ‘n goddelike profeet na my gestuur het, ‘n man genaamd Leonard Ravenhill. Hierdie sagmoedige man het vir my ‘n boek gegee en gesê, “David, God het my na jou gestuur. Hier, lees hierdie boek. Dit gaan jou lewe verander.”

Dit het. Die boek was The Christian in Complete Armor, deur die Puriteinse skrywer William Gurnall. Na net twintig bladsye, was ek plat op my aangesig. Gurnall se woorde het my tot in my diepste wese geskud en my siel het ontwaak. Ek het besef, “Here, ek ken U nie soos hierdie man U ken nie.” God het daardie ervaring gebruik om my gees en roeping te vernuwe. Hy het die volgende aan my openbaar, “David, Ek het jou lief en Ek het jou nie verlaat nie. Maar Ek wil met jou praat oor verskeie dinge in jou lewe. Ek wil ook hê dat jy weet dat jou beste dae voor jou lê.”

God sal nooit opgee op my nie. In werklikheid, Hy het toegelaat dat ek so laag daal, sodat ek sou sterf aan alle vertroue op die vlees. Deur daardie hele tyd, het ek geweet Hy het my bewaar, omdat sy Gees aangehou het om vir my te fluister, “Ek het jou lief.”

Uiteindelik het die Heilige Gees my verlos deur God se Nuwe Testament beloftes aan my te openbaar. Hy het my bevry deur my oë oop te maak vir sy geswore eed om God vir my te wees: my te vergewe, barmhartigheid aan my te bewys en verlossing aan my te bied. Hy het in elke behoefte wat ek gehad het, voorsien.

Is jy vasgevang deur ‘n boesemsonde? Is jy daarvan oortuig dat jou gewoonte jou sal vernietig? Die verbondsbeloftes van God het vir my vryheid, rus en oorwinning gebring:

  1. God het beloof om al ons sondes te vertree. “Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree [tot niet maak]; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp" (Miga 7:19). Die woord vir vertree beteken hier om te oorwin. Die Here het beloof om alle sondige gewoontes en vestings dood te maak deur geloof en ware bekering.
  2. God het beloof om te maak dat ons heilig wandel. Dink jy, “Ek wil vry wees, maar ek het nie die wil om my sonde te laat staan nie?” Die Here antwoord, “Dan sal Ek skoon water op julle uitgiet, sodat julle rein kan word...En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee...En Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen" (Esegiël 36:25-27).
  3. Hy het beloof om nooit sy eiendom te verlaat of te begewe nie. Die Here tugtig ons vir ons sonde, maar Hy verlaat nooit sy saad nie: “As hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie, dan sal Ek hulle oortredinge met die roede besoek...Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie. Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie...Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My" (Psalm 89:32-37).
  4. Hy het beloof om sy vrees in ons harte te plaas. “Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie" (Jeremia 32:40).

Ek wil dit direk sê aan diegene wat met geheime sondes, wanhoop of geestelike moegheid sukkel: die enigste ding wat jou van algehele oorwinning weghou, is ongeloof. God het gesweer om vir jou al die krag te gee wat nodig is om sy woord te gehoorsaam. Inderdaad, Hy het jou hierdie verbondsbeloftes gegee sodat jy sal ophou probeer om sonde te oorwin deur jou eie krag.

Hier is ‘n sleutel om die Nuwe Testament te verstaan: God het geen beperkinge of grense nie. Ons beperk die Here deur ons eie beperkte denke. Maar hy het ons sy verbondsbeloftes gegee om die boeie wat ons op Hom geplaas het, af te haal.

In die tuin van Eden, het Satan God se eindelose natuur gebruik om Adam en Eva te verlei. Hy het hulle vertel, “Julle kan soos God wees. Hy het geen grense en geen beperkinge nie. En so kan julle dit hê.” (Uit hierdie misleiding het die valse leerstelling gekom wat daarop aanspraak dat, “Wat jy ook al kan dink, kan jy doen. As jy jou dit kan verbeel, kan jy dit doen.”)

Die Here moes sy wet stuur om aan die mensdom te toon, dat ons nie soos God kan wees nie. Ons kan eenvoudig nie al die grense en beperkinge van ons vlees afbreek nie. Daarom het die Here die wet gebruik om ons te help om ons uiterste magteloosheid te herken. Jesus het ook hierdie waarheid gedemonstreer. Hy het Homself beperk met die grense van die vlees en gesê, “Sonder die Vader kan Ek niks doen nie.” Christus het egter ook gekom om te openbaar dat enige  gelowige, wat Hom vertrou, in sy Nuwe Verbond beloftes ingebring kan word: “Ek sal God vir jou wees, sonder beperkinge of grense.”

Jy mag dink dat jou ongeredde gade nooit by Jesus sal uitkom nie. Maar God sê, “Jy beperk My. Ek het geen grense nie.” Net so, het die kerk eens gedink dat Kommunisme die wêreld uiteindelik sou beheer. Ons het geredeneer, “Die Here kan nie sulke goddelose diktatorskap verwyder nie.” Maar ons het God beperk. Op sy tyd, het die Here die hele stelsel afgebreek deur met die Berlynse Muur te begin. Sy Gees het deur die hele Oos Europa gewaai tot in Rusland.

Christene het dieselfde gedagtes oor die Bamboesgordyn in Sjina gehad. Ons plaas beperkinge op God se vermoë om in Sjina te werk. Maar vandag is daardie groot nasie aan die brand met die Gees van God. Ons plaas ook grense op God in Kuba. Maar ek het pas ‘n film gesien waarin vertel word dat 100,000 Metodiste daar aan die brand is met die Heilige Gees.

Ek vertel vir jou, God het geen grense nie, geen beperkinge nie, selfs nie in die wêreld van Islam nie. Herlewing kan enige plek plaasvind waar dit die Here behaag. Dit kan in jou huis gebeur, met jou kinders, selfs onder ongeredde geliefdes. En God kan aborsie en pornografie te enige tyd uitwis. Ons taak is bloot om prys te gee wat ons vlees kan uitdink en oorgee aan God se getroue beloftes. Ons moet Hom glo vir wonderwerke. 

Terwyl jy jou eie stryd beleef, onthou dat die Here nie sal tou opgee met jou nie. Hy roep jou om sy vriend te wees en Hy hou steeds sy hand op jou. Al waarvoor Hy vra, is ‘n bekeerde hart en ‘n algehele vertroue in sy beloftes. Jy moet egter ag gee op sy waarskuwing: Hoewel God nie sal opgee op jou nie, mag jy dalk opgee op Hom. En dit lei tot hardheid van hart. Onthou Saul se voorbeeld. Sou daardie verharde man hom tot die Here gewend het, in plaas van tot ‘n heks, sou God hom gered het.

Nou beleef jy beide ‘n brandende bos en ‘n profetiese stem. Ek glo vas die Heilige Gees praat met jou deur my woord en sê, “Dit is jou uur van vryheid. Moenie hierdie boodskap neersit sonder dat dit jou verander nie. Moenie jouself toelaat om enige moedeloosheid, slawerny, skuld, vesting of boesemsonde te dra nie. In plaas daarvan, neem besit van die Nuwe Testament beloftes. Jy is die Here s’n en Hy het nou nodig. Binnekort gaan Hy jou lei na groen weivelde en kalm water. So, nou, deur geloof, ontvang sy liefde, krag, vergifnis en vryheid. Jou beste dae lê nog voor.”

“Want die HERE sal sy volk nie verwerp en sy erfdeel nie verlaat nie" (Psalm 94:14).