Om God te volg deur mislukking

Gary Wilkerson

Een van die groot struikelblokke vir mense wanneer hulle 'n aanwysing of woord van die Here kry, is hierdie vrees: As jy nie slaag nie, sal jý as die mislukking bestempel word, en jy sal geloofwaardigheid verloor.

As God jou roep om iets te doen en Hy beveel jou om oor daardie Jordaan te steek, steek jy die Jordaan oor, maak nie saak wat die koste is nie. Wanneer jy dit doen en dit lyk of dinge in duie stort en die sukses wat jy gedink of jou voorgestel het, nie daar is nie, kan dit ontsettend ontmoedigend wees. As jy 'n stap van geloof neem en jy slaag nie daarin nie, sal sommige mense om jou, jou spot en vir jou lag.

Weet jy wat? Wie gee om? Jy het nie die Jordaan oorgesteek vir persoonlike gewin, verdienste of eer nie. Jy het dit oorgesteek om aan Jesus gehoorsaam te wees. Die resultate hang van Hom af.

As jy jou oë op die resultate hou, sal jy moed verloor. As jy jou oog op Jesus hou, sal jy nooit moed verloor nie al verander die omstandighede. Soms kom jy halfpad oor die Jordaan, en God sê: “Stop! Ek wil net hê jy moet halfpad gaan. Draai om en gaan terug.” In daardie oomblikke sal jy dalk versoek word om uit te roep: "Maar ons is amper daar!"

Ons leef in 'n kultuur wat versadig is met hierdie idee dat God daar is om jou te ondersteun ​​met jou drome, begeertes en ambisies. Dit is heeltemal agterstevoor om. Jy is hier op hierdie aarde om God te gehoorsaam, nie om jou eie planne, drome en begeertes te vervul nie. Jy is hier om aan God gehoorsaam te wees, om in die Gees te lewe en om te doen waarvoor God jou geroep het.

Dit is vir my die moeilikste deel om te verstaan, want ek weet dat God my geroep het vir sommige dinge wat – volgens alle aanduidings en op alle maniere waarop jy dit kan meet – 'n mislukking was volgens menslike standaarde. Op daardie tye moet ek vertrou op wat die Bybel ons beveel, soos “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5-6).

Ek het gedink dat ek in sekere gedeeltes van die lewe misluk het, maar as ek nou terugkyk na die geskiedenis, was dit 'n groot sukses in God se koninkryk. Daardie sukses was nie as gevolg van die effek wat dit op ander gehad het nie, maar as gevolg van die verandering wat God in my bewerkstellig het.