‘n Flessie Vol Geloof

Gary Wilkerson

In 2 Konings 4:1-7 het ons 'n wonderlike gedeelte oor Elisa en 'n weduwee. Sy het haar verhaal aan Elisa begin vertel, en dit was 'n verhaal van hartseer, gebrokenheid en teleurstelling. Haar man het gesterf. Daardie een ding alleen sou tragies genoeg wees, maar haar verhaal word nog erger. Haar man was nie net weg nie, maar sy het ook baie skuld bo haar vermoë om te betaal gehad.

Asof dit alles nie erg genoeg was nie, het die skuldeiser na haar gekom en gedreig: “As jy hierdie skuld nie onmiddellik terugbetaal nie, gaan ek jou twee seuns neem en hulle my slawe maak totdat hulle daardie skuld deur hardearbeid afbetaal het.”

Hier het sy die keuse gehad om vasgevang te raak in sinisme en vir haarself te sê: “Ek het gebid vir die genesing van my man, en hy is dood. Ek het gebid dat hierdie skuld verdwyn, en ek is meer in die skuld as wat ek nog ooit tevore was. Waarom sou ek glo dat my seuns gered gaan word? Soveel dinge waarvoor ek gebid het, het nog nie gebeur nie.”

As jy eers sinies raak, gaan die deur dikwels toe. Die sinikus bid selde en glo nog minder in God se krag om te werk. Dit is soos toe Jesus terug is na sy eie tuisdorp. Mense het skepties na Hom gekyk en sy mag verwerp omdat Jesus die plaaslike timmerman was. Gevolglik, sê die Skrif vir ons: “En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy ‘n paar siekes die hande opgelê en hulle gesond gemaak het. En Hy was verwonderd oor hulle ongeloof” (Markus 6:5-6, AFR53).

Gelukkig vir hierdie vrou in 2 Konings, het sy God se boodskap deur sy profeet Elisa geglo, en die Here het 'n fenomenale wonderwerk in haar lewe gedoen.

Ek het miskien in my leeftyd 'n paar onverhoorde gebede gehad. Ek het miskien hartseer in die lewe deurgemaak, maar ek weet dat God my hoor, en ek weet dat Hy gereed is om my hande wat ek vir Hom oophou vol te maak. Daardie klein saadjie van geloof is al wat nodig is. “As julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant – en hy sou julle gehoorsaam wees” (Lukas 17:6).

Al wat nodig is, is 'n mosterdsaadjie van geloof om 'n lewe van sinisme te oorwin.