Hou Christus Sentraal

David Wilkerson (1931-2011)

Menigtes sê dat hulle Christus volg; tog het die meerderheid van hierdie mense, insluitend baie wat in die bediening is, Jesus as hulle kragbron verlaat. Hoekom?

Jy sien, iets gebeur wanneer ons die lyn oorsteek na die Allerheiligste. Die oomblik as ons Here se teenwoordigheid binnegaan, besef ons alle vlees moet sterf. Dit sluit alle begeerte na geestelike opwinding, die praat van groot herlewings, die fokus op bevryding en die soeke na 'n nuwe werking of beweging in. Dit is die oomblik wat baie gelowiges besef watter duur prys dit sal wees om op te hou om op hul eie vlees te vertrou.

Jesus moet jou alles word. Hy alleen moet jou bron van opwinding en konstante herlewing wees. Hy moet jou voortdurende woord van leiding wees, jou nuwe genade elke oggend. Wanneer jy die grens oorsteek, kan jy nie meer staatmaak op begaafde leraars, gesalfde predikers of kragtige evangeliste nie. As jy steeds mense najaag in plaas van Christus – jou haas van byeenkoms na byeenkoms, op soek na iemand om jou te seën – dan is jy nie tevrede met Jesus nie. Hy moet alles vir jou wees.

Abraham is “'n vriend van God” genoem (sien Jakobus 2:23) vanweë sy intieme verhouding met die Here. 'n Vriend is iemand wat vrylik sy hart aan 'n ander gee; en duidelik het die Here sy hart met Abraham gedeel. God self het getuig: "Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen?" (Génesis 18:17). Trouens, Paulus sê: "God ... het vooraf aan Abraham die evangelie gaan verkondig" (Galásiërs 3:8). Met ander woorde, die Here het vir Abraham groot dinge, wat voorlê, gewys.

Abraham het geweet Jesus was ons beloofde besitting. Hy het gesien hoe 'n seëvierende Jesus alle owerhede en magte vernietig. Hy het die oorwinning van die kruis en baie nasies wat die beloofde land binnestroom en hulle belofte in besit neem gesien: Christus self. Hierdie mense het nie daarna gestreef om binne te gaan of leë beloftes aan God gemaak nie. Hulle het hul belofte deur geloof alleen in besit geneem en God se Woord aan hulle vertrou.

Het jy jou Beloofde Land in besit geneem? Het jy die voorsiening en seën gekry wat Jesus vir jou aan die kruis behaal het? Ek spoor jou aan, maak Jesus jou lewe, jou alles. Aanvaar God se uitnodiging aan jou en gaan in die vrede en rus van jou ewige besitting in, Jesus Christus, die Here.