Die Verwelkoming van die Vader

David Wilkerson (1931-2011)

Jesus het die gelykenis van die verlore seun vertel as 'n leermiddel om 'n groot waarheid oor te dra. Hierdie gelykenis gaan nie net oor vergifnis van 'n verlore mens nie. Meer nog, dit gaan oor die blydskap van die vader wat sy seun groet.

Julle ken die storie. ’n Jong man het sy deel van sy vader se erfdeel geneem en dit verkwis op ’n oproerige lewe. Op die ou end was hy gebroke, verpletter in sy gesondheid en sy gees. Op sy laagste punt het hy besluit om terug te keer na sy vader. Die Skrif sê vir ons: “En hy het opgestaan ​​en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen” (Lukas 15:20, AFR53).

Let daarop dat niks hierdie vader se vergifnis van die jong man verhinder het nie. Daar was niks wat hierdie seun moes doen nie, nie eers om sy sondes te bely nie, want die pa het reeds voorsiening gemaak vir versoening. Die pa het na sy seun gehardloop en hom omhels toe hy die seun in die pad sien aankom het. Dit is ‘n feit dat vergifnis nooit 'n probleem vir enige liefdevolle vader is nie. Net so is dit nooit 'n probleem met ons hemelse Vader wanneer Hy 'n berouvolle kind sien nie. Vergifnis is eenvoudig nie die kwessie in hierdie gelykenis nie.

Trouens, Jesus maak dit duidelik dat dit nie genoeg was vir hierdie verlore kind om net vergewe te word nie. Die pa het nie sy seun omhels net om hom te vergewe en hom te laat gaan nie. Nee, daardie pa het gesmag na sy seun se herstel. Hy wou sy kind se geselskap, sy teenwoordigheid en gemeenskap hê.

Al is die verlore kind weer vergewe en in sy guns, was hy steeds nie in sy vader se huis gevestig nie. Eers dan sou die vader tevrede en sy blydskap vervul wees wanneer sy seun in sy geselskap ingebring is. Dit is waaroor hierdie gelykenis gaan.

In die vader se oë was hierdie seun wat teruggekeer het huis toe 'n nuwe mens. Sy verlede sou nooit weer ter sprake gebring word nie. Die pa het in wese gesê: “Wat my betref, is die ou jy dood. Leef nou saam met my as 'n nuwe mens. Dit is my mening van jou. Dit is nie nodig dat jy onder skuldgevoelens leef nie. Moenie aanhou praat oor jou sonde, jou onwaardigheid nie. Die sondeprobleem is opgelos. Kom nou met vrymoedigheid in my teenwoordigheid in en neem deel aan my barmhartigheid en genade. Ek verheug My in jou!”