Beproewings met ‘n Groter Doel

Carter Conlon

Miskien beleef jy verraad, vervolging, teistering in jou gemoed, moeilikheid met jou kinders, die verlies van iemand na aan jou hart of een of ander ervaring wat jou met amper onuitspreeklike lyding gelaat het. Dit dryf jou na gebed waar jy vra: “Here, is dit werklik nodig? Kan U dit nie binne ‘n oomblik wegneem nie? Waarom die stryd? Waarom die drif?”

Ons antwoord lê in die Psalmdigter se gedig: “Hy het ‘n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop. Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het” (Psalm 105:17-19, AFR53).

Die Hebreeuse woord vir “beproef” is seraph, wat beteken “om metaal te smelt, om te raffineer, om goud of silwer te louter om dit te skei van die onsuiwerhede daarin.” Hier is wat die Skrif sê: God het Josef ‘n belofte gegee, maar totdat daardie belofte ‘n werklikheid geword het, het die Woord van God Josef na ‘n plek gelei waar hy deur die vuur gesit en gereinig is van alles binne-in hom wat nie soos die hart van God was nie.

God weet daar sou ‘n menigte mense wees wat voorsiening nodig gaan hê, nie net Josef se eie familie nie, maar ook die volk by wie hy gewoon het. Daar sou ‘n volk wees wat sonder hoop van die honger sou omkom. Die Here wou iets in Josef se hand plaas wat verlossing vir sy geslag sou meebring, maar hy kon eenvoudig nie hierdie soort skat in ‘n onbeproefde werktuig plaas nie.

As jy ‘n seisoen van swaarkry tegemoetgaan, het jy al ooit daaraan gedink dat die Here jou vooruit stuur soos wat Hy met Josef gedoen het? Sy genade stuur jou vooruit om jou voor te berei sodat Hy iets in jou hand kan plaas vir ‘n volk wat behoeftig gaan wees.

Die apostel Petrus het dit op hierdie manier verduidelik: “Daarin verheug julle jul, al word julle nou — as dit nodig is — ‘n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid  van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:6-7, AFR53).

Carter Conlon het aangesluit by die pastorale personeel van Times Square Kerk in 1994 en was aangestel as Senior Pastoor in 2001. In Mei 2020 het hy oorgegaan in ‘n voortgesette rol as Algemene Opsiener van Times Square Church, Inc.