Deur God Verneder

David Wilkerson

Om te verneder, beteken “om iemand se waardigheid en trots af te breek,” om nederig te maak. Ek beplan om vir jou in hierdie boodskap te wys dat God diegene wat Hy liefhet, verneder! Trouens, tensy jy hierdie vernedering beleef het, is jy nie gereed om ten volle deur God gebruik te word nie; en is jy nie gereed om Sy volheid te ontvang nie.

God verneder Sy kinders slegs om hulle voor te berei vir groter bruikbaarheid – ‘n beginsel wat ons dwarsdeur die Skrifte in werking sien. God se vernedering word die beste geïllustreer deur die ervarings van die kinders van Israel. God het Sy volk met groot wonderwerke verlos – en hulle toe deur ‘n droë wildernis gelei en hulle totaal verneder!

Na 430 jaar van slawerny, het die Israeliete moed verloor om ooit vryheid of die besit van hulle eie tuisland te ken. Toe het ‘n profeet genaamd Moses tussen hulle verskyn en hoop verkondig. Hy het van een steenoond na ‘n ander, van land tot land en huis tot huis gegaan en vir hulle gesê:

“En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte. Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ’n goeie en wye land, na ’n land wat oorloop van melk en heuning” (Exodus 3:7-8). “Jy is ’n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees….omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het” (Deuteronómium 7:6,8).

Daar was hulle, swetend, moeg, skaars lewend – terwyl Moses aan hulle ‘n gloeiende boodskap van hoop verkondig het! Hulle het God se magtige krag gesien toe Hy hulle verlos het met een groot wonderwerk na ‘n ander, en vir die wêreld gewys het dat Hy Sy eie volk beskerm en verlos.

Op daardie tydstip, het Israel in Gosen gewoon – ‘n Egiptiese slawestaat. Maar God het vir Egipte gesê, “En Ek sal ’n verlossing stel tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind” (Exodus 8:23). En deur die loop van tien ontsaglike plae, was God se volk onaangeraak!

Eerstens het Moses sy staf opgelig en die waters van Egipte getref en dit het in bloed verander. Selfs die water wat in hout- of steenbakke geskep was, was besmet. Die visse het gesterf en die riviere het gestink! Die water was ondrinkbaar vir verskeie dae – Maar in Gosen, het God se volk koel, suiwer water gedrink.

Toe het Aäron sy hand oor die waters uitgestrek, en golf na golf paddas het uitgekom en die land bedek. In elke huis, kombuis, badkamer, paleishof, stoor en tempel, was daar geen plek om te sit of te gaan lê nie, weens die inval van die paddas! Maar in Gosen, het die padda’s in die water gebly en al wat die Israeliete gehoor het, was hulle gekwaak. Wat ‘n gesig vir Israel om te aanskou toe die Egiptenare dooie padda’s in groot hope bymekaargemaak het, “en die land het gestink!” Maar nie in Gosen nie!

Toe Farao sy hart weer verhard het teenoor God, was die staf weer gebruik – hierdie keer om die stof te tref. Die stof het in muskiete verander, wat al die mense en al die diere aangeval het. Sommige interpreteer dit as ‘n plaag van muggies of luise: “Hierdie klein muskiete het diere en mense geteister, in hulle oë en neusgate ingevlieg, en hulle tot raserny gedryf. Diere was soms tot die dood geteister deur hierdie inval.” Maar in Gosen – was daar geen luise, geen muggies, geen plaag van muskiete nie!

Toe het ‘n inval van steekvlieë gekom – swerms steekvlieë soos swart wolke, “dik swerms.” Sommige sê hierdie plaag het kewers, stalvlieë en allerhande gevlerkte vlieë ingesluit. “die land is deur die steekvlieë verwoes” (Exodus 8:24). Maar, in “die land Gosen, waarin my volk woon...[sal] daar geen steekvlieë... wees nie” (Exodus 8:22).

Daarna het die pes oor die beeste van Egipte gekom. Die perde, kamele, osse, skape, donkies en koeie het dood neergeslaan oral oor Egipte. “Maar van die vee van die kinders van Israel is nie een dood nie” (Exodus 9:6).

Volgende was bose swere. Dit was nie soos dié wat ons ken nie; liewer, dit was “die sweer van Egipte” genoem, swart melaatstheid, olifantsiekte – wat alles misvorming veroorsaak het.

Toe het die reën van “donder en hael” gekom met weerlig en donderweer en “vuur het na die aarde uitgeskiet” en “daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael.” Dit was so swaar “soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan ’n volk behoort het nie.” Dit het “al die bome van die veld verbreek” (Exodus 9:23-25). In Gosen? Nêrens ‘n haelsteen in sig nie!

Volgende het die inval van sprinkane gekom wat “die oppervlakte van die hele land bedek” het (Exodus 10:15). Hulle het die lug verduister en “daar het geen groenigheid...oorgebly nie” (Exodus 10:15). In Gosen was daar egter geen sprinkane nie, en die son het helder geskyn.

Die sprinkane was gevolg deur ‘n plaag van duisternis so groot dat dit “gegryp” kon word (Exodus 10:21). Hierdie duisternis het vir drie dae geduur en was so dik dat die Egiptenare mekaar nie kon sien nie. Maar “al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad” (Exodus 10:23).

Die tiende en laaste plaag was ‘n besoek van ‘n doodsengel wat al die eersgeborenes doodgemaak het: “Toe staan Farao in die nag op...en al die Egiptenaars, en daar was ’n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie” (Exodus 12:30). Egipte was uitgedun – heeltemal gedemoraliseer. Maar niemand het in Gosen gesterf nie!

“En...op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek” (Exodus 12:41). Die Israeliete het Egipte verlaat met heerlike beloftes wat in hulle ore weerklink het: “U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer” (Exodus 15:13). “Verskrikking en vrees het op hulle geval; deur die grootheid van u arm was hulle stom soos ’n klip (Exodus 15:16). “Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee...Geseënd sal jy wees bo al die volke...En die HERE sal elke krankheid van jou wegneem en al die kwaai siektes van Egipte wat jy ken, nie op jou lê nie” (Deuteronómium 7:13-15). “Want die HERE jou God is by jou, ’n groot en gedugte God….Ook sal...niemand sal teen jou standhou...nie” (Deuteronómium 7:21,24).

Toe het die wonderwerk van al die wonderwerke plaasgevind: Hulle het gesien hoe God ‘n magtige see skei, sy water laat opdam en ‘n ontsnappingsroete op droë grond oopgemaak het! Hulle het gesing en gedans en God aanbid terwyl die waters oor Farao en sy leër gespoel het. Hulle het gesien hoe ‘n hele leër weggespoel is deur die vinger van God!

Die Israeliete het toe die woestyn Sin binnegegaan (Exodus 17:1). Hoe voorspoedig en geseënd het hulle gevoel – want elke gebed was wonderbaarlik verhoor! Hulle het geweet hulle was beskerm en gelei deur ‘n goedhartige, wyse Herder terwyl hulle verder gegaan het en van Sy beloftes gesing het.

Maar net die volgende dag het hulle wakker geword met hongerpyne! Al die ongesuurde brode was opgeëet en daar was glad geen kos in die laer oor nie. “Omdat hulle uit Egipte uitgedryf is, sodat hulle nie kon vertoef nie en ook geen padkos vir hulle klaargemaak het nie” (Exodus 12:39). Dertig dae nadat hulle Egipte verlaat het, was twee miljoen mense se voorrade op! Die paar beeste wat hulle gehad het, was swak en maer en kon maar net ‘n paar mense kosgee, en selfs dan sou dit hulle sonder enige teelvee gelaat het in hulle nuwe land.

God het Israel by ‘n plek van algehele vernedering gebring.

Die kinders van Israel was heeltemal hulpeloos: vaders, moeders, prinse, leiers, almal – met nêrens om om hulp aan te klop nie. Daar was geen pakkamele gelaai met voorrade nie. Geen droë vrugte nie, geen droë vis, geen brood, geen vye, geen dadels, rosyne of neute nie. Hulle het sonder twyfel gesien hoe Farao se voorrade weggespoel het – groot sakke vol kos, wat op die Rooi See gedryf het! Hulle logika was waarskynlik: “God het die presiese dag geweet waarop ons Egipte sou verlaat. Moses praat met God – so, waarom het hy nie vir ons gesê om kosvoorraad vir ses maande te bring nie? Selfs die gode van Egipte het hulle soldate beter behandel. Waarom was ons opdrag gegee om al hierdie goud, silwer en juwele te leen? Ons kan hierdie goed nie eet nie – dit is nutteloos hier buite!”

Daar was nie eens ‘n halmpie gras in sig nie – geen diere om te jag nie – geen vrugtebome nie – geen vreemdelinge om mee handel te dryf nie. Hulle kon nie terugaan Egipte toe nie, selfs al wou hulle – die Rooi See het hulle terugkeer verhinder! En selfs as hulle om die see kon gaan, sou die Egiptenaars hulle terugkeer verhinder het met elke stok en klip in Egipte, omdat hulle genoeg gehad het van al die plae.

So, nou was daar niks anders as ‘n huilende, onheilspellende woestyn voor hulle nie. Die kinders het gehuil en vroue het hulle hande gevryf. Elke pa en man was hulpeloos verneder. Hulle het almal rondom Moses vergader en gekla: “Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe” (Exodus 16:3).

Dit was ‘n vernedering vir Israel – en dit is ‘n les vir ons vandag. “En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie…Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:6,11).

Israel was nie gereed om al die seëninge wat God vir hulle weggebêre het te hanteer nie.

“En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan” (Deuteronómium 8:3).

Die eerste les in hierdie vers word gevind in die woorde “Hy het jou...laat honger ly” Dit was 40 jaar later en Moses wou Israel nie laat vergeet van hierdie les van vernedering nie. “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het” (Deuteronómium 8:2).

Onthou, dit was God wat hulle honger laat ly het – God wat hulle onvoorbereid uitgelei het en daardie krisis oor hulle gebring het – en God wat hulle met hulle rûe teen die muur laat staan het en wat die hemel soos koper gemaak het. Dit was God wat hulle in sulke vernederende omstandighede laat kom het! Satan het niks te doen gehad met hulle nypende toestand nie. Dit was alles ‘n toets om te openbaar wat in hulle harte was, “tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie” (Deuteronómium 8:2).

Hy weet wat in ons is, maar Hy wil hê ons moet ook weet! Die Israeliete se toets was nie oor genoeg moed om magtige vyande, of reuse, of ysterwaens te trotseer nie, want God het reeds beloof om hulle oorloë vir hulle te voer. Dit was oor die seëninge waarvoor hulle onvoorbereid was – die ontsaglike vermeerdering: goeie huise, vatte vol wyn, riviere van melk, ‘n oorvloed van heuning, koring en beeste – om nie eers allerhande soorte geestelike seëninge te noem nie.

“Want die HERE jou God bring jou in ’n goeie land, ’n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom...’n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie...Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet...nie; sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon, en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder...vermeerder — en jou hart hom dan verhef, dat jy die HERE jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het; ...en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe” (Deuteronómium 8:1-17).

Die Here praat hier nie net met Israel nie – maar ook met ons vandag. Die doel van hulle vernedering was nooit bevraagteken nie: Dit was “om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen” (Deuteronómium 8:16). Hy moes Israel leer om al die goedheid wat Hy gereed was om oor hulle uit te stort te hanteer. En God moet ons verneder op dieselfde manier wat Hy met hulle gedoen het.

Jy sien, hoewel die kinders van Israel bloed-veilig en verlos, bonatuurlik gelei en die voorwerp van God se liefde en wonderwerkende krag was, het hulle een ding gekort: Hulle was nie van God afhanklik nie!

Die Bloed kan jou sondes bedek, maar dit kan jou nie van Hom afhanklik maak nie. Wonderwerke kan jou van Satan se mag verlos, maar dit kan jou nie afhanklik maak nie. Jy kan bonatuurlik deur God gelei word en steeds nie heeltemal op die Here vertrou nie.

God moet ons stroop van alle selfversekering en alles vernietig wat oorbly van eiegeregtigheid, geestelike hoogmoed en roem. Hy moet almal verneder wat bestem is om Sy groot geestelike seëninge te beërwe (En Hy doen dit).

Hy sal ‘n Saulus van Tarsus neem – selfversekerd, eiegeregtig, verteer met ‘n kennis van die Skrifte, vol van God se ywer, gereed om te sterf vir Jehova – en Hom blind maak! Saulus moes verneder word voor die wêreld, terwyl hy gelei was soos ‘n kind en hulpeloos gewag het vir dae totdat God opgetree het. Hy was verneder tot op ‘n punt van algehele afhanklikheid!

Ek is tans onder God se vernederende regterhand! Veral ek, is nog nie daar nie. As jy dink dat jy dit alles het en alles uitgepluis het, dat jy so duidelik van God hoor, dat jy nooit verkeerd is nie, dat al jou gebede verhoor word – oppas dan! Jy is op pad na hongersnood, want God bring ons almal by ‘n plek van hongersnood en hulpeloosheid uit.

Times Square Kerk moes verneder word – en so is dit selfs nou! Ons het ses maande van intense gebed teen ‘n sekere aborsielokaal gehad, maar dit is steeds oop. Die pornograwe woed steeds voort – en Satan voer ‘n demoniese verhoogstuk op in dieselfde teater wat God aan ons belowe het as ‘n plek van aanbidding. Waarom? God toets en beproef ons, stroop ons van alle vertroue in die mens en in die vlees, en bring ons by ‘n plek van algehele afhanklikheid van Hom om ons voor te berei vir die groot uitstorting van Homself.

God kan jou by ‘n plek bring waar alles lyk of dit verkeerd gaan: siekte, dood, teenstrydige stemme, onverhoorde gebede, beloftes van God wat gelyk het asof dit jou smekinge en trane bespot. Dit is jou uur van vernedering – jou vasgestelde tyd van toetsing.

“Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.”

Hierdie vers uit Deuteronómium 8:3 is so kragtig dat Jesus self dit gebruik teen die duiwel tydens Sy groot versoeking in die woestyn (sien Matthéüs 4:1-4). Soos die kinders van Israel, was Jesus ook honger. Watter groter vernedering kan daar wees as die Seun van God en gebring word by ‘n plek van totale afhanklikheid?

As ‘n mens, het Jesus gehoorsaamheid en afhanklikheid geleer deur die dinge wat Hy gely het, soos hierdie krisis van hongersnood. Wat Jesus in werklikheid gesê het: “Ek is nie hier om myself te behaag of om my vlees te vertroetel nie. Ek is hier om die volmaakte wil van My Vader te doen.” Jesus het elke menslike bekommernis in Sy Vader se hand oorgegee. Met ander woorde, Hy het gesê, “Ek sal my hele lewe en al my tyd daaraan spandeer om My Vader te gehoorsaam om Sy volmaakte wil te doen – en Hy sal vir my sorg op Sy manier.”

Jesus het geweet dat God net ‘n skeppende woord moes spreek: “Honger – wyk!” Maar Hy het ook geweet dat die Vader vir Hom kos kon gee wat geen mens van weet nie – daarom het Hy nie gedink aan kos of drank of klere of huise nie. Liewer, Hy sou God se wil eerste soek en Hom vir die behoeftes laat sorg.

Jesus het werklik iets baie deurslaggewend gesê in die lyn van: “Ek het nie gekom om die Vader te vra om Sy woord aan My na te kom nie; Ek het gekom dat ek al Sy woorde kan onderhou!” Jesus het nie ‘n wonderwerk nodig om die Vader se liefde vir Homself te bewys nie. Hy het gerus in die Vader se woorde. Sy uitroep was nie, “God, hou U Woord aan My!” nie, maar in plaas daarvan, “Laat My U Woord doen in alle dinge.”

Menigtes van Christene vandag is wat ek noem “brood” gelowiges – hulle leef om brood alleen en vra God om Sy getrouheid te bewys. Hulle het ‘n honger in hulle en hulle dink hulle weet wat hulle sal versadig.

Die grootste deel van my vroeë jare in die bediening, was ek ‘n “brood” Christen. Ek het ‘n diep honger gehad, gedryf deur ‘n onverklaarbare behoefte. Toe ek gedink het ek het ‘n nuwe kerk nodig, het ek dit gekry! Toe ek geglo het ek het ‘n TV program nodig, het ek dit gekry! Toe ek wegdraai skares nodig gehad het, het ek hulle gekry! Dit alles was goeie dinge; maar ek het jarelank gebid, “God, bewys U krag! Stuur vir my geld, ek is in die skuld! Seën my Here! Seën my bediening! Verhoor my gebede! Laat my aan die wêreld bewys U het al die mag. Genees die siekes om te bewys dat U steeds dieselfde is vandag!”

So selde vind God ‘n Christen wie se enigste doel in die lewe is om God se wil te ken en te doen – net soos Jesus – en wat nooit sê, “God, waar is U?” nie, maar eerder sal bid, “God, waar is ek in hierdie saak van gehoorsaamheid en afhanklikheid?”

Wanneer ons voor die oordeelstroon staan, sal ons nie geoordeel word volgens hoeveel genesings ons verrig het nie, of hoeveel demone ons uitgedryf het nie, of hoeveel gebede ons gesien verhoor word nie, of hoeveel groot dinge ons bereik het nie. Ons sal geoordeel word volgens ons afhanklikheid en gehoorsaamheid aan Sy Woord en Sy wil.

In ons dag en tyd, het ons baie goed geword om God te “beveel.” Ons beveel die duiwel en demone; ons beveel vestings om te val. Dit is alles goed – maar wanneer roep ons uit, “O God! Beveel my! Sê vir my wat om te doen – wys my hoe om U wil te doen, hoe om elke woord uit U mond te gehoorsaam”?

Deur dit alles, sê God vir ons, “Ek wil jou enigste bron wees, jou enigste hoop. Ek wil jou enigste voorwerp van vertroue wees.” My uitroep is, “O God, U sorg vir die geld – gee my U gedagtes. U sorg vir my gesondheid, my familie, my behoeftes – gee my U Woord.”

Jesus is elke woord wat uit die mond van God kom!

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God...En die Woord het vlees geword, en onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, die heerlikheid soos van die eniggebore seun van die Vader” (Johannes 1:1,14).

Hoeveel van die Woord het vlees geword? Dit alles! “Want in Hom woon al die volheid van God liggaamlik” (Kolossense 2:9). So, hoe leef ons deur elke woord wat uit Sy mond kom? Kry ons ‘n papier en potlood en merk elke gebod van Jesus, en dissiplineer onsself om elkeen te takel tot ons dit bemeester? Geliefde, selfs na al die jare van prediking, ken ek steeds nie al die Here se kosbare gebooie nie!

Soos ek dit sien, is daan net een manier om die Here te behaag: Gee jou liggaam vir Hom – kry self uit die pad uit – en laat Jesus Sy lewe deur jou leef. Paulus het gesê, “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Galásiërs 2:20). Dit was nie ‘n mistieke geesteslewe, geleef binne die grense van die gedagtes nie. Nee! Paulus gaan voort in dieselfde vers, “En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” Die New American Standard Version sê ook, “geloof in die Seun van God.” In werklikheid beteken dit die geloof wat in die Seun van God is. Ons moet “stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God” (Romeine 6:13).

Hier is waarheen God ons lei, na daardie groot, goeie land vol melk, heuning, olie en wyn – die geestelike seëninge in Christus waarvoor God ons voorberei het. Wanneer ons ‘n liggaam het wat so dood, gekruisig, verneder en afhanklik is, besit Christus dit en leef Sy lewe in en deur ons. God doen nie werk deur vlees nie – selfs nie “goeie” vlees nie! Hy werk slegs deur Sy Seun Jesus!

Paulus was ‘n “goeie” man – heilig, vlekkeloos, en het God se gebooie gehou. Maar daardie “goeie” Paulus moes daagliks sterf, sodat Christus Sy werk kon doen en Sy lewe kon leef in Paulus. Daar is ‘n lied wat sê, “O, om Sy hande te kan wees, wat uitreik na die verdruktes...” Dit is so waar! As ons hande op die siekes lê, sal niks gebeur nie, tensy ons waarlik Sy hande is, met die self eenkant en Jesus wat die werk van Sy Vader deur ons doen. Vir Paulus was die sleutel: “Nie ek nie, maar Christus” – ‘n daaglikse aflegging van Paulus en beklee met Christus. So baie van ons wil egter nie Jesus leef nie, ons wil net met Hom beklee wees wanneer dit gerieflik is – om Hom aan en uit te trek soos ‘n pak klere!

Om Christus te leef, is nie ingewikkeld nie. Eerstens, jy moet Sy lewe wil hê – met alles wat binne-in jou is. Dan moet jy uit die pad uit kom en alles aan Hom oorgee en Hom vertrou om jou volkome te besit. Laastens moet jy glo dat soveel as wat jy van jouself sal leegmaak, sal Hy vul – met Homself!