Demone kan nie swem nie

Hierdie titel is nie ‘n grap nie – ek is nie snaaks nie. Ek glo dat die Bybel baie duidelik oor hierdie saak is: Demone kan nie swem nie, want hulle haat water!

“En wanneer die onrein gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie” (Mattheus 12:43).Onrein geeste – of demone – dwaal rond in dor plekke, waar geen water is nie. (‘The New American Standard Bible’ vertaal dor plekke as plekke waar geen water is nie.) Die rus wat hulle soek, is eiendomme – ‘n liggaam om in te woon, ‘n dor woonplek sonder water van enige soort.

Die Bybel gee vir ons ‘n baie duidelike beeld hiervan in Markus 5. Jesus word genader deur ‘n duiwelbesete man van Gadara wat deur ‘n legioen bosegeeste besete is. (dit is omtrent 2000 van hulle). As die demone vir Jesus sien, roep hulle woordvoerder uit: “Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die Allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie” (Markus 5:7).

Die demoon smeek Jesus om hulle almal in ‘n trop varke te stuur, wat teen die Heuwel wei. Ek dink daardie demone wou die hele trop in die woestyn gedryf het – ‘n dor plek, waar hulle kon wag totdat hulle ander mense kon vind om te beset.

Jesus het hulle toegelaat om in die varke te vaar – maar die Skrif sê: “En die trop – daar was omtrent tweeduisend – het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink” (Markus 5:13). Wat ‘n ongelooflike gesig! Ek het dikwels gewonder waarom Jesus hulle toegelaat het om in die varke te vaar. Hoekom het Hy hule nie net in die buitenste duisternis gestuur nie, waar hulle nooit weer ‘n mens kon pla nie?

Die feit bly staan dat Jesus nooit iets gesê of gedoen het, sonder dat daar ‘n geestelike waarheid agter geskuil het nie. Ek glo dat hierdie gebeurtenis vandag vir ons groot geestelike waarde het!

Terwyl ek hierdie gedeelte bestudeer het, het die Heilige Gees vir my gefluister: “Demone kan nie swem nie!” Ek het gevra: “Here, ek weet nie wat dit beteken nie. Wys my, asseblief!” En Hy het vir my die betekenis van wat gebeur het, laat ontvou:

Ek glo dat hierdie varke, toe die bosegeeste, in hulle ingevaar het, halsoorkop die bult afgestorm en in die see geval het. Jesus is Heer oor die hele natuur – en Hy het die varke beveel, “Gaan! Neem hulle see toe!” Dit was die einde van die demoniese besetenheid – die Gadareense man was verlos van hulle. Tog, soos die varke in die water beland het, het die legioen demone skreeuende gevlug, na droë plekke toe, want hulle haat water!

Jesus sê self, “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. (En dit het Hy gesê van die Gees wat die sou ontvang wat in Hom glo)” (Johannes 7:38-39).

Die Heilige Gees is lewende water! Hy val soos reën (sowel die vroeë as latere reëns). Hy ontspring soos ‘n bron in dorstige gelowiges. Sy lewe word soos ‘n vloed uitgegiet op die wêreld – soos strome in die dorsland!

As ek sê demone kan water nie verdra nie, praat ek van die Heilige Gees! Elke demoon in die hel weet dat water die Heilige Gees uitbeeld! En hulle weet, omdat Jesus Christus nou liggaamlike by God is, is hulle aartsvyand die Heilige Gees – en waar Hy vertoef moet hulle vlug! Hulle kan die water van die Heilige Gees nie verdra nie, - in jou of in die kerk, of in die wêreld nie. Die see waarin die varke val, is ook ‘n beeld van die Heilige Gees! Dit is bedoel as ‘n praktiese voorbeeld vir alle komende geslagte.

Droogheid verteenwoordig iemand sonder die Gees van God. Droë plekke stel geestelose mense voor – mense in wie God se Gees nie woon nie. Dawid sê, “wie teen God in opstand is, woon in ‘n kaal woestyn” (Psalm 68:7). Dit is waar van ‘n gelowige wat die Heer verloor het, hy het “droog” geword, sonder God. En dooie, droë kerke en Christene word die wonings van onrein geeste. Demone sirkel om hulle, opsoek na ‘n rusplek – want droogheid maak die deur oop vir demoniese aanvalle.

Juis op hierdie stadium is die Satan en sy onrein magte besig om op die mensdom toe te slaan: “Wee die Bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12).

Ons het reeds die tekens hierva gesien:

  • Amerika se jeug is tot die tande gewapen met messe, masjiengewere en ander wapens. Ons sal bandeloosheid op ons strate – binnekort – die hoof moet bied. Dit gebeur in Chicago en Detroit, en in al die groot stede. In New York het baie wooneenhede reeds oorlogsvelde geword. ‘n Paar weke gelede is ‘n jong prediker in die kop geskiet, terwyl hy traktaatjies uitgedeel het – hy was vasgekeer in ‘n skietery tussen twee bendes.

  • Legioene van demoniese magte het die leiers van die gemeenskap binnegevaar. So Byvoorbeeld het die Kanselier van die stad, New York, ‘n kurrikulum voorgestel wat graad-een kinders sal leer dat homoseksualiteit en lesbianisme aanvaarbare lewensstyle is. Hy beweer dat so ‘n leerplan nodig om HIV/VIGS te voorkom. Ek vra jou: wie kan so ‘n leerplan, met ‘n nugter gemoed, voorstel as hy nie duiwelbesete is nie?

Die blindheid en misleiding is ongelooflik. Tog het hierdie selfde misleidende gees die kerk binnegedring. “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Timoteus 4:1). Ons sien Paulus se waarskuwing tot vervulling kom:

  • Antisemitiese leerstellings vloei deur evangeliese en charismatiese kerke. Hierdie leerstellings kom reguit uit die hel! Die duiwel haat die Jode, want God het nog steeds ‘n verbond met hulle. Hy haat alles en almal wat in verband staan met ‘n verbond teenoor God. Hoe kon die Satan sulke leerstellings in die kerk kry? Omdat baie mense en kerke droog geraak het – sonder God! Dit is teelaarde vir demoniese magte!

  • ‘n Nuwe “Kussitiese leerstelling” van swart oppermag mislei die swart evangeliese kerke, dwarsoor die land! Baie blanke kerke verkondig ‘n blanke-oorheersing. Hierdie sataniese leerstellings word in die harte van geestelik-dooie herders, gefluister – en uiteindelik word hulle deur duiwels geïnspireer en verkondig hulle leerstellings van die he!

Op die oomblik beleef Amerika die vernietiging van ‘n lewenswyse. Tog is hierdie vernietiging nie net plaaslike nie - dit is wêreldwyd:

In Duitsland is jongmense vervul met haat teenoor Oos-Europeërs. Hulle brand behuisingsprojekte, waar die immigrante moet intrek, af. Hulle haat veral die Roemeniërs wat nie eers mag werk nie.

Joegoslawië word uiteengeskeer deur demoniese onenigheid, en Rusland word steeds verskeur deur etniese stryd. Daar is oorloë en gerugte van oorloë. Ek sien skrikbeelde reg oor die wêreld: plundering, moord, geen respek vir lewe of besittings nie, skole buite beheer, regerings sonder oplossings, aardbewings, orkane, tornado’s soos ons nog nooit gesien het nie.

Soms, as ek hierdie dinge sien kom, dan dink ek, “Here, ek is moeg hiervan – ek wil huistoe gaan en wees waar U is. Ek wil nie hier wees as die hel losbreek nie!” Maar geliefdes, God wil nie hê dat demone sy kerk beangs moet maak nie! God sal nie toesien dat ‘n mal duiwel oorneem nie. Hy het ‘n heerlike gevegsplan – ‘n manier om onrein geeste op die vlug te laat slaan:

God gaan watervloede stuur oor droë grond – waar duiwels werk! Hy gaan bewaterde tuine hê waar vroeër net droogheid was. Hoe? Vra jy. Hy gaan demone uit sy huis verdryf deur dit te oorvloei met sy Gees! Ons sien ‘n beeld hiervan in Esegiël 47. Die Here het vir Esegiël ‘n visioen laat sien waar sy Gees oorvloei het en “waters waarin geswem kon word,” geword het:

“Daarna het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit” (Esegiël 47:1). Esegiël het water gesien uitkom onder die tempel se drumpel. Dit het tot by die profeet se enkels gekom … toe, tot by sy knieë … en tot by sy heupe en uiteindelik, “’n stroom waar ‘n mens nie deur kan loop nie” (Esegiël 47:5).

Toe het die Here vir Esegiël gesê: “En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe” (Esegiël 47:9). Met ander woorde: “Waar hierdie rivier ookal vloei, sal daar lewe wees. Lewende water sal uit my Huis vloei!”

Geliefdes, daardie Huis is ons! Ons is God se Huis – ons liggame is tempels van die Heilige Gees! En die Heilige Gees is ‘n bron van water, wat gedurig in ons opspring: “Maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Johannes 4:14).

So sal God die duiwel se aanslag beveg! Geen demoon kan dit weerstaan as die Heilige Gees se water deur jou stroom nie. Hy sal na ‘n dor plek vlug.

God sien elke hart wat dors is – en Hy gaan riviere van sy Gees uitstort op almal wat na Hom roep. Jesaja profeteer:

“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou: kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou … die manne wat met jou twis; hulle sal word soos niks … Want Ek, die Here jou God gryp jou regterhand … Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie, hulle tong verdroog van dors; Ek die Here, sal hulle verhoor … Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ‘n waterplas maak en die dor land waterbronne” (Jesaja 41:10-18).

God sê vir ons: “Moenie bang wees dat die duiwel sal oorneem nie. Ek gaan my heerlikheid uitstort! Al die droë plekke waar verleidende demone gewoed het, sal plekke van lof en verheerliking aan My gemaak word. Die woestyn sal ‘n meer van lewe word!”

Hierdie watervloede gaan alle demoniese magte verjaag en dit sal tuine word: “In die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies” (Jesaja 35:7). Volgens Jesaja sal dit oral uitspruit en groei, want God sal alle drake van verwoesting verdryf!

Tog is hierdie belofte nie net vir ons nie, maar vir ons kinders ook. “Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge. En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope” (Jesaja 44:3-4).

God het sy ewige Woord gegee dat Hy ons kinders met die Lewe van Jesus Christus sal vul! Ek maak aanspraak op hierdie belofte vir die jongmense in ons kerk – die belofte van die vloed van die Heilige Gees – sodat die demoniese magte van hulle sal vlug en hulle invloed en houvas op die jongmense sal verloor!

Is jy bekommerd oor die toekoms? Het jy gewonder of ‘n mal duiwel sterker geword het, tydelik, as ons Heer? God sê vir jou: “Is my hand werklik te kort om te verlos, of is daar in My geen krag om uit te red nie? Kyk, deur my dreiging maak Ek die see droog; Ek maak die riviere tot ‘n woestyn” (Jesaja 50:2).

Die Here is by magte om die skoolstelsel om te draai! Hy sê, “Ek is die Een wat die waters beheer. Ek sê net ‘n woord en daar kom ‘n vloed of ‘n droogte!” Jesaja profeteer: “Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos … want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ‘n waterplas word, en die dorsland fonteine van water” (Jesaja 35:2-7).

God sê waters sal uitbars! Om “uit te bars” beteken dat dit met soveel krag sal uitvloei dat dit alle grense sal oorskrei en die hele omgewing sal oorvloei!

Geliefdes, as julle kerke oorvloei word met die water van die Heilige Gees, sal die ander kerke iets van die oorloop ontvang. Dit sal heel moontlik soos volg gebeur: Skielik, in die middel van ‘n diens, sal iemand deur die Heilige Gees aangeraak word – wat die oorloop uit julle kerk is. Hy sal uit sy sitplek opstaan en na die kansel loop en sê: “Dominee, ek wil gered word!”

Die dominee en sy ouderling sal nie weet wat om te doen nie. Maar God gaan elke hart aanraak! Of die gemeente dit wil hê of nie, die Heilige Gees gaan elke honger hart, in daardie droë, dor gemeente, oorvloei – en wonderlike dinge gaan gebeur!

Esegiël profeteer dat die intensiteit van die vloed gaan toeneem. Dit sal groei van ‘n stroompie … tot ‘n rivier … tot ‘n oseaan om in te swem.

Sommige mense sal sê; “Wonderlik! Ons wil hê die Heilige Gees moet deur ons stroom. Ons sal net saamkom en bid en glo dat God die vensters van die hemel sal oopmaak en deur ons sal vloei. Ons sal in geloof bly sit en wag vir die uitvloeing.”

Nee, die Bybel sê iets totaal anders! Die water was net ‘n klein straaltjie toe dit in die huis was; dit het toegeneem in intensiteit eers toe dit by die buitenste hek gekom het. Kyk, God se water vloei deur ons – maar dit kan nie ‘n see waarin ‘n mens kan swem, word, voordat dit buite sy huis is nie!

As ons hierdie Lewende Water vir onsself hou, sal ons dit net gedeeltelik kan geniet. Maar as ons die demone die skrik op die lyf wil jaag, moet die water uit ons vloei! Elke ware gelowige moet ‘n fontein wees – wat buitekant die mure vloei. Ons moet spuitfonteine wees – nie net in die kerk mie, maar by die huis, by die werk, op die straat – oral waar ons gaan!

Toe Esegiël toegekyk het, terwyl die stroompie in ‘n oseaan verander, het die Here vir hom gesê om uit die water te kom, en te kyk na die walle wat eenmaal dor was. “En hy het vir my gesê: Het jy dit gesien mensekind? Toe het hy my weer terug laat loop aan die kant van die stroom. Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom ‘n menigte bome gesien, aan altwee kante” (Esegiël 47:6-7).

Wat ‘n wonderlike gesig! Eers was daar niks, net dorheid – maar nou was daar ‘n menigte bome. In werklikheid het daar lewe ontspring, oral waar die water gevloei het: “En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe” (Esegiël 47:9). Die dood het gewyk – alle demone het gevlug!

As daar ‘n beloofde laatreën gaan kom – ‘n finale uitstorting van die Gees – gaan daar ‘n groot siele-oes wees. Esegiël het dit gesien en gesê: “Daar sal ‘n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het” (Esegiël 47:9). Dit beteken ‘n groot visvangs – baie siele sal gered word!

Die visioen was so oorweldigend, dat Esegiël dit nie kon verwerk nie. Geliefdes, dit was omdat hy ons geslag gesien het! Hy het voorspel dat ons meer van die werking van die Heilige Gees sal sien, as enige vorige geslag.

Jare gelede, toe ek na Esegiël se profesie gekyk het, het ek gebid dat God sy vloed deur my sal laat vloei. Die Here het toe vir my gesê: “David, as daar niks in jou is wat die vloei van my Water sal belemmer nie – as jy die soet bron van Jesus in jou het – dan sal alles wat jy preek en sê Lewe voortbring!”

Geliefde Heilige, as jy sy Lewe in jou het, dan sal jy lewe voortbring want Lewe baar Lewe!

“’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?” (Jakobus 3:11).

Ek glo dat baie wat hierdie boodskap lees, geskok sal wees op die Oordeelsdag. Hulle sal met ‘n skok besef dat hulle afgedwaal het van die Here af!

“Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam?” (Hebreërs 2:3). Om te “verontagsaam” beteken om onverskillig te wees, om op te tree asof iets nie saak maak nie. Hierdie vers volg op die waarskuwing, “moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebreërs 2:1).

Veronderstel ek klop Vandag aan jou deur, kyk in jou oë en sê: “Ek is deur die Here gestuur, om jou te waarsku teen iets gevaarliks in jou lewe. En ek het ‘n Woord vir jou, direk van God se troon af: Jy gaan dit nie maak nie! Jy sal nie saam met ons in die Heerlikheid wees nie – jy is gemerk vir ‘n ewige hel. Jy het jouself vir demoniese werking oopgemaak, want jou hart is droog!”

Jy is waarskynlik beledigd. Jy sê: “Dit kan nie wees nie! Ek loof die Here met my hande in die lug. Ek voel die Gees beweeg deur my. Hoe kan ek ‘n droë plek wees, waar demone rus soek?

My antwoord sal wees: “Wat jy in sulke byeenkomste ontvang is nie uit jouself nie. Dit is die oorvloei wat jy ontvang van lewende heiliges rondom jou! Hulle wandel daagliks, in die Gees, hulle praat daagliks, in die Gees, hulle praat daagliks met Jesus – en hulle ken die opborreling van die Heilige Gees van God. Maar jou bron is kurkdroog! Van die begin af dat jy die Here ontmoet het, het jy tyd gehad vir alles, behalwe vir Hom. Jy het presies gedoen waarteen Hy gewaarsku het: jy het jou groot verlossing verontagsaam! Jy het Hom in jou hart verlaat!

“Maar,” sê jy, “Ek is lief vir mense – ek sal enigiets vir enigiemand doen. Ek lewe nie in sonde nie. Ek bid, ek gee. Moenie vir my sê ek het nie vir Jesus lief nie, - jy veroordeel my nou. God ken my hart.”

Ek sal antwoord: “Ja, Hy ken jou hart – en Hy sien elke uur van jou dag! Maar jy neem nie tyd om sy Woord te ondersoek en daarvoor te bid nie. In plaas daarvan laat jy dit alles verbyglip asof dit nie saak maak nie.”

Versuim het ‘n lewensstyl by jou geword – dit het jou hart in ‘n woestyn verander! Dit is waarom jy so geplaagd, terneergedruk en bitter is met tye. Dit is waarom jy liggaamlik so aangeval word. As die Gees daagliks deur jou vloei, sou alle onrein geeste deur jou vloei, sou alle onrein geeste gevlug het. Maar in plaas daarvan het jy ‘n dor plek geword – wat oop is vir demoniese aanvalle!

Geliefdes, ek sê nie dat alle siekte die gevolg is van demoniese aanvalle nie. Ek sê ook nie dat ons die hele dag moet bid en Bybel lees nie. God het tye gemaak om te rus, te speel en om met ons familie die mooi dinge wat God gemaak het, te geniet. Hy is nie ‘n harde Meester nie.

Maar as jou ganse dag bestee word aan jouself, jou familie, jou werk en spel en daar is nie een uur vir die Here nie – nie eers vyftien minute om versterk te word deur gemeenskap met die Here nie, dan is dit verwaarlosing en versuim! Dan tree jy op asof dit nie saak maak nie! In die Oordeelsdag, sal God genadiger wees teenoor die verslaafde, die ontugpleger en die dronkaard as teenoor jou!

Dit sal binnekort te laat wees vir jou. Jy mag dink dat jy Hom sal soek as die wêreld ineenstort. Maar jou hart sal so droog en leeg wees, dat jy niks sal hê om op staat te maak nie. Jy sal nie wil bid nie. In plaas daarvan sal jou droogheid erger word – en jy sal harder en kouer word as ooit tevore. As jy by die kerk kom en sien hoe ander na die Here hardloop, omdat hulle weet dat die oordeel gekom het, sal jy so verward en gekwel wees dat jy nie sal weet wat om te doen nie! As jy nie kom terwyl sy genade beskikbaar is nie, sal jy ook nie kom gedurende die vloedgolf van God se oordeel nie!

Daar sal dan so ‘n oseaan van God se Gees wees, dat alle demoniese magte halsoorkop paniekerig op die vlug sal slaan. Daar sal so ‘n deurbraak van sy Heerlikheid wees, soos ons nooit tevore gesien het nie. Geen sondaar sal onaangeraak bly nie!

Maar wat God se hart breek, is dat die meeste van die wat Hom ignoreer, juis hulle is wat Hy as sielewenners wou gebruik. Jy kan jou fontein sien vloei – die Gees kan sy lewegewende Water deur jou laat vloei. Jy kan lewe bring in plaas van ‘n droë bos in die woestyn.

Spring God se lewegewende Water elke dag in jou op? Of is jy ‘n droë, dooie put? God het soveel vir jou, as jy net berou het en bely dat jy Hom verontagsaam het. Roep uit na Hom:

“Here – ek was vir te lank, droog. Ek het U verontagsaam en van U Gees afgewyk. Vergewe my! Ek is so droog, so leweloos. Vul my met U lewegewende water – verdryf alle kwelgeeste.

“Oorvloei my siel, Here! Ek wil U lewegewende Gees ervaar. Gebruik my – en laat my U oseaan van Lewende Water sien – wat uit my lewe vloei.” Amen!