Vryheid van Vrees | World Challenge

Vryheid van Vrees

David WilkersonAugust 1, 2011

Terwyl die ekonomieë van die nasies skud en verkrummel, is vrees besig om wȇreldwyd toe te neem. Ons sien Jesus se woorde bewaarheid word: “Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs …Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word" (Lukas 21:25-26).

Hier het Christus vir ons ‘n waarskuwing gegee: “Sonder hoop in My, sal menigtes sterf uit angs vir die dinge wat hulle sien kom.”

Maar vir Jesus se volgelinge — hulle wat op God se belofte om die kerk te bewaar, vertrou — is daar heerlike vryheid van alle vrees. In werklikheid, hoef almal wat onder die heerskappy van Christus kom, nooit meer te vrees nie solank hulle die volgende geheim begryp en toepas:

Ware vryheid van vrees bestaan daaruit om jou lewe totaal aan die Here oor te gee.

Oorgawe van onsself aan God se sorg is ‘n daad van geloof. Dit beteken om onsself geheel en al onder sy mag, wysheid en genade te onderwerp, om gelei en bewaar te word volgens Sy wil alleen. As ons dit doen, dan belowe die God van die heelal om totaal en al verantwoordelik vir ons te wees — om ons te voed, te klee, te beskerm en om ons harte van alle onheil te bewaar.

Jesus gee vir ons ‘n uitstaande voorbeeld van hierdie tipe heilige oorgawe toe hy na die kruis gegaan het. Net voor Hy sy gesterf het, het ons Here luid uitgeroep, “Vader, in u hande gee Ek my gees oor" (Lukas 23:46). Christus het sy lewe en die ewige toekoms in sy Vader se bewaring geplaas. Sodoende plaas hy die siele van elkeen van sy skape ook in die Vader se hande.

Jy mag dalk dink, “Het Jesus nie gesȇ dat Hy self die mag het om beide sy lewe af te lȇ en dit weer op te neem nie? (sien Johannes 10:18). Waarom moes Hy sy lewe in God se hande oorgee om dit te behou?” Die antwoord is duidelik: Dit was om vir ons ‘n voorbeeld te stel om te volg.

God het die krag, wysheid, gewilligheid en liefde om sy geliefde mense te bewaar.

Sou ons gevra word om ons lewens aan iemand toe te vertrou, dan moet ons weet dat daardie persoon die mag het om ons van alle gevaar, bedreiging en geweld te beskerm. Anders is ons vertroue nutteloos. Eenvoudig gestel, ons God het die wysheid en die krag om ons — en ontelbare andere — te lei deur verskeie krisise en moeilikhede. En Hy doen dit alles in liefde.

As jy enigsins die Here ken, dan sal jy weet dit is sy karakter. Hy is almagtig, oneindig wys en soos ‘n vriend wat nader is as ‘n broer. Inderdaad, Hy is die essensie van liefde. Paulus sȇ, “…ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou" (2 Timóthiüs 1:12).

Paulus vertel ons, “Ek het my lewe in die Here se hande geplaas. En ek is oortuig Hy sal nie my vertroue skend nie. Hy sal getrou sy woord hou om my te bewaar omdat Hy gewillig en bekwaam is om dit te doen. Dit was my ondervinding met Hom keer op keer.

Vandag, soos wat die stormwolke saampak oor die nasies, het ons ‘n keuse. Ons kan ons lewens oorgee in die hand van die Here, of ons kan verantwoordelik wees om onsself te bewaar — ‘n taak wat onmoontlik is wanneer God alles skud!

Eintlik maak dit nie saak in watter soort tye ons leef nie. Ons vrede en tevredenheid sal altyd afhang van ons oorgawe aan God. “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer" (Psalm 37:4).

As jy jou ten volle in die hande van God oorgee, dan sal jy enige en alle probleme kan verduur. En jy weet dat dit nie saak maak watter katastrofe jou oorval nie, dit sal nie fataal wees nie, omdat jy klei in jou Vader se hande is. Wanneer jy jou lewe oorgegee het in die hande van die Almagtige Vader, dan wil Hy hê dat jy met jou dagtaak voortgaan sonder vrees of angs. En, inderdaad, jou oorgawe aan Hom het ‘n baie praktiese effek in jou lewe.

Jy sien, hoe groter jou oorgawe aan God se bewarende krag, hoe meer ongesteur sal jy wees oor die toestande om jou. Jy sal nie aanmekaar probeer uitreken wat die volgende stap is nie. Jy sal nie bang wees vir enige angswekende nuus wat om jou ronddwarrel nie. Jy sal nie oorweldig wees as jy dink aan toekomstige dae nie — want jy het jou lewe, familie en toekoms in die Here se veilige en liefdevolle hande toevertrou.

Hoe bekommerd dink jy is letterlike skape wanneer hulle hul herder volg na die oop weiding toe? Hulle is glad nie bekommerd nie, want hulle is totaal en al oorgegee aan die leiding van hulle herder. Net so, is ons die skape van Christus, wat ons Groot Herder is. Waarom moet ons ooit verontrus wees oor ons lewens of toekoms? Hy weet presies hoe om sy kudde te beskerm en te bewaar omdat Hy ons in liefde lei.

Hoe gee ons onsself in die hande van God oor?

Ons sien in die Bybel dat wanneer iemand die pad van self-oorgawe nader, dan het hy dit deeglik en ernstig oordink. Dis maklik vir Christene om op ‘n algemene manier te sȇ, “Laat die Here se wil geskied.” Maar dit is ‘n ander storie om in moeilike omstandighede onsself in God se hande oor te gee.

In my eie lewe moes ek leer om God met een probleem op ‘n slag te vertrou. Hoe kon ek in elk geval sȇ ek vertrou die Here met alles wanneer ek Hom nie eers met net één ding vertrou het nie? Om bloot die woorde te sȇ, “Ek vertrou die Here totaal en al,” is nie goed genoeg nie. Ek moet dit keer op keer op baie gebiede van my lewe bewys.

Verder, ons oorgawe in sy hande kan nie geforseer word nie. Dit moet ‘n vry en gewillige oorgawe wees. Daar is verskeie Bybelse voorbeelde van mense wat hierin misluk het. Dink aan Egipte se Farao: Slegs toe hy dit nie meer langer teen God se plae kon uithou nie, het hy oorgegee en Israel toegelaat om op hulle woestyn reis te gaan.

Baie Christene sȇ vandag, “Ek gee oor, Ek verbind my, Ek vertrou — maar eers nadat hulle sien daar is geen ander uitweg uit die situasie uit nie. Ware oorgawe — die tipe wat God behaag — word vry en gewillig gedoen voordat ons by die einde van ons sinne kom. Ons moet soos Abraham binne ons verbond met die Here optree — deur ons lewens aan God te gee as ‘n blanko tjek en toe te laat dat die Here dit invul.

So ‘n oorgawe is natuurlik ‘n daaglikse, voortgaande gebeurtenis. Dit kan nie net een keer gedoen word nie. Ons trotse vlees begeer altyd om in beheer van ons lewens te wees. Dit probeer ons voortdurend oortuig dat ons vir onsself kan sorg deur ons eie verstand te gebruik. En daarom, op daardie oomblik wat ons ons totaal oorgee aan die Here, dan ruk ons vlees sy hardnekkige wil op — en ons sien gou hoe vasbeslote ons harte is om op hulle eie pad te gaan.

Deur onsself aan die Here oor te gee in volle afhanklikheid is een van die moeilikste dinge wat ons in ons leeftyd sal doen.

Dit is ‘n onmoontlike taak wat net deur geloof gedoen kan word. Wanneer ons egter hierdie heilige oorgawe aan die Here doen, dan sal ons geloof in Hom ons deur elke ontbering, ontmoediging en onmoontlike situasie dra.

En ons het Hom desperaat nodig om ons te dra. Jy sien, wanneer ons hierdie verbintenis maak om ons oor te gee aan Hom, dan gaan ‘n luide alarm in die hel af. Wanneer ‘n oorgegewe Christen alle beheer afstaan en elke saak in Jesus se hande plaas, dan staan Satan op om hom in alle wreedheid teë te staan.

Dink aan wat met Paulus gebeur het. So lank as wat hy op sy farisese pad was, afgeskei van die Here se wil, het hy geen opposisie van die vyand gehad nie. Maar toe hy sy hele lewe in die hande van God se bewaring plaas, was hy onophoudelik aangeval en geslaan.

Geliefde, dieselfde sal met jou gebeur wanneer jy alles aan Jesus afstaan. Jy sal verwoed teengestaan word deur die mag van die duisternis. Satan sal berge van angswekende toestande voor jou skep, en probeer om jou tot ongeloof te dryf. Hy sal jou oorweldig met twyfel en angs wat nog nooit eers in jou verstand opgekom het nie. Sy strategie is om jou oë te rig op, “hoe sleg dinge gaan word,” instede van om op God se beloftes te fokus om jou deur elke krisis te dra.

Ek het hierdie stryd baie maal in my jare in die bediening gevoer. Wanneer moeilike tye gekom het, het twyfel en aanklagtes gestyg: “Wat gaan jy nou doen? Hoe gaan jy behoue deur hierdie krisis kom? Wat is jou plan vir oorlewing?”

Satan sal enige iets doen om jou fokus van Jesus af te kry. God se Woord waarsku ons egter lank voor die tyd dat almal wat hulleself aan hom toevertrou en hom volg, hierdie soort versoeking sal ondervind.

Wanneer die storm toeslaan, sal vrees natuurlik by ons opkom.

Die profete waarsku ons dat wanneer ons sien dat God die nasies skud, sal ons vleeslike mens groot vrees beleef. “Sal jy nog selfversekerd wees wanneer jy jou sterk probeer maak vir die tyd wanneer Ek met jou handel?" (Esėgiël 22:14).

Toe God Noag gewaarsku het oor sy komende oordeel, het Noag “eerbiedig [ge]vrees" (Hebreërs 11:7, 1953 vertaling). Selfs die dapper, heldhaftige Dawid sȇ, “Ek sidder van vrees vir U, ek het diepe ontsag vir u bepalings" (Psalm 119:120). Toe die profeet Habakuk rampspoedige dae voor hom gesien het, het hy uitgeroep, “Toe ek hierdie dinge hoor, het ek gesidder, my lippe het gebewe, my hele liggaam het lam geword, my bene het aan die ruk gegaan" (Habakuk 3:16).

Laat my toe om iets belangrik omtrent hierdie gedeeltes uit te wys. Die vrees wat op hierdie goddelike mense gekom het, was nie ‘n vleeslike vrees nie maar ‘n eerbiedige vrees vir die Here. Hierdie heiliges was nie bang vir die vyand van hulle siele nie, maar hulle het God se regverdige oordele gevrees. Hulle het die geweldige mag agter die naderende onheil besef. Hulle het nie die uitkoms van die storm gevrees nie, maar God se heiligheid voor wie niemand kan staande bly nie.

Dieselfde beginsel is van krag vir elke Christen wat vandag leef. Ons sal oorweldigende vrees vir die koms van toekomstige rampe beleef. Maar ons vrees moet kom vanaf ‘n heilige ontsag vir die Here, nooit van ‘n vleeslike angs rakende ons noodlot nie. God verag enige sondige vrees in ons — die vrees vir verlies van materiële dinge, rykdom en ons standaard van lewe. Dit is die uitroep van ongelowiges wat geen hoop het nie. Maar dit hoort nie die uitroep van gelowiges te wees nie.

Ons liefdevolle hemelse Vader sal nie sulke ongeloof in jou duld nie. Jesaja het gewaarsku, “Hoe is dit dan dat jy bang is vir 'n sterflike mens, vir 'n mens wat so maklik vergaan soos gras? Jy vergeet die Here wat jou gemaak het, …Jy was altyddeur bang vir die woede van die verdrukker, vir hom wat daarop uit was om jou te vernietig" (Jesaja 51:12-13). "Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees" (Jesaja 8:13).

Laat God jou vrees en ontsag wees.

Dit is die soort vrees wat nie tot die dood lei nie, maar tot die lewe.

Dit is waar dat God se profete elke generasie gewaarsku het. Maar die geskiedenis het bewys dat God altyd sy oordeel gestuur het op die regte tyd. John Owen, die groot Puriteinse prediker het die volgende boodskap aan sy gemeente op 9 April 1680 gelewer:

“Julle weet dat vir baie jare, sonder versuim, het ek julle voortdurend gewaarsku oor ‘n naderende rampspoedige tyd, en met in agneming van die sondes, wat dit veroorsaak het… het ek julle vertel dat die oordeel in die huis van God sal begin; dat dit blyk dat God ons harte teen sy vrees verhard het … en dat niemand weet wat die krag van sy wraak sal wees nie. In al hierdie dinge het ek julle vooraf gewaarsku teen gevaarlike, ontstellende en rampspoedige tye…dit alles lȇ nou voor die deur, en kom nou op ons af.”

Spotters wat Owen se woorde vandag lees mag sȇ, “Hier is ‘n oordeelsdagprediker wat 300 jaar gelede probeer het om sy gemeenskap die skrik op die lyf te jaag. Maar ten spyte van alles wat hy gesȇ het, het die wȇreld het voortgegaan. Dinge het aangegaan presies soos dit altyd was.”

Wat hierdie spotters nie besef nie, is dat God wel sy aaklige oordeel oor daardie gemeenskap gestuur het. John Owen het gelewe om te huil oor ‘n vlammende menseslagting wat London verswelg het. Die werklikheid is, hy het die vervuling van elkeen van sy kragtige profesieë gesien: oorlog, verwoesting, ‘n geknakte ekonomie, landwye depressie en siektes wat menigtes uitgeroei het.

Tog voor hy een enkele van hierdie katastrofes sien plaasvind het, het Owen getrou van sy preekstoel af uitgeroep: “Ek gaan julle wys hoe ons onsself kan gedra in en onder die ontstellende katastrofes wat na ons toe aankom en ons mag bereik, en meer mag wees as wat ons kan hanteer.”

Geliefdes, ons lewe in soortgelyke tye as Owen. In tye soos hierdie kan daar net een optrede wees deur God se mense: “Die regverdiges sal in geloof lewe.” Owen het sy mense met trane gewaarsku, “Kry vir jou ‘n Ark. Bery ‘n ark voor vir die veiligheid van jou en jou familie.”

Hy het bygevoeg, “Daardie ark is Jesus Christus. Daar is geen ander weg nie, geen ander ark nie — want Jesaja, die profeet het van ons Here gesȇ, ‘ ‘n Man [Christus] sal wees soos ‘n wegkruipplek van die wind, en verborge vir die storm, soos riviere in ‘n droë plek, soos die skadu’s van ‘n groot klip in ‘n moeë land.’ Dit is ons ark — geseënd is hulle wat net op Hom vertrou… ek weet van geen ander veiligheid of verlossing in die beproewing en teistering wat oor die aarde kom nie, maar om te glo in Christus is ons enigste skuiling.”

Here gee ons die geestelike oë om U beskermende muur van vuur rondom ons kerk te sien, wat almal bewaar wat hulle in U hand oorgee.

 Ons mag gevare aan alle kante sien, insluitende die duiwel en sy magte wat ons geloof wil vernietig met twyfel. Maar ons het ook ‘n vurige wag van engele wat rondom ons is. En ons het God wat Homself onder eed plaas om ons deur enige katastrofe wat ons mag trotseer te dra.

Ek vra jou: Wil jy die naderende storm trotseer met ‘n stille vertroue en vrede in jou gemoed? Sterf dan vandag aan al jou eie weë en maniere om jouself te beskerm. Vertrou jou hele lewe toe aan God se sorg. Hy is jou goeie, liefdevolle Herder — en hy is getrou om jou deur dit alles te dra. Amen!

Download PDF