Verloor die Skip, Red die Mense | World Challenge

Verloor die Skip, Red die Mense

Gary WilkersonMarch 11, 2013

Ten tye van Handelinge 27, het Paulus alreeds ‘n vol lewe in die bediening gelei. Hierdie man het ongelooflike dinge bereik, maar steeds het hy ‘n brandende passie gehad om sy lewe vir die evangelie te gee.

Paulus was deur God geroep om ‘n apostel te wees en het toesig gehou oor kerke reg deur Asië en in dele van Europa. Hy was egter ook ‘n evangelis en ‘n apologeet; hy het Christus voor howe en konings verdedig. Paulus het alles opgeoffer om sy Gees-geleide sendingreise te onderneem. Hy was vasbeslote, “Ek wil die evangelie van Christus na die episentrum van die wêreld neem. Ek het my visier op Rome ingestel om vir die Keiser self te gaan preek!”

Paulus was so vasberade hierin dat hy met sy eie lewe gedobbel het om dit in vervulling te sien kom. Op daardie stadium was hy in die tronk en het die geleentheid gehad om vrygelaat te word. Hy het egter sy kans op vrylating laat verbygaan in ruil vir die kans om voor die Keiser, op wie hy hom beroep het, te verskyn. As Paulus sou verloor, kon hy sy lewe ook verloor. Dit was ‘n keuse wat hy ter wille van die evangelie gemaak het.

Jy kan baie verdra as jou hart doelgerig is, maar as jou hart gerig is op gemak, kan jy geen lyding verdra nie.

Gedurende sy reis na Rome, was Paulus aan boord geneem op ‘n skip wat gou teëspoed opgetel het: “Omdat die winde teen ons was” (Handelinge 27:4). Dit was ‘n natuurlike struikelblok, maar Paulus kon dit maklik as ‘n geestelike padversperring gesien het. As jy inderdaad jouself ingestel het op ‘n evangelie visie, dan sal alle hel teen jou losbreek.

Bogenoemde vers kon maklik Paulus se lewe tot op daardie oomblik beskryf. Hy het baie verdrukkings beleef, van skipbreuk tot slae, stenigings en selfs moordkomplotte. Paulus was in staat om dit alles te verdra omdat sy gedagtes altyd ingestel was op sy sending: om Christus te leef, te preek en te dien.

Die Bybel maak dit duidelik wat ons sending is. As Christene word ons geroep om die genade van God te verkondig aan ‘n teruggevalle, sondige wêreld. Ons is geroep om mekaar lief te hê en saam in ‘n ware evangelie gemeenskap te aanbid. Ons word geroep om die armes te dien en deur al hierdie dinge te doen, bring ons die lig van Christus aan ‘n wêreld wat in duisternis vasgevang is. Kortliks, ons word geroep om God se liefde te bring aan andere deur ons woorde en dade, sodat die wêreld verander kan word.

As jy ‘n Christen is wat kies om op die buitewyke van geloof te sit — as jy net kerk toe gaan vir vertroosting — sal jy nie veel weerstand van die vyand kry nie. Maar as jy vasbeslote is om vir Jesus te leef soos wat ek beskryf het — as jy ‘n evangelie-visie het vir hulle wat swaarkry, vir die verlorenes en vir Christus se liggaam — dan sal Satan sy volle arsenaal teen jou gebruik. Soos Paulus, sal jou reis vol beproewings en gevare wees wat jou siel sal skud.

Hierdie hoofstuk in Paulus se lewe, illustreer hoe sommige van ons op Satan se aanslae reageer. Toe die skip waarop Paulus was die eerste been van die eis voltooi het, lees ons: “En omdat die hawe nie geskik was om daar te oorwinter nie, het die meerderheid aangeraai om ook daarvandaan af te vaar en indien moonlik Fenix te bereik om te oorwinter” (Handelinge 27:12).

Paulus was egter teen hierdie besluit gekant, nie net omdat dit hulle uit die pad na Rome sou neem nie, maar omdat die Gees hom daarteen gewaarsku het. Later het die skip in die moeilikheid beland as gevolg van hierdie verkeerde besluit en dit het amper almal se lewens gekos. Op daardie tydstip het dit egter na die gerieflikste besluit gelyk.

Ek wys dit uit want wanneer sommige Christene die vyand se teenstand op hulle sending ervaar, dan besluit hulle om na “Fenix te gaan vir die winter.” Ek sal dit toegee, almal van ons het ‘n vakansie nodig om ons gees te verkwik nadat ons baie ander met hulle geestelike behoeftes gehelp het.  Maar ek verwys na iets heeltemal anders — ek verwys na ‘n toestand van die hart wat sê, “Moenie jou sending so ernstig opneem nie. Trek terug en rus net ‘n bietjie.”

Wanneer Christene dit doen, raak hulle gou heeltemal van koers af. Hulle sending is nie langer Christus nie, maar eerder om na die skip om te sien — en dit beteken om van alle storms af weg te stuur. In werklikheid onttrek hulle as gevolg van die weerstand wat teen hulle kom.

Hierdie gelowiges weet dit nie, maar hulle word beroof van hulle hoë roeping. Dit is nie ‘n klein dingetjie in God se oë nie. As ek na Fenix toe vaar in plaas van Rome, dan beteken dit dat niemand na Rome toe gaan met die sending waarop God my gestuur het nie. ‘n Skip word onderhou en in werkende toestand gehou — maar ironies genoeg, is dit die sending van daardie skip wat nie vervul word nie.

Gemak en rus doen niks vir die koninkryk nie. Om te lewe vir die koninkryk sê, “My lewe is nie my eie nie — ek is teen ‘n prys gekoop. Jesus lei my in alles. En Hy voorsien aan my die genade om dit te voltooi, maak nie saak watter teëstand kom nie.”

Paulus se skip het uiteindelik op die rotse geloop en is in stukkies geslaan.

Paulus het nie ‘n oog geknip toe die ramp hulle tref nie. Dink aan hierdie toneel: “En nadat hulle lank sonder ete was, het Paulus in hulle midde opgestaan en gesê: Manne, julle moes na my geluister en nie van Kreta afgevaar het nie en julle so hierdie ramp en skade bespaar het, Maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip. Want daar het in hierdie nag by my gestaan ‘n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien. En Hy het gesê: Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar. Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is. Maar ons moet op ‘n sekere eiland strand” (Handelinge 27:21-26).

Ek weet nie van jou nie, maar ek sou nie graag hierdie woorde wou hoor nie. “My skip sal tot niet gaan? Sjoe, Here, wat gaan aan?”

Wat van jou? Wat sou jy gedoen het as jy gehoor het dat jou skip op pad is om te sink? Hoe sou jy reageer het as jou roeping bedreig was deur omstandighede buite jou beheer? Baie van ons sou ‘n identiteitskrisis beleef. Dit is omdat ons identiteit betrokke is by ons roeping — of jou roeping jou familie, werk of selfs bediening is. Ons skip kan ons huis of ons nuwe kar, of ons kinders se sukses op sportgebied of ‘n honderd of meer ander dinge wees. Ons moet die Here dank vir al die skepe in ons lewens, maar nie een daarvan se waarde is gelyk aan dié van Christus of die mense vir wie Hy ons geroep het om te dien nie.

Ons identiteit kan nie in enigiets anders as in Christus wees nie. Dit moet geanker wees in dit wat Hy vir ons gedoen het, nie in dit wat ons vir Hom kan doen nie. Dit beteken ons moet doen soos sy stem ons lei, nie wat enige “bediening kenners” ons vertel nie. Te dikwels fokus kundige raad op die skip en nie op die einddoel wat Christus vir ons beplan het nie. Ons skip is net ‘n werktuig om ons daar te kry — en ons Here kan met die skip doen wat Hy wil.

Paulus het dit geweet, selfs toe sy skip uitmekaar geslaan is. Hy het nooit sy oë van sy roeping, wat Christus was, afgehaal nie. Dit is waarom hy so kalm tydens die storm was. Paulus was belas met die hele 275 siele aan boord en hy het God se versekering gehad dat elkeen van hulle se lewens gespaar sou word. Iemand se kosbare skip was op die punt om tot niet te gaan, maar Paulus het hulle almal aangemoedig, “Ons moet deurdruk.”

Paulus het nooit moed opgegee nie. En ek wil elkeen wat Jesus dien, aanmoedig om dieselfde te doen. As God jou geroep het om iets te doen, dan maak dit nie saak watter storms kom nie. Hy het gesê, “Dit is nie verby nie. Wanneer alles lyk of dit buite beheer is, dan is Ek in beheer. Moenie moed verloor nie!”

Daar is iets anders wat ons uit die gesig kan verloor tydens ons storms. Dit is dat die skip waarop ons is, ‘n oorlogskip is. Ons is in ‘n oorlog met Satan betrokke, met die gevolg dat ons voortdurend veg teen die magte van die duisternis. Dit is nog ‘n rede waarom ons nie kan bekostig om die “winter in Fenix” te spandeer nie.

Ons veg teen ‘n vyand wat depressie bring, wat huwelike aanval en wat ‘n nuwe generasie tieners verslaaf maak aan heroïne, wat ‘n groeiende probleem in baie stede is. Ons gaan die stryd binne terwyl ons glo dat Christus se heerlike evangelie die gevangenes sal vrylaat — dat Hy getrou is om die kettings van hulle wat gebonde is te breek, om families wat in swaarkry vasgevang is te verlos en om die behoeftiges met Sy vrygewige liefde te bereik. Wanneer ons in hierdie stryd betrokke is, is dit noodsaaklik dat ons ons fokus hou op die sending wat hy aan ons gegee het — en om te luister na waarheen Sy stem ons lei.

Ons sending is altyd sekondêr; Ons primêre belang is om te weet in Wie ons glo.

Jesus het ons geroep tot radikale diens en aanbidding. Ons sukses hierin word nie bepaal deur of ons bedieningsgroep floreer nie, maar eerder of ons voortdurend ons lewens ter wille van Hom neerlê.

Spreek dit met jou? Het jou skip voorkeur bo Jesus in jou hart? Het jy vasgevang geraak in vleeslike belange, soos om ‘n goeie lewe te lei of om ‘n suksesvolle bediening te hê? Nie een daarvan is God se hoë roeping vir jou nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie: Hy wil nie hê jy moet ophou hard werk of met toewyding dien nie. Praat Hy miskien op hierdie oomblik met jou oor wat die belangrikste in jou hart is?

As jy tot dusver jou winters in Fenix gespandeer het, roep Hy jou op hierdie oomblik terug na jou reis na Rome toe. Stoot alles opsy wat jou verhoed om op jou “sending vir Jesus” te wees. En bid hierdie gebed saam met my: “God, U het vir my hierdie skip gegee — dit is U s’n om te gebruik soos U wil. Rig dit in die rigting waarin U wil hê dit moet gaan en ek sal dit getrou stuur. Ek vertrou U om my te lei tot by die bestemming wat U vir my beplan het, wat dit ookal mag wees. My begeerte is eenvoudig om U te hoor en te gehoorsaam. Ek plaas my lewe in U hande, omdat ek daarna verlang om U verhewe en verheerlik te sien. Amen.”

Download PDF