Verantwoordelikheid, Onvermoë en Genade | World Challenge

Verantwoordelikheid, Onvermoë en Genade

Gary WilkersonJuly 15, 2013

Ek het tevore al geskryf oor my reputasie as ‘n prediker wat altyd oor genade preek. Ek het ook al met die gedagte gespeel om ‘n boek met die titel “Confessions of an Extreme Gracist” te publiseer. Nie ‘n geskikte titel nie, maar dit is ‘n bordjie wat ek in elk geval met trots dra.

Van tyd tot tyd het sommige mense in my kerk geskimp dat ek dit oordoen met die genade boodskap: “Dink jy nie ons het meer van ‘n balans nodig nie?” As mens daaroor nadink, is dit ‘n vreemde vraag. Hoe kan genade oordoen word? Het God dit nie self “oordoen” met genade nie? Is dit nie die ware aard van genade nie — iets wat so oordoen is dat dit skandalig is? Genade is nie iets wat gebalanseer kan word nie. Waarmee sal jy dit ooit kan uitbalanseer? Met geen genade?

My gevoel is dat ons in die kerk nog nie eers die oppervlak van genade aangeraak het nie. Van tyd tot tyd neem ons ‘n paar slukkies van die genade beker in ons wandel met God en daarna begin ons geleidelik meer op ons eie vermoëns staatmaak vir die res van die pad.

Ek verstaan egter hoekom hierdie vrae gevra word. Ons almal wil weet wat ons verantwoordelikhede teenoor God is. Om vir die evangelie te leef, het sekere vereistes. As ons na Jesus se bevele kyk — wat vir volmaaktheid vra — en ons kyk na ons eie sondige lewens, dan kyk ons na twee verskillende werklikhede. Die vraag is, “Waarom tel dit nie op nie?”

Die probleem kom wanneer ons probeer om die probleem van hierdie twee werklikhede op te los. Die meeste van ons doen dit deur die wet toe te pas — deur harder te werk en sake in ons eie hande te neem. Natuurlik is dit vir ons goed om oortuig te word dat ons ‘n louwarm hart het. Dit is goed dat ons ontevrede is met die manier waarop ons teenoor ons gade of familie optree. Die Heilige Gees is getrou om sy soeklig op ons probleem areas te skyn — bedoelende, sonde areas — en uit te lig waar Hy ons wil verander. Maar ons kan onsself nie verander deur toewyding of wilskrag nie. Die verandering wat ons nodig het om plaas te vind, moet van ‘n dieper plek af kom as wat die wet —  of ons eie prestasie — kan voorsien.

Ons kan nie ons areas van gehoorsaamheid kies nie.

Ons almal word geroep om te doen wat die Here ons vra om te doen. Wanneer Jesus sê dat ons weergebore moet word, geloof hê, bid en sy aangesig soek, ons naaste liefhê, ons vrou lief te hê soos God sy kerk liefhet, is Sy elke bevel ja en amen. Sommige kerke verkies egter sekere areas van gehoorsaamheid bo ander. Hulle beklemtoon evangelisasie, of sosiale geregtigheid, of politiese aktivisme, of om die armes te bedien, of gebed. Hulle mag dit dalk nie erken nie, maar dit wat ander kerke beklemtoon, sien hulle as minder werd in God se oë.

Geen kerk behaag God as dit op een silinder ry in plaas van op agt nie. Hy sal eenvoudig nie toelaat dat ons een van sy bevele ignoreer nie. Lees Openbaring 3 om ‘n beeld te kry van God se misnoë wanneer ons dit doen. Enige persoon of kerk wat nie God se bevele gehoorsaam nie, leef in ongehoorsaamheid — geen offe, enne of maars nie.

Volmaakte gehoorsaamheid is egter nie moontlik nie. Dit is nie binne die strekking van ons vermoëns nie. Dit is waarom ons geneig is om sekere areas van gehoorsaamheid in ons lewens te beklemtoon — want hulle is makliker om te doen as ander. Ons mag selfs daarvoor beloon word. Maar dan mis ons die merk heeltemal.

Om ‘n lewe van vreugde en oorwinning te hê, hang nie af van die vraag of ons daarin slaag of misluk om God se gebooie te gehoorsaam nie. Dit gaan presies oor wat ons doen om God se gebooie te gehoorsaam. Ek het dit as kind in die kerk geleer. Ek was geleer dat ek geestelike veranderinge uit my eie wil kon manifesteer. Jeugleiers het ons vertel, “Jy kan jouself verander sodat versoekinge nie terugkeer nie. Jy kan jouself uit enigiets uithaal.” Dit neem nie lank om te sien hoe nutteloos dit is nie. Soos ‘n vriend van my gesê het, “Toe ek vyf-en-twintig was, wou ek die wêreld verander. Nou dat ek vyf-en-veertig is, kan ek nie eers myself verander nie.”

Die punt is nie om veranderinge in onsself te maak nie. Die punt is om toe te laat dat God se genade ons in staat stel om te transformeer — in onsself en in ons wêreld.

Dink aan die gebooie wat Jesus ons gee.

Kom ons kyk na Jesus se gebod om weer gebore te word. “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matthéüs 11:28). Die meeste van ons dink aan Jesus wat viool speel terwyl skares stukkende mense na Hom toe stroom. Maar Jesus bied nie net ‘n uitnodiging aan nie. Hy vertel ons — beveel ons — om na Hom te kom omdat Hy alleen die rus voorsien wat ons siele nodig het.

Is dit egter vir ons moontlik om “na Hom te kom”? Volgens Jesus is dit onmoontlik: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44). Waarom sou Christus ons iets beveel wat ons nie kan doen nie?

Hy wil ons ‘n belangrike les leer — een wat uiters belangrik vir die Christelike lewe is. Dit is dat wanneer ons ‘n gebod gegee word, dit nie genoeg is om onsself op te wek en te sê, “Here, ek is die één!” nie. As ons dit doen, sal ons in die moeilikheid wees nog voor ons begin. In werklikheid, as ons ‘n gebod gegee word uit enige van die evangelies, ontbloot dit ons onvermoë. God doen dit met opset. Terwyl Hy aan ons sy wil en gebooie openbaar, wys Hy ook vir ons dat ons nie in staat is om dit op ons eie te doen nie.

Dit is waarom Jesus elke onmoontlike gebod opvolg met ‘n belofte. Eerstens sê Hy, “Niemand kan na My toe kom as die Vader hom nie trek nie.” (Johannes 6:44). God wil ons nie net na Homself toe trek nie, Hy wil ons ook opwek tot ‘n nuwe, opstandingslewe. Sy krag stel ons in staat om in ‘n nuwe verbond met Hom te wandel.

Ons het nie die vermoë om hierdie nuwe lewe op ons eie te hê nie. Dit kom slegs deur Hom. Net so is dit dieselfde krag wat ons red, wat ons ook dra deur genade. “Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is” (Johannes 3:21).

Ek hou van die gedeelte: “Sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.” “In God gedoen is” beteken God doen die werk in ons. Dit is hoekom Hy elke gebod opvolg met ‘n belofte. So gou as wat Hy ons onvermoë openbaar, so gou openbaar Hy sy vermoë en gewilligheid om dit in ons te doen.

Dink nou aan God se bevele insake gebed.

Eerstens word ons vertel, “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jesaja 55:6). Dan sê die Bybel, “Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie” (Romeine 3:11). Uit die Skrif word dit duidelik dat ons nie die Here soek soos wat ons veronderstel is nie.

Weer en weer wys die Woord aan ons God se standaarde vir volmaaktheid — en ons onvermoë om dit te bereik. Hoekom? Sodat ons die lot van die Fariseërs kan vermy. Hulle het vroeg in die oggend opgestaan en lang gebede gebid. Hulle het reëls gemaak wat na heilige gedrag gelyk het. Maar Jesus het uitgewys dat hoewel hulle van buite rein gelyk het, was hulle harte duister en verrot.

God wil ‘n dieper werk in ons doen — dieper as wat ons ooit op ons eie kan bereik. Paulus som dit op in een kort gedeelte: “O onverstandige Galásiërs, wie het julle betower...? Het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Galásiërs 3:1-3).

Wanneer ons gehoorsame werke nie gevorm word deur die genade van God nie, dan voel ons dit. Op die oppervlak mag ons trots voel oor wat ons blyk te bereik. Maar wanneer ons misluk, voel ons so ontmoedig dat ons wil opgee, tewyl ons dink, “Hierdie las is te swaar. Ek kan dit nie meer vat nie.”

Presies! Dit is die punt: Die las is te swaar. Dit is hoekom Jesus vir ons sê, “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matthéüs 11:28-30).

Jesus praat hier van werke wat uit God gedoen is en nie in ons eie vermoë nie.

Sonder sy genade wat ons krag gee, kan ons ure per dag bid, ons kan Bybel lees tot die aand toe, ons kan die hele naweek evangelisasie werk doen, ja, selfs siele wen. Maar ‘n gelowige met ‘n hart wat nie deur genade aangeraak is nie, sal nie homself of die wêreld een duim nader aan God laat beweeg nie.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Daar is ‘n plek vir dissipline in ons wandel met Christus. Maar die oplossing is nie om meer vleeslike laste op onsself te plaas nie. Dink daaraan: Jy voel skuldig omdat jy nie vir dertig minute per dag kan bid nie, so jy wy jouself daaraan toe om vir ‘n uur te bid, Hoe dink jy gaan dit uitwerk?

Ons weet dat God se gebooie goed is — dat hulle rein, waar en onwrikbaar is in hulle oproep vir ons om ‘n goddelike lewe te lei. Wanneer ons lewens egter nie in lyn met sy gebooie is nie, dan is harder probeer nie die oplossing nie. Om op ons tande te kners en ‘n groter poging aan te wend, vervul nie enige verantwoordelikheid teenoor God nie.

Laat ons eerlik wees: Die meeste van ons, my ingesluit, is geneig om met genade te begin en dan geleidelik oor te slaan na ons eie vermoë. Ons lewe asof ons wandel met God is soos om ‘n huis te besit: Ons vra ons ouers vir hulp met die afbetaling, maar dan begin ons werk om die verband paaiemente op ons eie te betaal. Nee! Jesus se bloed is nie ‘n afbetaling vir enigiets nie — dit is alles!

Ons lewe in Christus begin in genade, dit gaan voort in genade en dit eindig in genade.

Wanneer ons dit besef, dan sal ons lewens geken word deur vryheid, nie slawerny nie; deur vreugde, nie moeite nie; deur blydskap, nie deur vrees nie. Dan sal dit nie langer lyk soos ‘n plig om tyd in God se teenwoordigheid te spandeer nie, maar na ‘n vreugdevolle gawe. Jesus sê tog dat ons nie langer sy dienaars is nie, maar sy vriende.

Niks hiervan neem ons verantwoordelikheid weg nie. Dit is onvermydelik dat sommige lesers sal sê, “As jy so preek, sal niemand ooit weer bid nie. Niemand sal homself dissiplineer om dit te doen nie. Jy het nou net self die vers gekwoteer, ‘Niemand soek nie, nie een nie.’ Ons het dit nie in ons nie. As ons volg wat jy voorstel, sal niemand ooit God ken op die manier wat Hy wil hê ons Hom moet ken nie.”

Natuurlik is daar ‘n tyd wat ons die wekker moet stel om op te staan en te bid. Maar moenie waag om dit te doen sonder die olie van God se genade nie. En moenie waag om jou Bybel te lees sonder genade nie, of jy sal veroordeel en vreesagtig voel eerder as verlig en bekragtig. Hoekom? Dit is God se werk van genade om ons ons onvermoë te wys. Dit is die enigste manier waarop ons ooit sy vermoë sal erken.

Nee, moenie opgee op jou verantwoordelikheid nie. Moenie jou toegewyde gebedstyd opgee nie. Moenie jou Bybelstudie opgee nie. Moenie opgee op daardie wonderlike dissiplines nie — behalwe as hulle in die pad kom van God se genade wat ten volle in jou lewe werk.

Genade reën op ons neer vanuit die Here se troon: dit styg nie van ons af op na Hom toe nie. Dit is wat die wêreld na ons lewens en getuienisse sal trek. Wanneer mense die ware genade op ons sien reën, dan sal hulle die wonders sien wat in ons werk. En hulle sal weet dat ons harte gewen is nie deur ons eie werk nie, maar deur God s’n. Mag dit so in ons lewens wees vandag.

Download PDF