Helpers in Gebed | World Challenge

Helpers in Gebed

David WilkersonJuly 11, 2011

Dikwels is gebed een van die selfsugtigste gebiede van Christene se lewens. Baie van ons moet erken dat meeste van ons gebede op ons eie behoeftes fokus.

Soms sal ons gebede verder as ons eie eng belange strek en ander mense insluit. Tog, wanneer ons vir iemand sê, “Ek sal vir jou bid,” doen ons dit nie, of ons bid een keer gou daarvoor en vergeet daarna van daardie persoon se behoeftes.

Volgens die Skrif, is ons eie innige gemeenskap met die Here nie genoeg nie. Ja, gebed is die geheim van geestelike groei, maar as ons net na die troon toe gaan vir ons eie behoeftes en groei, dan is ons selfsugtig. Die Bybel wys vir ons dat ons nie mag nalaat om ernstig te bid vir die dringende behoeftes rondom ons nie.

Ons bediening het van ‘n kosbare ou man in San Diego gehoor. Hierdie dierbare man het gesê dat God hom gedring het om daagliks vir my te bid en hy het my gevra of hy my op sy gebedslys kon sit. Blykbaar is die ontvangers van hierdie man se gebede ‘n lang lys van weduwees, arm mense, predikers en ongeredde persone. Hy bid nou al vir jare vir hulle.

Hierdie man is ‘n afgtrede poswerker en hy lei ‘n baie eenvoudige lewe. Hy spandeer sy tyd om goeie dade vir ander te doen en met die Here te kommunikeer die hele dag lank. Hy ry deur die stad rond en laai ou meubels en ander items wat weggegooi is op, maak dit heel en gee dit aan die weduwees en armes. Hy koop en doen sleurwerk vir hulle wat nie kan uitgaan nie, maak hulle loodgieterswerk reg en help om ander behoeftes aan te spreek.

Terwyl hy hierdie goeie dade doen, bid hy sonder ophou en tree getrou vir almal op sy lys in. In werklikheid trek hy net hulle name dood wanneer hulle sterf.

Sedert ek geroep is om te preek op die ouderdom van agt, was ek nog altyd ‘n biddende man. Maar hierdie goddelike man steek my in die skande. Ek het geen lys van behoeftige mense vir wie ek daagliks bid nie — maar hierdie dienskneg van God hou net aan met bid.

Ek glo hy is soos die desperate weduwee wat twee koper geldstukkies gegee het, maar wie se offer baie meer werd was as die groot gawes van ander. In werklikheid, as ek dink aan die ongelooflike evangelisasie aksies wat siele geoes het vir God se koninkryk, dan word ek daaraan herinner dat dit plaasgevind het as gevolg van die ongelooflike hulp van biddende mense soos hierdie man.

Hierdie boodskap gaan daaroor hoe om daardie soort geseënde gebedslewe te hê en om ‘n helper in gebed te word.

Paulus sê hy was verlos van die dood, nie deur sy geloof nie, maar deur die gebede van “helpers.”

“Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het" (2 Korinthiërs 1:8). Die Griekse woord vir “swaar,” hier beteken “swaar belas, erg verdruk.” Paulus het bedoel, “Ons krisis was so ernstig dat dit my uithouvermoë oorskry het. Ek het gedink dat dit my einde was.”

Hy was getroos deur die koms van Titus wat hom goeie nuus oor sy “geliefde kinders” in Korinthe gebring het. Paulus skryf, “God het ons getroos deur die koms van Titus; en nie deur sy koms alleen nie, maar ook deur die troos waarmee hy oor julle getroos is, deurdat hy aan ons berig gebring het van julle verlange, julle verdriet, julle ywer vir my, sodat ek my nog meer verbly het" (2 Korinthiërs 7:6–7).

Paulus se beproewing het hom by die einde van sy uithouvermoë gebring. Hy het geweet dat hy nie meer krag oorgehad het om die magte van die duisternis te beveg nie. Daarom het hy sy eie vlees tot die dood veroordeel. En God het hom wonderbaarlik verlos: “Wat ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos" (2 Korinthiërs 1:10).

Paulus sê dat daar een of ander belangrike faktor in sy verlossing betrokke was: die kragtige smeekgebede van biddende helpers. “terwyl julle ook vir ons saamwerk deur die gebed" (2 Korinthiërs 1:11). Paulus het sy lesers vertel, “Ja, ek is vol vertroue dat God my sal verlos. Dit is omdat julle help om dit te laat plaasvind deur gebed.”

Jy sien, Paulus het geweet dat hy sy helpers in gebed desperaat nodig gehad het. Hy het goed geweet dat God sy skild van beskerming is om hom van elke vyand te verlos.

Tog het Paulus ook geweet dat gebed en verlossing onlosmaaklik deel van mekaar is. God vertel vir ons. “Roep My aan die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer" (Psalm 50:15). "Hy sal my aanroep, ek Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee" (Psalm 91:15).

Paulus het geweet dat dit deur gebed was — sy eie en dié van daardie biddende helpers — dat hy uit die “bek van leeus verlos” was.

Een van die grootste behoeftes in die kerk vandag is die bediening van helpers in gebed.

As toegewyde dienaars van die Here is ons voortdurend in gevaar van die vyand. Ons passie vir Jesus maak die Satan woedend en hy beplan allerhande lokvalle teen ons.

Een so ‘n gevaar word baie ligtelik in die kerk opgeneem: die egskeiding van Christelike paartjies. Ek is geskok deur talle briewe wat ons bediening ontvang en vertel van huwelike wat in skerwe spat. Elke soort rede word gegee vir die onrus in Christelike huise: onaanpasbaarheid, gebrek aan kommunikasie, verlies van toegeneëndheid en ontrouheid. In werklikheid gaan dit oor baie meer as hierdie dinge. Agter dit alles is ‘n aanval van die hel op God se heiliges.

Stukkende huise onder nie-Christene is nie vreemd nie, maar onder die regverdiges, het sulke onrus ‘n oorsaak. Dink daaraan: Hoe kan toegewyde Christene wat God met blydskap dien, skielik geen gesag in hulle huise hê nie? Hulle weet alles omtrent God se verbond wat hulle krag moet wees om elke sataniese mag wat teen hulle kom, te vernietig. Waarom heers die duiwel dan nog?”

As jy onder so ‘n aanval is, moet jy vra wat die dissipels gevra het: “Meester, waarom kan ons nie hierdie duiwels uitdryf nie?” Jesus het geantwoord dat sekere demoniese bindings nie op handoplegging of een keer se gebed sal reageer nie. Die enigste manier om sulke kragtige vestings uit te dryf, is deur aanhoudende gebed en vas.

Die kerk kan soms egter in ‘n stupor wees insake die krag van gebed. Wanneer baie Christene moeilikheid beleef, is Jesus die laaste plek waarna hulle gaan. In plaas daarvan gaan hulle na sielkundiges, beraders, boeke en vriende — orals behalwe na die Here toe.

As jy sê dat jou huwelik op die rotse is en dat jy dit wil herstel, vra ek jou: Hoeveel tyd het jy in jou gebedskamer gespandeer en die hemel oor jou huwelik bestorm? Hoeveel maaltye het jy gemis omdat jy gebid het vir die herstel met jou huweliksmaat? Hoe dikwels het jy uitgeroep, “Vader, U moet vir ons iets doen. Doen wat dit ookal verg om ons te herstel!”

Sommige Bybelonderwysers sê dat dit ‘n teken van ongeloof is om dieselfde versoek oor en oor te rig. Dit is kettery! God beveel ons om te vra, te soek, te vas en uit te roep in doeltreffende, ernstige smekinge. Van die begin af, het ware dienaars van God sy beloftes in gebede verander:

  • Jesus het geweet dat sy Vader voor die grondlegging van die wêreld aan Hom alle dinge belowe het. Tog het Christus ure in gebed gespandeer sodat God se wil op hierdie aarde gedoen sal word. Hy het selfs ‘n gelykenis vertel waarin die volharding in gebed geïllustreer word deur ‘n lastige weduwee wat by ‘n regter aangehou het om geregtigheid totdat sy dit gekry het.
  • Esegiël het wonderlike profesië uitgespreek oor Israel se herstel en het belowe dat die volk se bouvalle soos die Tuin van Eden sou word. Tog het die Here gesê dat sy woord nie sonder gebed vervul sou word nie: “So sê die Here: “Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen" (Esegiël 36:37). Met ander woorde, “Ek het aan jou ‘n belofte gemaak, maar ek wil hê dat jy dit in vervulling moet bid. Soek My met jou hele hart totdat jy my woord vervul sien. Ek sal red, maar eers moet jy vra.”
  • God het aan Daniël belowe dat Israel na sewentig jaar herstel sou word. Toe Daniël die aangewyste jaar sien aankom, kon hy in geloof op God gewag het todat dit in vervulling kom. In plaas daarvan, het Daniël op sy aangesig geval en vir twee weke gebid totdat hy gesien het dat die Here alles in vervulling gebring het.

God het beveel dat ons vir mekaar moet bid (Sien Jakobus 5:13–14).

In die Ou Testament het Israel se hoëpriester die name van al die stamme van Israel op sy borsplaat gedra. Dit dui daarop dat die mense se nood voortdurend in gebed op die priester se hart was. Wat ‘n wonderlike toonbeeld! Dit dui op Christus wat ons op sy hart dra en ons behoeftes voor die Vader bring. Tog is dit ook ‘n beeld van elke Christen vandag, ‘n koninklike priesterdom, wat die behoeftes van ander op ons harte dra.

Paulus was so bewus van sy behoefte vir die gebede van die heiliges, dat hy vir meer gebedshelpers oral gepleit het. Hy het die Romeine gesmeek, “Maar ek vermaan julle, broeders, by onse Here Jesus Christus en by die liefde van die Gees, om saam met my in die gebede te stry vir my by God, dat ek verlos mag word" (Romeine 15:30–31). So het hy ook aan die Thessalonisense gevra, “Broeders, bid vir ons" (1 Thessalonicense 5:25).

Die Griekse woord vir “stry” hier beteken “stry saam met my as ‘n medewerker in gebed; stoei vir my in gebed.” Paulus vra nie vir ‘n vinnige noem voor die troon nie. Hy het gepleit, “Stry vir my in gebed. Doen geestelike oorlogvoering vir my en vir die evangelie.”

Toe Paulus in die tronk gereed was om sy lewe af te lê, het hy by die Filippense gepleit vir hulle gebede: “Want ek weet dat dit deur julle gebed en die ondersteuning van die Gees van Jesus Christus my tot heil sal strek" (Filippense 1:19). Paulus het geweet dat hy ‘n gemerkte man was en dat Satan se hordes vasbeslote was om hom te vernietig. So gaan dit met elke ware bedienaar van die evangelie. Elke pastoor, prediker en evangelis benodig helpers in gebed wat voortdurend vir hulle in gebed sal intree.

Ek kan jou verseker, ek kon nie hierdie boodskap geskryf het as dit nie was vir die helpers in gebed wat my deur die jare bygestaan het nie. Ek was in Europa om ‘n konferensie en aanddienste te lei toe ek daaraan herinner is. Die hele tyd, het God se Gees my daarvan bewus gemaak dat ek gedra word deur die gebede van ‘n menigte van mense.

In Nice, Frankryk, het hulle nie baie van  Amerikaanse evangeliste gehou nie. Almal was bekommerd oor die aanddienste en het gewonder, “Kan dit gedoen word?” Frankryk is oortrek met skeptisisme, ateïsme, agnostisisme en ongeloof. Die soort byeenkoms wat ons beplan het om te hou, was nog nie tevore probeer nie.

Toe die tyd egter aanbreek, het daar duisende bymekaargekom. Dit was egter tóé dat ek hulpeloos begin voel het. Ek het nie geweet wat om te preek nie. Geen boodskap wat ek saamgebring het, was gepas nie. My tolk en ek het vooraf sommige van die notas deurgegaan, maar ek was nie seker dat hulle reg vir die byeenkoms was nie. Ek het hom gewaarsku, “Ek is nie seker wat ek gaan sê nie.”

Toe ek egter op die podium klim, het die Gees kragtig op my neergedaal. Ek het ervaar dat die gebede van duisende heiliges my ondersteun. En toe ek begin praat het, het die Heilige Gees my mond gevul. Ek het vir veertig minute gepreek en die hele tyd kon jy ‘n speld hoor val. Toe ek klaar was, het ek eenvoudig gesê, “As jy Jesus nodig het, kom asseblief vorentoe.” Honderde mense het daarop gereageer en op hulle voete gespring om vorentoe te kom.”

Dieselfde ding het gebeur in ander lande waar ons op daardie reis bedien het: Kroasië, Romenië en Pole. Ek het vooraf gebid, “Here, wat moet ek sê?” Elke keer het die Gees aan my gefluister, “Mense bid.” Ek is oortuig dat die krag van gebed die krag agter die baie bekerings wat ons op daardie reis gesien het, was.

Hoeveel predikante kon ondergang vermy het as hulle helpers in gebed gehad het?

Onlangs het ek geskryf oor ‘n pastoor se vrou wat ‘n treurige boodskap op ons bediening se antwoordmasjien gelaat het. Sy het in ‘n verwarde stem gesê, “Broer David, duisende predikantsvroue daar buite drink in die geheim om hulle hartseer te verlig. Dit is wat ek doen. Ek doen dit om die pyn te stil.” Ander predikantsvroue skryf van hulle huwelike wat misluk of van hulle man se verslawing aan internet pornografie.

Ek voel ‘n roeping van God om hierdie mense in gebed te help. Ek bid vir predikante en hulle families omdat ek weet dat hulle dit meer as die ander nodig het. Ek skryf niemand se versoek meer af nie. Ek het geleer dat helpende gebed werk! Die Skrif sê toe Petrus in die tronk was, “Maar daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan" (Handelinge 12:5). God het Petrus verlos met ‘n wonderwerk deur helpende gebede.

Paulus het nie net vir gebedshelpers gevra nie, maar was self ‘n helper. Hy het geweet dat dit deel van sy roeping as ‘n bedienaar van die evangelie was. Hy het aan die Filippense geskryf, “Aan al die heiliges...saam met die opsieners en diakens...Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink — en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap...omdat ek julle in my hart dra" (Filippense 1:1, 3–4, 7).

Net so het Paulus aan die Romeine geskryf, “Want God...is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink en altyd in my gebede smeek" (Romeine 1:9-10). Die woord “dink” beteken, “Ek herhaal julle name en behoeftes voor die Here.” Kortliks, Paulus het nie van ander gevra wat hy nie gewillig was om self te doen nie.

Is jy bewus van ‘n broer of suster wie se huwelik in gedrang is? As dit so is, wat doen jy daaromtrent? Vertel jy net vir ander daarvan, “Wat ‘n jammerte dat hulle moet opbreek”? Of noem jy hulle name voor God en stry jy in gebed vir hulle?

Soos die kosbare ou heilige in San Diego, is ‘n ware gebedshelper een wat sonder ophou bid vir die behoeftes van ander. Hy bid nie net vir hulle en hou dan op nie. Nee, hy tree dag na dag vir hulle in. En soos Daniël hou hy nie op totdat God hulle nood sien en optree nie.

Begeer jy die bediening van ‘n helper in gebed? As jy nie weet van iemand met ‘n nood nie, begin deur te bid vir al die Christen huwelike en vir al God se heiliges. Jy gebede hoef nie lank te wees nie. Stel eenvoudig net jou versoek en vertrou dat God jou hoor.

Dit was eens vir my geïllustreer toe ek siek in die bed was. Een van my kleinseuns het ingekom en aangekondig, “Oupa, ek gaan vir jou bid.” My helpertjie het sy hande op my hoof gelê en gebid, “Jesus, maak hom heeltemal gesond.” Ek het geglimlag en hom bedank. Maar hy het aangehou om na my te kyk. Uiteindelik het hy gesê, “Jy is gesond. Staan op!” So ek het opgestaan — en ek was gesond. Sy gebed van geloof het my op my voete gebring.

Magtige verlossings vind plaas wanneer God se heiliges Hom ywerig met kinderlike geloof soek vir hulle broers en suster se behoeftes. Ek eindig hier deur Paulus se roerende getuienis aan te haal.

“Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; want ons verlos het uit so ‘n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ons nog sal verlos, terwyl julle ook vir ons saamwerk deur gebed, sodat daar vir die genadegawe aan ons deur baie persone op baie maniere vir ons gedank mag word" (2 Korinthiërs 1:9–11).

Download PDF