Die Enigste Hoop In Die Komende Storm | World Challenge

Die Enigste Hoop In Die Komende Storm

David WilkersonOctober 3, 2011

God het aan die profeet Sagaría belowe dat Hy in die laaste dae ‘n beskermende muur van vuur rondom sy mense sal wees: “En Ek sal vir hom wees, spreek die Here, ‘n vurige muur rondom en tot heerlikheid daarin binne-in” (Sagaría 2:5).

Jesaja het ook hiervan getuig: “Want U was...’n skaduwee teen die hitte – want die geblaas van die tiranne is soos ‘n stortreën teen ‘n muur” (Jesaja 25:4). “En daar sal ‘n afdak wees vir ‘n skaduwee bedags teen die hitte en vir ‘n skuilplek en toevlug teen die stortbui en die reën” (Jesaja 4:6).

Hierdie beloftes is bedoel om ons as “vooraf waarskuwings” te vertroos. Jy sien, al die profete het gewaarsku oor ‘n groot storm wat in die laaste dae sal kom. En hierdie storm sal hewig teen God se muur van beskerming woed.

Jesus sê die komende storm sal so vreesaanjaend en oorweldigend wees dat mense se harte sal versmelt as hulle dit sien aankom (sien Lukas 21:26). As Jesus sê dat hierdie storm erg sal wees, moet ons weet dat dit ‘n ontsagwekkende oomblik in die geskiedenis sal wees. Die Bybel verseker ons egter dat God nooit sy oordeel op enige gemeenskap stuur te nsyHy nie eers sy plan aan sy profete geopenbaar het nie: “Want die Here Here doen niks tensy Hy sy raadbesluit aan sy knegte die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7).

Wat ‘n wonderlike uiting van ons Here se groot liefde vir sy mense. As jy die Bybelse profete se geskrifte noukeuring bestudeer, sal jy sien dat God konsekwent op hierdie manier optree. Net voor enige dreigende storm of oordeel, beveel God altyd sy profete om die mense te waarsku om hulle tot Hom te bekeer: “Ek het ook tot die profete gespreek, en Ek het gesigte vermenigvuldig en deur middel van die profete gelykenisse voorgedra” (Hoséa 12:10).

Verder is God getrou om in tye van oorvloed te spreek, voordat die woede van sy oordeel tref. Terwyl die stormwolke bymekaarkom, rig Hy profetiese stemme regoor die land op. En volgens die Skrif, wanneer ‘n sondige nasie voorspoed en vrede geniet het, het God sy profete beveel om hulle te waarsku dat die goeie tye gou sou tot ‘n einde sou kom: “Is dit nie so met die woorde wat die Here deur die diens van die vroeëre profete verkondig het nie, toe Jerusalem en sy omliggende stede nog bewoond en rustig was” (Sagaría 7:7).

Soms is God se boodskap hard en Hy beveel sy woordvoerders om hulle waarskuwings vurig te maak.

Hy het deur Hoséa gesê, “Daarom het Ek hulle neergekap deur die profete, hulle gedood deur die woorde van my mond” (Hoséa 6:5). God het in wese gesê, “Die woord wat ek vir jou stuur, sal so duidelik wees dat dit jou sal aanraak indien jou hart oop is. Dit sal veroorsaak dat jy op jou aangesig val en jouself bekeer.” Ons moet altyd die volgende in gedagte hou: God se doel daarin om ons na Hom toe terug te roep, is om ons in stormagtige tye te beskerm. Dikwels in die Bybel se geskiedenis wanneer Hy hierdie waarskuwings gegee het, het die mense geweier om te luister: “En Hy het profete onder hulle gestuur om hulle na die Here terug te bring; en dié het hulle gewaarsku, maar hulle het nie gehoor gegee nie” (2 Kronieke 24:19).

Amper altyd het God se volk moeg geraak vir hierdie waarskuwings. Dit was veral waar wanneer ‘n profeet oor ‘n tydperk van ‘n aantal jare oor ‘n naderende storm geprofeteer het, terwyl daardie gemeenskap voortgegaan het om voorspoed en vrede te hê. Met verloop van tyd, het die mense die profete se stemme begin stil maak. Hulle wou dit eenvoudig net nie meer hoor nie.

Ons sien dit in Israel se reaksie op die profeet Jesaja. Die mense het vir hom gesê, “Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry” (Jesaja 30:10).

Kan jy jouself indink om ooit in so ‘n toestand te verval? Hierdie mense het geweet dat Jesaja die waarheid vertel het — dat ‘n groot storm aan die kom was — maar hulle het moeg geraak om dit te hoor. Hulle het verkies om “vleitaal” te hoor. Die Hebreeuse woord vir “vlei” beteken “aangenaam, onverstoord.” Met ander woorde, het hulle vir Jesaja gesê, “Moenie iets vir ons preek wat ons lewens soos wat dit nou is, sal onstel of ontsenu nie.”

Hierdie toestand het in die kerk van Jesus Christus ingesluip. Gelowiges wat al vir baie jare aan Jesus toegewy is, skakel hulle televisiestelle aan om nog meer verslae van geweld, rampe, hongersnood, misdaad en onsedelikheid te sien. Na ‘n ruk, word hulle gedagtes vol van al die slegte nuus en hulle harte word verhard daarteen. Vir hulle is selfs die slegste nuusberig “net nog ‘n storie in die nuus.”

Ek wonder dikwels: Kan enigiets ons steeds aanraak? Ons het reeds van elke moontlike soort slegte nuus gehoor. Watter ramp of tragedie bly oor wat ons kan skok?

Geliefde, God word ontsteld deur hierdie soort reaksie van sy mense! Ons sien dit in die waarskuwings van die profeet Esegiël. In die tydperk wat Esegiël geprofeteer het, was Israel voorspoedig en het vrede gehad met die nasies rondom hulle. Die Here het egter vir Esegiël beveel om hierdie boodskap oor te dra: “En Ek sal die land ‘n wildernis en ‘n woesteny maak, en aan sy trotse mag sal ‘n einde kom; en die berge van Israel sal woes wees...oor al hul gruwels at hulle bedryf het” (Esegiël 33:28-29).

Die profeet het kruis en dwars oor die land gegaan en God se waarskuwings vir verskeie jare lank verkondig. Maar die mense het moeg geraak om na hom te luister. Gedurende daardie tydperk het nie een van Esegiël se woorde waar geword nie. In teendeel, die nasie het net nog meer voorspoedig geword.

Op ‘n stadium het Esegiël se profesieë vir die volk ‘n bron van vermaak geword. Hulle het hom name agter sy rug begin noem: “oordeelsdagprediker,” “die man wat nooit glimlag nie,” “Mr. Slegte Nuus.” Esegiël het uiteindelik keelvol geraak en gesê, “Here, U het my mislei. Niks wat U my gesê het, het waar geword nie. Maar almal spot met my!”

“Kom tog en hoor wat die woord is wat van die Here uitgaan. En hulle kom na jou toe soos ‘n volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan...hulle hoor jou woorde maar hulle doen dit nie. Maar as dit kom – kyk, dit kom! – dan sal hulle weet dat daar ‘n profeet onder hulle gewees het” (Esegiël 33:30-33).

Het jy by ‘n plek gekom waar jy in jou hart gesê het, “Ek het alles reeds gehoor. Ek wil niks meer hoor nie”? As dit so is, wees gewaarsku.

Soos met vorige gemeenskappe en gelowige liggame, is die kerk nie in ‘n bui om slegte nuus te ontvang nie.

Die grootste deel van die kerkgangers van vandag, verwerp terdeë alle profetiese waarskuwings van ‘n komende storm. Inderdaad, die Amerikaanse kerk is die mees blatante “voel goed” kerk in die hele geskiedenis. Maar soos Israel, ervaar ons nou die stilte voor die storm.

Terwyl Moses veertig dae op die berg deurgebring het, het Israel in ‘n gees van wetteloosheid verval. Die mense wou speel en ontspan en daarom het hulle alle goddelikheid laat vaar. Jy onthou die gevolge. Dit het in ‘n dronk, kaal orgie rondom die goue kalf geëindig.

Dieselfde gebeur vandag. By die duisende werp Christene die juk van Christus van hulle af en daarmee saam, alle reëls en grense. Hierdie gesindheid is algemeen in baie Christelike boeke en tydskrifte. Dit is amper asof ons leiers sê, “Ontspan, God is nie hardvogtig nie, Hy is ons Pappa, ons is sy kinders en ons is bedoel om onsself te geniet. Moenie dat iemand jou pret bederf nie.” Hoe kan dit ooit die werk van die Heilige Gees wees?

Inderdaad, die Bybel sê daar kom ‘n tyd waarin God se mense nie meer langer verleë sal word en bloos nie. En op hierdie oomblik, is die kerk se onskuld weg omdat hulle reeds so baie gesien en gehoor het. Tog is dit net die begin.

“Kyk, daar kom dae, spreek die Here Here, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor” (Amos 8:11). Let op dat hierdie vers nie sê dat daar nie meer gepreek sal word nie. God sal nooit sy waarskuwings van sy kerk weerhou nie, omdat net sy waarheid ons kan vrymaak.

Nee, Amos se profesie gaan nie oor oppervlakkige, ligte prediking wat ons vandag hoor nie. Wat die kerk vandag ervaar is ‘n honger of gebrek om te hoor. Daar is ‘n onwilligheid om die ware Woord van God te hoor. In plaas daarvan, sluit mense hulle oë en ore, terwyl hulle hul harte verhard en sê, “Ek wil nie meer hoor nie.”

Ek glo ons beleef op hierdie oomblik die stilte voor die grootste storm wat Amerika ooit getref het.

Voor die huidige resessie in Amerika, het ek briewe van Christene ontvang wat sê, “Jy profeteer al jare oor die ‘stormwolke wat saamkom’ en ‘n ‘komende ineenstorting.’ Al wat jy egter doen is om ‘n klomp Christene, wat jou woorde glo, bang te maak. Die werklikheid is dat die teenoorgestelde gebeur het. In plaas van ‘n storm, beleef ons ‘n oplewing in die ekonomie met rekordbrekende voorspoed. Daar is nie een teken op die horison wat ‘n komende krisis aandui nie.” Dit was voor die eiendomsmark ineengestort en ekonomiese skokgolwe oor die wêreld veroorsaak het.

Die apostel Petrus het voorspel dat baie gelowiges dieselfde houding as hierdie spotters sal hê: “Spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:3-4). Met ander woorde: “Mense sal sê, ‘Waar is die sogenaamde storm? Alles gaan maar net aan soos dit nog altyd aangegaan het.’”

Dit is die einste rede waarom God sy profete beveel het om hulle waarskuwings van die dakke af te verkondig. Hy wil sy mense waarsku om ons aan te spoor om Hom te soek. Hy wil ons oortuig van ons pogings om Christus se juk af te gooi en met die wêreld te heul. Hy wil hê ons moet ons oë op Jesus hou om die hemelse dinge te soek, omdat dit die enigste dinge is wat sal staande bly wanneer die stormwinde begin waai.

Laat my toe om jou die enigste hoop in die komende storm te gee.

Net voor sy dood en opstanding, het Jesus die vreeslikste storm in die vooruitsig gesien. Hy het gesien wat voorgelê het: Jerusalem sou deur magtige leërs omsingel word, die tempel sou verwoes word, die stad sou heeltemal afgebrand word en duisende sou sterf op kruise wat deur die invallende vyand opgerig sou word. Die Jode se hele samelewing, soos wat hulle dit geken het, was op die punt om in duie te stort.

Ons weet Jesus was die verpersoonliking van God se liefde. En tog het Hy gewaarsku, geprofeteer en geween oor sy gemeenskap, omdat Hy geweet het wat sou kom: “Want daar sal groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie geweet het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matthéüs 24:21-22).

Dink daaraan, Jesus se tyd was baie soos ons s’n. Vrede en kalmte het geheers. Kinders het in die strate gespeel. Maar Jesus het sy gemeenskap beskryf as ‘n geslag van adders: priesters wat weduwees besteel, spotters, lasteraars, egbrekers, kindermishandelaars, ‘n korrupte kerk vol geldwisselaars, ‘n bediening gevul met wolwe in skaapsklere, valse getuies, leuenaars, bedrieërs, skynheiliges, liefhebbers van genot en hoereerders. Christus het gewaarsku, “’n Vreeslike storm is aan die kom. Berei nou julle harte voor.”

Terwyl ek hierdie boodskap voorberei het, was ek oorweldig deur ‘n onheilspellende gees. Al waaraan ek kon dink, was die kerk se vreeslike toestand en hoe die duiwel subtiele euwels gebruik om God se uitverkore mense te mislei. Christene blyk om meestal op hulle eie behoeftes gefokus te wees — “my behoeftes, my probleme, my verlede, my toekoms — hoe my vriende my gefaal het en hoe die kerk my seergemaak het.” God se mense huil nie meer oor ‘n sterwende wêreld nie.

Vir ‘n rukkie het hierdie tragiese feit my oorweldig. Toe het die Heilige Gees aan my gewys hoe ons Here op die komende storm gereageer het. Die apostel Johannes skryf, “Want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld” (1 Johannes 4:17). Ons moet eenvoudig net Jesus se denkwyse in alle dinge hê. As ons dit nie het nie, sal ons harte beswyk.

Die Bybel gee geen bewyse dat Christus terneergedruk, vreesagtig of wanhopig was nie. Hy het nie paniekerig geword of moed verloor nie. Ten spyte van alles wat Hy sien kom het, het Hy die uiteinde geken. Hy het geweet dat die hekke van die hel nie God se mense sou kon oorwin nie.

Dawid gee ons ‘n duidelike beeld van Jesus se gesindheid oor die komende storm. Hy praat profeties van Christus en sê, “Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie” (Handelinge 2:25). “Want Dawid sê van Hom” (dieselfde vers).

Inderdaad, Dawid het Jesus aangehaal, “Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop” (Handelinge 2:26). Dit is die geheim: Jesus het die Vader altyd voor sy oë gehou. Die letterlike bedoeling is, “Ek was altyd in sy teenwoordigheid, en het sy aangesig gesien.” Jesus het gedurigdeur skuilplekke uitgekies om met sy Vader afgesonder te wees. En dit was net nadat Hy in God se teenwoordigheid was, dat Hy uitgekom het om te bedien, terwyl Hy ten volle oortuig was dat sy Vader altyd met Hom was: “Hy is aan my regterhand en niks op hierdie aarde kan my laat wankel nie!” Die Griekse woord vir “wankel” beteken “steur, skud, ontstel.” Jesus het bedoel, “Nie een van hierdie probleme, euwels of komende gebeurtenisse kan my terneergedruk maak of my vertroue skaad nie. My Vader is in algehele beheer.”

Geliefde, as ons die storm wat kom, gaan trotseer, dan moet ons voorbereid wees sodat niks ons gees sal ontstel nie. Die enigste manier om dit te doen is om tyd in die Vader se teenwoordigheid deur te bring  en in sy aangesig te kyk. Ons moet ons met Hom afsonder — op ons knieë, in sy teenwoordigheid, Hom soek — totdat ons heeltemal oortuig is dat Hy aan ons regterhand is.

God vertel ons baie duidelik, “Moenie onsteld of ontwrig wees deur enigiets wat jy sien nie. Hou jou oë op My gefokus en jy sal jou vreugde behou.” Volgens Dawid het Jesus getuig, “U sal My vervul met vreugde by u aangesig” (Handelinge 2:28).

Dit is asof Christus vir ons sê, “Ek het alles wat jy gaan beleef in die laaste dae, reeds beleef. Ek het dieselfde onheilspellende gevoelens gehad omdat Ek die naderende storm gesien het. Maar Ek het in die teenwoordigheid van my Vader gaan skuil en Hy het al my bekommernisse weggeneem. Hy het my die uiteinde van alles laat sien. En in sy teenwoordigheid het ek al die vreugde, hoop en rus wat ek ooit tot die einde nodig sou hê, gevind. Ek het vrede en vreugde omdat Ek by Hom was.” “Ook sal my vlees nog rus in hoop” (Handelinge 2:26).

Download PDF