Bene Wat Bybels Vashou | World Challenge

Bene Wat Bybels Vashou

Gary WilkersonJanuary 20, 2014

Ons weet uit die Skrif dat Esegiël ‘n groot profeet was wat magtig in die Gees beweeg het. In Esegiël 37 het God hom ‘n gesig gegee wat ek glo ‘n tydige boodskap van geestelike ontwaking is vir die droë kerk van vandag.

Soos die meeste Ou Testamentiese profete, het Esegiël die koning van Israel gedien. Dit het beteken dat hy dikwels saam met die koning se leër gereis het en hy moes die gruwels van die oorlog sien. Esegiël het so baie slagtings gesien wat geen mens ooit veronderstel is om te sien nie. Binnekort sou hy egter ‘n gesig sien, wat alles oortref wat hy vantevore gesien het. Hierdie gesig sou van die Heilige Gees wees — en Esegiël getuig, “Die hand van die Here was op my” (Esegiël 37:1). 

In hierdie lewe sal ons baie vreeslike dinge sien. Verskeie weke gelede het ek saam met ‘n moeder gebid wat haar 22-jarige seun verloor het. Hy het skielik gesterf en ek het hom geken vandat hy twee jaar oud was. Jaar na jaar sien ek huwelike wat verbrokkel. Ek sien dwelmverslawing wat jong mense in die fleur van hulle lewens vernietig. Terwyl ek elke dag na my kantoor ry, dink ek aan die 80 persent van ons stad se populasie wat Jesus nie ken nie.

Toe God die mensdom geskep het, was ons nooit veronderstel om die sondige dinge te ervaar wat ons oorval nie. Tog, selfs as ons tragedie ervaar, rus ons in God se hande soos Esegiël — en die Bybel sê dat geen mag ons daaruit kan ruk nie. Hierdie waarheid moet in ons harte gevestig wees. As ons teen die duister magte gaan veg wat teen ons families kom, of teen ons jong mense en ons gemeenskappe, dan moet ons weet dat ons gedurig beskerm en oor gewaak word.

God het aan Esegiël gesê, “Gaan sit en kyk wat Ek vir jou wil wys.”

Die Here het aan hom gesê, “Ek is op die punt om ‘n verstommende werk te doen — en jy sal dit nie met jou menslike verstand verstaan nie. Jy het my Gees nodig om aan jou te openbaar wat ek gaan doen.”

Die Hebreeuse woord vir “gaan sit” in Esegiël is dieselfde woord wat ons in Lukas 24:49 vind, waar Jesus sy dissipels beveel het, “Maar julle moet in die stad Jerusalem bly [gaan sit] totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.” Die betekenis in beide gevalle is, “Lê jou planne en strategië neer. Wag dan op my om jou met krag te vul.”

“Ek is verseker dat die kerk van vandag nodig het om hierdie woord te hoor. Hoe dikwels beplan ons seminare, konserte en konferensies vir die jaar — gebeurtenisse wat nie ‘n verskil sal maak, tensy Christus lewe daarin blaas nie? Slegs wanneer die Heilige Gees ons vul, sal ons regtig iets hê om te gee.

In die gesig wat God Esegiël gewys het, het Hy die profeet na ‘n vallei met droë bene gelei. “En Hy het my uitgebring deur die Gees van die Here en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene. En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het ‘n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor” (Esegiël 37:1-2). Wat ‘n gruwelike toneel — ‘n uitgestrekte gebied vol geraamtes so ver as wat Esegiël kon sien.

Miskien het jy nes Esegiël gewonder, “God, al wat ek voor my sien is vreeslike dinge. Hoekom lei U my deur hierdie duister vallei?” Dit is omdat daar in die vallei van droë bene geen ander bron van lewe is nie. Ons het geen asem van ons eie hier nie, geen krag of sterkte nie. Die vallei van die dood bring ons na ‘n plek van totale afhanklikheid. Ek het een van die moeilikste jare in my lewe in 2013 gehad — as ek egter terugkyk, dank ek God vir elke oomblik daarvan. Te midde van my lewe se droë bene, het ek gesien hoe God dinge so orkestreer dat ek by ‘n plek gekom het waar my lewe eindig en sy lewe begin.

Die vallei van die droë bene in Esegiël se gesig, openbaar twee dinge aan ons: Eerstens, dit verteenwoordig die toestand van God se volk. Ek is lief vir die kerk. Ek kan nie genoeg daaroor leer of daarvoor bid nie. Dit is God se grootste werktuig op aarde om sy natuur uit te druk en sy krag te wys.

Maar ek het ook ‘n las vir die kerk. En vandag is baie kerke vol droë bene. Dit is nie kritiek — dit is wat dit is, ‘n realiteit. As Christene, kan ons droog word voor ons dit besef. Jesus het dit so gestel: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Openbaring 2:4). Ons kan deur al die uiterlike aksies gaan, maar steeds geen lewe binne ons hê nie.

Die tweede ding wat ek sien in Esegiël se gesig van droë bene, is ons kultuur. Eens op ‘n tyd was ons ‘n nasie wat God geëer het. Sewentig persent van Amerikaners het eens Christus bely en kerk bygewoon. Die laaste statistiek toon dat daardie getal nou agt persent is. Dit beskryf die toestand waarin ons lewe — een van geestelike duisternis. Ons woon in ‘n vallei van droë bene.

Hoe kan ‘n droë-bene kerk — een wat leweloos, biddeloos en louwarm is — ooit met ‘n droë-bene kultuur praat? Dit kan nie gebeur tensy ons gees herlewe en opgewek word deur die Heilige Gees nie.

God het vir Esegiël gevra, “Mensekind, kan hierdie bene lewendig word?” (Esegiël 3:3).

Wat ‘n deurdringende vraag. God vra vir ons dieselfde vandag: “Kan die droë bene in jou situaisie lewendig word? Kan jou rebelse kind ooit opgewek word? Kan jou ongeredde geliefde na Christus gebring word? Kan skole so gevul word met my Gees dat hulle radikaal verander word?”

Dit is ‘n vraag van geloof: “Glo jy dat dit kan gebeur?” Dit is ook ‘n vraag van begeerte: “Wil jy hê dat dit gebeur? Is jy gegrief oor die droë bene in jou lewe?” As jou antwoord nee is, dan is dit ‘n teken van droogheid — ‘n gebrek aan geestelike dringendheid oor die duister toestand van die wêreld.

Hier was Esegiël se antwoord: “Here Here, U weet dit” (Esegiël 37:3). Dit was ‘n reaksie in vertroue: “Here, net U weet hierdie dinge. U het vir my ‘n gesig gegee van ‘n gruwelike dood. Stel jy voor dat hierdie bene kan lewe? Is dit regtig moontlik?” Hierdie einste vraag het Esegiël se geloof opgewek. Dit was wat God gewag het om te hoor. En hy het dieselfde met ons gedoen deur ons geloof op te wek.

“Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene” (Esegiël 37:4). Wanneer ons geloof betrokke is — wanneer ons op God gewag het en Hy ons geloof opgewek het — roep Hy ons vir aksie. Hy vra ons om te “profeteer” — dit is om ons droë-bene situasie aan te spreek. Ons moet lewe in ons families inspreek en God glo dat Hy ons woorde sal krag gee. Ons moet lewe in ons loopbane inspreek met die wete dat God ons in sy hand hou maak nie saak hoe duister die omgewing is nie. Om dit te doen, het God nodig om eerstens lewe in ons wese in te blaas: “En Ek sal... gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word” (Esegiël 37:6).

God het presies dit vir Esegiël gedoen. Die profeet het getuig, “Toe het ek geprofeteer soos my beveel was” (Esegiël 37:7). Kan jy dit sê oor jou wandel met God? “Ek het seëninge en vrede in mense se lewens ingespreek. Ek het ook moeilike dinge gesê. Ek het alles gesê wat die Here vir my gesê het om te sê en deur dit alles het ek geweet dat Hy met my was.” Dit is die krag van die verkondiging van die evangelie.

Wat het gebeur toe Esegiël in geloof geprofeteer het? “En sodra ek geprofeteer het, was ‘n geruis, en kyk — ‘n beroering” (Esegiël 37:7). Die woord “gesuis” hier eggo Handelinge 2 waar die Heilige Gees nuwe lewe in die dissipels ingeblaas het op Pinkster. Esegiël het hier iets soortgelyks gesien: Skielik was al die droë bene in die vallei vol lewe. Hulle het saamgekom om lewende liggame te vorm: “En Ek sal senings op hulle lêen vlees oor julle laat opkom en ‘n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die Here is” (Esegiël 37:6).

Selfs toe die bene wonderbaarlik saamgekom het, was daar nog geen lewe in hulle nie.

“Toe kyk ek en — daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en ‘n vel is bo-oor getrek, maar daar was geen gees in hulle nie” (Esegiël 37:8). Wat ‘n tragiese toneel. Ek dink so baie kerke wat elke program en strategie in plek het — maar nie lewe het nie. So baie van ons het seminare, konferensies, boeke, webwerwe, CD’s, podcasts; byeenkomste vir mans, vir vrouens, vir moeders, vir vaders, vir kinders, vir tieners, vir enkellopendes en vir getroudes. Ons bedoeling vir al hierdie dinge is goed — maar as God nie lewe daarin blaas nie, beteken dit niks nie.

In werklikheid het hierdie dinge die subtiele krag om ons te beroof van die lewe wat God vir ons begeer. As ons uiterlik die dinge van die kerk doen, word ons mislei om te dink dat ons geestelik is. Dit mag lyk of droë bene bymekaarkom, maar in werklikheid kort hulle nog die lewegewende asem van God. Ek sal 1,000 aanbiddingsdienste en 10,000 strategië ruil vir een enkele asemtuig van God se Gees. Slegs God kan lewe inblaas in wat ons doen — sodat die droë bene kan lewe.

“Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees” (Esegiël 37:9). Die Hebreeuse woord vir “gees” hier is ruach, wat die Gees van God beteken. Weereens het God vir Esegiël beveel om te profeteer. Die eerste keer moes hy vir die bene profeteer, bedoelende die mense. Maar hierdie tweede bevel was om te profeteer tot God self — tot ruach, die Heilige Gees..

Wat bedoel God in hierdie vers? Hy vertel ons dat om vir mekaar te preek nie genoeg is nie. Geartrikuleerde leerstellings is nie genoeg nie. Ons kan nie net tot mense spreek oor die dinge van God nie. Ons ook met God spreek oor mense, met ‘n las vir mense — om by God te pleit om op te tree. God roep mans en vrouens van geloof om uit te roep tot Hom en om in te tree in hulle situasie en dinge te verander. Net ‘n daad van God se Heilige Gees kan lewe bring.  Ons oë kan dit nie sien nie, ons ore kan dit nie hoor nie, ons monde kan nie enigiets van Hom spreek sonder dat Hy ons eers opwek, besiel en lewe gee nie.

Wanneer Hy dit doen, sal die resultate ons verstom: “En ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan — ‘n ontsaglike groot leër” (Esegiël 37:10). God se asem bring ons tot op ons voete met vrymoedigheid. Dieselfde ding het in Handelinge 2 gebeur: “Petrus het opgestaan saam met die elf” (Handelinge 2:14). Die evangelie wat Petrus verkondig het by Pinkster het nie verskil van die een wat hy geken het nie. Nou het hy opgestaan en daarvan gepraat met krag uit die hoogte.

Dit is die lewe wat God gereed is om in ons te blaas — die tipe wat droë bene lewend maak, wat lewe aan ‘n duister, wanhopige wêreld bring. Aan die begin van hierdie boodskap het ek genoem van die 22-jarige man wat skielik oorlede is. Sy begrafnis was baie hartseer. Dieselfde week egter, het my vrou, Kelly, en ek gepraat met die jong man se vriendin, wat sy lyk ontdek het. Terwyl ons vir die jong vrou gebid het, het lewe in haar ingekom. Sy het ons in die middel van die gebed onderbreek en geroep. “O, ek voel goed van binne. Ek voel beter!” Ons het die voorreg gehad om haar na die Here te lei.

Uit chaos bring Jesus lewe voort. Uit as, bring Hy prag. En in ‘n gruwelike situasie waarin die vyand net vernietiging bedoel, blaas Jesus nuwe lewe.

Het jy koud geword in jou wandel met die Here? Wag op Hom, vra Hom om weereens sy Gees in jou in te blaas. Is daar baie verlore mense in jou lewe wat verlossing nodig het? Bid en profeteer dat God lewe in hulle droë bene sal inblaas. Hy wag vir jou om in geloof te reageer.

Download PDF