‘n Vriend van Sondaars | World Challenge

‘n Vriend van Sondaars

David WilkersonJune 12, 2006

“Die Seun van die mens het gekom … ‘n vriend van die tollenaars en sondaars” (Matteus 11:19). In Lukas 7 lees ons die storie van die Fariseër, byname Simon, wie Jesus in sy huis ingenooi het om ‘n maaltyd saam te geniet. Hierdie vroom man het ook ‘n uitgesoekte groep godsdienstige leiers soos hyself genooi om die aandete saam te geniet. Heelwaarskynlik was daardie gaste almal Fariseërs.

Dit is duidelik dat dit ‘n baie godsdienstige byeenkoms was. Simon en sy mede Fariseërs het die wet gedienstig onderhou, hulle tiende nougeset gegee en daagliks na God se huis gegaan. In hulle eie oë was hulle uiters regverdig, en het hulleself as die heiliges van hulle tyd beskou.

Ek is nie seker waarom enige Fariseër Jesus vir ete sou nooi nie, laat staan nog om ander baie streng godsdienstige manne te nooi om saam met hom te eet. ‘n Waarskynlike rede vir die uitnodiging kan wees dat Simon en sy vriende wou bepaal of Jesus ‘n profeet was, of om Hom as een aan te neem. Die gedeelte maak dit duidelik dat Simon geweet het van Jesus se reputasie as ‘n profeet (sien Lukas 7:39).

In hulle kultuur, was dit die gebruik om elke gas in die huis te verwelkom met ‘n kom water en ‘n doek, om die stof van die besoekers se voete af te was. (Daar was nie geteerde strate toe nie, mense se voete was dus altyd stowwerig na ‘n reis.) Die gaste was ook begroet met ‘n soen op elke wang. Daarna is daar aan elkeen ‘n klein houertjie met ‘n olie-basis salf gegee om aan hulle hare te smeer, wat waarskynlik bevogtiging nodig gehad het.

Soos ek die gedeelte lees, lyk dit asof Simon reëlings getref het dat sy ander gaste reeds gesit het toe Jesus gearriveer het. En, verseker is die ander gaste ook verfris volgens die gebruik. Per slot van rekening wou geen Fariseër die reputasie gehad het onder sy gelykes dat hy ongasvry is nie.

En tog maak die gedeelte dit duidelik dat Jesus nie sulke gasvryheid ontvang het nie. Al wat Hy ontvang het toe hy gearriveer het was, verwaardiging. Daar was geen water om die stof van sy voete te was nie, geen beleefdheids soen op die wang nie, geen salf vir sy kop nie (sien Lukas 7:44-46). In plaas daarvan is Hy na die aanleuntafel geneem as ‘n minderwaardige besoeker, en Hy moes aanleun saam met die ander wie se voete ook nog vol stof was.

Die Woord maak dit nie duidelik waaroor die groep gesels het rondom die aandete tafel nie, maar ons kan aanneem dat dit iets met teologie te doen gehad het. Die Fariseërs het in die onderwerp gespesialiseer, en hulle het al probeer om Jesus by vorige geleenthede uit te vang met verbeeldingryke vra. Maar Christus het geweet wat in hierdie manne se harte was, en dit het vinnig duidelik geword.

Die volgende wat ons lees is dat ‘n vrou van die straat “wat ‘n sondaar was” ingebars kom op die toneel. Op een of ander manier het die berugte vrou haar weg verby die diensknegte van die huis gemaak en tot by die tafel geloop waar die godsdienstige manne gesit en eet het. Daar staan sy toe by Jesus se voete en huil, in haar hande ‘n albaster fles met parfuum vasgeklem.

Die Fariseërs moes uitgeroep het, “O, nee. Hoe kan Jesus toelaat dat die vrou aan Hom raak?”

Simon en sy vriende moes te verbaas gewees het om op te tree. Hulle was inderdaad seker lam van die skok. Hulle het hierdie vrou erken as ‘n groot sondaar in hulle stad. (Sy was dalk ‘n prostituut.) Ek kan my voorstel was daardie godsdienstige manne moes gedink het: “Wat ‘n verleentheid, so ‘n sondaar wat ‘n inbreuk maak op hierdie ‘Jesus byeenkoms.’ Ons was besig om teologie te gesels, en skielik bars hierdie straatloper in.”

Die sondige vrou het op haar knieë geval, Jesus se stowwerige voete in haar hande gekelk, en dit begin was met haar trane. By die aansien daarvan moes die Fariseërs na hulle asems gesnak het, “O, nee. Hoe kan Jesus toelaat dat die vrou Hom aanraak? Dit is in teenstelling met die wet om kontak met enigeen te hê wat onrein is. Hy moet nie eers toelaat dat sy aan Sy klere raak nie. Nogtans daar sit Hy en Hy laat toe dat ‘n prostituut Sy voete vashou.”

Op daardie stadium, het sy iets ondenkbaars gedoen: sy het haar hare losgemaak. Geen ordentlike Joodse vrou sou ooit so ‘n daad in die publiek uitvoer nie. En tog het hierdie berugte vrou haar hare gebruik om Jesus se voete skoon te vee. Laastens het sy die albaster fles oopgemaak en die parfuum op Christus se voete uitgegooi.

Die Fariseërs was nou baie verontwaardig, en het gedink, “Hoe skandelik! Dit is erotisism. Dis onmoontlik dat Jesus ‘n profeet kan wees. As Hy regtig van God gestuur was, sou Hy geweet het dat die vrou sondig is en hierdie vertoning van die vlees dadelik gestop het.” Inderdaad, die Woord sê dat dit Simon se presiese gedagtes was (sien Lukas 7:39).

Maar Jesus het sy gasheer se gedagtes gelees en aangekondig, “Simon, Ek het iets om vir jou te sê” (7:40). Ek wil ‘n rukkie hier wag om na te dink oor Jesus se woorde aan Simon. Die feit is, nadat ek hierdie storie ‘n hele aantal kere gelees het, is ek deur die Heilige Gees gestop en het ek gehoor hoedat hy vir my fluister, “David, Ek het iets wat ek vir jou wil sê in hierdie storie.” Ek glo dat die Here inderdaad vir elkeen van ons hier iets wil sê.

Ek het aangespoor gevoel om myself in die storie te plaas en myself in die lig van sy waarheid te ondersoek. Ek het onmiddelik gesien dat daar twee geeste aan die werk was in die gedeelte: die gees van Fariseerism, en Christus se gees van vergifnis en herstel. Die Fariseërs het ‘n veroordelende, heiliger-as-ander gees afgeskei, en hulle het beide die berugte vrou en Jesus geoordeel. Maar Christus het die gees van vergifnis en herstel geopenbaar toe Hy vir Simon gesê het, dat Hy iets het om vir hom te sê.
Ek bely dat soos ek myself in die toneel geplaas het, my eerste gedagte was, “Natuurlik het ek Jesus se gees. Ek is ‘n vriend van die sondaars. Ek het jare in die bediening vir verslaafdes, alkoholiste, prostitute, en die ergste van die ergste sondaars spandeer. Ek glo nie ek het enige Fariseerism in my nie.”

Of so het ek gedink. Helaas, die meeste van ons dink so, “Ek is nie daardie soort gelowige nie. Ek oordeel ander nie.” Nogtans is dit die gees van Fariseerism wat redeneer, “Ek is nie so die ander nie. Ek is meer regverdig, meer heilig.” Met tye het die meeste van ons afguns, jaloesie of toorn toegelaat om ons opinies van ander ‘n bietjie kleur te gee.

Die beste definisie, volgens my, van ‘n Fariseër is “iemand wat die sonde van ander monitor en homself regverdig.” Jesus demonstreer dit deur na die gebed van ‘n Fariseër in die Tempel te verwys: “O God, ek dank U, dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers … Ek vas twee keer in die week, en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste” (Lukas 18:11-12).
Eenvoudig gestel, die gees van Fariseerism sê, “Al die ander is verkeerd. Rondom my sien ek niks anders as sonde en kompromië nie. Nogtans het ek dit reg. Ek is ‘n verdediger van die waarheid.”

Christus het vir hom ‘n gelykenis van twee mans vertel wat ‘n skuldeiser geld geskuld het: “Die een het vyf honderd rand geskuld, en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” (Lukas 7:41-42)

Dit het gelyk asof Simon die boodskap verstaan het. Die volgende versie lees so: “Simon antwoord: Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.” (7:43). Wat presies was Christus se boodskap aan hierdie Fariseër? In kort, hy het vir Simon gesê, “Jy is die een wat die vergifnis nodig het.”

U sien, toe Jesus die eerste keer vir hom gesê het, “Ek het iets om vir jou te sê,” het Hy bedoel, “Ek wil vir jou wys wat in jou hart is. Die oomblikke rondom die tafel gaan nie oor die vrou wat hier ingekom het nie. Dit gaan oor jou Simon, jou regverdige hoogmoed, jou arrogansie, jou veroordelende gees, jou gebrek aan medelye.”

Ek glo dat Jesus eintlik vir die hoogmoedige Fariseer wou sê: “Die sogenaamde ‘bose’ vrou ken die diepte van haar verdorwenheid. Sy weet sy verdien die oordeel. En sy het haar hopeloosheid erken en haarself as die ergste van alle sondaars gesien. Die werklike rede waarom sy hierheen gekom het, en gedoen het wat sy gedoen het, was omdat sy so dankbaar was vir die genade en reiniging.

“Hierdie vrou sien jou veragting vir haar, Simon. Sy hoor die fluisteringe onder julle en voel die veroordelende gramskap. Maar sy oordeel jou nie. Nee, sy sal jou liefhê ten spyte daarvan. Dit is omdat sy weet wat haar vergewe is. Sy is daartoe instaat om almal anders lief te hê, omdat sy so bemin is ten spyte van haar eie sondes. Sy voel nou sy het nie die reg om ander te oordeel nie.

“Maar jy, Simon, jy sien nie die verdorwenheid van jou eie hart nie. Jy oordeel die gebroke vrou, maar jy sien nie dat jy net soveel genade, indien nie meer genade, nodig het nie. Jy dink dat sy baie vergifnis nodig het en dat jy net ‘n bietjie nodig het. Maar dit is nie so nie.”

Dink daaroor na wat Jesus by ‘n vorige geleentheid vir die Fariseërs gesê het: “Wat van binne af uit ‘n mens kom, dit maak ‘n mens onrein. Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ‘n mens onrein” (Mark 7:20-23).

In my vyftig jaar van bediening, het ek soveel dwaasheid gesien, soveel wat vals is, soveel handeldryf met die evangelie, soveel afpersing en soveel verskillende leerstellings. En ek weet dat dit die Here bedroef. Jesus het die geldwisselaars uitgedryf in Sy tyd, en dit wat vals was openbaar gemaak, maar Hy het Sy felste aanklagte vir die Fariseërs gereserveer. Die verslae in die evangelie oortuig my dat daar niks is wat Christus meer gehaat het as dit nie.

Ek het gebid, “Jesus, voordat ek nog ‘n boodskap preek oor die toestand van U kerk – voordat ek nog ‘n woord sê oor die tekortkominge van ander bedienings – wys my asseblief, my eie hart. Heilige Gees, groot snydokter, sny diep tot by my kanker en neem ‘n x-straal van my hart. Wys my die hoogmoed en hardheid in my eie hart.

Onlangs het ek gelees dat daar 3,700 Pinkster gemeentes in Amerika en so iets soos 27,000 wêreldwyd is. Behalwe dit, is daar duisende charismatiese groepe en ander klein sektes. In Brazilië en Argentinië, Nigerië en ander Afrika lande, vermenigvuldig honderde van hierdie sektes. Baptiste is nie ver agter in die aantal gemeentes nie.

Baie van hierdie gemeentes is dogmaties suiwer, doen ‘n groot werk, en rig geestelike kerke op. Hulle verkondig die evangelie kragtig en werf ‘n groot aantal siele. Maar daar is ook baie wat godslasterlik is, baie valse profete, en ‘n groot gebedel van geld by die armes.

So was dit ook in die dae van Christus. Daar was soveel verskillende soorte Fariseërs, so baie splinter groepe van Saduseërs, soveel teenstrydige priesters. Valse leerstellings was in oorvloed, daar is by die weduwees gesteel en die oues van dae het hulle huise verloor, alles onder die naam van “geloof”.

Jesus het dit duidelik gemaak dat die wat hulleself skuldige gemaak het aan die soort sondige dade, eendag geoordeel sal word. Hulle sal almal voor Hom verskyn op daardie dag en sal moet verslag gee van wat hulle gedoen het. Nogtans terwyl Jesus op aarde besig was met Sy bediening, het Hy geweier om Sy tyd te verspil om hierdie mense se sake te monitor. Hy het nog nie op Sy oordeelstoel gesit nie; in plaas daarvan het Hy volkome op die werk van Sy koninkryk gefokus.

In die komende dae gaan ons ‘n toenemende styging in dwaasheid en valsheid in die kerk sien, soos nog nooit vantevore nie. Engele van die lig sal verskyn, duiwel-besete predikers en evangeliste wie se spraak glad, duidelik en verleidelik sal wees. Hierdie manne sal magtig wees in hulle teenwoordigheid en glad in hulle prediking van ‘n woord wat totaal duiwel geïnspireerd sal wees.

Nie lank gelede nie het ek so ‘n evangelis op televisie gesien, terwyl hy ‘n fondsinsameling poging gehou het. Hy het ‘n wilde storie vertel van ‘n vrou wat $100 vir sy bediening gegee het en binne weke het sy ‘n erfenis van meer as $800 000 ontvang.

Ek was vasgenael aan my stoel van skok terwyl ek na die afskuwelike verleiding gekyk het. Weldra het ek gebrand van woede, en het ek uitgeroep na die hemel, “Ek gaan die man ontbloot!” En tog, die volgende waarvan ek bewus was, is dat die Here in my hart gefluister het: “Nee, jy gaan nie. Jy gaan hom uitlos. Die blinde lei die blindes, en hulle eindig almal in die sloot.”

Ek glo waarlik dat my begeerte was om die evangelie te verdedig, maar ek het in die vlees opgetree. Die feit is, Jesus het reeds ‘n uitspraak gegee oor hierdie onderwerp. Sy dissipels het eendag na Hom toe gekom en gesê, “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?” Maar Jesus antwoord: “Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As ‘n blinde ‘n blinde lei, val altwee in die sloot” (Matteus 15:13-14).

Ek was al genoodsaak om ‘n sterk boodskap te preek in my jare van bediening, woorde wat teen die valse en die dwase gegaan het. Ek draai nie weg daarvan nie, alhoewel ek dink dat ek by tye verkeerd gelei was in my ywer. En tog gaan dinge so sleg raak, met soveel dinge wat die Here gaan bedroef, dat ons maklik al ons tyd kan spandeer om daardie vure uit te blus. Christus sê egter vir ons dat dit nie ons hoof fokus moet wees nie. In plaas daarvan, gee Hy vir ons ‘n duidelik woord oor wat ons doel in die laaste dae moet wees.

Neem in aanmerking die ander gees wat die aand in die huis van Simon die Fariseër gemanifesteer het: die gees van vergifnis en herstel. Die Woord sê vir ons, “En Hy draai na die vrou toe om” (Lukas 7:14). Hier sien ek dat Jesus vir ons wys waar ons fokus moet wees: nie op die valse godsdienste nie, nie op die valse leraars nie, maar op die sondaars.

Terwyl Jesus wegkyk van Simon en sy gaste, draai Hy na die vrou en sê, “Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is; daarom bewys sy baie liefde… Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” (7:47,50). Jesus maak hier aan ons bekend waarom Hy gekom het: om ‘n Vriend van die gevallenes te wees en hulle te herstel, die sonder vriende, en die wat deur sonde oorweldig is. En Hy sê vandag vir ons, “Dit is waaroor My bediening gaan.”

Die apostel Paulus, sê eweneens dat dit ons fokus moet wees. Ons durf nie die gevalle persoon oordeel nie, maar ons moet daarna streef om hulle te herstel en hulle blaam te verwyder. In werklikheid, maak Hy dit die toets van ware geestelikheid: ‘n gereedheid om die gevallenes te herstel. “Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom” (Galasiërs 6:1).

Wanneer Paulus die uitdrukking “dink aan jouself” gebruik, vra hy die Galasiërs om hulle eie nood vir genade van die verlede te herroep. Met ander woorde: “Wat het Christus jou alles vergewe? Watter skande uit jou verlede het genade al verwyder? Het die Here daardie sondes bedek? Dink nou aan al die onvriendelike dade en gedagtes in jou daaglikse lewe, en jou eie nood vir Christus se oorvloedige genade en vergifnis.”

Die teoloog John Calvin sê, in wese: die Christen wie die sonde van ander oordeel, terwyl hyself skuldig is, is soos ‘n veroordeelde krimineel wat op die regter se stoel gaan sit en ander oordeel. Derhalwe waarsku Paulus: “En pas op: jy kan self ook in versoeking kom.”

Paulus voeg dan vinnig die instruksie van Christus se weg by: “Dra mekaar se laste, en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus” (6:2). Wat is die wet van Christus? Dit is liefde: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê” (Joh 13:34).

Die waarheid is dat sonde ‘n mens se swaarste las is. Ons kan eenvoudig net die sonde oorsien of vergewe in ander se lewens nie. Maar daar is ‘n manier hoe ons ander kan dra met hulle las, en dit is in sagte, liefdevolle vriendelikheid en berisping. Ons moet ons mede broers wat berou het met sagmoedigheid en in liefde herstel.

Paulus skryf vir Timoteus hoe hy met diegene moet werk wat in “die vangstrikke van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam” (2 Timoteus 2:26). Hy gee die volgende instruksie, “’n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie [met hulle]; hy moet vriendelik … bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan verdra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders tereg wys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak van die vangstrik van die duiwel” (2:24-26).

Soos ons Paulus se instruksie lees “om mekaar se laste te dra, en so Christus se wet te vervul”, moet ons onsself die vraag afvra: “Wil ek regtig so leef om die Here te behaag, en sy Woord te vervul?”

O, die baie, baie maniere wat ek probeer het om God te behaag. Ek het gebid, “O, Here, buig my neer voor U aangesig. Laat my huil met gebrokenheid. Maak my berouvol, bring my gees in beweging, laat geen louwarmte my besmet nie. Gee my ‘n groter passie vir U Woord.”

Al hierdie dinge is goed, dit is skriftuurlik, en om dit te doen laat ons beter voel, want ons weet dat ons dinge doen wat God behaag. En tog sê Paulus, “Hier is wat die Here die meeste van ons verwag. Hier is Sy Woord oor hoe ons die wet van Christus moet uitvoer: Dra mekaar se laste. Herstel die wat geval het.”

Ek kan die woorde van Paulus nie afskud nie. Hulle laat my vra, “Here, presies hoe dra ek ander se laste? Ek kan nie ‘n ander persoon se sonde dra nie; dit is Christus alleen se werk. En tog, Here, hoor ek U sê dat dit is wat U begeer. Daarom behoort dit die een ding te wees wat ek moet weet hoe om te doen, maar ek weet nie. Waar is die aanwysings?”

Dit is wat ek van die Heilige Gees hoor: Ek moet Hom vra om al my hoogmoed uit te haal, al my afguns en jaloesie, al my veroordeling en verkeerde ywer. En ek moet Hom vra om Sy gees van vergifnis en verdraagsaamheid vir my te gee. In kort, ek moet die gees wat Jesus in Simon se huis geopenbaar het, soek.

Die oomblik as ons so ‘n gees in ons het, werk dit soos ‘n magtige magneet veld wat diegene wat God se genade nodig het aan te trek. Dit is wat die berugte vrou na Jesus se gees van medelye aangetrek het. Ons weet dat dit die werk van die Heilige Gees is om sondaars lok en nader te trek. Maar waarom sou die Heilige Gees ‘n persoon wat vergifnis nodig het na ons toe stuur, as ons nie self die gees van vergifnis het nie?

Die groot evangelis George Whitefield en John Wesley was twee van die grootste evangeliste in die geskiedenis. Hierdie manne het vir duisende gepreek in opelug byeenkomste, in die strate, in parke en tronke, en deur hulle bedienings het baie mense na Christus gedraai. Maar ‘n dogmatiese geskil het tussen die twee onstaan oor hoe ‘n persoon geheilig word. Beide die dogmatiese kampe het hulle posisie sterk verdedig, en ‘n paar harde woorde is gewissel, met volgelinge van albei die mans wat op ‘n onwelvoeglike manier geargumenteer het.

‘n Volgeling van Whitefield het eendag na hom toe gekom met die vraag, “Sal ons John Wesley in die hemel sien?” Sy vraag was eintlik, “Hoe kan Wesley gered word as hy so ‘n dwaling preek.”

Whitefield het geantwoord, “Nee, ons sal John Wesley nie in die hemel sien nie. Hy sal so hoog op naby Christus se troon wees, so naby aan die Here, dat dit nie vir ons moontlik sal wees om hom te sien nie.”

Paulus het die soort gees “’n oop hart genoem.” En hy het dit in homself gehad soos hy aan die Korintiërs geskryf het, ‘n kerk waarin sommige hom van hardheid aangekla het en wat ‘n bespotting van sy prediking gemaak het. Paulus het hulle verseker, “Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop” (2 Korintiërs 6:11).

Wanneer God jou hart vergroot, onverwags sal soveel grense en hindernisse verwyder word. Jy sien nie meer deur ‘n nou lens nie. Inteendeel, jy vind dat jy deur die Heilige Gees gelei word na diegene wat seergekry het. En die wat seergekry het word aangetrek na jou hart vol medelye deur die Heilige Gees se magnetiese aantrekking.

Het jy ‘n hart vol medelye as jy mense sien wat seer het? Wanneer jy ‘n broer of suster sien wat gestruikel het in sonde … wie probleme het … wat dalk op ‘n egskeiding afstuur … is jy in die versoeking om hulle te sê wat verkeerd is in hulle lewens? Dit is nie nodig dat iemand dit vir hulle vertel nie, die kanse is goed dat hulle dit alreeds weet. Paulus sê wat sulke mense wat seergekry het nodig het, is om met ‘n gees van sagtheid en sagmoedigheid herstel te word. Hulle het nodig om die gees wat Jesus in Simon se huis geopenbaar het te ontmoet.

Hier is die uitroep in my hart vir die dae wat ek nog op aarde oor het: “God, neem alle engheid uit my hart weg. Ek wil U gees van medelye hê vir diegene wat seergekry het … U gees van vergifnis as ek iemand sien wat geval het … U gees van herstel, om hulle skande weg te neem.

“Neem alle kieskeurigheid van my hart weg, en vergroot my bekwaamheid om my vyande lief te hê. Wanneer ek iemand nader wat in sonde is, laat my nie in oordeel gaan nie. In plaas daarvan, laat die fontein van water wat in my opsrping ‘n rivier wees van goddelike liefde vir hulle. En laat die liefde wat vir hulle gewys word ‘n liefde vir ander in hulle aansteek.”

Download PDF